Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jakobus laat blyk dat dwaasheid (wêreldliefde) die groot kwaadstoker in verhoudings is. Selflose wysheid bevorder die eenheid en versoening in die gemeente. Dit is moontlik deur opregte gebed wat nie op eiebelang gerig is nie.

Die ander drie tekste werp elk op hulle eie manier lig op Jakobus se tema:
Wysheid maak mens nederig en lei tot vrede en versoening, sonder selfsug en eiebelang.
Wysheid skep orde en struktuur.
Jesus haal die angel uit konflik deur die dissipels daarop te wys wie die belangrikste in die koninkryk is.

Ander tekste

Spreuke 31:10-31
10’n Knap vrou is baie werd,
baie meer as edelstene.
11Haar man steun op haar
en pluk die vrugte van haar werk.
12sy bring vir hom net voordeel,
nie nadeel nie,
haar hele lewe lank.
13Sy maak wol en vlas bymekaar
en geniet dit om dit te verwerk.
14Sy is soos die handelskepe,
sy bring die kos van ver af in.
15Sy staan op as dit nog nag is
en maak kos vir haar huisgesin;
ook haar slavinne kry hulle deel.
16Sy oorweeg die waarde
van ’n stuk grond en koop dit,
sy sit dit onder wingerd
met geld wat sy self verdien het.
17Sy pak die werk aan met krag,
haar hande staan vir niks verkeerd nie.
18Sy stel vas of die wins goed is,
haar lamp bly heelnag brand.
19Sy werk met die spinwiel,
haar hande bly besig met die weefstoel.
20Sy het ’n oop hand vir die armes,
sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
21Sy is gerus oor haar huisgesin
as dit sneeu:
hulle dra almal warm klere.
22Sy maak self vir haar dekens
en sy dra klere van linne en wol.
23Haar man is welbekend
by die stadspoort
waar hy saam met die leiers beraadslaag.
24Sy maak klere en verkoop dit,
sy lewer gordels aan die handelaars.
25Alles aan haar spreek van ’n sterk
en edel persoonlikheid;
sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
26As sy praat, is dit met wysheid;
as sy leiding gee, is dit met liefde.
27Sy hou goeie toesig
oor haar huishouding;
lui is sy nie.
28Haar kinders prys haar,
haar man bewonder haar:
29“Daar is baie knap vrouens,
maar jy oortref hulle almal!”
30Uiterlike skoonheid hou nie,
’n mooi voorkoms is nie alles nie;
as sy die Here dien,
dán verdien ’n vrou om geprys
te word.
31Gee haar wat haar toekom
vir alles wat sy doen;
laat haar werk haar roem wees
in die stadspoorte.

Psalm 1
Die Here lei die regverdiges
1 Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles
wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind
uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses
hulle nie kan handhaaf
wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ’n plek hê
in die vergadering
van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges
op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses
lei tot ondergang.

Markus 9:30-37
Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan
(Matt 17:22–23; Luk 9:43–45)
30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?
(Matt 17:24; 18:1–5; Luk 9:46–48)
33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy ’n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Fokusteks

Jakobus 3:13-4:3, 7-8a
Hemelse wysheid teenoor aardse en demoniese wysheid
13Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

Waarskuwing teen wêreldliefde en hoogmoed
4 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? 2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

4Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is. 5Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? 6Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:
“God weerstaan hoogmoediges,
maar aan nederiges
gee Hy genade.”
7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Ekstra stof

3:13-18 – Die vredemakende krag van sagmoedige wysheid
Jakobus brei vervolgens uit oor die bron vanwaar dié rigtinggewende of destruktiewe kragte ontspring. Die wysheid van bó af, d.w.s. van God af, kan met agt byvoeglike naamwoorde beskryf word as suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, vol goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

Die wysheid wat aards is, kan beskryf word as niegeestelik en demonies, en kom na vore in bittere afguns en selfsug, leuens, wanorde en allerlei gemene dade.

