Sewentiende sondag in koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Sewentiende sondag in koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Matteus 21:33-46
Ander tekste: Eksodus 20:14, 7-9, 12-20; Psalm 19; Filippense 3:4b-14

Inleiding

Die grootheid van God en dat mense vir Hom eerbied en ontsag moet hê loop soos ’n goue draad deur al hierdie tekste. Gehoorsaamheid, wat ware geluk bring, groei uit eerbied.
Die liturgie moet dus gekenmerk word deur ontsag en eerbied en ’n soeke na Jesus.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde.
Gemeente: Al wat ons wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, in die verwagting dat ons self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (uit Fil 3)

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Vra iemand om die woorde van Psalm 19:8-15 as gebed voor te lees:
Kondig dit so aan dat die gemeente met toe oë na die gebed luister en dit nie volg in hulle Bybels nie

Diens van die tafel

Laat die gemeente as tafelgebed, voor die bediening van die nagmaal,  die “Ons Vader” hardop saambid.

Uitsending

Verbintenis
Ek is die Here, jou God.
Jesus het jou deur sy kruis en opstanding vrygemaak van die slawerny van sonde. Daarom behoort jy aan My.
Lei daarom ’n lewe van dankbaarheid wat wys dat jy vrygemaak is.
1. Moenie by ander gode steun soek nie. Hulle laat jou vroeër of later in die steek.
2. Ek is altyd by jou teenwoordig. Daarom hoef jy nie allerlei stom beelde te maak om My teenwoordig te stel nie.
3. Moet My nie beledig deur jou goddelose, óf vrome gevloek nie.
4. Maak van Sondag ’n mooi en rustige dag. Die Here het op dié dag opgestaan.
5. Hou jou pa en ma se naam hoog. Hulle sal hulleself te kort doen ter wille van jou.
6. Respekteer ander mense se lewe. Hulle het dit immers van My ontvang.
7. As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Veg vir die geluk van jou lewensmaat.
8. Moenie vat wat aan iemand anders behoort nie.
9. Deur die woorde wat jy gebruik – in die openbaar of in die geheim – kan jy jou medemens maak of breek.
10. Moenie jaloers wees op die geluk en voorspoed van ander nie.
(Tien Gebooie in verwerkte vorm.)

Musiek en sang

Antwoord na Aanvangswoord: Lied 167:1 en 2 “Jesus bron van al my vreugde”
Lofprysing: Lied 190 “Grote God, U die eer”; NSG 10 “Kom, dank nou almal God”

Preekstudie: Matteus 21:33-44

Teks

Jesus is in die tempel in konfrontasie met die priesterhoofde en die familiehoofde na aanleiding van hulle vraag oor wie Hom die gesag gegee het om die dinge te doen wat Hy doen (Matt 21:23). In die Preekstudie van die vorige Sondag (28 September) noem Mocke dat Jesus se antwoord op hierdie vraag uit drie dele bestaan: (i) ’n teenvraag oor die gesag van Johannes die Doper (21:24-27), en daarna twee gelykenisse waardeur (ii) die Joodse leiers se onberoulikheid (21:28-32) en (iii) hulle bose planne aan die kaak gestel word (21:33-46). Ons perikoop vorm die derde deel van Jesus se antwoord op die vraag van die priesterhoofde en familiehoofde oor sy gesag.

Jesus se oproep om te luister na nóg ’n gelykenis (allén parabolén akousate – 33) wat Hy gaan vertel, is gerig tot die vyandige leiers van Israel wat Hom uitdaag oor sy optrede in Jerusalem. Dit gebeur op die eerste dag nadat Hy Jerusalem triomfantelik binnekom het (S Joubert). Jan du Rand praat van die finale veldslag wat in Jerusalem sou aanbreek en tipeer Matteus 21:1-25:46 as “openlike botsing met die Joodse leiers in Jerusalem” (vgl Mocke se aantekeninge by vorige Sondag). Hierdie gelykenis handel oor ’n man wat grond besit en ’n wingerd daarop aangeplant het. Hy het dit goed voorberei en versorg; ’n klipmuur rondom die wingerd gebou vir beskerming teen wilde diere en ander indringers; ’n parskuip aangebring om die druiwe te verwerk wanneer dit ryp is, en ’n wagtoring opgerig as skuiling vir ’n wag wat die wingerd oppas (Gundry). Na dit alles het die grondeienaar sy goed versorgde wingerd aan boere verhuur en op reis vertrek (apedémésen).

