Sewende Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Hierdie Sondag staan bekend as Exaudi wat “luister” beteken. As mens probeer “luister” na die gedeelde hart van die tekste, gaan dit oor die ondubbelsinnige gesag, oorwinning en heerskappy van God in Jesus Christus. Hierdie gesag manifesteer in ’n stukkende en gebroke wêreld, waar dié wat aan God behoort aanvegtinge gaan beleef. Dinge gaan deurmekaar en onseker wees, maar deur ons verbondenheid met mekaar en Jesus, sal sy liefde en heerlikheid altyd die laaste sê hê.

Fokusteks

Johannes 17:20-26

Ander RCL tekste

Handelinge 16:16-34 (God red Paulus en Silas uit die tronk in Filippi);
Psalm 97
(Die oppergesag van God is goeie nuus vir die regverdiges);
Openbaring 22:12-21
(Die gewisse wederkoms van Jesus bring dringendheid by sy volgelinge)

Johannes 17:20-26
17 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Eksegeties

Omdat Johannes ’n vervlegte skryfwyse volg, word die teks nie vers vir vers bespreek nie. Die gebed om die eenheid van die volgelinge van Jesus staan sentraal in ons perikoop (vgl 21a, 22c en 23b). Müller wys daarop dat die eenheid kumulatief herhaal word en dat struktureel aangetoon kan word dat die bede om die eenheid die kulminasiepunt is waarin die ander bedes opgevang word. Hy interpreteer dit soos volg: “Só gesien, is die bewaring van die dissipels en hulle heiliging in die waarheid van die evangelie nie iets afsonderliks om (bv eerstens?) na te streef nie, maar is dit onlosmaaklik verbind met, en afhanklik van, die eenheid waarin Christus en God se eer op die spel staan.”

Die noodsaaklikheid van hierdie eenheid word gekoppel aan die geloofwaardigheid van die boodskap van die volgelinge van Jesus in hierdie wêreld – sodat die wêreld kan glo (21d en 23c). Daar word 18 keer na kosmos in hierdie hoofstuk verwys! Terwyl daar in 17:14 nog van die haat van die wêreld gepraat word (vgl 15:18-19), word die wêreld in 21 en 23 ontvanger van die dissipels se getuienis. Hier word dit duidelik dat Jesus se begeerte is dat die wêreld tot geloof sal kom (vgl Joh 3:16). “Die eenheid van die kerk word dus direk met die geloof verbind en met name die geloof wat in die wêreld sigbaar moet word, sodat die wêreld kan glo” (Botman). (Raymond Brown staan egter krities teenoor die gedagte dat dit hier oor die wêreld gaan wat tot geloof moet kom. Volgens hom word die wêreld wel uitgedaag om te glo, maar die eenheid sal eerder tot die wêreld se veroordeling lei.)

Dit val op dat hierdie eenheid vergelyk word met die verhouding van Jesus met sy Vader. Müller beskryf die eenheid tussen die Vader en die Seun as die “model vir en die bron van die eenheid”. Dit beteken dat daar ’n “soortgelykheid”, ’n vergelykende korrelasie bestaan tussen hoe God een is, hoe die Vader en die Seun onderling behoort en wederkerig lewe gee, en daarom hoe gelowiges aan mekaar behoort en aan mekaar lewe gee. Morris (met beroep op Barrett) praat van ’n analogie in die vergelyking van die verhouding tussen die Vader en Jesus, en tussen die volgelinge van Jesus.

Die verheerliking van God hang saam met die eenheid (vgl 4, 10b, 22). Botman meen dat “verheerliking” die eintlike skopus van die gebed is. In die bronne wat ek geraadpleeg het, word egter min inhoudelike vulling aan die “heerlikheid” waarvan daar in vers 22 sprake is, gegee. Morris verduidelik wel dat “just as His true glory was to follow the path of lowly service culminating in the cross, so for them the true glory lay in the path of lowly service wherever it might lead them”.

