Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se sleutelteks beklemtoon die wysheid daarvan om na ‘n deurleefde leermeester te luister en die dwaasheid daarvan om goeie leringe te minag. Psalm 19 besing die Here se volmaakte openbarings van Homself deur sy Woord en deur die natuur en soos die sleutelteks, hoe kosbaar God se bepalings is. Jakobus 3 kasty gelowiges oor die dwaasheid van onbeheerste tonge en Markus 8 oor die dwaasheid van geloof wat Jesus se lyding systap en nie sterf aan hulleself nie. Dwaasheid en wysheid kan vandag liturgies afgespeel word teenoor mekaar, soos wat die tekste dit doen. Om die dieptepunt van die wysheid wat alles oortref aan die orde te bring, sal Markus 8 nie uitgelaat kan word nie. Die Christologiese swaartepunt is daarin vervat, wat vandag se tekste betref.

 Ander tekste

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Jakobus 3:1-12
Beheersing van die tong
3 My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Markus 8:27-38
Die belydenis van Petrus
(Matt 16:13–20; Luk 9:18–21; Joh 6:66–71)
27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”
29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Fokusteks

Spreuke 1:20-33
20Wysheid is ‘n vrou
wat langs die straat
staan en roep,
sy laat haar stem hoor
op die stadspleine,
21sy roep bo die rumoer uit,
by die ingange van die stadspoorte
sê sy wat sy te sê het:
22“Julle onkundiges,
hoe lank gaan julle nog vashou
aan julle onkunde,
gaan die grootpraters
hulle pratery geniet
en die swape ‘n afkeer hê van kennis?
23As julle luister na my teregwysing,
gee ek julle my wysheid in oorvloed
en leer ek julle my woorde begryp.
24“Ek het geroep
en julle wou nie luister nie,
ek het my hand uitgesteek
en julle het dit nie gegryp nie.
25Julle het my raad
alles in die wind geslaan,
julle wou julle nie laat
teregwys nie.
26Daarom sal ek lag as die ongeluk
julle tref,
ek sal met julle spot
wanneer die angs julle oorval,
27wanneer daar nood en kwelling
oor julle kom.
Die angs sal soos ‘n storm
oor julle kom,
die ongeluk sal julle tref
soos ‘n orkaan.
28Dán sal julle my roep
en ek sal nie antwoord nie,
julle sal my soek en my nie kry nie.
29Julle het ‘n afkeer van kennis gehad,
julle het geweier om die Here te dien,
30julle het my raad verontagsaam
en elke teregwysing van my geminag.
31Julle sal die vrugte
van julle optrede pluk,
julle sal van julle eie planne walg.
32“Die onkundiges se dwaling
kos hulle die dood,
die dwase word vernietig
deur hulle selfversekerdheid,
33maar wie na my luister,
sal veilig wees
en hoef geen ramp te vrees nie.”

Ekstra stof

Spreuke 1:1-33 – Begin met God
Die boek Spreuke word met Salomo geassossieer omdat hy bekend was as ‘n wyse man (1 Kon 3-5).  Twee bundels van sy spreuke is ook opgeneem in hierdie boek en beslaan 18 hoofstukke: 10:1-22:16 en 25:1-29:27.  Die res van die boek is egter deur ander wyses geskryf, oor ‘n hele paar eeue versamel en deur die eindredaktor in die boek opgeneem, waarskynlik na die ballingskap.

Die eerste hoofstuk beklemtoon dat wysheid in die eerste plek van God af kom (1:1-7) en in die tweede plek bevestig word deur die ervaring van mense wat die pad met die Here stap, soos ouers en ander gelowige rolmodelle.  Dit is na hulle wat ‘n mens moet luister om wysheid te bekom, die eerste van tien “lewenslesse” van die pa aan sy seun (1:8-19).  Wysheid – van God en van rolmodelle – is daarom vir die pa soos ‘n vrou wat roep en op wie jy jou ore fyn moet instel (1:20-33), ‘n metafoor wat ook in ander wysheidstradisies gebruik word.  Dink byvoorbeeld aan Atena en Minerva, die simbool van wysheid in onderskeidelik die latere Griekse en Romeinse tradisie.  Minerva is baie keer met ‘n uil uitgebeeld.

