Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jeremia 4 se oordeel oor die sonde van God se volk het uiters slegte gevolge vir die natuur. Lukas 15 help ons om in te sien dat God nie eintlik ‘n God is wat van oordeel hou nie. God soek eerder wat weggeraak het. 1 Timoteus 1:12-17 is die persoonlike getuienis van iemand wat uitgevind het dat God in God se huishouding met genade werk. Daarom is daar altyd hoop op herstel.

Ander tekste

Jeremia 4:11-12, 22-28
11Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en
vir Jerusalem gesê word:
’n Gloeiende wind kom
oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai
en die koring skoon te waai nie.
12Ek bring die wind in sy volle krag
oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel
oor hulle uitspreek.
22My volk tree dwaas op,
hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders,
sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim
as dit kom by verkeerd-doen,
van goed-doen wil hulle niks weet nie.
23Ek het na die land gekyk,
en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig
was daaruit weg;
24ek het na die berge gekyk,
en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.
25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.
26Ek het gekyk, en die vrugbare grond
het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit
in sy gloeiende toorn gedoen het!
27Ja, so sê die Here:
Die hele land sal verwoes wees,
maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.
28Daaroor moet die aarde treur
en die hemel daarbo donker word,
want Ek het my voorneme bekend
gemaak,
Ek staan by my besluit,
Ek sal nie van plan verander nie.

Eksodus 32:7-14
7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ’n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met ’n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”
14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

Psalm 14
God is aan die kant van die regverdiges
(Vgl Ps 53)
14 Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles
wat hulle doen,
is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien-
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks
met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant
van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne
teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion
vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk
verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Psalm 51:1-10
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.

Lukas 15:1-10
Die gelykenis van die verlore skaap
(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Fokusteks

1 Timoteus 1:12-17
Waarskuwing teen valse leerstellings
3Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. 4Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. 5Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom. 6Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in ‘n vrugtelose gepraat verval het. 7Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.

8Ons weet dat die wet goed is as ‘n mens dit op die regte manier gebruik. 9‘n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. 11Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.

Dank vir die genade van God
12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

18Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. 19Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. 20Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.

Ekstra stof

Die 2 briewe aan Timoteus, sowel as die brief aan Titus, staan bekend as die pastorale  briewe. Sommige voeg Filemon ook daarby. Dit is briewe wat aan hulle as pastors gerig is en handel oor hoe hulle die pastorale bediening van hulle onderskeie gemeentes moet behartig. Daarom word sterk aandag gegee aan hulle persoonlike roepingsbewussyn, gefokus op hoe om die regte leer en lewe te handhaaf in ‘n situasie waar daar toenemend valse leerstellings die kop uitgesteek het, en aandag gegee aan die funksionering van die gemeente in terme van ouderlinge, diakens en ander geestelike werkers.

Hoewel daar baie verskil van mening is onder geleerdes wanneer die briewe geskrywe is, en of dit hoegenaamd deur Paulus geskrywe is, lyk dit uit die briewe se eie interne gegewens asof die eerste brief aan Timoteus van ‘n tyd net na die gevangenisskap in Rome praat, want Paulus skryf dit waarskynlik uit Masedonië (1 Tim 1:3) in 62-63 nC. Die brief aan Titus kom waarskynlik ook uit hierdie tyd, en wel net nadat Paulus vir Titus agtergelaat het in Kreta (Tit. 1:5). Dit veronderstel dat Paulus ‘n “vierde sendingreis” onderneem het deur Masedonië, Klein-Asië en Kreta, voor hy hom weer in Rome bevind. Die tweede brief aan Timoteus word duidelik weer uit die gevangenis in Rome geskryf (2 Tim 1:8, 17; 2:9) in 63-64 nC. Hierdie geskiedenis word dus nie deur die boek Handelinge beskrywe nie.

Timoteus was afkomstig van Listra en het heel moontlik tot bekering gekom met Paulus se eerste besoek daar tydens sy eerste sendingreis. Dit is die plek waar Paulus gestenig is en as’t ware uit die dood opgestaan het (Hand 14:19-20). Sy pa was ‘n Griek, en sy ma, Eunice, ‘n Joodse Christen – soos trouens sy ouma Loïs ook was (Hand 16:1; 2 Tim 1:5). Met Paulus se tweede besoek aan Listra het Timoteus by Paulus aangesluit nadat hy besny is, waarskynlik omdat sy ma ‘n Jodin was. In Timoteus het Paulus ‘n jong gelowige gevind wat met oorgawe hom aan die bediening gegee het.

