Sewende Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se tekste maak almal op die een of ander manier die stelling dat egte geloof alleen in die karakter van God te vinde is. Die tekste uit Levitikus en Matteus beklemtoon God as die bron van heiligheid en volmaaktheid. Omdat God so is, moet ons ook so leef. Die teks uit Korintiërs brei hierdie metafoor uit deur te sê dat gelowiges die tempel van die Heilige Gees is. Omdat God self in ons woon moet ons heilig wees. Die teks uit die Psalmboek verwoord die nederige gebed van ’n gelowige wat weet dat God alleen ons kan leer om heilig te leef.

Ander tekste

Psalm 119:33-40; 1 Korintiërs 3:10-11, 16-23; Matteus 5:38-48

Fokusteks

Levitikus 19:1-2, 9-18
Ek is die Here julle God
19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. 3Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. 4Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5“Wanneer julle ’n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie. 8Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied by aanvang: Lied 169, 171 of 172.

God versamel ons voor Hom
Voorganger: Noudat ons bymekaar gekom het om die Here te aanbid, moet ons onthou dat liefde onvoorwaardelik deel is van die lewe van hulle wat die Here liefhet. Die Here sê vir sy kinders: “Wees heilig, want Ek is heilig. Dit beteken dat jy jou naaste sal liefhê soos jouself, want Ek is die Here jou God.”
Gemeente: O Here, gee ons insig sodat die begeerte om U tevrede te stel diep uit ons harte sal kom. Help ons om u wet te gehoorsaam.

Voorganger: Jesus het gesê: “Julle moet julle vyande liefhê. Bid vir diégene wat julle vervolg.” Julle moet daarom liefhê soos wat julle God met volmaakte liefde liefhet.
Gemeente:  Here, herskep ons motiewe sodat ons niks uit eie gewin sal doen nie. Wend ons oë af     van die wêreld se begeerlikhede. Ons het U lief omdat U ons eerste liefgehad het. Amen.

Liedere

Lofliedere
Lied 475 (kan ook op melodie van 203 gesing word) of
Lied 231

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
Lees Matt 5:38-48
Lied: 284

Familie-oomblik

Wys die foto van die weggegooide gemors (oorsprong onbekend).  Kyk van naderby – daar is mense, besig om te grawe in die gemors.  Die goed wat ander mense weggooi, is vir hulle skatte wat hulle aan die lewe hou.  Laat families met mekaar gesels.  Laat hulle alles noem wat hulle het, maar nie meer (gereeld) gebruik nie, of alles waarvan hulle te veel het, bv. ou speelgoed, ekstra stelle borde, beddegoed, DVD’s wat hulle nie meer kyk nie, naellak wat ma nie meer gebruik nie, klere wat hulle nie meer dra nie (of wat nie meer pas nie).  Laat hulle kreatief dink wat hulle met hierdie goed kan doen.  Kry wenslyste by plaaslike welsynorganisasies (plekke wat haweloses versorg, plekke wat kinders sonder heenkome versorg, inval-plekke vir straatkinders, ens.).  Daag families uit om van hul ekstra besittings vir hierdie organisasies te neem.

Preekriglyn

Dink jou ’n wêreld in sonder ordentlike seep.  ’n Wêreld waar seep tuis gekook word uit die mees basiese bestanddele denkbaar.  ’n Wêreld waar die seep chemies skerp was,  onsuiwer, dikwels die vel en klere beskadig het, en in stukke van ’n groot blok afgesny is as jy dit by ’n handelaar koop.

William Lever was vir seep wat treine en skepe vir goederevervoer geword het.  In sy tuisstad, die groot hawestad Bristol, het hy in 1885 seep begin maak.  Hy het vinnig ’n seepmagnaat geword.  Sy unieke bydrae was goeie, voorspelbare kwaliteit, netjiese verpakking en die eerste handelsnaam vir seep, wat die produk en die gehalte reg oor die wêreld herkenbaar gemaak het.  (Foto van William Lever by commons.wikimedia.)

William Lever was die skepper van Sunlight seep.