1:1-7 – Begin met God
Onthou dat Spreuke bedoel is as ‘n gids om jou ‘n ekspert in die lewe te maak!  Spreuke wil jou kapasiteit vir wysheid bou, sodat jy met wysheid kan optree.  Dit sal jou help:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (1:2);
  • Om ‘n sin virregverdigheid te ontwikkel (1:3);
  • Om met oorlegop te tree (1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (1:5-6)
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10).

Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref my.  Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties. Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg.  Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging.  Dit veronderstel ‘n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis, en dit ook nie net op jou eie nie, maar saam met ander, soos Spreuke ook in 11:14 nog verder in terme van leiers en die gemeenskap sal beredeneer.

Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Dié tipe wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld ‘n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei.  Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te make het.  Dit is immers waar jy die regverdigheid moet beoefen.  En dit is die basis van ‘n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy tereg kom in die gemeenskap met God en met ander.

Die eerste ding wat ‘n mens moet leer om hierdie tipe wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die “vrees van die Here”, wat in vers 7 vertaal word met “die dien van die Here”.  Hierdie vrees/dien kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat miskien beter oordra wat die vers bedoel.  Die tipe kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself.  Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe.

Peterson vertaal daarom vers 7 met: “Start with God—the first step in learning is bowing down to God“.  Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê, en waarin die wysheid ook opgesluit lê.  Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (9:10).

1:8-19 – Luister na rolmodelle
Die tweede ding wat ‘n mens moet leer, is om te luister na rolmodelle: jou pa, jou ma (vers 8), en ander gesagsfigure.

Let op hoe hierdie twee sake (1:1-7 en 1:8-19) ooreenkom met die eerste gebod van elk van die twee tafels van die wet: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3) en, “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).  Die boek Spreuke kan dus gesien word as ‘n uitgebreide uitleg van alles wat in die Tien Gebooie as die hart van God se wil vir die volk uitgespel is.  Trouens, Jesus beskou hierdie twee sake as die hart van Sy eie lering, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Die boek Spreuke is dus ‘n heerlike praktiese uitleg van die wet, en iets waarin ‘n mens die sin van Jesus se leringe kan raaksien, ‘n hele paar eeue voor Hy met Sy bediening sou begin.

Let op hoe die pa die alternatief uitspel.  As ‘n mens nie met God begin nie, as jy nie die invloed van rolmodelle respekteer nie, sit jy jou voet op ‘n pad waarin jy min weerstand gaan hê teen die verleiding van misdaad en geweld.  Dit is die gevaar van ‘n lewe waar jy nie bewustelik lewe saam met God nie, en jou afskei van die geborgenheid van die primêre verhoudingsruimte, die gesin en  familie, sowel as die geloofsgemeenskap.  Jy raak te maklik die enigste oriënteringspunt vir jou norme en waardes.

Die verleiding van onafhanklikheid en selfverryking ten koste van jou verhouding met God en jou gemeenskap moet dus ten alle koste vermy en teengestaan word. Die uiteinde daarvan is die dood.

1:20-33 – Luister na Wysheid
Wysheid word vervolgens as ‘n vrou voorgestel na wie ‘n mens moet luister.  Die meervoud van die woord wysheid word gebruik (ḥā∙ḵemôṯ), hoewel die werkwoorde enkelvoud is (royal plural).

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is vir my interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is.  In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word.  Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word in ‘n manlike idioom nie, dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie.

Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson (The Message) vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?”

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dié wat God wil dien, wat vir Hom ontsag het.  ‘n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid” (1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (beste), nabootsing (maklikste) en ervaring (bitterste).  Iets om oor na te dink!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus gróót bo almal vs1”

Aanvangswoord
Seëngroet

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet                     

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neer geboë vs 1”

Vryspraak          

Toewyding: Lied 232 “Diep o God diep neer geboë vs 2”

Geloofsbelydenis            

Loflied: Psalm 100 (2e melodie) 1,2,3 (Of die woorde van van Totius agter in die liedboek, 4 verse)

Epiklese

Skriflesing: Spreuke 1:20-33

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Seën 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus gróót bo almal vs1”

Aanvangswoord
Kom, o Lig, en verlig die duister in my.
Kom, o Lewe, en wek my uit die dood.
Kom, Groot Geneesheer, en heel my wonde.
Kom, Vuur van Goddelike Liefde, en verteer my sonde…
verwarm my hart met u liefdesvlam.
Kom, my Koning, kom sit op die troon van my hart en regeer my lewe.
Want U alleen is my Koning en my Heer.

