Sewentiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die fokusteks is ’n volgende teks in die groep wat die dissipels se misverstand oor Jesus se lyding, dood en opstanding verwoord. Eers was dit net Petrus, maar nou is dit al die dissipels wat die punt van Jesus se bediening mis. Die prediker weer, hou homself besig met die diepste lewensvrae, waarop selfs die menslike wysheid nie ’n antwoord het nie. In Psalm 45 hou Dawid daaraan vas dat God sy lewe in stand sal hou, en waarop hy sal reageer met danksegging en lof. Jakobus hou aan sy lesers ’n lewenstyl voor wat uit ’n bepaalde verhouding met God voortvloei.

Ander tekste

Prediker 1:16-2:1, 12-22
Baie wysheid stel hoë eise
12Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. 13Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. Ek het bevind: God het ’n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.

14Ek het alles
wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk:
alles kom tot niks,
dit is ’n gejaag na wind.
15Wat krom is, kan nie reguit word nie;
wat nie daar is nie,
kan nie getel word nie.

16Ek het by myself gedink:
ek het meer wysheid as almal wat voor my in Jerusalem geregeer het, ek het baie ervaring en insig. 17Ek het my daarop toegelê om te verstaan wat wysheid en kennis is, en wat dit is om ’n gebrek aan wysheid en kennis te hê.

Ek het vasgestel: ook dit is ’n gejaag na wind.
18Baie wysheid stel hoë eise,
wie kennis versamel, versamel smart.
In hierdie wêreld bevredig niks nie
2 Ek het by myself gedink:
laat ek my oorgee aan plesier,
laat ek die lewe geniet!
Maar ook dit het niks opgelewer nie.

2Van lag moes ek sê: dis sinloos,
en van plesier: wat bring dit?
3Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos ’n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee ’n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou. 4Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant. 5Ek het vir my tuine en parke aangelê en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. 6Ek het vir my damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. 7Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. 8Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. 9Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas gekom. 10Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. 11Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.

Die wyse sterf net soos die dwaas
12Ek het goed nagedink om vas te stel wat dit is om wysheid te hê of om nie wysheid en kennis te hê nie. Wat anders kan ’n koning se opvolger doen as wat reeds gedoen is? 13Dit het ek wel ingesien dat dit ’n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie, net soos lig ’n mens meer baat as duisternis.

14Die wyse weet wat hy doen,
vir die dwaas is daar net donkerte,
maar dit weet ek:
een en dieselfde lot tref albei.

15Ek het by myself gedink: die lot van die dwaas sal my ook tref, wat help dit my dan dat ek soveel wysheid het? En ek het vir myself gesê: Ook dit kom tot niks. 16Die wyse sal net so min as die dwaas altyd onthou word. In tye wat kom, word alles vergeet. Die wyse sterf net soos die dwaas!

’n Gawe uit die hand van God
17Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur het, het vir my sleg afgeloop.
Alles kom tot niks,
dit is ’n gejaag na wind.

18Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, 19en wie weet of hy ’n wyse of ’n dwase mens sal wees?

Tog sal hy beskik oor alles wat ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het.
Dit kom dus ook tot niks.

20Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het. 21’n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie.
Ook dit kom dus tot niks.

22Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?

Psalm 54
Die Here hou my lewe in stand
54 Vir die koorleier: met snarespel. ’n
Gedig van Dawid, 2na aanleiding
daarvan dat die Siffiete gekom en vir Saul
gesê het: Dawid kruip by ons weg.
3Red my deur u mag, o God,
laat aan my reg geskied deur u krag.
4Hoor my gebed, o God,
luister na my woorde,
5want vyande staan teen my op,
geweldenaars soek my lewe,
hulle hou geen rekening met God nie.
6Maar vir my help God altyd,
die Here hou my lewe in stand.
7Laat die onheil
wat my teëstanders beplan,
op hulleself neerkom.
U is getrou: vernietig hulle.
8Dan sal ek offers aan U bring,
selfs meer as wat U vra,
ek sal u Naam loof, Here,
want U is goed,
9U het my uit elke benoudheid gered
en my oor my vyande laat triomfeer.

