Sewende Sondag na Epifanie

Picture of Woord en Fees

Sewende Sondag na Epifanie

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Levitikus 19:1-2, 9-18
Ander tekste: Psalm 119:33-40; 1 Korintiërs 3:10-11, 16-23; Matteus 5:38-48

Inleiding

Hierdie Sondag se tekste maak almal op die een of ander manier die stelling dat egte geloof alleen in die karakter van God te vinde is. Die tekste uit Levitikus en Matteus beklemtoon God as die bron van heiligheid en volmaaktheid. Omdat God so is, moet ons ook so leef. Die teks uit Korintiërs brei hierdie metafoor uit deur te sê dat gelowiges die tempel van die Heilige Gees is. Omdat God self in ons woon moet ons heilig wees. Die teks uit die Psalmboek verwoord die nederige gebed van ’n gelowige wat weet dat God alleen ons kan leer om heilig te leef.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Voorganger: Noudat ons bymekaar gekom het om die Here te aanbid, moet ons onthou dat liefde onvoorwaardelik deel is van die lewe van hulle wat die Here liefhet. Die Here sê vir sy kinders: “Wees heilig, want Ek is heilig. Dit beteken dat jy jou naaste sal liefhê soos jouself, want Ek is die Here jou God.”
Gemeente: O Here, gee ons insig sodat die begeerte om U tevrede te stel diep uit ons harte sal kom. Help ons om u wet te gehoorsaam.

Voorganger: Jesus het gesê: “Julle moet julle vyande liefhê. Bid vir diégene wat julle vervolg.” Julle moet daarom liefhê soos wat julle God met volmaakte liefde liefhet.
Gemeente:Here, herskep ons motiewe sodat ons niks uit eie gewin sal doen nie. Wend ons oë af van die wêreld se begeerlikhede. Ons het U lief omdat U ons eerste liefgehad het. Amen.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Voorganger: Here, leer my om u voorskrifte uit te voer,
Gemeente: sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou.

Voorganger: Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam
Gemeente: en dit met my hele hart kan onderhou.

Voorganger: Laat my wandel volgens u gebooie,
Gemeente: want daarin vind ek vreugde.

Voorganger: Weerhou my van ’n nuttelose lewe,
Gemeente: laat my leef op die weg wat U aanwys.

Voorganger: Vervul ook aan my die belofte wat Ugegee het aan dié wat U dien. Ek wil u bevele nakom.
Gemeente: Hou my in die lewe, want U is getrou.

Diens van die tafel

Woorde  voor die opneem van die offergawes
Jesus leer ons om nie net van onsself te gee nie, maar verder te gaan en onsself te gee.
Jesus het gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie . . .” (verder tot by Matt 5:48)

Uitsending

Lees Psalm 103:8-14 voor die slotlied.

Musiek en sang

Liedere wat by die aanvang gebruik kan word: Lied 159 “God is hier teenwoordig”; Lied 169 “Heilig, heilig, heilig”; Lied 170 “Heilig, heilig, heilig”; NSG 343 “God is hier teenwoordig”; NSG 4 “Heilig, heilig, heilig”
Lofsang: Lied 138 “U loof ek met my hele hart”; Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”; NSG 92 “Joy to the world”
Verootmoediging: Flam 104 “Weet jy nie, jy’s ’n tempel?”
Skuldbelydenis: Lied 231 “Heilig, heilig, heilig, Here”; NSG 61 “Heilig, heilig, heilig, Here”
Slotsang: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad”; NSG 202 “God roep ons, broeders”

Preekstudie: Levitikus 19:1-2, 9-18

Teks

Die teks word ook in Woord teen die Lig 111/3Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg” bespreek. In hierdie studie word ook na daardie uitleg verwys. Gerstenberger begin sy kommentaar op Levitikus 19 met die vraag: “What type of text is Leviticus?” Dit is miskien ook ’n goeie begin vir hierdie preekstudie, omdat Levitikus nie die voorkeurboek van baie predikers is nie. Die ongemak met Levitikus het baie te make met die vraag van hoe preek mens die Ou-Testamentiese wette vir ’n christelike gemeenskap, sonder om te verval in ’n tipe moralisme en wettisisme. Dit is seker ook die boek wat baie maklik op ’n inkonsekwente manier gebruik word. Wette word uitgehaal waar dit iemand pas, maar die wat bietjie absurd klink vir die moderne mens word net geïgnoreer. Daarom is dit belangrik om die teologiese motivering agter die verskeidenheid wette/ gebooie/reëls as deel van Israel se kultus te verstaan.