Onse William het in ’n skoon lewe geglo.  In ’n wêreld wat deur vuil gekenmerk is, wou hy skoon-wees prakties doen.  Daarom moes sy werkers ook ’n skoon lewe lei.  Vir elkeen van sy fabriekswerkers is vanaf 1888 ’n ordentlike huis in ’n woonbuurt van Bristol gebou, wat bekendstaan as Port Sunlight.  Uniek vir die tyd het elke huis ’n ordentlike badkamer met warm water gehad.  Die badkamer was boonop binnenshuis, en die warm water is deur ’n verhittingstoestel gelewer.  Die ontwerp van die huise was só dat die werker by sy tuiskoms eerste by die badkamer uitgekom het.  Almal kon hul gesinne dus na werk skoon ontmoet.

(Foto van Sunlight Seep deur “frosted peppercorn” by flickr.)

Elkeen van die 800 huise in Port Sunlight is deur ’n argitek ontwerp, en nie een het dieselfde gelyk nie.  Die skema het ontspanningsgeriewe, ’n swembad, konsertsaal, kunsgalery en hospitaal ingesluit.  Vandag is dit ’n bewaringsgebied, en mag moontlik ’n wêrelderfenisgebied word.

William Lever se motto was eenvoudig: Jou produk kan nie seep wees, maar jou liggaam, klere en omgewing is vuil nie.  Dit was die basis agter die skitterende byvoordele wat sy fabriekswerkers, ondenkbaar in die Victoriaanse era, geniet het.

Hierdie filosofie het van Sunlight ’n internasionale handelsnaam met bekendheid sonder weerga gemaak.  Dieselfde geld die maatskappy, Lever Brothers, wat later Unilever (in sommige markte) geword het.

Kortom, Sunlight het hul filosofie beliggaam: die fabrieksmagnaat is skoon, die fabriek en die produk is skoon, die werkers en hulle gesinne is skoon.  Die maatskappy het die waardes wat hul produk moes uitstraal konkreet en prakties beliggaam.

(Foto van Port Sunlight deur Ian Petticrew by commons.wikimedia.  Doen gerus ‘n soektog vir “Port Sunlight” by http://commons.wikimedia.org – daar is baie pragtige foto’s.)

Wees heilig, want die Here is heilig

In Levitikus 19 verse 1 en 2 word God se mense aan God se karakter herinner.  Ons word opgeroep om te wees wat God is:  “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”  Die opdrag beteken:  ons taak en lewenswyse, ons diepste wese, moet gevorm word deur die identiteit van God.  God is heilig, daarom moet ons heilig wees.

Die woordjie “heilig” het dikwels in die volksmond ’n negatiewe betekenis:

  • Heilig word met skyn-heilig gelykgestel.
  • Heilig word soms as lewensvreemd gesien.  Om heilig te wees, moet jy afsien van deelname en teenwoordigheid in die wêreld.
  • Nog ’n moontlikheid is om heiligheid as wettisisme te sien.  Heilige mense is vol mag nie’s en moenies.

Niks kan verder wees van die betekenis wat Levitikus aan heiligheid gee nie.

In Levitikus dui heiligheid in die eerste plek op die uitsonderlike wese van God as die “heilige” van Israel.  Dat God heilig is, beteken dat Hy verhewe is, indrukwekkend in sy krag, vol glorie by sy verskyning, suiwer in karakter.  God se heiligheid maak die omgewing rondom God ook heilig.  Wanneer Israel in God se teenwoordigheid verskyn, bv. tydens die erediens, moet die sonde en alles wat mens onrein maak, verwyder word om God se heiligheid te ervaar.

Heiligheid en ’n etiese lewe

Hoe word sonde en onreinheid verwyder?  Levitikus 19 sê: deur  prakties te leef op ’n manier wat pas by God se heiligheid.  Walter Brueggemann, Ou Testamentikus van formaat, skryf hieroor: “Purpose of Israel is to host the holiness of Yahweh.”  Heiligheid het met die etiek van jou lewe te doen.  “Holiness be manifest in lives that say both yes to what God requires and no to what God forbids.” (Balentine).