Jakobus 3:13 – 4:3, 7-8a
Hemelse wysheid teenoor aardse en demoniese wysheid
13Is daar ’n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

Waarskuwing teen wêreldliefde en hoogmoed
4 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? 2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

4Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ’n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ’n vyand van God is. 5Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? 6Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:
“God weerstaan hoogmoediges,
maar aan nederiges
gee Hy genade.” 

7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Fokusteks

Markus 9:30-37
Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan

(Matt 17:22–23; Luk 9:43–45)
30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?
(Matt 17:24; 18:1–5; Luk 9:46–48)
33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy ’n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Ekstra stof

Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees
Jesus kondig die tweede keer sy dood aan terwyl hulle reis deur Galilea. Let op hoe Hy die passiewe vorm gebruik: “word oorgelewer” wat beteken dat Hy deeglik bewus is dat dit God is wat hierby betrokke is. Hy verwys heel moontlik na uitsprake soos dié in Jesaja 53:12 en Daniël 7:25 asook Hos 6:2. Hy wil egter steeds nie hê dat dié nuus voortydig publieke nuus word nie, en hoewel die dissipels dit nie verstaan het nie, en selfs te bang is om Hom in te vra daaroor, bly hulle daaroor stil.

Op pad na Kapernaum stry die dissipels egter oor wie van hulle die belangrikste is, waarskynlik onder andere weens die voorkeur wat die driemanskap, Petrus en die twee broers Johannes en Jakobus, die seuns van die donder, op die berg van Verheerliking gehad het. Jesus leer hulle daarom by die huis dat die wat eerste wil wees, laaste moet wees. Om dit met ‘n “acted parable” te illustreer neem Hy ‘n kindjie (die Aramese woord vir kind kan ook dienskneg beteken!), sit sy arm om hom en verklaar dat elkeen wat só ‘n kindjie in sy Naam ontvang, eintlik vir Hom ontvang; meer nog, ook Hom wat Jesus gestuur het (vgl Mark 10:13-16). Uit Jesus se perspektief sal iemand wat ‘n kindjie vriendelik ontvang, ook vir Hom ontvang. En as die dissipels nie as belangrikes by mense aankom nie, sal hulle Jesus in hulle bediening raaksien.

Johannes se vraag oor iemand wat in Jesus se Naam bose geeste uitdrywe (ook Hand 19:13 vertel van só n praktyk), maar nie vir hulle volg nie, illustreer sonder dat hulle dit eers agterkom, eintlik hulle gevoel van eksklusiwiteit en belangrikheid. Ironies genoeg het hulle net tevore gesukkel om ‘n duiwel uit die stom seun te dryf! Dit lei tot die bekende uitspraak van Jesus: “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.” Sulke mense moet dus nie gekeer word nie. Daarmee relativeer Hy ook hulle gevoel van belangrikheid, dit is nie status wat tel nie, maar diens in die koninkryk, en bevorder só ‘n ruimheid van hart teenoor ander se diens in die koninkryk. Vergelyk Moses wat op soortgelyke wyse mense toelaat om te profeteer, ten spyte van teenkanting (Num 11:27).

Hy keer terug na die aanvanklike gesprek oor belangrikheid, en voeg by dat elkeen wat vir die dissipels iets kleins soos ‘n beker water te drinke gee, omdat hulle aan Christus behoort, sal beslis daarvoor beloon word.

Met die kindjie wat waarskynlik nog daar in hulle midde staan, brei Jesus uit oor elkeen wat een van hierdie kleintjies afvallig laat word. Dit sal beroerd met só iemand gaan, soos die meulsteen-aan-die-nek uitspraak bewys. Aan die een kant waarsku Jesus sy dissipels om nie mense wat hulle as geringer ag te laat struikel nie (vgl 1 Kor 8-9, Rom 14). Aan die ander kant spreek Jesus heel moontlik ook die vrees by die dissipels aan dat só ‘n houding van diens en ruimheid van hart tot misbruik kan lei wat hulle van ‘n egte oorgawe aan diens kan afskrik en afvallig kan laat raak.

Maar, Jesus spreek ook elkeen van hulle aan, wat sorg moet dra dat nie ‘n hand of voet of oog hulle van Hom afvallig laat word nie. Dit is beter om fisiese gebrek te ly, eerder as om van Hom afvallig te raak.

