Sewende Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Die sewende Sondag van Paastyd staan bekend as Exaudi of “luister”. Dit is die Sondag net na Hemelvaart en voor Pinksterfees. In baie Suid-Afrikaanse gemeentes is dit óf die afskop van Pinkster óf vorm dit ten minste deel van die Pinksterdienste. Hoe dit ook al sy, dit is die Sondag tussen die viering van die hemelvaart en die viering van die uitstorting van die Heilige Gees: tradisioneel ’n tyd van wag en bid en luister. Dit is ook die Sondag wat wêreldwyd as Omgewingsondag gevier word.

Ander tekste

Handelinge 1:6-14; Psalm 68:1-10, 33-36; Johannes 17:1-11

Fokusteks

1 Petrus 4:12-14; 5:6-11
Om as Christen te ly
12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.

15As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

17Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18“As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?”

19Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

Die ouderlinge moet toesig hou
5 As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees. 4En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.

Wees nederig
5En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

6Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee
8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Wys ‘n paar mooi natuurfoto’s voor die diens. Terwyl die foto’s nog wys, lees Ps. 68:1-10, 33-36.

Toewyding
Verduidelik vir die gemeente wat aardverwarming is: dinge soos motorkarre se uitlaatgasse en die magdom beeste wat graan gevoer word, veroorsaak dat daar te veel koolsuurgas in lug is. Dit gee weer aanleiding daartoe dat die atmosfeer al warmer word. Dit veroorsaak weer dat die ys by die pole begin smelt, wat baie erge gevolge kan hê.

Wys die beeld van ‘n Spekboom. Vertel vir die gemeente wat ‘n wonderlike plant dit is:

  • Dit help om koolsuurgas uit die lug te haal – 4 ton koolstof per hektaar per jaar. (Baie internasionale maatskappye betaal nou boere om lappe spekboom te plant, om sodoende die maatskappy se “carbon footprint” te neutraliseer.)
  • Dit groei ontsettend maklik. Jy kan ‘n steggie net in die grond steek, dan groei dit weer. As diere dit afvreet, groei dit vinnig weer.
  • Jy kan dit ook eet – dis bv. lekker in slaai!

God het vir ons die opdrag gegee om die skepping te versorg, maar ons doen ons werk baie sleg. Dit het rampspoedige gevolge [jy kan dalk voorbeelde noem van die gevolge van ons misbruik van die natuur]. Ons kan soveel meer doen – soos die Spekboom het ons die potensiaal om baie vir die planeet te beteken [noem voorbeelde van hoe mense ekologies verantwoordelik kan leef].

Gebed
Bely misbruik van planeet en haar bronne. Gee geleentheid vir mense om hulle te verbind aan God se opdrag om die aarde te versorg. Laat hulle dink aan praktiese maniere waarop hulle dit gaan doen en hulleself dan in stil gebed daartoe verbind.
[As jy ‘n paar Spekboom-takkies kan kry, kan jy dit uitdeel!]

Liedere

Verduidelik vir die gemeente dat dit Omgewingsondag is en dat ons daarom vandag liedere sing wat God as Skepper prys.

Vonkk 92 “Als so mooi en wonderlik”
Flam 30 “U is in beheer”
Flam 64 “U is God”
Flam 224 “Loof, Heel die Skepping, Loof die Heer”

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertel die storie van die Indiaan wat saam met sy stadsvriend deur die strate van New York stap en skielik gaan staan en sy vriend stilmaak met die woorde: “Sjuut, luister, hoor jy die kriek?” Sy vriend het net gelag en gevra hoe mens ’n kriek tussen al die stadsrumoer kan hoor. Die Indiaan stap toe oor die vier baan pad na die middelmannetjie en tussen die blare van een van die plante sit die kriek. Sy antwoord: “Ek hoor, want ek weet waarvoor ek luister.”

Preekriglyn

In haar boek Mystery on the Desert beskryf Maria Reiche ’n reeks eienaardige strepe wat deur die Nazca-beskawing op die vlaktes van Peru gemaak is. Sommige dek ’n groot gebied oor verskeie vierkante kilometer. Vir jare het mense aangeneem hierdie strepe is die oorblyfsels van antieke besproeiingskanale.

Tot in 1939, toe Dr Paul Kosok van die Long Island Universiteit ontdek dat die eintlike betekenis van die lyne slegs hoog uit die lug sigbaar word. Bekyk vanuit ’n vliegtuig, blyk hierdie skynbaar toevallige konkoksie van strepe enorme tekeninge van voëls, insekte en diere te wees.

Op dieselfde manier kan ons aan die Bybel as ’n reeks indiwiduele, nie-verbandhoudende verhale, gebeure en boodskappe dink. Dis eers wanneer ons die Bybel as ’n geheel bekyk, dat dit duidelik word hoe die Bybel die groot verhaal van verlossing uitspel. Verweef deur die talle tonele en episodes van die Bybel word die groot verhaal vertel van God se inisiatief in die redding van mense. Van die eerste oomblikke van die skepping tot die laaste kreet van oorwinning by die wederkoms van Christus, blyk God se betrokkenheid, liefde en getroue begeleiding van die skepping na die einddoel daarvan.

