Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jeremia 4:11-12, 22-28
Ander tekste:  Psalm 14; 1 Timoteus 1:12-17; Lukas 15:1-10

Inleiding 

Die tekste weerspieël op ’n treffende manier die hart van die evangelie. Dit neem ons van die verdorwenheid van die mens en die werklikheid van God se oordeel (Jer 4 en Ps 14) na die onverdiende en die skoonheid van God se genade (1 Tim 1 en Luk 15). Mens kan nie anders nie as om die klemverskuiwing in die Nuwe-Testamentiese tekste raak te sien. Waar die mens se situasie hopeloos gelyk het, bring Christus hoop.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger:  Ons name is gegraveer in die hande van God.  Ons pyn en vreugde leef in die hart van God.
Ons word bevry van die mag van haat, selfsugtigheid en dood deur die liefde van God.
Gemeente:  Ons dank U, God van liefde!

Voorganger:  In ons oomblikke van opstand, is God geduldig.  In ons oomblikke van onafhanklikheid, is God getrou.  In ons oomblikke van onkunde en trots, is God verdraagsaam.
Gemeente:  Ons dank U, God van liefde.

Diens van die Woord

Skuldbelydenis na afloop van die Woordbediening
Lees Psalm 14:1-5a gevolg deur ’n oomblik van stilte
Gemeente:  Ek bely voor die Almagtige God en voor julle, my broers en my susters, dat ek gesondig het, in my gedagtes en in my woorde, in wat ek gedoen het en in wat ek nagelaat het om te doen; daarom vra ek, my broers en my susters, dat julle vir my sal bid tot die Here ons God. (Stilte)
Lees Lukas 15:1-10

Diens van die tafel

Voorganger:  By U vind ons rus, o God. U gee ons u asem en u beeld. U het ons op ons naam genoem met ons doop en U omvou ons in die omhelsing van u Moederliefde.
Gemeente:  Ons glo in U o God!  Ons loof U, want U soek en red die wat verlore is!

Voorganger:  In ons gebroke wêreld het Jesus saam met sy vriende geëet voordat Hy sy lewe vir almal gegee het.
Gemeente:  In Christus is ons versoen met God.

Voorganger:  Wanneer Jesus die brood breek, leer ons dat sy liggaam gebreek is sodat ons heel kan wees. In die wyn ontdek ons sy bloed wat vir ons die lewe bring.
Gemeente:  Ons is mense met gebroke lewens en verhoudings.  In u genade raak ons eregaste by u tafel van verlossing!

Uitsending

Voorganger:  Mag jy hierdie week weer opnuut ontdek waarvandaan jy kom, waar jy nou is en wat jou eindbestemming is. Mag jy weer ontdek waarvan jy bevry is, na Wie se beeld jy gemaak is én wat aan jou toevertrou word.  (Volg dit met die uitspreek van die seën.)

Musiek en sang

Toetrede/aanbidding: Flam 318 “Nader tot die Here”;  Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”;  Flam 12 “Meer as ooit”; Flam 60 “U liefdeslied vir my”
Lof: Lied 214 “Here, ons sal U loof”; Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser”; Flam 125 “Wat ’n liefde”
By die nagmaal of Antwoordlied: Lied 464 (veral v3); NSG 29 “O Heer my God”; Lied 510; NSG 273 “Genade onbeskryflik groot”;  Lied 514; NSG 288 “Ek weet verseker”; Flam 182 “Herder Heer”

Preekstudie: Jeremia 4:11-12, 22-28

Teks en Konteks

Walter Brueggemann skryf in die inleiding tot sy kommentaar oor Jeremia: “The book of Jermiah is reflective of and responsive to the historical crisis of the last days of Judah, culminating in the destruction of Jerusalem and the temple in 587 BCE. This crisis is the dominant and shaping event of the entire OT. The destruction evoked an extensive theological literature of which the book of Jeremiah is one major component” (1988).

Die geskiedenis (lees 2 Kon 23:28-25:30; 2 Kron 35:20-36:21). Juda was ’n buffer tussen Egipte en Babilonië. Die Judese leierskap het gepoog om met wisselende lojaliteit hulle eie posisie en vir Juda veilig te hou.