Die uiteinde van afvalliges is die hel (die Griekse woord gehenna word gebruik wat verwys na die altyd smeulende vullishoop in die Hinnomsdal buite die stad Jerusalem, wat gereeld gebrand is en waar die wurms in die afval gekrioel het) en die onblusbare vuur, waar die wurm nie dood nie en die vuur nie geblus word nie (verskillende Markus manuskripte plaas hierdie laaste mededeling op verskillende plekke in die perikoop, maar dit verander nie aan die betekenis nie). Vergelyk ook die verwysing hierna in Jesaja 66:24 en die grusame praktyke waarvan Jeremia vertel (7:30-33).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 551 “Jesus nooi die kindertjies” of
VONKK 78 “Die Kerk Is Die Heer Se Mense” of
Flam 17 “Dit Is Die Dag”

Votum
Dit gaan goed met die mense wat omsien na die swakke. Die Here sal hulle red op die dag van nood, die Here sal hulle beskerm en in die lewe hou… Aan die Here, die God van Israel, kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Amen, ja, amen. (n.a.v. Ps 41:1-2a, 14)

Seëngroet

Lofsang
Lied 529 “Dank, dank die Heer” of
VONKK 51 “Dankie, Heer” (Kanon) of
Flam 77 “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”

Wet: Romeine 13:8-10

Skuldbelydenis
V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!
(Uit: Soos ‘n Blom Na Die Son Draai deur Cas Wepener, Bybel-Media 2011)

Toewyding
Lied 543 “Here Jesus, ek is klein” of
VONKK 45 “Dankie, Heer, Dat U By My Bly” of
Flam 80 “Weet Jy?”

Genadeverkondiging: Romeine 5:1

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

Flam 77 “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis)
Teks & Musiek: Soekie Rautenbach & Danny Anthill
© Brettian Publishers
(Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja !
Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!
Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja !
Jesus, sterke God, eer Hom !
Halleluja !

Flam 17 “Dit Is Die Dag”
(RUBRIEK: Flammikidz / FLAM Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Ps 118:24)

1. Dit is die dag wat die Here gemaak het.
Kom laat ons juig, laat ons bly wees daaroor.
Dit is die dag wat die Here gemaak het
kom laat ons juig, laat ons bly wees daaroor.

Refrein:
Dit is die dag, (die dag) wat die Here gemaak het,
kom laat ons juig, (ja juig) laat ons bly wees daaroor.
Dit is die dag, (die dag) wat die Here gemaak het.
Daarom sal ons juig en sing.

Flam 41 “Beeld Van God”
(RUBRIEK: Jeuglied/Flammikidz – Lof)
Teks en Musiek:Braam Hanekom
© 1998 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ‘n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.

Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so sy beeld uitdra
in ‘n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ‘n paradys,
om te lag en te lewe, soos ‘n prins in ‘n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ‘n beeld van God wat kan skitter soos kristal
om die wêreld te herinner daar’s ‘n God in die heelal.
Kom dan nou en vat Sy hand en leef soos sy kind
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

Flam 80. “Weet Jy?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Wian Vos
© 1999 Brettian Productions
(Opgeneem op Kinder Gospel 2000)

Weet jy dat Jesus jou liefhet?
Weet jy dat Hy baie van jou hou
sommer net soos jy is,
want jy’s kosbaar
en spesiaal vir Hom.
Weet jy dat Jesus jou vriend is?
Weet jy dat Hy altyd sal hoor
as jy Hom vra om jou te wys
hoe kosbaar en spesiaal
jy vir Hom is.
Dankie Jesus (x3)
U is ook spesiaal vir my.

VONKK 78 “Die Kerk Is Die Heer Se Mense”
Teks: Breda Ludik 2005
Melodie: BEN LUDIK – Francé Ludik 2005 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêre Kinderlied – Die Kerk

1. Die kerk is die Heer se mense
wat vra na die Heer se wense.
Ja, ons is die Heer se mense:
Die wêreld moet Hom sien!

2. Die kerk is die Heer se woning,
‘n huis vir sy eie Koning.
Ja, ons is die Heer se woning:
Die wêreld moet Hom sien!

3. Die kerk is die Heer se tempel,
ons dra nou die Heer se stempel.
Ja, ons is die Heer se tempel:
Die wêreld moet Hom sien!