Timoteus is met die skrywe van die brief die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand 18-20).

‘n Kort oorsig van tekste waarin Timoteus in die NT genoem word

  • Gewerf vir die evangelie in Listra op Paulus se 2de sendingreis – Hand 16:1-3
  • Bedien saam met Paulus in Berea en bly in Masedonië agter – Hand 17:10-15
  • Sluit aan by Paulus in Korinte – Hand 18:5
  • Word genoem in Paulus se brief aan Tessalonika terwyl hulle in Korinte werk – 1 Tes 1:1; 3:2,5,6
  • Word na Korinte gestuur om hulle te bedien namens Paulus, terwyl hy op sy 3de sendingreis in Efese werk – 1 Kor 4:17; 16:10
  • Word weer gestuur na Masedonië op die 3de sendingreis – Hand 19:22
  • Word genoem in Paulus se brief aan Korinte wat hy in Masedonië skryf – 2 Kor 1:1,19
  • Word uit Masedonië gestuur na Troas – Hand 20:4
  • Werk saam met Paulus in Korinte aan die einde van die 3de sendingreis, net voor hulle die dankoffer Jerusalem toe sou neem – Rom 16:21
  • Word genoem as medeskrywer en dienaar van Christus in Paulus se brief aan Filippi uit Rome – Fil 1:1; 2:19,22
  • Word nog drie keer in briewe genoem: Kol 1:1, Filemon 1:1 (beide uit die tronk, waarskynlik Rome)
  • Beland self in die tronk, waarskynlik in Rome (Hebr 13:24), en word weer vrygelaat, hoewel ons nie enige detail daaroor het nie – Hebr 13:23.

1 Timoteus 1:1-20 – ‘n Lewe in geloof wat pas by die gesonde leer
Let op hoe doelgerig Paulus hierdie brief skrywe. In hierdie eerste hoofstuk groet Paulus hom (1:1-3), beweeg onmiddellik na ‘n bespreking van die uitdaging van die mense in Efese wat valse leerstellings versprei (1:4-7), en gee vir Timoteus twee teologiese argumente as skietgoed (regte gebruik van die wet; regte begrip van die evangelie – 1:8-17) en eindig met ‘n oproep aan hom om die goeie stryd van die geloof te stry (1:18-20), d.w.s ‘n lewe in geloof wat pas by die gesonde leer.

Die sleutel tot ‘n begrip van hierdie valse leraars se beheptheid met mitiese verdigsels, eindelose geslagsregisters en ‘n fokus op die wet, lê waarskynlik in die feit dat hierdie kennis ‘n skyn van diepte en misterie gehad het, iets wat net vir die ingewydes bedoel is, en net deur hulle verstaan kan word.

Die evangelie van Jesus Christus is daarenteen ‘n baie publieke geloof, iets wat aan ‘n kind verduidelik kan word, en wat om ‘n rein hart en goeie gewete, en opregte geloof en liefde gaan. Kennis is goed, maar net nuttig, as dit die doel dien dat ‘n mens in jou geloof in God gevorm word.

Daarom moet die dwaalleraars teëgegaan word, nie om hulle net te verneder of aan die kaak te stel nie, maar met die doel om hulle in liefde reg te help. Dit is soos die tug altyd moet werk, om mense in liefde te help om weer van binne af te herstel om die gesonde leer aan te hang.

Paulus fokus dan op die regte verstaan en gebruik van die wet, en lê dit uit as iets wat eintlik vir die ongehoorsames bedoel is – en hy gee sommer ‘n lysie van die mense vir wie dit bedoel is. Daarteenoor is die fokus van die evangelie om insig in die heerlikheid van die “goeie God” te verkry en Hom te dien.

Later sal Paulus verder hieroor skrywe en vir Timoteus waarsku teen mense wat die wet op ‘n beperkende wyse gebruik (in terme van die huwelik en dieet), teenoor die evangelie wat juis vryheid bring (1 Tim 4:1-5).

