Sewende Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

In vandag se sleutelteks is Jesus steeds besig om sy dissipels voor te berei om, na sy hemelvaart, te kan voortgaan met sy werk en Hy bid vir hulle eenheid soos wat Hy en die Vader een is.

Handelinge 16:16-34; Psalm 97; Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21
Die Openbaring- en Handelingetekste volg die lyn van die vorige Sondag se tekste.
In die Openbaringteks verseker die opgestane Here dat Hy gou weer kom. Die die Handelingeteks gaan verder met Paulus se getuienis en fokus op die verhaal van sy en Silas se ervaring in die tronk.

Ander tekste

Psalm 97:8-12
8Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U
as regter gedoen het, Here.
9U, Here, is die Allerhoogste
oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
10Julle het die Here lief;
haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe
van sy troue dienaars,
Hy red hulle
uit die greep van die goddelose.
11Vir die regverdiges
het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
12Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.

Handelinge 16:16-34
In die tronk in Filippi
16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ’n slavin teëgekom in wie daar ’n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21
Die wederkoms van Jesus
6Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”

8Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid.

9“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”

10Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. 11Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.”

12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.

16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”

17Die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En elkeen wat dit hoor,
moet sê: “Kom!”
En elkeen wat dors het,
moet kom;
elkeen wat die water
van die lewe wil hê,
moet dit kom kry, verniet!
18Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; 19en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.

20Hy wat dit alles getuig, sê:
“Ja, Ek kom gou!”
Amen! Kom, Here Jesus!
21Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.

Johannes 17:20-26
Jesus bid vir sy dissipels
17 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Ekstra stof

Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk
Dit tref ‘n mens dat hierdie gebed in Johannes eintlik die rol inneem van die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie. Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels. Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir hulle (Hy is daar ons Voorspraak – 1 John 2:1; Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree – Heb 7:25; Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God – Rom 8:34). En die inhoud van die gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het.

Die gebed vertoon die volgende drie-delige (Westcott) struktuur wat interessante ooreenkomste vertoon met die wyse waarop Aäron sy rol as Hoëpriester gespeel het (doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente – Lev 16:17):
Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi (“dit is volbring” – Joh 19:30), om God se woorde aan mense bekend te maak – 17:1-8;

Jesus bid vir die dissipels:
Vir die beskerming van die dissipels se onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees – 17:9-12;
Vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord, al erken Jesus dat Judas verlore is soos die Skrif voorspel het (Ps 41:10) – 17:13-19;

Jesus bid vir kerk:
die eenheid van al die gelowiges wat deur die dissipels se werk tot geloof in Jesus sal kom, as ‘n verdere getuienis aan die wêreld – 17:20-23;
Jesus bid vir ‘n hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en Sy liefde volkome in hulle kan bly – 17:24-26.

Let op dat die ewige lewe nie op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ‘n tydloosheid nie, maar op ‘n onbelemmerde verhouding met God.

Let ook op dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf moet word in die midde van die eksterne aanvalle van die Bose en die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

Dit bly die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ‘n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ‘n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ‘n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel. Paulus sou baie tyd aan hierdie gedagtes spandeer en dit verder uitspel (1 Kor 12-14; Ef 3-4). Dit is die lewende testament van Jesus – Hy bid vir en werk vir eenheid, ‘n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef. Niks minder as dit kan ooit my doelwit en passie bly nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 97)

Seëngroet: (Openbaring 22)

Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Wet: (Openbaring 22)

Lied 372 “Hoe glansryk blink die morester vs 1,2,3”

Vryspraak: (Handelinge 16)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 17:20-26

Prediking
Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: (Openbaring 22)
of die voorstel uit die basisliturgie van Woord en Fees 2014

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 97)
9U, Here, is die Allerhoogste
oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
11Vir die regverdiges
het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
12Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.

Seëngroet (Openbaring 22)
21Die genade van die Here Jesus sal by almal wees. Amen

Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Wet: (Openbaring 22)
12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.