Balentine plaas hoofstuk 19 binne die groter teologiese en literêre eenheid van Levitikus 18-20. Die raamwerk van die drie hoofstukke fokus daarop dat die reis na heiligheid deur die etiek van menslike verhoudings gaan. Die kern, Levitikus 19, dring daarop aan dat die manier waarop mense met mekaar omgaan die maatstaf is van hulle getrouheid aan God. Levitikus 19 is ’n toespraak met ’n verskeidenheid wette wat wentel om die beoefening van heiligheid in alle aspekte van die daaglikse lewe. Die wette is baie divers en dit is moeilik om ’n definitiewe struktuur in die teks te vind. Die wette is gegroepeer rondom sekere temas: getrouheid in aanbidding; liefde en respek in interpersoonlike verhoudings en beoefening van reg in besigheid en hofhouding. Die preekstudie fokus nie op die struktuur van die hele hoofstuk nie, maar net op die afgebakende verse.

Die teksindeling vir hierdie Sondag is slegs ’n gedeelte van die lang hoofstuk. Die indeling fokus op vers 1-2, en dan vers 9-18. Vers 1-2 is kernbelangrik vir die verstaan van die perikoop. Die motivering vir die gebooie/wette wat volg setel in dié vers. Gerstenberger help ons hier deur eerder te praat van lewensreëls of kategismus as van wette/gebooie/voorskrifte. Die doel van hierdie “kategismus” is die heiligmaking van Israel as geloofsgemeenskap. Al die wette openbaar God se begeerte dat Israel elke aspek van haar lewe sal konformeer met sy heilige karakter. Balentine onderskei die gebooie wat gemotiveer word deur heiligheid as godsdienstig (3-8), eties (9-18) en ’n mengsel van etiese en godsdienstige verantwoordelikhede (19-37).

Vers 1-2: Die Here het vir Moses gesê, spreek die hele gemeente toe en sê vir hulle: “Wees heilig want Ek die Here julle God is heilig.” Heiligheid is ’n moeilike woord om te omskryf en het verskeie nuanses. Binne die Torah dui “heilig” op die uitsonderlike wese van God as die Heilige Een van Israel: “Holiness is the quintessential quality of Jahwe”. Hartley skryf: “That God is holy means that He is exalted, awesome in power, glorious in appearance, pure in character. God’s holiness is contagious. Wherever his presence is, that place becomes holy.” Die werkwoord staan in die indikatief  – “wees/word” heilig. Heiligheid is nie ’n gegewe nie. Vir Israel om heilig te word, impliseer die nakom van die verbondsverhouding en die verpligtinge van die verbond.

Heiligheid het in die kultus te make met die verwydering van sonde en alles wat onrein maak om sodoende die heiligmakende teenwoordigheid van God te ervaar. Balentine skryf dat “holiness be manifest in lives that say both yes to what God requires and no to what God forbids”. En “In the Priestly perspective, ethical behaviour is not merely the necessary consequence of love for God; it is the fundamental prerequisite that establishes the authenticity of that love.” Die egtheid van  liefde tot God is gesetel in die nakom van hierdie gebooie. Bruegemann skryf oor Jahwe se heiligheid dat dit verwys na die radikale andersheid van Jahwe “who may not be easily approached, who may not be confused with anyone or anything else, and who lives alone in a prohibitive zone where Israel can enter only guardedly, intentionally, and at great risk”.

