Sewende Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 1:15-17, 21-26; Psalm 1; Johannes 17:6-19

Johannes 17:8b
Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

Fokusteks

1 Johannes 5:9-13
(Die Skriflesing kan van vers 1-13 gedoen word.)
9Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Die doel van die brief
13Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Voorganger: God het Jesus van Nasaret aan ons bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom onder mense laat doen het.
Gemeente: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Voorganger: God het dit besluit en vooruit bepaal om Hom aan mense uit te lewer, en hulle het Hom aan ’n kruis laat spyker en Hom doodgemaak.
Gemeente: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Voorganger: Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan.
Gemeente: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word (Hand 1:22-24).

Aanvangslied:
Liedboek 421:1-3 “Die Here Jesus lewe”
NSG 110 “Laat ons met blydskap nader”

Liedere

Loflied: 
Liedboek 413 “Kom, koningseuns en -dogters saam”
Liedboek 415 “Jesus leef, en ons met Hom”
Liedboek 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

God praat met ons en ons luister

Skuldbelydenis
Gemeente: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Voorganger: Of ek sit en of ek opstaan.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: My gedagtes, nog voordat hulle by my opkom.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Of ek reis en of ek oorbly.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Deurgrond my o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
(Wepener, Cas 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington: Bybel-Media)

Lied van verootmoediging
Liedboek 247 “Heer wees ons genadig”
(Na aanleiding van Ps 139)

Familie-oomblik

Tema: Wie Jesus het, het lewe (ewige lewe) Whoever has Jesus, has life. (7th Sunday of Easter)
Hulpmiddels: 
1. Glas melk.
2. Foto (laai dit af);
3. Videosnit. (Laai dit af.)
(Die illustrasies sluit aan by die Got Milk?-advertensieveldtog in die VSA. Vra die kinders of hulle aan advertensies kan dink wat melk adverteer. Hulle sal die DairyBelle- en Parmalat-deuntjies kan sing. Die foto wys bekende TV-sterre wat ook op ons TV bekend is. Daar is twee videosnitte. Die een videosnit sal oud en jonk vermaak. Die metafoor van die vrou wat tot die uiterste toe gaan om melk te kry, kan ten opsigte van die boodskap oorgedra/gebruik word.)

Teks:  He who has the Son has life; he who does not have the Son of God does not have life. 1 John 5:12 (NIV)
Ek hou van melk, en julle? (Drink van die melk en maak seker dat jy ‘n wit snor op jou bolip vertoon.) Ah … dit was lekker. Oeps, ek sal seker my mond moet afvee.

Miskien het julle al advertensies op TV gesien waar bekende mense so ‘n wit melksnor het en dan vra: “Melk? Het jy melk?” (Wys foto.) Waarom doen hulle dit? Natuurlik is hulle besig om mense aan te moedig om meer melk te drink.

Hoekom sal hulle omgee of mense melk drink?
Die rede waarom hulle wil hê mense meer melk moet drink, is omdat melk ons help om sterk en gesond te wees. In die melk is daar ‘n belangrike iets – mens noem dit kalsium. Kalsium help ons om ons bene en ons tande sterk te maak. Daar is nog iets in melk – ‘n mens noem dit proteïen. Die proteïen in die melk hou ons vel jonk en mooi. Om melk te drink, is een van die maklikste maniere om vir ons liggaam al die vitamiene en minerale te gee wat dit nodig het om te groei, om sterk en gesond te wees.

Julle sien dus: “Melk? Het jy melk?” is ‘n baie belangrike vraag.
Ek ken ‘n vraag wat selfs belangriker is as “Melk? Het jy melk?” Om die waarheid te sê, dit is die belangrikste vraag wat ‘n mens vir iemand kan vra. Kan julle raai wat dit kan wees? Daardie vraag is: “Jesus? Het jy Jesus?” Wat beteken dit en waarom is dit so ‘n belangrike vraag?

Die Bybel leer ons dat die Here vir ons die ewige lewe gegee het deur sy Seun, Jesus Christus. Die Bybel sê: “Wie die Seun het, het die ewige lewe.” Dink julle nie die belangrikste ding wat ‘n mens vir iemand kan vra is of hy of sy die ewige lewe het nie? Op die ou end, as ‘n mens nie die lewe het nie, het jy niks.