Na verloop van tyd (kairos), toe die wingerd begin vrug (karpon) dra en gereed was vir oes, het die grondeienaar van sy slawe (tous doulous autou) na die boere wat sy wingerd gehuur het gestuur (apesteilen), om die vrug van die oes te gaan haal (tous karpous autou). Die boere het egter op ’n ander manier gereageer op die gestuurde slawe as wat die grondeienaar verwag het. In plaas daarvan dat die boere die deel van die opbrengs van die oes aan die slawe van die grondeienaar oorhandig het, het hulle die gesante van die eienaar hardhandig en wreed behandel, een selfs gedood (35). Gundry wys daarop dat Matteus met “sy” (in “sy slawe”) die klem opnuut plaas op die gesag van die eienaar, wat God hier verteenwoordig. Daarmee is die tema van Jesus se gesag op die skerm.

In reaksie op die wreedaardige en onregmatige gedrag van die boere, het die grondeienaar weer ander slawe na sy wingerd gestuur (palin apesteilen allous doulous). Hierdie keer was dit selfs meer as die drie slawe wat die eerste keer gegaan het (pleionas tōn prōtōn). Gundry noem dat Matteus hier ’n vergelyking gebruik om die skuld van die Joodse leiers te beklemtoon, “and perhaps to allude to the latter prophets in the Hebrew OT as more numerous than the former prohets”. Die boere het egter dieselfde teenoor die gestuurde slawe opgetree. Ten einde laaste het die grondeienaar sy eie seun (ton huion autou) na die boere gestuur. Hy was oortuig dat die boere respek vir sy seun sou toon (entrapēsontai ton huion mou). Maar hulle het nie. Trouens, hulle optrede was selfs méér vyandig en berekend. Hulle het die gestuurde geïdentifiseer as die erfgenaam (klēronomos) van die grondeienaar en ’n bose plan bedink. Hulle sou hom doodmaak en sy erfenis afvat (apokteinōmen auton kai schōmen tēn klēomian autou). Volgens Gundry dui die woord “erfgenaam” aan dat die huurboere gedink het die eienaar het gesterf en dat die seun kom om die wingerd as sy erfporsie op te eis. Deur hom dood te maak, het hulle geoordeel, sou hulle ’n regstryd vermy “and gain the vineyard for themselves by right of possession.” Toe het hulle die berekende plan uitgevoer (39). Hulle het die erfgenaam gevat (labontes), hom uit die wingerd uitgegooi (eksebalon eksō) en hom doodgemaak (apekteinan). So eindig Jesus se gelykenis oor die boere en die wingerd.

Wat is die punt van die gelykenis? Dit vorm deel van die gesprek oor die vraag na Jesus se gesag. A J Saldarini som die gelykenis en die boodskap daarvan soos volg op: “A second vineyard parable drives home the leaders’ nonobservance of God’s will, bad leadership, and hostility to Jesus with the metaphor of refusing to pay rent.”

In vers 40 stel Jesus ’n vraag as sleutel ter interpretasie van die gelykenis: “Wat sal die eienaar van die wingerd met die boere doen as hy van sy reis af terugkom?” (ti poiēsei tois geōrgois ekeinois). Met verwysing na vers 40a stel Gundry dat Matteus dié frase invoeg as verwysing na die parousia (wederkoms – vervulling van die oordeelsaspek van die gelykenis). Op dié vraag van Jesus het die priesterhoofde en familiehoofde ’n besliste antwoord: “Die grondeienaar sal die slegte mense ’n verskriklike dood laat sterf (kakous kakōs apolesei autous), die wingerd van hulle afneem en dit aan ander boere verhuur (ekdōsetai allois geōrgois), wat aan hom die oes op die regte tye sal lewer (apodōsousin auto tous karpous en tois kairois autōn).” Indien die gelykenis oor die gedrag van die priesterhoofde en familiehoofde handel, is hulle antwoord op Jesus se vraag ook hulle eie skulderkenning en strafaankondiging. Hulle het in die strik getrap en hulle eie oordeel geteken. Gundry skryf: “The insertion of ‘They say to him’ makes Matthew’s version of the judgmental statement a dramatic self-sentencing by the chief priests and elders of the people.”

