Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die grootheid van God en dat mense vir Hom eerbied en ontsag moet hê loop soos ‘n goue draad deur al hierdie tekste. Gehoorsaamheid, wat ware geluk bring, groei uit eerbied.

Die liturgie moet dus gekenmerk word deur ontsag en eerbied en ‘n soeke na Jesus.

Ander tekste

Eksodus 20:14, 7-9, 12-20
Die tien gebooie

(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die volk vra Moses moet liewer met hulle praat
(Vgl Deut 5:22–23)
18Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op ’n afstand bly staan.

19Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”

20Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”

21Die volk het op ’n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.

Psalm 19
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Fokusteks

Matteus 21:33-46
Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Mark 12:1–12; Luk 20:9–19)
33“Luister na nog ‘n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was ‘n grondbesitter wat ‘n wingerd geplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense ‘n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ‘n wonder in ons oë.

43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ‘n profeet beskou het.

Ekstra stof

Matteus begin met hoofstuk 19 ‘n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25).

Matteus vertel hier verhale van Jesus se interaksie met die Joodse leiers asook die dissipels wat die waardes van die koninkryk uitspel in terme van vyf aspekte: die huwelik en egskeiding (19:1-12), die status van kinders (19:13-15) die rol van rykdom in die lewe van dissipels (19:16-30), die dienende karakter van leierskap (20:20-28) en die Groot Gebod (22:34-40).

Jesus gebruik ook twee simboliese handelinge om die waardes van die koninkryk verder tuis te bring. Hy reinig onder ander die tempel om werklik ‘n huis van gebed te wees (21:12-17), en vervloek die vyeboom wat aan die eenkant die doodsheid van die Joodse leiers simboliseer en aan die anderkant die krag van geloof aan die dissipels demonstreer (21:18-22).

Hy troef die Joodse leiers in ‘n gesprek oor sy gesag (21:23-27) en later ook oor belasting (22:15-22). Tussendeur kondig Jesus vir die derde keer sy kruisdood en opstanding aan vir die dissipels (20:17-19) en tree ook een keer met die Sadduseërs in gesprek oor die opstanding, iets wat hulle natuurlik per definisie ontken (22:23-33). Daardeur bevestig Hy sy identiteit as die Christus, soos ook eksplisiet uitgespel in die vraag van Jesus – interessant genoeg! – aan die Fariseërs (22:41-46).

Jesus vertel ook vier gelykenisse wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel in terme van wie eerste is en wie laaste (20:1-16) en wie werklik die wil van God die Vader doen (21:28-32) en uiteindelik die bose bedoelings van die Joodse leiers aan die kaak stel met die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46 – volgende week se gedeelte) en dat hulle die koninkryk verbeur met die gelykenis van die bruilofsfees (22:1-14).

Matteus vertel ook hier een genesingsverhaal, die genesing van twee blindes, wat simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas is en ironiese kommentaar is op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle Hom eien as: “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea“.

Hoofstuk 21
Jesus arriveer uiteindelik in Jerusalem vir die volvoering van sy roeping – sy lyding, kruisdood en opstanding – soos Hy nou al drie maal duidelik aan die dissipels gekommunikeer het.

Matteus fokus in hoofstuk 21 op:

  • die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11);
  • die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17);
  • die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22) as inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat handel oor drie wesenlike sake:
    • Jesus se gesag (21:23-27);
    • Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders (21:28-32);
    • Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46).

Die gesprek met die Joodse leiers oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46)
Jesus volg die gesprek oor gehoorsaamheid op met hierdie gesprek oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd. Hy verwoord hiermee eintlik die hele lang geskiedenis van teenstand teen God wat die Joodse leiers telkens gewys het in hulle hantering van die profete wat God gestuur het. Dieselfde, sê Jesus, gaan met God se Seun gebeur. Duideliker kan dit seker nie – die gelykenis spel letterlik die geskiedenis uit wat binnekort voltrek sal word!

Die verdere implikasies wat Jesus dus hiermee uitspel, kan nie langer misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee. Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat werklik in Hom glo.