Ek het dus ‘n belangrike vraag om vir jou te vra: “Jesus? Het jy Jesus?” As jy glo dat Jesus die Seun van God is en dat Hy jou sonde weggeneem het, het jy Jesus. En as jy Jesus het – het jy lewe!

Dankie, Here, dat U vir ons lewe gee – die ewige lewe deur Jesus Christus u Seun. Help ons om in Jesus te glo en vir Hom te lewe. Amen.

Preekriglyn

Geen onsekerheid?

Sal dit nie heerlik wees as ’n mens sonder enige onsekerheid in die lewe kan leef nie? ’n Kommervrye bestaan en lewe wat op sekerhede gebou is? Sekerhede wat elke dag voorspelbaar maak, elke oomblik van die lewe in fyn besonderhede uitstippel – geen kans dat ’n onverwagte gebeurlikheid die ritme van die gang van sake kan versteur nie?

’n Lewe van sekerheid sal maak dat jy nooit hoef te wonder hoe dinge sal uitwerk nie. Sekerheid sal ’n salige vergenoegdheid met die lewe bring. Geen angs en versigtigheid oor wat die dag van môre kan bring nie! Veilig – verseker.

In só ’n wêreld sal ons môre ons korttermynversekering, lewensversekering, ongeskiktheids-, hospitaal- en werkloosheidsversekering laat vaar. Daar sal geen rede daarvoor wees nie – want daar is geen onsekerhede in ons lewe nie. Ons weet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. As ons by die reëls van die spel hou, is ons verseker wat ons sal ontvang en wat ons sal moet gee. Wat ons saai, sál ons maai – ongeag, verseker!

Ons weet egter die lewe is nie so nie. Die lewe is onseker, omdat dit ten diepste onvoorspelbaar is, onkenbaar is.

Ons het geleer om met die onsekerheid van die lewe saam te leef – veral omdat ons prakties ervaar dat ons sekerhede oor baie dinge – die politiek, ons toekoms in Suid-Afrika en Afrika, die wetenskap, die kapitalisme, en les bes ook die kerk – besig is om vinnig minder te word.

Sekerheid en die kerk en Bybel 

“Genadiglik het ons nog die kerk en die Bybel wat vir ons sekerheid bied,” hoor ek iemand sê. Maar dit is juis ook binne die kerk wat die debat oor sekerheid en onsekerheid woed.

Debatte hieroor is deesdae algemeen. Diegene wat hulle sekerheid in die Bybel soek, word as fundamentaliste beskryf. Diegene wat sê dat die Bybel nie antwoorde op al ons onsekerhede gee nie, word as afvalliges beskou wat nie die gesag van die Woord van God aanvaar nie.

Die sosioloog, Peter Berger, probeer om die verskynsel van onsekerheid in die moderne tyd te verklaar. Volgens hom word ons toenemend met baie verskillende oortuigings, waardes en lewenstyle gekonfronteer. Ons word dan gedwing om tussen hulle te kies. Dit het verreikende gevolge vir elke aspek van ons lewe. Onder andere het dit implikasies vir ons geloofslewe. Die baie stemme en die verskillende interpretasies, beteken dat dit al hoe moeiliker word om sekerheid in jou geloofslewe te hê.

Het jy geloofsekerheid?

“Is jy seker jy gaan hemel toe?”
Dit was die klassieke evangelisasievraag wat in die verlede aan ’n ieder en ’n elk gevra is. Gewoonlik, ongeag hoe jy op hierdie vraag geantwoord het, het die vraesteller kortliks die “weg van saligheid” verduidelik. Só kon jy dan met groot erns verklaar dat jy “geloofsekerheid” het.

Hierdie soort geloofsekerheid het min te doen met die lewe op die aarde. Dié sekerheid gaan oor eendag, oor die hemel.

Sekerheid versus onsekerheid

Verlede jaar in Mei (2011) het Frits Gaum ’n boek gepubliseer met die titel Fluit-fluit, die kerk is uit? (vraagteken). Daarin sê hy dat die kerk, en by name die NG Kerk, in ’n bestaankrisis is. In ’n onderhoud in Rapport (13 Maart 2011) maak Gaum die opmerking dat indien die kerk as instituut wil oorleef en voortbestaan, dit onder andere sal moet leer “… om dinge met minder sekerheid te sê”.