Die wyses en verstandiges onder die geloofsgemeenskap wys in hulle goeie gedrag en dade die sagmoedige karakter van hulle wysheid. Die ander die teendeel deur die afguns en selfsug, wanorde en gemeenheid wat hulle lewens kenmerk.

Jakobus wys daarop dat hierdie sagmoedige wysheid ‘n vredemakende krag het wat geregtigheid tot gevolg het. Iets om te onthou in die luister na wat God se ingeplante woord ons wysmaak oor die lewe.

Boodskap
Woorde het ongelooflike krag. Dit kan rigting gee. Dit kan ook vernietig. Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5). Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid. Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.

Jakobus 4 – Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op
Jakobus gaan dieper in op die bron van die destruktiewe kragte wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede aan die werk is en wat in die oorloë en gevegte te siene is wat onder hulle voorkom. Dié onmin en konflik kom van die “begeertes wat in julle ledemate oorlog voer.

Hy raai hulle dus aan om op drie maniere daarmee te handel:

  • Vertrou God vir sy voorsiening – 4:1-10
  • Moenie van mekaar kwaadpraat nie – 4:11-12
  • Leef afhanklik van God – 4:13-17

4:1-10 – Vertrou God vir sy voorsiening
Uit Jakobus se beskrywing van die onderlinge oorloë en gevegte onder lede van die geloofsgemeenskap, is dit duidelik dat hulle aandag moet gee aan hulle verhouding met God, hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes en omstandighede, sowel as aan hulle verhouding met mekaar .

Die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – kom van hulle begeerte na besittings wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën. In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.

Daarom moet hulle in die eerste plek aandag gee aan hulle verhouding met God. Hulle gebedsverhouding met Hom moet herstel word. Hulle tree eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl hulle vriende kan wees! Dit moet hulle bedroef maak en laat huil – nie om die situasie só te laat nie, maar om dit reg te stel. Hulle moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen.

In die tweede plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes. Dit sluit in dat hulle op God se voorsiening vertrou en nie net van Hom dinge vra wat eintlik net hulle wellus sal bevredig nie. Soos Paulus daaroor geskryf het: “Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4:5-7).

Dit sluit in dat hulle die duiwel sal weerstaan, in terme van die versoeking waarvoor hulle eie begeertes hulle stel, soos in die Ons Vader verwoord: “bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose” (Matt. 6:13). Dit sluit ook in dat hulleself aan God verbind in dade – “reinig die hande” – en gedagtes – “suiwer julle harte“.

En die rede vir dié manier van doen en leef, is dat: “God met jaloersheid waak oor die Gees wat Hy in ons laat woon.” Hy verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling (vgl. Eks. 34:24; Sag. 8:2). God wil ons vriend wees, nie ons vyand nie. Daarvoor kan ons Hom vertrou.

4:11-12 – Moenie van mekaar kwaadpraat nie
In die derde plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met mekaar. Hulle moenie van mekaar kwaadpraat nie, veral nie wanneer dit gebore is uit hulle jaloesie oor wat die ander besit nie. Dan raak hulle soos regters wat ‘n oordeel uitspreek oor mekaar, en God se voorsiening in ander se lewens beoordeel, en selfs veroordeel. Deur mekaar te respekteer, respekteer hulle eintlik vir God self.

4:13-17 – Leef afhanklik van God
Die somtotaal van sy boodskap aan hulle is dat hulle in afhanklikheid van God moet leef. Dit moet so wees in terme van hulle beplanning van hulle werkslewe. Dit geld ook in terme van hulle omgee vir ander: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde.” God seën ons immers om tot ‘n seën te wees.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 67 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: (Psalm 1)

Seëngroet
Lof 209 “Heer met my hele hart 1” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Wet: (Jakobus 3)

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Genadeverkondiging

Toewyding: (uit Jakobus 4)

Geloofsbelydenis: (Ahv Kolossense 1)

Epiklese

Skriflesing: Jakobus 3:13-4:3; 7-8a

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord
Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses
volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here
sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink. (Psalm 1)

Seëngroet
Genade en vrede vir u van God die Vader
aan Sy liefde is daar geen einde nie
genade en vrede vir U van die Seun
Hy het ons skuld gedra
genade en vrede vir u van die Gees
Hy maak ons nuut!

