Sewende Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die tyd na Epifanie word afgesluit met die helderheid en die reikwydte van God se Lig wat in die wêreld verskyn het. Dit kan alle donkerte tussen gelowiges verdryf en alle grense na ander mense oorsteek. Wie vreugde in die voorskrifte van God vind, sal ook onvrede hê met verdeeldheid tussen gelowiges. Wie die lig gesien het wat van God uitgaan, sal ook soos die Vader liefhê en nie onderskeid tref tussen vriend en vyand nie.

Paulus gaan verder in sy brief en wys daarop dat vereniging met Christus as fondament eenheid tussen gelowiges bewerkstellig. Hy gebruik dan die beeld jm k,van die tempel om dit te illustreer. Dit hou egter nie hier op nie, maar sluit ook die liefde vir die vreemdeling (Lev) en die vyand (Matt) in.

Ander tekste

Levitikus 19:1-2, 9-18
Ek is die Here julle God
19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

3Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. 4Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5“Wanneer julle ’n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie. 8Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Psalm 119:33-40
33Here, leer my hoe om u voorskrifte
uit te voer,
sodat ek my tot die einde toe
daaraan kan hou.
34Gee my insig,
dat ek u wet kan gehoorsaam
en dit met my hele hart kan onderhou.
35Laat my wandel volgens u gebooie,
want daarin vind ek vreugde.
36U verordeninge,
laat dié my na aan my hart lê,
nie die begeerte om myself
te verryk nie.
37Weerhou my van ’n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.
38Vervul ook aan my die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
39Die venyn van mense,
daarvoor is ek bang,
moenie dat dit my tref nie.
Maar u bepalings, dié is goed.
40Ek wil u bevele nakom.
Hou my in die lewe, want U is getrou.

Matteus 5:38-48
Vergelding
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ q39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand
Luk 6:27–28, 32–36)

43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê ren jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, sen julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Fokusteks

1 Korintiërs 3:10-17
Die gelowiges as die gebou van God
Julle is ook die gebou van God. 10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ‘n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik ‘n wyse mens kan word, 19want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:
“Hy vang die slimmes
met hulle eie slinkse planne,”
20en op ‘n ander plek:
“Die Here ken die gedagtes
van die wyse mense
en weet dit beteken niks.”

21Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: 22of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, 23maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

Ekstra stof

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3).  Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het.  In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ‘n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ‘n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword.  Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedónië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad.  Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ‘n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het.  Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang.  Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9).  In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit.  En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag.  Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst 1-9 en hfst 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.  Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes).  Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.  Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is.  Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik.  En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1).  Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het.  Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.  ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms.  As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil.  Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word.  Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

1 Korintiërs 3-4 – Soos ‘n goeie boer, bouer en bestuurder
Begeleiding deur die Gees van God is nie net ‘n teken van geestelike volwassenheid nie, maar die essensie van ‘n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe.  Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling – omdat eie begeertes die botoon vier.  Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Interessant dat Paulus hom in sy kommunikasie laat lei deur die vlak van hulle geestelike volwassenheid, dié mate waarin hulle bereid is om hulle deur die Gees te laat lei.  Omdat hulle soos wêreldse mense optree, soos kindertjies in die geloof, moes hy eenvoudig met hulle praat, omdat hulle dieper dinge nie sou kon verteer nie.

Let op hoe hy terugkeer na die kwessie van verdeeldheid rondom leiers, nou meer spesifiek oor die stryd in die gemeente om óf Paulus óf Apollos óf Sefas (Petrus) aan te hang.  En hy praat daaroor uit drie perspektiewe: 3:4-9 – dat die leiers medewerkers is in diens van God wat die werk doen wat Hy gegee het; 3:10-23 – dat die gemeente die gebou van God is waarin die Gees van God woon, en dat dit daarom dwaas is om op mense/leiers te roem of hulle te verheerlik; 4:1-21 – dat die apostels dienaars is van Christus (nie van die gemeente nie), wat deur Hom beoordeel word, en hulle binne die perke moet hou wat Hy bepaal.

Hy gebruik drie basiese metafore in sy gesprek oor eenheid, in die eerste perspektief van boere in ‘n saailand, in die tweede van bouers in die gebou of tempel van God, en in die derde van bestuurders in die koninkryk (Bybel in Praktyk praat van die “hemelse ekonomie”!) van God – lekker metafore vir leiers: boere, bouers en bestuurders!  En let op dat Hy dit regdeur trinitaries uitspel – dit gaan oor God (die Vader), die Heilige Gees en Christus wat laat groei, beloon, beskerm, en lof uitdeel.

