Sewende Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Ons is kinders van die gans andere God. Daarom leef ons ook totaal anders as die samelewing waarvan ons deel is. Ons doen meer en nie minder nie om liefde en deernis te bewys. Ons moet uitstaan in die samelewing op grond van ons medemenslikheid, omgee en hulpvaardigheid. Dit moet vir mense lekker wees om ons te ken, soos wat dit lekker is om God te ken. Ons moet soos God wees.

Ander tekste

Levitikus 19:1-2, 9-18
Ek is die Here julle God
19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

3Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. 4Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5“Wanneer julle ’n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie. 8Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Psalm 119:33-40
33Here, leer my hoe om u voorskrifte
uit te voer,
sodat ek my tot die einde toe
daaraan kan hou.
34Gee my insig,
dat ek u wet kan gehoorsaam
en dit met my hele hart kan onderhou.
35Laat my wandel volgens u gebooie,
want daarin vind ek vreugde.
36U verordeninge,
laat dié my na aan my hart lê,
nie die begeerte om myself
te verryk nie.
37Weerhou my van ’n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.
38Vervul ook aan my die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
39Die venyn van mense,
daarvoor is ek bang,
moenie dat dit my tref nie.
Maar u bepalings, dié is goed.
40Ek wil u bevele nakom.
Hou my in die lewe, want U is getrou.

1 Korintiërs 3:10-11, 16-23
Die gelowiges as die gebou van God
Julle is ook die gebou van God. 10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ’n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik ’n wyse mens kan word, 19want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:
“Hy vang die slimmes
met hulle eie slinkse planne,”
20en op ’n ander plek:
“Die Here ken die gedagtes
van die wyse mense
en weet dit beteken niks.”

21Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: 22of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, 23maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

Fokusteks

Matteus 5:38-48
Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Versoening
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25“As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
(Matt 19:9; Mark 10:11–12; Luk 16:18)
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van ‘n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ 34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ‘n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Vergelding
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ”n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand
(Luk 6:27–28, 32–36)
43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,3”

Aanvangswoord:(uit Jes 9:1-2)

Seëngroet: Uit 1 Korintiërs 1:2-3

Lied 469 “O diepte van die rykdom 1,2”

Wet: Levitikus 19:1-2, 9-18

Skuldbelydenis

Lied 247 “Heer wees ons genadig” (Afrikaans en Latyn)

Skriflesing: Psalm 119:33-37, 40

Vryspraak

Lofliedere
Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”
Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 5:38-48

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis ahv Kolossense 1

Offergawes

Wegsending Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,3”

Aanvangswoord
“Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in ’n donker land was, het ’n lig geskyn. U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd . . .” (uit Jes 9:1-2).

Seëngroet: Uit 1 Korintiërs 1:2-3
2Aan die gemeente van God in ……………………………………………………, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort,
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 469 “O diepte van die rykdom 1,2”

Wet
Gebruik een van die ander tekste as wet- wetsgehoorsaamheid het telkens daarmee te doen dat dit Here se heilige wese die gronde is waarom Hy gehoorsaam moet word.

Levitikus 19:1-2, 9-18
Ek is die Here julle God
19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Skuldbelydenis

Lied 247 “Heer wees ons genadig” (Afrikaans en Latyn)

Psalm 119:33-37, 40
33Here, leer my hoe om u voorskrifte
uit te voer,
sodat ek my tot die einde toe
daaraan kan hou.
34Gee my insig,
dat ek u wet kan gehoorsaam
en dit met my hele hart kan onderhou.
35Laat my wandel volgens u gebooie,
want daarin vind ek vreugde.
36U verordeninge,
laat dié my na aan my hart lê,
nie die begeerte om myself
te verryk nie.
37Weerhou my van ’n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.
40Ek wil u bevele nakom.
Hou my in die lewe, want U is getrou.

Vryspraak
Voorganger (V): Hiermee verkondig ek aan julle volkome vergifnis
Van sondes in die Naam van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees. Amen.
Gemeente (G): Aan God die dank! Ons sondes is vergewe.

