Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se tekste bevestig almal op die een of ander manier dat God oral teenwoordig is. In Jakob se beeldryke droomwêreld, kom hemel en aarde in Genesis 28 bymekaar wanneer God die verbondsbelofte bevestig terwyl engele op en af beweeg met ‘n leer wat op die aarde staan en aan die hemel raak. In Psalm 139 bely Dawid dat God se teenwoordigheid hom van alle kante omsluit. Paulus vertel in Romeine 8 van die verpligting waaronder gelowiges staan om nie volgens hulle sondige natuur te lewe nie, maar om te lewe deur die Gees wat nou in hulle woon. Jesus se gelykenis in Matteus 13 vertel van God se teenwoordigheid te midde van die boosheid en onkruid in hierdie wêreld.

Ander tekste

Genesis 28:10-19a
10Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. 11Teen sononder het hy by ’n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ’n klip vir ’n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. 12Hy het gedroom: ’n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. 13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

18Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. 19Hy het die plek Bet-El q genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. 20Jakob het toe ’n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ’n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ’n tiende gee.”

Psalm 139:1-12, 23-24
U omsluit my van alle kante
139 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n
Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm, 
my aanmekaargeweef 
in die skoot van my moeder. 
14Ek wil U loof, 
want U het my 
op ’n wonderbaarlike wyse geskep. 
Wat U gedoen het, 
vervul my met verwondering. 
Dit weet ek seker: 
15geen been van my was vir U verborge 
toe ek gevorm is 
waar niemand dit kon sien nie, 
toe ek aanmekaargeweef is 
diep in die moederskoot. 
16U het my al gesien 
toe ek nog ongebore was, 
al my lewensdae was in u boek 
opgeskrywe 
nog voordat ek gebore is. 
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, 
o God, 
hoe magtig hulle almal! 
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is, 
en as ek daarmee klaar is, 
sou ek nog steeds met U te doen hê. 
19As U tog maar die goddelose 
uit die weg wou ruim, o God! 
Gaan weg van my af, 
julle moordenaars! 
20Dit is hulle wat bose planne 
teen U smee, 
wat so vals teen U optree. 
21Moet ek u haters dan nie haat nie, 
Here, 
moet ek nie ’n weersin hê in mense 
wat teen U in opstand is nie? 
22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, 
want hulle is ook my vyande. 

23Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie
op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Romeine 8:12-25
12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpli gting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Fokusteks

Matteus 13:24-30, 36-43
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van die gelykenisse
(Mark 4:33–34)
34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het:
“Ek sal gelykenisse gebruik
as Ek praat;
Ek sal bekend maak
wat geheim gebly het
van die skepping af.” c
Verklaring van die gelykenis van die onkruid
36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.
“Wie ore het, moet luister.”

Ekstra stof

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring.  Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie.  Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.

Daar is in dié gelykenis nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ‘n vyand, wat onkruid tussen die koring saai.  Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid (zizanion – in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok) waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes.  Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.

Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.

Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ‘n klein begin ‘n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.

Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ‘n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.

Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ‘n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek.  Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word.  God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor.  Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.

Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.

Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit.  Die goeie saad is die kinders van die koninkryk.  Die onkruid is die kinders van die Bose.  Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.

Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ‘n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier.  Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 139 of VONKK 252 of F317.

Votum: Ps. 139 v 7-12

Respons: VONKK 30

Seëngroet

Lofsang: F201 of Lied 200

Toewyding: (n.a.v. Psalm 139)

Lied 593 (n.a.v. Romeine 8)

Genadeverkondiging: Romeine 8:24-25

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: VONKK 21

Skriflesing: Matteus 13:24-30, 36-43

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 208 of Lied 489 of Lied 477

Seën

Respons: VONKK 21

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 139 of
VONKK 252 Heer, ons wag op U of
F317. Here U Sien En Ken My (Altyd By My)

Votum: N.a.v. Ps. 139 v 7-12
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.

