Sewende Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Inleiding 

Dit is die laaste van die drie weke wat oor 1 Korintiërs 15 en die implikasies van die opstanding handel. Die tema van geloofsbelydenis word voortgesit in die teks en in die liturgie. Soos die vorige twee weke, begin die liturgie by die belydenis dat die Here werklik opgestaan het. Dié belydenis word vermeng met Psalm 37 om die aanvangswoord te vorm. Ook die aanvangslied bly al drie weke dieselfde, terwyl daar elke week net ‘n volgende vers bygesing word om uiteindelik te eindig by die gedagte dat die opstanding nuwe sin gee. Die seëngroet, wat die temas van die Epifanie en opstanding bymekaarbring, is ‘n herhaling van die vorige twee Sondae om die idee van die teks en tema as eenheid te versterk.

Sleutelteks

1 Korintiërs 15:35-38, 42-50
35Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” 36Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. 37En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. 38Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ‘n eie vorm gee. 39Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, ‘n ander vir diere, ‘n ander vir voëls, en nog ‘n ander vir visse. 40Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van ‘n ander in glans. 42So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; 43wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. 44Wat gesaai word, is ‘n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ‘n geestelike liggaam. As daar ‘n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. 47Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede ‘n mens uit die hemel. 48Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. 50Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.

Ander tekste

Genesis 45:3-11, 15
Josef sê vir sy broers wie hy is
45 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 

3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’

12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”
14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 
15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. 16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”

Psalm 37:1-11, 39-40
Laat jou lewe aan die Here oor
37 Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid
verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here
en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek
soos die son,
jou reg soos die helder lig
van die middag.
7Daarom moet jy in stilte
op die Here vertrou
en jou nie ontstel
oor die voorspoedige lewe
van ’n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie,
laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.

9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue
in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
10Nog ’n rukkie
en daar sal geen goddelose
meer wees nie;
’n mens sal hom soek waar hy was,
maar hy sal nie daar wees nie.
11Dié wat nou verdruk word,
sal die land besit
en hulle verlustig in hulle welvaart.

12Die goddelose soek die ondergang
van die regverdige
en bedreig sy lewe.
13Die Here lag vir die goddeloses,
want Hy sien hulle dag kom.
14Die goddeloses trek die swaard
en span die boog
om die hulpelose en die arme
dood te maak,
om dié wat die regte pad loop,
te vermoor.
15Die goddeloses se swaarde
sal hulle eie harte tref
en hulle boë sal stukkend gebreek word.
16Die bietjie van die regverdige
is beter as die rykdom
van talle goddeloses,
17want die mag van die goddeloses
sal verbreek word,
maar die Here sal die hulp wees
van die regverdiges.
18Die Here sorg vir die lewe
van die opregtes,
en wat hulle besit, sal hulle behou
so lank hulle lewe.
19In tyd van nood
sal hulle nie verleë staan nie,
in tyd van gebrek
sal hulle genoeg hê.
20Die goddeloses sal te gronde gaan,
die vyande van die Here
sal tot niet gaan;
soos mooi weivelde
wat in vlamme opgaan,
so sal hulle verdwyn.
21Die goddelose leen
en betaal nie terug nie,
die regverdige kry jammer en help.
22Dié wat deur die Here geseën word,
sal die land besit;
maar dié wat deur Hom vervloek is,
sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal
die koers van die mens
met wie se pad Hy tevrede is,
en Hy ondersteun hom.
24As so iemand val, bly hy nie lê nie,
want die Here help hom op.
25Ek was jonk en ek het oud geword,
maar nooit het ek ’n regverdige
verlate gesien
of dat sy nageslag brood soek nie.
26Hy is altyd vrygewig,
hy leen uit sonder rente:
met sy nageslag sal dit goed gaan.
27Bly weg van die kwaad af
en doen wat goed is,
dan sal jy die land altyd bewoon,
28want die Here het die reg lief
en sy troue dienaars verlaat Hy nie.
Hulle sal altyd behoue bly,
maar die nageslag van die goddeloses
sal uitgeroei word.
29Die regverdiges sal die land besit
en altyd daarin woon.
30Wat die regverdige praat, is wysheid,
wat hy sê, stem ooreen met die reg.
31Die openbaring van sy God
is in sy hart,
sy koers is nie onseker nie.
32Die goddelose lê die regverdige voor
en soek ’n kans om hom dood te maak,
33maar die Here los hom nie
in die mag van die goddelose nie
en laat nie toe dat hy veroordeel word
as hy voor die regbank staan nie.
34Vertrou op die Here
en bly op sy weë;
Hy sal jou weer laat opstaan
om die land te besit,
en jy sal die ondergang
van die goddeloses aanskou.
35Ek het al gesien
dat ’n slegte, roekelose mens
geil opskiet soos ’n plant,
36en toe ek weer verbykom,
was hy nie meer daar nie;
ek het hom gesoek
en hy was nêrens nie.
37Maar let nou op die eerbare mens,
kyk na die opregte:
die regskape man,
vir hom is daar ’n toekoms.