Vir ons is heiligheid, soos William Lever se seepfilosofie, iets wat konkreet uitgeleef word.  Jy is heilig wanneer God se karakter in jou lewe gestalte kry.  Jy is heilig wanneer jou verhouding met God jou verhouding met ander mense en met God se skepping positief beïnvloed.  Heiligheid is nie in die eerste plek ’n innerlike godsdienstige gevoel, die nakom van geestelike dissiplines, ’n afwesigheid van bepaalde dade of oortuigings, of die hou van ’n stel reëls nie.  Heiligheid het te doen met die konkrete manier waarop jy met ander saamleef.

Ons moet versigtig wees om ons teks wetties te lees.  Levitikus 19 kan eerder as onderrig of kategese beskryf word.  Dit is God se onderwys waarin Hy ons wys in die regte rigting vir ons lewe.  En hierdie regte rigting het te doen met ons liefdevolle gerigtheid op ons naaste.

Wie in die regte verhouding met jou naaste leef, kan onbesoedeld voor God verskyn.  Hier gaan dit spesifiek oor die Ou Testamentiese erediens.  Die heilige God is anders, uniek, bewoon ontoeganklike lig.  Maar wie God se heiligheid eties uitleef, is gereed om God te ontmoet.  Dit maak, sê Brueggemann, God se heilige teenwoordigheid meer toeganklik.  Hiermee word nie enige sweem van werkgeregtigheid, selfregverdiging of manipulasie van God se guns bedoel nie.

Praktiese reëls vir heiligheid

In ons teks word verskeie riglyne gegee vir ’n lewenstyl wat by die heiligheid van God pas:

Een: deel lewensmiddele vryelik (9-10)
Iemand wat besig is om te oes moet dit ruimhartig doen.  Die wenakkers word nie afgeoes nie, en are wat val, word nie opgetel nie.  Wingerde word nie ’n tweede keer geoes nie, en korrels wat val, word nie opgetel nie (19:9-10).

Mens moenie alles wat jy uit die lewe kán vat, wel vat nie.  Wees as’t ware bietjie morsig, sê die teks.  Maak lewensmiddele beskikbaar vir ander.  Deel.  Selfs al lyk dit na mors.

Hoe “mors” moderne mense wat vir salarisse werk, en vir wie die opbrengs op hulle arbeid deur elektroniese oordragte gekanaliseer word en met plastiese kaarte spandeer word?

Levitikus laat mens met nuwe oë na jou asblik kyk, en na die swart sakke wat weekliks in stede en dorpe op die saaipaadjie beland vir die vullisverwyderaars.  Op baie plekke word die swart sakke soggens eers “besoek” deur armes om te kyk wat weggegooi is en wat geëet of hergebruik kan word.  ’n Vriendin vertel dat sy dikwels sjampoebottels weggooi voordat dit heeltemal leeg is.  Sy het al die dankbaarheid op mense se gesigte gesien wat die bottels vind, en op ’n keer selfs dan en daar (in reënweer) hare gewas het.  Kan mens kos wat jy weggooi, so “verpak” dat ander dit maklik in jou swart sak kan vind, sonder om ’n gemors te maak?

Wat stoor jy in jou motorhuis met die oog op latere hergebruik?  Hoeveel artikels soos matte, skroewe, hout, meubels, gereedskap, lê en stof vergader terwyl dit die lewenskwaliteit van talle “armes en vreemdelinge” (19:2) dramaties kan verhoog?

Onthou dat ons teks nie veronderstel dat die “armes en vreemdeling” verdienstelik moet wees, of deur hulle eie optrede moet kwalifiseer vir hulp nie.  Glad nie.  Die “morsigheid” het met eerbied vir die heilige God van Israel te doen.  Omdat God heilig is en lewe hoog ag, mors ek en jy, deel ons ons lewensmiddele vryelik.