Vanuit Paulus se persoonlike Damaskus-ervaring kan hy onomwonde verklaar dat die genade en geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus betroubaar is en sonder voorbehoud aanvaar kan word. Trouens, Paulus is by uitstek ‘n voorbeeld van hoe ruimhartig God is, omdat Hy hom aanvaar het ten spyte van sy vervolging van Jesus in die tyd van sy ongeloof.

Dit is met hierdie woorde in gedagte – 1) die regte begrip en gebruik van die wet; 2) die regte begrip en verstaan van die evangelie; 3) Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk – dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou. Hy moet ook onthou van diegene wat juis nie dít reggekry het nie (Himeneus [ook 2 Tim 2:17] en Aleksander [ons weet nie wie dit presies was nie – kyk self na die volgende verwysings van ‘n Aleksander: Hand 4:6; Mark 15:21; Hand 19:33; 2 Tim 4:14]), sodat sy geloof nie ook soos hulle s’n skipbreuk ly nie. Die verwysing na “aan die Satan oorgegee” beteken waarskynlik dat hulle lidmaatskap van die gemeenskap van gelowiges opgesê is. Hulle was dus nie meer geag as deel van die koninkryk van die lig nie, maar deel van die koninkryk van Satan.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalms 62:2-3

Seëngroet: 1 Timoteus 1:2b

Lofsang: Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: 1 Johannes 4

Skuldbelydenis: Psalm 51

Vryspraak: In die woorde van Paulus… 1 Timoteus 1

Danksegging om aan te sluit by die Seisoen van die skepping

Loflied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3′

Epiklese

Skriflesing: 1 Timoteus 1:12-17

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38-41 om ook aan te sluit by die Seisoen van die skepping)

Offergawes

Wegsending: Lied 459 “Ons Vader, alles in die lewe 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (op melodie van Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalms 62:2-3
3Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,sodat ek vas en stewig staan.
4Hoe lank wil julle almal nog
beskuldigings bly slinger
en my probeer doodmaak,
’n man wat reeds is soos ’n muur
wat wil omval,
’n klipmuur wat omgestoot word?

Seëngroet: 1 Timoteus 1:2b
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Lofsang 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: 1 Johannes 4
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Skuldbelydenis: Psalm 51
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.

Vryspraak: In die woorde van Paulus… 1 Timoteus 1
Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars soos ek te verlos. Juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid!

Danksegging om aan te sluit by die Seisoen van die skepping soos in die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Eerste leser: Skepper-God, hoe groot is U!
U beklee U met lig.
U het die hemelkoepel soos ’n tent oop gespan.
Tweede leser: Winde is u boodskappers.
Vlamme is u dienaars.
U laat dit reën sodat ons kan eet.
Eerste leser: Hoe talryk is u werke, o God.
In wysheid het U alles gemaak.
Tweede leser: Die aarde is vol van wat U gemaak het,
die see, groot en wyd,
wemel van diere, klein en groot.
Hulle is almal van U afhanklik.
U gee hulle kos op die regte tyd.
U gee die lewensasem en daar is lewe.
Ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.
Eerste leser: Mag u heerlikheid nooit ophou nie.
Mag U vir altyd bly wees oor wat U gemaak het.
Tweede leser: Mag ons gedagtes altyd aan U plesier gee.
Mag ons altyd in U vreugde hê.

Loflied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997 Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F16. “Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1993 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.
Refrein:

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.
Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: 1 Timoteus 1:12-17

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

God is goed vir Slegte Mense soos ek ook
12–14 Timoteus, voordat ek Jesus se kind geword het, het ek baie slegte dinge gedoen: ek het lelike goed vir ander oor Jesus gesê. Ek het ook probeer om mense wat vir Jesus lief is, seer te maak. Maar God was baie goed vir my. Hy het geweet dat ek dit gedoen het net omdat ek Hom nog nie geken het nie. Ek het regtig nie geweet wat ek gedoen het nie. Maar God was nog steeds lief vir my. Hy het my gehelp om sy beste vriend te word. Hy help my ook om vir Hom en vir al die ander mense lief te hê. En dan het Jesus ook nog besluit dat Hy my gaan gebruik om vir ander mense van Hom te gaan vertel. Ek moet jou sê, ek kan dit regtig nie glo* dat Jesus bereid was om vir my so ’n belangrike werk te gee nie. Ek is dan die een wat in my jongdae mense in die tronk gegooi het as ek gehoor het hulle het Jesus lief. Dis darem ongelooflik! Nou weet jy hoekom ek so bly is oor wat my Here Jesus vir my gedoen het.