VONKK 51 “Dankie, Heer (Kanon)”
Psalm 106:1
Teks: Danket, danket dem Herrn – tradisioneel Duits; Lizette Murray 1993, effens gewysig 2008
Melodie: DANKET DEMHERRN – tradisioneel Duits 18E
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Afrikaanse teks en ostinatobegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Duitse teks en melodie: Openbare besit

1. Dankie, Heer, dankie, Heer,
2. want U is so goed vir my.
3. Aan u trou en liefde
4. is geen einde nie.
1. Danket, danket dem Herrn;
2. denn er ist sehr freundlich.
3. Seine Güt und Wahrheit
4. währet ewiglich.

VONKK 45 “Dankie, Heer, Dat U By My Bly”
Teks : Thank you, Lord, for saving my soul – Mr and Mrs Seth Sykes 1940; Attie van der Colf 1984
Melodie: THANK YOU LORD – Mr and Mrs Seth Sykes 1940
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Afrikaanse teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Engelse teks en melodie: Openbare besit
© Begeleidings: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Gebed

Dankie, Heer, dat U by my bly,
dat u Woord en Gees my ook lei.
U is my Vader, U is my Heer –
graag wil ek lewe soos U my leer.

Thank you, Lord, for saving my soul.
Thank you, Lord, for making me whole.
Thank you, Lord, for giving to me
Thy great salvation, so rich and free.

Vonkk 109 “Wees ‘n Lig Vir Jesus”
Teks: Freuet euch, ihr Kinder – Duits 1987; Afrikaanse weergawe Emma Badenhorst 1993 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: Alle Jahre wieder – Johann Christian Heinrich Rinck 1770-1846
Orrelbegeleiding: Anton Els 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kinderlied – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Kindwees

1. Wees ‘n lig vir Jesus, dit is wat Hy vra.
Na die donker wêreld, moet ons sý lig dra.

2. Elkeen kry sy plekkie om vir Hom te werk.
Jesus werk steeds deur ons. Hy maak swakkes sterk.

3. Geen werk is te klein nie om Hom mee te eer.
Wanneer ek my bes doen, loof ek Hom as Heer.

4. So word ons dan liggies wat vir Jesus dien,
totdat almal om ons Hom as Here sien.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 9:30-37

Familie-oomblik

Kinders kan identifiseer met die tweede perikoop oor die dissipels se gesprek oor wie die grootste is. Om die waarheid te sê, dié gesprek hou eintlik nooit op nie – wie se span is die beste, wie se klere is die mooiste, wie is die slimste ensovoorts.
Jesus sê dat die grootste onder ons is dié een wat die beste vir ander sorg en omgee.

Enige van Max Lucado se Wemmel-stories sal gepas wees hier, veral Jy is Myne of Jy is Spesiaal in Sy Oë.

Daar is ook baie animasie flieks waarvan die tema goed aansluit hierby. Soek die naam van enige van die flieks by www.imdb.com en kliek op “synopsis”, om die hele verhaal van die fliek te kry.

The Tale of Despereaux is die pragtige verhaal van Despereaux, ‘n klein dog dapper muis wat ‘n prinses red. Die voorskou, kan jy met ‘n gratis FLV converter kan aflaai.

The Ant Bully is ‘n seuntjie wat miere terroriseer, totdat hy self verander word om so groot soos ‘n mier te wees. Op die ou end help hy om die miere te red.

As jy kan, is die beste opsie waarskynlik om Max Lucado se boek “The Tallest of Smalls” te koop en vir die kinders te lees. Soos al die Te Kleins in Kleindorp wou Ollie bitter graag ‘n paar stelte hê. Een dag ontvang Ollie stelte! Aanvanklik was dit wonderlik. Maar op die ou end was dit eintlik bietjie alleen. Voëls het op sy kop gesit. Ollie het probeer inpas, maar een dag het hy skoon van sy stelte afgeval. Terwyl hy daar op die grond gesit het, het hy ‘n hand op sy skouer gevoel en ‘n stem gehoor wat sê: “Jy is kosbaar, klein Ollie. Ek het jou gemaak. Jy is myne.” Hier is ‘n video waar Max Lucado ‘n oorsig van die boek gee.

