Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Klaagliedere 1:1-6
Daar is niemand wat vir Jerusalem bystaan nie
1 Ag, hoe verlate lê die stad
wat vol mense was!
Sy het soos ’n weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies.
Sy wat heerskappy gevoer het oor ander
moet nou dwangarbeid doen.
2Onbedaarlik huil sy die hele nag,
die trane loop oor haar wange.
Niemand van haar vroeëre minnaars
is daar om haar te troos nie.
Al haar bondgenote het teen haar
verraad gepleeg,
hulle het haar vyande geword.
3Juda se mense is weggevoer,
hulle kry swaar, hulle is slawe,
hulle sit tussen vreemde nasies
waar hulle geen rusplek kry nie;
hulle agtervolgers het hulle ingehaal,
hulle in die noutes vasgekeer.
4Die paaie na Sion toe treur
omdat daar geen feesgangers is nie;
al haar poorte is verlate,
haar priesters sug,
haar jong vroue is bedroef,
sy het dit bitter.
5Haar teëstanders het haar heersers
geword,
haar vyande lewe nou rustig.
Die Here het haar laat ly
oor haar baie sonde;
haar kinders het ballinge geword,
deur die vyand weggevoer.
6Die prag van Sion het alles verdwyn.
Haar leiers het soos takbokke geword
wat geen weiveld vind nie,
hulle moes magteloos wegtrek
voor hulle agtervolgers uit.

Klaagliedere 3:19-26
18Ek het gedink dit is klaar met my
en met my hoop op die Here.
19Die gedagte aan my ellende
en my vreemdelingskap
is gal en gif vir my;
20as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.

Psalm 137
As ek jou sou vergeet, Jerusalem
137 By die riviere van Babel,
daar het ons gesit,
en ons trane het gevloeias ons aan Sion dink.

2Aan die wilgerbome in daardie land
het ons ons liere opgehang
3toe dié wat vir ons gevange
weggevoer het,
ons gevra het om ’n lied te sing,
toe dié wat vir ons leed aangedoen het,
van ons vrolikheid wou hê:
“Sing vir ons ’n lied oor Sion!”
4Hoe kan ons die lied van die Here sing
in ’n vreemde land?
5As ek jou sou vergeet,
Jerusalem,
mag my regterhand dan verlam raak.
6Mag my tong
aan my verhemelte vaskleef
as ek aan jou nie dink nie,
as Jerusalem nie my grootste vreugde
bly nie.
7Onthou die Edomiete, Here,
die dag toe Jerusalem ingeneem is,
hoe hulle aangehou het met sê:
“Breek af, breek af die stad
tot op sy fondamente!”
8Dat jy verwoes sal word, Babel,
is seker.
Gelukkig is die man
wat jou terugbetaal
vir wat jy ons aangedoen het!
9Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp
en teen ’n klip verbrysel.

2 Timotheus 1:1-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.
2Aan Timoteus, my geliefde seun.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Getrouheid aan die evangelie
3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

15Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes.

16Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed.

Fokusteks

Lukas 17:5-10
Uitsprake van Jesus
(Matt 18:6–7, 21–22; Mark 9:42)
17  Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So ‘n mens kan eerder met ‘n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ‘n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.

“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”

6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

7“Sê nou een van julle het ‘n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’9‘n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3″

Aanvangswoord
Seëngroet  

Sang: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Wet: Eksodus 20

Skuldbelydenis :Lied 275 “O God van Jakob deur U hand 1,3,5”

Vryspraak: (Ps 91:14-16)

Geloofsbelydenis: Klaagliedere 3

Lied 274 “Leer my soos Henog met U wandel 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 17:5-10

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26 ()

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3″

Aanvangswoord
Voorganger: Here, gee vir ons geloof,
Gemeente: so klein soos mosterdsaadjies.

Voorganger: Ons geloof kan maar klein wees,
Gemeente: want U is almagtig en groot.

Voorganger: Here, gee vir ons geloof,
Gemeente: wat ons na U toe draai.

Voorganger: Want sulke geloof red.
Gemeente: En sulke geloof gaan uit.

Seëngroet  
Die Here is met ons en skenk sy vrede aan ons.

Sang: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Wet:              Eksodus 20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skuldbelydenis: Lied 275 “O God van Jakob deur U hand 1,3,5”

Vryspraak: (Ps 91:14-16)
“Omdat hy My lief het, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. ’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly”.

