Sewende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Skrifgedeeltes handel oor die bittere gevolge van sonde (ook vir onskuldiges) en die uitkoms wat die Here gee. Getuienis ten spyte van weerstand bind enkele van die tekste saam.

  • Johannes die Doper word onthoof ten spyte daarvan dat Herodes van sy onskuld bewus is (Mark 6:14-29);
  • Die skietlood gaan aangelê word en ballingskap as straf dreig (Am 7:7-15);
  • Die Psalmdigter sing oor God se goedheid vir die land, maar waarsku dat hulle nie weer moet afdwaal nie (Ps 85:9-14);
  • Jesus betaal met sy bloed vir ons sonde (Ef 1:3-14).

Ander tekste

Amos 7:7-15 – Die Here lê ’n skietlood aan
Die derde gesig: ’n Skietlood
7Hy het my ’n gesig laat sien: Die Here het by ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”
Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ’n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel
sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so ’n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.

Psalm 85:8-13 – Die Woord van die Here bring vrede vir hulle wat op Hom vertrou
9Ek wil luister na wat God die Here sê,
want sy woord bring vrede vir sy volk,
vir dié wat Hom getrou dien.
Hulle moet net nie weer afdwaal nie.
10Waarlik, uitkoms is naby
vir dié wat Hom dien:
Hy sal sy reddende mag in ons land
openbaar.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede
sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit
afkom.
13Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.
14Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan
en ’n pad maak vir sy koms.

Efesiërs 1:3-14 – Ons is in Christus deur God uitverkies.
Lof aan God vir sy genade
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Fokusteks

Markus 6:14-29
Verskillende menings oor Jesus

(Matt 14:1–2; Luk 9:7–9)
14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”
15En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ’n profeet soos een van die ou profete.”
16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper
(Matt 14:3–12; Luk 3:19–20)
17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna ’n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ’n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21Op ’n dag het Herodias ’n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ’n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23Daarby het hy dit herhaaldelik met ’n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”
Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ’n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ’n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ’n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Ekstra stof

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13]. Dit is heel moontlik geskrywe in Rome (volgens Irenaus) aan die gemeente in Rome (volgens Papias). Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is. Feitlik die hele inhoud van die evangelie van Markus kan in die ander evangelies gevind word.

Markus vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus lei sy dissipels dieper in die aard en betekenis van sy bediening, in en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus gaan Jerusalem binne tot verrukking van die skares, maar word uiteindelik deur hulle verwerp en deur die leiers gekruisig, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Ons teksgedeelte val dus in die tweede deel van Markus, net ná Jesus se verwerping in Nasaret en die uitstuur van die twaalf dissipels, waarin beide Jesus se toegespitste aandag aan die dissipelkring sowel as die groeiende teenstand teen Jesus se bediening belig word.

Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
Die toegespitste aandag aan die dissipels begin met hierdie opdrag in alle erns. Dit is treffend hoe Jesus “die twaalf” twee-twee uitstuur. Dit bly die normale patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen. Dit is ook merkwaardig dat hulle nie in detail voorsiening moes maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van die ontvangs deur mense op die plekke waar hulle sou gaan. Mense wat hulle nie ontvang nie, word ook doodgewoon verlaat om uit te kom by dié wat hulle nodig het. En dié mense kom tot bekering, mense met bose geeste ontvang bevryding en siekes word gesond gemaak. Interessant dat hulle met olie gesalf word, soos ons later ook by Jakobus 5:14 sal lees.

Dit is ook merkwaardig hoe hierdie verhaal vertel word in die konteks van Herodes wat Johannes die Doper onthoof het, die fokusteks vir die prediking. Dit vorm die agtergrond van Herodes (Antipas – seun van Herodes die Grote wat ‘n kwart van sy pa se ryk regeer het) se verwondering oor Jesus. Sy tweestryd oor Johannes word oorwoeker deur sy onbedagte belofte aan sy dogter (Salome), en hy moet haar gee wat sy vra: Johannes se kop op ‘n skinkbord. Daarmee kom die lesers agter dat dissipelskap altyd ‘n prys vra. Soos Johannes vir sy dissipelskap met sy lewe geboet het, sou Jesus dit ook doen. En dié lot sou ook menige van hierdie dissipelkring tref. Dit laat ‘n mens besef dat jy regtig seker moet maak die Here stuur jou, sodat jou offer vir God se saak gegee word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1 (herhaal meer as een keer)”