Seëngroet
Genade en vrede vir u van God wat

  • Gekom het
  • Wat weer kom
  • En wat elke dag in u lewe kom!

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet
Liturg:   Ons Here Jesus Christus het gesê:  “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.”  Gelukkig is hulle wat die Woord van God hoor en dit ook uitvoer.  Hoor dan hierdie opdragte wat God vir sy kinders gee, en neem dit ter harte.  Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  Jy mag naas My geen ander gode hê nie.  Jy moet die Here jou God  liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie vir jou ‘n afgod maak nie.  God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet  Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.  Jy moet Hom met eerbied aanbid.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Sorg dat jy die Here se dag heilig hou.  Christus is uit die dood opgewek is.  Rig daarom julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Eer jou vader en jou moeder.  Lewe as dienaars van God, ag ander se belange hoër as jou eie, jy moet jou medegelowiges liefhê.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie moord pleeg nie.  Leef in vrede met alle mense.  Oorwin die kwaad deur die goeie.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.  Onthou dat jou liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie steel nie.  Wees eerlik in alles wat jy doen en sorg vir die behoeftiges.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.  Leef in die waarheid.
Almal: Here, wees ons genadig.

Liturg: Jy mag nie iets begeer wat aan jou naaste behoort nie.  Onthou die woorde van die Here Jesus:  Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Die liefde is die volle uitvoering van die wet.
Almal: Here, wees ons genadig.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neer geboë vs 1”

Vryspraak
God van tweede kanse en oor-begin, dit verstom my altyd weer dat u kies om my in u Koninkryk te gebruik.  U gebruik my soos ek is:  onvolmaak, met foute, gewoon, soms geneig om nie my beste te gee nie, geneig om foute te maak, om te struikel en om te val.

Maar u genade is altyd groter as my foute en mislukkings.  Dankie, o Here, dat U my gebruik ten spyte van myself!

Volmaakte God, herinner my gereeld dat, in u oë, mislukking nooit finaal is nie.  Deur u genade, stel my in staat om met my mislukkings konstruktief om te gaan en met ander se foute geduldig te wees.  Laat dit so wees.  Amen.

Toewyding: Lied 232 “Diep o God diep neer geboë vs 2”

Geloofsbelydenis
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die Heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.

Sy Koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret, die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg.

Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.

Loflied: Psalm 100 (2e melodie) 1,2,3 (Of die woorde van van Totius agter in die liedboek, 4 verse)

Liedere

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1 .U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, u laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
Daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is

Refrein

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen.

Skriflesing: Spreuke 1:20-33

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die fokusteks oor wysheid is moeilike materiaal om met kinders te hanteer.
Ek kies om hulle van ’n wyse man te vertel… Salomo!

Salomo was ’n wyse man. ’n Wyse man was iemand wat reg en billik oor dinge kon besluit en wat veral oor wysheid kon skryf. Salomo was verantwoordelik vir sowat 3 000 wysheidspreuke en meer as 1 000 liedere. Al die nasies van die destydse wêreld het na Israel gereis om na Salomo se wysheid te luister.

Maar waar kom Salomo se wysheid vandaan? Die Here het vir hom wysheid gegee!

By Gibeon het die Here in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. Salomo het toe gevra vir ’n opmerksame hart om reg te spreek oor die volk, vir die vermoë om te kan onderskei tussen kwaad en goed, en vir wysheid en kennis. Die Here het dit toe goedgekeur en aan
Salomo wysheid gegee. En omdat hy so nederig was in sy versoek om wysheid te hê het die Here ook aan hom rykdom en eer belowe.

Salomo was die seun en opvolger van koning Dawid. Hy was deur sy lewe bekend vir sy wysheid en sy rykdom. Dit was Salomo wat die eerste tempel vir die Here gebou het.

Een van Salomo se spreuke was… “wysheid is om die Here te dien!”

Gebed: Here- gee asb ook vir ons die vermoë om met wysheid hier op aarde te leef. Amen

Preekriglyn

Waar is wysheid te vind?

Hoe steek die lewe inmekaar? Wat is die diepste geheim van ‘n gelukkige lewe? Waar vind ons die praktiese vaardigheid om verstandig en wys op ons lewensreis te gaan? Hoe kan ons tussen al die onsekerhede van die lewe deur stuur op ‘n manier wat ‘n betekenisvolle lewe verseker, sonder om oorversigtig of sinies te raak?

