Sewentiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tekste weerspieël op ’n treffende manier die hart van die evangelie. Dit neem ons van die verdorwenheid van die mens en die werklikheid van God se oordeel (Jer 4 en Ps 14) na die onverdiende en die skoonheid van God se genade (1 Tim 1 en Luk 15). Mens kan nie anders nie as om die klemverskuiwing in die Nuwe-Testamentiese tekste raak te sien. Waar die mens se situasie hopeloos gelyk het, bring Christus hoop.

Ander tekste

Psalm 14
God is aan die kant van die regverdiges
(Vgl Ps 53)
14 Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles
wat hulle doen,
is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien-
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks
met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant
van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne
teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion
vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk
verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

1 Timoteus 1:12-17
Dank vir die genade van God
12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

18Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. 19Hou vas aan die geloof en behou ’n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. 20Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.

Lukas 15:1-10
Die gelykenis van die verlore skaap

(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Fokusteks

Jeremia 4:11-12, 22-28
’n Ramp kom uit die noorde
5Vertel dit in Juda, maak dit in Jerusalem
bekend en sê:
“Blaas die ramshoring in die land!”
Roep hard en sê:
“Kom bymekaar, laat ons
in die vestingstede ingaan!”
6Swaai die vaandel: Na Sion toe!
Soek veiligheid, moenie talm nie!
Ek, die Here, laat onheil
uit die noorde kom, ’n groot ramp.
7Die leeu het opgestaan uit sy lêplek,
die vernietiger van die nasies is op pad,
hy het uit sy blyplek uitgegaan
om jou land te verwoes.
Jou stede sal in puin lê, sonder inwoners.
8Daarom, trek rouklere aan, huil en kerm,
want die toorn van die Here
rus nog op ons.
9Daardie dag, sê die Here,
sal die koning en die amptenare se moed
hulle begewe,
die priesters sal verslae staan
en die profete sal nie weet waarheen nie.
10Toe sê ek: “Ag, Here my God!
U het hierdie volk en Jerusalem bedrieg.
U het gesê: ‘Julle sal vrede hê,’
maar nou lê die swaard teen ons kele.”
11Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en
vir Jerusalem gesê word:
’n Gloeiende wind kom
oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai
en die koring skoon te waai nie.
12Ek bring die wind in sy volle krag
oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel
oor hulle uitspreek.
13Kyk, die vyand kom
so skielik soos wolke,
sy strydwaens kom soos ’n stormwind,
sy perde is vinniger as arende.
Ellende wag vir ons,
dit is klaar met ons!
14Jerusalem, reinig jou hart
van die kwaad,
dat jy behoue kan bly.
Hoe lank sal jy nog bose planne
in jou omdra?
15Daar kom ’n boodskap uit Dan,
daar kom slegte nuus
van die Efraimsberge af.
16Vertel dit aan die nasies,
maak dit aan Jerusalem bekend:
Daar kom wagte uit ’n ver land,
hulle beveel hulle manskappe
om die stede van Juda aan te val.
17Soos mense wat graanlande oppas,
staan hulle rondom Jerusalem,
want hy het teen My gerebelleer,
sê die Here.
18Jou eie optrede,
jou eie dade het hierdie dinge
oor jou gebring,
dis jou eie boosheid
wat dit so bitter maak,
wat jou in jou hart tref.
19O die krampe in my ingewande,
o die benoudheid in my hart!
My hart bons wild, ek kan dit nie
tot bedaring bring nie,
want ek het die geluid van die ramshoring
gehoor,
en die oorlogskrete!
20Die val van die een stad na die ander
word uitgeskreeu,
die hele land is verwoes.
Met een slag is my wonings vernietig,
in een oomblik my woonplekke.
21Hoe lank sal ek nog
die vyande se vaandel sien,
die geluid van die ramshoring hoor?
22My volk tree dwaas op,
hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders,
sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim
as dit kom by verkeerd-doen,
van goed-doen wil hulle niks weet nie.
23Ek het na die land (aarde) gekyk,
en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig
was daaruit weg;
24ek het na die berge gekyk,
en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.
25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.
26Ek het gekyk, en die vrugbare grond
het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit
in sy gloeiende toorn gedoen het!
27Ja, so sê die Here:
Die hele land sal verwoes wees,
maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.
28Daaroor moet die aarde treur
en die hemel daarbo donker word,
want Ek het my voorneme bekend
gemaak,
Ek staan by my besluit,
Ek sal nie van plan verander nie.
29Voor die geluid van ruiters
en boogskutters uit
slaan elke stad op die vlug;
hulle hardloop die bosse in,
hulle klim tussen die rotse in.
Elke stad lê verlate,
sonder ’n enkele inwoner.
30Maar jy, verlatene, wat maak jy nou?
Wat klee jy jou met bloedrooi klere;
wat versier jy jou met goue versiersels,
waarvoor smeer jy oogverf aan!
Jy maak jou verniet mooi!
Jou minnaars het jou verwerp,
hulle soek jou lewe.
31Ek hoor ’n geskreeu soos van iemand
wat in kraam is,
’n benoude kreet soos van ’n vrou
wat haar eerste kind in die wêreld bring.
Ek hoor vir Sion wat na haar asem hyg,
wat haar hande smekend uitsteek en sê:
“Ellende wag vir my!
Ek is weerloos teen my moordenaars!”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Aanvangswoord
Seëngroet