Aanvangswoord
2U was goed vir u land, Here,
U het aan die nageslag van Jakob
’n nuwe toekoms gegee;
3U het u volk sy sonde
nie toegereken nie,
hom al sy skuld kwytgeskel.
5Ontferm U weer oor ons,
o God, ons Verlosser,
7Wil U nie weer die lewe
vir ons nuut maak
sodat u volk hulle vreugde
in U kan vind nie?
8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
(Uit Psalm 85:1-8)

Seëngroet
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Efesiërs 1:2)

Lied 563 “Aan U o God my dankgesange verse 2,3”

Verootmoediging
Die minagtende reaksie van die priester en die koning teen Amos se oordeelsprofesie is tekenend van die sondige mens se natuurlike ingesteldheid teenoor die heilige God.

Uit Amos 7:7-15 – Die Here lê ’n skietlood aan
Die derde gesig: ’n Skietlood
Die Here het by ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”

Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ’n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel
sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Die feit van vryspraak en gepaardgaande oproep tot lof

Efesiërs 1:3-14 – Ons is in Christus deur God uitverkies.
Lof aan God vir sy genade
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Lofliedere nav die oproep in die voorafgaande gedeelte
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Liedere

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat vel

Pre-Chorus 1:
Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

F168. “As Ek Opstaan In Die Oggend (Hy Leef)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Opstanding / Getuienis)
Teks en Musiek: Arno Mattheus
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek opstaan in die oggend, en ek sien die son
Elke môre vars genade uit Jesus se hand
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:
Ek gaan sing, skree, spring en dans
Ek gaan vertel dat Jesus my redder is.
Ek gaan sing, skree, spring en dans.
Ek gaan seker maak dat die wêreld hoor:
Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef)!

2. Ek sal nie vrees nie; ek sal nie skuil nie,
want Jesus gee my krag.
Hy’s my redder en my leier. Voluit sal ek Hom volg.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:

Outro:
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie, want Jesus leef.
Hy leef! (Jesus leef.)
Hy leef! (Jesus leef.)
Jesus leef!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ek wil nie meer na regs en na links kyk nie.
Ek soek nie meer my bietjie hoop nie,
Nie meer my klein lewe hier of daar nie.
Ek soek nie meer myself nie,maar net vir U.
My jare gaan verby, maar U bly.
Onttrek U nie, laat my U vind.
Ek wil loskom van selfbedrog en valse hoop.
Ek wil voor U staan.
U verwag, U vind.
U verstaan. In U glo.
Here, U bly.
En ek bly by U.
Nog dood nog lewe sal my van U skei.
Ek verwag niks meer nie as U alleen.
Gebruik eerder die woord “ons” as “ek”.

Skriflesing: Markus 6:14-29

Prediking

Familie-oomblik

Die storie van Salome is miskien te grafies om in detail met kleiner kinders te hanteer. Tog is dit belangrik dat kinders gewoon die verhale van die Bybel hoor. As jy dink aan die feeverhale wat aan kinders vertel word (wolf eet vir rooikappie, wolf se maag word oopgekap, ens), is dit ook nie nodig om die verhaal heeltemal te vermy nie. Jy kan gewoon die verhaal eenvoudig en dramaties oorvertel.

As jy wil, kan jy ‘n swaar gepakte rugsak saambring (vol boeke, bakstene, ens). Gesels met die kinders oor wrokke (grudges). Herodias het so ‘n wrok teen Johannes gehad, met baie slegte gevolge. Laat die kinders die swaar rugsak probeer dra en verduidelik hoe wrokke soos ‘n swaar rugsak is wat ons met ons saamdra. Vertel vir die kinders hoe Jesus ons kan help om die wrokke te laat gaan en mense te vergewe.