Die Jode maak die fout, sê Jesus hiermee, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak. Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het – weereens gegrond op ‘n aanhaling uit Ps. 118:22-23 (soos Lukas en Petrus ook in Hand. 4:11 en 1 Pet. 2:7 sal doen). Hoe tragies.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Verootmoediging
Wet

Skuldbelydenis: Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Vryspraak
Voorneme om te lewe

Lofliedere
Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Epiklese gebed: ahv Psalm 19

Skriflesing: Matteus 21:33-46

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie

Offergawes

Wegsending: Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
Voorganger: Om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde.
Gemeente: Al wat ons wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, in die verwagting dat ons self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (uit Fil 3).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Seëngroet
Aan almal in ………………………………… wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Fil 1)

Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Verootmoediging

Wet
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,
10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
(Eksodus 20)

Skuldbelydenis: Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Vryspraak
Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. (Uit Filippense 3)

Voorneme om te lewe
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Lofliedere
Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”
Lied 209 “Heer met my hele hart 1″

Liedere

F12. “Meer As Ooit”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Above all
Teks en Musiek: Lenny LeBlanc & Paul Baloche
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1999 Integrity’s Hosanna Music / LenSongs Publishing
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Meer as rykdom, meer as mag,
as die skoonheid van sterre in die nag,
meer as wat ons ooit op aarde wen,
is dit werd, o Heer, om U te ken.
Meer as silwer, meer as geld,
al die blomme, die diere in die veld,
meer as dit, so eindeloos veel meer,
was die prys wat U betaal het, Heer.

Refrein:
Aan ‘n kruis en in ‘n graf van steen,
U leef en sterf, verworpe en alleen.
Immanuel, U die God met ons
U dra die straf en dink aan ons –
meer as ooit.

F213. “Jesus Is Die Rots”
(RUBRIEK: Flammikidz – Hoop & Vertroue)
Teks en Musiek: Johan Engelbrecht
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

Jesus is die Rots waarop ek veilig staan;
die Een by wie ek wegkruip as die donker oor my gaan
My skild en sterk Verlosser, beskerm my in gevaar.
En as ek krag en hulp soek, is die Here altyd daar!

[Refrein x 2]
Ek loof die Heer, want Hy’s getrou
op Hom kan ek altyd vertrou.
Deur die langste dag, donkerste nag
is Hy my Rots, my bron van krag.
U’s my Rots! U’s my Rots!
Jesus, my Rots, U’s my Rots.
U’s my Rots! U’s my Rots!
Jesus, my Rots, U’s my Rots.
[Skree: Jesus, my Rots!]

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: ahv Psalm 19
Here,
U wet is volmaak- dit gee nuwe lewenskrag;
U bepalings is betroubaar- dit gee wysheid aan die eenvoudige.
U opdragte, Here, is reg- dit maak die hart bly;
U gebod, Here, is suiwer- dit verhelder die oë.
Verbly dan nou my hart en gee my nuwe lewenskrag;
verhelder my oë en gee my wysheid Here,
deur die werk van U Gees en
in die oordenking van U Woord.
Amen
(Psalm 19:8-9 BDV)

Skriflesing: Matteus 21:33-46

Prediking

Familie-oomblik

[foto deur Chuck Coker by flickr.com, creative commons]
Based on the commentaries I have been reading, preachers are all over the place interpreting this parable. If the adults can’t figure it out, it is going to be hard to present it meaningfully to children. I’d introduce the vineyard, eat some grapes before communion, and keep moving with the children. (Carolyn Brown)

Nav bogenoemde was die versoeking groot om moed op te gee met Kindertyd, totdat ons kon uitkom by onderstaande idee bekombaar hier.

Tema: God is ‘n God van tweede kanse
Vertel die verhaal van Thomas Edison, die uitvinder van die gloeilamp.
In ons tyd is gloeilampies ‘n algemeen beskikbare item wat nie eers duur kos nie. En as een sou blaas of in die proses van gloeilamp vervang jy dalk een per ongeluk sou laat val en breek is dit geen krisis nie- jy koop net ‘n ander een by die naaste winkel.

