Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ekstra tekste: 2 Samuel 5:1-5, 9-10; Psalm 48; 2 Korintiërs 12:2-10

In Koninkrykstyd dink ons nie net na oor wat die Koninkryk van God vir ons beteken nie, ons herdink ook ons deelwees en deelname daaraan. Die sleutelteks bied die geleentheid om hieroor na te dink.

Markus 6:1-13 bevat twee verhale. In die eerste verhaal lees ons hoe Jesus verwerp word in sy tuisdorp, terwyl die tweede gedeelte handel oor Jesus wat die dissipels uitstuur. Die kontraste tussen die twee gedeeltes is merkbaar en beklemtoon wat gebeur wanneer Jesus mense stuur en hulle aan daardie opdrag gehoorsaam is.

2 Samuel 5:1-5,9-10 vertel van Dawid se salwing as koning van Israel, sy vestiging in Jerusalem en die Here se teenwoordigheid by hom.

Psalm 48 is ‘n loflied wat getuig van God se teenwoordigheid en sorg.

In 2 Korintiërs 12 getuig Paulus van sy ervaring van God se genade en kragtige teenwoordigheid te midde van sy (Paulus) se swakheid.

Ander tekste

2 Samuel 5:1-5, 9-10
Dawid word gesalf tot koning oor Israel
(Vgl 1 Kron 11:1–3)
5 Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:
Jy moet vir my volk Israel
’n herder wees;
ja, jy moet heerser
oor Israel wees!”

3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here ’n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. 4Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. 5In Hebron was hy sewe en ’n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.

Dawid verower Jerusalem
(Vgl 1 Kron 11:4–6)
6Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon.

Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!” 7En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad.

8Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.”

Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word ’n blinde of ’n kreupele mag nie in die tempel inkom nie.

Dawid gaan woon in Jerusalem
(Vgl 1 Kron 11:7–9; 14:1–7)
9Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis. 10Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.

Psalm 48
Die stad van die Groot Koning
48 ’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.
2Die Here is groot!
Aan Hom kom al die lof toe
hier in die stad van ons God,
hier op sy heilige berg,
3mooi, hoog geleë,
en ’n vreugde vir die hele aarde,
Sionsberg teen die noorde,
die stad van die Groot Koning.
4In hierdie goed versterkte stad
het God Hom as beskermer geopenbaar.
5Konings het bymekaargekom
en as een mag opgetrek,
6maar skaars het hulle die stad gesien
of hulle het bang geword
en verskrik op die vlug geslaan.
7Angs het hulle daar beetgepak,
vrees soos dié van ’n vrou
wat ’n kind in die wêreld bring,
8angs soos toe U met die oostewind
die skepe van Tarsis verpletter het.
9Soos ons daarvan gehoor het,
het ons dit self ervaar
hier in die stad van die Here,
die Almagtige,
in die stad van ons God,
die stad wat Hy vir altyd vas laat staan.
10Hier in u tempel oordink ons u trou,
o God.
11Net soos u Naam, o God,
so strek u lof oor die hele aarde.
U mag het groot redding gebring.
12Sionsberg moet bly wees,
die stede van Juda
moet oor u reddingsdade juig!
13Gaan om Sion, trek reg rondom,
tel sy torings,
14bewonder sy mure,
bekyk sy versterkings,
sodat julle dit aan ’n volgende geslag
kan vertel!
15Dié God is ons God vir altyd;
Hy sal ons altyd lei.

2 Korintiërs 12:2-10
Gesigte en openbarings
12 Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het.
2Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3–4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Fokusteks

Markus 6:1-13
Jesus word in Nasaret verwerp
(Matt 13:53–58; 9:35; Luk 4:16–30)
6  Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. 2En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Die mense wou niks van Hom weet nie.

4Jesus sê toe vir hulle: “‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

5Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.

Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.

Jesus stuur die twaalf uit
(Matt 10:1; 5–15; Luk 9:1–6)
7Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. 8Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ‘n kierie—geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. 9Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie. 10Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in ‘n plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. 11En as ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”

12Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. 13Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Ekstra stof

Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
Let weereens op hoe belangrik geloof is, of dan hier die gebrek aan geloof.  Waar Jesus die vrou en Jaïrus net tevore kon help, en hulle geloof ‘n rol daarin gespeel het, kan Jesus hier min uitrig, weens die gebrek aan geloof van sy tuisdorp se mense.  Die feit dat Hy aan hulle bekend was as kind beteken dat hulle Hom etiketteer en ignoreer, tot hulle ewige skade.  Selfs sy familiekring en gesin wou nie op dié stadium in Hom glo nie.

