Sewentiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In ons sleutelteks vir hierdie Sondag onderskei die Jakobusbrief tussen twee soorte wysheid: wysheid van bo en aardse (on)wysheid. Albei se karaktereienskappe word uitgespel. Boonop gaan Jakobus verder om konkreetheid aan hierdie wysheid te gee. Hierdie wysheid van bo is wysheid wat ons nader bring aan God en dit stel ons in staat om vrede te maak en om stryery en rusies te oorkom. In Spreuke 31 sien ons die praktiese toepassing van wysheid, hoewel dit natuurlik (dit is noodsaaklik om die feministiese kommentaar op hierdie teks te lees) heel anders lyk in ons samelewing. Psalm 1 maak ook hierdie onderskeid tussen wysheid en onwysheid. Die skrywer verduidelik dat die wyse persoon, soos ‘n boom gewortel in waterstrome, in God gewortel bly. Hierdie soort wysheid dra ook vrug op die regte tyd. In die Markusteks sien ons hoe Jesus se wysheid dikwels teen aardse wysheid indruis en dit selfs omkeer.

Ander tekste 

 Spreuke 31:10-31
10’n Knap vrou is baie werd,
baie meer as edelstene.
11Haar man steun op haar
en pluk die vrugte van haar werk.
12sy bring vir hom net voordeel,
nie nadeel nie,
haar hele lewe lank.
13Sy maak wol en vlas bymekaar
en geniet dit om dit te verwerk.
14Sy is soos die handelskepe,
sy bring die kos van ver af in.
15Sy staan op as dit nog nag is
en maak kos vir haar huisgesin;
ook haar slavinne kry hulle deel.
16Sy oorweeg die waarde
van ’n stuk grond en koop dit,
sy sit dit onder wingerd
met geld wat sy self verdien het.
17Sy pak die werk aan met krag,
haar hande staan vir niks verkeerd nie.
18Sy stel vas of die wins goed is,
haar lamp bly heelnag brand.
19Sy werk met die spinwiel,
haar hande bly besig met die weefstoel.
20Sy het ’n oop hand vir die armes,
sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
21Sy is gerus oor haar huisgesin
as dit sneeu:
hulle dra almal warm klere.
22Sy maak self vir haar dekens
en sy dra klere van linne en wol.
23Haar man is welbekend
by die stadspoort
waar hy saam met die leiers beraadslaag.
24Sy maak klere en verkoop dit,
sy lewer gordels aan die handelaars.
25Alles aan haar spreek van ’n sterk
en edel persoonlikheid;
sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
26As sy praat, is dit met wysheid;
as sy leiding gee, is dit met liefde.
27Sy hou goeie toesig
oor haar huishouding;
lui is sy nie.
28Haar kinders prys haar,
haar man bewonder haar:
29“Daar is baie knap vrouens,
maar jy oortref hulle almal!”
30Uiterlike skoonheid hou nie,
’n mooi voorkoms is nie alles nie;
as sy die Here dien,
dán verdien ’n vrou om geprys
te word.
31Gee haar wat haar toekom
vir alles wat sy doen;
laat haar werk haar roem wees
in die stadspoorte.

Psalm 1
Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles
wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind
uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses
hulle nie kan handhaaf
wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ’n plek hê
in die vergadering
van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges
op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses
lei tot ondergang.

Markus 9:30-37
30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?
(Matt 17:24; 18:1–5; Luk 9:46–48)
33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy ’n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Sleutelteks

Jakobus 3:13-4:3, 7-8a

HEMELSE EN AARDSE WYSHEID
13Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. 14Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. 15Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. 16Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. 17Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 18En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.

ONMIN BINNE DIE GEMEENSKAP
41Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.

4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 6Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy:
“God staan die hoogmoediges teen,
maar aan die nederiges gee Hy genade.”

7Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. 8Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader.

Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! 9Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. 10Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.

RESPEK VIR MEKAAR
11Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie ‘n doener van die wet nie, maar ‘n regter. 12Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?