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here (wysie 219) 1,2,3”

Verootmoediging
Die gloeiende sirokkowind wat in Israel vanuit die noorde waai, word in Jeremia as beeld van God se oordeel gebruik oor die ontrou van die volk wat Godveragtend, moedswillig en aanhoudend die verkeerde doen.
(Jeremia 4)

Wat oorbly wanneer die oordeel uitgewoed het, is ’n verwoeste, onbewoonbare land:
(Jeremia 4)

Hier is nie sprake van opbou en herstel nie, net van afbreek tot op die grond (vgl 1:10). Hier is geen missionêre hoop meer oor nie. In hulle dwaasheid het hulle alles vernietig wat God gegee het.
(Psalm 14)

Hier is net plek vir grondige skuldbelydenis (Ps 51).
(Psalm 51)

Vryspraak: (Romeine 5)

Lied 525 “Here hoe blymoedig vs 1,3”

Geloofsbelydenis as litanie ahv die Apostoliese Geloofsbelydenis en 1 Timoteus 1:12-17

Epiklese: (ahv Lied 257)

Skriflesing: Jeremia 4:11-28

Prediking

Gebed: (Woorde van Lied 232)

Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Numeri 6:24-26 of 2 Korintiërs 13:13

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Aanvangswoord
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat… (Psalm 15)

Seëngroet
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk van God.
Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word . . .” (Luk 6:20-21).
(Uit Basisliturgie vir Koninkrykstyd: Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here (wysie 219) 1,2,3”

Verootmoediging
Die gloeiende sirokkowind wat in Israel vanuit die noorde waai, word in Jeremia as beeld van God se oordeel gebruik oor die ontrou van die volk wat Godveragtend, moedswillig en aanhoudend die verkeerde doen.

’n Gloeiende wind kom
oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai
en die koring skoon te waai nie.
12Ek bring die wind in sy volle krag
oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel
oor hulle uitspreek.
22My volk tree dwaas op,
hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders,
sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim
as dit kom by verkeerd-doen,
van goed-doen wil hulle niks weet nie. (Jeremia 4)

Wat oorbly wanneer die oordeel uitgewoed het, is ’n verwoeste, onbewoonbare land:
23Ek het na die land gekyk,
en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig
was daaruit weg;
24ek het na die berge gekyk,
en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.
25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.
26Ek het gekyk, en die vrugbare grond
het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit
in sy gloeiende toorn gedoen het! (Jeremia 4)

