Sewende Sondag in Paastyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21
Ander tekste: Handelinge 16:16-34; Psalm 97; Johannes 17:20-26

Inleiding

Die sewende en laaste Sondag in Paastyd se Latynse naam vanuit die kerktradisie is exaudi (“luister”). Al kom hierdie woord in die sleutelteks voor is dit nie ’n direkte tema in enige van die tekste nie.

’n Tema wat wel die fokus van die sleutelteks is en wat na die ander drie tekste deurgetrek kan word, is die tema van God as die Een op die troon wat in beheer is van alles en ’n toekomsverwagting wat daarvan afhang. Dit word bevestig in die sleutelteks en daar word uitgesien na Christus se wederkoms. Psalm 97 loof ook die almag en verhewendheid van God. In die Johannesteks bid Jesus vir sy dissipels en vir hoe hulle nou saam met Hom en God moet saamleef, ook wanneer Hy weggaan. In Handelinge sien ons hoe Paulus en Silas se optrede as Christene vir die tronkbewaarder ’n nuwe toekomsverwagting gee.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
V: Die Here regeer,
laat die aarde juig;
G: laat al die afgeleë eilande bly wees.

V: Wolke en diepe duisternis omring Hom,
G: reg en geregtigheid
is die grondslag van sy troon.

V: Vuur gaan voor Hom uit
en rondom Hom verbrand dit
sy teenstanders.
G: Sy weerligstrale verlig die aarde,
die wêreld sien dit en sidder.

V: Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Heer van die hele wêreld.
G: Die hemele verkondig
sy geregtigheid,
en al die volke sien sy majesteit.

V: Almal wat gesnede beelde dien,
wat spog met nikswerd afgode,
staan beskaamd.
– uit Psalm 97:1-7

Aanvangslied
Lied 169/NSG 4 “Heilig, heilig, heilig”

Seëngroet
Sien die basisliturgie.

Oproep tot lof en aanbidding
V: Buig in aanbidding voor Hom, alle gode!
Sion hoor dit en is bly,
die dogters van Juda juig
oor u oordele, Here.
G: Want U, Here, is die heel hoogste
bo die hele aarde;
U is ver verhewe bo alle gode.

V: Verbly julle in die Here, regverdiges,
en prys sy heilige, gevierde Naam.
– uit Psalm 97:7-9, 12

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Sien die basisliturgie.

Skriflesing
Die teks is ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring. Dit sal daarom gepas wees om die Skriflesing responsories saam met gemeente te doen om dit selfs meer uit te lig.

V1: “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.”
V2: En die Gees en die bruid sê:
G: “Kom!”

V2: En laat elkeen wat luister, sê:
G: “Kom!”

V2: En laat elkeen wat dors het,
kom.
En laat elkeen wat dit begeer,
die water van die lewe kom kry, verniet!
Hy wat hierdie dinge getuig, sê:

V1: “Ja, Ek kom gou!”
G: Amen! Kom, Here Jesus!

V1/V2: Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.
– uit Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21

Diens van die Tafel

Gebed voor die nagmaal
V: Die aand voordat Hy gevange geneem is, het Jesus saam met sy dissipels geëet en vir hulle gebid.
G: Here Jesus, bid ook vandag vir ons.

V: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
G: Mag ons gevoed word aan u tafel sodat ander deur ons woorde in U kan glo.

V: “En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.”
G: Here, soos die brood en die wyn wat ons nou gaan eet en drink, een word met ons liggame, mag ons ook een wees soos U en saam met U.

V: “Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”
G: Amen.
– uit Johannes 17:20-26

God stuur ons uit

Slotlied
Flam 92 “Seën ons, Here God, seën Afrika”

Seën
Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.
– uit Openbaring 22:21

Musiek en sang

Aanvangsliedere: Lied 176 “Halleluja! U is Koning”; Flam 21 “In die hemel is die Heer”
Lofliedere: Flam 8 “Al die lof, aanbidding en ere”; Flam 142 “Kom, Jesus kom”

Preekstudie – Openbaring 22:12-14, 16-17

Teks

Openbaring 22:12 veronderstel moontlik ’n uitnodiging dat die leser nou vir of teen die visie van Openbaring moet kies. Alhoewel Johannes nie ’n datum aan die eindtyd heg nie, verduidelik hy tog deurentyd dat die verval van die Romeinse Ryk reeds begin het. Christus se wederkoms is op hande, al is dit ongedateerd. Die spoedige wederkoms van Christus is die spil waarom die hele Openbaring 22 wentel. Die proloog in 1:1 word ook hier herhaal. In Openbaring 22:12b is die eindtydse loon om volmaak saam met Christus te wees, vir altyd. Dit klink byna woordeliks soos Jesaja 40:10.