Die (nodelose, sien  2 Kron 25:20) dood van Josia in geveg met Egipte en die afsetting deur Egipte van Joahas ten gunste van sy ouer broer Eljakim (Jojakim), het die mense van Juda geskok. Jojakim was ’n ongewilde koning wat by die grasie van Egipte regeer het. Dit is verstaanbaar dat hy dus lojaal aan Egipte was. Nebukadnesar was, nadat hy die Egiptiese leër by Karkemis in 605 vC verslaan het, die volgende jare in beheer van Siro-Palestina. Jojakim se opstand gee Nebukadnesar geleentheid om in 597 vC Jerusalem binne te val. Jojagin, seun van Jojakim, gee oor en verhoed so dat Jerusalem geheel en al verwoes word. Hy en die elite van die Judese gemeenskap (die mandjie goeie vye van Jer 24), onder andere die profeet Esegiël, word in ballingskap weggevoer. Sedekia word koning, maar is ’n swak leier wat hom deur sy ministers laat beïnvloed om uiteindelik teen Nebukadnesar te rebelleer (hierteen waarsku Jeremia onvermoeid), met katastrofiese gevolge vir die hele Juda. Jerusalem word in 588 vC beleër en val in 587 vC. Die stad en tempel word vernietig en baie Jode word in ballingskap weggevoer. Gedalja word as goewerneur aangestel.

Ons kan ons moeilik indink in die uitwerking wat daardie gebeure op die mense van Juda gehad het. Die baie lyding in die wêreld het ons al afgestomp. Lees hier om iets te verstaan van mense se reaksie in sulke omstandighede.

Dit is volgens Brueggemann moontlik om die gebeure bloot in terme van Realpolitik te verstaan, naamlik: in terme van politieke en militêre faktore. Jeremia gee egter ’n alternatiewe perspektief, ’n teologiese verklaring vir hierdie gebeure. In ’n preek sal dit al ’n belangrike deel van die inleiding uitmaak. Volgens hierdie interpretasie sal Juda se bestemming uiteindelik nie bepaal word deur mag en geweld nie, maar deur die verbondswerklikhede van Jahwe se soewereiniteit en oormag.

Hierdie teologiese interpretasie bou op drie elemente wat die kern uitmaak van ’n verbondsverstaan van die historiese realiteit, naamlik:

1. Die heersende paradigma vir Jeremia is Israel se verbond met Jahwe, gewortel in die herinneringe en opdragte van die Sinaïtradisie

2. Daarmee saam bevestig Jeremia die Here se patos (medelye) en geduld met Israel. “The juxtaposition of covenant claim and pathos makes clear that God is, in the life of Judah, more complex, free, and less controllable than a simple scheme of retribution would suggest. It is this greater complexity in the character of God that the rich rhetoric of the book of Jeremiah seeks to articulate” (Brueggemann, 1988).

3. Jeremia se afwysing van die populêre koninklike-tempel ideologie wat gemeen het dat Israel onmisbaar is as draer vir God se plan en seën vir die wêreld, en dus onaantasbaar is.

Die struktuur van die eerste hoofstukke van die boek Jeremia.
Die eerste tien hoofstukke handel oor Jeremia se roeping (hfst1) en sy oordeelsprofesieë (hfst 2-10). Westermann sê dat die tempelrede (hfst 7) die kern vorm van Jeremia se skokkende boodskap, naamlik: dat valse vertroue Juda nie sal baat nie, dat die Here die tempel in Jerusalem soos Silo (verlate) sal laat word . Die rede hiervoor is dat hulle van die tempel `n rowerspelonk gemaak het. “In other words, they wanted to protect their wicked lives through their worship in the temple just as a robber protects his loot in his den.”