Preekriglyn

Kuba is gek oor bofbal. Op ‘n dag vind ‘n vertoonwedstryd tussen Kuba en Venezuela in Havana plaas. Gedurende die wedstryd gryp Fidel Castro ‘n aluminiumkolf en stap na die bof. Hy gaan kolf. Nie links nie, stap Venezuela se president, Hugo Chavez, na die boulpunt. Hy gaan ook deelneem.

Die eerste bal bereik nie vir Castro nie, maar val ‘n ent voor hom. Hy hou die kolf oor sy skouer. Die tweede bal is weer ver te hoog, maar Castro swaai en mis. Nou is die twee presidente in ‘n behoorlike kompetisie gewikkel. Chavez boul en Castro swaai. Dan loop dinge reg, Castro tref die bal, maar word uitgevang. Hy hoor hoe die skeidsregter hom uitgee, maar stap doelgerig na die eerste bof. “Ek is nie uit die,” sê Castro, “die man het my duidelik laat val.”

Niemand argumenteer nie. Selfs Chavez sê niks. Die span van Venezuela sê niks. Die skeidsregter sê ook niks. Fidel Castro kry sy sin. Sy span wen. Later het Castro die oorwinning gevier en gesê: “Vandag was net nie Chavez se dag nie.”

Dis moeilik om die kolwer uit te haal as hy al die mag het, en die reëls buig om hom te pas. Spesifiek as die kolwer ‘n diktator is, of ‘n magtige politikus wat weet hoe om mag te manipuleer.

Politieke mag kan lewens verwoes. Miljoene gewone mense het dit al beleef. Maar in God se koninkryk sit mense wat mag misbruik hulle geld op die verkeerde perd.

Jesus se bediening trek hoë aandag

Koning Herodes raak in ons teksgedeelte bewus van Jesus se werke en Jesus se lering. Daar is spekulasie waar Jesus die krag vandaan kry om te doen wat Hy doen. Herodes verbind dit dadelik met Johannes die Doper wat hy onthoof het. Hy meen Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Hy is bang en sien politieke konsekwensies in Jesus se bediening. Johannes kan in die gestalte van Jesus opdaag en ou dispute kom afhandel.

Wie was Herodes?

Daar was meer as een Koning Herodes in die Nuwe Testament. Herodes Antipas, die Herodes van ons teks, was die seun van Herodes die Grote, ’n wrede heerser wat baie onskuldige mense laat doodmaak het net omdat hy nie die risiko van moontlike mags-mededinging wou loop nie. Herodes die Grote het tydens Jesus se geboorte geheers. Dit is hy wat die klein seuntjies in Betlehem en omstreke laat vermoor het omdat hy bang was vir politieke kompetisie.

Ná die dood van Herodes die Grote word sy koninkryk onder sy seuns verdeel. Herodes Antipas, die Herodes van ons teks, kry Galilea en Berea. Jesus stuur sy dissipels in die vorige Skrifgedeelte uit. Hulle gaan spesifiek in die gebiede rond waaroor Herodes geheers het. Op dié manier hoor Herodes van al Jesus se werke.

In die nuwe Testament is Israel ‘n staat wat deur die Romeine regeer word. Die verskillende konings Herodes regeer dus almal met gesag wat hulle van die Romeine kry. Hulle was daarom Romeinse meelopers wat na die pye van die Romeinse keiser moes dans. Hulle kon die septer swaai net solank hulle nuttig was vir die poppemeesters in Rome. Antipas is o.a. bekend vir die hoofstad Tiberias wat hy op die oewer van die See van Galilea gebou het, vernoem na keiser Tiberius. Van geloofwaardigheid onder die Joodse bevolking was daar geen sprake nie.

Jesus word tydens sy verhoor na einste Herodes Antipas gestuur. Dis ‘n sluwe poging van Pilatus om blaam vir ‘n moontlike opstand wanneer ‘n onskuldige man sterf op Herodes geplaas te kry. Herodes weet natuurlik waar sy brood gebotter is (by Pilatus se base in Rome) en laat hom nie met ‘n slap riem vang nie. Hy bly immer die politieke opportunis wat hom nie deur reg en geregtigheid laat lei nie.