Jesus slaan nie direk toe nie. Hy weef die strik stewiger. In vers 42 haal Hy uit Psalm 118:22-23 aan en verwys na Homself as die erfgenaam wat gestuur en verwerp is. Hy gebruik egter ’n ander metafoor, nou uit die boubedryf. Die erfgenaam van die gelykenis word die steen wat deur die bouers afgewys is. Maar God het aan die steen wat deur die bouers (boere) afgekeur is die belangrikste posisie in die bouwerk toegeken. Nou maak Jesus sy punt oor die gelykenis en die uitvoering van die oordeel wat die priesterhoofde en familiehoofde reeds uitgespel het (43). Die koninkryk van God (basileia tou theou – wingerd) sal van die mense (huurboere) weggeneem word wat nie die Erfgenaam van God respekteer nie – nie vrugte lewer op die regte tyd nie. God sal die koninkryk (wingerd) aan ’n nasie (ethnei) gee wat die vrugte van die koninkryk lewer.

Jesus sluit sy gelykenis af met ’n interpretasie in die vorm van ’n spreuk. Die steen (lithon – erfgenaam; Jesus) word hier voorgestel as ’n instrument van oordeel en vernietiging. Dit werk na twee kante toe. Beide wanneer iemand op die klip val, of as die klip op iemand val, sal dit die persoon vernietig of vermorsel. Die priesterhoofde en familiehoofde is nou ontmasker en het besef Hy verwys na hulle (egnōsan hoti peri autōn legei; vgl Joubert). Hulle het hulleself in die spieël van die gelykenis geïdentifiseer. Nou was hulle vasbeslote om Hom gevange te neem, maar was bang vir die optrede van die skare wat nog vir Jesus as profeet beskou het
(J D Kingsbury).

Konteks

Gundry bespreek hierdie gelykenis onder die opskrif: “The Transferal of God’s Kingdom from the Jewish Leaders to the Church as Taught through the Parable of the Tenant Farmers.” Hy beklemtoon daarmee die inhoud van vers 43, as Jesus prontuit aan die priesterhoofde en familiehoofde stel dat die koninkryk van God van hulle weggeneem en aan ’n ander nasie gegee sal word wat die vrugte van die koninkryk sal lewer. Matteus gebruik die uitdrukking “koninkryk van God” in plaas van sy gebruiklike “koninkryk van die hemele” (Gundry). Daarmee, soos ook met ander aspekte in hierdie gelykenis, verbind Matteus hierdie gelykenis met die voorafgaande gelykenis oor die twee seuns (21:28-32). Die klem is op die skuld van die bose huurboere, wat die priesterhoofde en ouderlinge verteenwoordig (23).

In die kerklike seisoen van Koninkrykstyd is dit belangrik om aandag te gee aan die tema: “God se koninkryk” en spesifiek te vra na die aspek daarvan wat in hierdie gelykenis ter sprake kom. In Gundry se opskrif word verskillende elemente in verband met die koninkryk aangeraak. Hy verwys na die oordrag van God se koninkryk na die Kerk. Hy suggereer ook die negatiewe aandeel van die Joodse leiers in God se besluit oor die proses van oordrag. In vers 43 word die motivering vir die oordrag aangedui as die lewering of gebrek daaraan, van koninkryksvrugte. In die seisoen van Koninkrykstyd is die fokus van die prediking juis op toerusting en dissipelskap met die doel om vrug te dra wat pas by koninkryksmense. Gundry wys op Matteus se gebruik van die woorde “vrug” en “vrugdra”. “The addition ‘of the fruits’ suits Matthew’s interest in the figure of fruits for good works.” Die prediker behoort aan hierdie aspekte aandag te gee binne die konteks van die kerklike seisoen.

Binne die konteks van die RCL behoort predikers ook kennis te neem van die ander tekste vir dié Sondag en hoe dit bogenoemde tema aan die orde stel. Die lesing uit die Ou Testament is Eksodus 20:4, 7-9, 12-20, oor die Tien Gebooie en die wil van God vir die mens en God se skepping. Die tema van eerbied vir God se Erfgenaam en die dra van koninkryksvrugte in die gelykenis, kan met God se wil soos uitgedruk in die Wet, verbind word. Psalm 19 bied drie perspektiewe. Vers 1-7 sing van die openbaring van God in die skepping. Vers 8-13 vertel van God se openbaring deur die woord van die Here, asook die betroubaarheid van sy onderwysinge, sy bevele wat koers aandui en sy gebod wat insig gee. Vers 13-15 bevat die gebed van die gelowige om nie te sondig nie en die versugting om te doen wat God wil. Filippense 3:4b-14 bevat Paulus se getuienis oor wat werklik waarde het in die lewe. Nie enige menslike prestasie of eienskap nie, maar kennis van Christus Jesus, die Here. Hy beklemtoon sy inspanning om te verkry wat Jesus aanbied, om so die prys te behaal waartoe God hom roep in Christus Jesus. Dit is koninkryksvrugte wat gelowiges moet dra.