16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”

Lied 372 “Hoe glansryk blink die morester vs 1,2,3”

Vryspraak: (Handelinge 16)
Gee net eers die agtergrond van die tronkdeure wat oopgaan toe Paulus en Silas om middernag lofliedere sing…
30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”
31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Liedere

F262. “’n Duisend Stemme Sing”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2008 Urial Publishing

‘n Duisend stemme sing
van die liefde wat U bring
en U vrede, U vrede
‘n Duisend mense verwoord
aan wie hul siel behoort
en die lewe, die lewe
Skenk aan ons u seën
Skenk aan ons u reën

Refrein:
Laat alles wat bestaan
hunker na u Naam
want U is heilig,
heilig
Son en ster en maan
sal eendag vergaan
maar U is ewig,
ewig

Brug:
Ek gee alles vir U, Heer.
Alles, want U regeer
Ek gee alles vir U, Heer
Alles, want U regeer

F268. “Verlosser Vir My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2008 Urial Publishing

1. Verlosser vir my,
eensaam aan ’n kruis,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
gebroke in ’n graf,
U het my hart verower

Refrein:
Ek offer myself,
offer myself
net vir U
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.

2. Verlosser vir my,
Oorwinnaar opgestaan,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
Gesalfde Seun van God,
U het my hart verower

Brug:
Ek wil niks terughou nie,
niks terughou nie,
Alles net vir U

God praat met ons en ons luister

Epiklese
F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop
Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

Skriflesing: Johannes 17:20-26

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

In Johannes 17:21 bid Jesus vir die kerk: “Vader, Ek bid dat hulle almal sal saamwerk.”
Is dit altyd maklik om saam met ander mense te werk? Hoekom nie?
Weet julle hoe bye werk? Hulle bly almal saam in een groot huis wat ons ‘n korf noem, maar hulle is nie almal dieselfde nie en hulle het ook nie almal dieselfde werk nie (wys vir die kinders prentjies as dit moontlik is):
die koningin lê die eiers,
die baba-bye hou die korf skoon,
dan is daar werkerbye wat ook verskillende dinge doen. Sommige pas die eiertjies wat pas uitgebroei het op, ander bou die heuningkoek en ander maak kos bymekaar.

Al die bye is verskillend en het verskillende werkies, maar weet julle hoekom kan hulle saamwerk? Want hulle werk nie vir hulself nie, hulle werk tot die beswil van die hele korf.

Jesus wil hê dat ons ook so sal saamwerk in die kerk vir die beswil van die kerk omdat dit God s’n is en omdat ons lief is vir God.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Preekriglyn

“Van die begin af ‘n tweekoppige monster!” Só beskryf Robert Lewis die tonnel wat Brittanje en Frankryk onderdeur die Engelse kanaal met mekaar verbind. Twee massiewe maatskappye het die projek gelei, die een verantwoordelik vir finansies en bedryfsbestuur, en die ander een vir die bou van die tonnel. Op sy beurt het elkeen van die maatskappye ook twee koppe gehad, die helfte Britse bestuur en die ander helfte Franse bestuur.

Hierdie verdeling het leierskap onmoontlik gemaak. Besluitneming was gewoonlik krisisbestuur om te keer dat die pot van konflik oorkook. Van langtermynbeplanning en saamwerk was daar min sprake. Een van die bestuurslui het gesê: “Die projek het geweldige spanning veroorsaak, omdat die bestuur nie saamgestel was om op een doel te fokus en probleme op te los nie. Die klem het op verwyte en blameer van mekaar geval.” ‘n Ander uitvoerende beampte: “Ons het elke dag ‘n korporatiewe senuweeinstorting beleef.”

Een van die vernaamste leemtes was ‘n stel gelykluidende standaarde. Die twee lande het ‘n uiteenlopende term en woord vir elke saak gehad. Die Franse het hul eie rekenkundige stelsel gehad, en so ook die Engelse. Die Franse elektriese sisteem het op 380 volts gewerk, die Britte s’n op 420. Al die handleidings was tweetalig. Daar was selfs twee uiteenlopende maniere om die vlak van die see te meet.

“As jy mense uit twee verskillende nasies het wat aan een projek saamwerk, moet jy die standaarde baie duidelik stel,” het een van die senior ingenieurs gesê, “anders glo elkeen hulle is reg.”