Respons
VONKK 30 Al die donker is nooit net donker

Seëngroet

Lofsang
F201. U Is Die Ewige, O Heer (Ewige God) of
Lied 200 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”

Toewyding
(n.a.v. Psalm 139)
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek sit en of ek opstaan.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: en my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek reis en of ek oorbly.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
(Uit:  “Soos ’n blom na die son draai” deur Cas Wepener)

Lied 593 “Om ons bly die skepping sug” (n.a.v. Romeine 8)

Genadeverkondiging
Romeine 8:24-25
24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Geloofsbelydenis

Liedere

F201. “U Is Die Ewige, O Heer (Ewige God)”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Oorspronklike titel: Everlasting God Teks en musiek: Brenton Brown en Ken Riley
Afrikaanse vertaling: 2007 Stass van Veuren © 2005 Thankyou Music

Ons krag word meer
as ons wag op die Heer.
Ons krag word meer
as ons wag op die Heer,
as ons wag op die Heer,
as ons wag op die Heer.
Ons God,
U heers verewig,
ons Hoop,
ons sterke redder.

Refrein:
U is die Ewige, o Heer
die Ewige, o Heer.
U sluimer nie,
U word nooit moeg nie.
U red die swakkes, die wat vrees,
vertroos hul met U Gees.
U laat hul sweef soos arende.

F317. “Here U Sien En Ken My (Altyd By My)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Heer, U Bent Altijd Bij Mij Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Marcel en Lydia Zimmer en Jan de Wet  © 1998 Celmar Music

1. Here U sien en ken my.
U ken my sit en staan.
En U ken my gedagtes;
U weet waarheen ek gaan.
Die woorde van my mond, o Heer,
ja dit ken U gewis.
En waar ek ook al heen mag gaan,
ek weet dat U daar is.

Refrein:
Here U’s altyd by my.
U hou u hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my,
Here U’s altyd by my.
U hou u hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou u hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my,
Here U’s altyd by my.
U hou u hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
elke dag.

2. Here U sien en ken my
want in die moederskoot
het U vir my gevorm.
U is oneindig groot
ek dank U vir die wonderwerk
dat U my lewe lei.
En wat ook sal gebeur, ek weet,
U is altyd by my.

Refrein:

VONKK 252 “Heer, ons wag op U”
Teks: Pieter Malherbe 2013 © Melodie: WAG OP DIE HEER – Pieter Malherbe 2013 © Orrel- en klavier begeleiding: Anton Esterhuyse 2013 © Kantoryverwerking:  Jacques Louw 2013 ©  Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2013 © © 2013 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord    te hoor /  Gebede

Voorganger: Heer, ek wag op U;
ja, ek wag om u stem te hoor.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.

Gemeente: Heer, ons wag op U;
ja, ons wag om u stem te hoor.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.

Voorganger:Heer, ek buig voor U;
ja, ek buig voor u heerskappy.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.

Gemeente: Heer, ons buig voor U;
ja, ons buig voor u heerskappy.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
Amen.

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12 Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genade / Kersfees en Epifanie / Lydenstyd

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.  Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

VONKK 208 “Wees Bly, Al God Se Kinders”
Teks: Ermuntert euch, ihr Frommen – Laurentius Laurenti 1700; Rejoice, rejoice, believers – Sarah Borthwick Findlater 1854; Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2012 © Musiek: HAF TRONES LAMPA FÄRDIG  – Sweedse volksmelodie
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2012 © Teks en musikale verryking: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Advent / Hoop en Voleinding

1. Wees bly, al God se kinders,
die dag is amper hier,
’n nuwe tyd sal aanbreek
’n tyd om fees te vier.
Die Bruidegom is naby,
die lig begin reeds skyn.
Geduldig wag en bid ons
dat duisternis verdwyn.

2. Ons leef in donker tye
waar haat en stryd gedy,
waar mense onderdruk word,
onskuldiges steeds ly.
Laat skyn die lig van Christus!
Leef in sy koninkryk,
sodat die donker t’rugdeins
en voor die lig sal wyk!

3. Ons hoop en ons verwagting
is Jesus, onse Heer,
die Lig wat alle donker
uiteind’lik sal verteer.
Ons hef ons hart en hande
tot Hom wat ons bely
as Seun van God, die Vader,
wat ons ook kom bevry.