Heiligheid word veral met die kultus verbind. Jahwe wat ontmoet word in die kultus, daarom moet die priesters sorg dat die ontmoeting rein (as ’t ware onbesoedeld) is. Dit is asof die sfeer van heiligheid deur die kultus “in stand gehou” moet word. Hierdie instandhouding maak Jahwe se teenwoordigheid meer toeganklik. Hierdie agtergrond help ons om die voorskrifte in die boek Levitikus te verstaan, reëls wat moderne lesers baie keer koud laat. Brueggeman beskryf dit as “attempts to make Yahweh’s holy, life-generating, life-guarenteeing presence available and certain in Israel”.

Vers 9-10: Ou tradisie (Lev 23:22; Deut 24:19-22). Die voorskrif is dat die landbouer, deur nie die wenakkers te oes nie, help om aan die armes te voorsien. ’n Oorblyfsel word bewustelik vir die armes gelaat. Daarom word gevra dat landbouers nie die hoeke van die lande afoes of vir ’n tweede keer die land afoes nie. In daardie tyd is met ’n sekel geoes en baie graan kon weer op die grond val. Ook moet die eienaar van ’n wingerd nie die wingerd heeltemal leeg oes of die druiwe onder die wingerd optel nie. Hierdie oorskiet moet gelos word vir die armes en die vreemdelinge (resident alien). Dat die boer dankbaar is vir die oes word bewys deur te deel met die wat nie het nie: “These decrees undercut the strong human temptation to greed in the presence of plenty.” Die landbouer hoef nie vir hulle arbeid te betaal nie en aan die armes word nie net gegee nie, hulle moet dit self versamel (sien ook Deut 24:19-22). God bewys liefde aan Israel toe hulle vreemdelinge was. Daarom moet hulle ook vriendelikheid bewys aan die wat nie het nie. Die Ou Testament etos bestaan uit twee gedeeltes: verpligtinge teenoor God en sosiale verantwoordelikheid tussen mense. Die twee kante is deur die rabbi’s en later deur Jesus as onlosmaaklik beskou.

Vers 11-12: “Jy mag nie steel nie” reflekteer die agste gebod. Daarna volg drie wette teen valsheid. Die kerngedagte is om iemand te mislei/bedrieg (‘deception’). Die een wat in sy/haar leuens vasgekeer is, kan maklik ’n eed aflê in die Naam van die Here om hom/haar te beskerm. Hartley skryf: “Since a name bears one’s identity, a person denies the purity of God’s character by using his name or reputation to substantiate a deceptive word.” Vals ede en bedrog is juis gebruik om mense se besittings in die hande te kry. Daarom is die verbod teen diefstal as ’t ware die opskrif van die gedeelte. ’n Ander perspektief is dat steel tot bedrog (deception) lei en dit lei weer daartoe dat iemand verkeerdelik getuig om hom/haarself te beskerm. Die band van vertroue tussen die naaste word dan ook verbreek (NRSV “you shall not deal falsely; and you shall not lie to one another”). Diefstal, leuens en bedrog is die basiese kwaad in ’n gemeenskap wat vertroue en solidariteit vernietig.

Die refrein “Ek is die Here” word in Levitikus 19 meer gereeld gebruik as in die res van die Ou Testament. Daar is moeite gedoen om gebooie met God se wil te identifiseer. God is self aan die woord in die teks.

Vers 13: Die eerste twee gebooie is algemene stellings en die derde is gerig op ’n spesifieke situasie (OAV –  “Jy mag nie jou naaste verdruk of beroof nie”; NRSV – “You shall not defraud your neighbour; you shall not steal”). Die eerste verbod is teen moeite wat jy doen om iemand se lewe minder draaglik en swaarder te maak. Die woord wat vertaal word met beroof dui daarop dat iets gewelddadig by iemand gegryp word. Die derde gebod het te make met die terughou van iemand se loon. Op die manier kan ’n persoon nie die aand vir sy familie iets bring om te eet nie (sien ook Deut 24:14-15).