Maar dit was nie altyd so nie. Toe Thomas Edison op die punt was om die eerste gloeilamp te laat brand het dit ‘n hele span mense geneem wat 24 uur lank onophoudelik gewerk het om die eerste gloeilamp aanmekaar te sit. Die storie word vertel dat Edison dit toe vir ‘n seuntjie gegee het om by die trappe op te dra waar hulle dit sou konnekteer om lig te gee. Voetjie vir voetjie, trappie vir trappie het die seun die lamp (baie groter as wat ons dit ken) met die trappe opgedra, versigtig dat dit nie breek nie. En julle kan seker raai, by die laaste trappie struikel die seun en die kosbare gloeilamp val en breek in 1 000 stukkies.

So, ‘n verdere 24 uur was toe nodig vir die span om ‘n nuwe gloeilamp anmekaar te sit. En toe uiteindelik, doodmoeg, voltooi hulle die projek. En wil jy glo, wie kry die opdrag om die gloeilamp by die trappe op te dra? Dieselfde seun wat die eerste gloeilamp laat val het. Dit is vergifnis! Dit is ‘n verhaal van ‘n tweede kans.

So is God ook- God gee mense tweede kanse, en sommer derde kanse ook.
Vertel die gelykenis van die fokusteks in eenvoudige taal. Maak gerus gebruik van Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus Vertel ’n Verhaal oor sy Eie Dood
33–35 “Wag, hier is nog ’n storie wat julle moet hoor,” sê Jesus. “Eendag was daar ’n man wat baie druiwe op sy plaas geplant het. Daarna bou hy ’n muur rondom hierdie wingerd, en ook ’n plek waar hy wyn gemaak het. Later moes die man op ’n lang reis vertrek. Hy verhuur toe sy wingerd aan ’n klomp boere. Toe die druiwe ryp word, moes die boere ’n deel daarvan aan die eienaar gee as betaling. Die eienaar stuur toe drie werkers om sy deel van die oes te gaan haal. Maar die boere het ander planne gehad: hulle het die een werker geslaan; die ander een doodgemaak, en die derde een met klippe gegooi.

36–39 “Hierna het die eienaar ’n groot klomp werkers na sy plaas gestuur om sy deel van die druiwe te gaan haal. Maar hulle is net so sleg behandel. Uiteindelik besluit die eienaar om sy eie seun na die boere toe te stuur. Hy het gedink: ‘Hulle sal darem nie my seun seermaak nie.’ Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Kyk, hierdie seun gaan eendag die plaas erf. As ons hom doodmaak, dan is die plaas een van die dae ons s’n.’ Toe gryp hulle die seun, sleep hom tot in die veld en maak hom dood.”

40–42 Jesus vra toe vir die mense: “Wat dink julle sal die eienaar met daardie klomp boere doen as hy op die plaas kom?”
“Natuurlik sal hy die hele spul van ’n kant af doodmaak. Daarna sal hy die wingerd aan ander boere verhuur wat hom sal betaal.”
Jesus sê toe vir hulle: “Julle onthou mos wat in die Bybel staan:
‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik om mee te bou nie
het nou die belangrikste klip in die hele gebou geword.
Die Here het self daardie klip ingebou.
Dis wonderlik om daardie klip te sien.’

43–46 “Kom Ek praat reguit met julle klomp,” sê Jesus. “Julle is die slegte boere in die storie. Daarom sal julle nie ’n plek kry in God se nuwe wêreld* nie. Julle plekke sal gegee word aan mense wat doen wat God sê.

“Ek waarsku julle: julle gaan op hierdie Klip val waarvan die Bybel praat. Dit is Ekself. Dan gaan julle baie seerkry. Maar as hierdie Klip op julle val, is julle morsdood.”

Die Joodse godsdienstige leiers* was kwaad toe hulle agterkom Jesus praat van hulle. Hulle wou Jesus vang en in die tronk gooi. Maar hulle was bang vir die skare. Want die mense het gesê Hy is regtig God se Boodskapper. 

Volgens die verhaal was God die eienaar van die wingerd. En Hy stuur toe verskillende mense om van Sy liefde te vertel, en om hulle sover te kry om weg te draai van hulle sondige lewe. God stuur vir Moses, Hosea, Dawid, Jeremia en nog baie ander, maar die mense wou nie luister en tot inkeer kom nie. Toe, uiteindelik stuur God Sy eie seun Jesus. Maar julle weet mos wat die mense met Sy Seun gedoen het, nè. Hulle het hom doodgemaak deur hom te kruisig. So gee God mense nog ‘n kans want Hy is ‘n God van tweede kanse.