15–17 Elke mens kan nou weet dat dit regtig die waarheid is dat Jesus slegte mense help om weer vriende van God te word. Ek sal mos weet, want ek was die slegste van al die mense. Tog was God goed vir my. Ek is ’n bewys daarvan dat Jesus nooit moed opgee as ’n mens sleg is nie. God wil hê dat elke slegte mens moet verander. Dan sal ons eendag vir altyd saam met Hom in die hemel kan leef. Hierdie God is darem wonderlik. Hy sal vir altyd Koning wees; Hy sal ook nooit kan doodgaan nie. ’n Mens kan Hom ook nie met jou oë sien nie; daar is regtig geen ander god soos Hy nie. Ons God is darem baie spesiaal. Dis hoekom ons Hom vir altyd en altyd moet loof en prys*.

Volgens Carolyn Brown is dit kritiek belangrik om die verhaal van Paulus se bekering te vertel om te verstaan hoe hy bogenoemde skryf. Vertel vryelik van Paulus se lewe voor sy bekering en dan van die ommekeer op die Damaskus-pad.

Vir u gerief word Handelinge 9 ook uit bogenoemde Bybel geplaas…

Jesus Praat met Paulus
9 1–2 Paulus was niks lief vir die Christene nie. Hy het aanhou sê dat hy hulle almal gaan vermoor. Hy besluit toe dat hy ’n bietjie na die stad Damaskus moet gaan. Dan kan hy daar al die Christene vang en in Jerusalem in die tronk kom gooi. Paulus gaan toe na die godsdienstige leier* van die Jode en vra of hy dit maar kan doen. Die leier het gesê dit is alles reg.

3–4 Paulus gaan toe na Damaskus toe. Op pad soontoe het daar skielik ’n helder lig uit die hemel op hom geskyn. Paulus het op die grond neergeval. Hy hoor toe ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, waarom wil jy die mense wat vir My lief is, seermaak?”

5–6 Paulus het geskrik en was baie bang. Hy vra toe: “Sê asseblief vir my wie U is, Here.”

Die Here antwoord toe en sê: “Ek is Jesus. Dit is my vriende vir wie jy wil seermaak. Staan op en gaan na Damaskus toe. Ek sal iemand na jou toe stuur wat vir jou moet sê wat jy moet doen.”

7–9 Die mense wat saam met Paulus op die pad was, kon nie glo wat gebeur het nie. Hulle het iemand hoor praat, maar het niemand gesien nie. Paulus het van die grond af opgestaan. Maar toe hy sy oë oopmaak, kon hy niks sien nie. Hy was heeltemal blind. Iemand moes sy hand vat, en het hom stadig na die stad Damaskus toe gelei. Vir drie dae kon Paulus niks sien nie. Hy het ook niks geëet of gedrink nie.

Preekriglyn

Martin Luther wou as jong student sekerheid en waarborge oor die lewe hê. Hoewel sy pa daarop aangedring het dat hy ‘n regsgeleerde word, was Luther in sy soeke na sekerheid aangetrokke tot die teologie. Hy was oortuig mens kan net van God leer deur God se openbaring. Dit sou sekerheid bied. Daarom het hy die Skrif toenemend begin bestudeer.

Op 2 Julie 1505 keer hy terug universiteit toe na ‘n kuier by sy ouerhuis. ‘n Donderstorm steek op en ‘n weerligstraal tref die grond naby hom. Doodverskrik beloof hy om ‘n monnik te word. In die klooster het hy homself toegewy aan vas, menige ure in gebed, en gereelde sondebelydenis. Tog wou sy diep gevoel van geestelike verlorenheid nie wyk nie. Hy kon nie glo dat al die goeie dinge wat hy doen God se oordeel oor sy lewe sou wegneem nie. Daar was geen sekerheid nie. Luther was vasgevang in sy sonde en verlore.