Lofliedere
Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”
Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Epiklese
Here God, gee ons die lamp van die liefde wat nooit opraak nie, sodat dit in ons mag bly brand en sy lig laat skyn vir hulle om ons. Deur die helderheid daarvan, gee ons ’n visie van die Heilige stad waar die ware en ewige Lig, Jesus Christus, lewe en saam met U en die Heilige Gees regeer, nou en vir altyd. Amen.
(Uit Basisliturgie vir tyd na Epifanie, Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Skriflesing: Matteus 5:38-48

Prediking

Liedere

F129. “Hier Is My Lewe”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof, toewyding)
Teks en Musiek: Danie Botha
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Heilig heilig my hande o Heer
Heilig my lewe om U Naam te kan eer
Heilig my voete my hart en verstand
Dat ek kan wandel op die heilige pad
Ek wil U loof uit ‘n heilige hart
Ek wil U eer soos die Gees my leer
Hier is my lewe hier is my hart
Hier is my lewe ek kom lê dit nou neer

Open my ore om U fluist’ring te hoor
Reinig my denke in die wêreld verloor
Gee my die krag om nou biddend te staan
Gedryf deur die waarheid, die Woord en U Naam
Hier is ek Here met my hele bestaan
Nietige mens met my foute en al
Gebruik wat U kan al is ek niks Heer
Gebruik wat U kan kom verander my meer

F275.”Kom Praat Met My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2008 Urial Publishing

1. My gees is stil; nou wil ek luister
Wat wil U hier vir my kom sê?
Ek dors na water – na u fluistering in my
Om my dorre grond te seën
Met die rykdom van U reën

2. Sonder u stem om my te wys, Heer,
Raak ek verdwaal, en ek raak bang;
Hardloop verward in alle rigtings om te soek
Wat net U in my kan vul
Wat net U in my kan doen

Refrein:
Kom praat met my!
Laat ek u gedagtes hoor
Kom praat met my!
Ek is hier om te kan leer
Kom praat met my!
Laat my hart verander word
Kom praat met my!
Kom plant U lewenswoord in my.

3. Maak alles stil in my wat raas, Heer
Maak dit wat hard is sag soos klei
Vorm in my weer die ywer om te wees
Op my knieë, in vrede, Heer
Om by U, intiem, te leer

Refrein:

4. Wys my U weë, wys my u roepstem
Laat Heer, u wil in my geskied
As ek ooit afdwaal
Laat u stem, net soos die wind
Die lewe in my blaas
En my hart se seile vul
Kom praat met my.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Lees die weergawe (dramaties) uit die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Moenie Ander Mense Terugkry nie
38–40 “In die ou dae het die mense gesê: ‘As mense iets leliks aan jou doen, moet jy iets leliks aan hulle terugdoen.’ Maar Ek sê vir julle: Moenie ander mense terugkry wat lelik met julle is nie. As iemand jou ’n klap gee, moenie terugklap nie. En as iemand jou in die moeilikheid wil bring oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik terug. Stuur sommer ook nog ’n ander geskenk aan hom.

41 “As ’n soldaat na jou toe kom en vir jou sê: ‘Dra my geweer tot daar onder in die straat,’ moet jy sommer uit jou eie vir hom sê dat jy dit twee strate ver sal dra.

42 “Onthou ook: geld is nie die belangrikste in die lewe nie. Deel julle geld met mense wat swaar kry.”
Wees Lief vir Mense van wie jy Niks Hou nie

43–45 “Nog iets wat julle pa’s en oupas gereeld gehoor het, is die woorde: ‘Wees lief vir jou familie en jou maats. Haat al jou vyande.’ Maar Ek sê vir julle dit is nie waar nie. Julle moet goeie dinge doen vir mense van wie julle niks hou nie. Bid vir almal wat lelik met julle praat. Dan wag daar vir julle ’n plek in die hemel. As julle goeie dinge vir mense doen van wie julle niks hou nie, dan is julle gehoorsame kinders van julle hemelse Vader. Want God doen goeie dinge vir almal hier op die aarde. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën op goeie mense se grond en op slegte mense se grond.

46–47 “As julle net van julle eie familie en julle maats hou, doen julle nog nie genoeg in God se oë nie. Weet julle, baie mense wat nie in God glo* nie, doen dieselfde. Hulle is ook lief vir hulle familie en vriende.

48 “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy hou van goeie mense en slegte mense. As julle vir ander mense omgee, dan doen julle presies wat God in die Bybel van julle vra.”