God se standaard vir die kerk

In Jesus se gebed vir die kerk in Johannes 17 word geen ruimte vir misverstand gelaat nie. Dit is duidelik dat die fisieke, konkrete eenheid van die kerk – al bestaan dit uit hoeveel tale, volke en nasies – vir Jesus geweldig belangrik is.

Mens vra dadelik: wat word met kerk bedoel? Die antwoord is natuurlik die geloofsgemeenskap op plaaslike vlak. Jesus bid vir die gemeenskap van dissipels, sy gemeente. Intussen het baie kerklike strukture ontwikkel, soos ringe, sinodes, denominasies. Al hierdie ander strukture moet ook eenheid beliggaam. Ons fokus vandag primêr op die gemeente as kerk.

Waarom is hierdie standaard so belangrik? Die eenheid van die kerk word in die eenheid van God begrond. Die kerk moet een wees, soos Vader, Seun en Heilige Gees een is. Natuurlik is Vader, Seun en Gees nie dieselfde nie, al is hierdie drie Persone een God. Daar is ook in God diversiteit, aldus die Bybel. Tog is God een. Hierdie eenheid is ‘n liefdesgemeenskap van onderlinge diens en roepingsvervulling.

Net so moet die kerk een wees. God se doel met die eenheid van die kerk is ‘n eenheid van liefde, roeping en getuienis. Die sukses van die kerk as goddelike projek hou met hierdie eenheid verband. Op grond van die eenheid sal die wêreld kan glo dat God die Vader Jesus gestuur het.

Die belang van die kerk se wesenlike eenheid in liefde, diens en roeping is so deurslaggewend dat ons vandag dieper daaroor moet nadink op grond van die Woord van die Here.

Jesus se gebed

In Johannes 17 bid Jesus sy aangrypende gebed kort voor sy kruisiging. Die gebed bestaan uit die volgende elemente:

‘n Gebed vir Jesus se eie verheerliking (verse 1 – 5). Sy werk is afgehandel en Hy is gereed om terug te keer na sy Vader toe.

‘n Gebed vir Jesus se dissipels (verse 6 – 8). Die dissipels is die mense wat die Vader aan Jesus gegee het, en hulle het Sy woorde aangeneem

‘n Gebed vir die nood en behoeftes van die dissipels (verse 9 – 19). Jesus bid vir die bewaring van die dissipels, omdat die wêreld hulle haat, aangesien hulle aan die Vader behoort. Jesus bid dat hulle van die Bose bewaar sal word en trou sal bly aan die waarheid van die Woord wat God gegee het.

‘n Gebed vir die toekomstige kerk (verse 20 – 26). Die dissipelkring sal uitbrei, want ander sal ook tot geloof kom. Die kerk sal groei. Jesus bid vir groei en ook dat almal eendag in die heerlikheid sal wees waar Hy sal wees. Jesus vra ook dat God se liefde in die dissipels sal wees.

Ons teksgedeelte kom uit hierdie laaste gedeelte van Jesus se gebed. Dit is ‘n aangrypende gebed vir die eenheid van die kerk, sodat die kerk se getuienis effektief sal wees. Jesus bid dat die liefde wat die Vader aan Hom bewys het, ook in die dissipels sal wees. Hy vra ook dat die kerk sy heerlike bestemming sal bereik, en Jesus se heerlikheid by die Vader sal beleef.

Verdeeldheid onaanvaarbaar

Jesus bid vir die eenheid van die kerk. Dit beteken Jesus bring ‘n nuwe gemeenskap van volgelinge byeen wat gekenmerk moet word (a) deur ‘n eendragtige navolging van Jesus. Sy dissipels word geestelik gebore uit die liefde wat die Vader deur die Seun aan hulle bewys het, en (b) moet mekaar daarom in liefde dien. Deur hulle eenheid en liefde (c) getuig hulle na buite. Omdat die kerk een is, sal die wêreld glo dat God nuwe lewe moontlik maak.