Lof
Lied 209 “Heer met my hele hart 1” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Wet
13Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak. (Jakobus 3)

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Genadeverkondiging
Voorganger: Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here.
Gemeente: Ons is skarlakenrooi van sonde …

V: Julle sal wit word soos sneeu.
G: Ons is purperrooi …

V: Julle sal wit word soos wol.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Toewyding
Here- ek onderwerp my nou aan U as God
Ek onderneem om die duiwel teë te staan, wetende hy sal van my af wegvlug
Ek nader nou tot U o God, wetende U sal tot my nader. (uit Jakobu 4)

Geloofsbelydenis: (Ahv Kolossense 1)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F33. “Halleluja In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Francois Lamprecht
© MAR Gospel Music Publishers

1. God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:
Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja! Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

F53. “Mag Elke Woord Wat Uit My Mond Kom ”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Gebed / Votum)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou
Elk’ onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink,
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer

Want U’s my God, U’s my Redder
U’s my vrede.
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind
U is my kompas, u Woord gee rigting wanneer ek verlore raak.
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here- ek wil so graag hê dat dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses
volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
6Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing: Jakobus 3:13-4:3; 7-8a

Familie-oomblik

Lees Jakobus 4 uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Moenie net aan Jouself Dink nie
4 1–3 Hoekom stry en baklei julle so baie? Ek weet. Dit is omdat julle net aan julleself dink en nie vir ander omgee nie. Wil jy nie miskien die hele tyd jou sin hê en doen wat vir jou belangrik is nie? Alles wat jou oë sien, wil jy hê. As jy dit nie kry nie, is jy dikmond en wil sommer met almal baklei. As iemand anders iets kry wat jy wou hê, is jy nog kwater en baie jaloers. Om te baklei en ander seer te maak gaan jou niks help nie.

Baie keer kry ’n mens nie iets nie, omdat jy dit op die verkeerde manier wil kry. Vra vir God of Hy dit nie vir jou wil gee nie. Jy sal miskien sê: “Ons bid en bid, maar God luister nie. Hy gee nie,” sal jy miskien sê. Weet jy hoekom? Jy bid met die verkeerde gedagtes. Dit gaan net om jouself en niemand anders nie. Dis verkeerd. Jy wil nie God daarmee bly maak nie.

Ten diepste gaan dit hier oor die sonde van jaloesie waarteen die 10e gebod in die Wet ook waarsku: 17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.” (Eksodus 20)

Die volgende storie kan dalk die moeilike begrip van jaloesie verduidelik…
Jannie en Dirkie was beste maatjies so lank as hulle kan onthou. Hulle het in Despatch gewoon, in dieselfde straat met hulle huise regoor mekaar. Hulle het saam gespeel in die middae na skool- hulle was albei in Graad 1 en soos jy verwag het, in dieselfde klas in die Laerskool. Hulle het saam TV speletjies gespeel, mekaar se klere gedra, saam skooltoe gestap… Hulle was beste maatjies in alles. Tot die dag, die 10e Mei, toe Jannie verjaar het. En vir sy agste verjaardag kry Jannie toe ‘n fiets! Maar Dirkie het nie ‘n fiets nie. En hulle kan nie saam op die fiets ry nie. In elk geval, terwyl die mooi, rooi fiets nog so nuut is wil Jannie in elke geval nie sy fiets met iemand deel nie. Ook nie met sy beste maatjie Dirkie nie. En dit waar Dirkie baie jaloers word…