Vers 14: Die gebod is teen die misbruik van iemand se gestremdheid om op die manier die persoon kwaad aan te doen. Jy mag nie ’n eed sweer voor iemand wat doof is en so met hom/haar spot nie. Sien ook Deuteronomium 27:18 waar iemand gevloek word wat die blinde van die pad af lei. Weer eens is motivering respek vir God, hulle Here.

Vers 15 Hier is daar ’n gebod teen onreg tydens wetlike prosedures. Die gebod is nie net daarop gerig dat persone voorgetrek word op grond van status nie, maar ook op grond daarvan dat hulle geen status het nie (NRSV: “you shall not be partial to the poor or defer to the great”). Hartley skryf: “Justice may not be perverted even for the disadvantaged.” Reg moet seëvier.

Vers 16: Die NAV vertaal dit met “jy mag nie loop en skinder nie”. Die OAV vertaal: “Jy mag nie as ’n kwaadprater onder jou volksgenote rondloop nie”, en die NRSV “slanderer”. Die tweede deel van die vers “neither may one stand on the blood” kan op twee maniere vertaal word. Óf dat jy iemand se lewe in gevaar stel as jy oor hom/haar stories versprei, óf dat ’n persoon nie getuig in ’n saak waar iemand se naam skoon kan kom nie. Die meeste vertalings dui daarop dat een persoon nie ’n ander persoon se lewe in gevaar mag stel nie.

Vers 17: (OAV “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie.”) Die gebod sê dat as jy ’n wrok in jou hart dra, jy mettertyd die persoon teenoor wie jy die wrok dra, sal skade aandoen. Die idioom was: “you shall not carry sin for/concerning him.” Die idioom beteken moontlik dat, as jy formeel ’n klag teen iemand lê binne die wettige regstelsel, jy kan verhoed dat jy ’n wrok in jou hart ronddra en die saak dan openlik afgehandel kan word. Die waarheid moet gepraat word as reg moet geskied.

Vers 18: Die motivering vir die gebod dat jy nie mag haat dra of ’n grief koester nie is dat jy jou naaste moet lief hê soos jouself. Die haat of grief kan daartoe lei dat jy jou naaste skade aandoen (sien ook Deut 32:35a waar God vra dat vergelding aan Hom oorgelaat word). Die woord wat vertaal word as “naaste” het ’n wye spektrum van betekenismoontlikhede. Dit kan vertaal word met “friend, companion, acquaintance”. In die gedeelte kan dit verwys na enige persoon met wie jy in aanraking kom.

Konteks

Die ander RCL-tekste vir die dag is Psalm 119:33-40;
1 Korintiërs 3:10-11, 16-23, asook Matteus 5:38-48. Gelowiges in Korinte word herinner dat hulle ’n tempel is wat gebou is op die fondament van Jesus Christus. Matteus 5 is deel van die bergrede waar Jesus die wet nuut interpreteer om verhoudings tussen mense, waar daar konflik is, te herstel. Twee van die verse uit Levitikus word in die Nuwe Testament aangehaal – 19:2 in 1 Petrus 1:16 en 19:18 onder andere in Matteus 19:19 (bekende frase by die lees van wet in die erediens).

Tydens Epifanie is die fokus van die prediking op God se verskyning in Jesus Christus op aarde. Daar word tradisioneel in dié tyd gekyk na Jesus se openbare optrede en leringe. Die Levitikusteks weerspieël iets van die sigbaarwording van die Heilige God in die alledaagse lewe van sy mense. Die verstaan van heiligheid is belangrik vir die hermeneutiese proses. Daar is reeds in die bespreking van vers 2 geraak aan dié konsep. Levitikus 17-26 word tereg beskou as die “Heiligheidskode”. Ons het reeds daarna verwys dat God self heilig is. Strawn skryf: “God’s intrinsic holiness may be underscored by the fact that in 19:2 God’s holiness is expressed in a nominal sentence whereas Israel’s holiness must be expressed by a verbal sentence. It is something Israel must or will be but that God is.” Strawn skryf verder dat heiligheid altyd geassosieer is met afsondering. Antropologiese studies het egter ook gewys dat heiligheid te make het met heelheid (‘wholi-ness’) en volkomenheid (completeness).

