Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die bekende lied in Filippense kom in vandag se sleutelteks voor. In die eerste strofe word Christus se Goddelike bestaan beskrywe en in die derde strofe sy menslike bestaan. In die tweede strofe het Christus Homself in sy menslike bestaan verneder. Die dieptepunt van sy vernedering was sy gehoorsaamheid tot die dood. Strofe vyf en ses beskryf die gevolge van sy gehoorsaamheid; God het Hom uitermate verhoog en alle mense moet hierdie Jesus as Here dien. Die finale akkoord van die lied is: Christus is die Here.

Die lied in Filippense 2 laat ons vandag sing: “Loof God . . . om Christus se lyding en gehoorsaamheid.” Die teks uit Eksodus sê: Loof die Here Hy is by ons . . . Hy gee vir julle water uit ‘n rots. Psalm 78 sluit hierby aan: Vertel van sy mag en die wonders wat Hy gedoen het . . . Hy het rotse oopgekloof en hulle laat drink. Johannes weer wys vir julle die regte pad aan . . . maar julle het dit nie geglo nie.

Ander tekste

Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
17 Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”

En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa e en Meriba f genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”
Oorlog teen Amalek

8Toe die Amalekiete by Refidim teen Israel kom veg het, 9het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manskappe en gaan veg môre teen die Amalekiete. Dan sal ek op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God my gegee het, in my hand.”

10Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim. 11Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. 12Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe ’n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. 13Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan. 14Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.”

15Moses het ’n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.”
16Verder het Moses gesê:
“Dit is die gedenkteken vir die
oorwinning wat die Here gee.
Die Here voer oorlog teen Amalek
van geslag tot geslag.”

Psalm 78:1-4, 12-16
Sodat die volgende geslag dit kan weet
78 ’n Gedig van Asaf.
Luister na wat ek jou leer, my volk,
luister aandagtig na wat ek sê.
2Ek gaan ’n gedig voordra,
ek gaan julle inlei in geheimenisse
uit die verre verlede.
3Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here
en van sy mag,
van die wonderdade wat
Hy gedoen het.

5Hy het aan Jakob
sy voorskrifte gegee, 
aan Israel sy onderwysing. 
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders
bekend te maak,
6sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word, 
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
7So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, 
maar gehoorsaam wees
aan wat Hy beveel het
8en nie wees soos die voorvaders nie. 
Dié was ’n opstandige
en ongehoorsame volk, 
’n onbestendige geslag
wat nie aan God getrou was nie.
9Die Efraimiete was goed gewapen
en bedrewe met die boog, 
maar toe die geveg begin, 
het hulle gevlug.
10Hulle het die verbond met God
nie gehou nie, 
en geweier om te lewe
soos Hy hulle geleer het.
11Hulle het vergeet van sy werke, 
van die wonderdade
wat Hy hulle laat sien het.

12Voor die oë van hulle voorvaders
het Hy wonders gedoen
in Egipte, in die veld by Soan.
13Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek.
Hy het die water laat opdam
en dit het soos ’n muur gestaan.
14Bedags het Hy hulle
met ’n wolk gelei,
snags met die lig van ’n vuur.
15Hy het rotse in die woestyn
oopgekloof
en soos by groot waterstrome
almal se dors geles.
16Hy het water uit die rots laat stroom,
dit soos riviere laat vloei.