Hier is nie sprake van opbou en herstel nie, net van afbreek tot op die grond (vgl 1:10). Hier is geen missionêre hoop meer oor nie. In hulle dwaasheid het hulle alles vernietig wat God gegee het.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie. (Psalm 14)
Hier is net plek vir grondige skuldbelydenis (Ps 51).
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe. (Psalm 51)
Vryspraak
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. (Romeine 5)

Lied 525 “Here hoe blymoedig vs 1,3”

Geloofsbelydenis as litanie ahv die Apostoliese Geloofsbelydenis en 1 Timoteus 1:12-17
V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige?
G: God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. God was my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

V: Glo jy in in Jesus Christus, God se eniggebore Seun, ons Here?
G: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

V: Ons glo in die Heilige Gees.
Ons glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
G: Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Liedere

F110. “Omdat U Groot Is”
(RUBRIEK: Flammikidz – Verwondering)
Teks en Musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Omdat U groot is en heilig, o Heer,
buig ek my neer, buig ek my neer.
Omdat U groot is en heilig, o Heer,
buig ek my neer.
Omdat U groot is en heilig, o Heer,
buig ek my neer.
Omdat U wys en verstandig is, Heer,
buig ek my neer, buig ek my neer.
Omdat U wys en verstandig is, Heer,
buig ek my neer.
Omdat U wys en verstandig is, Heer,
buig ek my neer.

F241.”Heilig Is Die Here”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: H Berner
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Sing Uit!)

Heilig, heilig,
Heilig is die Here.
Die aarde is vol van
Al u grootheid, Heer.
Heilig, heilig!
Weerklink die hemellied.
Ek buig hier voor U
Wat was en is en kom.
En ek wil vir ewig U aanbid.
Ek wil U ken.
Ek wil my wil voor U kom buig,
U wat altyd sal regeer.
Halleluja!
Halleluja!

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (ahv Lied 257)
O Heer, maak oop my hart se poort;
maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar.
Laat my dié Woord altyd bewaar.
U Woord, o Heer, deurboor en wond,
maar dit genees ook, maak gesond;
u Woord toon al ons sondes aan
en wys die weg wat ons moet gaan.
O Vader, Seun en Gees tesaam,
hoe heerlik is u Wondernaam!
O heilige Drie-enigheid,
ons loof U tot in ewigheid.

Skriflesing: Jeremia 4:11-28

Prediking

Familie-oomblik

Die fokusteks handel oor God se oordeel oor sonde- terwyl sonde al dan nie die volk se keuse was. Israel kon kies om God te dien- hulle kies vir die sonde.

Gebruik Psalm 1 om die 2 weë te aksentueer. Vry vertaal ahv Eugene Peterson se The Message:
Hoe lief het die Here nie vir jou?
Sonde is nie vir jou lekker nie-
jy is nie op ‘n pad wat doodloop nie.
Jy hou jou nie op met slimpraatjies nie,
nee, jy is lief vir jou Bybel,
jy verlustig jou in God se Woord, dag en nag.
Jy is soos ‘n boom met groen blare,
geplant langs ‘n koel waterstroom wat dag en nag die wortels voed.
Hierdie boom dra gereeld vars vrugte-
en dit verloor nooit blare nie…
So is die sondaars nie: hulle kies om van die Here weg te draai-
hulle is soos droë blare wat deur die wind rondgewaai word;
blare sonder koers of rigting in die lewe.
Sowaar, die Here lei die koers van die bome wat vrugte dra,
maar die droë blare het geen bestemming nie.

Preekriglyn

Henry Kissinger, VSA-diplomaat, adviseur van presidente en kabinetslid in die Nixon en Ford-regerings, het beroemd geword vir sy toepassing van realpolitik. Realpolitik streef daarna om polities rekening te hou met wat werklik is. Feite. Dit hou nie van ideologies-gedrewe politiek nie, maar wil in die moeras van morsige politieke werklikhede doen wat prakties moontlik is om belange te beskerm.