Kenmerkend van Jeremia se boodskap is 2:1-13. Daarin beskuldig Jeremia die trouelose volk dat hulle ten spyte van al die seëninge wat hulle van die Here ontvang het, Hom geruil het vir nuttelose gode. Hulle word opgeroep om terug te keer na die Here en hulle te bekeer. Ons skrifgedeelte is deel van die afdeling wat aan die tempelrede voorafgaan (4:5-6:30) en handel oor die gevaar wat van alle kante dreig, veral uit die noorde. “In 4:5-29 the approach of the enemy from the north (cf. 1:14b) is described in a poem that has the style almost of a ballad. He depicts the departure of the enemy: ‘A lion has gone up from his thicket, a destroyer of the nations’ (v.7), then the panic he arouses, the headlong flight into the fortified cities, the enemy advance up to Jerusalem, the capital city. Chs. 5:5-17, 6:1-8, 22-26 deal also with the adversary from the north. It was the task of the prophet not only to announce judgement. He was commissioned to do everything that might lead to a change of heart.” (Westermann). Jeremia moet vasstel of daar nog mense is wat hulle vertroue in die Here stel (5:1-6; 6:9-15, 27-30).

Meer detail oor Jeremia 4:5-31.
Vers 5-8. Die vyand uit die noorde. Die doel van hierdie verse is om by die hoorder die besef te wek dat die gangbare godsdienstige en politieke projek op sy laaste bene staan. Die metafoor van die leeu maak dit duidelik dat “The army may be Babylonian, but the real agent is Yahweh” (Brueggemann, 1988:51), met verwysing na Jeremia 4:8 en Hosea 5:14-15.

Vers 9-10. Hierdie verse is nadenke oor die nuus van vers 5-8. Dit is asof Jeremia in vers 10 die kant van die amptelike teologie inneem, die gebed is dalk ’n stuk ironie.

Vers 11-18. In die inleiding (11, 12) word  die wind as metafoor vir vernietiging gebruik en nie as instrument van suiwering gesien nie. Daarna word die vrees-aanjaendheid van die vyand beskryf en Jerusalem weer opgeroep tot bekering. Die vyand is egter aan die kom en dit nie toevallig nie, maar as gevolg van die volk se rebellie teen die Here .

Vers 19-31. In hierdie gedeelte gebruik Jeremia vyf metafore opeenvolgend:

  • Persoonlike angs en ontwrigting as gevolg van die invallende leer (19-22).
  • Die chaos en verlatenheid van die skepping (23-28).
  • Almal vlug holderstebolder (29).
  • Die prostituut se verleidelikheid het sy krag verloor (30).
  • Die doodskreet van `n vrou in kraam (31).

“The extreme images all point to the stunning assertion that death is coming in Jerusalem soon. The metaphors are to be understood with powerful concreteness, yet they all point beyond themselves to this overriding fact of the historical crisis of Jerusalem” (Brueggemann, 1988:54; Vir nog meer inligting sien Van Zyl se preekstudie in Preekstudies 2006/7, 274-276).

Afbakening van die gedeelte vir prediking.
Ek dink mens moet die hele gedeelte verreken in jou preek, maar daarbinne kan jy besondere klem lê op vers 11-12 en 22-28, dalk in aansluiting by die seisoen van die skepping.

Vir nadenke.
W.A. de Klerk skryf in sy boek Buite die Raamwerk oor die Idee as deel van die samestelling van ideologie.

Ek haal daaruit aan:
“Een van die vreemdste kenmerke van die Idee is sy vermoë om hom voor te doen . . . as nabootsing van die evangelie. Ons lei dit al dadelik af van die vleeswording van die Idee: die Heilige Koei.
“Maar die Koei hoef natuurlik nie koei te wees nie. Die Koei is dikwels . . . Denkbeeld, Gedagte, Beleid, Plan. Oplossing vir die Lewe, die Antwoord . . . Program van Beginsels, Ons Waardes, Ons Norme . . .” (5).
“Die Idee is ons idolatrie” (7).
“Die idola is almal raamwerke, heroïese ingenieurskonstruksies” (55).
“Iedere Idee word oplaas ’n dwingeland” (9).
“Met die oog op sy finale heil moet ’n onwillige wêreld met ’n suiwere wil altoos na die Idee gebuig word” (10).
“Die Idee is ook bekend as Legio, want hy is baie.”
“Etnies kan die grond-Idee wees: Ras, Volk, Nasie . . .”
“Maatskaplik, polities, ekonomies kan die grond-Idee wees . . .”
“Die grond-Idee as Gees en Intellek kan wees: die Wysbegeerte, die Wetenskap, die Sielkunde, die Kuns, die Rasionalisme . . .” (23).
“Die mooiste vrug van die Idee is sy alomvattende Vrede. Maar vrede is, hoe begeerlik ook al, nie die boodskap van die evangelie nie . . . Want vrede is die Vrede van die geslote stelsel wat die inkarnasie van die Idee is. Wat die evangelie betref: dit het niks te doen met die Vrede van die raamwerk nie, maar het alles te doen met die skeppende wrywing van die vleesgeworde Woord” (27/28).
“As ek sekerheid in my eie onsekerheid vind, is daar nog hoop vir my. As ek sekerheid rasioneel konstrueer uit angs vir die Onbekende, dan moet ek wat menslik en beperk is, verhef tot finale gesag” (53).
“. . . die Idee as finale gesag kan nie anders nie: dit moet op die duur groei tot pseudo-kerk” (64).