Interessant dat die dorpie nie by sy naam Nasaret genoem word nie.

Matteus en Lukas
Matteus plaas die verhaal weereens in ‘n ander situasie, na ‘n aantal gelykenisse wat Jesus vertel het.  Lukas doen dieselfde, maar plaas die verhaal reg aan die begin van Jesus se openbare bediening en brei op beduidende wyse uit op Markus se verhaal.  Hy gebruik die verhaal van Jesaja as invalshoek vir Jesus se aanvangsbediening, hoewel hy ook verwys na sy vorige bediening in Kapernaum, wat dit verseker nie sy eerste openbare optrede maak nie.  En Lukas gee ‘n goeie sinopsis van die res van Jesus se prediking waarin uitvoerig na OT verhale verwys word.

Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
Die toegespitse aandag aan die dissipels begin met hierdie opdrag in alle erns.  Dit tref ‘n mens hoe Jesus “die twaalf” twee-twee uitstuur.  Dit bly die normale patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen.  Dit tref ‘n mens ook dat hulle nie in detail voorsiening moet maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van die ontvangs van mense op die plekke waar hulle sou gaan.  Mense wat hulle nie ontvang nie, word ook doodgewoon verlaat om uit te kom by dié wat hulle nodig het.  En dié mense kom tot bekering, mense met bose geeste ontvang bevryding en siekes word gesond gemaak.  Interessant dat hulle met olie gesalf word, soos ons later ook by Jakobus 5:14 sal lees.

Dit is ook merkwaardig hoe hierdie verhaal vertel word in die konteks van Herodes wat Johannes die Doper onthoof het. Dit vorm die agtergrond van Herodes (Antipas – seun van Herodes die Grote wat ‘n kwart van sy pa se ryk regeer het) se verwondering oor Jesus.  Sy tweestryd oor Johannes word oorwoeker deur sy onbedagte belofte aan sy dogter (Salome), en hy moet haar gee wat sy vra: Johannes se kop op ‘n skinkbord.  Daarmee kom die lesers agter dat dissipelskap altyd ‘n prys vra.  Soos Johannes vir sy dissipelskap met sy lewe geboet het, sou Jesus dit ook doen.  En dié lot sou ook menige van hierdie dissipelkring tref.  Dit laat my ook besef dat ‘n mens regtig seker moet maak die Here stuur jou, sodat jou offer vir God se saak gegee word.

Matteus en Lukas
Moontlik gedagtig aan sy gehoor van Joodse Christene, vermeld Matteus spesifiek dat Jesus se opdrag nie die heidene of Samaritane ingesluit het nie.  Die eerste fokus was die verlore skape van Israel.  Hierdie gestuurdheid sou later verander en in die Groot Opdrag van Matteus 28 uitgebrei word na alle nasies.  Matteus gee ook die rede vir die verbod op voorsiening vir die reis: “‘n Arbeider is tog geregtig op sy onderhoud”.  Lukas bly by die feite soos Markus dit weergegee het, hoewel met sy eie beklemtoninge, soos dat hulle nie eers ‘n kierie moet saamvat nie.

Matteus vertel ook die verhaal van die onthoofding van Johannes die Doper meer uitgebreid en bly by die feite van die verhaal soos Markus dit vertel het.  Lukas verkort die verhaal tot ‘n enkele paar sinne.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Uit Psalm 48

Seëngroet: (2 Korintiërs 1:1-2)

Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Wet: Eksodus 20 (Die Boodskap)

Skuldbelydenis  

Lied: Psalm 130:1-3 Uit donker diepstes roep ek (Beryming Lina Spies)
Tweede melodie

Vryspraak: Romeine 3:23-25

Geloofsbelydenis

Loflied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Markus 6:1-13

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 286 “Here God van liefde 1”

Seën: 2 Kor 13:13

Antwoord:Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Uit Psalm 48
2Die Here is groot!
Aan Hom kom al die lof toe

11Net soos u Naam, o God,
so strek u lof oor die hele aarde.

15Dié God is ons God vir altyd;
Hy sal ons altyd lei.

Seëngroet: (2 Korintiërs 1:1-2)
Aan die gemeente van God en aan almal wat aan die Here behoort…..
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Wet: Eksodus 20 (Die Boodskap)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ‘n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.

“Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het.

“Onthou dat die sewende dag die Here se dag is. Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit.

“Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly.
“Jy mag nie iemand anders doodmaak nie.
“Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie.
“Jy moenie iets steel nie.
“Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie.

“Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.” 

Skuldbelydenis
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, Here.
Gemeente: My Heer, hoor tog my stem, laat u ore aandagtig luister na my smeekgebed.

Voorganger: As U sondeskuld in ag neem, Here –
Gemeente: My Heer, wie kan dan staande bly?

Voorganger: By U is daar vergifnis.
Gemeente: Ek wag op U Here; my hele wese wag.

Voorganger: By U is daar vergifnis.
Gemeente: My hele wese sien uit na U, Here, meer as wat wagte uitsien na die môre.

Voorganger: Vestig jou hoop op die Here;
Gemeente: Ek vestig my hoop op U, Here.
By U is bevryding in oorvloed (uit Ps 130).

Lied: Psalm 130:1-3 Uit donker diepstes roep ek (Beryming Lina Spies)
Tweede melodie 

Vryspraak: Romeine 3:23-25
23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F281. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toetrede)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Hier is ek nou met my vissies en my brood
En ek bring dit voor U soos ‘n kind
Ek weet dis te min om ‘n skare te voed,
Maar in U hand is dit genoeg

Refrein:
Hier is ek, Here gebruik my
Hier is ek, kom lei my
Hier is ek, Here gebruik my
Waar U nou reeds werk

2. Kan ek maar nou dit alles vir U gee
En leer te vertrou soos ’n kind?
Van die golwe vergeet, my oë op U hou
Want deur u krag, sal U my daar hou

Refrein:

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:
Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U.  Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.  Amen.
Outeur: Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Markus 6:1-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Verduidelik vir die kinders wie George Washington was.

Iemand vertel hoe hulle eendag ‘n baie ou familiewoning iewers in die VSA besoek het.  Die ou tannie wat in die huis gewoon het, was trots om vir die besoeker die hele huis te wys.  Bokant die kaggel het daar ou geweer gehang.  Die besoeker het gevra of hy die geweer mag afhaal om daarna te kyk, daarop die tannie geantwoord het:  “Ek is jammer, maar dis nie veilig nie. Jy sien, die geweer is gelaai en oorgehaal.  My oupagrootjie het dit gereed gehou, ingeval hy moes ingryp vir die vryheid van die Amerikaanse state.” Die besoeker wou weet of haar oupagrootjie dood is voordat die oorlog vir die vryheid van die state gevoer is.  “Nee”, het die tannie gesê, “hy het baie oud geword en is in 1802 oorlede.  Maar hy het nooit vir George Washington vertrou nie.  Jy sien, my oupagrootjie was saam met George Washington op skool en hy kon net nie glo dat Washington ‘n weermag kon lei nie!”

Dan kan jy vir die kinders verduidelik hoe die mense van Jesus se dorpie nie na hom wou luister nie.

Kleiner kinders sal waarskynlik nie verstaan wat jy bedoel as jy sê dat ons ook nie altyd vir Jesus erken nie.  Praat eerder oor die manier waarop God almal wil gebruik, maar ons idees oor hulle soms maak dat ons nie sien hoe God hulle gebruik nie.

Preekriglyn

[Nota: Die prediking fokus hoofsaaklik op vers 7 tot 13]

Arlyn Lawrence vertel hoe haar 13-jarige dogter, Heather, begin kla het oor pyn in haar regtersy. Eers was sy nie besorg nie, maar toe haar dogter ‘n dag of wat later begin krul van pyn is hulle dokter toe. Dié het hulle dadelik hospitaal toe gestuur. Dit was haar blindederm, ‘n noodoperasie was nodig.

By die hospitaal aangekom, het Arlyn haar moed bymekaargeskraap en vir haar dogter gebid. Gebed vir siekte en genesing was nie iets waaraan sy eintlik gewoond was nie. Nou het sy stamelend vrymoedigheid geneem. Sy het gevra die Here Jesus moet Heather aanraak en vir haar genesing gee. Toe moes sy haar dogter die byna letterlik die hospitaal binnesleep.

Spoedbloedtoetse is gedoen, wat ‘n verhoogde witbloedtelling aangedui het. Heather is vir ‘n sonar gestuur, en die chirurg het begin gereedmaak vir die operasie.