Kissinger het die Nobelvredesprys gewen. Sy realpolitik-benadering van détente het vér buite die VSA se grense invloed uitgeoefen. Só het hy vrede met China nagestreef, hoewel die VSA sterk gekant is teen kommunisme. Détente het ook gestreef om verhoudinge met die Sowjet-Unie te normaliseer, en die Parys-vredesverdrag het tot die VSA se onttrekking uit Vietnam gelei.

Realpolitik is beroemd gemaak deur Otto von Bismarck, Duitse kansellier (1862-1890), wat praktiese werklikhede vlugvoetig ingespan het om politieke uitkomste te bewerkstellig.

Realpolitik is nie so onskuldig as wat dit klink nie. Die beleid het beteken dat die VSA politieke skurke en outoritêre regimes, berug vir menseregteskendings, bewapen het omdat dit hulle politieke doelwitte gepas het. van dié boef-organisasies het later berugte opponente van die VSA geword.

Wat is werklik?

Ons het almal die behoefte om realisties te wees. Ons wil met feite en praktiese werklikhede rekening hou. Ons wil konkrete doelwitte en uitkomste hê.

In die tyd van Jeremia wou die konings en politici ook prakties en pragmaties, real, wees.

Jeremia profeteer in die tyd wat die suidelike tweestammeryk, Juda, polities steier onder druk van praktiese werklikhede.

Die geskiedenis word in 2 Konings 23:28-25:30 en in 2 Kronieke 35:20-36:21 vertel. Juda was ‘n buffer tussen die magtige Egipte en die Babilonië (moderne Irak). In Jeremia se tyd bou die stormwolke op. Babilonië word toenemend ‘n bedreiging vir die kleine Juda. Vrede met Egipte moet ook bewaar word, want dié lê ook op die loer. Daarom wend die Judese politici hulle met wisselende lojaliteit tot magtige state om hulle eie posisie en vir Juda veilig te hou.

Juda se koning, Josia, sterf in ‘n geveg met Egipte. Dié meng daarna in Juda se sake in, en maak Jojakim koning. Natuurlik is Jojakim (ongewilde koning wat hy was) lojaal aan Egipte. Die skrif is teen die muur wanneer Babilonië Egipte militêr in 605 v.C. by Karkemis verslaan. Dit gee die Babiloniese koning, Nebukadneser, geleentheid om in Juda se sake in te meng. Hy val Jerusalem in 597 v.C. binne. Sedekia, ‘n swak koning, kom in Juda aan bewind. Hy moet lojaal aan Nebukadneser wees, maar kom deur swak advies in opstand teen Babilonië.

Jeremia waarsku deurgaans teen hierdie opstand, sonder enige effek. Die opstand het katastrofiese gevolge vir Juda. Jerusalem word in 588 v.C. beleër en val in 587 v.C. Die stad en tempel word vernietig en baie Jode word in ballingskap weggevoer.

Waarom het dit gebeur? Wat het werklik gebeur? Kon die konings en politici van Juda nie realpolitik behoorlik bedryf nie? Het hulle die gevolge verstaan? Verduidelik realpolitik die volle werklikheid?

Vólle werklikheid

Volgens Walter Brueggemann, bekende Ou Testamentiese kenner, kan mens die ondergang van Juda bloot in terme van realpolitik probeer verstaan. Jy kan sê dis weens politieke en militêre faktore. Dan oorvereenvoudig jy gebeure. Jy neem nie al die feite in aanmerking nie.

Die profeet Jeremia gee ’n alternatiewe perspektief, ‘n groter prentjie, ’n teologiese verklaring vir hierdie gebeure. Jeremia help Juda om God raak te sien. God is ook ‘n Akteur, ‘n Deelnemer in die geskiedenis.