Vers 12-13 beklemtoon die dringende aard van die visioene, asook God se soewereiniteit en ewigheid. Hy is die Alfa en die Omega. Dit is die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet. Met ander woorde, van alles wat geskryf staan, is God die Eerste en die Laaste. Dan sê Hy: Ek is die Begin en die Einde. God die Vader was eerste van alle dinge daar – nog voordat die aarde of die engele geskape is. Daarom is Hy die Eerste, maar Hy is ook die Laaste. Hy bestaan tot in ewigheid. Daar is niks wat sy bestaan tot ’n einde kan bring nie. (Vir die volledige verklaring van hierdie terme, sien Op 1:8.) Die verklaring van al hierdie terme kom op die volgende neer: Dit sluit die volle raad van God in. God self is die Allesbepalende rakende tyd en ewigheid, en stoflike en geestelike dinge. Die geskrewe en gesproke woord van God word in sy raadsplan gebruik.

Vers 14 verwys terug na Openbaring 6 en 7. In 22:14 herinner die laaste seënspreuk aan 7:14 waar Johannes vra wie die groot, jubelende skare mense is. Die antwoord hierop is: Dit is hulle wat die verlossing wat Christus gebring het, aangegryp het en die vuil van hulle vorige bestaan wit gewas het in die kruisdood en opstanding van Christus.

Vers 12-19 verteenwoordig Jesus se slotwoorde. In hierdie gedeelte vind ons sewe uitsprake van Jesus. Die fokus van hierdie uitsprake lê in 22:14, 16a met die uiteinde van die regverdiges in die vorm van ’n seënspreuk, en dié van die goddeloses soos dit aan die gemeentes verkondig is.

Vers 16a verduidelik dat die evangelie nie begrawe mag word nie, maar dat dit vlerke het om die uiterste grense van die wêreld te kan bereik. In vers 16b word nog ’n titel vir Christus gebruik om sy identiteit en lewenstog aan te dui: “Ek is die wortel … van Dawid.” Die “Ek is”-uitdrukking kom op nog twee plekke in Openbaring voor: “Ek is die Alfa en die Omega” (1:8) en “Ek is die Eerste en die Laaste” (1:17). Die feit dat Christus die wortel van Dawid is, verwys na die voorspellings in die Ou Testament dat die Messias uit die geslag van Dawid gebore sou word. Dit is die stomp waaruit Hy spruit. Hy is dus die vervulling van die Ou-Testamentiese aankondigings oor “uit wie Hy sou wees”. Jesus is gelyktydig Dawid se nasaat én sy Here. Jesus is die Aankondiger van die ewigheid by God. Hy kondig die dagbreek van God se ewige koninkryk aan soos die môrester die koms van die nuwe dag aankondig. Terselfdertyd kondig Hy ook die eerste lig van ons verlossing aan.

In vers 17 word Jesus se slotwoorde voortgesit deur die Gees en die bruid wat sê: “Kom!” Tot op die laaste nooi God dié wat dors het uit om te kom drink van die water wat lewe gee. Honger en dors is beeldspraak om veral geestelike bemoediging en vervulling uit te druk.