Sy deurbraak het uit die Bybel gekom. Hy het Romeine 1:17 nuut leer verstaan. Die teks praat van God se geregtigheid. Vir Luther het dit altyd beteken dat God daarop geregtig is om sondaars te veroordeel. Skielik het hy begin verstaan God se geregtigheid is die vrye geskenk wat God aan sondaars toereken. Dit is ‘n geskenk wat deur die leë hande van geloof ontvang word en sondaars regverdig voor God verklaar.

Dit het sy lewe verander. Skielik het hy in God se genade ‘n vaste anker ontdek. Nie meer dit hy wat probeer doen om God te plesier nie, maar God se genadegeskenk red sondaars.

Dit het die kerk verander. Vir die Katolieke kerk moes mens meewerk aan jou verlossing. Luther se protes en klem op God se genade het tot grondige reformasie en die opkoms van die Protestantisme gelei. God red sondaars uit genade, God verklaar sondaars regverdig. God bewerk die verlossing in verlore mense se lewens.

Paulus herontdek

Kortom, Luther het Paulus herontdek. Dink maar net aan vers 15, die kern van hierdie gedeelte:
Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

Die sondigheid van die mens en die inisiatief van God om mense te verlos staan sentraal in 1 Timoteus 1:12-17. In ons teks beskryf Paulus homself as voorbeeld van verlossing deur genade. Daarmee bemoedig Paulus nie alleen vir Timoteus nie, maar ook vir alle lesers van die brief met die belydenis dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos.

Agtergrond

Ons gaan vandag, en vir die volgende twee weke by teksgedeeltes uit die boek 1 Timoteus stilstaan. Daarom kan ons gerus aan die agtergrond aandag gee.

Oor die brief: 1 Timoteus is, saam met 2 Timoteus en die brief aan Titus, een van Paulus se pastorale briewe. Dit is briewe wat aan pastors gerig is, en handel oor hulle pastorale bediening in gemeentes. Die briewe gee aandag aan hulle persoonlike roepingsbewussyn, fokus op die regte leer en lewe te midde van valse leerstellings, en praat oor die funksionering van die gemeente en leiers in die gemeentes.

Hoewel daar baie verskil van mening is onder geleerdes wanneer die briewe geskrywe is, en of dit hoegenaamd deur Paulus geskrywe is, lyk dit uit die briewe se eie interne gegewens asof die eerste brief aan Timoteus van ‘n tyd net na die gevangenisskap in Rome praat, want Paulus skryf dit waarskynlik uit Masedonië (1 Tim 1:3) in 62-63 nC.

Timoteus was afkomstig van Listra en het heel moontlik tot bekering gekom met Paulus se eerste besoek daar tydens sy eerste sendingreis. Dit is die plek waar Paulus gestenig is en as’t ware uit die dood opgestaan het (Hand 14:19-20). Sy pa was ‘n Griek, en sy ma, Eunice, ‘n Joodse Christen – soos trouens sy ouma Loïs ook was (Hand 16:1; 2 Tim 1:5). Met Paulus se tweede besoek aan Listra het Timoteus by Paulus aangesluit nadat hy besny is, waarskynlik omdat sy ma ‘n Jodin was. In Timoteus het Paulus ‘n jong gelowige gevind wat met oorgawe hom aan die bediening gegee het.

Timoteus is met die skrywe van die brief die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand 18-20).

Oor 1 Timoteus 1: die eerste hoofstuk van die brief vertoon ‘n drievoudige struktuur:

  • Paulus skets die basiese kontoere van die leerdwaling waarmee die gemeente in Efese gekonfronteer word en gee (in die lig hiervan) aan Timoteus opdrag om die betrokke dwaalleraars teen te staan (3-11);
  • Paulus weerlê die betrokke leerdwaling (12-17); en
  • Paulus herinner Timoteus aan sy roeping en bemoedig hom in die geloof (18-20).

Oor ons teksgedeelte: Ook 1 Timoteus 1:12-17 vertoon ‘n drievoudige struktuur:

  • Paulus bedank God vir wat God gedoen het (12-14);
  • Paulus verduidelik God se doel met Paulus se verlossing (15 en 16); en
  • Paulus rig ‘n loflied tot God (17).