Die Griekse woorde doxa en doxazw en hulle verbuigings, kom in 22 verse van die Johannesevangelie voor. In die meeste hiervan kan dit gemaklik met die gebruiklike “heerlikheid” of “verheerlik” vertaal word. Wanneer ’n mens egter in 12:23 lees “Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word,’” en besef dat Jesus hier na sy kruisiging verwys, word dit duidelik dat Johannes hierdie begrippe soms op ’n eie, unieke, paradoksale wyse hanteer. Terugskouend kom die eerste gebruik van doxa in hierdie sin reeds in 1:14 voor. Morris skryf oor “heerlikheid” in 1:14 soos volg: “John is speaking of that glory that was seen in the literal, physical Jesus of Nazareth. As He came in lowliness we have an example of the paradox that John uses so forcefully later in the Gospel, that the true glory is to be seen, not in outward splendour, but in the lowliness with which the Son of God lived for men and suffered for them.” Lees mens nou 17:22 in die lig hiervan, word dit duidelik dat die eenheid tussen Jesus se volgelinge ten nouste saamhang met hierdie paradoksale heerlikheid. Met ander woorde die eenheid wat Jesus aan hulle skenk en waarvoor Jesus bid, is ’n eenheid wat gestalte kry in nederigheid, in kruisdra en in selfopoffering! In die woorde van 1:14 – die eenheid tussen Jesus se volgelinge kry gestalte in genade en in waarheid.

Hermeneuties

Hoofstuk 17 staan sentraal in die evangelie van Johannes. Dit word selfs as die hoogtepunt van die Johannesevangelie beskou (Schulz volgens Burger). Dit plaas die eenheid tussen Jesus se volgelinge as ’n onweerlegbare waarheid in ons midde. Müller som dit op as “grondliggend vir die wese, identiteit en getuienis van die kerk.” Hy wys daarop dat Christus nie net vir die eenheid gebid het nie, maar ter wille daarvan die kruisweg gegaan het.

Die belangrikste tema in hierdie hoofstuk is dié van die eenheid van Jesus se dissipels (vlg 11, 21, 22 en 23). “Beide die gebed om die bewaring (11-16) en die gebed om die heiliging (17-19) van die gemeente kulmineer en vind hulle uiteindelike doel in die eenheid van die gemeente” (Burger). Dit hang natuurlik saam daarmee dat “eenheid” ’n belangrike motief in die Johannesevangelie is – veral die eenheid van Jesus met sy Vader. Vergelyk ook die beklemtoning van die eenheid onder Jesus se volgelinge in 10:16 en 11:47-52. Jacobs merk op dat die lyn van eenheid wat in Johannes 17 kulmineer, reeds in 15:1-17 begin. “Die beeld van die wingerdstok met die lote wat in die stok bly, roep die kerk op om in Christus gewortel te bly en op so ’n manier ook aan mekaar verbind te bly.” Burger kom tot die gevolgtrekking: “Die wese van die kerk bestaan vir Johannes in sy eenheid.” Bietjie later beklemtoon hy, met verwysing na Berkouwer, die geweldige erns van die eenheid: “In die eenheid van die kerk is beide die beeld van God en die heil van die wêreld op die spel.”

’n Interessante opmerking van Burger is dat Johannes 17 nie ’n “gebod” tot eenheid op skrif stel nie, maar ’n “gebed” om eenheid. Daarom sal ons die eenheid van die kerk ook nie kan bewerk deur voorskrifte en dwang nie. Dis iets waarvoor ons eerstens moet bid deur Christus na te bid. Brown argumenteer dat die eenheid juis nie ’n menslike onderneming is nie, maar Godgegewe is. “The very fact that Jesus prays to the Father for this unity indicates that the key to it lies within God’s power.” Hy gaan egter voort om die eenheid te beskryf as beide vertikaal (verhouding van gelowiges met die Vader en Seun) en horisontaal (verhoudinge van die gelowiges onderling). Hieruit lei hy af dat dit wel om ’n organiese eenheid gaan. Die beginpunt van hierdie eenheid moet egter deurlopend eerstens in ons verhouding met Christus gesoek word. Jacobs maak ’n soortgelyke stelling: “Ons kan net by mekaar uitkom as ons in Christus bly en in die misterie van die goddelike Drie-eenheid ingeweef word. Dan kan ek my hand uitsteek na my broer en suster, want dan word dit ’n broer en suster in Christus en in God.”