Dit was op pad na die sonar dat Arlyn die eerste verandering by Heather opgemerk het. Tot nou kon sy net op haar pyn konsentreer. Skielik begin sy gesels met die vroue langs haar. Sy vra haar selfoon om ‘n vriendin te skakel. Sy kon selfs orent kom en opstaan.

Toe vind die sonar plaas. Die radiografis kon nie die ontsteekte blindederm sien nie. Die radioloog kom handjie bysit. Hulle druk op die pynlike area van haar liggaam, maar Heather beleef nou nie meer pyn nie. Chirurgie was nie meer aangewese nie.

Soos verantwoordelike dokters betaam, is Heather vir waarneming gehou. ‘n Paar uur later is sy ontslaan, met die instruksie om dadelik terug te kom as die pyn terugkeer. Op pad huis toe wou Heather eers by die winkel stop om nuwe jeans te koop.

By die huis aangekom, lui die foon. Dit is die bekommerde dominee wat gehoor het van Heather se terugslag. Hy wil hoor hoe het die operasie afgeloop. Heather het die oproep beantwoord. Arlyn hoor hoe sy sê: “Alles is reg, dominee. Geen operasie nie. Ek het wel verskriklike pyn gehad. Toe bid my ma vir my. Die Here het my toe genees.”

Ons teks

Ons teks (7-13) handel oor Jesus, die Een wat stuur.

  • Vers 7: Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee.
  • Verse 12-13: Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Jesus stuur die twaalf dissipels, wat Hy ook apostels (gestuurdes) noem. Hulle moet mense oproep om hulle tot Jesus te bekeer, hulle moet dus na Jesus toe draai. Hy gee hulle mag oor onrein geeste, om duiwels uit te dryf, en om siekes te genees.

Verder bestaan ons teks uit die instruksies wat Jesus aan sy gestuurdes gee. Die instruksies is van sleutelbelang om die sending te laat slaag. Dit pas ook by Wie Jesus is, en hoe Jesus wil hê mense moet sy bediening verstaan (8-11):

  • Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ‘n kierie — geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie.
  • Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie.
  • Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in ‘n plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan.
  • En as ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”
Gestroop van middele

In drie opdragte sê Jesus vir hulle wat saamgeneem kan word, of eerder, wat hulle nie moet saamvat nie. Hy het hulle beveel om niks behalwe ‘n kierie en sandale vir die pad saam te vat nie (3:7, 9). Hy gee hulle dus opdrag om nie dit wat normaalweg op die pad geneem word te vat nie. Nie brood en dus voorsiening vir dit wat hulle gaan eet nie; nie geld of ‘n ekstra kledingstuk en dus voorsiening vir hulle verblyf (3:8) nie.

Die verwysing na ‘n ekstra kledingstuk wys dalk op ‘n oorkleed wat baie algemeen in antieke tye deur armer persone as ‘n soort matras vir die nag gebruik is. Verder is opdrag gegee om nie ‘n gordel of bedelsak te vat vir enige ander voorsienigheid wat dalk verkry kon word (8) nie.

Die doel is om hulle totaal en al afhanklik te maak van diegene na wie hulle gestuur word. Jesus se streng lys stroop die gestuurdes van enige pretensie dat hulle selfvoorsienend en selfgenoegsaam is. Die doel van die opdrag is dalk ook daarin geleë dat hulle hulleself van ander bewegings moes onderskei. Die verskil lê hierin dat hulle volledig van ander afhanklik was.

Jesus se gestuurdes kan nie slaag as hulle vanuit ‘n posisie van mag gaan nie. Mense met ‘n sterk begroting agter hulle kan nie die goeie nuus van Jesus Christus effektief deel nie.

Dieselfde huis

Verder is hulle veronderstel om in die huise waar hulle wel ontvang word, te bly totdat hulle weer verder gaan (10). Die doel hier is dalk dat hulle nie van ‘n minder goeie huis na ‘n goeie huis moes skuif nie. Hulle moes nie later na die meer welvarende lede van die gemeenskap skuif waar die geriewe beter was nie. Hulle moes hulle dus nie laat dring het deur dit wat mense vir hulle kon bied nie.

‘n Verdere rede kan wees dat hulle diep bande moes smee met die mense wat hulle in die eerste plek ontvang het.

Stof afskud

Indien hulle wel nie in huise ontvang sou word en die mense daarby nie na hulle wou luister nie, moes hulle daarvandaan weggaan. Wanneer dit gebeur, moes hulle selfs die stof onderaan hulle voete afskud as aanklag teen hulle (11).