AFHANKLIKHEID VAN GOD
13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en ‘n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” 14Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ‘n miswolkie, wat net vir ‘n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. 17As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde. (2020-vertaling)

Liturgie

RUS

Toetrede
Flam 318 [Jak. 3:8] of
VONKK 45 of
Lied 154 of
Lied 512

Votum & Seëngroet: Psalm 1:2a, 3a,c uit Die Boodskap

Lofsang
Flam 9 [bekend – “Salvation belongs to our God”] of
Psalm 1 of
Lied 202

Verootmoediging: Jakobus 3:13-18

Toewyding
Flam 299 (Psalm 1) of
Lied 258

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jakobus 3:13-4:3, 7-8a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 121 of
VONKK 6 (Psalm 1) of
Lied 449

Seën: (O.g.v. gebed deur Howard Thurman, uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Respons: Vonkk 6 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 318 Nader Tot Die Here [Jak. 3:8]
MP3 vir R7.00 te koop by of
VONKK 45 Gees van Christus, hoor ons bede of
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
Lied 512 “Nader, my God, by U”

Votum & Seëngroet
Psalm 1:2a, 3a,c uit Die Boodskap
2a God is baie bly omdat jy sy Woord geniet.
3Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan.
Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen.
[Seëngroet begin] Daarom gaan dit baie goed met jou.

Trinitariese groet

Lofsang
Flam 9 Ons Redding Kom Van Ons God [bekend – “Salvation belongs to our God”]
MP3 vir R7.00 by of
Psalm 1 of
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”

Verootmoediging: Jakobus 3:13-18
13Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. 14Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. 15Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. 16Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. 17Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 18En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.

Toewyding
Flam 299 Dit Gaan Goed Met Die Mens (Psalm 1)
Lied 258 “Vreugdevolle tyding”

Geloofsbelydenis

Liedere

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede) Teks en musiek: Neil Büchner © Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.

2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.

U is naby aan ons Here.
Ons nader tot die Here.

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

F299. “Dit Gaan Goed Met Die Mens (Psalm 1)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue / Toetrede / Gebed)
Teks en musiek: Braam Hanekom © 2001 MAR Gospel Music Publishers

1. Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde vind
in die Woord van God hom verbly.
Dit gaan goed met die mens wat dit bly oordink
en sondaars en spotters vermy.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein
Maak my regverdig Heer en lei my weer
op die regte pad en laat my sing.
Laat my hulde bring, laat my naderkom
aan u heiligdom en lei, lei my weer.

2. Dit gaan goed met die mens wat ’n pad kan loop –
reguit, soos deur God bepaal.
Dit gaan goed met die mens wat ligsinnigheid vrees
en sy gedagtes deur God laat vertaal.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein:

3. Soos kaf in die wind, uitmekaar gewaai,
is die sondaar in u oë.
Met skuld belaai, neer geboë, staan die spotter voor u oë.
Hy probeer vergeefs sy plek behou in die volmaakte kring
van regverdiges deur U gelei
wat steeds ’n loflied sing.

Refrein:

F121. “Wys My Die Pad”
(RUBRIEK: Flam – Gebed, Toewyding; Afhanklikheid)
Teks en musiek: Elmarie Wiesner © 2006 Urial Publishing
(Opgeneem op Want ek wil)

1. Keuses, besluite,
deure en spieëls,
wetes betwyfel,
hoe bly ek heel?
Stilte en donker,
drome verdwaal,
ek kies die rigting
en ek sal betaal.

Refrein:
Leer my, help my
U weet die beste, Here.
Wys my die pad wat ek moet loop.
Lei my, stuur my
U sien die groter prentjie.
Wys my die pad wat ek moet loop.

2. Beelde, geluide,
net eggo’s kom terug.
Emosies of feite
en ek draai my rug.
Kers in die donker
U het my kom haal.
U ken die rigting
en U het betaal.

Refrein:

Brug:
Hier voel ek veilig
U sorg vir my.
U is my lewe, Here
altyd by my.