N T Wright bespreek Daniël 2, waar Daniël koning Nebukadnesar se droom uitlê. Die droom was ten diepste oor die koninkryke van die wêreld en die koninkryk van God. In dié droom word die koninkryke van die wêreld voorgestel as opeenvolgende koninkryke van goud, silwer, brons en yster. Nebukadnesar het in die goue eeu regeer. Die praal van die koninkryke het afgeneem saam met die opeenvolging van die ryke. Uiteindelik sou ’n brose koninkryk opstaan – soos yster wat met klei gemeng is. Dan kom daar ’n Steen (Wright gebruik ’n hoofletter vir wat later kenbaar word) wat die laaste koninkryk (voete) vernietig en die totale struktuur van die wêreld koninkryke laat intuimel. Die steen groei tot die afmetings van ’n berg. Dit word ’n nuwe koninkryk wat die hele wêreld op ’n nuwe wyse sal regeer.

Volgens Wright sou elke Jood van Jesus se tyd maklik bepaal wat die droom vir hulle beteken. Van die Babiloniese Ryk, deur die Persiese Ryk tot die Romeinse Ryk het wêreldkoninkryke gewissel. Dit sou vir die Jode van Jesus se tyd beslis die oomblik wees waarop die steen sy verskyning moes maak. Hulle het gedink die steen verwys na God se Messias wat die koninkryk van God sou oprig deur vernietiging van die wêreldryke, om iets nuut te begin.

In Jesus se gelykenis oor die boere en die wingerd interpreteer Jesus sy eie vertelling met verwysing na Psalm 118 en Daniël 2. Die steen wat die bouers verwerp het, het die belangrikste steen in die gebou geword. Dit het die posisie van eer ontvang en sal alles vernietig wat daarmee bots. Jesus is die Steen, die Messias, God se gesalfde. Hy het gekom om die koninkryk van God te vestig, waardeur die koninkryke van die wêreld sal val.

Gundry wys op die besondere uitdrukking aan die begin van vers 34 en hoe dit met Matteus 21:1 verbind. Die frase “toe die tyd vir die vrug naby kom” (hote de ēngisen ho kairos tōn karpōn) dui in die gelykenis op die vrug van die wingerd, maar in terme van vers 1 beskryf dit geregtigheid. Die uitdrukking “Toe . . . naby kom” verwys in vers 1 na Jesus wat naby Jerusalem kom. Só betrek Matteus die gelykenis op die Joodse leiers wat in Jerusalem gesetel was en nie God se geregtigheid bevorder het nie. Donald Senior wys dat die Griekse woord kairos in vers 34 en 40 aandui dat die oomblik van oordeel naby is.

In vers 34 gebruik Matteus die uitdrukking “om sy oes te kry” (labein tous karpous autou). Gundry wys dat Matteus ’n aanpassing maak op Markus se formulering van “sy deel van die vrug/opbrengs”. Matteus se formulering impliseer dat die volledige opbrengs van die oes (alle vrug) aan die grondeienaar behoort. Gundry skryf: “The theological symbolism of God’s demanding the totality of people’s lives has swallowed up economic realism, which requires rental payment of only part of the crop.” Hierdie is ’n belangrike teologiese perspektief. Die interpretasie en uitleg van die gelykenis moet nie deur ’n ekonomiese bril gelees word nie, maar verstaan word vanuit die gesag van God oor ons totale lewe.

In vers 35 stel Matteus twee werkwoorde bekend, naamlik: “doodmaak” (apekteinan) en “stenig” (elithobolēsan). Volgens Gundry interpreteer hierdie twee werkwoorde die slawe as profete, identifiseer die huurboere as die Joodse leiers in Jerusalem, “and intensifies their guilt by making them do the worst – i.e., kill and stone the prophets as well as beat them – from the very start”. Steniging volg op doodmaak, omdat steniging die konnotasie het van teregstelling op grond van godsdienstige afvalligheid (die huur boere het die slawe as valse profete behandel) “and therefore implies disgrace as well as death”.

In vers 39 word die handeling van die huur boere beskryf as dat hulle die erfgenaam gegryp en uit die wingerd uitgegooi het. Volgens Gundry kom Jerusalem met hierdie beskrywing van hul optrede weer ter sprake in die interpretasie van die gelykenis. Dit herinner aan Jesus wat buite Jerusalem uitgeneem is om gekruisig te word.

