Sewende Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Genesis 45:3-11, 15
Josef sê vir sy broers wie hy is

45 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het.

3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’

12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”
14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil.

15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.

Psalm 37:1-11, 39-40
Laat jou lewe aan die Here oor
37 Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid
verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here
en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek
soos die son,
jou reg soos die helder lig
van die middag.
7Daarom moet jy in stilte
op die Here vertrou
en jou nie ontstel
oor die voorspoedige lewe
van ’n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie,
laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue
in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
10Nog ’n rukkie
en daar sal geen goddelose
meer wees nie;
’n mens sal hom soek waar hy was,
maar hy sal nie daar wees nie.
11Dié wat nou verdruk word,
sal die land besit
en hulle verlustig in hulle welvaart.

38Dié wat hulle teen die Here verset,
word voor die voet uitgewis,
die toekoms van die goddeloses
word afgesny,
39maar die regverdiges
word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug
in tyd van nood.
40Die Here help hulle
en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense
en red hulle,
want hulle skuil by Hom.

1 Korintiërs 15:35-38, 42-50
Die opstandingsliggaam

35Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?
36Dis ’n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38Maar God gee ’n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ’n eie gestalte.

39Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.
40Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.

42So is dit ook met die opstanding van die dooies; wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. 45So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.” qDie laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.
50Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.

51Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. 54En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:
“Die dood is vernietig,
die oorwinning is behaal.” 
55“Dood, waar is jou oorwinning?
Dood, waar is jou angel?” 
56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.
58Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Fokusteks

Lukas 6:27-38
Liefde vir die vyand

(Matt 5:38–48; 7:12a)
27″Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; 28seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. 29As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. 30Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. 31Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.
32″As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. 33En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. 34En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. 35Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Moenie oordeel nie
(Matt 7:1–5)
37″Moenie oordeel nie,
en oor julle sal nie
geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie,
en julle sal nie
veroordeel word nie.
Spreek vry,
en julle sal vrygespreek word.
38Gee,
en vir julle sal gegee word:
‘n goeie maat,
ingestamp, geskud en propvol,
sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee
julle meet,
sal ook vir julle gemeet word.”
39Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan ‘n blinde miskien ‘n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in ‘n sloot val nie? 40’n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.
41″Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 42Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”

Ekstra stof

Lukas 1:1-4:14 fokus op die geboorte van Jesus tot by sy bekendstelling as die gedoopte, getoetste seun van Adam, Seun van God. Hoofstuk 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 6:1-49 beskryf Jesus se bediening uit drie perspektiewe:
• Dat Jesus die Joodse godsdienstige reëls van die sabbatdag relativeer en ondergeskik stel aan die regte verhouding met mekaar en God – 6:1-11;
• Dat Jesus sy lewe deel met ‘n aantal leiers wat Hy uitkies, wat soos ons weet, die impak van sy bediening vermenigvuldig het – 6:12-14;
• Dat Jesus die lewe gee vir elkeen wat bereid is om te luister na sy woorde EN dit te doen – 6:15-49.

6:1-11
Dit tref hoe Jesus die hele wyse waarop die Jode die sabbatdag vier met positiewe inhoud inklee. Hy wys dat dit ‘n dag is vir fokus op mekaar, op noodbehoewendes, en op goeddoen. Die Joodse reëls, wat net mensgemaak is, en nie op die wet self gebaseer is nie, moenie in die pad staan van onderlinge verhoudinge en omgee nie. Daarbenewens moet die fokus op goeddoen die deurslag gee, trouens nie net op die sabbatdag nie, maar elke dag.

6:12-14
Geen beweging van waarde het nog ooit ontstaan sonder dat daar nie ‘n groepie dissipels was wat ingelei kon word in die boodskap en draers daarvan kon word nie. Jesus het dit geweet en optimaal benut. Daarom sonder Hy Homself af, bid, en kies dan twaalf wat by Hom kan leer en uiteindelik die impak van Jesus se evangelie kan vermenigvuldig.