‘n Kinderboodskap is ook beskikbaar.

As jy dit nie verlede week gebruik het nie, kan jy die wonderlike storie van “Those Darn Squirrels!” vertel.

Preekriglyn

Teoloog Walter Wink vertel die volgende verhaal, wat werklik tydens die Burgerregtebeweging in die VSA afgespeel het:

‘n Groot groep swart en wit burgerreg-aktiviste was een aand saamgetrek voor die Ebenezer Baptiste Kerk in Selma, Alabama. Selma was vir ‘n paar onstuimige weke in die 1960’s ‘n fokuspunt van die burgerregte stryd.

Die spanning verhoog merkbaar toe die groep verneem van ‘n klompie swart studente wat daardie middag in die nabygeleë Montgomery, hoofstad van Alabama, deur berede polisie omsingel is. Hulle kon nêrens heen nie, maar is beveel om uitmekaar te gaan of die gevolge te dra. Die polisie, steeds op hulle perde, begin die studente toe summier aanrand. Vir twee ure verhoed die polisie ambulanse om naby die studente te kom. Dit was juis een van hierdie ambulansbestuurders wat Selma toe gery het om die groep voor die Ebenezer Kerk te kom vertel wat gebeur het.

Die skare was woedend, gereed om ‘n siedende protesoptog te hou. Openbare byeenkomste was egter verbode. Reg oorkant die groep het soldate van Alabama gereed gestaan vir aksie, tesame met die berugte, rassistiese sheriff, Jim Clark, se plaaslike polisiemag. Die situasie was plofbaar.

‘n Jong swart predikant stap na die mikrofoon en sê dis tyd om ‘n lied te sing. Hy begin met die openingsreël: “Do you love Martin King?” Die skare, wat die lied ken, reageer met: “Certainly Lord!” So gaan dit voort: “Do you love Martin King? Certainly, Lord! Do you love Martin King? Certainly, certainly, certainly Lord!”

Die lied gaan voort deur die name van die hele bestuur van die Suidelike Leierskap-Konferensie te gebruik. Elke keer eggo die skare die name, met groeiende geesdrif.

Sonder waarskuwing sing die swart predikant: “Do you love Jim Clark?” Oeps! Die sheriff! Uit die mag van gewoonte, maar tog met verstomming en effe stamelend, sing die skare “Cer . . . certainly, Lord.” “Do you love Jim Clark?” Hierdie keer kom dit ietwat sterker: “Certainly, Lord.” “Do you love Jim Clark?” Teen die tyd het die skare die punt gesnap: “Certainly, certainly, certainly, Lord!”

Ds James Bevel spreek daarna die groep toe. Ons veg nie net vir ons regte nie, sê hy, maar vir die beswil van die hele gemeenskap en samelewing: “Dit is nie genoeg om Jim Clark te oorwin nie. Hoor jy my, Jim? Jim, ons wil hê jy moet tot inkeer kom. Ons kan nie oorwin deur ons verdrukkers te haat nie. Ons moet hulle liefhê sodat hulle kan verander.”

Die berugte, rassistiese Jim Clark het verander. Hy het later in die openbaar verklaar hy was verkeerd in sy vooroordeel teenoor swart mense. Die liefde wat hy daardie aand in Selma ontvang het, toe hy brute opstand verwag het, het moontlik ‘n klein bydrae tot hierdie verandering gelewer.
(Walter Wink: Jesus and Nonviolence. A Third Way).

Wat maak ons anders?

Justinus die Martelaar het eeue gelede na aanleiding van die Matteus 5:46-47 gevra: “Wat doen jy nuut?” Dis ‘n belangrike vraag. Wat maak ons anders? Die meeste Christene sou kon sê: “Die liefde.” Dit sou ook reg wees. Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat Christene aan hulle liefde uitgeken sal word (sien Joh 13:34, 35; 1 Kor 13:1; 1 Joh 3:16-18). Almal sal met hierdie boodskap saamstem.

Jesus gee in ons teks ‘n radikale betekenis aan liefde:
43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’
44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,
45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.
46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?
47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

Dye wysheid van die skrifgeleerdes was dat mens jou naaste moet liefhê, maar jou vyand haat. Die tollenaars het net die lief wat hulle liefhet. En die heidene groet net hulle broers en susters. Van sy dissipels verwag Jesus ‘n dieper navolging, ‘n meer radikale liefde.