In vers 41 gebruik Matteus die meervoudsvorm vir tyd (tois kairois). Volgens Gundry gebruik Matteus dit as aanduiding van die “prolongation and regularity of fruit bearing by the church”. Die boodskap en onderrig aan die kerk van Christus in Koninkrykstyd is dat die dra van koninkryksvrugte nie ’n eenmalige saak is nie. Dit is kenmerkend, langdurig en gereeld.

Gundry wys op teenstrydighede by Matteus in vers 43. In die gelykenis is daar wel vrugte geproduseer, maar nie aan die eienaar gegee nie. Vers 43 impliseer egter dat geen vrug geproduseer is onder toesig van die Joodse leiers nie. Vir Gundry is hierdie teenstrydigheid bewys van Matteus se samestelling van die teks. “He has heightened the guilt of the Jewish leaders at the cost of a discrepancy with the parable.” ’n Ander teenstrydigheid in die vers hou verband met Matteus se gedagte dat die koninkryk van God verplaas word van die Joodse leiers na die nasie wat koninkryksvrugte sal produseer. Die wingerd verteenwoordig nou God se koninkryk. “Thus the church does not take the place of Israel as a whole, but of the Jewish leaders. The believing Jewish crowds melt into the throngs of believing Gentiles to form the new group of tenant farmers.” Vir Gundry bly die kronologie van die oordrag vaag. Enersyds verwys die afneem van die koninkryk, van die Joodse leiers af, asook die kerk se vrug-dra, na die verlede en hede. Andersyds wys Matteus se verwysing na Jesus se parousia (40), asook sy gebruik van Daniël se beeld ten opsigte van die laaste oordeel (44), na die toekoms. Op die manier druk Matteus die spanningsvolle dinamika uit van die alreeds en die nog-nie.

Gundry noem dat vers 44 nie in sommige van die belangrike manuskripte voorkom nie. Hy meen nietemin dat vers 44  se vreemde posisie na vers 43, en nie na vers 42 nie, eerder Matteus se komposisie van vers 43 bevestig. Die eerste deel van vers 44 verwys na Jesaja 8:14-15, spesifiek die steen van struikeling waaroor mense val en breek. Dit lei ’n nuwe gesegde in ná die invoeging van vers 43. “As a whole, v 44 adds an emphasis on the judgment of the Jewish leaders.” Kingsbury wys op die ironie van die verwerping van Jesus se boodskap deur die Joodse leiers. Deur hulle verwerping van Jesus se boodskap, verwerp die godsdienstige leiers die “evaluative point of view of God concerning Jesus’ identity”.

’n Moontlike invalshoek vir die prediking kan aansluit by Wright se samevatting van die gelykenis en Jesus se interpretasie daarvan. Wright sien dit as ’n storie met diepte, hartseer en krag. Dit vertel hoe Jesus in Jerusalem aankom om die huurboere te konfronteer met God se eis tot bekering sodat Israel kan wees waartoe hulle geroep is, naamlik die lig van God se wêreld. Dit is ook die verhaal oor hoe Israel deur haar amptelike verteenwoordigers Jesus se oproep tot bekering verontagsaam, om Hom uiteindelik dood te maak (vgl Senior).

Wright vra: Waarom dan die steen? Omdat die laaste koninkryk, die koninkryk van yster gemeng met klei, moontlik nie Rome was nie, maar vanuit Jesus se gesigspunt die brose alliansie tussen Herodes en die priesterhoofde. Miskien sal hulle wankelende koninkryk tot ’n val kom wanneer die steen uiteindelik op hulle neer kom. Voor die steen egter die belangrikste steen in die bouwerk word, moet dit eers verwerp word. Wanneer Jesus dié gelykenis vertel, is die tyd van verwerping nie meer ver in die toekoms nie. Jesus se identiteit as Seun van God is in Matteus nou verbind aan die verhaal van sy kruisiging: “Jesus claims that the reason his enemies want to kill him is that he is the Son of God” (M A Powell).