Vandag is geloof in Jesus ‘n mens se enigste kans om verlos te word.
Gebed: Baie dankie Here dat U ‘n God van tweede kanse is sodat ek ook deur Jesus gered kan wees.

Preekriglyn

Mens kan regtig nie waag om jou TV op ‘n nuuskanaal te sit nie. Nie as jy belangstel in innerlike vrede, gemoedsrus en ‘n blymoedige uitkyk op die lewe nie. Dit is net stryd en geweld, moord en doodslag, eindelose sirkels van wraak en weerwraak wat aan die gang is. Dit voel of die wêreld in die greep van ‘n nagmerrie is.

Is daar iewers ‘n uitkoms uit hierdie ellende?

Antieke nagmerrie

Twee en ‘n halfduisend jaar gelede het koning Nebukadneser van Babilonië ‘n droom gehad. Dié verhaal word in Daniël 2 vertel. Daar was destyds nog nie TV’s nie, maar daar was alreeds nagmerries, beide in die regte wêreld en slapenstyd.

Nebukadneser se droom het hom só ontstel dat hy nie ‘n oog kon toemaak nie. Hy beskou dit egter as ‘n boodskap oor die toekoms. Hy roep daarom sy towenaars, goëlaars, voorspellers en sterrekykers om die droom uit te lê. Daar is net een vangplekkie: die koning weier om die droom te vertel. Hy verwag die uitleggers, as hulle regtig die waarheid beet het, sal beide die droom en die uitleg kan verskaf. As hulle nie kan nie, gaan dinge vinnig in ‘n nagmerrie ontaard. Hulle sal in stukke gekap en hulle huise tot puinhope verwoes word.

In hierdie tyd is die profeet Daniël ‘n balling in Babilonië. Hy smeek die Here, en die Here openbaar die droom in ‘n nagtelike visioen aan hom. Daniël is na die koning toe om beide die droom en die uitleg te verskaf. Hy sê Nebukadneser se droom is inderdaad God se openbaring van die toekoms. God wil aan Nebukadneser bekend maak wat gaan gebeur.

‘n Groot beeld

Nebukadneser het ‘n groot beeld gesien, met ‘n kop van suiwer goud, ‘n bors en arms van silwer, ‘n maag en heupe van brons, bene van yster en voete deels van yster en deels van klei.

Terwyl Nebukadneser in sy droom hierna kyk, breek ‘n groot klip los, tref die beeld teen die voete van yster en klei, en verpletter dit. Al die metale, van die yster tot die goud, is fyngestamp en het soos kaf voor die wind weggewaai.

Die klip waardeur die beeld getref is, het ‘n groot rots geword en het die hele aarde bedek.

Uitleg

Die uitleg van die droom is dat Nebukadneser die kop van goud is, vertel Daniël. Nebukadneser se koninkryk sal opgevolg word deur minder belangrike koninkryke van silwer, brons en yster. Hierdie opeenvolging eindig in ‘n koninkryk wat onderling verdeel is, vandaar die voete van deels yster en deels klei.

Daniël vervolg:
In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ‘n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan.

En dat u ‘n klip uit ‘n rots sien losbreek het sonder dat ‘n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie. (Daniël 2:44-45)

God se steen bring God se koninkryk tot stand. Dit groei oor die hele wêreld groei en sal dit bedek. Die steen word ‘n berg. God se koninkryk kom. Dit is wat verseker sal gebeur.

Jesus se gesag

Ons het verlede week vroeër in Matteus 21 stilgestaan by die skrifgeleerdes en familiehoofde wat Jesus uitvra oor die gesag waarmee Hy Jerusalem betree, die tempel tot gebedshuis reinig, siekes genees, en mense die wil van God leer.

Vir hulle tree Jesus té radikaal op. Hy doen nie wat hulle leringe voorspel en verwag dat God sal doen nie. Hulle wil daarom weet met watter gesag Hy dit doen.