Liefde met grense?

Daar bestaan ‘n gevaar dat ons te maklik oor die liefde kan praat. Ons liefde kan niks meer as die liefde van heidene, tollenaars en Joodse rabbi’s van Jesus se tyd wees nie.

Die Skrifgeleerdes was goeie mense. Hulle het die tradisie bewaar en oorgelewer met hulle interpretasies van God se openbaring. Wat sê hulle? Matteus 5:43: “Jy moet naaste liefhê en vyand haat . . .” Die naaste beteken vir ons volksgenote (Lev 19:18), ons eie mense. In ons taal: “ons kerk, ons ras, ons taalgroep, ons geloof, ons oortuigings.”

Die tollenaars staan vir die swakste voorbeelde van morele gedrag en die heidene vir mense wat buite die genade van God staan. Wat doen hulle? In Matteus 5:46-47 lees ons wat die standaarde van menslike menseverhoudinge is. Jy het reg gelees: “menslike menseverhoudinge.” Dit werk so: Ek het hulle lief wat my liefhet. Ek groet die mense wat my groet. Ek doen goed aan die mense wat goed doen teenoor my. Dis beperkte liefde. Dis menslike liefde. Jesus gebruik baie erger woorde om dit te beskryf. Hy sê dat die mees veragtelike mense in sy gemeenskap, die tollenaars, so liefhet. Hy sê dat mense wat die ware God nie ken nie, op dieselfde manier optree.

Ons krap graag mense se rug wat ons rug krap, maar dis beperkte liefde. Dis liefde met grense. Dink hier aan die “ons” en “hulle” kategorieë in ons samelewing. Wie is in en wie is uit? Is jy katoliek of Protestant? Is jy swart of wit, ‘n immigrant of landsburger? Praat jy Afrikaans of ‘n ander taal? Is jy “gay” of “straight”? Is jy ‘n man of vrou, ryk of arm? Na watter skool toe het jy gegaan? Was jy op universiteit? Dis alles vrae wat mense in kategorieë plaas.

‘n Ander styl van liefde

Wat maak ons anders? Wat maak Christene anders? Wanneer ons liefde beperk word tot “ons” groep, tot hulle wat ons goedgesind is, is ons niks anders as die wêreld sonder God nie. Die standaarde van menslike menseverhoudinge word nie gehandhaaf wanneer mense volgelinge van Jesus Christus is nie. Jesus sê dat ons getrouheid, ons geregtigheid dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs moet oortref (Matt 5:20). Kinders van die Vader in die hemel het ‘n ander styl van liefde (Matt 5:44-45).

Volgelinge van Jesus het die openhartigheid van God wat die wêreld die voorwerp van sy liefde gemaak het. Christene se liefde lyk anders en staan op twee bene, naamlik liefde vir die vyand en gebed vir diegene wat die lewe vir ons moeilik maak (die agtergrond van “vyande” en “vervolgers” is hierbo bespreek).

Liefde vir die vyand

Liefde is nie goedkeuring van die kwaad nie. Dit is ‘n doelbewuste keuse om nie te haat nie, maar teen ons wil lief te hê. Dis om God se hart te vertoon. Net so min as wat die skare in Selma, Alabama, Jim Clark se rassisme goedgekeur het, net so min kon hulle as Christene hom haat. Jim Clark se rassisme was uit onkunde, afstand en vooroordeel wat daarmee saamhang, gebore.

Henri Nouwen skryf:
Solank as wat daar ‘n afstand tussen ons is en ons nie in mekaar se oë kan kyk nie, ontstaan alle vorme van valse idees en beelde. Ons gee hulle name, maak grappe oor hulle, bedek hulle met ons vooroordele en vermy direkte kontak. Ons dink aan hulle as vyande. Ons vergeet dat hulle liefhet soos ons liefhet, dat hulle vir hulle kinders omgee soos ons vir ons s’n omgee, siek word en sterf – net soos ons. Ons vergeet dat hulle ons broers en susters is en behandel hulle as voorwerpe wat sommer net vernietig kan word.