Die ware aard van die evangelie, wat die goeie nuus van die verlossing deur God se genade verkondig, vorm die hooffokus van dié teksgedeelte. Hierdie hooffokus word op twee maniere gedien, naamlik deur ‘n skets van sonde en wat verlossing “nie” is nie (13, 16) en deur die herhaaldelike belydenis dat daar aan Paulus barmhartigheid bewys is, en wat verlossing dus “wel” behels (13 en 16).

God verlos mense

On teksgedeelte beeld die aktiwiteit van God uit. God handel in die wêreld se geskiedenis. God neem inisiatief in mense se lewens. Verlossing is die inisiatief van God, wat onverdiend en ongevraagd geskenk word aan sondaars (13 en 16).

Die God wat aan Paulus, die vernaamste van sondaars, genade betoon (13), is die God wat midde-in situasies van gebrokenheid, lyding, swaarkry (ook in die natuur, in natuurrampe, in droogtes en aardbewings, tsunami’s en bedreigde spesies wat uitsterf) ook aan geskape wesens genade betoon. Hierin ontmoet ons die versorgende God, wat na ons en na die skepping uitreik in liefdevolle genade. Christus Jesus wat in die wêreld kom om te red en om barmhartigheid te bewys, wys heen na God wat betrokke raak by die worstelinge, sonde, ellende van geskape wesens.

Paulus vertel sy eie, individuele verlossingsverhaal in hierdie teks. Ons moet versigtig wees om God se verlossing net op individue van toepassing te maak. Dit is duidelik, in die verband van die teks met die groter brief, dat God deur verlossing ‘n nuwe begin in die wêreld maak, ‘n nuwe sosiale orde skep. God red en vorm mense om nuut te lewe.

Die genade verander inderdaad ons lewens. Alreeds In die vorige paragraaf vertel Paulus hoe die mense wat twisgesprekke voer en dwaallering verkondig nie die “vorming bevorder wat God deur die geloof gee” nie (4). Timoteus moet die fokus hou op God se verlossing en “om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en opregte geloof” kom (5).

Wie gered word, word in God se diens in die wêreld gestel (12). Redding lei tot geestelike vorming en Christelike liefde.

God is in Christus aanwesig

Ons teks beskryf verlossing as Christus se koms “ín die wêreld” (15). In Christus kom verlossing “na” die wêreld en deur Christus kom die verlossende God “in” die wêreld. God tree toe tot die skepping en die kosmos, en bewerk verlossing nie “buite” om die natuur of omgewing of ekologie nie, maar “binne-in” ook hierdie geskape werklikheid.

Jesus is die goeie nuus van die evangelie. Jesus is die hart van die evangelie. In Jesus is God tot vandag toe verlossend aanwesig in die wêreld.

Vir sommiges is daar ‘n spanning tussen skepping – “dit wat aards, liggaamlik en tydelik is” – en verlossing, juis omdat verlossing soms gelyk gestel word aan ‘n vlug “weg van” die aardse, liggaamlike, tydelike en ‘n vlug “na” die geestelike, spirituele, hemelse. Hierdie spanning is nie Bybels nie. Verlossing is ten nouste gekoppel aan Christus se koms in die wêreld. God is betrokke “in” die skepping deur die werking van God se Gees. Daarom staan verlossing nie los van die aarde, lewende wesens, die en die nood en ellende van hierdie wêreld nie.

Ons moet dit goed verstaan en prakties uitleef. Verlossing is vir sondaars, gebroke mense, mense wat worstel om self sin van hul lewens te maak, in hierdie konkrete wêreld. Dit is vir die mense in die woonbuurte, maar ook diegene in die stofstrate, die agtergeblewe woonbuurte en lande van hierdie wêreld. Oral trek God mense weg van gebrokenheid en maak God hulle in Jesus nuut, sodat hulle nuut kan lewe.

God gee ‘n nuwe toekoms

God se verlossing red Paulus nie net van sy sondige verlede nie, dit gee hom nie net nuwe sin in die hede nie, maar dit skenk ook aan hom ‘n nuwe toekoms: die ewige lewe (16). Paulus beskryf homself as ‘n voorbeeld “vir almal wat in die toekoms aan Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.” (16).