Juda se bestemming uiteindelik nie bepaal deur politiek, mag en geweld nie, maar deur God se betrokkenheid. Die Here God het ‘n verbond met sy volk gesluit: Hy is hulle God, en hulle is sy volk. Hulle is trou en liefde aan mekaar verskuldig.

Israel het op God se trou met ontrou gereageer. Hulle het God se reëlings vir ‘n betroubare wêreld oortree, waar lewe liefdevol versorg en gekoester word, en dié wat agterraak opgetel en beskerm word. Hulle het van God vergeet en ander gode begin dien.

Daarom word God nou ‘n opponent vir die volk. Hy stuur sy profete om hulle te waarsku, maar hulle bly hulle gebaande weg inslaan. Volgens Jeremia 7 was die fisiese tempelgebou in Jerusalem vir die volk soos ‘n versekeringspolis. Hulle het gedink die Here sy hulle bewaar, en die tempel die aan waarborg daarvoor.

Die Here as Opponent

Ons teksgedeelte is deel van Jeremia se oordeelsprofesieë, wat strek van hoofstuk 2 tot 10. Die kern hiervan in Jeremia se tempelrede in hfs. 7, met die skokkende boodskap dat die Here die tempel in Jerusalem verlate sal laat word. Die rede hiervoor is dat hulle die tempel soos ‘n rowerspelonk gemaak het: net soos ‘n rower veiligheid in ‘n spelonk gaan opsoek, het ‘n verharde, ongehoorsame volk veiligheid in die tempel gaan opsoek.

Israel het in sy realpolitik links en regs gekyk, in die rigting van Babilonië en Egipte, en in die tempelgebou ‘n hoeksteen gevind. Hulle het geleef of dit die enigste werklikhede is. In die proses het hulle God misgekyk.

Ons het reeds vantevore gekyk na Jeremia 2 waar hierdie vergeet van die Here treffend uitgebeeld word. Die volk het die lewende God verruil vir nuttelose afgode. Daarom het hulle ‘n toekoms verloor. Hulle het die fontein van lewe verlaat vir gebarste waterbakke.

In die proses het God nou die Opponent van sy volk geword. Jeremia spreek hulle ernstig aan om te onthou, en terug te keer na God en die verbondsgehoorsaamheid te beoefen wat die Here van hulle vra.

Bedreiging uit die noorde

In hoofstuk 4 word verskeie beelde gebruik om te sê die politieke en skeefgetrekte godsdienstige bestel in Juda steier, en gaan in duie te stort. Die bedreiging kom uit die noorde. Die leërs van Babilonië ruk op, maar hulle is slegs die werktuie in die hande van die eintlik Oorlogvoerder, die Here self.

  • In verse 5 tot 8 word gepraat van die vernietiger van die nasies, wat soos ‘n leeu uit sy lêplek opstaan om verwoesting en doodslag te pleeg;
  • In verse 11 tot 18 word die wind as beeld vir verwoesting gesien. Wind kan ook suiwer, soos om kaf van die koring te skei, maar in hierdie geval gaan die wind verwoes. Die vyand is vreesaanjaend, en daarom word Jerusalem opgeroep tot bekering. Die vyand kom weens die volk se opstand teen die Here.
  • Verse 19-31 gebruik vyf opeenvolgende beelde:
    • Oorlogskrete en die klank van die ramshoring, met gepaardgaande persoonlike angs en ontwrigting as gevolg van die invallende leer (19-22).
    • Die chaos en verlatenheid van die werklikheid (23-28).
    • Almal vlug holderstebolder (29).
    • Niemand ag Juda meer nie, die volk is soos ‘n prostituut wie se verleidelikheid sy trefkrag verloor het (30).
    • Die doodskreet van ‘n vrou in kraam (31).

Jerusalem is in die greep van die dood. Die oordeel kom blitssnel. En dit kom uit die hand van die Here self.