Refrein:

VONKK 6 “Geseënd Wie Goddelose Raad  (Psalm 1)”
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: KAMEELDORING – Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Klassiek — Voorbereiding om God se Woord te hoor / Wil van God / Geloof en Vertroue

1.  Geseënd wie goddelose raad
nie volg tot in ‘n doodloopstraat.
Wie leef uit God se wyse raad,
oordink dit en vermy die kwaad.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

2. Wie leef in vreugde uit Gods woord,
bring altyd goeie vrugte voort;
groei welig soos ‘n lewensboom,
gewortel by ‘n waterstroom.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

VONKK 45 “Gees van Christus, hoor ons bede”
Teks: Njoo kwetu, Roho mwema – Wilson N Niwagila (Swahili); Afrikaanse teks: Breda Ludik 2016 ©
Melodie: NJOO KWETU, ROHO MWEMA – Wilson N Nwagila (Tanzanië) Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2016 ©
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2016 ©
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking – 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Swahili-teks en melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede, Pinkster, Liefde, Dankbaarheid en Diens / Missionaal

1. Gees van Christus, hoor ons bede:
Hoor hoe u kinders pleit.
Gee ons lewe, gee ons vrede.
Breek ons verganklikheid.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

2. Al ons kennis is nie wysheid
sonder u leiding, Heer.
Kom en leer ons, dan begeer ons
om U te ken al meer.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

3. Neem ons denke, ons begeerte;
vul ons met liefde, Heer.
Kom beheer ons, inspireer ons
om U te dien al meer.

Refrein:
Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

4. Gee ons ywer as getuies;
oral, die wêreld deur.
Lê u woorde in ons monde;
Heilige Gees, kom weer!
Refrein:

Kom, kom, Heilige Gees, kom gou.
Kom, kom, Heilige Gees, kom nou.

Swahili
Njoo kwetu, Roho mwema.
Mfariji wetu.
Tufundishe yam bi nguni,
Tuwe watu wapya.
Njoo, njoo, njoo, Rohomwema.
Njoo, njoo, njoo, Roho mwema.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Jakobus 3:13-4:3, 7-8a [Jy kan net hoofstuk 4 se verse lees, as jy hoofstuk 3 as verootmoediging gelees het]

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

As jy hou van “object lessons”, oorweeg gerus om ‘n borrel-blaas stelletjie te bring en borrels te blaas. Gesels oor hoe mens soms groot borrels blaas en soms klein borrels. Die truuk is – jy moet saggies blaas! Jakobus praat van “sagmoedige wysheid”. Laat kinders borrels stukkend slaan terwyl hulle gesels oor wat die teenoorgestelde van “sagmoedig” is. (Jakobus praat van afguns, selfsug, leuens, wanorde, gemene dade.) Verduidelik dan dat “sagmoedige wysheid” saggies is – dit baklei nie en soek nie skoor met mense nie (vredeliewend), is bedagsaam (laat kinders voorbeelde noem van wat bedagsaam is), moet nie altyd hul eie sin kry nie (inskiklik), gee om vir ander mense (vol deernis). (Die idee kom hiervandaan.) Jy weet natuurlik jy gaan die kinders moet laat borrels blaas.

Of lees Judy Blume se “The Pain and the Great One”. Jy kan dit verkort deur sommige van die parallelle dele uit te laat. Idee deur Carolyn Brown.

Jakobus praat natuurlik ook van vrugte, wat hierdie inderdaad ‘n goeie plek maak om ook te gesels oor die vrugte van die Gees. Hier is ‘n inkleurprent met die vrugte in Engels.

Preekriglyn

Ons is in die kerkjaar tans in Koninkrykstyd. Dié seisoen besin oor Christus se heerskappy en hoe volgelinge van Jesus die gawes van Advent, Kersfees, Epifanie, Lydenstyd, Pase en Pinkster nou kan uitleef. Die vraag is dus:

  • Wat leer Jakobus ons oor dissipelskap en oor Christus se heerskappy as opgestane Here wat opgevaar het na die hemel en nou aan die regterhand van die Vader sit?
  • Wat leer ons Skrifgedeelte vir Jesus se dissipels oor wysheid?
Agtergrond

Jakobus vorm saam met 1 en 2 Petrus, Judas, die drie Johannesbriewe en Hebreërs die sogenaamde algemene briewe in die Bybel. Die algemene briewe is nie aan ‘n enkele gemeente gerig nie, maar volgens 1:1 aan die “twaalf stamme in verstrooiing”. Dit identifiseer die Jode, versprei oor die destydse wêreld. Die twaalf stamme omsluit die kerk, die volk van God wat as vreemdelinge in die wêreld lewe. Dit is dus ook ‘n boodskap aan ons, want ons is saam met ander regoor die wêreld deel van die kerk van Christus.