Preekvoorstel

Mens kan jou liederlik misgis. ’n Groep mense kan hulle katastrofaal vergis omdat hulle mekaar in hulle vergissing versterk, in hulle kwaad sterk omdat hulle ’n groep vorm teen die werklikheidsbesef. Ons kry in Jeremia se situasie ’n voorbeeld hiervan. Die politieke en militêre situasie is plofbaar en menslik gesproke onvoorspelbaar. Tog waag die leierskap van Juda en baie saam met hulle, om hulle hoop te vestig op Egipte. Hulle meen hulle politieke en ekonomiese heil lê daar. Nou moet hulle by Jeremia hoor dat die vyand uit die noorde op pad is om hulle land te kom verwoes. Die toekoms word nie net bepaal deur politieke en ekonomiese magte en diplomatieke wysheid nie. Hiermee wil Jeremia hulle wakker laat skrik uit hulle selfversekerde waan van veiligheid en vrede, wil hy deur hulle heroïese gepantserde illusie van die toekoms breek, om hulle met die dreigende werklikheid van die onbedoelde gevolge van  hulle leefwyse te konfronteer en om die teologiese (ideologiese) denkraamwerk wat vir hierdie leefwyse borg staan aan die kaak te stel.

Dalk is dit vergesog, maar Jeremia herinner my in hoofstuk 4 in toonaard aan Marlene van Niekerk se brief  aan SA. Hier volg ’n paar uittreksels. Juda van destyds is nie eeue en duisende myle verwyder van ons omgewing nie. ’n Mond vol wilde brame Suid-Afrika (Vry na Allen Ginsberg se “America”):
Suid-Afrika, ek was ’n kind met ’n mond vol wilde brame
langs die Riviersonderend, nou het ek borrelsiekte
van aanmekaar wegvlieg met Lufthansa.

Suid-Afrika, nevermind my koolstofvoetspoor
en die kaalslag van riviere en fynbos,
die vis wat witpens bo dryf in die Vaal,
die bloeiende renosters onder Toet en Pronk se lemme –
vir jou is ’n kadawer
nie eers die naamkaart aan haar groottoon werd nie . . .

Suid-Afrika, ek vra, wanneer gaan jy jou weerloses begin eer?
Dis óf eerbetoon óf die onbruikbares fynstamp vir bemesting –
want nie alles kom uit die myne nie.
Bog met jou spektakulêre Sweedse handves en engelvrome eks-bevryders,
jy begoël jouself alweer met die wette van ’n polities korrekte god.
Ek is moerig, moenie met my sukkel nie…….

Suid-Afrika, wanneer gaan jy jou handves menseregte uitvoer na Tibet?
Of is jy nou chaaina net met China?
Soos destyds die boere met Stroessner?
Ek is siek van jou skandes, geslag op geslag…..
Kyk my aan, Suid-Afrika, ek praat met jou,
ja, jy daar in Tamboerskloof en Oranjezicht,
gaan jy jou emosionele lewe
laat oorneem deur Ina Paarman en His People?
His People en deur Huisgenoot?
Jy maak vir jou helde, my land,
van Springbok-muffdivers…
Ja, Suid-Afrika, jy praat aanmekaar oor lynstane,
oor lynstane en hupstote en wors,
oor high impact worship.