Dit is tragies dat daar soveel verskeurdheid in die kerk is. Daar’s fout in ons geestelike DNA in soverre as die eenheid van die kerk, die liggaam van Christus, nie vir ons belangrik is nie. Ons kan bv. so gefokus wees op ons voorkeure, dat ons bereid is om die kerk te verskeur net omdat ons eie behoeftes nie beantwoord word nie.

Vir Jesus is die eenheid van die kerk geleë in die eenheid van Vader, Seun en Heilige Gees. Die kerk moet een wees soos God een is. Vir die wêreld buite die kerk is dit ‘n geval van “sien is glo”. Die wêreld kan net glo wat hulle by die kerk sien. Daarvoor is Jesus se gebed in Johannes 17 net té duidelik dat die kerk één sal wees sodat die wêreld kan sien (17:24), glo (17:21) en weet (17:23). Hulle kan net sien as die kerk sigbaar een is.

Daarom kan die kerk nie weg kom met die verskoning van die sogenaamde “onsigbare kerkeenheid” nie. Eenheid is bedoel om gesien te word. Die wêreld kan nie glo op grond van ‘n onsigbare eenheid nie.

As ons selfondersoek doen ten opsigte van ons verdeeldheid, sal ons dit op verskillende vlakke moet doen. Dit gaan oor gesindhede binne ons eie gemeente of wyk; verdeeldheid (“gevegte”) tussen predikante of lidmate wat onberekenbare skade aan die Here se kerk aanrig. Die eenheid moet al wyer kring. Die voorbeelde van kerklike verdeeldheid in ons land (langs kleurgrense, op taalgronde, om politieke redes, op grond van persoonlike smaak) maak dat ons ons koppe in skaamte laat hang.

Ons moenie Jesus se gebed om eenheid probeer afwater omdat ons so sukkel om een te wees nie.

Een of eenders?

Jesus bid dat daar eenheid onder sy volgelinge sal wees. Hierdie volgelinge was nie ‘n groep eenderse mense nie en tog bid Hy dat hulle een sal wees. Miskien dink ons te veel oor eenheid in terme van “eendersheid”. Vir baie mense is ‘n peloton mense in uniform wat in gelid marsjeer, mooi! Dis volledige eendersheid.

Die gevaar is dat ons iets hiervan in die kerk, in ons gemeente soek wanneer ons aan eenheid dink. Dan voel ons goed as almal konformeer na dieselfde kleredrag en dieselfde gebruike. Wanneer hierdie prosesse lank genoeg in ‘n bepaalde gemeente plaasvind, raak dit al moeiliker om mense wat anders is sonder meer te aanvaar. Dit is nie verkeerd om by mekaar aan te pas en te konformeer nie. Die probleem ontstaan egter wanneer ons dit begin verwar met gemeente-eenheid en kerkeenheid.

Nee, eenheid is nie eendersheid nie. In die kerk van die Nuwe Testament was daar trouens die grootste verskeidenheid mense denkbaar in die gemeentes wat ontstaan het. Jood, Griek, arm en ryk, sondaars en mense wat al ‘n lang pad met die Here gestap het. Van hierdie mense was voormalige vyande van mekaar.

Die eenheid in liefde en diens waarvoor Jesus bid, toon juis die wonderbaarlike krag van God wat mens tot ‘n eenheid saambind as verskil hulle ook hoeveel van mekaar.

Eenheid wat deel in Jesus se heerlikheid

Kom ons sê dit nog ‘n keer: Die eenheid is so groots en diepgaande dat Jesus dit selfs met die eenheid tussen Hom en die Vader vergelyk. Hierdie eenheid is so geloofwaardig dat Jesus by herhaling sê dat dit nodig is dat sy volgelinge een sal wees, want dan sal die wêreld weet en glo.

Wat raakgesien moet word, is wat Jesus van sy “heerlikheid” in vers 22 sê. Om dit te verstaan moet ons teruggaan na Johannes 12:23 (“Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word”). Hiervandaan stuur die verhaal direk op die kruisiging (wat paradoksaal sy verheerliking is) af.