Donasies aan instansies wat direk met armes en vreemdelinge werk, is nog ’n manier om ons bronne te deel.  Dit moet aangemoedig word.  Máár ons moet versigtig wees om die deel van bronne te klinies, koud en oor ’n afstand uit te voer.  Elkeen van ons moet in die posisie kom dat ons ’n arme in die oë kyk, van naby, persoonlik.  Ons teks veronderstel ’n interpersoonlike direktheid waaraan ons nie kan ontkom nie.  Dit is gepas dat elkeen van ons tussen armes en vreemdelinge kom, self omstandighede sien, armes en vreemdelinge leer ken.

Let ook daarop dat ons teks ’n lewenspatroon veronderstel.  ’n “Handout” hier en daar verbeter nie ander se lewensgehalte op ’n volhoubare manier nie.  Ons teks veronderstel ’n gereëlde en volhoubare “mors” van lewegewende gawes.  Nóóit word ’n wenakker afgeoes nie, nóóit word ’n wingerd twee keer geoes nie.  Ander kan daarop staatmaak.  Wie mors, moet dit gereeld en voorspelbaar doen.

Vir die meeste van ons is die deel van ons tyd en ons vaardighede dalk die belangrikste “mors” van hulpbronne.  Ons beskik as gemeentes oor baie kundigheid, soos tuinmaak, voeding, basiese verpleging, higiëne, Bybelkennis, en versorging wat – sou ons dit met ander poel – ’n dramatiese impak op armes en armoede kan hê.

Twee:  Moenie vertroue en gemeenskaplikheid ondermyn nie  (11-12)
“Jy mag nie steel nie” reflekteer die agste gebod. Daarna volg drie wette teen valsheid. Die kerngedagte is om iemand te mislei/bedrieg.  Die een wat in sy/haar leuens vasgekeer is, kan maklik ’n eed aflê in die Naam van die Here om hom/haar te beskerm.  Vals ede en bedrog is juis gebruik om mense se besittings in die hande te kry. Daarom is die verbod teen diefstal as ’t ware die opskrif van die gedeelte. ’n Ander perspektief is dat steel tot bedrog (wanvoorstelling) lei en dit lei weer daartoe dat iemand verkeerdelik getuig om hom/haarself te beskerm. Die band van vertroue tussen die naaste word dan ook verbreek (NRSV “you shall not deal falsely; and you shall not lie to one another”). Diefstal, leuens en bedrog is die basiese kwaad in ’n gemeenskap wat vertroue en solidariteit vernietig.

Die refrein “Ek is die Here” word in Levitikus 19 meer gereeld gebruik as in die res van die Ou Testament. Daar is moeite gedoen om gebooie met God se wil te identifiseer. God is self aan die woord in die teks.

Drie:  Respekteer ander (13-14)
Die eerste twee gebooie in vers 13 is algemene stellings en die derde is gerig op ’n spesifieke situasie (OAV –  “Jy mag nie jou naaste verdruk of beroof nie”; NRSV – “You shall not defraud your neighbour; you shall not steal”). Die eerste verbod is teen moeite wat jy doen om iemand se lewe minder draaglik en swaarder te maak. Die woord wat vertaal word met beroof dui daarop dat iets gewelddadig by iemand gegryp word. Die derde gebod het te make met die terughou van iemand se loon. Op die manier kan ’n persoon nie die aand vir sy familie iets bring om te eet nie (sien ook Deut 24:14-15).

Die gebod in vers 14 is teen die misbruik van iemand se gestremdheid om op die manier die persoon kwaad aan te doen. Jy mag nie ’n eed sweer voor iemand wat doof is en so met hom/haar spot nie. Sien ook Deuteronomium 27:18 waar iemand gevloek word wat die blinde van die pad af lei. Weer eens is motivering respek vir God, hulle Here.

Vier:  Oordeel én wees regverdig (15-16)
In vers 15 is daar ’n gebod teen onreg tydens wetlike prosedures. Die gebod is nie net daarop gerig dat persone voorgetrek word op grond van status nie, maar ook op grond daarvan dat hulle geen status het nie.  Reg moet seëvier.  Geregtigheid is blind, dit skep ruimte sonder aansiens des persoon.

