Sewende Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Johannes 17 is veral ‘n liturgiese teks. Binne hierdie gebed gaan ons in die misterie van Jesus se kruis en opstanding in. Die kruis en opstanding word voorgehou as Jesus se weg na sy volle heerlikheid. Dit is hierdie heerlikheid wat die lewensruimte vir ons eie bevryding en aardse roepingsvervulling skep. Die gemeente word in die ruimte van Jesus se heerlikheid ingenooi om self die krag van God te ontvang wat vrymoedigheid skep om as die geseëndes te midde van alle uitdagings en aanslae te leef.

Ander tekste

Johannes 17 is Jesus se bede waarin Hy die heerlikheid van God in ontvangs neem, terwyl Hy sy volgelinge lei om die aardse bestaan binne hierdie heerlikheid te voltooi. 1 Petrus 5:6-11 gee woorde wat ons help om die paradoksale eenheid van die hemelse en aardse  werklikhede te handhaaf.

Handelinge 1:6-14
6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Judas se opvolger
12Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, ’n sabbatsreis ver. 13In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus. 14Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ’n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.

Psalm 68:1-10, 32-35
Geloof sy God
68 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n Psalm.
’n Lied.
2As God verskyn,
spat sy vyande uitmekaar,
en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.
3Soos rook wegwaai,
so dryf U hulle weg;
soos was in vuur smelt,
so gaan die goddeloses tot niet
as God verskyn.
4Maar vir die regverdiges
sal daar blydskap wees,
hulle sal juig voor God,
hulle sal vrolik en bly wees.
5Sing ’n lied tot eer van God,
sing tot eer van sy Naam,
maak ’n pad vir Hom
wat op die wolke ry,
en jubel voor Hom
wie se Naam Here is.
6’n Vader vir weeskinders
en ’n beskermer
van die reg van weduwees
is God in sy heilige woning.
7God laat eensames
in ’n huisgesin woon
en lei gevangenes uit na vryheid,
maar wie teen God in opstand is,
woon in ’n kaal woestyn.
8Toe U u volk uitgelei het, o God,
toe U deur die woestyn gestap het,
9het die aarde gebewe
en het die hemel dit laat reën
voor U uit,
daar by Sinai, voor God,
die God van Israel.
10U het oorvloedige reëns laat uitsak,
o God,
U het u verdorde land weer lewe gegee.

11U eie volk het daar gaan woon.
In u goedheid, o God, het U dit
vir u hulpelose volk bestem.
12Die Here het bekend gemaak:
“Daar is goeie nuus:
’n groot leër, 13–14magtige konings,
het gevlug,
hulle het gevlug.”
Terwyl die manskappe nog tussen
die saalsakke gelê en rus het,
was die vroue tuis al besig
om die buit te verdeel:
beeldjies van duiwe
waarvan die vlerke oorgetrek is
met silwer
en die vlerkpunte
met glinsterende goud.
15Dit het gesneeu op Salmonsberg
toe die Almagtige die konings
daar uitmekaargejaag het.
16Basansberg, ontsaglike berg,
Basansberg, berg met hoë kruine,
17waarom, berg met jou hoë kruine,
kyk jy met afguns
na die berg wat God
as sy woning verkies het,
waar die Here vir ewig woon?
18Die skitterende strydwaens van God
was duisende,
duisende der duisende,
toe die Here van Sinai af
die heiligdom betree het.
19U het krygsgevangenes weggevoer,
mense het vir U geskenke gebring,selfs dié wat teen U in opstand was.
Toe het U opgegaan na die hoogte
om daar te woon, Here God!
20Geloof sy die Here!
Dag na dag dra Hy ons!
God is ons hulp!
21God is vir ons die God wat ons red,
die Here ons God deur wie ons
bewaar word in doodsgevaar.
22God verpletter die kop van sy vyande,
die kop van dié
wat in hulle sonde volhard.
23Die Here het gesê:
“Uit Basan bring Ek my vyande,
Ek bring hulle uit die dieptes
van die see.
24Julle sal hulle bloed
van julle voete afwas,
die honde sal die bloed
van julle vyande oplek.”
25Die mense sien u feesoptog, o God,
die feesoptog van my God,
my Koning, na sy heiligdom:
26vooraan die sangers,
agteraan dié
wat snaarinstrumente speel,
en tussenin, meisies
wat tamboeryne slaan.
27Hulle loof God in kore,
die nasate van Israel loof die Here.
28Dáár is Benjamin, die jongste,
hulle aanvoerder,
dáár is die baie leiers van Juda,
dié van Sebulon, dié van Naftali!
29Toon die mag, o God,
waarmee U ons gered het,
toon u mag, o God,
30hier uit u tempel in Jerusalem
waar konings aan U geskenke bring.
31Tree op teen Egipte,
daardie ondier tussen die riete,
die magtige volk,
die sterkste onder die volke,
wat ander vertrap vir geld,
wat volke uitmekaarjaag
en hou van oorlog maak.