17Maar hulle het aangehou
om teen Hom te sondig;
in die woestyn het hulle
teen die Allerhoogste
in opstand gekom.
18Hulle het God getart
toe hulle kos gevra het na eie smaak
19en God uitgedaag het:
“Kan God hier in die woestyn kos gee?
20Hy het wel teen ’n rots laat slaan
en die waters het gevloei, 
spruite het gestroom;
maar sou Hy ook brood kon gee
en vleis aan sy volk kon voorsit?”
21Toe die Here dit hoor, 
het Hy kwaad geword;
Hy het ’n vuur teen Jakob
laat ontbrand, 
teen Israel sy toorn laat woed
22omdat hulle nie op God vertrou het
en op sy hulp staat gemaak het nie.
23Hy het die wolke daarbo gebied
en die deure van die hemel
oopgemaak:
24Hy het manna op hulle laat reën, 
uit die hemel kos aan hulle gegee
om te eet.
25Van hierdie brood uit die hemel
het elkeen geëet. 
God het vir hulle oorgenoeg kos
gestuur.
26Hy het die oostewind laat opsteek
en deur sy krag die suidewind
laat waai.
27Soos sandkorrels, so baie voëls
het Hy op hulle laat reën, 
voëls so volop soos die sand van die see.
28Hy het dit in die kamp
rondom hulle tente laat val.
29Hulle het geëet, meer as genoeg, 
Hy het vir hulle gegee
wat hulle gevra het.
30Maar hulle gulsigheid
het geen perke geken nie. 
Hulle kos was nog so in hulle mond,
31toe tref die toorn van God hulle. 
Hy het ’n slagting onder die grotes
aangerig, 
die keur van Israel laat omkom.
32Tog het hulle bly sondig
en sy wonderdade
het vir hulle niks gesê nie.
33Daarom het Hy hulle
hulle dae vrugteloos laat deurbring
en hulle jare vol kommer.
34Elke keer as God 
’n slagting onder hulle aangerig het, 
het hulle na sy wil gevra, 
hulle bekeer en na Hom toe gekom.
35Hulle het bely dat God hulle rots, 
dat die Allerhoogste hulle verlosser is.
36Maar hulle was vals teenoor Hom, 
hulle was nie opreg
in wat hulle gesê het nie,
37hulle was ontrou aan Hom, 
hulle het hulle nie
aan sy verbond gehou nie.
38Maar Hy is genadig, 
Hy vergewe sonde, 
Hy wis sy volk nie uit nie. 
Dikwels het Hy sy toorn bedwing
en sy gramskap nie laat losbreek nie.
39Hy het daaraan gedink
dat hulle maar mense is, 
wind wat verbywaai
en nie terugkom nie.
40Hoe dikwels was hulle in die woestyn
opstandig teen Hom
en het hulle Hom daar
in die barre wêreld bedroef!
41Oor en oor het hulle God getart
en het hulle optrede
die Heilige van Israel gegrief.
42Hulle het nie aan sy mag gedink nie, 
aan die dag waarop Hy hulle
van die vyand verlos het nie:
43Hy het in Egipte
sy magtige dade gedoen, 
sy wonders in die veld by Soan;
44Hy het hulle riviere in bloed verander
sodat hulle nie uit hulle waterstrome
kon drink nie;
45Hy het swerms muggies
tussen hulle ingestuur
wat nie opgehou het met byt nie;
ook paddas, 
en dié het die lewe
vir hulle ondraaglik gemaak;
46Hy het hulle oes
aan sprinkaanswerms gegee, 
die vrug van hulle arbeid laat afvreet;
47Hy het hulle wingerde
deur die hael laat wegslaan, 
hulle wildevyebome laat versuip;
48Hy het hulle vee aan die hael oorgegee, 
hulle kuddes aan die weerligstrale;
49Hy het sy gloeiende toorn
op hulle losgelaat:
gramskap, woede en rampe, 
’n hele vrag onheil;
50Hy het sy toorn vrye loop gegee, 
hulle lewens nie gespaar nie
en hulle aan die pes uitgelewer;
51Hy het al die eersgeborenes
van die Egiptenaars getref, 
die eerstelinge in die wonings van Gam.
52Maar sy eie volk het Hy uitgelei
en hulle soos ’n kudde skape
deur die woestyn laat trek.
53Vir hulle het Hy veilig gelei, 
en hulle was nie bang nie, 
maar hulle vyande, 
dié is deur die see oorweldig.
54Hy het sy volk gebring na die gebied
wat Hy afgesonder het, 
na die bergland
wat Hy deur sy mag verower het.
55Hy het nasies voor sy volk uit verdryf
en aan sy volk ’n land as besitting gegee. 
Hy het daardie nasies se woonplekke
aan die stamme van Israel gegee.
56Maar hulle het God die Allerhoogste
getart
en teen Hom in opstand gekom. 
Hulle was nie aan sy gebooie
gehoorsaam nie.
57Net soos hulle voorvaders
was hulle afvallig en ontrou, 
so vals soos ’n onbetroubare wapen.
58Hulle het Hom vertoorn
met hulle afgodsdiens op die hoogtes
en Hom uitgetart
met hulle gesnede beelde.
59Toe God dit sien, 
het Hy kwaad geword
en Israel verwerp.
60Hy het die tabernakel in Silo
verwoes, 
die tent waarin Hy
onder die mense gewoon het.
61Hy het die volk
wat Hy deur sy mag verower het, 
in ballingskap weggestuur, 
sy uitverkore volk
in die mag van die vyand gegee.
62Hy het sy volk
aan die swaard oorgegee, 
kwaad geword vir dié
wat aan Hom behoort.
63Die jongmanne
het in die vuur omgekom:
daar is nie meer huweliksliedere
vir die jongmeisies gesing nie.
64Die priesters
het deur die swaard gesterf, 
die weduwees het nie kans gekry
om hulle mans te begrawe nie.
65Daarna het die Here
weer ingegryp. 
Dit was asof Hy geslaap het, 
soos iemand wat in ’n roes was
en nou wakker geword het.
66Hy het sy vyande teruggedryf
en hulle vir altyd
’n eerlose neerlaag laat ly.
67Hy het die geslag van Josef verwerp
en teen die stam Efraim gekies.
68Hy het die stam Juda verkies, 
Sionsberg wat Hy liefhet.
69Hy het sy heiligdom
hemelhoog gebou
en dit soos die aarde
vir altyd vas laat staan.
70Hy het Dawid as sy dienaar gekies
en hom van die skaapkrale af
weggeneem.
71Agter die lammerooie het Hy hom
weggehaal
om sy volk Jakob, sy eiendom Israel, 
te versorg.
72Dawid het die volk
met toewyding versorg
en hulle met oorleg gelei.