Met verwysing na die Belydenis van Belhar maak Botman die punt dat eenheid nie van geregtigheid losgemaak kan word nie. “God is nie oral waar daar eenheid is nie. God is as eenheid (Drie-eenheid) in besonder dáár waar mense ly. Somtyds is God daar en werk die besondere voorkeuse van God ten koste van die kerkeenheid.” Ek vermoed dat Botman waarskynlik hier verwys na wat ’n mens sou kon noem ’n “skyn van eenheid”, maar wat by dieper ondersoek sou blyk nie werklik eenheid te wees nie. By ’n skyn van eenheid kan daar inderdaad ’n afwesigheid van geregtigheid wees. Ware eenheid gaan hand aan hand met geregtigheid. Daar kan tog nie eenheid wees sonder om erns te maak met verhoudinge nie, en dan by name verhoudinge wat deur liefde (wat geregtigheid insluit) bepaal word. Die Belydenis van Belhar verbind juis eenheid, versoening en geregtigheid aan mekaar.

In die lig daarvan dat dit Vigsherdenkingsondag is, die volgende opmerkings: Sedert die vroeë tagtigerjare het die 3de Sondag in Mei as “International AIDS Candlelight Memorial” bekend geword. Dit word tans internasionaal erken en baie kerke sluit daarby aan. Dit is noodsaaklik dat ons hier in Suid-Afrika, waar die vigspandemie se brandpunt is, aan Vigsherdenking-sondag sal aandag gee. Dit gaan om veel meer as die “aansteek van kerse”. Dis ’n geleentheid waar die gemeente kan bely en beleef dat ons almal deur die vigspandemie geaffekteer word. “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Kor 12:26). Dit is ’n geleentheid om die rol van die gemeente as veilige ruimte, as plek van genesing, as gemeenskap van begenadigdes te beklemtoon. Hierdie aspekte van gemeentewees hang ten nouste saam met die eenheid van gemeente en kerk.

Die Christen Vigsburo vir Suidelike Afrika (CABSA) stel jaarliks erediensriglyne vir Vigsherdenkingsondag beskikbaar. Meer inligting hieroor of oor MIV en vigs kan van CABSA verkry word óf ’n epos te stuur.

In die belangrike publikasie van die Ecumenical Advocacy Alliance, HIV Prevention: A global Theological Conversation, word die problematiek van die bekamping van die vigspandemie en die voorkoming van die verdere verspreiding van MIV op drie vlakke onderskei en vir gesprek aan die orde gestel: (1) Globale en nasionale vlakke; (2) gemeenskapsvlak; en (3) die vlak van individue. (Die hele boek kan as PDF afgelaai word – sien internet verwysing onderaan.) Hoofstuk 3, wat oor gemeenskapvlak handel, bied relevante inligting wat aansluit by die konsep van die eenheid van die gemeente en kerk.

Die eerste tema wat aangespreek word, is “Challenges at community level”. Die probleemareas wat uitgewys word, is: (i) Kommunikasie – gemeenteleiers en teoloë deel nie hulle insigte met lidmate nie. (ii) Hiërargiese, mansgedomineerde kerkstrukture wat onderhorigheid bevestig. Voeg hierby ’n traagheid om geweld teen vroue en kinders aan te spreek, wat daartoe lei dat lidmate wat reeds met hoë risiko vir MIV-infeksie leef, uitgesluit word. (iii) Stilte en ontkenning – wat beteken dat prosesse wat voorkomend kan inspeel, onderdruk word. (iv) Die wyse waarop sonde en mense wat as sondaars beskou word, hanteer word. Stigma, en die vrees wat dit tot gevolg het, beteken dat mense nie hulp soek of hulle gedrag verander nie.