Wat my tref is die baie belangrike boodskap van Paulus dat die Gees nie net vir my as gelowige gegee is nie, maar vir die gemeente – dat die gemeente ‘n tempel van God is waarin Hy woon.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want dit skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk – Paulus sê letterlik dat ‘n mens soos ‘n “wyse” (dit is wat die woord goeie in die oorspronklike Grieks beteken) bouer te werk moet gaan, by wyse van spreke, volgens die bouplanne wat God gee.  Let op dat die gehalte van die werk in twee groepe verduidelik word: duursame (goud, silwer, edelstene) en verganklike (hout, gras, strooi) materiale.

En die gemeente moenie op sy leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, maar almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.

Paulus is ook duidelik – al is dit ‘n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging.  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (2:2) en die deelhê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Maar dan, op vernuftige wyse, gebruik hy dié tekening van die apostelbediening om sy verbintenis aan hulle as geestelike vader te bevestig om hulle aan te spoor om sy voorbeeld te volg, en te volhard in die geloof.  En in ‘n skerp toon vat hy die mense in gemeente aan wat hulleself begin aanmatig met die waarskuwing dat hy op pad is!

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 387 of Lied 154 of VONKK 78

Votum: (Lied 216:1)

Seëngroet

Lofsang: Flam 104 of VONKK 42 of Lied 191

Wet: Levitikus 19:1-2, 9-18

Toewyding: N.a.v. Psalm 119:33-40

Genadverkondiging en geloofsbelydenis: Lied 244

HOOR

Gebed: Liedboek Psalm 119 vers 7

Skriflesing:  1 Korintiërs 3:10-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 66 of Lied 478

Seën

Respons: Flam 66 refrein of Lied 154 vers 1 drie laaste reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 387 Hier is u kerk of
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
VONKK 78 Die Kerk Is Die Heer Se Mense

Votum
Sing met vreugde, sing oor ons Redder-Koning.  Laat ons hulde bring aan die Hemelheer wat sy kerk regeer;  Hy maak by ons sy woning.  (Lied 216:1)

Seëngroet

Lofsang
Flam 104 Weet Jy Nie, Jy’s ’n Tempel? [bekend] of
VONKK 42 Jubilate! Loof Die Here! [bekend] of
Lied 191 “Grote God, ons bring U eer”

Wet
Levitikus 19:1-2, 9-18

Toewyding
N.a.v. Psalm 119:33-40
Liturg:  Here, leer ons hoe om u voorskrifte  uit te voer,
Gemeente:  sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou.

L:  Gee ons insig,
G:  dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou.

L:  Laat ons wandel volgens u gebooie,
G:  want daarin vind ek vreugde.

L:  U verordeninge, laat dié ons na aan die hart lê,
G:  nie die begeerte om myself te verryk nie.

L:  Weerhou ons van ’n nuttelose lewe,
G:  laat my leef op die weg wat U aanwys.

L:  Vervul ook aan ons die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien.
Die venyn van mense, daarvoor is ons bang, moenie dat dit ons tref nie.
G:  Maar u bepalings, dié is goed.

L:  Ek wil ons bevele nakom.
G:  Hou my in die lewe, want U is getrou.

Genadverkondiging en geloofsbelydenis
Lied 244 “Alles, alles is genade”

Liedere

VONKK 78 “Die Kerk Is Die Heer Se Mense”
Teks: Breda Ludik 2005
Melodie: BEN LUDIK – Francé Ludik 2005 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêre Kinderlied – Die Kerk / Kindwees

1.  Die kerk is die Heer se mense
wat vra na die Heer se wense.
Ja, ons is die Heer se mense:
Die wêreld moet Hom sien!

2.  Die kerk is die Heer se woning,
‘n huis vir sy eie Koning.
Ja, ons is die Heer se woning:
Die wêreld moet Hom sien!

3.  Die kerk is die Heer se tempel,
ons dra nou die Heer se stempel.
Ja, ons is die Heer se tempel:
Die wêreld moet Hom sien!

VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!”
Psalm 100
Teks: Jubilate, everybody – Fred Dunn 1977; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: Fred Dunn 1977
Kantoryverwerking: Marcha Geyer 2007 ©
© 1977, 1980 Thankyou Music (Admin CopyCare SA). Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Jubilate! Loof die Here,
almal op die hele aarde kom
en dien die Here met gejubel,
kom voor Hom en prys sy heil’ge Naam.

Gaan sy tempel in met vreugde,
juig en sing, kom dank die Heer,
want aan sy liefde is geen einde.
Loof die Here, almal saam.

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
(RUBRIEK: Flam – Kerk en Koninkryk; Getuienis )
Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen
Musiek: Neil Büchner
© Flam Musiek-Uitgewers

Hier is u kerk, U stel ons aan.
Ons is gekies, U gee ons u guns.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
net soos dit is, dat mense dit ken.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
waar ons is u liefde bring.
Elke mens sien as u tempel
deur genade, u goedheid bewys
waar U kerk van u liefde getuig.

Hier is u kerk,
(ons is gekies)
hier is u kerk.
(ons is gekies)
hier is u kerk.

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ’n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempel?
Jy is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

2. Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
jy is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

3. Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ’n tempel.
Ek is ’n tempel van die Heil’ge Gees.

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
(Liedboek 478)
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed: Liedboek Psalm 119 vers 7

Skriflesing: 1 Korintiërs 3:10-17

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gesels oor wie en wat die kerk is. Verduidelik dat die kerkgebou nie die kerk is nie, maar ons is die kerk.
Sing Flam 104 met bewegings:
Weet jy nie:  hande oop, skouers opgetrek
Jy: wys na mekaar

’s ’n tempel:  hande bymekaar soos ’n toring
Jy: wys na mekaar

is ’n temple: hande bymekaar soos ’n toring
van die Heil’ge Gees:  hande na bo soos met lofsang

Vol van lof: hande na bo soos met lofsang
vol van krag:  maak spiere
vol van vreugde:  swaai arms in die lug

Ja ek weet:  knik
Ek: wys na jouself
‘s ’n temple: hande bymekaar soos ’n toring

Jy kan ’n idee van die bewegings kry hier.
Maak met julle hande ’n kerk met mense in – kyk hier hoe.  This is the steeple. Open the doors – these are the people”.
Laat mense wat leiers in die kerk is (kerkraadslede, leiers van bedieninge) staan.  Verduidelik vining wat hulle doen.  Laat kinders by hulle gaan staan en vir hulle hande oplê.  Bid vir jul leiers.

Preekriglyn

[Die preekriglyn werk met verse 10-17 as teksindeling.]

Die antieke wêreld het ‘n naam vir die Korintiërs gehad: Korinthiazesthai! Dit beteken: “Om soos ‘n Korintiër te leef!”

Hierdie benaming was egter nie vleiend bedoel nie. Die inwoners van die stad Korinte was ryk, hulle het die wêreld-handel oor land en see beheer, hulle kon roem in hulle twee-jaarlikse aanbieding van die Istmiese Spele, maar hulle het losbandig gelewe deur seksuele orgies te bedryf terwyl dronkenskap ‘n alledaagse gesig was.

Die inwoners van Korinte was hoofsaaklik Hellenistiese Grieke, met ‘n groot groep Jode wat van Palestina afkomstig was. Dit het gelei tot ‘n mengelmoes godsdienste waarin Apollo geëer is vir sy profetiese uitsprake en Asklepius aanbid is as die god van genesing. Afrodite, die godin van die seksuele, het ook ‘n prominente plek in die samelewing ingeneem.

Gemeente gestig

In dié stad stig Paulus (±50 nC) tydens sy tweede sendingreis die gemeente van Korinte. Die lidmate was hoofsaaklik nie-Jode asook Jode wat reeds in Jerusalem tot bekering gekom het. Dan was daar ook gelowiges vanuit die laer sowel as die hoër sosiale klasse. Na ‘n bediening van bykans agtien maande, vertrek Paulus saam met Akwila en Priscilla, die purperverkopers, na Palestina en Apollos volg hom in Korinte op as geestelike leier.

Verdeeldheid

Tot sover die goeie nuus. Tydens sy verblyf in Efese vertel Chloë en haar huisgenote vir Paulus dat daar in Korinte ‘n “persoonlikheidskultus” ontstaan het. Dit het die gemeente in groepe verdeel aangesien lidmate teen mekaar afgespeel is. En ongelukkig was Paulus en Apollos se aanhangers die voorbokke hierin gewees.

