Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Tydens Koninkrykstyd vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. In God se koninkryk is genade en gehoorsaamheid twee karperde wat saam trek. Die genade van gehoorsaamheid, vergifnis en vryspraak is die resultaat van wat Christus gedoen het en elke dag vir ons doen.

Ander tekste

Eksodus 33:12-23
12Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

1 Tessalonisense 1:1-10
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus.
Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense
2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

Fokusteks

Eksodus 32:1-14
Die goue kalf
32 Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ’n beeld in die vorm van ’n bulkalf gemaak.
Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ’n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met ’n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf, 16en dit was die werk van God. Dit was ’n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18Maar Moses het gesê:
“Dit klink nie na oorwinning nie,
dit klink nie na neerlaag nie,
wat ek hoor, klink na feesviering.”

19Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. 20Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’24Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle ’n spot by hulle vyande geword het, 26het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”
Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

27Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. 32Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. 34Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35Die Here het die volk met ’n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

Liturgie

RUS

Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aaanvangswoord
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig. (Ps 99)

Groet
Aan die gemeente van …………………..wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle! (1 Tess 1:1)

Loflied: F195 “U o God wat ewig op die troon is 1, 2”

Verootmoediging
Die volgende stellings word gemaak in die preekskets ahv die fokusteks in die Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2011 en in die onderstaande preek:

Wat die volk Israel hier in Eksodus 32 doen, is om self te kies hoe hulle God wil aanbid…
In hulle harte wou hulle nie teen God draai nie, hulle wou nie van Hom vergeet nie, hulle wou net die Here aanbid op ’n manier wat vir hulle lekker is.

Daarom is dit dalk ‘n goeie geleentheid om weer die Wet van God voor te lees, waarin die lewende God aan Sy volk riglyne gee hoe Hy gedien wil word. Dieselfde wet wat Moses toe met die kalf-episode flenters gegooi het… (Eks 32:19)

Eksodus 20

Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skuldbelydenis: Lied 275 “O God van Jakob deur U hand 1,3,5”

Dieselfde tema elders in die Ou Testament
Deuteronomium 4:1-2 ()
Gehoorsaam die Here!
4 “Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin

ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. 2Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.

Jesus in die Nuwe Testament
Johannes 13:34-35 ()
34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Johannes 15:4-5 ()
4Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Toewyding: (U kan ook hier gebruik maak van Psalms 106:19-23)

Lied 274 “Leer my soos Henog met U wandel 1,2”

HOOR

Epiklese

Skriflesing: Eksodus 32:1-14

Predeking

LEEF

Gebed

Geloofsbelydenis: Apostoliese Geloofsbelydenis

Wegsending: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3”

Seën:Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Musikale Amen: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1978 Bob Kilpatrick Ministries

1. Met ons lewens wil ons U eer, Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

2. In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

3. In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

4. In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Dis belangrik dat kinders die Bybel self leer ken, nie noodwendig allerhande morele lessies nodig. Vertel gewoon die storie!

Inkleurprent: http://belindamooney.suite101.com/aaron-the-golden-calf-coloring-a21796
Gebruik geel klei, laat die kinders kalwers maak, laat hulle die kalwers stukkend gooi!
Kleiresep: 2 koppies meelblom; 2 koppies water; 1 koppie sout; 2 eetlepels kookolie; 4 eetlepels kremetart; Koekleursel
Meng al die bestandele goed. Kook in ‘n kastrol oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word, tot styf. Voeg koekkleursel by, indien verkies en knie vir 1 – 2 minute tot glad. Bêre in lugdigte houer. Moenie meer as een mengsel gelyk maak nie. (Met erkenning aan Rethie van Niekerk)

Alternatief: Die newe tema (soos behandel onder verootmoediging in die liturgie) het te doen met ‘n volk wat kies om die Here te dien volgens hulle voorkeur, in dié geval deur die konstruksie van ‘n visuele, goue kalf.

Presies dit was die rede waarom die Here vir Ussa met die dood getref het toe Dawid die eerste keer die ark na Jerusalem wou bring. Dawid het gereël dat die ark sommer op ‘n wa vervoer word ten spyte van Eks 25:14 en Num 4:15. (Die tweede keer sou hy hieraan gehoor gee, sien 2 Sam 6:12b vv).

Dramatiseer die verhaal soos in 2 Sam 6 om by die punt uit te kom dat ons God moet dien soos Hy wil hê en nie sommer soos ons dink nie.

Preekriglyn

How far you go in life depends on
your being tender with the young,
compassionate with the aged,
sympathetic with the striving, and
tolerant of the weak and strong.

Because someday in life
you will have been all of these.
— George Washington Carver

Hoe groot die liefde van God is

Hierdie paragraaf verbeeld op ’n hartseer maar uiteindelik verrassende wyse hoe groot die liefde van God is en hoe groot sy geduld met sy volk is. Pas nadat Hy hulle uit Egipte gered en met hulle ’n verbond gesluit het om sy genade kontraktueel vas te maak tot hulle voordeel, het Hy hulle reeds in Eksodus 20:23 baie duidelik verbied om afgode te maak of om ’n beeld van Hom te maak.