32Uit daardie selfde Egipte
sal geskenke kom,
en die Kussiete sal hulle hande
smekend na God toe uitsteek.
33Koninkryke van die aarde,
hef ’n lied aan tot eer van God,
sing tot eer van die Here,
34tot eer van Hom
wat ry deur die hemele,
die hemele wat
van die begin af daar is!
Hy laat sy stem,
sy magtige stem,
weerklink!
35Erken dat God magtig is!
Hy heers oor Israel,
Hy het mag oor die wolke!
36God wek ontsag
wanneer Hy uit sy heiligdom kom.
Hy is die God van Israel,
Hy gee krag en sterkte aan sy volk.
Aan God kom die lof toe.

1 Petrus 4:12-14; 5:6-11
Om as Christen te ly
12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.

15As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

17Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18“As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?” h

19Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

Die ouderlinge moet toesig hou
5 As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees. 4En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.

Wees nederig
5En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” i

6Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee
8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Fokusteks

Johannes 17:1-11
Jesus bid vir sy dissipels
17 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Ekstra stof

Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk
Dit tref my dat hierdie gebed in Johannes eintlik die rol inneem van die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie.  Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels.  Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir hulle (Hy is daar ons Voorspraak – 1 John 2:1; Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree – Heb 7:25; Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God – Rom 8:34).  En die inhoud van die gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het.

Die gebed vertoon die volgende drie-delige (Westcott) struktuur wat interessante ooreenkomste vertoon met die wyse waarop Aäron sy rol as Hoëpriester gespeel het (doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente – Lev 16:17):

  • Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi (“dit is volbring” – Joh 19:30), om God se woorde aan mense bekend te maak – 17:1-8;
  • Jesus bid vir die dissipels:
    • Vir die beskerming van die dissipels se onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees – 17:9-12;
    • Vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord, al erken Jesus dat Judas verlore is soos die Skrif voorspel het (Ps 41:10) – 17:13-19;
  • Jesus bid vir kerk:
    • die eenheid van al die gelowiges wat deur die dissipels se werk tot geloof in Jesus sal kom, as ‘n verdere getuienis aan die wêreld – 17:20-23;
    • Jesus bid vir ‘n hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en Sy liefde volkome in hulle kan bly – 17:24-26.

Let op dat die ewige lewe nie op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ‘n tydloosheid nie, maar op ‘n onbelemmerde verhouding met God.

Let ook op dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf moet word in die midde van die eksterne aanvalle van die Bose en die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

Dit bly die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ‘n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ‘n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ‘n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel.  Paulus sou baie tyd aan hierdie gedagtes spandeer en dit verder uitspel (1 Kor 12-14; Ef 3-4).  Dit is die lewende testament van Jesus – Hy bid vir en werk vir eenheid, ‘n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef.  Niks minder as dit kan ooit ons doelwit en passie bly nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 of VONKK 254

Votum: Psalm 68:5-7

Seëngroet

Lofsang: VONKK 19 of Psalm 68

Wet: 1 Petrus 5:6-7 (of 9)