6:15-49
Die tweede groot ding wat hier tref, is hoe Jesus die beginsel van goeddoen deurtrek in terme van die lewenstyl wat Hy kom vestig, en wat in die “vlakte-rede” (Lukas plaas Jesus op ‘n gelykte en nie op die berg soos Matteus nie) uitgespel word. En in verse 17-19 wys Hy self dat goeddoen geïllustreer moet word met dade en nie net met woorde nie – daarom genees Hy ‘n menigte mense.
Dit onderstreep sy lering in verse 20-49 dat “Luister in leef moet uitmond”, soos die verhaal van die huis op die sand/rots tereg aan die einde van die vlakte-rede te kenne gee.

Let op hoe Jesus:
• die vlakte-rede inlei met ‘n prentjie van die toegewyde lewe aan God, ten spyte van die omstandighede, wat deur God geseën word teenoor die prentjie van die selfgerigte lewe, wat wel korttermyn voordele inhou, maar tot ellende lei – 6:20-26;
• barmhartigheid – selfs vir vyande – verhef tot ‘n allesbepalende beginsel en dit fundeer in God se barmhartigheid – 6:27-36;
• ‘n vrygewige nie-veroordelende houding en lewenstyl aanprys, wat ironies genoeg juis lei daartoe dat ‘n mens, bewus van jou eie tekortkominge, ander kan help – 6:37-42;
• die bron van goeddoen in die hart van ‘n mens sentreer, ‘n hart wat natuurlik aan God behoort – 6:43-45;
• en afsluit met die oproep om hierdie dinge ter harte te neem deur dit te doen – en dit aan die baie bekende prentjie van die huis op die rots teenoor die huis op die sand te illustreer.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 37

Seëngroet  

Lied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Lukas 6 of Psalm 37

Skuldbelydenis en vryspraak: (Uit Lied 238)

Toewyding

Loflied: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 6:27-38

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: Ahv Ps119:33-40

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 37
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek
soos die son,
jou reg soos die helder lig
van die middag.

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader
wat sy geliefde Seun na ons gestuur het
en sy Gees soos ’n duif op ons laat neerdaal het.
Amen.

Lied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Lukas 6
37“Moenie oordeel nie,
en oor julle sal nie
geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie,
en julle sal nie
veroordeel word nie.
Spreek vry,
en julle sal vrygespreek word.
38Gee,
en vir julle sal gegee word:
’n goeie maat,
ingestamp, geskud en propvol,
sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee
julle meet,
sal ook vir julle gemeet word.”
of
Psalm 37
7Daarom moet jy in stilte
op die Here vertrou
en jou nie ontstel
oor die voorspoedige lewe
van ’n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie,
laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue
in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
10Nog ’n rukkie
en daar sal geen goddelose
meer wees nie;
’n mens sal hom soek waar hy was,
maar hy sal nie daar wees nie.
11Dié wat nou verdruk word,
sal die land besit
en hulle verlustig in hulle welvaart.

38Dié wat hulle teen die Here verset,
word voor die voet uitgewis,
die toekoms van die goddeloses
word afgesny,
39maar die regverdiges
word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug
in tyd van nood.
40Die Here help hulle
en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense
en red hulle,
want hulle skuil by Hom.

Skuldbelydenis en vryspraak
God, enkel lig, voor u gesig
is niks op aarde rein nie.
Ons is bevlek, met skuld bedek
kan nie voor U verskyn nie.
Heer waar dan heen? Tot U alleen;
U sal ons nooit begewe.
U eie Seun, ons borg en steun,
is ook ons weg tot lewe.
(Uit Lied 238)

Toewyding
Jesus Christus, ons weet wat u opdragte is.
Laat dit dan ons lewenswyse bepaal:
laat ons die wat honger is iets te ete gee,
laat ons die wat dors het, iets te drinke gee,
laat ons klere gee vir hulle wat sonder klere is,
laat ons vreemdelinge verwelkom,
laat ons siekes en gevangenes besoek.
Dan sal U wat regverdig oordeel vir ons sê:
Kom, julle wat deur my Vader geseën is!
Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.
Neem dit as erfenis in besit. Amen.
(Bisantynse vespers/gebede)