Waarin lê die wysheid om goed te leef?

Wysheid prysgegee?

Sommige kenners sê die Westerse wêreld het wysheid prysgegee. Ons soek die meeste genot uit die oomblik, sonder om na te dink oor waarheen ons lewenstyl lei. Ons wil graag sekere dinge bekom, wat ons glo ons gelukkig gaan maak. Intussen kyk ons die werklik betekenisvolle aspekte van die wyse lewe mis.

Iemand vertel hoe Amerikaanse universiteite aan die begin van die twintigste eeu studente beloof het hulle sal daar wysheid aanleer. Teen die middel van die twintigste eeu is wysheid “afgeskaf”: universiteite het toe kennis belowe. ‘n Paar dekades later was selfs kennis te veel, van toe af belowe universiteite informasie aan studente. Dis seker nie lank nie, of studente kan net verwag om blote data by universiteite te kry.

Ons het – word gesê – die groot prentjie prysgegee: dat daar ‘n wyse manier van lewe is wat voorspelbaar tot betekenis en sin, vrug en positiewe uitkoms, sal lei.

Leraars van wysheid

Ons teks beklemtoon dat blote data of feite nie genoeg is om mee te lewe nie. Mens het wysheid nodig. Dit is insig in die manier hoe God die wêreld aanmekaargesit het, en watter soort lewe en optrede God se wêreld beloon.

Ons teks getuig van ‘n era toe daar nog wysheidsleraars was. Dit was mense wat geglo het kinders en jongmense moet wysheid aangeleer word. Mense moet van jongs af leer wat prakties, produktief, vrugbaar en deugsaam is. Mense moet die regte manier van lewe aanleer.

Wysheid kom nie vanself nie. Dit moet oorgedra en aangeleer word.

Toesprake

Spreuke 1 tot 9 bestaan uit lang toesprake – twaalf in totaal – oor die waarde van wysheid. Hierdie toesprake verwys na Vrou Wysheid haarself. In Spreuke 10 tot 30 het ons nie toesprake nie, maar los spreuke, wat oor verskeie sake handel.

Die eerste hoofstuk, waaruit ons teks kom, beklemtoon dat wysheid in die eerste plek van God af kom (1:1-7) en in die tweede plek bevestig word deur die ervaring van mense wat die pad met die Here stap, soos ouers en ander gelowige rolmodelle.  Dit is na hulle wat ‘n mens moet luister om wysheid te bekom.

Wysheid – van God en van rolmodelle – is daarom soos ‘n vrou wat roep en op wie jy jou ore fyn moet instel (1:20-33).

Reg aan die begin van hoofstuk 1 word gesê iemand wat wysheid bekom, word gehelp:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (1:2);
  • Om ‘n sin virregverdigheid te ontwikkel (1:3);
  • Om met oorlegop te tree (1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (1:5-6)
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10).
Vrou Wysheid

Ons teks, hoofstuk 1 verse 20 tot 33, begin deur wysheid te personifieer. Wysheid word as ‘n vrou voorgestel wat lang die straat staan en roep. Wysheid is ‘n vrou wat haar goedere uitstal en ander aanmoedig om daarvan te kry (20-21):

Wysheid is ‘n vrou
wat langs die straat
staan en roep,
sy laat haar stem hoor
op die stadspleine,
sy roep bo die rumoer uit,
by die ingange van die stadspoorte
sê sy wat sy te sê het:
Julle onkundiges,
hoe lank gaan julle nog vashou
aan julle onkunde,
gaan die grootpraters
hulle pratery geniet
en die swape ‘n afkeer hê van kennis?

Wysheid word in ons teks openbaar nié as ‘n lysie beginsels waarvan mens kan besluit of jy dit wil aanvaar of nie. Hier is Wysheid ‘n leermeester, ‘n onderwyser, wat aktief, passievol, doelgerig op soek is na studente en leerders. Sy is aktief besig om leerders bymekaar te maak, sodat sy hulle in wysheid kan onderrig.

Wysheid weet mens doen niemand ‘n guns as jy hulle maar net aan hulself oorlaat nie.