Gaum onder meer verwys na die boek Die eerste vyf minute ná die dood van dr Izak Burger, president van die AGS, waarin die hiernamaals beskryf word. Gaum sê teoloë sal moet ophou om voor te gee asof hulle vaste antwoorde op sulke kwessies het. Hulle sal groter erns met twyfel en onsekerheid moet maak.

Hy sluit die onderhoud af deur te sê: “Fundamentalisme – ’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel – sal daar altyd wees, maar dit word ’n ernstige probleem vir die kerk.”

Die daaropvolgende Sondag reageer prof Johan Janse van Rensburg op hierdie onderhoud. Sy reaksie is kort en kragtig: “Dit is nie ‘fundamentalisme’ wat tot (die Europese) kerke se stryd om voortbestaan aanleiding gegee het nie, maar vrysinnigheid! Die moderne teologie wat so hoog aangeskrewe is, was 35 jaar gelede die rede waarom kerke in Europa gesluit en vir sekulêre doeleindes verkoop is. Wie wil nou deel van ’n kerk wees wat van niks meer seker is nie?”

Voorheen, so wil dit lyk, was geloof en sekerheid pasmaats. Geloof het juis sekerheid gebring. Vandag, lyk dit, is daar ‘n sterk pleidooi om geloof en openheid, geloof en onsekerheid, geloof en twyfel te paar.

Prof Anton van Niekerk het reeds in 2005 ‘n boek gepubliseer met die titel Geloof sonder sekerhede. Vir hom is sy boek ‘n “soektog na sin in ‘n situasie van onsekerheid”. Hy wys daarop dat ons sekerheid oor God – hoe ons oor Hom moet dink, wie Hy is en wat Hy van ons verwag –aan die kwyn is.

Volgens Van Niekerk is daar talle “onseker gelowiges” soos hy. ‘n Onseker gelowige is iemand wat nog nie die geloof prysgegee het nie, maar wat selde raad weet met van die tergendste vrae waaroor moderne mense, wat vandag steeds wil glo, moet kopkrap.

Dit is vrae soos:

  • Hoe weet ons daar is ‘n God?
  • Wat is daar wat ons betroubaar omtrent God kan weet?
  • Hoe versoen ons God en lyding?
  • Hoe kan ek die inhoud van my geloof met die bevindings van die wetenskap versoen?
  • Hoe is geloof in God nog ter sake in ‘n wêreld waar ons verstommende ontwikkelings op die gebied van nuwe biomediese tegnologieë (stamselnavorsing, kloning) sien, maar andersyds op verskynsels soos armoede en vigs stuit – laat staan nog die dood self, wat grense stel aan wat ons kan vermag?

In sy boek Om te mag twyfel skryf Julian Müller dat die konsep “geloofsekerheid” hom in die steek gelaat het.

Vir hom, soos vir baie van ons, is vertel dat ons geloofsekerheid móés hê om ‘n goeie Christen te wees. En die manier waarop ‘n mens geloofsekerheid kon bekom, was om ‘n eenvoudige resep te volg:” Bely jou sondes en neem Jesus in jou hart aan as jou enigste Verlosser.”

Oor dié sekerheid van die ewige lewe is 1 Johannes 5:13 verder aangehaal: “… sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het …” Hierdie teks moes “sekerheid” oor die “ewige lewe” bring – waarmee eintlik bedoel is die hemel of die hiernamaals.

Volgens Müller is geloofsekerheid egter so ‘n vae konsep dat dit aan misverstand en misbruik blootgestel is. Geloofsekerheid skep die illusie dat dit van God ontvang word, maar eintlik is dit maar ‘n produk van jou eie oortuiging ­– iets wat jy moet verwerf. Sommige is daar méér suksesvol mee as ander.

‘n Verdere implikasie, volgens hom, is dat jou verlossing dus altyd aan ‘n draadjie hang. Jou verlossing is afhanklik van jou geloof, maar jou geloof is kwesbaar. Gevolglik moet geloofsekerheid veilig bewaar word. Die manier waarop jy dit kan doen, is om jou geloof gedurig in te oefen en nooit te bevraagteken nie. Só behou jy geloofsekerheid.