Toewyding: Lied 270 “Son van die geregtigheid”

Genadeverkondiging: 1 Petrus 5:10-11

Geloofsbelydenis: (Uit Blydenuus van Geloof)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 17:1-11

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: VONKK 265

Dankoffer

Slotsang: Lied 478 of F66 of VONKK 278  of F132

Seën

Respons: VONKK 204

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
VONKK 254 God is hier [bekende melodie]

Votum
Psalm 68:5-7
5Sing ’n lied tot eer van God,
sing tot eer van sy Naam,
maak ’n pad vir Hom
wat op die wolke ry,
en jubel voor Hom
wie se Naam Here is.
6’n Vader vir weeskinders
en ’n beskermer
van die reg van weduwees
is God in sy heilige woning.
7God laat eensames
in ’n huisgesin woon
en lei gevangenes uit na vryheid,
maar wie teen God in opstand is,
woon in ’n kaal woestyn.

Seëngroet

Lofsang
VONKK 19 Die Vyand Vlug As God Verskyn (Psalm 68) of
Psalm 68

Wet
1 Petrus 5:6-7 (of 9)
6Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Toewyding
Lied 270 Son van die geregtigheid

Genadeverkondiging
1 Petrus 5:10-11
10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Geloofsbelydenis
Uittreksel uit  BLYDENUUS VAN GELOOF
Ek glo in God die Vader
die Almagtige Maker
van alles in die hemel
en alles op die aarde.

Ek glo in hierdie Vader
die God wat Liefde is
en ons na hierdie aard gevorm het
tot vlees uit stof,
en dit gevul het met Sy Gees
sodat ons uit gewone mensesaad
mense na Sy beeld kan maak:
om hiérin onsself te wees –
om lief te hê
sonder vrees.

Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ‘n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota ­
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.

Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal ­
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.
Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei
tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense
met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die Heiligheid van God.

(Outeur: Wilhelm Jordaan, uit “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)

Liedere

VONKK 254 “God is hier”
Teks: Hannes van der Merwe 2012 ©
Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Doop / Nagmaal / Die Kerk

God is hier en ons, sy kinders,
bring voor Hom ons lof, gebed.
Mag ons hier ontdek die rykdom
wat ons reeds in Christus het.
Hier kom ons met ons verskille,
al ons gawes en vermoë,
en U bind ons tot ‘n eenheid
omdat ons in Jesus glo!
God is hier ook in simbole
van sy liefde en sy trou.
Hier’s die tafel, hier’s die doopvont,
hier’s die Woord waarop ons bou.
Mag die boodskap klink in waarheid;
mag ons hart ontvanklik wees.
Mag ons hier weer nuutgemaak word,
aangeraak deur God se Gees.
God is hier en in sy kudde
leer ons dat die Heer voorsien.
Hier kan ons ook daarop antwoord
soos ons leer om God te dien.
Hier is dienaars van die Dienskneg
in aanbidding bymekaar.
Hier leer ons wat dit beteken
om die boodskap uit te dra.
Here God, u kerk aanbid U
ook te midde van ons stryd,
in ‘n tyd van haat en twyfel,
as getuies wêreldwyd.
Hier, vandag, ontvang ons loflied,
ons berou en ons gebed,
ons geloof in Jesus Christus,
U, die Here wat ons red.

VONKK 19 “Die Vyand Vlug As God Verskyn (Psalm 68)”
Psalm 68
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: NIEL – Niel van der Watt 2008 ©
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Klavierbegeleiding: Niel van der Watt 2008
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing / Geloof enVertroue

1.  Die vyand vlug as God verskyn.Kyk – al sy haters sal verdwyn,
maar almal wat God dien en eer
sal vrolik-bly wees in die Heer.
Kom sing tot God, kom eer Hom bly –
dis Hy wat op die wolke ry.

2.  Die weerloses kan veilig bly;
dié wat gebind is, maak Hy vry.
Die eensames is by Hom tuis –
hul’s welkom in sy vaderhuis.
Kom sing tot God, kom eer Hom bly –
dis Hy wat op die wolke ry.