Preekvoorstel

’n Belangrike perspektief vir die prediking oor hierdie gelykenis is dié van L T Johnson, naamlik dat die sentrale tema in die gelykenisse in Matteus 18-22 een is van aanvaarding en verwerping, heenwysend na die eindbestemming van Jesus en Israel. “The parables of the two sons (21:28-30), the vineyard (21:33-43), and the wedding feast (22:1-14) all rather transparently indicate the rejection of those who reject Jesus and the transfer of the kingdom to others.” Johnson stel dat alhoewel die gelykenisse bedoel is vir die binnekringmense, en deur hulle verstaan word, dit nie slegs bedoel is om te troos en te versterk nie. Die gelykenisse rig ook ’n waarskuwing aan diegene wat reeds deel van die kerk/geloofs-gemeenskap is dat hulle keuse vir die koninkryk konstante vernuwing vra.

Die voordra van die gelykenis as deel van die prediking is belangrik. Die vertelling en intrek van die gemeente in die verhaal in, vra fyn beplanning. Soos Jesus die Joodse leiers intrek sodat hulle uiteindelik hulleself in die verhaal identifiseer, moet die prediker probeer om dieselfde effek te bereik met die gemeente in die banke. Wie is diegene in die gelykenis? Wat is die appèl van die gelykenis op hulle lewe? Wat is die koninkryksvrugte wat hulle moet dra? C J H Wright wys op die verrassingselement in die gelykenis: “. . . whereas the story would usually have been told in such a way as to have God eventually vindicate Israel and destroy all those external enemies who threatened his vineyard (as in Ps 80), Jesus tells it so that the real enemies of God, the owner of the vineyard, are those he has entrusted to look after it, namely the Jewish leaders themselves. And worse, he predicts that the owner will take the vineyard out of the hands of those original stewards and entrust it instead to ‘a people who will produce its fruit’ (Mt 21:43)”.

Die klem in die bespreking, onder “teks” en “konteks”, op die skuld en oordeel van die Joodse leiers, kan daartoe lei dat predikers die boodskap vir die gemeente en die toepassing daarvan op ons lewe vandag miskyk. Gundry se bespreking van die oordrag van die koninkryk na die Kerk en Matteus se meervoudsvorm vir tyd (tois kairois) in vers 41, is in die opsig ’n nuttige invalshoek. Die uitdaging aan gelowiges om koninkryksvrugte te dra word deur Gundry verwoord as die “prolongation and regularity of fruit bearing by the church”.

Vir die toepassing van die gelykenis op die lewe van die gemeente kan die prediker verder uitbou op C Wright se twee fokusse. Enersyds, Jesus se aankondiging van die einde van die monopolie wat die Joodse volk op die wingerd het. Ander sal ingeroep word om God in sy koninkryk te kom dien. Andersyds is daar slegs één wingerd en God se doel daarmee is dat dit vrug moet dra. Dit was die bestaansdoel van Israel. “God seeks people who will bear the fruit of lives lived before him in reflection of his own character of justice, integrity and compassion.” Israel het egter nie daarin geslaag om hierdie vrugte te lewer nie (vgl Jes 5:7). God soek dit nou van ’n groter groep huurboere (tenants; stewards). Hierdie “ander huurboere” verwys na die heidene wat deur God geroep word. Hulle sal egter nie in ’n ander wingerd van hul eie geplaas word om die eerste wingerd op te gee nie. “No, God’s plan is for his one and only vineyard – his own people. What is happening is the extension of its stewardship beyond the original Jewish ‘tenants’ to the wider world of Gentiles, who will achieve for God his original purpose – the fruit of the vineyard.”

Bibliografie

Du Rand, J 2003. Matteus, in Jan van der Watt (red), Die Bybel A-Z. CUM; Gundry, R H 1983. Matthew. A Commentary On His Literary And Theological Art. William B Eerdmans Publishing Company; Joubert, Stephan 2012. Ontsluit die Nuwe Testament. CUM; Johnson, L T 1986. The Writings of the New Testament. An Interpretation. SCM Press Ltd; Kingsbury, J D 1988. Matthew as Story. Fortress Press; Powell, M A Introducing the New Testament. A Historical, Literary, and Theological Survey. Baker Academic; Saldarini, A  J 2003. Matthew, in James D G Dunn & John W  Rogerson (Eds), Commentary on the Bible. William B. Eerdmans Publishing Company; Senior, D 1997. The Gospel of Matthew. Abingdon Press; Van der Watt, Jan, Barhuizen, Jan & Du Toit, Herman (reds) 2012. Interliniêre Bybel. Grieks-Afrikaans. Nuwe Testament. CUM; Wright, C J H 2006. The Mission of God. Unlocking the Bible’s grand narrative. IVP Academic; Wright, N T 2002. Matthew for Everyone. Part One. Westminster John Knox Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.