Jesus antwoord die uitdaging van sy gesag met ‘n teenvraag oor Johannes die Doper se optrede, en vertel ‘n gelykenis oor twee seuns. Albei weier die vader se versoek om in die wingerd te werk, maar dan gaan die eerste tog. Jesus sê die prostitute, tollenaars en gewone mense in Israel doen eerder wat die Vader vra, dan die godsdienstige leiers.

Dit blyk duidelik die godsdienstige leiers meen Jesus het geen goddelike gesag vir sy bediening nie. Hulle verwerp sy aanspraak dat Hy met God se gesag optree. Daarmee veroordeel hulle hulself as mense wat God nie herken nie, en God daarom teenstaan deur Jesus te verwerp.

Gelykenis van die grondbesitter

Met sy versoek, “Luister na nog ‘n gelykenis,” (vers 33) sit Jesus die gesprek oor sy gesag voort.

Hierdie gelykenis handel oor ‘n man wat grond besit en ‘n wingerd daarop aangeplant het. Hy het dit goed voorberei en versorg; ‘n klipmuur rondom die wingerd gebou vir beskerming teen wilde diere en ander indringers; ‘n parskuip aangebring om die druiwe te verwerk wanneer dit ryp is, en ‘n wagtoring opgerig as skuiling vir ‘n wag wat die wingerd oppas. Na dit alles het die grondeienaar sy goed versorgde wingerd aan boere verhuur en op reis vertrek.

Na verloop van tyd, toe die wingerd begin vrug dra en gereed was vir oes, het die grondeienaar van sy slawe na die boere wat sy wingerd gehuur het gestuur, om die vrug van die oes te gaan haal. Die boere het egter op ‘n ander manier gereageer op die gestuurde slawe as wat die grondeienaar verwag het. In plaas daarvan dat die boere die deel van die opbrengs van die oes aan die slawe van die grondeienaar oorhandig het, het hulle die gesante van die eienaar hardhandig en wreed behandel, een selfs gedood (35).

Met die verwysing na “sy slawe” plaas Jesus die klem opnuut op die gesag van die eienaar, wat God hier verteenwoordig. Daarmee is die tema van Jesus se gesag op die tafel.

Ander gestuurdes

In reaksie op die wreedaardige en onregmatige gedrag van die boere, het die grondeienaar weer ander slawe na sy wingerd gestuur. Die boere het egter dieselfde teenoor die gestuurde slawe opgetree. Ten einde laaste het die grondeienaar sy eie seun na die boere gestuur. Hy was oortuig dat die boere respek vir sy seun sou toon

Maar hulle het nie. Trouens, hulle optrede was selfs méér vyandig en berekend. Hulle het die gestuurde geïdentifiseer as die erfgenaam van die grondeienaar en ‘n bose plan bedink. Hulle sou hom doodmaak en sy erfenis afvat. Die huurboere het gedink die eienaar het gesterf en dat die seun kom om die wingerd as sy erfporsie op te eis. Deur hom dood te maak, het hulle geoordeel, sou hulle ‘n regstryd vermy en so die erfenis inpalm. Toe het hulle die berekende plan uitgevoer (39). Hulle het die erfgenaam gevat, hom uit die wingerd uitgegooi en hom doodgemaak. So eindig Jesus se gelykenis oor die boere en die wingerd.

Die punt van die gelykenis

Met hierdie tweede gelykenis (naas die vertelling oor die twee seuns wat nie in die wingerd wou gaan werk nie), wys Jesus op die Joodse leiers se ongehoorsaamheid aan God se wil, hulle bose leierskap, en hulle vyandigheid aangesien hulle nie huur (die eienaar se deel van die oes) wou betaal nie.

In vers 40 stel Jesus ‘n vraag as sleutel ter interpretasie van die gelykenis: “Wat sal die eienaar van die wingerd met die boere doen as hy van sy reis af terugkom?”

Op dié vraag van Jesus het die priesterhoofde en familiehoofde ‘n besliste antwoord: “Die grondeienaar sal die slegte mense ‘n verskriklike dood laat sterf, die wingerd van hulle afneem en dit aan ander boere verhuur, wat aan hom die oes op die regte tye sal lewer.” Aangesien die gelykenis oor die gedrag van die priesterhoofde en familiehoofde handel, is hulle antwoord op Jesus se vraag ook hulle eie skulderkenning en strafaankondiging. Hulle het in die strik getrap en hulle eie oordeel geteken. Hulle praat eintlik oor hulle eie vooruitsigte wanneer die finale oordeel aanbreek.