Apollos, as begaafde spreker, se bedieningstyl het hulle positief geïnspireer. Hulle was opgewonde oor die evangelie én ook oor die gemeente se toekoms. Paulus se aanhangers het weer aanklank gevind by laasgenoemde se kalm en beredeneerde bedieningstyl. Vir hulle was sy uitleg van die  grondwaarhede van kardinale belang; miskien omdat hulle heidense gelowiges was wat tot bekering gekom het en ‘n behoefte aan die onvervalste moedersmelk van die evangelie gehad het. Hierin het Paulus volhard ten spyte van kritiek op sy werkswyse en ook later op sy apostelskap.

Sefas se aanhangers het weer vasgeklou aan sy boodskap wat hulle herinner het aan die tyd toe hulle nog in Jerusalem was. ‘n Vierde groep het hulle aan “Christus” verbind. Wie hulle was, weet ons nie eintlik nie behalwe dat hulle klieks gevorm het. In hulle oë was hulle beter as die “ander” want hulle het verskeie geestesgawes beoefen (1 Kor 3:22-23).

Jesus is die fokus

Hierdie groepvorming rondom gemeenteleiers het ‘n bedreiging vir die gemeente ingehou. Net soos wat dit vandag nog ‘n bedreiging inhou vir die kerk in die breë, maar ook op gemeentevlak. So skryf Paulus net voor Pinkster in 54/55 nC ‘n brief aan hulle om die genade van die Here vir hulle as gemeente te verduidelik. Ons lees hierdie brief in 1 Korintiërs 3:10-11 en 16-23.

Paulus skryf:
Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

In hierdie gedeelte sê Paulus vir die gemeente: Onthou, God het die gemeente van Korinte op Jesus Christus as fondament gebou. Daarom is die gemeente God se eiendom waarin Hy deur sy Gees woon. Daarom mag ‘n bouer net op dieselfde fondament, Jesus Christus die Here, voortbou. Dit het Paulus self deur die Here se genade in Korinte gedoen. Apollos het saam met hom gedien, terwyl elkeen op sy eie manier en tyd in die gemeente werksaam was.

Daarom, sê Paulus, is dit so hartseer dat dit nie meer vir Korinte gaan om Jesus nie, maar om die menslike ek. Die resultaat hiervan is groepvorming, wat lei tot onderlinge konflik. Uiteindelik kom God se Naam in gedrang. So verloor die gemeente sy vermoë om ‘n verskil in die wêreld te maak.

Die tempel van God

In verse 10-11 verwys Paulus na sy bediening as die lê van die fondament van die gemeente. Dit gebeur in Christus.

Die bou van die gemeente eindig egter nie by die fondament nie. In verse 16-17 bly duidelik dat die gemeente die tempel van God is. Dit is die doel van die opbou van die gemeente. ‘n Stewige gebou moet verrys op ‘n stewige fondament. Die gemeente as gebou is die tempel van God.

Natuurlik is die bouwerk in Korinte nog ver van klaar. Maar die geestelike gebou wat hier verrys is in beginsel reeds die tempel van God, met die Gees van God wat reeds in die gemeente as tempel woonagtig is.

Terwyl Paulus hierdie woorde skryf, staan die tempel in Jerusalem steeds. Daar word elke dag steeds offers gebring. Sy Joodse lesers in Korinte sou deeglik daarvan bewus wees. Paulus self het die tempel besoek. Trouens, tydens Paulus se finale besoek aan die tempel (Handelinge 21) word ‘n gerug versprei dat hy die tempel ontheilig het. Dit is genoeg om ‘n opstand in Jerusalem te begin.

Mense van die antieke tyd het hulle godsdienstige geboue baie ernstig geneem.

Paulus maak dus ‘n radikale uitspraak: oor Korinte, maar ook elke ander Christelike gemeenskap. Die gemeente is die tempel van God. Fondamente en bouwerk moet dus geweldig ernstig geneem word. Die saai van verdeeldheid beskadig die tempel. Dit is so goed soos om die tempel aan die brand te steek of ‘n bom in die gebou te laat afgaan. Daarom is verdeeldheid in die gemeente ook nie sonder gevolge nie:

As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle. (17)

Daarom handel verse 12-15 oor die beoordeling van die gehalte van ons bouwerk in God se gemeente.

Watter fondament?