Predikante wat op die platteland woon en die boek via Loot of Kalahari bestel het, maar dit nie betyds gaan kry nie, kan vroegtydig ‘n vriendelike e-pos stuur na Rethie, vir ‘n tydelike kopie.

Preekriglyn

Navorsers by die Northwestern, Duke en Harvard-Universiteit het beleggers verlede jaar gevra hoe hul beleggingsfondse oor die afgelope jaar gevaar het. Die standaard is Standard & Poor se 500 aandele-indeks.

‘n Derde van die beleggers het beweer hul fondse het die standaard met minstens 5% oortref. ‘n Sesde het gesê hul fondse het met ten minste 10% beter gevaar.

‘n Kontroletoets dui aan dat ‘n volle 88% van die fondse wat meen hulle het die mark oortref, hul prestasie oorskat het. Trouens, die navorsing het ontdek dat sommige van hierdie hoë presteerders in der waarheid tussen 5 en 15% ónder die Standard & Poor indeks was. Volgens Don Moore, van Northwestern-Universiteit, wil “almal glo hulle is heelwat beter as die gemiddelde.”

Ook ‘n dissipelsiekte

Op reis met Jesus vanaf Sesarea-Galilea na Jerusalem gaan die gesprekke oor dissipelskap. Jesus is besig om sy dissipels toe te rus oor hoe om Hom na te volg.

Aan watter indeks meet die dissipels hulleself? Wanneer hulle die kans kry, is die debat oor die vraag wie die belangrikste was (34). Dit was nie sommer so ‘n gesprek nie. Ons teks sê hulle het “langs die pad met mekaar gestry” oor wie die belangrikste is (34).

Die meetinstrument vir die dissipels is persoonlike belangrikheid. Hulle werk met een of ander skema van prestasie of menslike waarde. Mens kan net dink hoe hulle hulself na waarde oorskat het. Hulle het waarskynlik elkeen ‘n skeefgetrekte prentjie van sy eie waarde gehad. In terme van hul subjektiewe oordele oor subjektiewe, self-gekose oriëntasiepunte, dink hulle oor hulself.

Die regte verwysingspunte

Gevra waaroor hulle “langs die pad” gesels het, het die dissipels niks te sê nie. Hulle weet goed hul argumente sal nie gewig in terme van Jesus se koninkrykslogika dra nie.

In reaksie op die futiele stryery help Jesus die dissipels om hulself reg te oriënteer. Hy bevestig die regte indeks en help hulle om hulself reg te meet. Hier is sprake van verskeie oriënteringspunte. Drie word duidelik beklemtoon:

  • Die onderrig vind plaas terwyl hulle op reis is;
  • Jesus leer hulle dat wie eerste wil wees, moet hy heel laaste en almal se dienaar wees;
  • Jesus laat ‘n kind – iemand met geen status in die destydse wêreld nie – in hul midde staan en verbind ontvangs van so ‘n geringe met die regte ingesteldheid in die koninkryk van God.

Kom ons pak die oriënteringspunte vir egte dissipelskap, volgens hierdie teksgedeelte, verder uit.

Oriënteringspunt 1: Op reis
Ons eerste oriënteringspunt het met die breër konteks te doen.

In hierdie onderdeel van die Markus-evangelie praat Jesus met sy dissipels oor egte dissipelskap. Ons moenie miskyk dat dit op reis gebeur nie. Jesus reis met sy dissipels. Dit is ‘n reis in vernedering in. Jesus is op pad na Jerusalem waar Hy verwerp sal word, sal ly en sal sterf. Hy doen dit om mense te dien. Hy word die heel laaste en almal se dienaar (35) al is Hy waarlik die Seun van God. Hy doen dit sodat daar vir ons lewe kan wees.

Ons teks is aan die begin van hierdie reis geplaas. Hier reis Jesus nog heel uit die noorde van Galilea na Kapernaum, sy hoofkwartier tydens hierdie fase in sy bediening, Kapernaum was op die oewer van die See van Galilea.

Op hierdie reis nooi Jesus sy dissipels uit om sy voorbeeld na te volg.