Jeremia wil Juda skud uit haar selfversekerde waan van veiligheid en vrede. Hy breek deur hulle illusie van ‘n bestendige toekoms. Jeremia konfronteer die volk met die dreigende werklikheid van die hulle leefwyse te konfronteer. Hy ondergrawe die gedagte die Here hulle ongekwalifiseerd sal versorg.

Suid-Afrika?

As gemeente wat eeue later in Suid-Afrika leef, moet ons vra wat hierdie teks vir ons sê? ‘n Paar duidelike lyne staan uit:

  • Mens kan nie realisties oor die samelewing dink as jy die Here buite rekening laat nie. Die groeikoers, repokoers, rentekoers, en wisselkoers beskryf nie die volle werklikheid nie. Ook nie die stembus, die parlement, die kabinet, die Uniegebou of die konstitusionele hof nie. God is ‘n werklikheid en die publieke lewe moet met God rekening hou.
  • God se kerk, God se mense, in ons samelewing is mense wat God ook in ons publieke lewe moet dien. Ons moet God se wil soek, van ons werkplek, verby ons sportbyeenkomste tot by of kuierplekke, op straat en in die plekke waar ons besluite neem wat ander raak.
  • Ons is geroep om onreg en liefdeloosheid teen te staan. Dit in een van die groot temas van die profete, soos Jeremia. Waar mense uitgebuit en onversorg gelaat word, moet ons nie net salf op die wonde smeer nie, maar ook die oorsake van die wonde aanspreek. Die wonde word geslaan deur ‘n politieke bestel wat God se onderwysing minag.
  • Christene kan nie vrede hê met nepotisme, uitbuiting, swak dienslewering, korrupsie en misdaad nie. Hierdie is nie net etikette wat ons om ander se nekke kan hang nie. In baie gevalle is dit Christene wat omkoopgeld betaal, groot winste uit ander maak, uitbuiting pleeg, of nalaat om ‘n dag se ordentlike werk te doen.

Mens kan hierdie onreg net pleeg, as jy van die Here vergeet. As jy nie met God rekening hou nie. As jy ‘n soort real-politiek aanhang wat sê dis elkeen vir homself en ons moet die beste van ons omstandighede vir onsself maak.

Brief aan Suid-Afrika

Marlene van Niekerk het ‘n snydende brief aan Suid-Afrika geskryf (aangehaal in die preekriglyne van Woord en fees). Dalk sou Jeremia so ‘n brief aan moderne Suid-Afrika kon skryf. Hier volg kort uittreksels:

’n Mond vol wilde brame Suid-Afrika (Vry na Allen Ginsberg se “America”):
Suid-Afrika, ek was ’n kind met ’n mond vol wilde brame
langs die Riviersonderend, nou het ek borrelsiekte
van aanmekaar wegvlieg met Lufthansa.
Suid-Afrika, nevermind my koolstofvoetspoor
en die kaalslag van riviere en fynbos,
die vis wat witpens bo dryf in die Vaal,
die bloeiende renosters onder Toet en Pronk se lemme –
vir jou is ’n kadawer
nie eers die naamkaart aan haar groottoon werd nie . . .
Suid-Afrika, ek vra, wanneer gaan jy jou weerloses begin eer?
Dis óf eerbetoon óf die onbruikbares fynstamp vir bemesting –
want nie alles kom uit die myne nie.

Kyk my aan, Suid-Afrika, ek praat met jou,
ja, jy daar in Tamboerskloof en Oranjezicht,
gaan jy jou emosionele lewe
laat oorneem deur Ina Paarman en His People?
His People en deur Huisgenoot?

Suid-Afrika red wat verlore gaan en soek die wat sterwe.
Suid-Afrika sorg vir jou perlemoen.
Suid-Afrika biskop Verryn vang in sy aarde-arms die families Xenos
uit Zimbawe, uit Somalië, uit Ghana, uit Nigerië…….