Dit was gebruiklik dat Jode die stof onderaan hulle voete afgeskud het wanneer hulle van heidense gebiede gekom het. Die vraag is egter wat hierdie simboliese opdrag kon beteken? Waarskynlik is daar verskeie verklarings, wat saam gelees moet word:

  • Die dorp word gewaarsku dat hulle God se boodskap en boodskappers verontagsaam en dus ongehoorsaam is;
  • Die gestuurdes het hulle opdrag uitgevoer en is nie langer verantwoordelik vir die dorp nie;
  • Die dorp hoor dit is dalk die laaste geleentheid waar hulle die boodskap van verlossing, bevryding en genesing kan hoor. Hulle verwerping het ernstige gevolge en is ‘n aanklag teen hulle;
  • Deur die erns van die dorp se optrede te beklemtoon, word die dorp gehelp om hulle verwerping daarvan na regte te verstaan vir wat dit is;
  • Die gestuurdes moet weet dat hulle niemand kan verander nie. Verdere aandrang en dwang gaan nie help nie. Volgens Lukas is hulle gestuur na die plekke waar Jesus sou uitkom. Die gestuurdes moet dus leer dat God werk, en dat hulle nie mense hoef te dwing om die boodskap van Jesus te aanvaar nie.
Wat toe gebeur het

Die teksgedeelte sluit af met ‘n verwysing na dit wat hulle gedoen het. Die wat Hy aangestel het om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek (3:14), het gegaan om te verkondig dat die mense hulle moet bekeer (12). Die gesag wat aan hulle gegee is oor die onrein geeste en die opdrag om die duiwels uit te drywe (7, 13), is uitgevoer. Hulle het baie onrein geeste uitgedrywe en baie siekes gesond gemaak (13).

Die verwysing daarna dat hulle gesalf het met olie is die enigste verwysing daarna in die Markus. Dit is ‘n verwysing na ‘n gebruik wat algemeen in die vroeë Christelike kerk geword het. Olie is gebruik as simbool van God se genesing, eerder as ‘n magiese geneesmiddel.

Jesus stuur

Wanneer ons oor die betekenis van ons teks nadink, is dit van belang dat Jesus die een is wat stuur. Die wat hierdie Jesus leer ken het (1-6:6), is nou daarvoor verantwoordelik dat ook ander Hom leer ken. Wie Jesus is, soos ons Jesus tot dusver in die evangelie leer ken het, is van die grootste belang. Jesus, die Een wat die geliefde van God is, die een wat tot bekering roep, mense genees en sonde vergewe, is die Een wat die inhoud van die boodskap bepaal. Hy bring die koninkryk van God naby.

Dit is Jesus wat die apostels stuur. Hulle het saam met Jesus rondgereis, sy woorde en lering gehoor, gesien hoe Hy genees en magtige dade doen. Deurdat hulle gestuur word, kry hulle nou deel aan die bediening van Jesus in die wêreld.

Wat so opvallend van die Twaalf is, is hoe min hulle van Jesus begryp het. Hulle het nie altyd werklik verstaan wat dit wat Jesus doen beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie (6:52; 7:18). Dit is juis hulle – hulle wat nog nie begryp en verstaan nie, wat nog steeds so traag van begrip is (8:17) – wat Hy stuur. Dat hulle wat gestuur word nie werklik verstaan waarmee hulle besig is nie, is ‘n refrein wat deur Markus weerklink (4:13, 41; 8:18, 21).

Verteenwoordigers

Dit is Jesus wat die apostels stuur (7). Hulle is nou sy – hierdie Jesus – se verteenwoordigers. Hulle gaan nou – namens Hom en in sy plek – om Jesus se sending te volvoer.

Wat gaan hulle doen? Wat is hulle werk? Die teksgedeelte fokus veral op die baie siekes wat gesond gemaak word (12), op die mag wat oor die onrein geeste gegee is (7) en op die uitdrywing van die duiwels (12).

Boodskap van ons teks

Ons teks help die gemeente van die Here van alle tye om helderheid oor ons taak en roeping te kry.

Dit is duidelik dat die dissipels van die Here, die geloofsgemeenskap, gestuurdes is. Ons lewe as dissipels staan in diens van die verlossing wat Jesus bring. Die verlossing gaan oor ‘n herstelde verhouding tot God, wat kom deur sondebelydenis en bekering, deur die belewenis van God se vergifnis in Jesus Christus. Die verlossing bevry ons ook van die bose, en maak ons vry van die mag van dood en siekte.