Liefde vir die vyand breek deur alle menslike grense. Augustinus skryf dat baie mense geleer het om die ander wang te draai, maar min het verstaan dat hulle dié moet liefhê wat hulle geslaan het.

Liefde vir ‘n konkrete vyand

Vir die skare in Selma, Alabama, was die vervolging van Jim Clark iets wat hulle aan hulle lyf gevoel het. Dis nie ‘n abstrakte teorie om te bely jy moet jou vyande liefhê nie.

Net so was “die vyand” geen abstrakte saak vir die lesers van Matteus se Evangelie nie. Hulle was na alle waarskynlikheid uit sinagoges geban en is deur mede-Jode en heidense owerhede verhoor. Die Jode wou niks met hulle te doen hê nie, omdat hulle as dissipels ook die heidene tot geloof wou lei en by die Jesusgemeenskap insluit. Die owerhede het hulle vervolg omdat hulle nie die keiser en die Romeinse afgode wou aanbid nie.

Iemand soos Bonhoeffer het hierdie liefde prakties uitgeleef. Hy skryf: “‘n Dissipel is iemand wat sy vyand as broer sien, omdat Jesus ons, wat vyande was, as broers behandel het en ons in gemeenskap met Hom getrek het” (Sien Rom 5:6-10; Rom 12:20).

Liefde vir die vyand is dus ‘n bewys dat ons aan God behoort. Iemand skryf: “Ek het God net só lief as wat ek dié medemens liefhet wat ek die minste liefhet.”

Gebed vir ons vervolgers

Jesus leer ons om nie net ons vyande lief te hê nie, maar ook vir hulle te bid. Jesus het hierdie woorde boonop prakties vervul (Luk 23:43). Gebed vir ons vervolgers is die ander kant van die munt van liefde vir ons vyand. Die een kan nie sonder die ander nie. Die een is ‘n uitdrukking van die ander.

As Jesus se gebed vir sy vyande nie gestil kon word nie, behoort dit ook ons gebed te wees. Die navolging van Christus is om die kruispad te stap van Hom wat aan die kruis vir sy vyande gebid het. Daarom het die kerkvader Chrisostomus opgemerk: “Om vir vyande te bid is die hoogste uitdrukking van selfbeheersing.”

Watter soort gebed is dit, vra Bonhoeffer: “Dit moet ‘n gebed van egte liefde wees vir hulle wie se oë na ons gluur met vlamme van haat daarin. Ons sal bid vir hierdie mense wat nie die vrede beleef wat ons beleef nie. Om te bid vir ons vyande, is om langs hulle te gaan staan en vir hulle by God te pleit.”

Alfred Plummer skryf: “Om die goeie met kwaad te vergeld, is duiwels. Om die goeie met die goeie te beloon, is menslik. Om die kwaad met die goeie te beloon, is goddelik.”

Gebed vir moordenaars

In Kerkbode van 7 Julie 1998 het die volgende berig verskyn: “Gerrit Steenkamp, uiters begaafde musikale persoon, boer van Parys. Hy het na sy pa se dood sy doktorale studies onderbreek om te kom boer. Hy was uiters suksesvol en het talle sendingkampe vir plaaswerkers en skoolkinders op sy plaas aangebied. Tot 700 mense het soms op die plaas saamgetrek. Toe word hy vermoor. In sy testament laat hy NZ$1 miljoen vir sending na. Later word ‘n biduur op sy plaas gehou. Tydens dié biduur bid sy ma, Martie Steenkamp vir haar seun se moordenaars.”

Lakmoestoets vir geloof

Walter Wink skryf: “Dit kan nie oorbeklemtoon word nie: liefde vir ons vyande het in ons tyd die lakmoestoets vir egte Christelike geloof geword.”

Dit pas elkeen van ons dus om aan ‘n daad van liefde te dink wat ons aan ons ons vyande kan betoon. Ons kan bid dat ons vyande God se liefde sal beleef en sal verander. Ons kan vra hoe ons optrede die vyandskap in stand hou. Ons kan vra om self verander te word, en om geseën te word met liefdesinisiatiewe wat vyandskap in lewensverandering en vriendskap kan verander.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.
Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën: 2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Musikale Amen
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.