Hy het by homself gedink: Hoekom kan ek nie ook ‘n fiets hê nie? Hoekom kan Jannie op ‘n fiets ry en ek kan net kyk? Dirkie het daardie fiets meer begeer as enigiets anders. En geleidelik het dit gebeur dat die twee nie meer beste maatjies is nie. Hulle het nie eintlik meer saamgespeel en saam skooltoe gestap nie. Jannie het net fiets gery. By die skool het hy dit met ‘n slot toegesluit, en wanneer die skool verdaag het hy met sy fiets huistoe gery. Dit lyk asof Jannie se fiets sy nou beste maatjie geword het. En Dirkie word by die dag meer bitter oor die fiets- hy loop nou heeldag dikmond rond. Dirkie is jaloers op sy maatjie se fiets. So jaloers dat hy selfs daaraan dink om dit een aand skelmpies te gaan vat en daarmee te ry…

Dit is waaroor vandag se Bybelteks gaan…
“Hoekom stry en baklei julle so baie? Ek weet. Dit is omdat julle net aan julleself dink en nie vir ander omgee nie…. Alles wat jou oë sien, wil jy hê. As jy dit nie kry nie, is jy dikmond en wil sommer met almal baklei. As iemand anders iets kry wat jy wou hê, is jy nog kwater en baie jaloers. Om te baklei en ander seer te maak gaan jou niks help nie.” (Jakobus 4, Nuwe Testament vir kinders)

Preekriglyn

‘n Predikant stap op ‘n dag by die kerkgebou in, en ervaar ‘n oorweldigende belewenis van God se heiligheid. Hy stap tot voor, kniel by die nagmaaltafel, en begin op sy bors te slaan, terwyl hy uitroep: “O Here, ek is niks nie!”

Oomblikke later stap sy medeleraar by die kerk in. Hy ervaar ook ‘n oorweldigende belewenis van God, en kniel langs sy kollega, terwyl hy op sy bors slaan en sê: “O Here, ek is niks! Ek is niks nie!”

Een na die ander stap die personeel van die kerk by die gebou in: die musiekbedieningsleier, die hoof van die kategese, die leierouderling, en nog meer – almal van hulle kniel en beween hulle “niksheid” en onwaardigheid voor die Here.

Die kerk se skoonmaker word diep geraak deur die spontane herlewing. Hy kom kniel ook, slaan op sy bors, en sê: “O Here, voor U is ek niks. Ek is niks!”

Die een dominee kyk op en sien die skoonmaker. Hy stamp liggies aan sy kollega, en sê saggies: “Wel, wel, kyk wie matig hom darem vreeslik aan. Hy dink hy is ook niks voor die Here nie!”

Die toestand van die hart

In ons teksgedeelte beklemtoon Jakobus dat die toestand van ons binnekant, ons hart, bepalend is vir hoe ons lewe na buite lyk.

Waar daar bittere naywer en selfsug in ons harte is (14), en waar daar selfsugtige begeertes in ons woed (1) wys dit in wanorde en gemene dade (16), en lei dit tot rusie en bakleiery (2). Daar verhef die een hom bo die ander. Daar soek mense die vernietiging van ander.

Aan die ander kant: waar God se wysheid mense aanraak, is daar nederigheid, geen bybedoelings nie en opregtheid.

Ons binnekant is belangriker as wat ons dink. Innerlike genesing, deur die wysheid wat God gee, is meer nodig as wat ons dikwels besef.

Worsteling om eenheid te bereik

Onthou, die agtergrond waarteen Jakobus skryf, is die worsteling om eenheid in die gemeentes te bereik. Die krisis in die gemeentes is dat hulle verdeel, verskeur en versplinter is. Dit gee aanleiding tot ‘n veelvoud van probleme en dien terselfdertyd as geleenthede om innerlik genees te word deur die wysheid van God. Sodoende sal daar vredeliewendheid, inskiklikheid, bedagsaamheid, medelye, onpartydigheid en opregtheid heers (17)

Prof Dirkie Smit som dit op: “Die oorkoepelende opdrag van Jakobus, aan die enkelinge en die gemeente, is: Wees as Christene en as gemeente volkome en onverdeeld,” en; “Die dreigende vorme van tweespalt, van konflik, sowel in die gelowiges as in die gemeente, moet bestry word deur integrasie, moet plek maak vir heelheid, heil, vrede, volkomenheid.”