God praat met ons en ons luister

Gebed
VONKK 21 Wag op die Heer

Skriflesing: Matteus 13:24-30, 36-43

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die gelykenisse – soos die verhalende tekste – kan gewoon vir kinders vertel of uit ‘n kinder-vriendelike Bybel gelees word.  Jy kan ook mense laat deelneem tydens die Skriflesing.  Teken ‘n klomp vriendelike gesiggies op papierborde en kwaai gesiggies op ander papierborde.  Die gesiggies verteenwoordig die goeie en slegte saad.  Kry kinders om die papierborde voor hul gesigte te hou en “saai” hulle.  Laat elke kind aanvanklik in ’n klein hopie sit en later opstaan soos die saad groei.  ’n Paar volwassenes “oes” die saad en laat die goeie saad aan die een kant staan en die slegte saad aan die ander kant.

Jy kan ook prente van verskillende plante wys en vra of dit onkruid is of nie.  “Queen Anne’s Lace” is bv. voorheen gesien as onkruid, maar word vandag in tuine geplant.  Dit is nie altyd so maklik om te onderskei nie.  Jy kan ook gesels oor sommige Harry Potter karakters.  In baie van die Harry Potter stories is dit nie altyd maklik om te weet wie is die goeie en wie is die slegte karakters nie.  Severus Snape was ’n onderwyser van wie almal gedink het dat hy boos is, maar uiteindelik kom ons agter hy is een van die goeie karakters.

As jy ’n storie wil vertel, kan jy Scardey Squirrel vir bietjie meer as $5 by Amazon kry.  Of wys die video waar dit voorgelees word.  Storypath beskryf dit so:  “Sometimes in our lives of faith, we worry about what will happen, and what God can handle. In Jesus’ parable, a field of wheat has weeds sown into the midst of it during the night. The workers worry about the weeds being there – should they pull them up? Should they let them be?  They’re worried about what is going to happen. The owner says to let the weeds and wheat be, for now, trusting in a bigger plan to come. Jesus makes the same comparison about the kingdom of God, that sometimes we are worried about what will happen, but that God can handle it. In Scaredy Squirrel, a little squirrel creates a specific and detailed plan for addressing every fear he has, but still worries all the time. He is very worried about what will happen in the future, and how it will be handled. But one day, the worst really does happen—he is falling out of the tree, shouting, “This is not part of the plan!”.  But, suddenly, he discovers that he is not any squirrel, he is a flying squirrel, and is able to glide his way to safety! He realizes that he doesn’t need to worry so much, because he had this amazing ability all the time.  Jesus tells us that like Scaredy Squirrel, we really have nothing to worry about because God is always working in ways that we may not realize until later and God can handle anything in our lives. As people of faith, we can trust that God knows what is going on and that in the kingdom there is always more than our worries.”

As jy graag aktiwiteite vir kinders gee tydens die diens, kan jy hierdie doolhof gebruik waar kinders die koring en onkruid skei, of hierdie “color by numbers” onkruid en koring prentjie.

Preekriglyn

Die storie word vertel van die ma wat haar tienerseun sover gekry het om te help onkruid uittrek. Die onkruid het nesgeskop tussen pragtige blomplantjies.

Soos ma’s maar maak, gee sy haar seun ordentlik instruksies oor wat om te doen. “Wees versigtig jy trek nie die blomme saam met die onkruid uit nie! En as jy per ongeluk ‘n blom uittrek, hanteer die plantjies saggies. Vra die blomme om verskoning dat jy so lelik daarmee was. Plant dit sorgvuldig terug, en probeer om nie weer so onhandig te wees nie.”

“Ma,” sê die tienerseun, “Ek red net die blomme van onkruid, ek is nie die blommetjies se sielkundige nie.”