3.  O God, U het u volk geseën,
hul uitgelei en als voorsien.
O prys Hom wat ons al ons dae
wil red en in sy arms dra.
Kom bring jul hoogste eerbetoon
aan God wat oor die wolke troon.

VONKK 265 “Kom ons bid tot die Heer”
Teks: Tradisionele gebedsrespons; Afrikaanse weergawe: Cassie Carstens 2013 (Pro Deo)
Musiek: Bisantynse dreunsang
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Meditatief – Gebede

Voorsanger: Kom ons bid tot die Heer.
Almal/Kantory: Heer, hoor ons bid.

Alternatiewe response:
Halleluja! / Hoor ons gebed / Gee vrede, Heer / Heer, U alleen / Amen, amen

Moontlike litanie:
Kom ons bid tot die Heer.
Heer, hoor ons bid.
Vir vrede in die hele wêreld,
vir die groei van die kerk,
en vir eenheid onder almal.
Kom ons bid tot die Heer.
Heer, hoor ons bid.
Vir die gelowiges wat ons vooruit gegaan het,
kom ons dank nou die Heer.
Halleluja!
Help, red, vertroos en beskerm ons,
genadige Here. [Tyd vir meditasie]
Verheug julle in die gemeenskap van die gelowiges.
Kom ons gee onsself vir mekaar in toewyding,
en ons hele lewe aan Christus, ons Here.
Kom ons bid tot die Heer.
Heer, U alleen.
Amen, amen.

VONKK 278 “Hemelse Vader, van U kom smeek ons”
Teks:  Elena G Maquiso; Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: ILONGGO – Tradisioneel Filippyns
Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2014 ©
© Teks en orrelbegeleiding: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede / Drie-eenheidsondag / Geloof en Vertroue

Hemelse Vader,
van U kom smeek ons:
Gee aan u kinders
u liefde,  deernis.
Maak ons ‘n eenheid
deur u genade.
Hemelse Vader,
U is ons God.
O Here Jesus,
ons kniel hier voor U,
herdenk u lyding
en u oorwinning.
Ons bring ons lofsang
en ons aanbidding
aan U, o Here.
U is ons God.
Heilige Trooster,
ons vra afhanklik:
Skenk ons genade,
geloof, volharding.
Neem ons gebede
tot by die Vader.
Heilige Trooster,
U is ons God.

F132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Geloofsbelydenis / Ekumene / die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song

1. Vader van liefde, bron van ons krag
ons bring in aanbidding ons loflied aan U.
Here U het belowe om hier by ons te wees
as ons saam is in u Naam, in waarheid en gees.

2. Jesus, ons Redder, Immanuel
ons kom ons lewens as lof-offer gee.
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
en aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring.

3. Gees van die waarheid, Helper uit God
leer ons om in liefde soos Jesus te dien.
En bind ons dan saam, Heer soos ons hier voor U staan
om met liefde in ons hart na die wêreld te gaan.
Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.
Help ons om uit een hart in eenheid te bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
(Liedboek 478)
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 17:1-11

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

In vanoggend se teks bid Jesus vir ons en vir Christene oral.  Volg sy voorbeeld en laat almal bid!  Almal kan gebede teken – dan kan julle dit volgende Sondag iewers in die kerk wys.

Leer ook die kinders om hul hande te gebruik om te onthou vir wie hulle almal moet bid:

  • Duim is naaste aan jou – bid vir jou familie en vriende
  • Wysvinger wys – bid vir almal wat onderrig:  onderwysers, kategete, dominee
  • Middelvinger is die langste – bid vir leiers, regering
  • Ringvinger is die swakste – bid vir siekes, behoeftiges
  • Pinkie is die kleinste – bid vir jou eie behoeftes

Laat die kinders die hele tyd saam met jou aan die regte vinger raak en voorstelle maak vir wie julle kan bid.