38Dié wat hulle teen die Here verset,
word voor die voet uitgewis,
die toekoms van die goddeloses
word afgesny,
39maar die regverdiges
word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug
in tyd van nood.
40Die Here help hulle
en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense
en red hulle,
want hulle skuil by Hom.

Lukas 6:27-38
Liefde vir die vyand

(Matt 5:38–48; 7:12a)
27“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; 28seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. 29As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. 30Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. 31Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

32“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. 33En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. 34En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. 35Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Moenie oordeel nie
(Matt 7:1–5)

37“Moenie oordeel nie,
en oor julle sal nie
geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie,
en julle sal nie
veroordeel word nie.
Spreek vry,
en julle sal vrygespreek word.
38Gee,
en vir julle sal gegee word:
’n goeie maat,
ingestamp, geskud en propvol,
sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee
julle meet,
sal ook vir julle gemeet word.”
39Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan ’n blinde miskien ’n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in ’n sloot val nie? 40’n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.

41“Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 42Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ’Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’?Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”

Liturgie

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar sowel as van vorige bydraes by Preekriglyne. Bestel produkte by www.bmedia.co.za of sluit aan by missio.org.za.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar sowel as van vorige bydraes by Preekriglyne. Bestel produkte by www.bmedia.co.za of sluit aan by missio.org.za.

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord  
Steek die Christuskers aan. Verskillende verteenwoordigers van bedienings in die gemeente kan op die volgende paar Sondae die kers aansteek. Dit is simbolies vir die lig wat hierdie bedienings in die wêreld bring.

V: In ons eie lewe:
G: is ons op soek na lig.

V: In ons buurt:
G: is ons opsoek na lig.

V: In ons families en huishoudings:
G: is ons op soek na lig.

V: In ons werksplekke:
G: is ons op soek na lig.

V: In ons land:
G: is ons op soek na lig.

V: In ons wêreld:
G: is ons op soek na lig.

V: In … (dink aan jou eie soeke)
G: is ons op soek na lig.

V: Jesus Christus, U is die lig vir die wêreld:
G: Ons is op soek na u lig. 

V: Laat u koninkryk kom.
G: Amen. 
– Vertaal en aangepas van Grace Church in Ealing, London; https://re-worship.blogspot.com/search?q=light+world

Seëngroet  
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:
“Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen.
– “Seëngroet vir die tyd ná Epifanie”, in Cas Wepener, Soos ’n blom na die son draai, Bybel-Media, 2011

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet: (Uit Lukas 6)
Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; 28seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.

29As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. 30Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. 31Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

37“Moenie oordeel nie,
en oor julle sal nie
geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie,
en julle sal nie
veroordeel word nie.
Spreek vry,
en julle sal vrygespreek word.
38Gee,
en vir julle sal gegee word:
’n goeie maat,
ingestamp, geskud en propvol,
sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee
julle meet,
sal ook vir julle gemeet word.”

Skuldbelydenis: Lied232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: (Uit Psalm 37)
38Dié wat hulle teen die Here verset,
word voor die voet uitgewis,
die toekoms van die goddeloses
word afgesny,
39maar die regverdiges
word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug
in tyd van nood.
40Die Here help hulle
en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense
en red hulle,
want hulle skuil by Hom.

Geloofsbelydenis

’n Spaanse geloofsbelydenis
G: Ons glo in God die Almagtige,
V: Skepper van die hemel en die aarde,
Skepper van alle nasies en kerke,
Skepper van alle tale en rasse.