Wanneer God self bekendmaak dat Hy heilig is, moet verstaan word saam met die refrein van “Ek is die Here”. Israel se kenmerkende (distinctive) bestaan as volk berus op Jahwe se selfopenbaring van sy heilige karakter.  Maar watter soort God sal Homself openbaar in so ’n verskeidenheid wette? Strawn skryf: “that these laws serve to separate Israel off and mark Israel as different from the outside world. But this separateness is not separatism.” God wil Hom juis deur Israel bekend maak aan alle mense. Dit kan vandag nog met dieselfde vrug verkondig word, alhoewel die detail van sommige van die wette kultureel-beperk is. Brueggeman skryf: “Purpose of Israel is to host the holiness of Yahwe.” Die kerk is in hoë mate die gasvrou van die Heilige God in hierdie wêreld. Die ingesteldheid en motivering agter dade van sorg/barmhartigheid, reg, openlikheid en eerlikheid omdat God heilig is, word tog ook verwag van die nuwe gemeenskap wat versoen is met die heilige God Drie-enig.

Die bekende opdrag dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself moet in ag neem dat “liefde” nooit ’n abstrakte konsep in Ou Israel was nie. Dit het sigbaar geword deur konkrete handelinge. Dit verwys na alle wette wat verwys na optredes teenoor mense. Heiligheid is nie net ’n abstrakte of mistieke idee nie, maar ’n regulerende beginsel in die alledaagse lewe van mense. Heiligheid is dus nie om uit die wêreld te vlug nie, maar om die algemene daaglikse verpligtinge eenvoudig na te kom. Hierdie oproep tot heilige lewe het vier hoofmomente (sien hele Lev 19): Die verbondsgemeenskap moet God aanbid met een doel (single mind), hulle moet ander liefhê, reg beoefen en onreg verwyder en hulle moet alle valsheid en afgodsdiens verwyder. Die land moet met deernis geoes word en nie die behoeftes van armes ignoreer nie. Die welsyn van die gemeenskap moet nie deur oneerlikheid (11-12), onderdrukking (13-14); eko-nomiese ongeregtigheid (15-16), haat en wraak (17-18) verongeluk word nie.

MP Damon skryf (WtL) dat heiligheid ’n kultiese en etiese heiligheid is: “’n Heiligheid wat gebeur in die samelewing en in mense se verhouding tot die naaste. Die naaste is mense met gesigte, die arme vir wie are gelos word of die persoon teen wie jy ’n saak aanhangig maak.” Die prediker moet ook nie probeer om die meer bekende “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, los te maak van die diepte van die betekenis van heiligheid nie. Brueggeman herinner dat ons nie so maklik die kultus van heiligheid en daarmee gepaardgaande voorskrifte kan afmaak as laf nie, want ons moet eers ons eie tyd ondersoek, byvoorbeeld “modern preoccupation and fascination with cult of health, with its endless regimens and disciplines”. Balentine skryf: “If the summons to holiness in 19:2 constitutes the keynote message of Leviticus, the command to love and not hate each other in 19:17-18 brings us to the epicentre of the book.”

Die beskrywing: “die Heilige Een van Israel”, is ’n paradoks. Die Een wat anders is, is tog die Een wat in ’n verhouding staan. Hy is altyd in, saam en vir Israel. “If Israel will be with Yahwe Israel will be like Yahwe.” Brueggemann skryf: “Israel is to organise its life so that it is qualified for communion with Jahwe, even as it is to practise justice for the sake of community.” Heiligheid vind sigbare uiting in liefde. Liefde lei tot deernis en dat mense nie uitgebuit word nie. Die wat deur God geseën word moet ander in ag neem. Haat lei tot wraak en wrok. Die saamkom van reg en heiligheid verhoed dat liefde sentimenteel en die reg wreed raak.