Of laat almal kettings van karton maak en heg dan al die kettings aan mekaar, om iets van jul eenheid te demonstreer.  Laat almal hande vat tydens gebed in die erediens.

Preekriglyn

Malcolm Gladwell vertel in sy boek Outliers ‘n merkwaardige verhaal oor die dorpie Roseto in die Amerikaanse staat Pennsylvania. Die eerste inwoners van die dorpie was afkomstig van die gelyknamige dorpie Roseto Valfortore in Italië. Die dorpie in Amerika het teen die einde van die negentiende eeu ontstaan en vertoon, wat boustyl betref, ooreenkomste met die dorpie van herkoms.

In die 1950’s trek die dorpie dr Stewart Wolf, verbonde aan die Universiteit van Oklahoma, se aandag omdat daar feitlik glad nie hartprobleme voorkom nie. Terselfdertyd was hartsiektes in Amerika die hoof oorsaak van sterftes onder mans jonger as vyf en sestig. Wolf het besluit om ondersoek in te stel.

Wolf het in 1961 met uitgebreide navorsing in Roseto begin en onder andere ook die hulp van ‘n sosioloog, John Bruhn, betrek. Na baie en diepgaande onderhoude deur ‘n span navorsers het Bruhn tot hierdie gevolgtrekking oor Roseto gekom: “Daar was nie selfdoding, alkoholisme, dwelmverslawing of selfs misdaad nie. Niemand was afhanklik van welsynsdienste nie. Maagsere het ook nie voorgekom nie. Die mense van Roseto is suiwer en alleen van hoë ouderdom dood.”

Verskeie faktore wat moontlik ‘n rol in hierdie gemeenskap se goeie gesondheid kon speel, is oorweeg. Het hulle ‘n gesonde dieet gevolg? Dalk ‘n gesonde leefstyl gevolg en gereeld geoefen? Glad nie! Trouens, die teendeel was eerder waar. Hulle het in baie opsigte meer ongesond geëet en geleef as die gemiddelde Amerikaner.

Het dit dalk met hulle gene te doen gehad of met die omgewing waar hulle gebly het? Die een na die ander moontlikheid is deur goeie navorsing uitgeskakel totdat die volgende insig by die navorsers deurgebreek het: “Die oorsaak van die goeie gesondheid was Roseto self.” Bruhn en Wolf het opgelet hoe die mense van Roseto mekaar besoek, op straat tyd gemaak het om met mekaar te gesels, of saam etes voorberei het terwyl hulle bymekaar kuier. Uitgebreide families het saam in die dorpie geleef en mekaar ondersteun. In baie huise het drie generasies saamgewoon, en daar was baie respek vir die grootouers. Mense het gereeld die mis bygewoon (die mense was Katoliek) en die kerk het ‘n duidelike stabiliserende effek op die dorpie gehad. Daar was 22 organisasies aktief in die dorpie met sy minder as 2,000 inwoners. Daar was ‘n etos van gelykheid in die dorpie, wat die rykes verhoed het om met hul rykdom te koop te loop en die armes se mislukkings is doelbewus op die agtergrond geskuif.

Die navorsing deur Bruhn en Stewart is in 1979 as The Roseto Story: An Anatomy of Health gepubliseer. Die openingswoorde in die boek is:

Roseto, an Italian-American community in Northampton County, east-central Pennsylvania, provides striking evidence of a correlation between health, especially cardiovascular and mental health, and the character of human relationships in a community.

Roseto is dus ‘n sprankelende voorbeeld oor die verband tussen verhoudings, gemeenskap en lewe. Goeie verhoudings is belangrik vir lewe om te gedy!

Op hierdie punt is daar wesenlike ooreenkomste tussen Roseto en die evangelie van Jesus Christus. Mens herken belangrike aspekte van ons teks uit Johannes 17 in die lewe van hierdie dorpie.