Geloofsbelydenis: Klaagliedere 3
18Ek het gedink dit is klaar met my
en met my hoop op die Here.
19Die gedagte aan my ellende
en my vreemdelingskap
is gal en gif vir my;
20as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here…

Lied 274 “Leer my soos Henog met U wandel 1,2”

Liedere

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, u laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
Daarvoor kom prys ek U Naam!

U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is

Refrein:

F189. “Vul My Hart, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed / Verootmoediging)
Oorspronklike titel: Change My Heart, Oh God
Teks en musiek: Eddie Espinosa
Afrikaanse teks: Pieter Malherbe 2007
Kopiereg:  © 1982 Mercy/Vineyard Publishing/Adm. by CopyCare.

Vul my hart, o Heer
met ‘n nuwe gees
Heer, verander my
Laat my soos U wees

Heer, in U hande is ek soos klei
Vorm my en maak my
laat my soos U wees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O God, soggens roep ek na U.
Help my om te bid
en om my gedagtes na U te draai;
ek kan hierdie nie alleen doen nie.
Daar is ’n donkerte binne my,
maar by U, is daar lig;
ek is alleen, tog laat U my nie alleen nie;
ek is moedeloos, maar by U is daar hulp;
ek is rusteloos, maar by U is daar vrede.
Daar is bitterheid binne my,
maar by U is daar geduld;
Ek verstaan nie u weë nie,
tog ken U die weg vir my . . .
Herstel my vryheid
en stel my in staat om nou te lewe
dat ek in my soeke myself en U sal vind
Here, wat ook al hierdie dag inhou,
mag u Naam vereer word. (Dietrich Bonhoeffer)

Skriflesing: Lukas 17:5-10

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Mense dink altyd “hoe groter hoe beter”:  karre, huise…  Ons wil altyd nuwer, beter goed hê:  selfone, iPads, Nintendos.  En somtyds dink ons as iets nie meer of groter is nie, is dit regtig nie veel werd nie – dat wat ons het, nie genoeg is nie, ons het meer nodig om self enige iets werd te wees.  Dit is hoe die dissipels gevoel het oor hulle geloof!  Hulle het geweet dis moeilik om altyd gehoorsaam te wees.  Daarom het hulle vir Jesus gevra vir nóg geloof.  Dit sal sekerlik beter wees as dit groter is, as hulle meer het!  Maar Jesus antwoord hulle dat dit nie soveel saak maak hoe groot jou geloof is nie, maar eerder wat jy daarmee doen.

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

5 Toe sê Jesus se dissipels* vir Hom: “Ag Here, dis moeilik om al hierdie dinge te doen. En ons geloof* is so klein. Gee ons asseblief nog geloof*.”

6 Jesus antwoord: “Julle hoef nie baie geloof* te hê om groot dinge vir die Here te doen nie. As julle geloof* net so groot soos ’n klein saadjie was, sou julle vir hierdie boom gesê het: ‘Gaan staan daar in die see!’ Dan sou die boom na julle geluister het en see toe geskuif het.”

Jesus Hoef Nie vir jou Dankie te sê Nie
7–8 “Wanneer iemand in julle huis werk, dan sê julle mos nie na ’n lang dag vir haar: ‘Toemaar, jy hoef nie vanaand kos te maak nie.’ Nee, julle sê vir haar: ‘Maak gou die aandete klaar. Kom bedien ons. As ons klaar geëet het, moet jy ook nog die skottelgoed was. Daarna kan jy iets gaan eet.’

9–10 “Mens hoef nie die heeltyd vir iemand wat vir jou werk dankie te sê nie. Dit is mos waarvoor sy betaal word. Net so hoef Ek ook nie vir julle dankie te sê as julle doen wat Ek vir julle sê om te doen nie. Julle moet eintlik baie bly wees om dinge vir My te kan doen. Julle moet heeltyd sê: ‘Ons doen graag alles wat Jesus vir ons sê!’”

Preekriglyn

[Nota: As tekskeuse word Lukas 17:1-10 gebruik.]
Die apostels vra Jesus in vers 5: “Gee ons meer geloof.”
Dit is hulle reaksie op Jesus se opdragte in verse 1 tot 4. Sonder “meer geloof” is dit nie moontlik – reken hulle – om te voldoen aan die radikale gehoorsaamheid wat Jesus in verse 1 tot 4 vra nie:

  • Jesus vra dat sy volgelinge ander nie in sonde moet lei en tot struikeling bring nie (1-2); en
  • Om ‘n broer en suster prakties gesproke oneindiglik te vergewe as hy of sy berou op berisping toon (3-4).