Herodes se vrees

Ons word ingelig waarom Herodes bang was. Op ‘n meesterlike manier vertel Markus dan die verhaal hoe Johannes die Doper as martelaar aan Herodes se hand gesterf het. Die verhaal is vol intrige. Herodes het met sy broer se vrou getrou, en toe Johannes hom daaroor betig, is hy opgesluit. Herodes was egter bang vir Johannes, omdat hy ‘n opregte en godvresende man was. Hiervoor het Herodes respek gehad. Herodes kon egter nie sover kom om sy moreel korrupte verhouding met Herodias te beëindig nie.

Deur listige spel kry Herodias dit reg om Johannes dood te maak. Herodes kies om eerder sy eer voor sy gaste te handhaaf as om ‘n belofte teenoor Herodias se dogter te verbreek. Die tragiese uiteinde is dat Johannes die Doper sterf. Onskuldig.

Profete word doodgemaak wanneer hulle bediening hoë aandag trek. Die magte hou dit nie uit met die waarheid nie. Johannes het gesterf. Sy dood, aan die hand van politieke mag, word ‘n profesie van Jesus se eie dood. Onskuldig.

Die wyse waarop God wen

Beide Johannes en Jesus delf op ‘n menslike vlak die onderspit teen die owerhede van die dag. Johannes aan die hand van Herodes, Jesus aan die hand van die Romeinse owerhede en die Joodse leiers. Beide Johannes, as wegbereider, en Jesus se dood is egter die voorspel tot die einde vir die maghebbers. Herodes Antipas word later deur keiser Caligula verban na wat vandag Lyon in Frankryk is. Verder loop die Romeinse staat hom te pletter teen die kruis van Jesus. Die koninkryk van God kom nie deur mag en geweld nie, maar deur selfopofferende diens en gehoorsaamheid aan God.

Hiermee word die misterie en styl van God se regeermag openbaar. God se oorwinning word in die teendeel geopenbaar. Die pad van waarheid is om gestuurdes van Jesus te wees, soos wat die dissipels besig is om te doen wanneer Herodes sy vrese oor Jesus ontwikkel. Die sending van die dissipels omraam hierdie gedeelte nie verniet nie.

God se ryk wen deur die kruis en die opstanding, en die gesante van die kruis en opstanding wat hierdie gebeure lewend en teenwoordig hou deur hulle lewe en woorde.

Om die knie te buig

Die oortuiging dat God in beheer is, beteken dat die magte hulle knieë voor God moet buig en God moet gehoorsaam. Dit geld alle vorme van mag en alle soorte gesagsdraers. Waar regeerders en maghebbers hul eie koers inslaan, sonder ontsag vir God en sy gebod, is hulle op dun ys. Konings en presidente, eerste ministers en premiers moet die knie voor God buig. Kerkrade en dominees moet die knie buig. Skoolhoofde, voorsitters, kommissarisse, noem maar op.

Dit is waar van ons almal. Die meeste van ons is iewers in ‘n gesagsposisie. Ons het verantwoordelikhede by die werk. Ons dien op komitees en kerkrade. Ons is die ouers van kinders. Ons is klaskapteins of dien op leerlingrade. Ons buig voor die gesag van God en dien God.

Ons word herinner aan Psalm 2:10-12:
Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde!
Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees,
sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie,
want sy toorn ontvlam gou.
Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.

Ironies genoeg het koning Herodes Antipas ontsag vir God gehad. En vir God se gestuurde, Johannes die Doper. Hy het egter nie die wilskrag en moed van sy oortuiging gehad om die regte ding te doen nie. Hy misbruik sy mag. Hy veroorsaak ellende en lyding. Daarmee bou hy sy huis op sand.

Bediening trek publieke aandag

God se werk trek die publieke aandag. Dit was regdeur die Ou Testament so. Die oortuiging dat God regeer, is ‘n oortuiging wat in die publieke ruimte uitgeleef word. Dit het altyd implikasies vir die openbare lewe.