Indeling

Johannes 17:1-11 kan in drie dele ingedeel word:

  • In verse 1 tot 5 kom die verhouding tussen die Vader en die Seun ter sprake;
  • In verse 6 tot 8 kom die verhouding tussen die dissipels en die Vader en Seun ter sprake;
  • In verse 9 tot 11 fokus Jesus se gebed op die onderlinge verhoudinge tussen Jesus se dissipels.

Reeds uit die indeling word dit duidelik dat verhoudings in ons teks uiters belangrik is. Die lewe is verhoudings, en lewe (die ewige lewe) word uit verhoudings meegedeel.

Vader en Seun

In verse 1 tot 5 vra Jesus biddend dat die Vader Hom sal verheerlik, aangesien Hy sy werk voltooi het. Die intieme verhouding en gemeenskap tussen Vader en Seun blyk uit hierdie verse. Mens sien in hierdie deel van die gebed as’t ware die binnewerkinge van die verhouding tussen Jesus en sy Vader.

Die aanspreekvorm “Vader” is in die huisgesin deur kinders teenoor hulle vader gebruik. Dit is ‘n verhouding wat eenheid in wil en optrede demonstreer. Jesus gee die ewige lewe aan diegene wat die Vader aan Hom gegee het. Dit is ‘n verhouding van mededeelsaamheid waarin die Vader en die Seun op mekaar gerig is. Die Seun verheerlik die Vader en die Vader verheerlik die Seun. Dit is ‘n verhouding van interafhanklikheid waarin die Vader en die Seun op mekaar aangewese is. Die werk van die Vader is nie die werk van die Seun nie en omgekeerd.

Die Vader gee volmag en opdrag aan die Seun, en die Seun voer die opdrag uit wat die Vader Hom opgelê het. Dit dui ook op meervoud en verskeidenheid in die verhouding tussen Vader en Seun. Die Vader en die Seun is nie dieselfde nie. So bid die Seun byvoorbeeld tot die Vader.

Uit hierdie hegte verhoudingslewe ontstaan die gawe van die ewige lewe. Die ewige lewe word verkry deur die “ken” van God en van Jesus Christus. Die kennis behels meer as ‘n intellektuele aanvaarding. Hierdie kennis is ‘n verhoudingsaangeleentheid. Om God te ken, is om in verhouding tot God te staan.

‘n Verdere kenmerk van die ewige lewe, volgens Johannes, is dat dit nie net toekomstig is nie. Dit is reeds ‘n werklikheid in die lewe van die gelowige (vgl. Joh. 5:24). Die ewige lewe begin alreeds nou, deur geloof, en dit gaan anderkant die dood voort deur die belofte van opstanding uit die dood.

Gawe van lewe

Op ander plekke betrek die Nuwe Testament ook die Heilige Gees by die intieme gemeenskap binne God. God is in sy wese gemeenskap. Dit is uit die gemeenskap tussen die Vader en die Seun (en die Gees) wat die gawe van die lewe ontstaan.

Vir die Christelike geloof is die drie-eenheid nie ‘n abstrakte begrip nie. Ons praat oor die Drie-eenheid op grond van die lewe en leer van Jesus Christus. Jesus aanbid die Vader, en Jesus stort die Gees uit. By Jesus leer ons dat God ‘n verhoudingswese is. Van ewigheid af is daar verhoudinge in God. Ons leer die Vader, Seun en Heilige Gees ken as goddelike wesens wat op mekaar gerig is, mekaar dien en liefhet. Hulle staan in gemeenskap. Dit is hierdie heilige gemeenskap van Vader, Seun en Heilige Gees wat die wêreld geskep het. Alles in die skepping is daarom ook verhoudingsmatig.

Hierdie drieledige, ewige, goddelike gemeenskap het selfs meer gemeenskap, ook na buite, begeer. Die skepping is die produk van ‘n goddelike verhoudingsontploffing, sodat die Drie-eenheid in meer verhoudings kan staan. Die skepping is glad nie goddelik nie, en moet van God onderskei word, maar kan nie van God losgedink word nie. Die skepping bestaan vanweë die verhoudingsmatige God se passie vir verhoudinge. Die skepping vertoon ook dieselfde verhoudingskarakter as die Skepper.