Die NAV vertaal vers 16 met “jy mag nie loop en skinder nie”. Die OAV vertaal: “Jy mag nie as ’n kwaadprater onder jou volksgenote rondloop nie”, en die NRSV “slanderer”. Die tweede deel van die vers “neither may one stand on the blood” kan op twee maniere vertaal word. Óf dat jy iemand se lewe in gevaar stel as jy oor hom/haar stories versprei, óf dat ’n persoon nie getuig in ’n saak waar iemand se naam skoon kan kom nie. Die meeste vertalings dui daarop dat een persoon nie ’n ander persoon se lewe in gevaar mag stel nie.

Vyf: die gesindheid van die hart (17-18)
Die OAV vertaal vers 17 met: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie.”  Die gebod sê dat as jy ’n wrok in jou hart dra, jy mettertyd die persoon teenoor wie jy die wrok dra, sal skade aandoen. Die idioom was: “you shall not carry sin for/concerning him.” Die idioom beteken moontlik dat, as jy formeel ’n klag teen iemand lê binne die wettige regstelsel, jy kan verhoed dat jy ’n wrok in jou hart ronddra en die saak dan openlik afgehandel kan word. Die waarheid moet gepraat word as reg moet geskied.

Die motivering vir die gebod (vers 18) dat jy nie mag haat dra of ’n grief koester nie, is dat jy jou naaste moet lief hê soos jouself. Die haat of grief kan daartoe lei dat jy jou naaste skade aandoen (sien ook Deut 32:35a waar God vra dat vergelding aan Hom oorgelaat word).  Die woord wat vertaal word as “naaste” het ’n wye spektrum van betekenismoontlikhede. Dit kan vertaal word met “friend, companion, acquaintance”. In die gedeelte kan dit verwys na enige persoon met wie jy in aanraking kom.

Weer die seepstorie

Waarom het William Lever sy rykdom geneem en Port Sunlight, ’n pragtige woonbuurt, vir sy werkers gebou?  Volgens sy eie woorde wou hy arbeidsverhoudinge ver-Christelik.  Hy wou ekonomies leef ooreenkomstig die bedoelinge van God.  Hy wou ooreenkomstig die bedoelinge van die heilige God teenoor mense optree.  Hy het nie alles vir homself ingepalm nie.

Ontsag vir God verander mense.  Dit verander samelewings.  Mensig, dis tyd dat ons skoner raak, reiner, heiliger.  Ons God is só.

God stuur ons om te leef

Voorstel vir gebed na prediking: ahv Ps 119:33-40:
Noudat ons U Woord ontvang het, Here:
Leer ons hoe om u voorskrifte
uit te voer,
sodat ek ons tot die einde toe
daaraan kan hou.
Gee ons insig,
om u wet te kan gehoorsaam
en dit met ons hele hart te onderhou.
Laat ons wandel volgens u gebooie,
want daarin is vreugde.
U verordeninge,
laat dié ons na aan die hart lê,
nie die begeerte om onsself
te verryk nie.
Weerhou ons van ’n nuttelose lewe,
laat ons leef op die weg wat U aanwys.
Vervul dan ook die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
Amen

F129. “Hier Is My Lewe”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof, toewyding)
Teks en Musiek: Danie Botha
©  2005 MAR Gospel Music Publishers

Heilig heilig my hande o Heer
Heilig my lewe om U Naam te kan eer
Heilig my voete my hart en verstand
Dat ek kan wandel op die heilige pad

Ek wil U loof uit ‘n heilige hart
Ek wil U eer soos die Gees my leer
Hier is my lewe hier is my hart
Hier is my lewe ek kom lê dit nou neer

Open my ore om U fluist’ring te hoor
Reinig my denke in die wêreld verloor
Gee my die krag om nou biddend te staan
Gedryf deur die waarheid, die Woord en U Naam

Hier is ek Here met my hele bestaan
Nietige mens met my foute en al
Gebruik wat U kan al is ek niks Heer
Gebruik wat U kan kom verander my meer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.