Matteus 21:23-32
Die vraag oor Jesus se gesag
(Mark 11:27–33; Luk 20:1–8)
23Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”

Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’26Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as ’n profeet.”

27Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”

En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die twee seuns
28“Wat sê julle hiervan? Daar was ’n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’29‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”

Hulle sê: “Die eerste.”

Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

Fokusteks

Filippense 2:1-13
2 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Ligdraers in die wêreld
12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 165

Votum
Seëngroet

Lofsang: Flam 207 of Lied 215 of Lied 223

Die wil van God: Filippense 2:1-5

Toewyding: Lied 543 of Flam 268

Bemoediging: Filippense 2:12b-13

Respons: Lied 308 of Flam 294 of VONKK 226

Geloofsbelydenis: Flam 164

HOOR

Gebed

Skriflesing: Filippense 2:1-13

Familie-oomblik
Preek
Gebed

LEEF

Dankoffer

Slotsang: Lied 271 of Lied 541

Seën

Respons: Lied 541 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 165 “O wat ‘n vreugde in ons harte”

Votum
God het Jesus tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Seëngroet

Lofsang
Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer [nav Fil 2:5-11) of
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam” of
Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer”

Die wil van God: Filippense 2:1-5

Toewyding
Lied 543 “Here Jesus, ek is klein” of
Flam 268 Verlosser Vir My

Bemoediging
Filippense 2:12b-13
Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Respons

Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer” of
Flam 294 Neem My Lewe
VONKK 226 Neem, Heer, my hart

Geloofsbelydenis
F164. Elke Knie Sal Voor Hom Buig (Nav Fil 2:10-11)

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F268. “Verlosser Vir My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Verlosser vir my,
eensaam aan ’n kruis,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
gebroke in ’n graf,
U het my hart verower.

Refrein:
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.

2. Verlosser vir my,
Oorwinnaar opgestaan,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
Gesalfde Seun van God,
U het my hart verower.

Brug:
Ek wil niks terughou nie,
niks terughou nie,
alles net vir U.

F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Rick Moser © MAR Gospel Music Publishers (Fil 2:10,11)

1. Elke knie sal voor Hom buig,
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely,
Jesus is die Heer.
God het Hom ’n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.