Die vraag is of die dissipels Jesus sal bly volg? Sal hulle Kapernaum verlaat en saam met Jesus Jerusalem toe gaan? Sal hulle suidwaarts reis, geografies af langs die Jordaanrivier se vallei, maar ook geestelik af, al hoe dieper onder die nood en God-vervreemding van mense in? Sal hulle, soos Jesus, hul skouer al hoe dieper onder mense se nood plaas? Sal hulle gesante van God se aksie bly om deur nederige diens vryheid en herstel vir mense te bring?

Opvallend bly die dissipels sukkel om Jesus te verstaan (32). Hulle is ook te bang om Hom daaroor uit te vra. Dalk is hulle bang dat Hy hulle gaan teregwys. Petrus moes immers vroeër hoor hy is ‘n teenstander omdat hy lyding wil vermy. Dalk is hulle bang om die volle konsekwensies van hul navolging te leer verstaan.

Hulle reageer op Jesus se vreemde boodskap deur onder mekaar te stry oor wie eintlik die belangrikste is. Hier druip hulle die toets.

Die wonder is egter dat hulle Jesus bly volg. Hulle bly op sy voetspoor.

Die reismetafoor is ‘n belangrike element van die Markus-evangelie se verstaan van dissipelskap. Dissipels is mense wat Jesus bly volg en bly gehoorsaam, selfs al verstaan jy nie. Selfs al is jy bang. Selfs al lyk die prys te hoog.

Dissipelskap is om dikwels dom te voel en met vrees te moet saamleef. Dissipelskap is om die vertroue in die Een wat jy volg egter altyd die laaste woord te laat sê.

Oriënteringspunt 2: Nie onsself nie, maar Jesus
Dit is ‘n universele menslike siekte om jouself en jou eie waarde hoër te skat as wat jy moet. As Westerlinge is ons op hierdie punt aan geweldige risiko blootgestel. Vir ons kultuur is dit ‘n kernwaarheid dat die wêreld om onsself draai. Ons is die sentrum van alles. Die wêreld en die lewe gaan om ons. Selfvervulling, self-realisering, self-beloning is the name of the game.

Hierdie is ‘n ou Westerse siekte. Die opkoms van die Westerse lewensgevoel is ten nouste verbind met René Descartes wat geleer het “ek dink, daarom is ek,” cogito ergo sum. Voorheen sou Westerlinge die tradisie (oorgelewerde waarheid) en die groep vertrou vir rigting, oriëntasie, waardes en vastigheid. Descartes plaas die sentrum van waarheid, waarde en oriëntasie is die indiwiduele menslike persoon. Die menslike subjek word die bron van waarheid en oortuiging. Sedert Descartes sou individue vir hulself besluit. Die betwyfeling van oorgelewerde waarheid, of die waarheid van ander, word die manier waarop ek my waarheid bepaal en besluit hoe ek sal lewe.

Ons is die erfgename van hierdie oorskatting van die menslike persoon. Dit is die manier hoe ons die waarheid van God korrupteer. Die wêreld draai rondom my, my denke, my oortuigings, my prestasies, my suksesse.

Dis vir ons maklik om raak te sien hoe ander kulture die evangelie korrupteer. Ons kan bv. maklik sien dat voorvaderverering die waarheid van die evangelie in gedrang kan bring. Westerse individualisme, en die soek van waarheid in my subjektiewe self, is egter die manier waarop ons die evangelie korrupteer. Jesus, en die radikale navolging van Jesus, is die waarheid.

Jesus sê die waarheid is om jou lewe in diens van ander weg te gee. Hyself is die voorbeeld.

Jesus se oriënteringspunt is so radikaal teenoorgesteld van die Westerse lewensgevoel dat die meeste van ons ‘n lang geestelike reis moet onderneem om uit selfbelang, selfverheffing en selfoorskatting te groei. Ons het bekering en vormende geestelike prosesse in ons lewens nodig om vry te raak van onsself.

Moenie dit sien as ‘n swaar las nie. Die vry raak van jouself, die vry word tot ander, is juis jou eie bevryding en verlossing. Die inbind in Jesus en die weg van Jesus, in die manier waarop ons verlossing homself uitwerk in ons bestaan. Dit maak ons vry en voer ons tot nuwe hoogtes. (Gebruik gerus hier weer die beeld van voëls en vlerke uit die vorige week se preekskets.)