Die hele lewe

Let ook op dat Wysheid die hele lewe vir haar onderrig in gedagte het. Sy is nie maar net in die privaat geestelike lewe van die individue geïnteresseerd nie. Sy staan op die straathoeke, die stadspoorte en die markplein. In moderne taal sal ons sê sy hou die parlement en die politieke verhoog, die lewe van werkgewer en arbeider, die bankwese en die sportveld dop.

Wysheid in nie alleen persoonlike beginsels vir die binnekamer nie. Wysheid is ook vir die politiek, sakewêreld, en stadsplein.

Omgee

Wysheid gee genoeg vir die onkundiges, grootpraters en swape (22) om om uit te gaan op straat, oraloor te kyk, hulle uit te snuffel, hulle in die oë te kyk en aan te dring daarop om hulle te onderrig (23).

As julle luister na my teregwysing,
gee ek julle my wysheid in oorvloed
en leer ek julle my woorde begryp.

Goeie onderwysers kry dit reg om ‘n impak op hulle studente se lewens te maak. Die wyse leermeester is lief genoeg vir haar vak, en lief genoeg vir die student, om elke moontlike poging aan te wend om die student nader te trek en positief te beïnvloed.

Die dwase leermeester dink alles gaan net oor feite, en sit terug. Die studente moet maar self besluit of hulle hul aan die feite gaan steur.

Ernstige toon

Soos Wysheid se gesprek in ons teks vorder, hoe ernstiger word die toon daarvan. Eers maak sy ‘n belofte aan die onkundiges en dwase. Sy sal wysheid in oorvloed en begrip in oormaat skenk.

Dan word wysheid gekonfronteer met die onwilligheid van die dwase en spotters om iets te leer. Sy word kwater en raak ernstiger en gevul met verwyt oor die dwaasheid wat sy sien.

Teen vers 26 sê sy:
Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref,
ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval.
Hier word die ongeluk en die angs gewyt aan die gebrek aan wysheid en dwaasheid van mense.
Teen die einde van ons teks klink Vrou Wysheid soos die profeet Jeremia in sy ernstige en mees veroordelende oomblikke.
Wanneer die storms en die ongeluk die dwase tref, sal die dwase na Wysheid roep, maar sy sal nie antwoord nie (28).
Dan sal dit te laat wees vir onderrig, te laat om versigtig te onderskei oor die regte pad vir die lewe. Te laat.
Ja, lewe en dood, voorspoed en rampspoed, is ter sprake wanneer wysheid bedink word.

Dwaasheid en ramp

Dwaasheid en rampspoed het nie altyd ‘n direkte verband in die lewe nie. Soms gebeur goeie goed met dwase mense, en somtyds ly en sterf wyse mense. Oorsaak en gevolg (dwaasheid en ramp) is nie altyd so eenvoudig nie.

In ons teks is Vrou Wysheid gefokus op daardie dwaasheid wat feitlik verseker tot oormaat van ramp sal lei. Wysheid gebruik elke instrument en argument tot haar beskikking om die dwaas se aandag kan kry. Sy gebruik selfs vrees vir die ellende wat mens in die lewe kan tref. Haar doel is om harte, gedagtes en lewens te verander. Onthou, sy moet die aandag trek van mense wat ons dalk as “simpel” en ondeurdag sal beskryf.

Sy praat met die geldgierige wat alle verhoudings – met God en medemens – offer op die altaar van wins. Sy waarsku dat dit tot ellende sal lei. Sy praat met die verslaafde wat beheer verloor en groot skade gaan aanrig. Dan moet so ‘n dwaas nie omdraai en vra waarom die Here die ellende oor hom gebring het nie. Sy praat met die uitbuiter wat tranerig raak wanneer hy sy eie medisyne kry. Die ramp is dwaasheid se skuld.

Om mense te help verander, moet mens kragtig uitwys wat die gevolge van hulle optrede gaan wees. In hierdie trant praat wysheid in ons teks.

Oorsaak en gevolg

Ons moderne mense hou nie juis daarvan om so direk oor oorsaak en gevolg, oor die verband tussen wysheid en ‘n goeie lewe, of die verband tussen dwaasheid en ellende, te praat nie. Ons is geneig om te fokus op die vraag waarom slegte goed met goeie mense gebeur. Ons praat nie veel oor die suur vrugte van dwaasheid nie.

Het ons die moed verloor om mense aan te spreek oor hulle dwaasheid?