Oor koring en onkruid

Ons gelykenis vertel die verhaal van ‘n saaiboer wat goeie koringsaad gesaai het. In die nag kom die vyand en saai onkruid tussen die koring. Daar is dus twee saaiers, en die gemengde goeie en slegte saad skep ‘n land vol koring en onkruid. Die tipe onkruid (zizanion, in Afrikaans drabok), het baie soos koring gelyk. Eers wanneer die are uiteindelik ryp in die oes staan kon behoorlik tussen goed en sleg, koring en onkruid, onderskei word.

Die werkers wou die onkruid dadelik uittrek. Omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Met hierdie gelykenis praat Jesus oor die koninkryk van God. Saam met die werklikheid van God se ryk is daar ook die werklikheid van vyandskap, teenstand en onkruid. Die gelykenis vertel dat kinders van die koninkryk rekening moet hou met die kwaad rondom hulle in die wêreld. Hier laat God die goeie en die kwade toe naas mekaar, tot die voleinding van die wêreld.

Uitleg van die gelykenis

Vanaf vers 36, wanneer Jesus en die dissipels terug is by die “huis”, weg van die publieke omgewing waarin Jesus die gelykenis van die onkruid vertel het, vra die dissipels Jesus moet dit verklaar.

Jesus se verklaring is allegories. Hy wat die goeie saad saai is die Seun van die Mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk. Die onkruid is kinders van die bose. Die vyand is die duiwel. Die oes is die eindtyd/finale oordeel. Die wat oes is die engele.

Die titel “Seun van die Mens”, die Een wat saai, kom van Daniel 7:13, waar God sy gesag van vergiffenis delegeer na die “Seun van die Mens” wat gesag het om sonde te vergewe. Jesus het die term gebruik met verwysing na Homself. Hy is die Een wat met volmag namens God optree.

“Die saailand is die wêreld.” Die goeie saad en onkruid word in die wêreld gesaai. Jesus dui aan dat die saailand na die wêreld verwys en nie net na Israel of die kerk nie. Die koninkryk van die hemel sal buite Israel strek en die hele wêreld omvat. Die skeiding tussen goed en kwaad kom eers by die voleinding van die tyd (Matt 13:39).

Die onkruid word bymekaargemaak en verbrand. Mense in Jesus se tyd het vure geken waar onkruid en rommel verbrand is. Dit kon witwarm raak en gevaarlik wees. Jesus praat van so ‘n vuur aan die einde van die tyd vir die vernietiging van die bose en sy kinders (41-42).

Jesus is duidelik oor wie die onkruid is: almal wat ander laat sondig of struikel (verleiers; geloofsvernietigers) – wat ander hinder op hulle geloofspad; struikelblokke skep (Matt 16:23; Rom. 14:13; 16:17; 1 Joh. 2:10). Jesus sê in Mat 18:6 dit sal beter wees om te verdrink in die diepste see, as om die straf te dra van een wat ‘n ander laat struikel. Die struikelblokke is nie deel van die koninkryk van God nie, maar is gemeng in die saailand met die goeie. God laat hulle daar tot die tyd van skeiding aanbreek.

Jesus noem die onkruid ook “diegene sonder die wet” – die wettelose, die wat die wet van God oortree. “Hulle wat teen God in opstand” is. Die mense wat nie omgee of nie doen wat Jesus van hulle verwag nie (vgl. Matt 7:23; 23:28; 24:12). Sulke mense is op pad na die helse vuur (vgl. Dan 3:6 vir die beeld van die “vurige oond”). Matteus gebruik dikwels dié beeld as hy van die oordeel praat (Matt 8:12; 13:42, 50; 22:13; 24:51; 25:30). Lukas praat egter een keer hieroor (Luk 13:28).

Terwyl die toekomstige oordeel oor die onkruid voltrek word, sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. Hierdie is ‘n belangrike boodskap vir almal “wie ore het om te hoor”. Alle mense moet luister. Niemand word van die waarskuwing uitgesluit nie.

Uitstel

Ons gelykenis vra geduld van mense van die koninkryk van God. Vir ons is die uitstel van die skeiding tussen koring en onkruid, goeie saad en slegte saad, ‘n uitdaging. Dit was ook so vir die slawe in die gelykenis. Hulle is haastig is om die probleem uit die weg te ruim. Die onkruid moet uitgehaal en vernietig word. Hulle kan nie toesien dat die koringland ook onkruid herberg nie.