Jakobus se onderrig destyds aan gelowiges wat onderling verdeeld was, is aktueel en toepaslik vir ons tyd.

‘n Brief oor ‘n wyse lewe

‘n Belangrike vertrekpunt vir ons nadenke, is dat Jakobus reeds in hoofstuk 1 die meeste temas aangekondig het wat hy later in sy brief verder uitwerk.

Die tema oor ‘n wyse en verstandige mens is ook in hoofstuk 1 aangeraak. Daar skryf Jakobus in vers 5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid …” Jakobus lê van die begin af ‘n verband tussen wysheid en gebed.

‘n Tweede belangrike uitgangspunt by die lees van die Jakobusbrief, is die skrywer se klem op die verband tussen geloof en dade. Jakobus het in voorafgaande hoofstukke telkens beklemtoon dat geloof wat nie deur dade bevestig word nie, dood is. Daaroor reflekteer Jakobus in ons Skrifgedeelte – ons dade bevestig ons geloofsuitsprake.

Hier in 3:13 gooi Jakobus die kwessie van geloof en dade oor die boeg van die praktiese uitlewing van wysheid wat van Bo (1983) kom. Eers skryf hy oor die wysheid self (3:13-18). Daarna roep hy die gelowiges op om die hemelse wysheid ten opsigte van die volgende sake prakties uit te leef: hulle houding teenoor besittings (4:1-3), onderwerping aan God (4:4-10), verhouding met medegelowiges (4:11-12), afhanklikheid van God (4:13-17), rykdom (5:1-6), die volhardende gewag op die Here se koms (5:7-11), integriteit (5:12), swaarkry en vreugde (5:13) en siekte en sonde (5:14-20).

Wysheid regdeur die Bybel belangrik

Die tema van ons Skrifgedeelte word in Jakobus 3:13 met ‘n vraag aangekondig: “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle?” (1983). “Wie onder julle is wys en verstandig?” (2020)

Wysheid is regdeur die Bybel ‘n belangrike tema. Daar is ‘n hele groep Bybelboeke wat as wysheidsliteratuur bekendstaan. Die wysheidsliteratuur in die Bybel leer gelowiges om volgens God se wil te lewe. Dink aan die Spreukeboek, Prediker, Hooglied, Job, Psalm 1 en Jesus se Bergpredikasie in Matteus 5-7.

Naas hierdie teksgedeelte, skryf die Leesrooster nog wysheidstekste voor vir vandag:

  • Psalm 1 is een van die Leesrooster-tekste vir vandag. In 1:1 skryf die digter-wysheidsleraar: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.”
  • Spreuke 31:10 (nog ‘n Leesrooster-teks vir vandag) se wysheid van Koning Lumuel van Massa gee onderrig oor die deugsame vrou: “‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.”
Wysheid geld wêreldwyd

Jakobus se brief is wysheidsonderrig aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. Dit is dus vir almal, wat hulle konteks ook al is. Ons leef nie almal in maklike omgewings nie. Daar is druk op jou om jou geloof nié uit te leef in jou omstandighede nie, maar te doen wat ander wil hê jy moet doen.

Vir Jakobus geld God se wysheid oral, en moet oral toegepas word, ongeag die druk wat jy ervaar.

Jakobus bied sy brief aan as lering deur ‘n wysheidsleraar aan gelowiges wat moeite ervaar om binne hulle kulturele omgewing as gelowiges getrou te getuig.