Oriënteringspunt 3: Nederige diens
Die derde oriënteringspunt is ‘n weg om te groei uit selfverheffing en selfoorskatting uit. “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” (35)

Gemotiveer deur liefde, word elkeen van ons genooi om te kies om te dien. Die kern van die Christelike geloof, die sentrum van God se openbaring van God se karakter, is die dienende Christus wat gebore word, leef, dien, sterf, opstaan uit die dood, opvaar na die hemel en regeer in belang van ander. Aangesien dit so is, is diens aan ander nie opsioneel vir Jesus se volgelinge nie.

Ons móét op die weg van dissipelskap spesifieke en konkrete diensgeleenthede kies waar ons ander se belange opneem en hulle dien – selfs al beteken dit vir ons pyn, verlies, verwerping en opoffering.

Elkeen van ons moet bid oor die plek of plekke waar die Here wil hê ons moet doen. Dit kan spesifieke individue wees. Sommige persone kies om bejaardes se naels op gereelde basis te gaan knip. Ander dra by tot die studiegeld van behoeftige leerders of studente. Sommige dissipels raak by skole met ‘n gebrek aan hulpbronne betrokke en dien só.

Dikwels is die aanduiding waar jy moet dien die dinge wat jou aandag trek. Die Here fokus jou aandag op die sake, mense, of plekke waar jy moet dien. Die uitdaging is om dan te gehoorsaam.

Nederige diens maak jou vry van selfverheffing en is ‘n wonderlike groeigeleentheid vir dissipels van die Here.

Oriënteringspunt 4: Soos ‘n kindjie
Jesus gee ons ‘n regte kindertuinlessie deur – in terme van die destydse kultuur – ‘n waardelose persoon in ons midde te laat staan. Dit gaan nie hier oor kinderlike onskuld of vertroue nie. Jesus probeer ons nie hier leer om soos ‘n kind te vertrou, of bevorder nie die waarde van onskuld nie. Dit gaan oor ‘n kind se gebrek aan status.

In die destydse wêreld het kinders geen aansien of status geniet nie. Kinders was sprekend van die laaste of die minste. Dit was later gebruik om Christene spottend “kinders” te noem. Wynand Retief skryf hieroor in ‘n preekskets oor hierdie teks :

Jesus self is natuurlik by uitstek die “laaste” en “almal se dienaar” (vgl. 10:45). Daarom, wie so ‘n kindjie ontvang/verwelkom, doen dit in werklikheid aan Jesus, en dus aan God. In die woorde van Anderson: Jesus identifiseer Homself met hierdie kind, met die noodlydende dissipel wat nie streef na status nie. Om so ‘n dissipel te ontvang in sy kleinheid en geringheid is om op die evangelie van die lydende Seun van die mens te reageer. En om so te reageer op die evangelie wat deur sulke mense gebring word, is om te reageer op God. Aldus Anderson.

Dit gaan dus oor identifisering met die minste/geringste, in die sin dat kerkmense afbuk na en saam met die wat reeds afgebuk het. Dat Christene soveel aandag aan die geringstes gee dat hulle op ‘n radikale manier self gering word. Dat die kerk met ope arms die magteloses omarm, só dat die kerk self deel van die magteloses word. Volgens Jesus is Hyself en inderdaad God self in die sentrum van hierdie kring van magtelose “kinders”.

Ook in die Bybel-Media riglyne vir hierdie week word die punt gemaak:

Die dissipels het verstaan: Hier staan in lewende lywe ’n verpersoonliking van die minste, die laaste en laagste in orde. ’n Kind het nie status nie, tel nie, is beskou as soort laspos. Die rabbi’s het geleer: “’n Belangrike en wyse man hou hom nie op met kinders en hulle praatjies nie.” Hulle het geleer: “Oggendslapies, wyn in die middel van die dag, onkundige mense en kinders se geselskap is nie bedoel vir die manne nie, dit verban jou uit die wêreld van goeie geselskap.” Maar Jesus bring ’n kind in hulle geselskap in. En Hy sê: “Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar Hom wat My gestuur het” (9:36). Daardeur sê Hy vir sy dissipels: Om belangrik te wees, om groot te wees in die koninkryk van God, om belangrik, vernaam te wees in die kerk of gemeente, moet jy dit vanuit ’n gesindheid van kinderlike oorgawe doen. Wie aspireer na ’n eerste plek in die koninkryk moet die minste wees, almal se dienaar.