Weer bevestig die Here Jesus dat Hy gou kom (v 20). Hy beklemtoon dit met die woord “ja”. Om nog ’n keer te bevestig dat dit nie ’n mens is wat praat nie, openbaar Hy die Een wat aan die woord is: “Hy wat dit getuig.” Die Een wat die getuienis van al die dinge aan Johannes gee, is die Here Jesus. Hierdie verklaring word dus nie deur ’n mens uitgereik nie, maar deur God. Johannes is baie bly oor hierdie aankondiging van die Here. Daarom sluit hy by die Here se aankondiging aan en roep hy uit: “Amen, ja kom, Here Jesus!” Die “amen” is om sy vaste geloof aan die waarheid van alles wat die Here geopenbaar en gesê het, vas te maak. In vers 21 groet die Here sy kerk met sy seën. Daarmee sluit Hy sy openbaring aan die kerk op aarde af. Ons almal is die kerk van die Here op aarde. Die boek sluit af met ’n laaste versekering van die waarheid en egtheid van alles: “Amen.”

Die profetiese en apokaliptiese verhaal van Openbaring sluit in vers 21 met ’n tipiese briefslot af. Die goedheid van Jesus begelei lesers om die inhoud van die boek te gehoorsaam en dit in hulle lewenstyl waar te maak. Die wederkoms wat op hande is, bepaal die lesers se daaglikse lewenstyl en gee daaraan ’n tinteling van opgewondenheid en verwagting.

Konteks

Openbaring is eskatologies van aard. Dit kyk na vrae oor ekonomiese geregtigheid, politieke mag en teologiese getrouheid. Hoewel die boek van die mooiste gesange, liturgieë en visioene van die toekoms bevat, het dit ook baie beelde wat ongemak veroorsaak. Al die ongemaklike beelde is deel van die outeur se apokaliptiese boodskap.

In die slotgedeelte (epiloog) van die brief wil Johannes die verhaal met ’n paar betekenisvolle vasleggings afsluit. Hierdie gedeelte bevat bemoedigings, waarskuwings, aankondigings, opdragte en gerusstellings.

Die parallelle tussen die proloog en die epiloog van Openbaring beklemtoon dat die boek aan die gemeentes in Klein-Asië geskryf is. Die boodskap sluit af deur te herhaal wat heel aan die begin aan die gemeentes voorgelees is. Die opdragte, versoeke en uitdagings het geensins verander nie.

Die Openbaringbrief sluit af met die bewering dat Jesus self waarborg dat Hy binnekort sal terugkeer. Johannes eindig met ’n vermaning wat liturgies van aard is: “Amen, ja kom, Here Jesus!” Die kerk het oorspronklik die boek Openbaring in die erediens gehoor waar lof en aanbidding plaasgevind het. Om die boek in ander omstandighede te hoor en te lees, kan die gevoel van aanbidding weer na vore bring.

Johannes se raamwerk vir die boek Openbaring is dié van ’n Griekse brief. Openbaring 22:21 is in die vorm van ’n slot van ’n Griekse brief. Johannes verduidelik dat sy hoop daarin lê dat gemeentes wat die boek Openbaring ontvang en lees ’n ervaring van genade sal beleef.

Preekvoorstel

Terwyl die elemente van hierdie gedeeltes in Openbaring saamwerk, het elke gedeelte tog sy eie nuanse. ’n Preek sou homileties sin kon maak met al drie dele van vandag se gedeelte (v 12-14, 16-17, 21-22). ’n Preek sou ook een van die gedeeltes kon gebruik, terwyl die ander gedeeltes se motiewe geïnkorporeer kon word.

Johannes sluit die boek af met die versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms met wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek. Die feit dat die Here Jesus dit self drie keer herhaal (v 7, 12, 20), gee aan dié slotgedeelte besonderse krag.

Hierdie laaste gedeeltes van die boek Openbaring gee ’n treffende opsomming van die belangrikste sake. Dit beklemtoon weer eens dat God in beheer is: Hy rig die mensegeskiedenis en inisieer die verloop van gebeure. Vir hedendaagse mense is dit gerusstellend om in ’n tyd van soveel onsekerhede vas te kan hou aan die waarhede in Openbaring, wat deur God self gewaarborg en begelei word. Dit gee gelowiges gemoedsrus, maar besiel ons ook met hoop omdat ons weet God is die Oorwinnaar. Dit gee moed vir die hede en hoop vir die toekoms.