Loflied: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Liedere

F129. “Hier Is My Lewe”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof, toewyding)
Teks en Musiek: Danie Botha
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Heilig heilig my hande o Heer
Heilig my lewe om U Naam te kan eer
Heilig my voete my hart en verstand
Dat ek kan wandel op die heilige pad

Ek wil U loof uit ‘n heilige hart
Ek wil U eer soos die Gees my leer
Hier is my lewe hier is my hart
Hier is my lewe ek kom lê dit nou neer

Open my ore om U fluist’ring te hoor
Reinig my denke in die wêreld verloor
Gee my die krag om nou biddend te staan
Gedryf deur die waarheid, die Woord en U Naam

Hier is ek Here met my hele bestaan
Nietige mens met my foute en al
Gebruik wat U kan al is ek niks Heer
Gebruik wat U kan kom verander my meer

F275. “Kom Praat Met My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2008 Urial Publishing

1. My gees is stil; nou wil ek luister
Wat wil U hier vir my kom sê?
Ek dors na water – na u fluistering in my
Om my dorre grond te seën
Met die rykdom van U reën

2. Sonder u stem om my te wys, Heer,
Raak ek verdwaal, en ek raak bang;
Hardloop verward in alle rigtings om te soek
Wat net U in my kan vul
Wat net U in my kan doen

Refrein:
Kom praat met my!
Laat ek u gedagtes hoor
Kom praat met my!
Ek is hier om te kan leer
Kom praat met my!
Laat my hart verander word
Kom praat met my!
Kom plant U lewenswoord in my.

3. Maak alles stil in my wat raas, Heer
Maak dit wat hard is sag soos klei
Vorm in my weer die ywer om te wees
Op my knieë, in vrede, Heer
Om by U, intiem, te leer

Refrein:

4. Wys my U weë, wys my u roepstem
Laat Heer, u wil in my geskied
As ek ooit afdwaal
Laat u stem, net soos die wind
Die lewe in my blaas
En my hart se seile vul
Kom praat met my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here,
in ons hande lê die Skrif
deur eeue van hand na hand aangegee;
U Woord, oorvertel
van geslag na geslag,
van ouer na kind,
tot dié een wat hier in ons hande lê.
Here,
Dit is in dié Skrifte, in dié Woord dat ons na U soek,
ons eie woorde is maar yl en skraal,
en die baie woorde daar buite,
raak nie regtig ons hart
en bring nie die vrede en koers
waarna ons verlang nie.
Daarom is ons gebed, Here:
dat U ons nou sal hoor –
as ons bid om u teenwoordigheid,
om u nabyheid,
om u oop Woord,
om ons ontvanklike harte.
Maak ons daarvoor, stil.
Amen.
(Gebed deur Jan Lubbe)

Skriflesing: Lukas 6:27-38

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die weergawe (dramaties) uit die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Gee om vir Mense van Wie Julle Niks Hou nie
27–28 “Doen goeie dinge vir mense wat niks van julle hou nie. Bid vir ander wat lelike dinge vir julle sê. Vra dat die Here goed sal wees vir hulle. Moet nooit iets lelik sê as mense julle slegsê nie.
29 “As iemand jou in jou gesig slaan, moenie terugslaan nie. Sê hy moet jou nog ’n keer slaan. Es as iemand jou hemp wil hê, gee sommer ook jou skoene vir hom.
30 “As iemand iets van jou wil hê, gee dit! Moenie dit later gaan terugvra nie.
31 “Hoe wil jy hê moet jou maats en ander mense teenoor jou optree? Tree dan eerste so teenoor hulle op. Moenie wag tot hulle eers iets goeds vir jou doen nie. Doen dit eerste aan hulle!
32–36 “Wat help dit as julle net lief is vir julle eie familie en julle maats? Mense wat nie in God glo* nie, het ook hulle familie en vriende lief. Dit help nie om net goeie dinge te doen vir julle maats wat later weer goeie dinge vir julle sal terugdoen nie. Sondaars* doen dit ook. Julle moet goed doen aan mense van wie julle niks hou nie. Moenie iets terug wil hê as julle goeie dinge vir ander mense doen nie. Dan wag daar ’n groot prys* op julle in die hemel: julle sal as die Allerhoogste se kinders in die hemel ontvang word. God gee baie om vir almal hier op aarde, of hulle goed is of sleg. Wees soos God: help ander mense.”