Die voorbeeld van die kindjie dring by ons aan om ons lewens, ons gawes, ons vermoëns, ons sekuriteit en ons kapasiteit aan te wend in diens van ander.

Ons het hierbo gesê Westerse individualisme – dit gaan oor myself – is die een plek waar ons die evangelie korrupteer. Met die voorbeeld van die kindjie plaas Jesus sy vinger op ‘n tweede plek waar ons die evangelie korrupteer. Dit is deurdat ons persoonlike mag of vermoë rondom ons versamel om ons eie toekoms te beveilig. Ons eie self, en ons mag, is ons afgode. Die kindjie lê dit bloot. En word die uitnodiging van Jesus om vry te raak.

Dit verg diensbaarheid.

Wie is ons “kinders”?

Die voorbeeld van die kindjie is meer as ‘n kindertuinlessie. Dit is nié nét ‘n algemene metafoor oor nederigheid en diens nie. Die vraag vir dissipelkringe, geloofsgemeenskappe, of gemeentes – tot vandag toe – is wie die kindjie of buitestander is wat Jesus in ons midde plaas?

Gemeentes bestaan immers nie vir hulleself nie.

Gemeentes bestaan omdat God deur die lydende Kneg, Jesus Christus, (wat gesterf, opgestaan is, opgevaar het en verhoog is tot die regterhand van die Vader) en deur die Heilige Gees aan die beweeg is na die wêreld toe.

Die drie-enige God se beweging na die wêreld skep ‘n kerk, skep ‘n gemeente. God se missie het ‘n kerk. Ons gemeente bestaan omdat God op pad is na die wêreld.

Daar is “kinders” wat God deur ons wil bereik.

Die belangrike vraag is wie hierdie “kinders” is? In baie gevalle weet gemeentes dat dit ons eie jeug is. Gelukkig is die besef aan die ontwikkel dat blote aantreklike jeugprogramme nie meer die pyp rook nie. Ons het maniere nodig om jongmense binne-in die hart van die erediens te integreer. ‘n Kultuursensitiewe aanpak is nodig (deelname deur jongmense, taalgebruik, musiek), maar veral ook warm hartlikheid en omgee-verhoudings.

‘n Paar tegniese veranderinge gaan nie die jongmense in ons midde kry nie. Gemeentes sal deur ‘n proses van aanpassende verandering moet gaan. Die tweede vraag is daarom hoe ons moet verander om die “kinders” na wie God ons stuur in ons midde te verwelkom.

Dit gaan oor meer as net jongmense. Daar is ook ander “kinders” wat God deur ons wil bereik. Diep luister na God, na mekaar en die omgewing is hiervoor nodig. Daarmee saam ook durf en moed.

Daar is ‘n verstaan van kerk-wees wat meen gemeente-wees gaan bloot oor ons lidmate en hulle behoeftes. Op hierdie manier weier baie gemeentes om die minste te wees, hulself te verloën en Jesus na te volg. Sulke gemeentes soek hulle eie lewe en verloor dit daarom. In die ekonomie van die koninkryk, waar die kerk groei weens die lewende teenwoordigheid van die Here en gehoorsaamheid aan Hom, raak sulke gemeentes afgesny van die Bron van Lewe. Hulle sterf. Dit is moontlik om ‘n blink program en aangrypende godsdienstige produkte te lewer, sonder dat die gemeente in pas is met God se beweging na die wêreld. Dit is gedoem.

Jesus sê wie die kindjie ontvang, ontvang Hom. Mag ons Jesus ontvang deur die kindjies na wie Hy ons stuur, en vir wie Hy in die eerste plek na ons stuur.

Dissipels is mense van die weg – op weg met Jesus. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Sal ons die prys betaal en Hom volg?

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 538 “Heer Jesus, U was self ‘n kind” of
Vonkk 109 “Wees ‘n Lig Vir Jesus” of
Flam 41 “Beeld Van God”

Seën

Respons
Lied 543 Refrein (O Jesus, neem my…) of
Vonkk 51 Strofe 1 (Dankie, Heer) of
Flam 41 eerste deel van Refrein (Mag jy omgee…)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.