G: Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Heer,
V: God wat vlees geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat vlees geword het in tyd vir alle tye,
God wat vlees geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat vlees geword het in liefde en genade vir die hele skepping.

G: Ons glo in die Heilige Gees
V: deur wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekendmaak
in ons mense en in ons kulture,
deur wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan ons die krag gee
om nuwe skepsele te word,
wie se oneindige gawes ons een liggaam maak – die liggaam van Christus.

G: Ons glo in die kerk
V: wat universeel is omdat dit die teken van God se heerskappy is,
wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word,
waar al die kleure saam net een landskap teken,
en alle tonge dieselfde lof besing.

G: Ons glo in die heerskappy van God – die dag van die groot Fiesta
V: wanneer al die kleure van die skepping ’n harmonieuse reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal sing.

G: En omdat ons glo, verbind ons ons:
V: om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,

G: tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word.
– uit Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, 2010
Lied 232 Diep o God diep neergeboë vs  2

Liedere

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

F280. “Wie U Is (Alles Nuut)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toenadering)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Wie U is kan ons nie peil nie
U kom en maak Uself bekend
Elke dag sien ons in dele
Hoe wonderlik U is
Wie U is kan ons nie wees nie
Sonder dat U ons oor kom giet
Laat U Gees dan steeds in ons
U skeppingswerk geskied

Refrein:
U kom maak alles nuut
U maak my hart U grondgebied
U kom maak alles nuut
En ek wil U kom loof
Vir wie U is, vir wie U is

2. Eendag sal U ‘n nuwe hemel
En ‘n nuwe aarde maak
En die oue sal verbygaan
Die see sal verdwyn
Pyn en smart sal daar nie wees nie
U kom en droog die trane op
Selfs die dood sal nie meer wees nie
U kom by ons bly

Refrein:

Brug:
Kom, Jesus, Kom (x3)
Kom, Jesus, Kom

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Gebed ahv Psalm 37)
U sorg Here…
vir die wat op U vertrou;
die wat doen wat goed is en
die wat hul lewe aan U oorlaat.

U Here is ‘n hulp vir die regverdige;
U sorg vir die opregte…
wat selfs genoeg het in tyd van gebrek!

U Here bepaal die pad van U vertroueling;
U ondersteun die een wat U behaag;
U help hulle op wat struikel en
ondersteun hulle.

Ek sal nou rustig woon en werk;
ek laat my lewe en my weg aan U oor
en vertrou op U in stilte,
want U sorg-
U laat my reg skyn soos helder lig.

Ek vertrou op U Here,
ek bly op U weë…

Mag die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!
of
Goeie God,
U laat u waarheid straal,
stil en eenvoudig,
kwesbaar soos ’n kersvlam,
maar net so hardnekkig
soos die dag wat elke oggend opnuut breek.
Gee ons siel die vermoë om
die stiltes en eenvoud van u stem op te vang.
Verhelder ons oog met die lig van u Woord.
Bevry ons verstand om die waarheid van u evangelie te besef.
– uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle, 2001

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:35-50

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Gee vir elke kind ‘n saadjie. Vra vir hulle of hulle weet wat alles nodig is vir hierdie saadjie om te groei en ‘n mooi plant te word. Vra hulle dan of hulle dink dit sal goed wees as die saadjie doodgaan. Hoekom, of hoekom nie? Vertel hulle dan hoe sade doodgaan om te kan groei en verduidelik hoe dit ‘n beeld is van God wat iets wat vir ons sleg lyk juis kan gebruik om iets nuuts te maak. Nooi hulle om die saadjies te gaan plant en elke dag, wanneer hulle vir die saadjies water gee, vir God dankie te sê dat God die dood gebruik om iets moois te skep wat ons nie kan verstaan nie. 

Preekriglyn

Korinte was ‘n groot, belangrike, kosmopolitiese hawestad. Vandag sal ons dit vergelyk met Parys, Rome, Londen, Praag of Istanboel.

Hier was gevolglik mense van oraloor byeen, met verskillende agtergronde, gelowe, en filosofieë. Mense het uiteenlopende sienings gehad. In hierdie brief aan die Korintiërs antwoord Paulus op twee briewe wat hy van die gemeente in Korinte ontvang het, waarin hulle vertel van uiteenlopende sienings, selfs onenigheid en onderlinge struwelings in die gemeente.