Op dieselfde manier kan ons aan die geskiedenis as ’n reeks indiwiduele, nie-verbandhoudende verhale en gebeure dink. Ons mag beleef dat swaarkry mens onverwags betrap, en dat die toekoms nie veilig is nie. In een oogwink word mense se lewens verwoes, soos onlangs met talle slagoffers in Japan gebeur het. Dit lyk of die wêreld buite beheer is. Dit lyk of God weg is. Dit lyk asof gehoorsaamheid aan God nie sin maak nie.

Ons teks nooi ons uit om te bly vertrou op God. Hoewel ons nou mag ly, versterk God self vir ons. En op die bestemde tyd sal ons in sy heerlikheid deel.

Verhoging, verheerliking en verskrikking

Ons het pas Hemelvaart gevier. Hemelvaart draai ons gesigte boontoe, hemelwaarts. Ons sien die verhoogde Christus, wat aan die regterhand van die Vader regeer oor ons lewens.

Hemelvaart draai ook ons gesigte vorentoe, na die toekoms toe. Ons sien met verlange uit na die dag waarop die verheerlikte Christus weer kom.

Hemelvaart draai dus ons gesigte ook grondwaarts, in die rigting van die aarde, na ons omgewing toe. Christus bemoedig ons en stuur ons in die wêreld in om vir Hom te gaan leef. Hiervoor gee Hy sy Gees om ons te begelei en te versterk.

Mens weet nie altyd waarheen om te kyk nie. Boontoe? Vorentoe? Ondertoe? Hoe rym die blik op die verhoogde Christus, met wat ons sien as ons rondom ons kyk? En as jy rondom jou kyk, kan jy nog glo dat dinge anders gaan wees? Dat Christus weer kom en alles nuut maak? Kan mens verby die verskrikking kyk en verhoging en verheerliking raaksien?

Ons teks wil mense help wat net strepe en slote sien waarvan ons nie kop of stert kan uitmaak nie. Ons teks gee aan ons perspektief. Dit help ons om ’n hoopvolle uitsig om die lewe te kry.

Versterk teen drie versoekings

Hierdie brief van Petrus is ’n omsendskrywe aan gelowiges in verskeie Romeinse provinsies om hulle aan te moedig te midde van die swaarkry en beswaddering wat hulle ervaar het. Omdat hulle besluit het om Jesus te volg as Here, het hulle lewe totaal anders gelyk as die res van die samelewing s’n. Ons sien dit vandag nog wanneer mense ’n radikale keuse vir die Here maak. Dikwels is daar groot onbegrip by families oor hierdie keuses.

Die lesers van 1 Petrus het beleef hoe Christene in die samelewing beskuldig, beledig en verdag gemaak is. Hulle eer as burgers in die samelewing het in die gedrang gekom. Daar was voortdurende kritiek, afsydigheid, verwerping, beskimping en beswaddering, beledigings en vernederings, wat Christene moet verduur van die samelewing in sy geheel, insluitende dié van hulle kennisse, vriende en familie (Dirkie Smit). Hierdie verbale aggressie is soos ’n stadige gif en het ’n klimaat van onsekerheid geskep waarbinne Christene later wreed vervolg sou word.

Dirkie Smit dat hierdie voortdurende verwerping drie soorte versoekings meebring:

  • Eerstens wonder Christene as vreemdelinge of hulle nie liewer maar kompromieë moet aangaan sodat hulle darem ’n bietjie beter in die samelewing kan inpas nie. In Rome moet mens maar maak soos die Romeine! Om onopvallend te wees help immers om agterdog en lyding vry te spring.
  • Tweedens lei lyding daartoe dat Christene begin twyfel het of dit enigsins die moeite werd is om hierdie andersheid te handhaaf. Is dit waarvoor Christene staan werklik só belangrik?
  • Derdens lei dit tot verdeeldheid binne die kerk as geloofsgemeenskap. Mense reageer verskillend op die druk van binne en van buite en dit lei tot interne spanninge – juis rondom diegene wat twyfel en kompromieë aangaan.

Dit is hierdie aftakelende effek op geloof waarmee Petrus sy lesers wil help. Ook ons baat hierby.

Die versoeking leef voort

Ons leef in ’n klimaat waar baie Christene vreemd opkyk as hulle mede-gelowiges sien wie se lewe anders lyk as die wêreld s’n. Ons pas ook dikwels naatloos by die wêreld in, en leef soos die gemiddelde Westerling. Dieselfde grypsug en magsug kom by ons voor. Ons maak ook kompromieë met die evangelie en verdwyn in die massa. Ons gemeentes word kultuurorganisasies, ons is nie ingestel op die gasvrye ontvangs van die vreemdeling nie, ons is ingestel op die versorging van mekaar eerder as die uitreik na diegene wat ons in die omgewing nodig het. Ons fokus op mekaar se behoeftes eerder as om mense aan Jesus voor te stel. Ons wil ons gemeentes verbeter eerder as om Jesus meer getrou na te volg.