Moenie Foute Soek nie
37 “Moenie julle maats en ander mense se foute uitsoek nie. Dan gaan God eendag dieselfde met julle doen. Moenie slegte dinge van julle maats dink nie. Sê net goeie dinge van hulle. Dan sal God vir julle plek hê in die hemel.
38 “Help daardie mense wat swaar kry. Dan sal God sorg dat julle genoeg het om van te leef. Julle sal oorgenoeg goeie dinge hê. Onthou, God sien wat julle aan ander mense doen. Eendag sal Hy dit onthou wanneer julle voor Hom kom staan.
‘n Kinderboodskap is ook hier beskikbaar.

Preekriglyn

Rolf Nestingen vertel dat sy ouers wou hê dat hy ‘n dokter moes word sodat hulle sommer vir niks siek kon word nie. Toe word hy maar ‘n predikant sodat hy vir niks goed kon wees nie. Immers, hoeveel maal word leraars nie gespot oor die feit dat hulle net een dag per week werk nie! Hulle is goed vir niks nie. Nestingen skryf dat dit nogal moeilik is om ‘n dag af te vat as jy net een dag per week werk!

As ons sê iemand is goed vir niks, bedoel ons om hulle te beledig. Tog kan ons die woorde so rangskik dat dit iets anders kan beteken. Ons kan sê dat ons moet goed wees en niks moet verwag nie. Ons is gratis goed – ons is goed, vir niks! Nestingen sê dat Jesus ons in hierdie gedeelte uitdaag om presies dit te doen: om lief te hê vir niks; om goed te doen vir niks; om geld uit te leen vir niks; om goed te wees vir niks!

Vir niks! Daar is min gedeeltes wat ons so dwars in die krop steek soos hierdie een. Ons hoor gedurig in ons samelewing dat mense, kinders, huweliksmaats, ja, enigiemand, erkenning moet kry en gerespekteer moet word. Die geloofsgemeenskap van Lukas het dit nie ervaar nie.

Vervolging

Hier gaan dit oor veel meer as erkenning. Jesus praat oor liefde vir die vyand – oor goed wees vir die vervolger – vir niks!

Jesus praat duidelik oor hulle konteks: vyande, haat, vervloeking, slegte behandeling, klappe in die gesig om hulle te verneder, onreg deur hulle besittings af te vat. Dit gaan hier oor godsdienstige vervolging en nie blote kriminaliteit teen Christene nie. Die gemeenskap waarin hierdie mense volgelinge van Jesus moes wees, sou hierdie optrede teen Christene meestal aanvaarbaar vind.

Die vyand was geen abstrakte begrip vir die dissipels nie. Hulle het die vyand te goed geken. Daar was diegene wat hulle gevloek het omdat hulle die geloof ondermyn en die wet oortree het. Daar was ander wat hulle gehaat het omdat hulle alles ter wille van Jesus laat staan het. Daar was diegene wat hulle beledig en beskimp het omdat hulle swak en nederig was. Sommige het hulle vervolg omdat hulle geglo het dat hulle dalk gevaarlike revolusionêre mense was . . .

Die vyande wat Jesus in gedagte het, is hulle wat heeltemal onbuigsaam teenoor ons liefde is en wat glad nie daarop reageer nie. Dit is hulle wat ons niks vergewe nie wanneer ons hulle alles vergewe. Dis hulle wat ons liefde met haat beantwoord en ons diens met bespotting.

Liefde vir die vyand

Liefde vra niks in ruil nie, maar soek hulle op wat dit nodig het. Wie het ons liefde nodiger as hulle wat deur haat verteer word en wat geheel en al sonder liefde is? Wie, met ander woorde, verdien ons liefde meer as ons vyand? Waar word liefde meer verheerlik as wanneer dit onder haar vyande woon?
Hoe moet hierdie liefde lyk? Jesus gee die antwoord: seën, doen goed, bid vir jou vyande sonder voorbehoud of aansien van persoon. Hoe oorwin die liefde? Deur nie te vra hoe die vyand ons behandel nie, maar slegs hoe Jesus ons behandel.