Hier sien ons egter die onverwagse, die onmoontlike: dat hulle afvallig word van God en ’n beeld maak en dit nie net aanbid nie, maar vir die beeld sê dit is hy wat hulle uit Egipte gered het. Hierdie was oorgenoeg rede vir God om te doen wat Hy in vers 10 wou doen, om sy volk te los, hulle af te sny of te verdelg, ‘n nuwe volk te skep, met hulle aan te gaan en te seën en hulle te gebruik as sy uitverkore volk wat aan die wêreld moet wys hoe groot sy liefde en genade is.

Dan lees ons dat sy hart weer sag word, Hy hulle vergewe en besluit om tog maar saam met hulle te gaan en hulle te lei tot waar hulle moet wees. In hierdie gedeelte is daar 13 verse wat vertel van die volk se afvalligheid en God se regverdige toornige reaksie op hulle sonde, 13 verse wat lyk of dit die einde van die pad is wat God met Israel loop, wat die einde van Israel sou beteken, en die einde aan ons hoop op verlossing vir die wêreld.

In die veertiende vers is daar ’n ommeswaai wat nie net die hele gebeure balanseer nie, maar dit omkeer, ter syde stel (override) en die oortreding uitvee asof dit nooit daar was nie. God vergewe hulle en later sê Hy dat Hy tog wel saam met sy volk sal trek. Dit illustreer op ’n baie praktiese wyse dat God se genade veel groter is as die sonde wat ons as mense kan doen.

Hoe het dit gebeur?

Hoe het dit gebeur? Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge kon plaasvind?

Die volk van God het baie gou vergeet van die genade wat God aan hulle bewys en die wette wat Hy gevra het hulle moet gehoorsaam omdat hulle dankbaar is daaroor. God roep vir Moses om Hom op die berg te ontmoet en sy wette te gaan ontvang, die wette wat die riglyne is van hoe die volk van God moet lewe.

Toe Moses ’n bietjie lank wegbly, wys die volk gou hulle gesindheid. ’n Ma wie se dogter verdwaal het, sal nie na een dag se soek, tou opgooi nie, sy sal aanhou soek totdat sy haar dogter kry. Die feit dat die volk so gou vir Moses afskryf en nuwe gode soek, wys dat hulle nie in hulle hart die Here se liefde verstaan of aanvaar het nie. Hulle gee Aäron opdrag om vir hulle ’n beeld te maak sodat hulle die beeld kan aanbid.

Dit lyk nie of Aäron lank gedink het oor die saak nie. Hy sê dadelik hulle moet hulle oorringe en juwele bring en dan maak hy vir hulle ’n afgod. Miskien het hy toe later besef dit is ’n verkeerde ding wat hulle nou besig is om te doen, en hy probeer om hulle afvalligheid kleiner te maak. Ons sal sê hy beoefen breingimnastiek. Hy rasionaliseer. Hy sê dat hulle nie ’n ander God aanbid nie, hulle aanbid die afgodsbeeld as ’n verteenwoordiger van die Here, hulle aanbid die Here deur die beeld.

Aäron bou toe ’n altaar vir die Here en sê vir hulle: Môre vier ons ‘n fees vir die Here. Aäron het nog probeer dat hulle nie die Here vergeet nie, maar Hom net op ’n ander manier aanbid. Toe die volk begin om fees te vier, het hulle begin eet en drink en wild partytjie gehou. Alle verering van God was vergete, hulle sondige natuur het oorgeneem en hulle het so hard geraas dat Josua en Moses dit op die berg kon hoor.

Toe Aäron sê hulle moet ’n altaar bou voor die bulkalf, het die volk dit aanvaar en hulle het dit gedoen. In hulle harte wou hulle nie teen God draai nie, hulle wou nie van Hom vergeet nie, hulle wou net die Here aanbid op ’n manier wat vir hulle lekker is. Hulle wou nie ophou met hulle diens aan God nie, hulle wou net self die reëls kies wat hulle pas, reëls wat hulle toelaat om te doen wat hulle wil, terwyl hulle die Here dien. Daarom aanvaar hulle Aäron se voorstel om ’n fees vir die Here te hou, solank hulle net kan sê hoe die fees moet wees.

Ons eie beeld van God

Wat ongehoorsame mense vandag ook graag doen, is om in hulle gedagtes ’n beeld te maak van hoe hulle dink God behoort te wees. Nie soos wat Hy Homself in sy Woord openbaar nie, maar soos wat Hy volgens ons rede en beginsels behoort te wees. Nie ’n God wat wreed is of praat van straf of verkiesing of oordeelsdag nie. Daar is baie verhale en wette en gelykenisse wat vir ons presies verduidelik hoe God is en hoe Hy dink. Dit is hoe God wil hê ons moet Hom ken en hoe ons Hom moet dien en aanbid. Nie op ’n manier wat ons self goeddink of ’n manier wat vir mense logies of aanvaarbaar lyk nie.