Ons het nodig om ons andersheid in die Here te herwin. Petrus gee drie belangrike opdragte wat ons hiermee help. Soos ons later sal sien, maak God se belofte van trou aan ons, dit vir ons moontlik om hierdie opdragte uit te voer:

Eerste opdrag: Vuurproef en Christus se lyding
Moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. (4:12-13)

Die “vuurproef” dui hier op die intensiteit van die beswaddering. Die beeld is dié van metaal wat in die smidswinkel deur vuur bruikbaar gemaak word. Net so kan die verwerping wat gelowiges beleef hulle meer bruikbaar vir die Here maak.

Op hierdie manier deel ons in die lyding van Christus. Jesus het die kwaad oorwin deur geduldig te fokus op die taak wat God Hom gegee het. Hy het die kwaad sy gang laat gang en dit blootgelê en oorwin, maar nie deur vergelding, mag, politieke beheer of wêreldse oorwinnings nie. Hierdie lyding gaan vandag nog voort. Wanneer dié lyding eindig, by die wederkoms, sal getroue gelowiges oorloop van vreugde!

Tweede opdrag: Onderwerp julle aan God, werp julle bekommernisse op Hom
Onderwerp julle daarom aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. (5:6-7)

Deur ons aan God te onderwerp, soek ons ons identiteit en roeping as Christene op die regte plek. Ons lewens woord bepaal deur God en dit wat God vra. Hierdie onderwerping en gehoorsaamheid aan God sal lei tot ons verhoging op die regte tyd. Só was dit ook met Jesus. Hy het die kruis verduur ter wille van die verhoging daarna (Hebr. 12; Fil. 2).

Dit beteken ook ons kan ons bekommernis, verwerping en marginalisasie omdat ons die Here volg met God deel. Ons kan die las hiervan letterlik op God aflaai, Hy sorg vir ons.

Derde opdrag: Bly standvastig
Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom (die duiwel) teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. (5:8-9)

Die Satan word in vers 8 as ’n brullende leeu voorgestel. Die hele brief fokus sterk op verbale aggressie teen gelowiges. Die werk van die Satan, die teenstander van die gemeente, die aanklaer voor die regbank van die gemeente, word hier as verbale aggressie uitgebeeld. Talle kwaadwillige aantygings en valse aanklagte word teen gelowiges ingebring. Mense skinder oor hulle, beswadder hulle.

Die advies is om nugter, wakker en standvastig te wees. Weerstaan die bose, moenie ingee nie. Dink nugter, bly wakker, leef verstandig. Gelowiges moet dit doen eerder as om in vrees te lewe. Martin Luther sê gelowiges is soos ’n reisiger wat oornag in ’n herberg, net om agter te kom dis ’n rowersnes. Dan moet jy waaksaam wees!

Gedra deur ’n belofte

Dit is moontlik om Petrus se drie opdragte uit te leef, omdat God ons in die eerste plek vashou:

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. (5:10-11)

Ons gehoorsaam aan God en die uitvoer van die drie opdragte word ondersteun deur God se beloftes. Ons hoef nie self die krag op te wek nie. God gee dit. Christus self rig ons op, maak ons moedig, sterk en standvastig. Hy beskik oor die krag en mag om dit te doen.

Troos

Ons teks troos ons op drie maniere, skryf prof Dirkie Smit:

  • Eerstens word genoem dat die lyding slegs ’n “klein tydjie” sal voortduur. Die uitkoms kom, en dit kom vinniger as wat mens dink in die swaarkry van jou lyding. Na die lyding wag ’n veel groter vreugde op gelowiges.
  • Tweedens is dit tog moontlik om sin in die lyding te vind. God gebruik lyding met ’n doel, byvoorbeeld:
    • om die egtheid van hulle geloof te toets (1:6-7),
    • om daardeur ’n getuienis vir ongelowiges te bied deur nie kwaad met kwaad te vergeld nie (3:9),
    • om hulle van kompromieë en sondige begeertes te vrywaar (4:1-3),
    • omdat hulle vir ’n goeie saak verguis word (3:14, 17), omdat hulle daarin die voorbeeld van ander Christene navolg (3:1-6),
    • omdat die lyding in die teken staan van die finale oordeel van God (4:17-18), en
    • dat hulle in hulle lyding ten diepste besig is met God se stryd teen die bose self (5:8).
  • Derdens beteken hierdie lyding dat hulle daardeur deel kry aan die lyding van Christus. Dit is daarom eintlik ’n stukkie genade wat verlossing bring.

Ons teks plant ons binne-in die groot verlossingsverhaal van die Bybel. Ons verstaan nou waar ons lyding inpas. Ons teks help ons om die groot verhaal van die skepping, en ons lotgevalle daarin, met God in verband te bring. Ons teks nooi ons uit om te bly vertrou op God. Hoewel ons nou mag ly, versterk God self vir ons. En op die bestemde tyd sal ons in sy heerlikheid deel.

Vir mense wat worstel om sin te maak van die talle snaakse strepe, onverwagse slote, en vreemde draaie wat die lewe van gehoorsaamheid aan Christus maak, is dit inderdaad troos.

God stuur ons om te leef

Flam 137 “U is en bly”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.