Onder die tema, “Community as the context for prevention”, word die interessante argument gestel dat in die mate wat die gemeente as “community” ’n sterker rol kan speel, en daardeur die impak van ander “communities” waaraan lidmate deel het, verminder, kan die gemeente ’n voorkomende rol speel. “In spite of its shortcomings, God has faith in the community, and also in the individual’s capacity (and right) to live in community and to flourish. It is through God’s love for us, and belief in us, as communities of faith, that we are enabled to have faith in one another, to accept our diversity, and to be welcoming to individuals. The prophets had strong warnings for communities that become so closed and exclusive that they turn away the stranger and the outcast, or fail to hear the voice of God when it comes from an unexpected source.” Met verwysing na Jesus se genesings word beklemtoon dat Jesus meer as net liggaamlik genees het: “‘Being healed’ involves more than a physical ‘cure’: it involves reintegration of the healed person into the community, and it also involves a shift in the way the community sees itself.”

Die paragrawe onder, “Communities that stigmatize”, is ’n goeie opsomming van die problematiek van stigma. Stigma funksioneer lynreg teenoor eenheid: “In the process we construct damaging stereotypes and perpetuate injustice and discrimination: which are made possible because of the link between stigma and the misuse of power to exclude vulnerable, marginalized people or discriminate against them.”

Onder die tema, “Compassionate care, compassionate prevention”, word ’n ernstige beroep gedoen om daadwerklik en heelhartig betrokke te wees. Die begrip “compassion” word met Christus se “passion” verbind, wat beteken dat gemeentes wat “compassionate communities” wil wees, gewillig moet wees om mede-lyers te word, want, “‘compassion’ (or ‘suffering with’) would imply, literally, ‘suffering as if that person’s pain were your pain too’” (bl 32). Daarom gaan dit om ’n langtermyntoewyding om mense tot ’n volle lewe en herstel in die gemeente te begelei.

Die volgende tema is “Christian leadership and compassionate practice”. ’n Ernstige beroep word op kerkleiers gedoen om nie soos die godsdienstige leiers te wees wat Jesus opponeer omdat Hy skynbaar die wet oortree het om mense te help nie (vgl Luk 13:10-17). Kerkleiers moet juis die moed hê om gebruike wat mense kwesbaar maak, aan te spreek.

In die laaste afdeling, “Power and scapegoating”, word ’n beroep gedoen dat die kerk en gemeentes juis anders moet wees as die groter gemeenskap waar mag gebruik word om van mense sondebokke te maak en te verwerp. “The ‘good news’ of Jesus is that a new and inclusive community is not ‘out there’ in some distant future, but already among us or within us (Luke 17:21). It is a community (or kingdom) that is graced and called to give priority to the needy and the poor, the marginalized and those excluded through gender, race, poverty, drug use, sexual orientation, disability or illness.”

Bogenoemde opsomming bied voldoende inligting om oortuigend te argumenteer dat die eenheid van die gemeente juis ter sprake kom wanneer ons vra wat die gemeente en kerk met MIV en vigs te make het! Daarom kan die prediker met vrymoedigheid in ’n preek oor Johannes 17:20-26 aan beide eenheid en MIV en vigs aandag gee.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Die afgelope drie of meer dekades is daar binne die NG Kerkfamilie geweldig baie oor kerkeenheid gepraat, geskryf en hopelik ook gepreek. In 1997 verskyn ’n Woord teen die Lig bundel hieroor. Sinodes het studiestukke oor kerkeenheid in ontvangs geneem en debat daaroor gevoer. Nuusmedia het berig oor die gesprekke en prosesse binne die familie van NG Kerke. Ek vermoed dat daar onder lidmate moontlik ’n tamheid (fatigue) oor hierdie onderwerp mag bestaan, wat die prediker nie kan ignoreer nie. Hierdie Sondag kom daar ’n verdere aspek by: Dit is Vigsherdenkingsondag. Ek glo dat ’n ernstige poging om wel by Vigsherdenking-sondag aan te sluit, ons hermeneutiese proses sal verryk. Wanneer dit gebeur, sal die verkondiging van die Woord en die samekoms van die gemeente ook verryk word.