Vir Paulus is “lewe” meer as bloot fisiese bestaan. Dit behels ‘n oorvloedige lewe volgens die bedoelinge van God en deur die werk van Christus wat dit moontlik maak. Hierdie lewe is die ware lewe, die lewe in volheid, ‘n bepaalde kwaliteit lewe, wat veel meer as asemhaal of eenvoudige bestaan in ‘n stukkende wêreld is.

God se verlossing skep ‘n gemeenskap van mense wat nou alreeds iets beleef van God se nuwe toekoms wat aan die einde aan die wêreld en God se kinders geskenk word. Die ewige lewe is die deelhê aan lewe in die eindtyd (eskaton), aan die eskatologiese lewe, dus aan ‘n gans andere tipe lewe.

Aangesien ons deur Jesus God se wonderlike toekoms kan sien, en deel daarin, begin ons ook in die hede nuut en anders te leef. Verlossing is dus nie net die deelhê aan so ‘n soort lewe nie, maar ook die uitbeelding en uitleef van die tipe lewe wat verlossing moontlik maak; ‘n lewe waarin mens en wêreld kan floreer, bloei, gedy.

Niemand kan dieselfde bly sodra ons God se nuwe lewe in Christus se verlossing gesmaak het nie. Net soos God se verlossing Paulus oor grense geskuif het, om die verlossing na ander te bring, doen God vandag nog. Ons verlossing draai ons weg van onsself en laat ons fokus op ander. Dit “wek liefde wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom” (5).

Regverdiging én heiligmaking

In 1 Timoteus – soos trouens in al drie pastorale briewe – is dit God wat verlossing bewerk, God wat besorgd is oor die verlossing van alle mense, en God wat God se verlossende genade in Christus openbaar. Verlossing berus op God se genade, nie op menslike dade nie, en word geskenk uit vrye guns alleen.

Vir Luther het die herontdekking van God se regverdiging sy lewe verander. Dit het opslae in die kerk veroorsaak en tot die Reformasie van die kerk gelei. Vir Luther, soos vir Paulus, het God se regverdiging egter ook gelei tot die heiligmaking van die hele lewe.

Dit beteken dat God se gemeente ‘n rol te speel het in God se verlossingsplan en dat dit ‘n spesifieke stel optredes behels, wat uit liefde gebore word. Ons belydenis van God se genade stimuleer ons verbeelding opnuut om ons radikale geloof in ‘n gewonde wêreld en op ‘n gewonde aarde uit te leef.

Op hierdie manier versprei ons die geur van God se nuwe wêreld.

Waartoe dit ons beweeg?

Samevattend is dit duidelik dat God se verlossing ons nie onaangeraak laat nie. Vir Gereformeerde mense is die reël van dankbaarheid deurslaggewend. Ons reageer met toewyding en navolging op grond van God se groot dade in ons lewens.

Ons word ook self genadig. Ons het God se geduld en vergifnis aan eie bas ervaar, en ontwikkel daarom hierdie ingesteldheid teenoor ander. Paulus het Jesus voorheen belaster, vervolg en beledig (13). God het gereageer deur Paulus te oorlaai met sy genade, geloof en liefde (14). So was ons ook. Nou kan ons die verdra wat ons belaster, vervolg en beledig, en reageer met God se liefde.

Ons word ook verander in ‘n gemeenskap van lofprysing. Die Westerse wêreld is bekend vir sy sinisme en suspisie teenoor feitlik alles. Verloste mense is ander. Ons leer lof- en dankliedere van verwondering oor God se groot genade sing. Soos Paulus in vers 17 sê:
Aan Hom wat vir ewig Koning is,
die onverganklike, onsienlike, enigste God,
kom toe die eer en die heerlikheid,
tot in alle ewigheid!

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38-41 om ook aan te sluit by die Seisoen van die skepping)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…
Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…
Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…
Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…
Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…
Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Offergawes

Wegsending: Lied 459 “Ons Vader, alles in die lewe 1,2,3,4”

Seën
Die Here seën die hemelruim bokant ons,
die aarde onderkant ons,
sy beeld diep binne-in ons,
en die dag uitgestrek voor ons. Amen.
(Gebaseer op The Celtic Prayer Book 2003, Volume One, Monday Morning Prayer, geskryf deur Ray Simpson met die vriendelike toestemming van Kevin Mayhew Ltd.)
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (op melodie van Lied 582 “Bly by my Heer”)
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.