Ons moet verder onderskei tussen wysheid en slim wees. Wysheid is nie slimmigheid of breingimnastiek nie. Wysheid is ook nie die vakgebied filosofie nie. Filosofie as akademiese dissipline en die algemeen menslike aktiwiteit van filosofering kom egter beide van die Griekse woorde philéo en sophia, in Afrikaans vertaal met “liefde vir wysheid”. Liefde vir wysheid kom daarop neer om uiteindelik reg en sinvol te lewe.

Hemels of aards

In ons Skrifgedeelte praat Jakobus van twee soorte of vorms van wysheid: wysheid van bo teenoor aardse wysheid, hemelse of aardse wysheid.

Die een gestalte daarvan beoordeel hy positief, maar die ander gestalte wys hy af. Waarin lê die verskil? Vir ‘n antwoord op hierdie vraag moet ons die omstandighede verstaan van die gemeente en gelowiges aan wie Jakobus geskryf het.

Volgens Jakobus 1:2-12 leef die gelowige lesers in ongunstige en spanningsvolle omstandighede. Die gelowiges is onderling verdeeld oor die heersende kultuurwaardes. Hulle voel vervreemd. Innerlik ontbreek dit hulle aan heilsaamheid. Gevolglik fokus Jakobus op die gebrek aan heilsaamheid en integrasie in die geloofsgemeenskappe aan wie hy skryf. Onderlinge eenheid en gemeenskapsintegrasie was uitdagend, juis omdat die kerk mense uit alle vlakke, stand en klasse van die samelewing opgeneem het.

Met die oog op heilsaamheid en eensgesindheid, moedig Jakobus die gelowiges aan om vir ‘n lewe in geloof te kies (1:6). Hulle moet tot God om wysheid bid. Die wysheid wat God vir hulle sal gee in antwoord op hulle gelowige gebede, is vir Jakobus ‘n manier van leef: ‘n ware, egte, goed geïntegreerde lewe.

Wysheid iets wat jy “is”

Hierdie wysheid is nie in die eerste plek iets wat ‘n mens weet nie, maar iets wat ‘n mens is, wat jy beoefen, leef en praktiseer. Jakobus stel die vraag: Wie onder julle is wys en verstandig? In afwagting op ‘n bevestigende antwoord, gaan hy as’t ware tot ‘n uitdagende toon oor: Bewys dit dan! Gelowiges wat Sondag die erediens bywoon, word uitgedaag om te bewys dat hulle wyse mense is, wys in God se sin van die woord. Dit bewys hulle deur hoe hulle as gelowiges onderlinge met mekaar omgaan.

Wie volgens Jakobus se riglyn wys en verstandig is, demonstreer dié karakter deur goeie gedrag en dade wat van nederigheid en wysheid getuig.

Die aankondiging van die tema van wysheid en verstandigheid neem ons terug na die eerste verse van die Jakobusbrief. In 1:5 spoor Jakobus sy lesers aan om wysheid van God af te bid. God, as die oorsprong (bron) van wysheid, sal dit gee. Wysheid is deel van die goeie gawe en volmaakte geskenk wat van bo kom, vanaf die Vader wat die hemelligte geskep het (1:17), van God wat ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring het (1:18).

Praktiese gehoorsaamheid

Wysheid en verstandigheid het in Jakobus se onderrig die karakter van praktiese geloof en godsdiens. Dit gee uitdrukking aan die verhouding tussen God en sy dienaars (1:1) en is op diens aan God en die naaste gerig. Ons kan nie oor wysheid en verstandigheid praat sonder dit wat Jakobus reeds oor geloof en wysheid (1:2-8), hoor en doen (1:19-27) en glo en doen (2:14-26) geskryf het nie.

Wat Jakobus in 1:27 oor suiwer en egte godsdiens geskryf het, sê hy nou in 3:13 in die taal van wysheid: Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld. Wie wys en verstandig onder julle is, toon dit deur goeie gedrag en deur dade wat van nederige wysheid getuig.