Fokus 

Tema: Eenheid skep ‘n veilige ruimte van liefde

Rus

Indien jy by Vigsherdenkingsondag aansluit, beplan betyds om een of meer van die volgende voorstelle in die erediens te gebruik:

  • Kerse.  Een groot kers met kleiner kerse wat by groot kers aangesteek word.
  • Of steek ’n aantal kerse vooraf aan en blus dan ’n klomp tussenin om die groot aantal sterftes wêreldwyd te beklemtoon.
  • Vertelling.  Iemand wat ‘n siek persoon se lyding ervaar het, kan hierdie ervaring met die gemeente deel (dit hoef nie noodwendig MIV of vigsverwant te wees nie).
  • Inligting.  Indien daar goed ingeligte persoon beskikbaar is om die gemeente kortliks oor MIV en vigs in te lig, kan ’n paar minute hiervoor afgestaan word (daar is steeds mense wat nie die basiese feite begryp nie).
  • Simboliese handeling.  Nooi mense wat omgee om ‘n strikkie te kom haal en en daarmee te onderneem om spesifiek vir ons jongmense voorbidding te doen.
  • Demonstrasie.  Laat groepies mense (jeuggroep, wyksgroep, selgroep, ens) vooraf ’n banier of plakkaat oor MIV en vigs ontwerp en dit dan in die erediens na vore bring en aan die gemeente wys.
  • Maak ruimte vir persone wat hul “commit” tot die ondersteuning van persone wat met MIV en vigs leef.  Sorg egter dat daar ’n plan van aksie is om hierdie persone leiding te gee. Byvoorbeeld deur hulle by ’n program of organisasie of diensgroep in te skakel.

Lied

Wydingslied:  Lied 478:1-4  “Op vaste fondamente”

Lof:  Paaslied, byvoorbeeld: Lied 409, 411, 414, 415, 417, 422 of Flam 52 “Laat almal weet”

Opening van die Woord: Lied 442  “Gees van God wat in my woon”

Antwoordlied:  Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!”
OF
F70. “Lig Vir Die Wêreld”

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons

Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop

Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

Familie-oomblik

Die volgende storie kan voorgelees of deur iemand vertel word:
Brenda was ‘n jong vrou wat genooi is om te gaan rotsklim.  Sy was baie bang!, maar het nogtans die groep vergesel.

Ten spyte daarvan dat sy skrikkerig was, het sy nogtans die tou vasgegryp en die rots begin klim omdat sy oor die regte uitrusting beskik het.  Na die eerste paar trekke het sy dit geniet, totdat sy by ‘n plek op die rots gekom het waar sy kon hang en rus.  Net toe sy wil verder klim, het ‘n sterk wind opgekom en haar teen die rots vasgedruk.  Met die geskud het sy gevoel  hoe haar kontaklens uit haar oog val.   Sy het nou daar vasgesit met meters ver ondertoe en sy kon nie so lekker met die een kontaklens sien nie!   Al sukkelend het sy rondgekyk of dit nie dalk daar naby uitgeval het nie, maar  sy kon niks sien nie.  Baie ontsteld het sy daar gesit, ver van die huis af, hoog teen die rots op en sy kon nie lekker sien nie!  Sy het ontsteld begin raak en later was sy so desperaat dat sy hard begin bid het dat die HERE haar moet help om die verlore kontaklens te vind.

Sy  het toe maar besluit om verder te klim – en toe sy  uiteindelik bo uitgekom het, help iemand haar om tussen haar klere en toerusting te soek – dalk het dit daar gaan vassit.  Maar nee, niks! Sy het toe net daar moedeloos gaan sit en wag totdat die res van die groep teen die rots uitgeklim het.

Terwyl sy so gesit het, het sy die berge rondom haar wat ver uitstrek gesien en gedink aan die vers in die Bybel wat sê,  “Die HERE het Sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”  Toe sy daaraan gedink het, het sy gebid, “HERE, U sien al hierdie berge; U ken elke klip en blaar; en U weet ook presies waar my kontaklens is.  Help my asseblief.”