Hierdie eenheid word bereik waar mense die wysheid van God ontvang, en daaruit leer lewe. Hierdie wysheid bring mens in die regte verhouding met God, en help jou om vrede te maak.

“Verwoes” jou vyande

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog wou Winston Churchill met sy vyande onderhandel. Sy raadgewers het gesê dit is ‘n fout, hy moet hulle liewer vernietig. Sy antwoord: “If I change my enemy into a friend, I have destroyed my enemy.” As ek met my vyand praat en van hom ‘n vriend maak, dan het ek my vyand vernietig. Dit het my nogal baie laat dink en wonder. Hoekom hoor mens nie meer sulke positiewe stories van “verwoeste” vyandskap nie?

Keelvol vir baklei

Mense is keelvol vir konflik. As dit nie die politici is nie, is dit die ekonome, die polisie, advokate, motorbestuurders, sportkommentators, koerante, leiers, gelowe, kerke. Dit voel of almal met mekaar wil baklei! Waar kom dit vandaan? Waaroor baklei en veg en stry mense? Op mikro, maar ook op makro vlak. Is dit regtig waaroor hulle stry of is daar dalk nog dieper redes?

Dit is die soort vrae wat Jakobus probeer vra en antwoord. En op die oog af lyk die antwoord maklik – “waar kom die stryd vandaan”? Ons weet mos waaroor ons stry! Jy kan maar net gister se koerant oopmaak en op jou tien vingers dit opnoem – loonstakings, Nkandla, ontvoerings, kapings, visregte, tolpaaie, grond, skeidsregters . . . (Gebruik ook plaaslike voorbeelde.)

Dieper as simptome

Dalk het Jakobus se eerste lesers ook die antwoorde so op die vingerpunte geken. Maar blykbaar is hy nie tevrede daarmee nie. Dit wat ons opnoem is net simptome. Jakobus wil dieper gaan. Ten diepste, sê hy, het ons hier te make met ‘n geestelike probleem, onvolwassenheid, onvolkomenheid. Jakobus noem dit “selfsugtige begeertes” – wat binne-in ons woed. Dit gaan oor die toestand van ons harte.

Prof Dirkie Smit skryf insiggewend oor begeertes en sê dat dit dikwels nie gaan oor die “iets” wat ons begeer nie. Ons begeer nie iets omdat dit in sigself so wonderlik is nie. Ons begeer dit, sê hy, omdat ander dit ook begeer. (Ter illustrasie kan die prediker hier iets wys, bv ‘n duur horlosie, juwele, ens.) Omdat iemand anders iets het – of dit ook wil hê – raak dit ook vir my aanloklik, begeer ek dit ook. Daarom is begeerte eintlik iets wat jy aanleer. Dis iets wat jy naboots. Dit is ‘n ingesteldheid, ‘n manier van dink en leef, ‘n “mentaliteit”, ‘n toestand van die hart. Jakobus noem hierdie houding vriendskap met die wêreld. En dit staan reg teenoor vriendskap met God.

Teen God se versoening in

Mense wat vriende van die wêreld is raak op mekaar jaloers, begin met mekaar meeding, wil hê wat die ander het, begin teen mekaar begeer en met mekaar veg. Dit is waarteen Jakobus waarsku. Dit druis in teen die vrede en versoening wat God wil. Dis die oorsaak hoekom die wêreld lyk soos dit lyk.

Op die voorgrond twis mense dalk oor woorde of idees of sake of grond, maar wat is op die agtergrond? Die vraag is dus nie in die eerste plek, waaroor stry ons, nie. Die vraag is: Waaruit is hierdie stryery gebore? Uit watter mentaliteit? Uit watter soort hart?