Deur gelowiges se belydenis en lewenstyl word die kernboodskap van Openbaring oorgedra en gee dit lewe aan ’n onseker wêreld in nood. Deur woord en daad word die Here se alleenheerskappy op aarde deur gelowiges uitgeleef. Die krag van die Gees stel gelowiges in staat om te kan volhard in geloof en ’n verskil te maak in die wêreld rondom hulle. Dit bly altyd God se wêreld waarin die kerk en gelowiges deur die Gees, God se doel sigbaar maak.

Dink aan Samuel Beckett se bekende drama Waiting for Godot. In die verhaal wag twee boemelaars, Vladimir en Estragon, op ’n geheimsinnige figuur wat Godot genoem word. Terwyl hulle wag, praat hulle sinlose praatjies. Maar Godot kom nie. Hulle verwagting word teleurgestel. Die sinlose geklets is tekenend daarvan dat as Godot nie kom nie, is niks van belang nie. Dan sterf die woorde as’t ware op jou lippe en is daar nie meer ’n toekoms nie. Dan volg wanhoop en totale verwagtingloosheid.

So ’n verwagtingloosheid sluip maklik ons lewe binne. Dit kom in so baie gestaltes. Hoe maklik gebeur dit dat ons in ons lewe maarnet doen wat ons moet doen? Ons verwag eintlik nie iets van die toekoms nie. Ons beleef nie ons lewe as ’n misterie vol uitdagings en geleenthede nie. Ons raak maklik apaties. Sodanige verwagtingloosheid is nie net tot individue beperk nie. Dit raak ook kerke en samelewings. Die groot sonde van ons volkskerk-verlede was dalk ten diepste die gebrek aan verwagting dat God se liefde oor vrees en haat kan seëvier. In ons eie lewe en dié van ons geloofsgemeenskappe ontbreek die verwagting dikwels dat God ons lewe en wêreld kan binnekom en nuutheid kan bring. ’n Rede vir die afstomping van ons verwagting rakende God en sy nuwe wêreld, lê dalk daarin dat ons in ons lewe plaasvervangende dinge vir God het waarop ons eerder wag. Ons wag vir beter ekonomiese tye, of groter sekuriteit, of die een of ander geluk wat na ons kant toe moet kom. Natuurlik is dit menslik om hiervoor te wag, maar dit is nie verwagtings wat ons diepste dors kan les nie.

Dit is daarom goed om te onthou dat die vroeë kerk nie bloot vir ’n nuwe tydperk gewag het nie, maar vir Iemand. Iemand wat sy liefde en betroubaarheid gewys het deur ’n kruis en ’n leë graf. Deur die werking van die Gees van die gekruisigde en opgestane Jesus in hulle lewe, het gelowiges beleef hoe hulle lewe aangeraak en verander word. Daarom wag hulle met ’n gegronde verwagting. Daarom bid hulle: “Maranata!”

Vir ons om met verwagting en hoop te leef, is dit belangrik om nie ons fokus op die Een wat weer kom te verloor nie. Ons toekoms is nie iets nie, maar Iemand. Hierdie Iemand beloof om hierdie wêreld nuut te maak en roep ons op om aktiewe medewerkers in diens van God se komende wêreld te wees. Hoe kry ons dit reg om op die koms van God en sy wêreld te bly wag?

Ons lewe is vol aanduidings dat ons nie kan weet wat om van die toekoms te verwag nie. Openbaring 22 sê nie vir ons dat die toekoms mooi en goed is nie. Dit sê egter wel vir ons dat die toekoms God is. Dáárom is die toekoms goed. Daarom is die einde iets waarna ons met verwagting kan uitsien. Die einde is immers Iemand; daarom is die einde nie werklik die einde nie, maar die begin van ’n dieper lewe saam met God.

Bibliografie

Allen, RJ 2019. Working Preacher, workingpreacher.org; Barreto, E 2013. Working Preacher, workingpreacher.org; Botha, E, De Villiers, PGR, & Engelbrecht, J (eds). Reading Revelation; Du Rand, J 2007. Die A-Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Kiel, MD 2016. Working Preacher, workingpreacher.org; Vosloo, R 2001. Preekriglyne, preekriglyne.co.za.

© Missio 2024 | All rights reserved.