Ons moet ook opnuut leer by Vrou Wysheid. Sy het ‘n punt beet. Haar tirade teen die dwase en die onverstandige het meriete. Meer as wat ons wil toegee, lei ‘n lewe van dwaasheid tot nood , kwelling, angs en ongeluk. Die storms en orkane wat mense tref, word gebore uit dwase optrede.

Nie naastenby alle slegte dinge wat met mense gebeur, word uit dwaasheid gebore nie. Maar sommige dinge wel.

Vrou Wysheid probeer nie sê God straf elke sonde nie. Sy dink nie God hou ons dop en sit gereed om elke oortreding met ‘n sambok by te kom nie. Sy dink nie God skep behae daarin om mense by te kom nie.

Nee, Vrou Wysheid is meer geïnteresseerd in die vraag watter soort mense ons besig is om te word. Elke daad, elke houding, elke gesindheid en elke ding wat ons nalaat, word in ons lewe soos ‘n legkaart aanmekaargeweef. Vrou Wysheid sê as ons op ‘n dag met die prentjie gekonfronteer word wat ons bou, mag ons skrik.

Die vraag vir Wysheid is meer watter soort mens ons wil wees aan die einde van ons lewe. Wanneer ons terugkyk oor al die keuses wat ons gemaak het, en hulle gevolge, is die vraag hoe die prentjie dan lyk. Sy wil ons help om lewens te bou wat goed en reg is, en ‘n seën vir ander mense.

William Willimon skryf:
Our actions, our decisions, our deeds do have consequences. As we are acting, deciding, and doing, we are being formed into certain sorts of persons who live in the world in a certain way. Will we live as fools, or as those who are secure and living at ease, safe in the knowledge that we are pursuing the way that ends in a life well lived?

Wysheid as luister

Ons teks onderstreep hoe belangrik dit is om te luister na wysheid en wyse mense. Deur wie laat jy jou beïnvloed?

Vrou Wysheid vra ons ore. Ons moet moeite doen om na wysheid te luister. Ons moet leerbaar wees, onsself oopstel, die moeite doen om na te dink en te groei in insig.

Iemand skryf:
Luister verg selfbeheersing, geduld en nederigheid, daarom kies baie wysneusigheid bo wysheid. “Ek hoor jou, maar ek wil nie luister nie. Hierdie keer ‘wil’ ek nie wys wees nie; dis te moeilik (tydrowend, vernederend, ‘uncool’, oninteressant).” Hier lê die “swarigheid” van die wysheid.

Wysheid en ontsag vir God

Wysheid leer ons hoe God die wêreld aanmekaar gesit het. Net soos ‘n boer ooreenkomstig die klimaat met die regte items op die regte manier moet boer, net so ondersteun God se wêreld wyse optrede en beloon nie dwaasheid en dwarstrekkerigheid nie.

Wysheid begin daarom met ontsag vir God (29).
Vrou Wysheid het ‘n harde waarskuwing (29-31):
Julle het ‘n afkeer van kennis gehad,
julle het geweier om die Here te dien,
julle het my raad verontagsaam
en elke teregwysing van my geminag.
Julle sal die vrugte
van julle optrede pluk,
julle sal van julle eie planne walg.
Die wyse lewe lei tot die teenoorgestelde  uitkoms.
Die Here se gebooie is ons bakens op die wyse lewensweg.

Wie is jy?

Ons teks vra dat elkeen van ons ‘n paar keuses moet maak.
Die eerste is natuurlik of ons ‘n lewe van wysheid of dwaasheid wil lei.
Die tweede vraag is of ons ‘n bron van wysheid vir ander mense gaan wees? Kan ander wysheid by ons leer? Gaan ons seuns en dogters van Vrou Wysheid wees?

God stuur ons om te leef

Gebed
Neem, o Here, my vryheid, my gedagtes, my begrip en my wil.
Alles wat ek is en alles wat ek het, het U aan my gegee.
Ek gee dit alles aan U oor sodat U dit kan gebruik soos U wil.
Gee my net u liefde en genade – dan is ek ryk genoeg en sal ek niks meer begeer nie.

Offergawes

Wegsending: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Seën
Mag God ons genadig wees en ons seën;
mag Hy tot ons redding verskyn
sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies. (Ps. 67:2,3) 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1 .Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.