Konings en vorste van alle tye is bekend daarvoor dat hulle nie van inmenging hou nie. Tog is die kerk in die breë, gemeentes en individuele gelowiges geroep om profete te wees wat – soos Johannes – God se Woord vir die openbare lewe bedien. Daar is ‘n ryk profetetradisie in die Bybel wat die verkondiging van God se Woord aan openbare figure en instellings verteenwoordig. Johannes se protes oor Herodes se optrede is nie uniek nie, dit is die weg van geloof in die wêreld.

Die eerste Christene het dit goed verstaan. Hulle noem Jesus sonder skroom Here. “Here” is ons vertaling van die Griekse woord “kurios.” Kurios is die ekwivalent van die Latynse “Caeaser,” die titel van die Romeinse diktator in Rome. Daarom het die Christelike geloof van die begin af die aandag van politieke maghebbers getrek, en is Christene deur die Joodse owerhede en die Romeinse ryk vervolg.

Geloof word nie onder ‘n maatemmer versteek nie. Geloof is soos ‘n stad op ‘n berg waarvan die lig die wêreld verlig.
Publieke getuienis maak die wêreld dikwels warm vir Christene. Daarom het Jesus gesê ons moet ons kruis opneem en hom volg.
Ons gemeente kan gerus nadink oor wat ons publieke verantwoordelikheid en ons getuienis in ‘n tyd soos hierdie behels.

Jesus die inhoud van ons getuienis

Natuurlik het Christene nie carte blanche oor die wyse waarop hulle hul getuienis lewer nie. Jesus die Gekruisigde is die inhoud van ons getuienis. Christus se diensbaarheid en nederigheid is ons styl. Te veel Christene is wysneuse wat na niemand luister nie en bloot voortrammel en hul persoonlike voorkeure in ander se kele afdruk. Te veel Christene maak partypolitieke lojaliteite hul getuienisvoorkeur.

‘n Voorbeeld hiervan is die wyse waarop talle evangeliese kerke in die VSA hulself belyn met die Republikeinse Party en eintlik ‘n partypolitieke ideaal nastreef in plaas van radikale gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Vroeër het die NG Kerk ook sy getuienis uitverkoop aan die politieke ideale van die Nasionale Party. Vandag nog probeer die SA regering kerklike instellings koöpteer by sy politieke agenda.

Jesus is die Here, Jesus bepaal ons getuienis, nie ons eie voorkeure nie.

Mag en maghebbers het verlossing nodig

Ons profetiese getuienis teenoor almal in gesagsposisies is gemik op die verlossing en heiliging van mag en gesag. Johannes die Doper het teenoor Herodes Antipas getuig om hom op die regte weg te begelei. Herodes het sy broer se vrou afgeneem. Herodes het op die magtelose getrap, en sy mag misbruik. Hy en sy magsuitoefening het verlossing nodig.

Ons getuig nie om die magte en ampsbekleërs ten gronde te rig, te vernietig of te oorwin nie. Ons getuig om te reinig, te heilig en te verlos. Ons is sout en suurdeeg wat bederf keer en die wêreld vernuwe. Ons doen dit vanuit ‘n posisie van nederige onmag en diens. Ons doen dit terwyl ons luister en insig ontwikkel in die komplekse besluite wat maghebbers moet neem.

Tragedie?

Dis ‘n tragiese verhaal wat in ons teksgedeelte afspeel. Die wegwyser na die Messias, Johannes die Doper, kom tragies en voortydig aan sy einde. Hoe anders sou mens nie wou hê Johannes se lewe moes eindig nie.

Tog was Johannes getrou as getuie van die Here. Daarvoor kan ons hom onthou en sy voorbeeld navolg.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
V: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste Goeie Vrydag bely ons in die geloof … Saam met Judas Iskariot …
G: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.

V: Saam met Simon van Sirene …
G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.

V: Saam met die Romeinse soldaat …
G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.

V: Saam met Maria …
G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.

V: Saam met die sterwende misdadiger …
G: dat ’n regverdige Man gesterf het.

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.

V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe. Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011:61)

Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
“Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;
trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.
Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.
Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan
en ’n pad maak vir sy koms” (Ps 85:11-14).

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.