Misbruik van gebede

Jakobus eindig egter nie hier nie. Die ergste kom nog. Blykbaar begeer hulle nie net nie. Hulle gebruik ook hulle gebede om te probeer kry wat hulle begeer. In plaas van om “hulleself volkome vir God” te gee, wil hulle God vir hulleself hê . . . nie ek in diens van Hom nie, maar Hy in diens van my . . . Daarom gebruik ek selfs my gebede, om te kry wat ek wil hê . . . Laat my wil geskied . . . Laat my koninkryk kom.

Nou verstaan mens hoekom Jakobus so ernstig raak, harde woorde gebruik: julle dwase, egbrekers, huigelaars, sondaars, dubbelhartiges!

Jakobus weet gevegte daar buite het meesal te make met ‘n skermutseling hier binne. Daarom eindig hy die gedeelte deur te sê: make up your mind! Besluit, of jy ‘n vriend van die wêreld of ‘n vriend van God is.

Vriend óf vyand van God

Ons leef in ‘n tyd waar swart/wit opsies uit is. Mens moet genuanseerd dink, hoor jy dikwels. Dis nie so eenvoudig nie, sê ons vir mekaar. By sekere goed is daar egter nie baie opsies nie; dis swart of wit. ‘n Swangerskap, byvoorbeeld: jy is nie halfpad swanger of 70% swanger nie. Jy is swanger of nie. In die huwelik ook. Ek sal nie daarvan hou as my vrou ‘n paar “opsies wil oorweeg” nie. Dis reg of weg. Jakobus sê dat dit met geloof dieselfde is. Jy is vriend of “vyand” van God. En die gevolg, jy is kwaadstoker of vredemaker. Jy veg, of jy versoen. Jy is wys of dwaas.

Uitkringende vrede

Waar Jakobus dit veral het oor die verhoudinge in die gemeente van Christus, besef ons deesdae hoe naywer, jaloesie, selfsug en begeertes ons hele wêreld kan verwoes. Daarom moet ons die Here ook om wysheid bid om die groter konflikte van die wêreld met wysheid te benader.

Ten spyte van die slegte goed wat ons hoor wat tussen Christene en Moslems in dele van byvoorbeeld Afrika gebeur, is daar ook goeie stories wat selde die nuus haal. Stories wat ons moet begin vertel; stories van wyse optrede, liefde, vrede en versoening.

‘n Vriend vertel van een of ander Moslemland waar Christene en Moslems in vrede saamleef. Tydens ‘n gebedsgeleentheid by een van die Christelike kerke wou sommige Moslems hulle intimideer om nie te bid nie. ‘n Klomp ander Moslems het egter gekom, hande gevat en ‘n groot sirkel om die kerk gemaak en vir hulle Moslem-vriende gesê hierdie Christene is ook ons vriende, ook ons broers en susters. Julle gaan hulle nie seermaak nie. Ek wonder of ons ook so iets vir “ons Moslems” sal doen as iemand hulle wil seermaak? Ek dink ons sal.

‘n Tyd gelede wou iemand ‘n drankwinkel in die Bo-Kaap in die Moslemgemeenskap oopmaak. Moslems het met ‘n petisie begin om dit te keer. Van ons kerke het daarvan te hore gekom en vir hulle gevra, kan ons julle help, kan ons julle ondersteun, het julle nog handtekeninge nodig? Hulle het dit verwelkom. ‘n Paar weke later het ons die e-pos gekry waarin hulle innig dankie sê. Dalk is dit tyd dat ons ons tradisionele vyande vernietig . . . deur van hulle “vriende te maak”.

‘n Geneesde hart

Sonde en selfsugtige begeertes skop in ons harte nes. Ons het verlossing en genesing nodig. Jakobus sê ons kry nie, omdat ons nie bid nie.

Dit is ‘n oproep om die Here te bid vir genesing van ons selfsugtige begeertes, ons bittere naywer en gemene planne. Laat ons bid vir die wysheid van Bo, want dit is:

allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.

Hierdie wysheid bring ons in die regte verhouding met God, en ons moet dit gebruik om vrede te maak.

Daar is ‘n belofte hieraan gekoppel:

Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.