Later, toe hulle weer teen die berg afstap het, het ‘n nuwe groep klimmers daar aangestap gekom.  Een van hulle het toe uitgeroep, “Haai almal, het enigiemand ’n kontaklens verloor?”  Kan jy dit glo, iemand het haar kontaklens opgetel!  En nie hoe nie; die jong man het dit juis raakgesien omdat ’n mier besig was om dit in die voetpaadjie te dra.

Brenda se pa was ’n spotprenttekenaar en toe hy hierdie ongelooflike storie van die mier, die gebed en die kontaklens hoor, het hy hierdie prentjie [sien prent hier onder] geteken van die mier wat ’n kontaklens dra en sê, “Lord, I don’t know why You want me to carry this thing. I can’t eat it, and it’s awfully heavy. But if this is what You want me to do, I’ll carry it for You.”

Dit leer ons vandag, dat al verstaan ons nie altyd hoekom ons sekere swaar laste moet dra nie; God ons gewilligheid wil gebruik om groot en klein dinge te doen, sodat  ons daarmee iemand anders in die wêreld  kan bly maak..

So moet ons ook soos die klein miertjie wees:  gewillig om ander mense in nood te help.  Ons moet bereid wees om watter manier ook al enigiemand te help.  Ons moet dit doen, al kry ons self niks daaruit nie.  Ons moet hulle help ongeag of hulle anders as ons is en selfs as ons  dink dat hulle dinge gedoen het wat ons dink nie goed is nie.  Omdat Jesus ons liefhet, moet ons hulle ook liefhê.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Johannes gee vir ons ’n aangrypende kykie in Jesus se hart, die nag voordat Hy gevange geneem is.  Ons ontdek wat regtig in Jesus se gemoed lewe. Jesus bid in hierdie Skrifgedeelte óók vir ons wat in hierdie kerkgebou sit.  Ja, Hy bid vir alle Christene wat vandag in elke uithoek van die wêreld bly.  Hy bid hier vir sy dissipels, maar “nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom” – dit is ons (17:20).

Jesus bid vandag nog vir ons en tree vir ons by die Vader in.  Waarvoor bid Hy?  Volgens hierdie gedeelte bid Hy vir herstelde verhoudings, vir geneesde mense, vir liefdevolle samesyn.  “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (17:21).

Deur Jesus word ons opgeneem in die lewe van die Heilige Goddelike Familie, Vader, Seun en Gees.  Ons word kinders van God.  Jesus bid dat die kwaliteit van ons verhoudinge dieselfde liefdevolle gehalte sal hê as die verhoudinge binne die Drie-eenheid.

Kom ons gebruik vandag twee vrae om na die teks wat ons gelees het, te luister:
(1) wat leer ons hier oor die eenheid van ons eie gemeente en
(2) wat leer ons hier wat ons kan help om ‘n beter begrip te kry oor MIV en vigs?

Jesus bid vir eenheid 

Uit ‘n eerlike lees van Joh 17:20-26 kom ons agter dat eenheid vir Jesus belangrik was.  Hy bid dat daar eenheid onder sy volgelinge sal wees.  Onthou wie is die volgelinge oor wie dit hier gaan. Daar was vissermanne, belastinggaarders, ekstroverte en introverte, ouer en jonger mense  asook mans en vroue onder hulle.

Een ding kan ons van hierdie volgelinge van Jesus sê:  Hulle was nie ‘n groep eenderse mense nie – en tog bid Jesus dat hulle een sal wees.

Oppervlakkige en valse eenheid

Miskien dink ons te veel oor eenheid in terme van eendersheid.  Ons ken almal die storietjie van die ma wat na haar seun se paradedag gegaan het toe hy as polisie-offisier uitpasseer het. Die jong polisiemanne en vroue het netjies in gelid voor die skare verby marsjeer, maar o wee, die ma se seun was uit pas.  “Kan jy glo”, sê sy vir die mense rondom haar, “my seun is die enigste een wat in pas is!”