2. Elke bloedgewaste sing,
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring,
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.

3. Elke man en vrou en kind sing,
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink,
Jesus is die Heer.
Hemel, aarde dal en kruin sing,
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin

Jesus is die Heer. (x3)
Jesus Christus (x2)
Jesus is die Heer.

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Marina du Toit © 2008 Urial Publishing

1. Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die lewe en U is die lig,
U gee die water en ek dra die vrug.

2. Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die Skepper en ek is die klei,
maak vir u hart, Heer, ’n woning in my.

3. Snoei my vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer,
laat ek weer skoon word al is dit seer.

4. Snoei my, vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n lewende offer gevul met u Gees.
’n Lewende offer vir U,
’n lewende offer gevul met u Gees.

VONKK 226 “Neem, Heer, my hart”
Teks: Cecilia van Tonder 2009 ©; gewysig VONKK Werkgroep 2013 Musiek: FRANCOIS – Cecilia van Tonder 2009 ©
Orrelbegeleiding, klavierbegeleiding en  musikale verryking: Cecilia van Tonder 2012 ©
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Toetrede en Aanroeping / Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Gebede / Geloof en Vertroue

Neem, Heer, my hart en reinig my.
U laat u Gees hier binne-in my bly.
Help my om altyd U te eer.
Maak my gehoorsaam, Heer.
U het my eerste in genade gevind.
Dit is die wonder: Ek is steeds u kind.
Ek lê my lewe voor U neer.
Maak my gehoorsaam, Heer.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Filippense 2:1-13
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,

Hande in die lig, gesig na bo (Raised hands and face upturned toward heaven)
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.

Wieg ‘n baba in jou arms (Rock a baby in your arms)
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.

Arms uitgestrek na die kant soos aan ‘n kruis (Arms out to the side as if on cross)
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,

Hande en gesig na bo (Raised hands and face upturned toward heaven)
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,

Kniel, bring hande saam in gebed (Kneel and bring hands together in prayer) 
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Bly op knieë, lig hande en gesig na bo (Stay on knees and raise hands and face to heaven) 

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Wat van ‘n Kersverhaal?  Die skattige “Unexpected Christmas” herinner ons op ‘n humoristiese manier hoe onverwags Christus se selfontlediging is.  Dit sluit wonderlik aan by die konsepte van vandag se Skrifgedeelte.

Nog ‘n manier om selfontlediging te verduidelik, is die storie van “Charlotte’s Web”.  Hier is die boek en hier is ‘n gedeelte van die fliek.

Carolyn Brown stel voor dat die teksgedeelte met liggaamlike bewegings gelees word.  Kyk by die liturgie onder “skriflesing”.  Veral kinders sal dit geniet om saam met die skriflesing te beweeg.  As jy ‘n danser of twee in die gemeente het, sal hulle ook kan help met die interpretasie.

Preekriglyn

Paulus se brief aan die Filippense is ‘n liefdesbrief. Dit is gerig aan die een gemeente onder almal met wie hy verreweg die beste band gehad het. Hy noem die gelowiges in Filippi adelphoi, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is. Dit is ‘n woord wat beide geslagte ingesluit het.

Ook ander aanspreekvorms beklemtoon hierdie besondere band, wat God gesmee het. Hulle is ook die heiliges in Christus Jesus (1:1), die kinders van God (2:15),  en die geliefdes uit Paulus se perspektief, mense wat na aan sy hart lê (2:12), maar in terme van hulle onderlinge gemeenskap, familie van mekaar (1:12,14; 3:1,13,17; 4:1,8,17). Hierdie verbintenis aan mekaar in die Here is belangriker as enige ander band wat mense aan mekaar bind.

Aan mekaar gebind

Die gemeente is deur God aan Christus vasgebind, ‘n band deur die Heilige Gees gesmee. In Christus is die gemeente ook aan mekaar vasgebind. Hulle het as gemeente die goedheid van God beleef, die genade is aan hulle geskenk, en daarom moet hulle Christus navolg. Paulus stel dit op ‘n onvergelykbare manier:

1. Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing —
2. maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.
3. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
4. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

5. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was ….