Die koninkryk van God is anders. Die Bose en die vrug van boosheid word eers verduur. Dit is so omdat die God van die koninkryk geduldig is. Ons sê: “Trek uit!” Jesus sê: “By God werk dit nie so nie. Jy kan die koring ook seermaak en uittrek. Ons sal wag tot die oesdag! Jy weet nie hoeveel van die kinders van die koninkryk jy sal vernietig in jou ywer om die land skoon te kry nie. Ek wil nie my eie kinders vernietig nie. Wees geduldig. Groei saam!”

Vroeë kerk

In sy uitstekende boek, The patient ferment of the Early Church, vertel Alan Kreider verhaal op verhaal van die groot waarde wat die vroeë kerk aan geduld geheg het.

Waarom is die vroeë kerk se verhaal belangrik? Omdat die vroeë kerk besonder vinnig gegroei het. Dit het gebeur in ‘n tyd toe die publieke gebruike en wetgewing dit moeilik gemaak het om ‘n Christen te word of te bly. Daar was vervolging. Jy kon doodgemaak word omdat jy Jesus volg. Niemand móés by die kerk aansluit omdat ‘n regering of ‘n nuwe bewind jou gedwing het nie. Trouens, die staat het gedink jy is ‘n risiko omdat jy die gode wat die veiligheid van die staat gewaarborg het, nie wou aanbid nie. Bure is aangemoedig om Christene te verklik.

Tog het die vroeë kerk dramaties gegroei. Waarom? Kreider gee vier redes, waarvan die eerste rede is: Geduld.

Geduld

Die vroeë Christene is onregverdig behandel, benadeel en vervolg. Onder sulke omstandighede is dit net normaal dat mense sal wil terugveg, hulle vervolgers sal wil regsien, of terugkry. “‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe”- dit is die taal van ongeduldige mense wat kitsoplossings soek.

Kreider vertel in detail hoeveel van die vroeë kerkvaders boeke oor geduld geskryf het. Geduld was die deug wat bo ander deugde aangeprys is.

Waarom? Die volgende word as redes genoem:

  • God is geduldig. Toe ou Israel verskriklik gesondig het, het God profeet op profeet na hulle gestuur om hulle aan te spreek. God neem lank en gee kans vir mense om terug te keer na Hom. God bly getrou en wis nie sonder meer mense uit nie. Die kerk is geroep om God na te volg.
  • In 150 n.C. skryf Justinianus ‘n verdediging van die Christelike geloof aan die keiser, Antonius Pius. Hy wys op die geduld van die Christene in navolging van Jesus wat leer dat sy volgelinge nie uit woede moet reageer nie, maar die ander wang moet draai, en die tweede myl moet saamloop. Christene is nie bakleierig soos die ander nie. Justinus gee as voorbeeld sakemanne wat Christene geword het omdat die Christene se geduldige, nie-gewelddadige manier van sake doen sover verwyderd van die Romeinse dwingende, gewelddadige, tirannieke styl is (ons sal dit vandag ‘n Mafia-styl noem).
  • Klemens van Alexandria skryf ‘n paar dekades na Justinianus ook oor geduld. Hy sê die karakter van God skep ‘n nuwe ekosisteem waarin Christene lewe, en geduld is een van die pilare van hierdie ekosisteem. Vir hom is Daniël ‘n rolmodel, want Daniël kon in ‘n vreemde ryk onder ‘n vreemde heerser oorleef deur geduldig aan God vas te hou en te bly bid.
  • Origenes skryf ook oor geduld, en noem dit die lewensstyl wat Christene van nie-Christene onderskei. Danksy God se geduld in Christus, kon selfs die gewelddadige reaksie van Jesus se teenstanders God se rustige voltrekking van sy reddingsplan nie ontspoor nie. God gaan steeds voort om mense na die lig te begelei, selfs al het hulle Jesus vroeër verwerp en doodgemaak. Geen gelowige kan sonder geduld oorleef nie. Origenes was diep getref deur Paulus se woorde in Rom. 5:3-4: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”
  • Tertullianus het in 204 n.C. ook ‘n boek oor geduld geskryf. In hierdie tyd was die Romeinse vervolging in Noord-Afrika besonder erg (bv. die doodmaak van die gelowige Perpetua gebeur in die tyd dat hy sy boek skryf). Hy wys daarop dat die destydse samelewing neergesien het op geduld. Geduld was iets wat by magtelose mense en slawe gepas het – mense wat niks kon doen aan hulle lotgevalle nie. Daarteenoor is geduld die hart van die lewe van ‘n gelowige. Dit is omdat God van nature geduldig is. God gee sy genade oorvloedig aan goeies en slegtes, aan Christene en aan ongelowiges. Daarom moet Christene ook geduldig wees. Deur hulle geduld sou Christene hulle vervolgers uitput en tot ander insigte bring. Christene se hoop op die opwekking uit die dood maak hulle geduldig. Hulle weet hierdie lewe is nie die laaste woord nie.
  • Nog ‘n kerkvader, Ciprianus, skryf in 256 ‘n boek Oor die goedheid van geduld. Hy wys ook op God die Vader en Jesus se geduld, wat gelowiges moet navolg. In hierdie tyd was daar baie druk vanuit die Christengemeenskap om wraak op die vervolgers te neem. Jeugbendes is in Noord-Afrika gevorm om presies dit te doen. Ciprianus motiveer geduld op ‘n nuwe manier: hy sê Christene moet geduldig wees omdat God gaan oordeel – beslis sal oordeel. Jesus sal kom om te oordeel, en op daardie dag sy vernederende vervolgde kinders optel en seën. Wanneer God se oordeel kom, sal almal wat ongeduldig wraak gesoek word ook die risiko loop om veroordeel word.
Aantreklike, mooi geloof

Christene wat geduldig was, en die oordeel aan God oorgelaat het, kon fokus op die uitleef van Jesus se waardes en styl. Toe mense in die antieke tyd sien hoe Jesus se volgelinge uit liefde leef, en hoeveel anders dit as hul wraaksugtige, gewelddadige manier van leef was, het hulle Christene geword. Geduld was die aantreklike kant van die vroeë kerk in ‘n ongeduldige kultuur.

Ons gelykenis is oortuig hiervan. Christene is geroep om – soos God – geduldig te wees.

Oordeel

Vir Ciprianus is dit juis die wete dat die geduldige God wel eenmaal sal oordeel, wat geduld moontlik sal maak. Dit is ook die boodskap van ons gelykenis.

God se boodskap is dat Hý die kwaad sal uitroei. Aan die einde sal die skeiding kom. Aan julle vrugte sal julle geken word. Dié wat struikeling veroorsaak het en die wetteloses sal eenkant gesit word. Hulle wat daardie keuse gemaak het, sal vernietig word. ‘n Verskriklike lot sal hulle tref – ‘n vurige oond! Julle is in die wêreld gesaai – en daar is ook ander saad. Sorg net dat jy groei! Laat jou lig skyn. Jou lig is nou nog klein – eendag op die dag van die Here, sal julle so helder soos die son skyn!

Dit is ‘n wonderlike prent wat Jesus skets, ‘n verhaal vir die kinders van die koninkryk. ‘n Wonderlike opdrag van die Koning aan sy kinders! Julle is geplant in die wêreld. ‘n Prentjie – nie van die wêreld in die kerk nie, maar van die kerk in die wêreld!

Die saailand is die wêreld! Die kerk, die gelowiges, ek en jy, groei daar! Al is daar onkruid ook gesaai! Hier in die wêreld is die koninkryk van die hemel. Hier is ons deel van die koninkryk van die hemel; kinders van die koninkryk van God!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 208 Wees Bly, Al God Se Kinders of
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloofof
Lied 477 “Hou Christus self sy kerk in stand”

Seën

Respons
VONKK 21 Wag op die Heer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.