Vir baie mense is ‘n kolom mense in uniform wat in gelid marsjeer, mooi!  Dis volledige eendersheid.  Die gevaar is dat ons iets hiervan in die kerk, in ons gemeente soek wanneer ons aan eenheid dink.  Dan voel ons goed as almal konformeer na dieselfde kleredrag, dieselfde gebruike en optredes, ensovoorts.  En wanneer iemand in so ‘n omgewing uitstaan, is dit onmiddellik duidelik.  En wat doen ons?  Subtiel en openlik is daar druk op die persoon om te konformeer.

Wanneer hierdie prosesse lank genoeg in ‘n bepaalde gemeente plaasvind, raak dit al moeiliker om mense wat afwyk, wat uitstaan, wat anders is, sonder meer te aanvaar.  Ons word as’t ware van kleins af ingeoefen om aan te pas en in te pas, in pas te loop.  En ons word ingeoefen om diegene wat nie in pas nie, skeef aan te kyk.

Gevolge van valse eenheid

Dis is nie verkeerd om by mekaar aan te pas en te konformeer nie.  Ons doen dit in elk geval op baie terreine van ons lewe.  Dink maar aan hoe mense elke jaar by nuwe modes aanpas.  Die probleem onstaan egter wanneer ons dit begin verwar met gemeente-eenheid en kerkeenheid.

Wanneer dit gebeur, raak die gemeente of kerkruimte ‘n onveilige ruimte vir wie ook al uit pas is.  Wee die een wat rook, sê een groep Christene.  Wee die een wat geskei het, sê ‘n ander groep.  Wee die een wat MIV positief is…..!  Hierdie houdings lei tot stigma.  En stigma funksioneer lynreg teenoor eenheid.  Stigma is die gevolg van stereotipering van “uit-pas mense” en lei tot diskriminasie. Wanneer persone met gesag stigma gebruik om kwesbare mense uit te skuif, het dit ongeregtigheid tot gevolg.  Kerk en gemeentes moet juis anders wees as die groter gemeenskap waar mag gebruik word om van mense sondebokke te maak en te verwerp.  Die goeie nuus van die evangelie is dat Jesus ‘n nuwe, inklusiewe gemeenskap skep.  Hierdie gemeenskap behoort nou gestalte te kry in die kerk.

Saam op weg na ware eenheid

In die Skifgedeelte waarby ons stilstaan, gaan dit baie duidelik om eenheid tussen Jesus se dissipels.  Hierdie eenheid is so belangrik vir Jesus dat hy dringend tot sy Vader hiervoor bid. Die eenheid is so groots en diepgaande dat Jesus dit selfs met die eenheid wat daar tussen Hom en die Vader is, vergelyk.  Hierdie eenheid is so belangrik vir die geloofwaardigheid van die evangelie dat Jesus by herhaling sê dat dit nodig is dat sy volgelinge een sal wees, want dan sal die wêreld weet en dan sal die wêreld glo.

Ons word van ‘n ongesonde klem op eendersheid bevry wanneer ons raaksien wat Jesus hier van sy “heerlikheid” in vers 22 sê.  Om dit te verstaan, moet ons terugblaai na Joh 12:23.  Hier staan dat Jesus gesê het:  “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word”.  Van hierdie oomblik stuur die verhaal direk op die kruisiging af.  Op ‘n paradoksale wyse was die kruisiging van Jesus sy verheerliking!  Dis opvallend dat Johannes sy evangelie met hierdie paradoksale heerlikheid begin, want ons lees in Joh 1:14:  “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid”.

Jesus se liefde bevorder ware eenheid

Wanneer Jesus volgens Joh 17:22 sê dat Hy sy heerlikheid aan sy volgelinge gegee het sodat hulle ook een kan wees, gaan dit hier oor die paradoksale heerlikheid.  Jesus “gee” aan sy dissipels sy lydensweg!  In die ander evangelies lees ons dat Jesus herhaaldelik vir sy dissipels gesê het, neem jou kruis op en volg my (vgl Mat 10:38, 16:24, Mark 8:34 en Luk 9:23).  Die eenheid tussen Jesus se dissipels is dus ten diepste ‘n eenheid wat die vrug is van dissipels van Jesus wat hulle kruise dra, volgelinge van Jesus wat bereid is om die minste te wees en ander se voete te was, gelowiges wie se optrede vol van genade en waarheid is.  Dis ‘n liefdesgemeenskap volgens die liefde van Jesus.