Wie kan so optree? Wie kan in alle opsigte voorsien hoe jou optrede ander kan laat struikel? Waar dit gebeur is daar immers geweldige gevolge. ‘n Mens kan eerder met ‘n groot klip aan die nek in die see gegooi word as om vir ‘n kleintjie ‘n struikelblok te wees. Wie kan só op jou hoede wees?

Verder: Wie het die vermoë om sewe maal op ‘n dag vir ‘n oortreder wat berou toon te sê: “Ek vergewe jou”?

Geloof en moerbeie

In die lig van opdragte soos hierdie is daar duidelik “meer geloof” nodig.

Jesus se antwoord bemoedig die apostels. Wat Hy vra is nie onmoontlik nie. Jesus sê geloof is nie iets wat moet vermeerder nie, geloof moet bloot net aanwesig wees. Dit kan selfs maar so klein soos ‘n mosterdsaadjie wees – ‘n baie klein saadjie.

As mens mosterdsaadgeloof het, sal jy selfs vir ‘n boom met ‘n massiewe wortelstelsel, die moerbeiboom van Palestina, kan sê: “Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,” en die boom sal gehoorsaam.

Hoekom sal iemand so ‘n opdrag vir ‘n moerbeiboom probeer gee? Wie het nou al aan so iets gedink?

Mens moet in jou geestesoog ‘n glimlag om Jesus se mondhoeke sien speel. Sy taal is lig en sy voorbeeld byna speels. Jesus gebruik ‘n buitgengewone voorbeeld vir effek, hoewel die inhoud van sy boodskap doodernstig is. Jesus se punt is geloof. Waar daar geloof is (en die dissipels glo, soos hulle self en Jesus weet), kan mens inderdaad alles doen wat Jesus beveel, wat ook al vir die pad van geloof nodig is.

Die dissipels moenie skrik vir die eise van dissipelskap nie. Hulle moenie afgeskrik word deur die hoë standaarde van die opdragte in verse 1-2 of 3-4 nie.

Aangesien hulle geloof het, ‘n gawe van God, kan hulle doen wat God van dissipels vra.

Slawe en hul meester

Teen die agtergrond van “meer” of “minder”, die soort taal waarmee Jesus duidelik nie so gemaklik is nie, praat Hy nou verder oor meer en minder: in hierdie geval oor meer of minder verdienste.

Jesus vertel die gelykenis van ‘n slaaf wat sy meester bedien. ‘n Slaaf wat gedoen het wat hy moes, word nie bedank nie. Jesus pas dit op dissipelskap toe. Wanneer die dissipels al die opdragte uitgevoer het wat Jesus hulle gee, moet hulle nie meer van hulleself dink as wat hulle moet nie. Hulle moet bloot aan hulleself as onverdienstelike slawe dink wat hul plig nagekom het (10).

Jesus begeer ‘n gemeente wat nie struikelblokke vir ander is nie (1-2) en wat geleer het om te vergewe (3-4). Hulle het geleer om al Jesus se opdragte na te kom, en dit deur die geloof dat Hy hul Here en Meester is wat hulle op die regte pad lei.

Op daardie dag moet hulle onthou dat die geloof en persoonlike band met Jesus ‘n geskenk was, nie omdat hulle dit werd was nie. Hul verdienste speel nie ‘n rol nie.

Ons kry in Lukas 10:19-20 ‘n soortgelyke boodskap. Die dissipels is in staat om wonderlike dinge te doen (deur geloof), maar hulle moenie vreugde en verwondering uit hul dade put nie. Hulle moet hulle verheug ook die gawe van God, naamlik dat hulle name opgeskryf is in die hemel.

Die eenvoudige gawe van geloof uit God se hand is altyd belangriker as dit wat met daardie geloof vermag kan word.

Die gelykenis

Die gelykenis van die slaaf wat sy meester bedien, is tipies van Jesus se korter gelykenisse. Dit begin met ‘n basiese vraag wat dadelik aansluit by die wêreld waaruit die hoorders kom: “Sê nou een van julle het ‘n slaaf….”

Dink net aan al die ander voorbeelde hoe Jesus sy gelykenisse inlui:

  • “Sê nou een van julle het ‘n vriend ….” (11:5)
  • “Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra …. ” (11:11)
  • “Sê nou een van julle het honderd skape ….” (15:3)
  • “Watter vrou wat tien silwermuntstukke het …” (15:8)

Elkeen van hierdie kort gelykenisse sluit aan by die lewenswêreld van die hoorders. Dit skets ‘n baie bekende situasie waarmee mense kan identifiseer. Jesus nooi die lesers dan uit om ‘n beginsel wat op die koninkryk van toepassing is uit die kort skets af te lei. Die beginsel word toegepas op dissipels se verhouding met God.