Balentine verwys na Rabbi Akiba se aanspraak dat Levitikus 19:18 die mees fundamentele wet in Torah is. Ben Azzai skryf: “When God created man, he made him in the likeness of God (Gen 5:1), so that you should not say: ‘Since I despise myself, let my fellow be despised with me; since I am cursed, let my fellow be cursed with me.” (Sipra Qedoshim 4:12). Hierin word die skeppingsmotivering om jou naaste lief te hê soos jouself verreken. Omdat elke mens na die beeld van God geskape is, is die nalaat om ander lief te hê dieselfde as om te sê dat nie hulle of ons waarde het in God se oë nie. “It may be likened to saying that in the decision to invest human beings with divine image, God has made a terrible mistake.”

Twee ander boeke wat met vrug gebruik kan word is Willem Nicol wat in In die hande van die Pottebakker skryf oor die pad van heiligmaking en R Vosloo en
N Koopman se boek Die ligtheid van die lig. Morele oriëntasie in ’n postmoderne tyd waarin ook geargumenteer word dat etiese optredes gewortel is in ons verhouding met God.

Preekvoorstel

Malcolm Damon het die volgende momente in sy preekvoorstel (WtL 111/3):

  1. Die volk van God word opgeroep om heilig te wees, want God is heilig.
  2. Die oproep is binne die konteks van wette/gebooie/ regulasies wat optrede teenoor die medemens bepaal.
  3. Heiligheid moet in die wêreld uitgeleef word en nie deur onttrekking nie.
  4. Heiligheid is nie net om te fokus op die innerlike geloofslewe nie. Heilige lewenswandel word gemeet aan optrede in die daaglikse lewenswandel.
  5. Voorbeelde uit teks (teenoor armes, werkers, die wat jou bedrieg het).
  6. Hoe lyk naaste se gesig?

’n Voorstel. Wie God is het alles te make met wie ons is en dan natuurlik ook met hoe ons leef. Die Israeliete het dit reeds besef toe daar ook met God ’n verbond gesluit is. Die manier van hoe hulle hierdie heiligheid verstaan het, wat uitgeloop het in die verdeling van alles in die lewe as kulties rein of onrein, is seker vir moderne Westerse mense vreemd, maar met die ingesteldheid daaragter kan die kerk identifiseer. In Lukas se weergawe van die bergrede staan byvoorbeeld: “Wees barmhartig, soos julle Vader barmhartig is” (6:36). Wie God is het alles te make met wie ons is en in wie die Heilige Gees daagliks besig is om ons te verander.

Heiligheid is ’n moeilike woord om te omskryf en het verskeie nuanses. Die woord “heilig” het in ons omgangstaal verskillende konnotasies, nie almal positief nie. Ons sê maklik iemand hou hom/haarself heilig en dan bedoel ons eintlik die persoon is nie so oulik as wat hy/sy dink nie. Of party mense is te heilig vir ons, dan loop ons sommer wye draaie om die sogenaamde “vroom” persoon.

Vanaf die vroegste kerk is mense as heiliges geïdentifiseer, veral die martelare, wat dan ook vir die wat nog lewe kon intree by die Vader. So het daar in dié kerk ’n verstaan van heiligheid ontwikkel wat geassosieer is met ’n onttrekking uit die samelewing en ’n tipe lewe wat daarop gemik is om deur aanbidding en stilte een met God te word. Teen hierdie verstaan het die reformatore hulle verset (alhoewel dit te simplisties sou wees om die verstaan in die vroeë kerk en Middeleeue heeltemal af te skiet). Luther was ernstig in sy oortuiging dat ’n mens uit hom/haarself nooit heilig kan word nie, maar dat God ons deur Jesus Christus heilig maak. Dit is iets wat ons word deur God se genadige ingrype in ons lewe, maar dan is dit ook nie ons eie heiligheid nie, maar Jesus se heiligheid. God in Jesus verander as ’t ware ons status. Die kerk is nou ’n uitverkore volk en heilige priesterdom.