Watter soort liggaam?

In vers 35 vra ‘n denkbeeldige “iemand” die vraag oor die opstanding van die dooies: “Met watter soort liggaam verskyn hulle?”

Met hierdie vraag verduidelik Paulus die heerlike werklikheid en feite van die liggaamlike opstanding. Hy gebruik die analogie van saad wat gesaai word, sterf, begrawe word en uiteindelik in ‘n nuwe vorm lewend word.

In vers 36-38 maak Paulus die volgende belangrike punte:

  • Sade moet sterf ten einde nuwe lewe te kan voortbring. (“Sterf” beteken dat die saad van vorm verander.)
  • Die sade neem ‘n nuwe vorm aan nadat hulle aan hul ou vorm gesterf het; hulle bestaan in ‘n nuwe vorm as plante.
  • God gee aan die plante vorm soos Hy dit beplan het.
  • Sade lyk soortgelyk, maar verander in ‘n verskeidenheid plante.

Ons is ook bewus van die kontinuïteit van die saad wat verander en groei om ‘n plant te word.

‘n Verheerlikte liggaam

Vers 42-44 probeer verder verduidelik dat ons liggame se vorm deur die opstanding verander. Voor die opstanding is ons liggame menslik, verganklik, in oneer en swak. Dit word egter in ‘n nuwe vorm opgewek: ‘n onsterflike geestelike liggaam wat in heerlikheid en krag opgewek is.

In vers 45-48 tref Paulus onderskeid tussen die eerste en laaste Adam: Adam en Christus.

  • Adam ontvang lewe en word ‘n lewende wese; hy is uit die aarde, stoflik.
  • Die laaste Adam (Christus) het ‘n lewendmakende Gees geword. Die geestelike liggaam is nie eerste nie, maar kom ná die aardse, stoflike, menslike liggaam; dit is uit die hemel.

“Geestelik” beteken dat die verheerlikte liggaam sonder die gebrokenheid van die sonde sal wees. Dit is soos Jesus se liggaam na sy opwekking uit die dood: dit was verheerlik, nie meer op dieselfde manier aan tyd en ruimte gebonde nie, maar nietemin steeds materieel: Jesus het vis geëet na sy opstanding.

In vers 49-50 word daar hoop gegee vir ons wat menslike liggame het: Ons het die beeld van die stoflike mens gedra; net so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. Dit is die rede waarom ons die koninkryk kan beërf en onverganklik kan word.

Die liggaam is nie sleg nie

Dit is nou van belang om te onthou dat die Grieke (ook die Griekse gemeentelede van Korinte) ‘n dualistiese verstaan van die menslike liggaam en toestand gehad het, asook dat hulle in ‘n groot mate deur die filosofie wat as later as gnostiek bekendstaan, beïnvloed is.

Om hierdie rede is die onderskeid tussen liggaam en siel vir hulle belangrik. Hulle het feitlik geen sin in die stoflike liggaam nie. Vir hulle is die siel waaroor die lewe in werklikheid gaan. Daarom is ‘n fisiese en liggaamlike opstanding vir hulle onbelangrik. Die gnostiek het dan ook ‘n belangrike invloed op hoe hulle die sin en doel van die lewe beskou en wat hulle glo met hulle sal gebeur wanneer hulle sterf. Volgens die gnostiek is kennis en die geestelike deel van die lewe die belangrikste. Wanneer ‘n individu ‘n sekere punt van kennis bereik het, word hy ‘n geestelike wese en word die liggaam oorbodig.

Paulus moet dus alles in sy vermoë doen om met hulle oortuigings in sy agterkop, die Joodse en nou ook Christelike verstaan van die opstanding ná die dood, so verstaanbaar moontlik binne hierdie Griekse konteks te maak. ‘n Agtergrond wat natuurlik ook deur ander filosofieë en idees beïnvloed word.

Vir die Bybel is God die Skepper van hemel en aarde, van die geestelike en die materiële. Alles is goed geskape, ook die liggaam. Ons word nie van ons liggame verlos nie – God is die skepper – ons word van ons gebrokenheid en sondigheid verlos.