In hierdie liefdesgemeenskap is die vrae, “wie is eenders en wie is anders?”, nie belangrik nie. Hier word gefokus op die vrae, “wie het hulp nodig?  Wie se laste moet gehelp-dra word?”

Wanneer ons so gemeente is, word ons gemeente ‘n plek van veiligheid, van genesing vir mense wat seergekry het, mense wat skynbaar anders is, mense van wie ons dink dat hulle uit pas geraak het.  Dan kan mense wat worstel om met MIV te leef, kóm en troos en krag kry.  Dan kan mense wat worstel omdat hulle iemand anders of hulleself nie kan vergewe nie, kóm en genade vind.  Dan kan mense wat hulleself so stigmatiseer dat hulle niemand meer in die oë kan kyk nie, kóm en weer volle menswaardigheid ontdek.

Dit is juis wanneer dit gebeur, wanneer die as “community” ‘n sterker rol kan speel, en daardeur die impak van ander “communities” waaraan lidmate deel het, verminder, dat die gemeente ‘n voorkomende rol speel.  Die gemeente is mense wat deur God begenadig is.  Mense wat God nuwe mense maak.  En daarom kan ons ook mekaar in genade aanvaar in ons verskeidenheid en mekaar help om nuut te leef.

Gevolge van ware eenheid

In Johannes 17 maak Jesus twee keer die verbintenis tussen sy volgelinge se eenheid in die wêreld se reaksie.  Daar word vertel dat die wêreld in die eerste eeue verstom was oor die soort liefde wat tussen Christene beoefen is.  In ‘n harde wêreld was hierdie gemeenskappe van genade en waarheid ongekend.

Laat dit ook ons “heerlikheid” wees – dat die wêreld ons eenheid sal sien, nie omdat ons eenders is nie, maar omdat ons werklik vir mekaar met Jesus se liefde omgee.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Verbintenis
Die gemeente neem hande om hulle eenheid en gesamentlike strewe te demonstreer.

Voorganger:  Die koninkryk van God is besig om te kom omdat . . .
Almal: iemand êrens vriendelik is, as ander onvriendelik is, iemand êrens omsien na ander se behoeftes, iemand êrens weier om te haat waar ander haat, iemand êrens geduldig is – en wag in liefde, iemand êrens die kwaad met die goeie vergeld, iemand êrens ander dien in liefde, iemand êrens kalmte bring in ’n storm, iemand êrens lief is vir enige iemand en daardie iemand ek is.

Óf ‘n gebed wat by die Vigsherdenkingsondag aansluit:
Almagtige God en Vader, Skepper en onderhouer van die heelal
ons kniel in nederige aanbidding voor U neer deur ons Verlosser Jesus Christus.

U is die een wat oor die lotgevalle van volke maar ook individue beslis.   Daarom weet ons dat die MIV virus ook binne U almag val.

Ons bid in die oggend vir so baie van ons volksgenote wat deur die virus geaffekteer of geïnfekteer is.   Bewys U groot genade aan elkeen van hulle.
In die môre vra ons ook van U wat aan ons as mense ‘n verstand gegee het dat U ook deur die wetenskap ‘n genesende middel asook ‘n entstof teen MIV sal gee.

Ons weet ook die wetenskap deel is van U wonderlike skepping.
Vergewe ook ons elkeen vanmôre waar ons so maklik oordeel of wegkyk van ‘n weerlose kind wat deur die virus aangeraak is.

Gee ook aan ons elkeen die genade om ‘n rein en skoon lewe te lei.  Om die huwelik as U instelling heilig te ag en getrouheid aan een geliefde te onderneem.   Dit kan ons alleen deur U genade doen.   Help ons daarin.

Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Here, wat vir elke sondeskuld reeds betaal het en ons rein gewas het in Sy bloed.
Amen.

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.