Die Brasiliaanse teoloog, Leonardo Boff, skryf dat die hele skepping, hoewel nie Goddelik nie, opgeneem word in die ontvouende Goddelike lewe. Dit vertoon die struktuur van die Goddelike lewe. Die wêreld en menslike lewe het ‘n trinitariese struktuur, skryf Boff. Hy noem die individu, die gesin, die samelewing en die kerk as vorme waarin die Drie-eenheid sigself uitdruk, en waarvan die belangrikste kenmerk gemeenskap is.

Johannes 17 verse 1 tot 5 verklap dus vir ons die diep geheim van die lewe. Lewe is verhoudingsmatig en word gebore uit die lewe van God.

Dalk is die lewe van die mense van Roseto so geseënd omdat hulle verhoudingsmatig in pas met die ritme van die goddelike verhoudingslewe is?

Verhouding Vader-Seun en dissipels

Terwyl vers 1 tot 5 op die verhouding tussen die Vader en die Seun fokus, skuif die aandag in vers 6 tot 8 na die verhouding wat die Vader en Seun met die dissipels het. Die dissipels behoort aan die Vader. Die Vader het hulle aan Jesus gegee. En Jesus het die woorde wat Hy van die Vader ontvang het aan die dissipels oorgedra. Die dissipels het hierdie woorde aangeneem as komende van God en tot die oortuiging gekom dat Jesus deur die Vader gestuur is. Om hiervan oortuig te wees, is om volgens vers 3 die ewige lewe te hê.

Vers 6 tot 8 beskryf dus die verhouding en gemeenskap wat die Vader en die Seun met die dissipels het en wat tot die dissipels se ontvangs van die ewige lewe gelei het. Hierdie verhouding met God, waardeur ons kinders van God word, word deur die werk van die Heilige Gees wat ons met Christus verbind, moontlik gemaak.

Die eenheid en gemeenskap van die gelowiges is dus nie net ‘n ideaal en model wat nagestreef moet word nie, maar dit is ‘n gegewe op grond van gelowiges se insluiting in en deelname aan die Goddelike lewe.

Verhoudinge tussen dissipels

In vers 9 tot 11 beweeg die teks na ‘n volgende stel verhoudings. Terwyl vers 1 tot 5 die verhouding tussen die Vader en die Seun belig en vers 6 tot 8 die verhouding beskryf wat die Vader en die Seun met die dissipels het, fokus vers 9-11 nou op die dissipels se onderlinge verhoudinge.

Jesus bid dat die dissipels “net soos ons een kan wees” (11). Hiervolgens is daar ‘n analogie tussen die verhoudingslewe van die Vader en die Seun aan die eenkant, en die verhoudingslewe van die dissipels aan die anderkant. En net soos in die geval van die verhouding tussen die Vader en die Seun wat nie net op mekaar gerig is nie, bestaan die dissipelgemeenskap ook nie net terwille van hulself nie. Die dissipelgemeenskap verheerlik Jesus Christus; maak Hom bekend wat die ewige lewe gee.

Die gelowiges moet self ook ‘n lewegewende gemeenskap wees waarin die verhouding tussen die Vader en die Seun afgebeeld word.

Dalk verklap Roseto iets van die geheim hiervan?

Hoe lyk ‘n lewegewende geloofsgemeenskap?

As gemeente moet ons vandag nadink oor hoe ons onderlinge lewe lyk? Straal ons die volheid van die Godgegewe lewe uit. Vertoon ons die oorvloed van mense wat die ewige lewe het, en ander mense help om ook deel aan hierdie volheid te kry?