Suid-Afrika, jou kerke is aerobics arenas,
en jou erfenis is wors, is ’n gebraai in agterplase,
en ’n gevreet, jy is obees van kulturele honger….
jy maak nie meer poeding van ou brood nie,
jy moer dit weg, net jou diewe benut jou skroot,….

Suid-Afrika red wat verlore gaan en soek die wat sterwe.

Suid-Afrika sorg vir jou perlemoen.

Suid-Afrika biskop Verryn vang in sy aarde-arms die families Xenos
uit Zimbawe, uit Somalië, uit Ghana, uit Nigerië…….

Suid-Afrika, jy het die hele Knersvlakte tussen Laingsburg en Colesberg
vir windkrag en sonkrag, maar jy smyt liefs ’n vliegskroef in Koeberg.
Jy is so verbeeldingloos dis apartheid se skuld.
Jy kan nie dink nie dis Verwoerd se skuld…….
jy lees nie, jou kabinet is wars van koerante, jy het nie ’n clue
van jou eie geskiedenis nie, jy mis die hele konteks
van transnasionale kapitalistiese plunder waarin jy klakkeloos meedoen
met jou nuutverworwe stertvere van fingerlickin’ rainbow chicken.
Want jy is mos hulpeloos, ’n slagoffer, jy verlustig jou in jou misdeeldheid….

Suid-Afrika, dis oor jou snoet te diep in die trog is.
As jy opkyk, is jou ogies klein.
Jy is hulpeloos! roep die Wêreldbank.
Ug og roep jy terug, ugge ogge, ja, tekortgedoen, tekort en hulpeloos
en jy breek uit hulpeloosheid als wat jy begeer, skole, hospitale en toilette……
Suid-Afrika, ons weet jy wil dit doen (alweer!) in openbare belang,
jou media op-strap en jou boekhouding wegsteek,

Suid-Afrika, ja, dis die koerante, dis hom joernalis, dis hom rassis
wat jou privaatheid, jou reg op geheime uit die doofpot wil doen……
jy lag in die parlement hee-hee-hee as hulle
kla oor jy jou buti’s en sisi’s saamsleep in die staatswag na Indië, na Liberië,
na die speknek Guptas, na Gaddafi om kontrakte te sluit, vir myne, vir olie, vir propaganda,
jy sien nie jou krotte nie, jy tel nie jou grafte nie, jy eer nie jou gogos nie….

Ons in Suid-Afrika is ewe vasgevang in ons raamwerke van Idees, raamwerke wat ons isoleer van ander, van lyding, raamwerke waarmee ons sin probeer skep, sin wil gee, behou. Raamwerke waarmee ons ander wil beheer. Raamwerke wat mag legitimeer op grond van lyding in die  verlede, op grond van ekonomiese vermoë, raamwerke wat besluite neem op grond van ekonomiese voordeel (die Dalai Lama kry nie `n visum nie, want China sal aansoot neem), raamwerke wat inligting wil beheer, raamwerke wat verskillende ekonomiese stelsels kanoniseer (“transnasionale kapitalistiese plunder”) en uiteindelik tog maar almal lyk asof dit die gierigheid verskans, raamwerke wat die versorging van die self as vanselfsprekend veronderstel en so sou ek kon aangaan. Hierdie raamwerke word veilig gestel met godsdienstige legitimering. Julius Malema het op Sondag 23.10.2011 seën ontvang van ’n kerk in Heidelberg vir sy betoging vir ekonomiese bevryding.

Ons leef in ’n wêreld vol nood, namelose lyding, grootskaalse vernietiging en ons skuil gepantser agter mure, ontvlug in onkundige ontspanning, kyk afgetrokke (soms dalk leedvermakerig) na beeldmateriaal van hierdie nood en wag ongeduldig vir die nuus oor die nuwe Springbokafrigter, die beurspryse interesseer ons meer as die broodpryse, ons raak meer emosioneel oor sportuitslae as oor mense wat van honger sterf, 13-11 (geseënd is diegene wat nie weet dis ’n rugbytelling nie) raak ons dieper as  9/11, ons baai in ons weelde om tog nie Jeremiaans te raak oor die toekoms nie.