‘n Beeld uit die boubedryf

Jesus slaan nie direk toe nie. Hy weef die strik stewiger. In vers 42 haal Hy uit Psalm 118:22-23 aan en verwys na Homself as die erfgenaam wat gestuur en verwerp is. Hy gebruik egter ‘n ander metafoor, nou uit die boubedryf. Dit is ‘n verwysing na Daniël 2 en die beeld van die steen wat daar gebruik word. Die erfgenaam van die gelykenis word die steen wat deur die bouers afgewys is. Maar God het aan die steen wat deur die bouers (boere) afgekeur is die belangrikste posisie in die bouwerk toegeken.

Nou maak Jesus sy punt oor die gelykenis en die uitvoering van die oordeel wat die priesterhoofde en familiehoofde reeds uitgespel het (43). Die koninkryk van God (die wingerd) sal van die mense (huurboere) weggeneem word wat nie die Erfgenaam van God respekteer nie – nie vrugte lewer op die regte tyd nie. God sal die koninkryk (wingerd) aan ‘n nasie gee wat die vrugte van die koninkryk lewer.

Jesus sluit sy gelykenis af met ‘n interpretasie in die vorm van ‘n spreuk. Die steen (erfgenaam; Jesus) word hier voorgestel as ‘n instrument van oordeel en vernietiging. Vergelyk Daniël 2. Dit werk na twee kante toe. Beide wanneer iemand op die klip val, of as die klip op iemand val, sal dit die persoon vernietig of vermorsel.

Die priesterhoofde en familiehoofde is nou ontmasker en het besef Hy verwys na hulle. Hulle het hulleself in die spieël van die gelykenis geïdentifiseer. Nou was hulle vasbeslote om Hom gevange te neem, maar was bang vir die optrede van die skare wat nog vir Jesus as profeet beskou het.

Jesus, die Steen van God

In hierdie gesprek word Jesus,

  • die Een wat Jerusalem nederig dog koninklik betree,
  • God se wil bekend maak,
  • God se tempel reinig tot ‘n huis van gebed en lering oor die wil van God, en
  • die vrug van gehoorsaamheid wat God van sy volk verwag kom opeis,

geïdentifiseer as die Een deur wie die vaste fondament van God se Koninkryk gelê word wat die hele wêreld vernuwe.

Terug by Daniël se uitleg

In Jesus se tyd was die Jode goed bekend met die profeet Daniël. Jesus haal meermale uit Daniël aan om sy eie verstaan van sy identiteit en roeping te beskryf. Dit gebeur ook in ons teks.

Die laaste koninkryk wat in Daniel 2 beskryf word, dié met voete van yster en klei, dui op die bondgenootskap tussen Koning Herodes en die Joodse leiers. Herodes het regeer met die Romeinse gesag agter hom, en in alliansie met die Joodse leiers. Hierdie wankelende koninkryk – saam met die ander koninkryke van die wêreld – hou nie stand voor die Steen van God nie.

Voor dié Steen egter die belangrikste steen in die bouwerk word, moet dit eers verwerp word. Wanneer Jesus dié gelykenis vertel, is die tyd van verwerping nie meer ver in die toekoms nie. Jesus weet Hy word verwerp omdat Hy die Seun van God is, God se regmatige aanspraakmaker op die wingerd wat God self geplant het (die volk Israel).

Die gesag van Jesus

Daarmee is die vraag na Jesus se gesag beslissend geantwoord. Jesus is die Seun van God, gestuur deur die Vader, om sy koningskap op aarde te vestig en te bevestig. Jesus is die Een deur Wie God sy volk oproep om gehoorsaam en getrou te wees. Hy lei die volk, met die gesag van die Vader, op die regte pad.