Die kern vir Korinte is of almal gegrondves bly op Jesus as fondament.

Vandag is dit nog so. Die oomblik wanneer dit oor die eie ek gaan, ontstaan daar groepvorming wat lei tot konflik. Dan is dit ek teenoor jy, ons teenoor julle. Wit teenoor swart en arm teenoor ryk. Die resultaat is huwelike wat verbrokkel, huisgesinne wat opbreek, samelewingstrukture wat in duie stort. Geboue word afgebrand, menseregte word vertrap en delikate verhoudings waaraan hard gewerk is, word in ‘n oogwink vernietig. So verdeel ‘n kerk of gemeente ook in groepe. Die een groep sê ja, en die ander sê nee. Konflik ontstaan tussen lidmate wat lei tot vermindering van getalle en selfs skeuring.

My behoeftes

Hoekom gebeur dit? Want ‘n ek-fondament beteken dat kerk-wees vir mense gaan oor sit, wag en ontvang, terwyl hulle fokus op wat hulle as verkeerd kan uitwys. Ek sal ‘n erediens bywoon as die boodskap my pas. Ek sal help by ‘n diensaksie as dit my pas. Hierdie selfgerigte houding is presies die teenoorgestelde van ‘n houding wat op Jesus as die fondament bou. Wie op Jesus bou, sal ten spyte van die gemeente se menslike foute en lidmate se verskillende persoonlikhede en behoeftes, saam met ander begin bou op beginsels wat Jesus in sy Woord neergelê het.

Die kerk is daarom nie ‘n luukse restaurant, waar ek maar net kan inkom, van die spyskaart kan kies wat om te eet en wag dat my behoeftes aangespreek moet word nie. Nog minder is die ampsdraers en die ander lidmate kelners wat net daar is om na my pype te dans. Daarom daag Paulus Korinte, maar ook ons uit: Laat staan die ek-fondament. Vergeet van dit wat vir my belangrik is en van dit wat ander gedoen of gesê het. Fokus net op Jesus as fondament. God stel daarin belang of ek aan sy kerk gebou het omdat Jesus vir my die belangrikste is. Is ek bereid om dit te doen, alleen maar ook saam met ander?

My prestasies

Ek sou vandag as prediker kan wys op my vol eredienste, my betrokkenheid in die gemeente, my jare in diens van die gemeente. Ek sou tevrede agteroor kon sit met my populariteit as die antwoord. Hierdie antwoord kan my miskien tevrede stel, en ook ander mense. Maar die Here vra of ek alles doen tot sy eer, of ter wille van die vertoon terwyl ek eintlik agteraf daaroor mor en kla.

Hieroor moet ek nou duidelikheid kry. As ek seker is van my eie verhouding met die Here, hoekom is ek dan onverskillig, traak-my-nie-agtig teenoor die Here se kerk? Dan pas die vrugte wat ek dra tog nie by die boom wat ek is nie. En dit sal die Here nie ongestraf laat bly nie, want in werklikheid is ek besig om die gemeente te verwoes en God oneer aan te doen!

Jesus as fondament

Daarteenoor, as Jesus my persoonlike fondament is, maar ook die fondament waarop ek in die gemeente bou, dan sal ek my loon ontvang. Wat die loon is, is nie baie duidelik nie. Miskien is dit die voorreg om die gemeente te sien groei soos ‘n Paulus van ouds. Maar miskien is dit om God se versekering te ontvang dat:

Die stormwinde kan maar aan die gemeente ruk en pluk, maar dit sal bly voortbestaan omdat die fondament op rots is, dit is dat Jesus die Here is (Matt 7:24 ev);

Niks my as gelowige ooit uit God se hand sal ruk nie, want Hy is my Herder (Joh 10:27-28);

Ek in die vreugde kan deel om saam met ander in diens van God en sy kerk te wees, want hiervoor het Jesus met sy bloed betaal (Fil 2:1-5).

Hierdie loon sal ek nou reeds ontvang, alhoewel gebrekkig, maar eendag in sy volheid! Hoe lyk my bouwerk? Jesus of ek!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 66 Op Vaste Fondamente
Lied 478 “Op Vaste Fondamente”

Seën

Respons: Flam 66 refrein of
Lied 154 vers 1 drie laaste reels:  Hy gee sy Gees, so laat hy dit wees:  Hy seën wat ons bou en bind ons deur sy trou.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.