Die evangeliese sekerheid bied ook geen bevredigende antwoord op lyding nie.
Geloofsekerheid skep weliswaar ‘n ongekende verwagting in die krag van gebed en toewyding. Die keer wat God egter nie die gebede van sy kinders verhoor nie, pak ons die skuld op die gelowige se gebrek aan geloof en toewyding. Dan sal byvoorbeeld gesê word daar was nie genoeg volhardende gebed nie. Müller vertel van sy eie ervaring in dié verband, hoe hy gebid het dat hulle buurseun van kanker genees word. Hy was só seker en oortuig dat God hom sou verhoor. Die seun het egter gesterf en is in die plaaskerkhof begrawe.

Bybel ken mense se onsekerheid

Sekerheid wat in gedrang kom, is nie vreemd aan die Bybel nie.
In die gemeenskap in 1 Johannes aan wie Johannes skryf, was daar ook onsekerheid. Dwaalleraars het hierdie gemeente verwar deur vir hulle te vertel dat Jesus nie die Christus is nie. Volgens hulle was daar ‘n verskil tussen die aardse Jesus en die hemelse, geestelike Christus.

In ons teksgedeelte hou Johannes ‘n geloofsekerheid aan die gemeente voor wat op die drie laaste verse van hoofstuk 5 (18,19 en 20) uitloop. Elkeen begin met die gedagte “ons weet”. Die gemeente kan dus seker wees.

Johannes wil hierdie gemeente met  geloofsekerheid die wêreld instuur – die sekerheid dat hulle in die ware gemeenskap met God is en die ewige lewe het. Hy stel sy doelwit met sy skrywe in vers 13: “Hierdie brief skryf ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het.” Die Nuwe Lewende Vertaling verwoord dit so: “Ek skryf hierdie dinge aan julle dat julle met die wete mag leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe.”

Geloofwaardige getuies

Hoe verloop Johannes se redenasie?
Hy wys daarop dat daar nie net menslike ooggetuies is wat oor Jesus se menswording getuig het nie (1:1-4). Die Gees getuig self daaroor.

Hy vervolg in vers 9: “As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar; die getuienis van God is soveel groter. Hierdie getuienis kom van God af, sy getuienis staan vas oor sy eie Seun” (NLV).

Johannes se punt is: Wanneer mense soms iets sê wat klaarblyklik betroubaar is, word hulle getuienis aanvaar, soos byvoorbeeld in ‘n hof. As ons dan die getuienis van mense aanneem, dink daaraan dat die getuienis van God groter is. God is immers groter as mense. Daarom moet groter gewig aan sy getuienis geheg word. Sy getuienis gaan nie oor beuselagtighede nie, maar oor sy Seun.

In 1:1-4 is dit kragtig gestel dat die menswording van Jesus gehoor, gesien en beleef is. Dit staan vas in die geskiedenis: Jesus het mens geword (Joh 5:36). Die getuienis van die Heilige Gees hou dié werklikheid lewend – ook in die hede. Verder herdenk die gelowiges gereeld deur die sakramente van die doop en die nagmaal die dood en verlossingsbetekenis van Jesus as Seun van God.

Deur te glo, en te bely wat jy glo, maak jy die Christus-gebeure jou eie. Dit word deel van jou innerlike oortuiging, ‘n geloofsekerheid. Daarom sê Johannes: Ons dra die getuienis in ons hart (vers 5).

Jan du Rand sê van só ‘n geloof sou jy kon sê: “God gee wat Hy vra en Hy vra wat Hy gegee het. Hy gee die ‘vashou’ aan die Christus-gebeure en Hy vra die belydenis daarvan deur woord en leefstyl.”

Tog een sekerheid

Aan die begin het ek die opmerking gemaak dat dit heerlik moet wees om sonder onsekerheid te leef. Miskien moet ek dit omdraai en sê, dit is wonderlik om ten minste met één sekerheid te mag leef: die sekerheid van die besit van die ewige lewe.

In ‘n verwarrende gemeente-situasie, waar vals profete en verleiers aanhoudend ‘n vraagteken oor Jesus se egtheid en verlossing probeer plaas het, bemoedig Johannes die gelowiges om te volhard.