Aan ander gegee

Wie deel wil wees van die koninkryk waarvan die Steen van God die belangrikste steen is, moet die vrugte dra wat God vra. Dit beteken om God se koningskap en heersersreg en riglyne vir gehoorsaamheid te aanvaar. So nie, word die Steen ‘n bron van struikeling.

Met die Jode het dit toe gebeur. Die wingerd is van die Joodse leiers weggeneem. Joodse gelowiges, en die gelowiges uit ander nasies wat deur hul getuienis deel van God se volk geword het, het die wingerd van God ontvang. God hét die wingerd aan ander verhuur, wat Hom op die regte tyd sy vrug gee.

‘n Teoloog, Gundry, skryf: . “Thus the church does not take the place of Israel as a whole, but of the Jewish leaders. The believing Jewish crowds melt into the throngs of believing Gentiles to form the new group of tenant farmers.”

Die gelowiges uit die Jodedom en heidendom word saam die gebou wat God op die hoeksteen, Jesus Christus bou.

Die kwaliteit van ons eie vrugte

Die gelykenis is nie afgehandel met die Joodse leiers se verwerping van Jesus nie. Deur die eeue bly die vraag of die kerk van Christus die vrugte dra wat God vra.

Ons kan maklik dink dié verhaal het net met die Joodse leiers se struikeling te doen. Dit kan egter ook ons struikeling word. Dit gebeur wanneer ons die kerk en ons geloof vervreem van God se bedoeling daarmee, en van God se opdrag tot vrugte dra.

Dit kan vir mense in God se wingerd so maklik oor die wingerd begin gaan. Wat met die wingerd gebeur, hoe dit bestuur en gelei word, aan watter verwagtinge ons dit wil laat doen, watter opbrengs dit vir ons moet hê, kan die deurslag begin gee.

Ons siening oor die identiteit en roeping van ons geloofsgemeenskap, kan so maklik begin afwyk van God se bedoeling daarmee. Ons kan diegene verwerp en doodslaan wat ons aan God se eintlike bedoelinge herinner.

Die Eienaar neem nie genoeë hiermee nie. Terwyl ons hou van verhale wat positief eindig, kan ons so maklik dié gelykenis vergeet. Dit eindig nie op ‘n positiewe noot nie. Die Steen het die Joodse tempel platgeloop. Die wingerd is van die Joodse leiers weggeneem. Gelowige Jood en gelowige heiden het die nuwe volk geword aan wie die wingerd gegee is.

Die verhaal het hom telkens weer afgespeel. Deur die eeu het dit gebeur dat die lamp weggeneem word van gemeentes wat wegdraai van God.

Nagmerrie of hoop

Die kerk en die toekoms behoort aan die Steen van God. Wyse mense bou hul lewens op die steen as hoeksteen, eerder as om deur die Steen verpletter te word in die eindoordeel.

Vir almal wat nagmerries kry oor wat hulle op die TV-skerm sien, of wat snags rondrol oor die verskrikkinge in die wêreld, is dit ook ‘n bron van hoop.

Beide die gelykenis van ons teks, en die droom van Nebukadneser in Daniël 2, onderstreep immers dat God nooit sy eiendomsreg op sy kerk en sy wêreld prysgee nie. Hoeveel van God se gestuurdes ook al deur skurke, skelms en bose leiers doodgeslaan word, hoe God se eiendomsreg op sy wêreld ook al misken word, hoe God se opdragte tot gehoorsaamheid ook al verwerp word, die koninkryk van God word nie gekeer nie.

Daar kom ‘n dag dat die hele wêreldgeskiedenis voor die troon van God eindig. Al die mag wat mense in hierdie wêreld bymekaar maak, kan en gaan dit nie keer nie. Die Eienaar van die wingerd kom terug. Die Steen vee die koninkryke van mense, of hulle glinster van goud, of wankel aangesien hulle van yster en klei saamgeflans is, weg.

God hou die toekoms in sy hande. Daarom maak dit sin om jou lewe aan God en dit wat God vra te belyn.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis ahv Johannes Evangelie
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die
wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Offergawes

Wegsending: Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën
Ek bid dat die Vader deur sy Gees
uit die rykdom van sy heerlikheid
aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,
Ek bid dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon
en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp
hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
19Mag julle sy liefde ken,
liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen (Efes 3)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.