Enige verandering wat ons aanbring aan hoe God Homself aan ons voorstel, is ’n beeld van God en nie sy eie openbaring soos wat Hy in die Woord vir ons afgeskilder is nie. Dit maak die verantwoordelikheid soveel groter om die Bybel in konteks te verstaan, te verstaan wat die Here vir ons in elke situasie wil sê, dat ons nie die Woord oppervlakkig moet lees en verkeerde afleidings maak of die tydelike en kulturele omstandighede waarin die boodskap toegedraai is, as die openbaring en die boodskap sien nie. Ons moet met groot respek die Woord beluister en daarin sien hoe God is, en dan daardie boodskap vertaal vir ons omstandighede vandag en dit aanvaar, glo en gehoorsaam, sodat ons vir God kan wys dat ons Hom en sy Woord respekteer en dankbaar is omdat Hy ons verlos het en ons Here wil wees.

Om die verbond op te skeur

Wat die volk Israel hier in Eksodus 32 doen, is om self te kies hoe hulle God wil aanbid, en daarom ook hoe God is. Dit nadat Hy hulle uit Egipte verlos het. Hulle het in praktyk die verbond geneem wat God met hulle gemaak het, dit opgeskeur en gesê ons is klaar daarmee. God aanvaar dit toe so. Hy sê vir Moses: Die volk het my verbond opgeskeur, Ek gaan hulle nou los. Ek gaan vir my ’n nuwe volk begin, ’n volk wat na My sal luister, wat my liefde sal uitdra en vir die wêreld sal wys.

Moses pleit vir die volk

Moses besef wat dit beteken en hy sê: Nee Here, U kan dit nie doen nie. U kan nie u volk los nie. Moses pleit by die Here. Hy vra baie mooi dat die Here hulle moet vergewe en weer ’n kans moet gee. Moses kan nie vir God sê Hy moet kyk hoe ’n mooi volk dit is nie, dat Hy kan kyk na iets wat hulle goed gedoen het of iets wat hulle het nie. Nee, as Moses pleit by die Here om sy volk weer op te tel en hulle te vergewe, is daar drie dinge wat Moses vir die Here sê, en al drie dinge wys hoe goed God is:

(1) U het hierdie volk verlos uit Egipte, en U het hulle aangeneem om u volk te wees, hoe kan U hulle nou los? As U iets begin, verander U mos nie. U is God. Asseblief, moenie hulle straf nie, vergewe hulle.

(2) Moses gaan verder en hy sê: Here, as U nou u volk los, sal die Egiptenare die volk van God spot, hulle sal die Naam van God spot.

(3) Laastens sê Moses vir die Here: U het u belofte gegee. U het ’n verbond gemaak met Abraham, Isak en Jakob. Asseblief Here, vergewe hulle sonde en aanvaar hulle weer.

Amper, amper

Dit is belangrik om te weet dat die verkiesing en ooreenkoms met Israel as volk amper hier gestop het. God het hulle amper hier afgesny en weggegooi. Hy het gesê Hy sal nie weer jammer wees vir hulle nie. Tog doen Hy dit. Sy hart is sag wanneer Hy dink aan ons, want sy liefde vir mense is baie groot. En God vergewe sy volk. Hy besluit om die prys te betaal om sy mense te red.

Is ons anders?

Is ons vandag regtig baie anders as die volk van God daar by die berg Sinai? Klaarblyklik verskil die soort van sonde of die mate van afvalligheid dikwels met dit waarvan ons in Eksodus 32 lees. Is ons sonde in wese anders? Is dit nie óns waarvan die Bybel hier praat nie?

Die enigste uitkoms uit ons ellende is dat God ’n genadige God is, ’n God wat ons nie net gemaak en verlos het nie, maar ’n God wat ook elke dag by ons is en graag ons koudheid en afvalligheid wil vergewe, sodat ons liefde vir Hom so groot sal word, dat ons al hoe minder verkeerde dinge doen, en al hoe meer die Here se hart sal bly maak.

Hoe verander God se genade ons?

Ons leef en bestaan deur die genade van God. Dit is deur God se genade dat ons sonde vergewe is en ons deel van God se volk gemaak is.

As mense wat self genade ontvang het, koester ons nie wrokke teen ander nie, maar vergewe ons self ook. Selfs waar ons bitter teleurgestel word, vergewe ons.

God se genade leer ons begrip hê vir ander. In ander se tekortkominge erken ons ons eie gebrokenheid. Hoe meer ons bewus raak van hoeveel ons vergewe is, hoe meer kan ons liefhê.

Op hierdie manier volg ons God, ons Here en Verlosser na. Só het God Godself aan ons openbaar.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.