In ‘n verwarrende wêreld waar baie van ons sekerhede minder word en die inhoud daarvan kwyn, wil God ons troos om elke dag met dié bewussyn te leef: Wie die Seun het, het die ewige lewe, het nóú reeds die ewige lewe. In die woorde van Jan du Rand: “Dít wat eers in die toekoms verwag is, het alreeds in die hede ‘n werklikheid geword.”

Wanneer ons ons geloof in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis uitspreek, bely ons dat ons in die ewige lewe glo. Die grond vir daardie artikel van ons geloof, sê die Nederlandse teoloog, A van Ruler, kom uit die verskyning van die opgestane Christus.

Dit was nie net die opgestane Here wat aan sy dissipels verskyn het nie. In sy verskyning, het ook die ewige lewe aan hulle verskyn. Die dissipels kon die ewige lewe sien en met hulle hande daaraan raak. Dáárom het hulle as apostels die wêreld ingetrek om hierdie ewige lewe te gaan verkondig. Hulle getuienis het ook ander – vir jou en vir my – daarin kon laat deel.

Die lewe is vol onsekerhede, dit is ons ervaring. Sommige dae wil die onsekerheid en angs ons oorweldig. Nie net die onsekerheid ten opsigte van ons eie klein lewe nie, maar ook die groter vrae van die lewe. Waarom hierdie wêreld? Wie is ons? Hoekom is ons hier? Waarop stuur dit alles af?

Geloof gee ‘n greep op die lewe

Geloof is ‘n manier om inhoud aan die geheimenis, aan die misterie wat ten grondslag van ons lewe in die wêreld lê, te probeer gee.

Dit was ook die apostels se boodskap – om in Jesus Christus te glo, is om die lewe uit Hom te ontvang en in Hom te lewe.

Geloof in Christus is lewensgemeenskap met Hom. Van so ‘n gelowige in lewensgemeenskap met Christus, kan gesê word dat hy of sy die “getuienis in hom- of haarself het”. So ‘n gelowige is iemand wat die getuienis sy of haar eie gemaak en dit in hom of haar opgeneem het.

Deur ons geloof in en verhouding met Jesus Christus, die Seun van God, ervaar ons, in die woorde van die kerkvader Augustinus, dat “ons hart onrustig bly totdat dit rus vind in U”. Die onrus en die onsekerheid van die lewe kom vir Christene eers tot rus wanneer hulle die getuienis van God oor sy Seun aanvaar. “En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun” (vers 11).

In die mens Jesus van Nasaret, so glo ons, het ons God self gesien. Dit verander weliswaar nie die feit dat ons steeds min van God af weet nie.

Van Niekerk skryf in Geloof sonder sekerhede dat as ons glo dat ons deur sy openbaring in Christus wel genoeg van God weet, ons kan leer om met die onrus, die onsekerhede en die geheimenis sáám te leef.

In Christus ken ons nie noodwendig die wese van God nie, verstaan ons nie noodwendig hoe Hy dink en besluit nie, maar ken ons wel sy hart. En daardie hart van God klop só warm van liefde vir sondaarmense dat dit op ‘n dag, 2 000 jaar gelede, letterlik ophou klop het – sodat die lewe wat Hy ons bied, vir ons ewig kon word.

Nadat Jesus aan sy dissipels verskyn het, skryf Johannes in sy evangelie (hoofstuk 20:30-31), het Jesus nog baie ander wondertekens gedoen wat nie opgeteken is nie. Maar die wondertekens wat wél opgeteken is, “is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê”.

Johannes vra hierdie merkwaardige vraag: Wie is dit dan wat die wêreld oorwin? Hy antwoord dit in vers 5: “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” Die mens wat só glo, hét deel aan die oorwinning omdat hy of sy opgeneem is in die omgang met God.

Sommige mense noem dit “geloofsekerheid”. Ander praat bloot daarvan as om “opgeneem te wees in die gemeenskap met God”. Hoe jy dit ook al noem: Só verkry ons ‘n greep op die lewe en sy onsekerhede! Só oorwin ons die sondige wêreld!
Amen

God stuur ons om te leef

Uitsendingslied: Liedboek 503 of 515 of 518

Ontvang die Heilige Gees en God se seën vir julle opdrag:
“Ek gee julle die ewige lewe, en julle sal nooit ooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit my hand ruk nie.”
Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.