Heidelbergse Kategismus (V/A 55) vra: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van heiliges? Die antwoord is dat gelowiges saam en afsonderlik met die Here Christus gemeenskap het en aan al sy gawes en skatte deel het. Ook dat elkeen verplig is om die gawes tot nut en saligheid van ander aan te wend. Maar hoe het Israeliete dit, volgens Levitikus, verstaan? Hulle het gemeen dat hulle gasheer van God in die wêreld is en dat ander God se wese in hulle alledaagse doen en late moes sien. God is in sigself heilig. Wat God is moet Israel wees of kan mens ook vertaal “sal Israel word”. Strawn skryf: “that these laws serve to separate Israel off and mark Israel as different from the outside world. But this separateness is not separatism.” God wil juis deur Israel Hom bekend maak aan alle mense.

Heiligheid word veral met die kultus verbind. Jahwe wat in die kultus ontmoet word. Daarom moet die priesters sorg dat die ontmoeting rein (as ’t ware onbesoedeld) is. Dit is asof die sfeer van heiligheid deur die kultus “in stand gehou” moet word. Hierdie instandhouding maak Jahwe se teenwoordigheid meer toeganklik. Hierdie agtergrond help ons om die voorskrifte in die Levitikus te verstaan, reëls wat moderne lesers baie keer koud laat. Israel wou God se lewegewende wese tussen hulle verseker.

As christene het ons ’n ander verstaan van sonde as die konsepte van rein en onrein, maar ons kan ons tog vereenselwig met wat Balentine skryf: “holiness be manifest in lives that say both yes to what God requires and no to what God forbids.” Dit is juis hier waar etiek belangrik word. Die spesifieke voorbeelde in die verse wat behandel word is juis voorbeelde van etiese optrede. Ek gun die wat nie het nie van my winste. Ek leef openlik, eerlik en met integriteit teenoor ander sodat daar altyd ’n band van vertroue kan wees tussen my en my naaste. Daarom lieg en bedrieg ek nie of probeer iemand anders se besittings op welke manier ook al in die hande kry nie. Ek respekteer die wat gestremd is en is onpartydig in regsake. Liefde bepaal my optrede teenoor ander en nie wrok of haat nie. Hierop kan uitgebrei word met voorbeelde uit die gemeenskap.

Dit is hier waar die bekende refrein, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, pas. Omdat elke mens na die beeld van God geskape is, is die nalaat om ander lief te hê dieselfde as om te sê dat nie hulle of ons waarde het in God se oë nie. Liefde word sigbaar in dade.

Skielik word daaglikse keuses dinge wat alles met heiligheid te doen het. Juis in Epifanietyd is dit belangrik om na te dink oor hoe God se wese in die kerk sigbaar is. Die God wat in Jesus sy gesig kom wys het. Tog is die Goeie Nuus ook dat ons heiligheid as kerk nie deur eie inspanning nie, maar die genadige werk van God plaasvind, daar waar ons in Sy heilige teenwoordigheid lewe.

Bibliografie

Balentine, S E. Leviticus. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Louisville: John Knox Press; Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Minneapolis: Fortress Press; Damon, M 1993. Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg. in Woord teen die Lig Band 111/3. Lux Verbi; Gerstenberger, E S 1996. Leviticus. A Commentary. The Old Testament Library. Louisville, Ky: Westminster John Knox Press; Hartley J E 1992. Leviticus. Word Biblical Commentary. Word Books. Dallas; Koopman, N & Vosloo, R. 2002. Die ligtheid van die lig. Morele oriëntasie in ‘n postmoderne tyd. Wellington: Lux  Verbi BM; Milgrom, J 2000. Leviticus 17-22. Anchor Bible. New York: Doubleday; Nicol, W 2008. In die hande van die Pottebakker. Wellington: Lux Verbi BM; Strawn, B. in The Lectionary Commentary. Theological exegesis for Sunday’s Texts (ed R E Van Harn). Grand Rapids: Willian B Eerdmans Publishing Company.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.