Die beeld van saad

Om hierdie rede gebruik Paulus die analogie van die saad wat in ‘n plant verander om die liggaamlike opstanding aan die gemeente te verduidelik. Dit is ‘n bekende en baie vergelykbare voorbeeld van iets in die natuur wat van vorm verander of transformeer.

Op geen manier probeer Paulus deur sy voorbeeld die boodskap oordra dat die opstanding maar net ‘n beeld of vergeesteliking behoort te wees van wat met mense gebeur wanneer hulle sterf nie. Hy probeer nie ‘n mooi sousie oor die verganklikheid van die mens gooi nie. Nee, Paulus probeer op ‘n baie praktiese en amper tasbare manier verduidelik dat die opstanding ‘n werklikheid is.

Die opstanding is ‘n Godgegewe werklikheid. Die mens bestaan op ‘n nuutgemaakte manier verder ná die dood. ‘n “Dooie” saad het immers geboorte gegee aan nuwe lewe. Deur God se werk en sy wil, kan nuwe lewe egter na vore kom. Danksy God kan ‘n dooie saad ‘n lewende plant voortbring.

Soos Christus

Ons eie opwekking uit die dood geskied in dieselfde vorm as wat Christus uit die dood opgewek is en opgestaan het. Alles waarin ‘n Christen glo, berus op die opstanding van Jesus Christus: vergewing van sonde, regverdiging, redding, heiligmaking. As Christus nie uit die dood opgestaan het nie, is ons verlore.

Ons hoop

Ons vestig dus ons volle hoop op Christus, vir ons hele lewe en elke aspek van ons lewe. Christus kom maak ons van binne en van buite oor op God se heerlike nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel. Daar ontvang ons die diepste sin, betekenis en verlossing van gebrokenheid.

Om saam te vat

Die Bybel gee ons egter nie ‘n presiese beskrywing van hoe die opgestane liggaam sal lyk en wees nie. Tog leer ons ‘n hele aantal dinge oor die liggaam en lewe wat ons sal erf:

  • Kontinuïteit (“dit is steeds ek wat opgewek word”)Dit is nuut, maar is van die oue. Hoewel jy nuut gemaak word en ‘n nuwe lewe het, bly jy wie jy is – net soos die saad nuwe lewe uit hom laat voortspruit. Sou ‘n mens dus kon sê dat die “ou self” herkenbaar sal wees? Jesus bly in hierdie geval die voorbeeld: Sy liggaam het nie in die graf gebly nie, maar is opgewek en getransformeer.
  • Transformasie (“ek word in ‘n nuwe vorm opgewek”)Die oue word in die nuwe getransformeer – soos die saad in ‘n plant getransformeer word, of selfs soos ‘n wurm wat ‘n skoenlapper word. (vgl. Romeine 8:11 – julle sterflike liggame lewend maak. Ook Jesus se verheerliking op die berg in Matteus 17, en sy verskyning aan die dissipels en die Emmausgangers in Lukas 24.)
  • Geskik of gepasHierdie nuwe liggaam sal in God se nuwe wêreld (koninkryk) inpas.
  • GeestelikPaulus beskryf hierdie liggaam as onsterflik, heerlik en geestelik. Hierdie liggaam sal nie sterf nie; dit is wonderlik en hemels.
  • Soos ChristusChristus het reeds hierdie vorm van ‘n getransformeerde liggaam aangeneem. Ons liggame sal wees in die vorm wat Christus reeds is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën: (Uit Psalm 37)
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Amen
of
G: Helder skyn u lig vir die nasies,
V: ’n vreugdeglans om die mense te verlig

G: tot die hele wêreld kan sien U is die lig.
V: Mag u lig, Heer,

G: deur óns skyn.
V: Balsem bring herstel vir die wonde,

G: ’n sagte salf vir die mense met hulle seer
V: tot die hele wêreld kan sien U genees.

G: Mag u troos, Heer, deur óns bied.
V: Heer, u Woord gee hoop aan die nasies.

G: Mag u hoop, Heer, deur óns skyn.
V: Jesus Christus, U is die lig vir die wêreld.

G: Mag u lig, Heer, deur óns skyn.

Aäronitiese seën
Die Here sal julle seën en beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede veroor en aan julle vrede gee!
– uit Numeri 6:24-26

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.