Die liefde vir ons vyand neem ons op die pad van die kruis en na die gemeenskap met die Gekruisigde. Hoe verder ons op hierdie pad geneem word, hoe sekerder is die oorwinning van die liefde oor die vyand se haat.
Die rede is eenvoudig. Dit is nie meer die liefde van die dissipel nie, maar die liefde van Jesus Christus alleen, wat ter wille van sy vyande die kruisweg gekies het en daar aan die kruis vir hulle gebid het. In die skaduwee van die kruis het die dissipels besef dat hulle ook sy vyande was en dat Hy hulle deur sy liefde oorwin het. Dit open die oë van die dissipels en stel hulle in staat om hulle vyand as ‘n medemens (broer) te sien.”
Daar was min hoop dat die gelowiges wat so ter wille van hulle geloof behandel is, enige erkenning sou kry. Hulle getrouheid aan Jesus Christus is juis die oorsaak van baie van die dinge wat hulle hier beleef. Hulle moet vir niks liefhê – heeltemal gratis.

Twee dinge

Te midde van hierdie konteks roep Jesus sy navolgers op om twee dinge te doen:

  • Eerstens: Breek die siklus van geweld deur anders op te tree as wat normaal is. Dit is deur passiewe weerstand en aktiewe goeie dade. Die passiewe weerstand (die klap in die gesig en klere wat gevat word en nie te oordeel nie) ontbloot die geweld en onreg vir wat dit is. Die aktiewe goeie dade van liefde, gebed, seën, goeie dade en uitleen van geld en vryspraak, gaan teen die normale optrede van mense sonder God in.
  • Moeder Theresa het opgemerk dat as ons mense veroordeel, ons geen tyd het om hulle lief te hê nie. Vyande en haters kan gehaat word. Dis normaal. Dis normaal om terug te klap, terug te vloek, terug te skel, te veroordeel. Die siklus word verbreek wanneer ons lief het, bid, seën, goed doen en vryspreek wanneer die teendeel verwag word. Bonhoeffer en Wink se opmerkings hierbo kan ingespan word.
  • Bewys grenslose liefde. Hierdie onbegrensde liefde beteken, skryf iemand, “nonjudgmental generosity” – nie-veroordelende vrygewigheid. Sondaars trek grense, rig mure op deur liefde tot hulle geliefdes en goeie dade tot hulle wat terug goed kan doen, te beperk. Die liefde waarvan Jesus praat is onbegrens, omdat dit ‘n refleksie van die barmhartigheid van die Vader is wat grensloos lief het (6:35, 36).
Niks keer barmhartigheid

Ons moet duidelik weet dat die oordeel waarvan hier gepraat word nie algemene oordeel beteken nie, maar dat ons oordeel oor mense nie in die pad van ons barmhartigheid moet staan nie. Die uitleen van geld en die gee van goeie gawes aan vyande, het daarom niks te doen met die neiging om goed te doen sodat hulle iets kon terug ontvang nie. Dit het niks te doen met blote vrygewigheid nie. Die nie-veroordelende houding teenoor die vyand moet uitmond in hierdie “nonjudgmental generosity”.

Ons gesindheid en aksies is sowel ‘n uitdrukking van ons kindskap en vind die bron of oorsprong van ons kindskap in die barmhartigheid van die Vader. Immers, ons Vader tree so op en betoon hierdie gesindheid van nie-veroordelende vrygewigheid. Kinders van hierdie Vader doen dit daarom alles sonder om iets terug te verwag. Dis nie ‘n liefde wat op erkenning wag nie. Dis nie liefde wat gerespekteer word nie. Dis liefde wat mense aan die barmhartige Vader bekendstel. Uiteindelik is dit ook hierdie Vader wat sy barmhartigheid in oorvloed aan hulle sal gee (6:37-38). Hulle beloning kom dus nie van mense nie, maar van God self.