Wanneer die toepassing begin sê Jesus gewoonlik: “Ek sê vir julle ….” (bv 11:9, 15:7, 15:10).

Die gelykenis oor die verdienstelose slawe werk op dieselfde manier. ‘n Slaaf wat in die veld gewerk het, kom by die huis aan. Nou skets Jesus twee scenarios, die een onwaarskynlik en die ander een meer waarskynlik.

Die meester van ‘n slaaf sal waarskynlik nie die slaaf aan die einde van die dag innooi tafel toe en sê hy moet saam kom eet nie. Die waarskynlkie verwagting is dat die slaaf eers die maaltyd sal voorberei voordat hy self sal kan gaan sit om te eet.

Dit is deel van ‘n slaaf se taak, hy dink nie sy meester skuld hom enige ekstra gunste bloot omdat hy sy werk gedoen het nie.

In hierdie tyd het die mense in Jesus se gehoor meestal ‘n landelike bestaan gevoer, en vee of landerye gehad. Baie sou ook ‘n slaaf besit het.

Ons moet onthou dat slawerny in die antieke wêreld baie anders was as die wyse waarop dit in meer moderne tye toegepas is. Die onmenslike slawehandel deurdat mense uit Afrika in kettings geslaan en bv in haglike omstandighede na die VSA vervoer en daar wreedaardig behandel is, was onbekend aan Jesus se wêreld. ‘n Slaaf kon iemand wees wat in groot skuld beland en homself moes verkoop om sy skuld te delg. Bekende figure, soos selfs filosowe, het met tye as slawe opgetree en onderrig gegee. In ruil daarvoor het hulle versorging gekry.

Slawerny was natuurlik ‘n teken van groot ongelykheid, en teen God se bedoeling, maar die slaaf was in ‘n baie beter posisie as bv die bedelaar Lasarus waarna Jesus elders in ‘n gelykenis verwys.

Die punt is dat Jesus God nie as ‘n wrede slawe-eienaar probeer voorstel nie. In die tyd toe slawehandel in die Weste afgeskaf is, het mense tekste soos hierdie gebruik om te argumenteer dat God ten gunste van slawerny is. Dit is ver van die waarheid. Jesus is hier doodgewoon besig om by die bekende wêreld van sy luisteraars aan te sluit.

‘n Gelykenis probeer een punt maak en kan nie in detail oorspan word om meer as die punt van vergelyking uit te lig nie.

Die boodskap

Jesus se boodskap is dat dit moontlik is om God se gehoorsaam. Dit is moontlik om ‘n gehoorsame dissipel van Jesus te wees: iemand wat Jesus se woorde indrink en dit uitleef.

Soms mag Jesus se gebooie moeilik en radikaal klink, soos om iemand wat teen jou sondig te vergewe, of mede-verantwoordelikheid vir ander te neem en te keer dat hulle nie oor struikelblokke val nie.

Waarom is dit moontlik? Omdat God self die geloof (kennis, vertroue, toewyding, volharding) gee wat nodig is. Iemand wat Jesus se gebooie uitleef moenie verwag dit bring “ekstra verdienste” voor God nie. Dit is immers God wat gee wat nodig is om God te gehoorsaam.

Vier uitstaande kenmerke

Na aanleiding van ons teks kan ons sê dissipels van Jesus het vier uitstaande kenmerke:

Een: Dissipels is versigtig met die invloed wat hulle op ander het (17: 2). Hulle is versigtig om ander te laat struikel in hulle verhouding met God.

Tweedens: Dissipels is meer as gereed om te vergewe. Hulle maak trouens seker dat daar nooit ‘n punt kom waar dié gereedheid verflou of ophou nie (17:3).

Derdens: Dissipels se geloof is effektief (17:6).  ‘n Mosterdsaad was ‘n klein saadjie wat kon groei tot ‘n 3 meter hoë struik (Matt 17:20).

Vierdens: dissipels gedra hulleself as nederige (onwaardige) slawe teenoor God, in teenstelling met die selfvoldane Fariseërs (16:14-15).

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending:Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3

Seën: Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
of
Vrede vir julle. Mag dit jou met vreugde vul om deur Jesus Christus geroep, geneem en gestuur te word. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.