Die gemeente is geroep om Jesus na te volg? Waarin? Ons moet Jesus navolg, soos Jesus sy Vader nagevolg het. Daarom fokus die brief in die algemeen en in ons teks Filippense 2:1-13 in die besonder op Jesus, sy gesindheid, sy optrede, sy gehoorsaamheid aan sy Vader, sy geloof in sy Vader se finale genadekrag om Hom uit die dood op te wek.

Hy en sy optrede is ons lewegewende oriënteringspunt. Maak nie saak hoeveel spanning, stryd en selfs die dood in en rondom ons is nie. ‘n Liefde só volmaak en vry, eis dieselfde optrede van jou en my en almal anders wat Hom as Here bely – nou, vandag in ons eie dorp en stad (om Sionsgesang 104:4 aan te haal). Hier is nie sprake dat “ek” alleen Jesus so moet navolg nie, maar “ons”, die gemeente, ook deur ons lewenswandel as gemeente.

Eenheid en navolging

Eenheid en navolging is ten nouste aan mekaar gebind. Ons is een in Christus, en ons volg Christus as liefdesgemeenskap na.

Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe” (2:2). Die frase wat met eensgesind vertaal word beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees, soos ‘n paar Engelse vertalings dit het. “Denke” dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in. Dit beteken dat die like-mindedness  nie net intellektueel kan wees nie, d.w.s. om dieselfde te dink nie. Dit is eerder,soos Hawthorne dit pragtig sê: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.

Hierdie eengesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel:

  • deur “dieselfde liefde  te hê” (agape – liefde ten spyte van, vgl. 1:9),
  • deur “een van siel te wees” (waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende as’t ware een siel was wat in twee liggame geleef het), en
  • deur “een van gedagte” (denke in harmonie) te wees.

Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ‘n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie. Hiervoor het ‘n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

Ondersteun en geïnspireer deur Christus en die Gees

Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – Sy troos (paraklesis – ‘n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en Sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van Sy Gees. Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

Eensgesindheid sal net ‘n droom bly, as elkeen ingestel sal bly op hulle eie belange. Waar moeite gedoen word om eie belange of voordeel te bevorder, eerder as ander s’n, bly eenheid altyd in die slag. Let egter op dat Paulus nie hier sê dat ‘n mens jouself en jou eie belange moet ontken of vermy nie, maar juis nederig in diens moet stel van ander se belange.

In die volgende verse (2:6-11) het ons waarskynlik met ‘n antieke lied oor Christus te doen. Paulus verduidelik hier hoe Jesus se roepingsvervulling die patroon vir ons navolging vorm.

Ontledig en verhoog

Die lied in Fil 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf:

  • Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte vas te klem nie,
  • tweedens dié van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en
  • derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis.

Omgekeerd word die verhoging

  • in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets,
  • tweedens as die verkryging van ‘n Naam bo elke naam, en
  • derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.
Nuwe verstaan van God

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel. “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …”  Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “OmdatHy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” 

Hierdie antieke lied is daarom nie net ‘n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ‘n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ‘n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is!

Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

Dieselfde gesindheid

Daar is ‘n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ‘n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is.

Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. Voetewas is dus ‘n praktiese metafoor waarmee ‘n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Ligdraers in die wêreld

Paulus volg sy oproep tot

  • onderskeidende liefde (1:9-10), en
  • eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2) –
  • deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4) –

op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11).

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. 

Paulus bedoel duidelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ‘n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas.

Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”. Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl. veral Fil. 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne).

Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak.

Roeping

Ons word in hierdie teks oorweldig met alles wat God vir ons gedoen het. Die evangelie bestaan uit die selfprysgawe van God in Christus, ter wille van ons.

Hierdie daad van God vorm ons identiteit: ons is mense wat deur die hoë God gedien is en word. Dit spel ook ons roeping uit. Daarom volg ons God na in Jesus Christus. Ons is ligdraers wat die goeie doen wat God vir ons voorberei het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe” of
Lied 541 “Ons bring aan U, Heer Jesus”

Seën

Respons: Lied 541 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.