Moeilike woorde

Hierdie is nie onbekende woorde nie. Dis sekerlik ook nie maklik om te lees nie. Dis woorde wat ons eerder vermy as herhaal. Ons ken dit, maar dit gaan teen ons grein in. Wanneer ons dit lees, gaan die een gesig na die ander voor ons oë verby – almal mense wat ons nie wil of kan liefhê nie. Politici, iemand wat my lewensmaat gesteel het, my ontroue huweliksmaat, een wat my kinders kwaad aangedoen het, my ingeloop het . . . die lysie word lank. Die verbittering versuur ons lewe, maak ons dood.

Vandag roep die Here ons om voor die prente van elkeen van hierdie mense stil te staan en hulle van vandag af hartlik lief te hê – met “nonjudgmental generosity”. Liefde is die teenoorgestelde van ‘n koue en apatiese houding. Dit help nie om te sê dat ons hulle sal liefhê, maar ten alle koste gaan vermy nie. God se liefde is liefde wat uitreik en omhels. Dis moeilik, byna onmoontlik, maar geen opsie vir ‘n Christen nie.

‘n Voorbeeld

Tom Wright skryf dat een van die grootste Joodse geleerdes om in die moderne tyd oor Jesus te skryf, David Flusser was. Hy het vir jare aan die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem klas gegee. Maar nie almal het sy navorsing goedgekeur nie. Een van sy briljantste studente wat elders ‘n universiteit besoek het, is eenkeer ‘n baie lae punt gegee deur die professor bloot omdat hy met Flusser geassosieer is.

Toe, ‘n bietjie later, het ‘n student van daardie professor by Flusser gestudeer. Sy werk was nie baie goed nie, maar Flusser het daarop aangedring om dit die beste punt te gee. Sy assistent het geprotesteer: Hoe kan hy dit doen, veral na wat die ander professor gedoen het? Flusser het voet by stuk gehou en gesê: “Dit het ek by Jesus geleer.”

Dan skryf Wright:

Die koninkryk wat Jesus gepreek en geleef het, was alles oor ‘n heerlike, onwrikbare, absurde vrygewigheid. Dink aan die beste ding wat jy kan doen vir die ergste persoon. Gaan doen dit. Dink aan dit wat jy regtig van iemand verwag om vir jou te doen en doen dit vir hulle. Dink aan die mense teenoor wie jy graag onvriendelik wil wees. In plaas daarvan, bewys oorvloedige vrygewigheid aan hulle. Hierdie instruksies het ‘n vars, lentegeur-gehalte. Dit gaan alles oor nuwe lewe wat energiek uitbars, soos blomme wat deur beton groei en almal met hulle kleur en krag verstom.

Krag van ons optrede

Ons moenie die krag van ons optrede onderskat nie. In Lukas se tyd was hierdie optrede so radikaal anders en was dit ‘n “aggressiewe evangeliese strategie” om gemeenskap met mense te skep wat van die geloofsgemeenskap vervreemd was. Uiteraard sal almal nie positief op hierdie liefde wat niks verwag reageer nie, maar ons ywer om hulle aan die barmhartigheid van die Vader bloot te stel moet nooit verflou nie.

God stuur ons om te leef

Gebed: Ahv Ps 119:33-40
Noudat ons U Woord ontvang het, Here:
Leer ons hoe om u voorskrifte
uit te voer,
sodat ek ons tot die einde toe
daaraan kan hou.
Gee ons insig,
om u wet te kan gehoorsaam
en dit met ons hele hart te onderhou.
Laat ons wandel volgens u gebooie,
want daarin is vreugde.
U verordeninge,
laat dié ons na aan die hart lê,
nie die begeerte om onsself
te verryk nie.
Weerhou ons van ’n nuttelose lewe,
laat ons leef op die weg wat U aanwys.
Vervul dan ook die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Die liefde van die Here Jesus trek jou na Hom toe.
Die krag van die Here Jesus maak jou sterk in sy diens.
Die vreugde van die Here Jesus vervul jou.
Die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, sal tussen ons wees en vir altyd bly.
(William Temple, uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.