Suid-Afrika, dis oor jou snoet te diep in die trog is.
As jy opkyk, is jou ogies klein.
Jy is hulpeloos! roep die Wêreldbank.
Ug og roep jy terug, ugge ogge, ja, tekortgedoen, tekort en hulpeloos
en jy breek uit hulpeloosheid als wat jy begeer, skole, hospitale en toilette……

jy sien nie jou krotte nie, jy tel nie jou grafte nie, jy eer nie jou gogos nie….

Woord en fees skryf: Ons leef in ’n wêreld vol nood, namelose lyding, grootskaalse vernietiging en ons skuil gepantser agter mure, ontvlug in onkundige ontspanning, kyk afgetrokke (soms dalk leedvermakerig) na beeldmateriaal van hierdie nood en wag ongeduldig vir die nuus oor die nuwe Springbokafrigter, die beurspryse interesseer ons meer as die broodpryse, ons raak meer emosioneel oor sportuitslae as oor mense wat van honger sterf, 13-11 (geseënd is diegene wat nie weet dis ’n rugbytelling nie) raak ons dieper as 9/11, ons baai in ons weelde om tog nie Jeremiaans te raak oor die toekoms nie.

Jeremia sê hierdie is voorbeelde van hoe ons God inruil vir ander gode. Dis vorme van verbondsbreuk, verraad teenoor God wegdraai van God wat ons seën.

Reaksie op God se woord

Hoe reageer gelowiges wanneer ons so ‘n skerp woord hoor soos dié van Jeremia?

  • Ons kan dink Jeremia jaag bloot spoke op. Dinge is nie so ernstig nie. God sal nie toelaat dat so iets met sy volk gebeur nie.
  • ons kan Jeremia glo, ons staan in ons publieke lewe skuldig voor God, ons sonde bely, en God se wil soek.

In Jeremia se tyd verwerp hulle Jeremia se boodskap. Op ’n emosionele vlak is daar woede teen Jeremia. Hy versteur die rustigheid van hulle bestaan. Hy bring hul godsdienstige raamwerk onder verdenking.

Reaksie op God se genade

Dit is uiters moeilik om met God se oordeel rekening te hou. Veral vir ons wat dink vanuit God se genade. Ons weet – op grond van die Bybel – dat God Godself na mense wend. God het ons liefgehad toe ons nog sondaars was. Hy het inisiatief geneem om ons van sonde te bevry.

Hoe rym ‘n mens God se liefde, genade en versoening met die oordele van God. Hoe kan God se straf nie ‘n wind wees wat bloot reinig en skoonmaak nie, maar ‘n vernietigende wind wat verteer?

Ons moet hierdie woord spesifiek hoor as ‘n Woord van God aan God se kerk. Dit is God se mense wat tot inkeer geroep word. God wil ons help om los te kom uit raamwerke wat ons selfgerigte optrede, ons apatie, ongehoorsaamheid, sorgeloosheid en valse vertroue.

Hierdie woord is ‘n woord van genade. Dit is ‘n harde woord van ‘n God wat alle goeie dinge skenk aan die wat Hom liefhet en dien. ‘n Oordeel wat wakker maak, is genade. Dit is ‘n oordeelswoord wat red.

God stuur ons om te leef

Gebed: (Woorde van Lied 232)
Diep, o God, diep neergeboë,
staan ons voor u hoë reg
in volslae onvermoë.
Hoe word ooit ons saak besleg?
Waar ons voor U skuldig pleit,
o volmaakte Heiligheid,
werk U met u Gees versoening
deur die Heiland se voldoening.
Om ons vry te maak van sonde
het u Seun gesterf, o God!
Deur geloof aan Hom verbonde,
sal ons leef na sy gebod.
Liefd’ het U na ons gebring –
Jesus, laat u liefde ons dring,
laat die liefde, so verhewe,
ons besiel deur heel ons lewe!

Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.