Die heerlikheid wat Jesus volgens Johannes 17:22 aan sy volgelinge gegee het sodat hulle een kan wees, gaan oor die paradoksale heerlikheid. Jesus “gee” aan sy dissipels sy lydensweg. Die eenheid tussen Jesus se dissipels is ten diepste ‘n eenheid wat die vrug is van dissipels van Jesus wat hulle kruise dra, volgelinge van Hom wat bereid is om die minste te wees en ander se voete te was, gelowiges wie se optrede vol van genade en waarheid is. In hierdie liefdesgemeenskap is die vrae, “Wie is eenders en wie is anders?” nie belangrik nie. Hier word gefokus op die vrae, “Wie het hulp nodig? Wie se laste moet gedra word?”

Verstom oor die eenheid

Jesus het twee keer die verbintenis gemaak tussen sy volgelinge se eenheid en die wêreld se reaksie. Daar word vertel dat die wêreld in die eerste eeue verstom was oor die soort liefde wat deur Christene beoefen is. In ‘n harde wêreld was hierdie gemeenskappe van genade en waarheid ongekend.

Sosioloë soos Rodney Stark verbind die vinnige groei van die vroeë kerk juis aan die liefde en diens wat uit Jesus se gebed voortspruit:

Christene het siekes, ook uit die omliggende heidene, versorg tydens groot plae wat die Romeinse Ryk getref het. Dit terwyl baie mense siekes op straat uitgesit het om daar te sterf, sodat hulle nie self aansteek nie.

Juis omdat Christene mense uit ander groepe, wat dikwels vyandig tot mekaar geleef het, in die kerk opgeneem en hulle van Jesus se liefde en diens geleer het, het samelewings veiliger geword. Geweld het afgeneem. Stede waar vroeër gewelddadige vyandskap tussen etniese groepe bestaan het, het beter plekke geword. Daarom het die Christelike geloof veral vinnig in Romeinse stede versprei.

Vroue en kinders is gerespekteer, en as volwaardige lede van die gemeente hanteer. Aangesien die waarde van vroue in die Christelike kerk hoër geag was, het die Christelike kerk groter groeikrag en daadkrag gehad as die omliggende samelewing wat vroue geminag, onderdruk en uitgeskuif het.

Christene het ook al hulle kinders grootgemaak. Anders as die Romeinse samelewing waar dogters geminag, en dikwels buite gelaat is om aan blootstelling te sterf (as iemand anders hulle nie opgetel en gevat het nie), het Christene al hulle kinders grootgemaak.

Baie van die Christene se diens en toewyding het hulle hul lewe gekos. Die kerk is deur die staat vervolg. En tog was hulle een in liefde en diens, en het daarom ‘n kragtige getuienis gehad.

Laat dit ook ons “heerlikheid” wees – dat die wêreld ons eenheid sal sien, nie omdat ons eenders is nie, maar omdat ons werklik vir mekaar met Jesus se liefde omgee.

Jesus en die Heilige Gees

Die Here praat vandag met ons oor ons eenheid in liefde en diens. Ons doen dit met hemelvaart nog vars in ons gedagte. Ons het verlede Donderdag gehoor Jesus sit op die troon en regeer oor ons, tot ons beswil. Ons is in Pinkster en gaan volgende week Pinksterfees vier. Dit gaan oor die uitstorting van die Heilige Gees.

Dit is dus moontlik om in eenheid saam te leef. Ons leef onder die genadige koningskap van Jesus, bemagtig deur die Heilige Gees wat op ons almal uitgestort is.

Elkeen van ons het iets om te bely wanneer die eenheid van liefde, diens en geloof van die kerk bespreek word. Mag ons vandag werklik die Woord van die Here hoor, daarna luister, dit oordink en dit gaan doen. Sodat God verheerlik kan word en die wêreld kan glo.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: (Openbaring 22)
21Die genade van die Here Jesus sal by almal wees. Amen
of die voorstel uit die basisliturgie van Woord en Fees 2014
Voorganger: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat 28:19-20).
Gemeente: Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18, aangepas).

Voorganger: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Kor 13:13).
Gemeente: Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.