Jeremia ontmasker hierdie raamwerke as vorme/ voorbeelde van hoe ons God inruil vir ander gode, as vorme van verbondsbreuk, as verraad teenoor God, maar ook teenoor die aarde waarop ons leef, as wegdraai van God wat ons seën. Jeremia wys op die gevolge van Juda se dade vir die aarde waarop hulle woon.

As die ondenkbare dan as voor die deur aangekondig word, is daar vir Jeremia se hoorders verskeie kognitiewe reaksies  moontlik: Hulle kan dink Jeremia is alarmisties en vergis hom;  hulle kan Jeremia glo en tog dink God sal nie toelaat dat so iets  met Juda  gebeur nie;  hulle kan Jeremia glo en meen hulle het hulle met God misreken, God het eintlik nie woord gehou nie (10b); hulle kan Jeremia glo en besef die Here is nie so voorspelbaar soos die God van hulle waanwêreld nie. Die mense van Juda  reageer op eersgenoemde wyse. Jeremia word as spelbreker beskou.

Op ’n emosionele vlak is daar woede teen Jeremia. Hy versteur die rustigheid van hulle bestaan. Hy bring die raamwerk wat hulle met sorg geskep en in stand gehou het onder verdenking. Hy laat hulle – dalk net heimlik – twyfel aan die sekerheid wat hulle so versin.

Die mens probeer altyd weer sin maak van die lewe en van die pynlike en onverwagse (so sê ons) dinge wat die lewe meebring. Die godsdienstige mens probeer hierdie dinge rym met wat hulle van God weet of dink hulle weet. Een manier vir die godsdienstige mens is om die pynlike te verstaan as ’n wind wat waai en bygevolg die koring wan. Die graan van die kaf skei. God is besig met suiweringswerke. ’n Bruikbare wind, meen diesulkes.

Ons teks waarsku egter. Daar is ook ’n ander soort wind, ’n gloeiende wind, die wind in sy volle krag wat nie die koring skoon waai nie, maar wat die oes tot niet waai, die wind as God se  oordeel nou. ’n Vernietigende wind.

God het die kosmos so lief dat Hy sy Seun stuur. God gee om vir die skepping wat sug, vir waterbronne wat kreun onder die las van produksie en onder die las van ineptokrasie, God gee om vir die weerloses, hulle wat kreun onder die las van ander se gierigheid en onder die las van ander se korrupsie . . . Hy sal hulle bevry. Jesus kondig die nabyheid van die koninkryk van God (dit is meer as ’n raamwerk, dit is ’n werklikheid wat alle raamwerke relativeer en deurbreek) aan, en roep tot bekering . . . mens kan  sy woorde  hoor eggo in al die waarskuwings na weerskante, na links en na regs, na die parlement en na die braaikamer, na die polities-gedienstiges onder ons  en na diegene wat polities-apaties is. Soos God die Seun gestuur het, stuur die Seun vir ons ter wille van die kosmos.

Ons moet ons bekeer uit ons gepantserde illusie wat die toekoms betref, uit ons roetines van apatie en selfbeskerming, uit ons ontvlugtende  ontspannings-wyses. Ons moet opnuut leer by die Gees om die kosmos lief te kry en die weerloses te beskerm en sodoende terug te keer na die God van ons heil.

Bibliografie

Brueggemann, W 1977. The Land (Place as Gift, Promise, and Challenge in Biblical Faith). Philadelphia: Fortress Press; Brueggemann, W 1988. Jeremiah 1-25 (To Pluck Up, To Tear Down). ITC. Grand Rapids: WM. B. Eerdmans, 1988; De Klerk, W.A. 1968. Buite die Raamwerk. Nasionale Boekhandel; Van Niekerk, Marlene: ’n Mond vol wilde Brame, Die Burger, BY, 2010-10-06; Van Zyl , Danie: Preekstudie oor ons teks in Preekstudies, 2006/7, Buvton; Westermann, Claus 1967. Handbook to the Old Testament. London: SPCK.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.