Dwaasheid

In 2:20 gebruik Jakobus die woord “dwaas” as hy aanvoer dat geloof sonder dade nutteloos is en dat iemand wat bewyse soek dat dit nie so is nie, inderdaad ‘n dwaas is, nie wys is nie en onverstandig. ‘n Eerste reaksie is dalk: Wat is goeie gedrag? Ons wil eintlik weet hoe ver ons optrede gerek kan word: Mag ek dit of dat doen, of wat ook al? Is hierdie of daardie ding dalk sonde? Jakobus benader die onderwerp met die klem op gesindhede en houdings. Hy praat van dade wat getuig van nederigheid; ‘n gesindheid van onderdanigheid en diensbaarheid – volgens Jesus se voorbeeld.

Jakobus stel twee lewensgesindhede teenoor mekaar. Wysheid en waarheid aan die een kant, teenoor dwaasheid en leuen (onwaarheid) aan die ander kant. Jakobus argumenteer dat selfs gelowiges onder ‘n waan van wysheid en waarheid kan leef. Dit gebeur wanneer die hartsgesindheid een van bitter naywer en selfsug is.

Verdeelde harte

Net soos geloof sonder dade nutteloos (2:20) en sonder meer dood is (2:17), is wysheid onmoontlik waar naywer en selfsug teenwoordig is. ‘n Ánder soort wysheid moet van God gebid word. Valse wysheid kom nie van bo nie. Dit is wysheid wat selfgerig is. Jakobus beskryf dit as aards, sinlik en demonies. Die vrug van hierdie naywer en selfsug is wanorde en gemene dade. Dit vernietig die gemeenskap tussen God en mense en tussen mense onderling.

Hierdie vernietigende wanorde en gemene dade, kom ter sprake in die tweede vraag wat Jakobus in 4:1 vra: “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan?” Stryd en rusies is die vrug van verdeelde harte. Dit is die resultaat van mense wat nie heilsaamheid en eensgesind beleef nie.

Daarteenoor is wysheid van bo suiwer en opregte godsdiens voor God. Dit is sonder bybedoelings, vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye, goeie vrugte, onpartydig en opreg. Wysheid van bo bring jou in die regte verhouding met God. Daarom roep Jakobus sy lesers met ‘n drieledige oproep op tot identifisering met God se beloftes:

  • Onderwerp julle aan God, staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug (4:7).
  • Nader tot God en Hy sal tot julle nader (4:8).
  • Onderwerp julle in nederigheid voor die Here en Hy sal julle verhoog (4:10).
Toepassing

Ons moet bely dat ons dikwels faal om uit hemelse wysheid te leef. Ons leef uit stukkende harte volgens ‘n aardse wysheid wat dinge net verder en verder laat verbrokkel.

God het egter die dors na hemelse wysheid in ons geplaas.

Ten spyte van wie ons is, gee God sy Gees in ons om Hom en sy leiding (wysheid) te soek en God te eer. God is groot in genade, maar Hy vra ook nederigheid en onderwerping aan Hom. Aan mense wat dit doen, gee Hy genade en verhoog hulle. Die hoogmoediges weerstaan Hy egter.

Jakobus rig ‘n tweeledige oproep dat ons met God se beloftes sal identifiseer:

  • Onderwerp julle aan God, en Hy sal tot julle nader.
  • Staan die duiwel teë, en hy sal wegvlug.

Hy roep ons, sy lesers, op tot verootmoediging en skuldbelydenis. Verneder julle voor God. Dit is ware wysheid! Dan sal God julle ooreenkomstig die waardes van sy koninkryk verhoog.

God stuur ons om te leef

 

  1. God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 121 Wys My Die Pad of
VONKK 6 Geseënd Wie Goddelose Raad  (Psalm 1) of
Lied 449 “Halleluja, ons loof U, Heer”

Seën
Die Here skenk jou uit sy genade:
– lig waar jy net donker sien
– moed waar jy vrees
– hoop waar jy wanhoop
– vrede waar jou gemoed stormagtig is
– vreugde waar jy hartseer is
– krag waar jy swak is
– wysheid waar jy verward is
– sagtheid waar jy bitter is
– liefde waar jy haat
– vergifnis vir jou sonde
[afgesluit met Trinitariese seën]
Amen
(O.g.v. gebed deur Howard Thurman, uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Respons
Vonkk 6 Refrein: Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.