Teoloog Andrew Francis skryf uitgebreid oor die gemeente as lewegewende gemeenskap. Uit sy navorsing blyk dat gemeentes wat lewe gee, veral drie kenmerke vertoon:

  • Hulle beoefen praktyke en gewoontes wat gemeenskap met God die Vader, Seun en Heilige Gees beklemtoon en inoefen. In hierdie soort gemeentes herleef gebedstasies, gebedslabirinte, Breviergebede en ander geestelike dissiplines wat eie was aan die ou kerklike lewe. In teenstelling hiermee merk Francis op dat die groot predikers nie meer skares lok nie. Mense wil gemeenskap met God beoefen, en nie net daaroor toegespreek word deur kragtige predikers nie. Die era van die groot predikers is blykbaar verby.
  • Hulle het kleingroepe waar gelowiges aangemoedig word om mekaar aan te spoor en prakties te help om as gelowiges te leef. Toerusting handel oor hoe om God in jou lewe van elke dag te dien.
  • Hulle is werklik gasvrye gemeentes. Die kern hiervan is gemeenskaplike maaltye: saam kuier, eet en drink. Gasvryheid skep gemeenskap! Baie verhale oor maaltye in die Bybel, geloof en ander groepe word met die leser gedeel ter ondersteuning van die waarde en belangrikheid van tafelgemeenskap.

Francis wys daarop dat gemeentes nie onsterflik is nie. Die sewe gemeentes waarvan ons in die boek Openbaring lees het verdwyn. Die kerk in Noord-Afrika en die Midde-Ooste wat eens die bakermat van die Christendom was, het plek gemaak vir Islam. Sosiale verandering vind voortdurend plaas en die kerk moet op ‘n kreatiewe manier hierop reageer ten einde ‘n lewegewende gemeenskap te bly.

Alle gemeentes hoef nie lewe te gee op die manier wat Andrew Francis dit beskryf nie. Maar hy help ons om buite die kassie te dink.

Ons kan byvoeg dat gemeentes wat net vir hulself leef, hulself vir opbou of versterk, eers hulle eie sake in orde wil kry voor hulle (eendag) by die gemeenskap uitkom, sal sterf. Die rede daarvoor is omdat God nie so is nie. God is ingestel op verhoudinge en betrek meer en meer mense by verhoudinge.

God stuur ons om te leef

Gebed: VONKK 265  Kom ons bid tot die Heer of
Gee geleentheid dat verskillende leiers uit die gemeente bid:

  • Iemand bid vir die gemeente en onderlinge eenheid en liefde
  • Iemand bid vir die NG Kerkfamilie en onderlinge eenheid en liefde
  • Iemand bid vir jule ekumeniese venote en onderlinge eenheid en liefde

Julle kan ook die litanie van Vonkk 265 gebruik:
Kom ons bid tot die Heer.
Heer, hoor ons bid.

Vir vrede in die hele wêreld,
vir die groei van die kerk,
en vir eenheid onder almal.

Kom ons bid tot die Heer.
Heer, hoor ons bid.

Vir die gelowiges wat ons vooruit gegaan het,

kom ons dank nou die Heer.
Halleluja!

Help, red, vertroos en beskerm ons,
genadige Here. [Tyd vir meditasie]
Verheug julle in die gemeenskap van die gelowiges.
Kom ons gee onsself vir mekaar in toewyding,
en ons hele lewe aan Christus, ons Here.

Kom ons bid tot die Heer.
Heer, U alleen.
Amen, amen.

Dankoffer

Slotsang
Lied 478 “Op vaste fondamente” of
F66. Op Vaste Fondamente [bekend]
VONKK 278 Hemelse Vader, van U kom smeek ons of
F132. Uit Een Hart

Seën

Respons
VONKK 204 Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader
Teks: Hannes van der Merwe 2010/2012 ©
Musiek: CHRISTINE – Cecilia van Tonder 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Cecilia van Tonder 2012 (Pro Deo)
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Gebede / Uitsending

Mag die vrede van ons Hemelvader,
die genade van sy Seun, ons Heer,
die gemeenskap met die Gees van Waarheid
oor ons harte en verstand regeer.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam
Mag die vrede wat bo ons verstand is,
en genade wat ons nuut laat wees,
en die eenheid van geloofsgemeenskap
ons verbind in hart en ook in gees.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.