Die genesing en bevryding is tekens wat vooruitwys na die heerlike, finale genesing wat daar op die kinders van God wag. In ons gebroke wêreld waarborg dit nie genesing vir elke gelowige se elke siekte nie. Tog vind daar meer genesing van siekte plaas as waarvoor ons geneig is om erkenning te gee.

Genesing

Ons teks moedig ons aan om te bid vir genesing. Arlyn Lawrence was ook maar beskeie, sy was nie gewoond aan bid vir genesing nie. Tog het sy dit gewaag. Daar het ‘n wonder gebeur. Hierdie soort wonder is eintlik normaal binne die koninkryk van God.

Freddie, ‘n vriend, se dogter het erge asma gehad. Sy wou later nie meer reageer op enige medikasie nie. Freddie en sy vriende in die selgroep het ernstig begin bid. Die Alpha-kursus wat hulle saam gedoen het, het hulle die vrymoedigheid gegee. ‘n Wonder het gebeur, want sy het weer op die medikasie begin reageer. Die groep kon God loof en dank vir beide die medisyne en haar liggaam se positiewe reaksie op die behandeling.

Ons as Westerlinge kan so wetenskaplik raak dat ons die vanselfsprekende wonder van God se daaglikse aanraking en genesing nooit raaksien, of daarom vra nie. Ons leef in ‘n geslote wêreld, waar daar min ruimte is vir die feit dat God soms die effek van siekte en lyding wegneem. Soms ook nie, soos in Paulus se geval waar God se genade vir hom genoeg was.

Hoe minder ons bid om genesing en herstel, hoe minder daarvan beleef ons.

Bevryding

Die dissipelgemeenskap se bediening bring ook bevryding van die bose. Ons het mag oor die bose geeste.

Ook hier het Westerlinge ‘n ernstige blindekol. Vir ons is die bose dikwels “iets” wat nie bestaan nie. Westerlinge is bekend daarvoor dat ons die werklikheid van boosheid onderskat en wegpraat.

Vir die Bybel is daar ‘n kosmiese geveg aan die gang tussen goed en kwaad, skryf teoloog Scot McKnight (in sy boek Open to the Spirit). Daar is magte en owerhede. Mense het – sedert die Tuin van Eden – hulself oorgee en verbind aan die magte van duisternis. Die Bybel noem hierdie Vyand die slang, Satan, duiwel, demone of bose geeste. Hierdie magte skop nes in ons lewens, maar ook in ons instellings, en draai God se goeie wêreld om in ‘n vernietigende mag. Dink maar aan slawerny, apartheid, kommunisme, ongebreidelde kapitalisme. Dink aan die mishandeling van vroue en kinders.

Hierdie ellende kan nie maar net aan mense toegeskryf word nie, sê McKnight. Iets groters is aan die werk.

Jesus het egter die oorwinning oor die bose behaal. Die Nuwe Testament beskryf dit op drie plekke en maniere (McKnight):

  • Tydens Jesus se versoeking in die woestyn, toe Hy die bose oorwin het;
  • In Jesus se oorwinning aan die kruis en deur die leë graf, en
  • Met die wederkoms wanneer die bose finaal uit die weg geruim word.

In ons wêreld is hierdie oorwinning reeds aan die werk. Daarom kon Jesus se gestuurdes ook die magte van die bose se rug knak. Dit bring vir mense vryheid.

Die kerk se bediening is om vryheid te bring vir mense wat deur sonde en die magte gebind is.

Bekering

Die boodskap van bekering moet deur die kerk lewens gehou word. Ons doen dit deur van Jesus te vertel. Bekering is nie moralisering nie. Bie bekeringsboodskap is nie ‘n oproep om van ‘n paar sondes weg te staan nie. Bekering is om die gang van jou lewe op Jesus te rig. Dit is om weg te draai van sonde en vir Jesus te lewe.

Die boodskap van bekering vra woorde. Dade is nie genoeg nie.

Gestroop

Dit is duidelik dat Jesus se verteenwoordigers nie vanuit ‘n posisie van mag die Here se boodskap aan ander kan deurgee nie. Die Here se boodskap word oorgedra vanuit ‘n posisie van swakheid, waar ons afhanklik is van die ontvangs wat diegene na wie die Here ons stuur ons gee.

Meer welvarende mense kan nie – ondersteun deur hul dik beursies – die boodskap aan minder welvarendes deurgee nie. Die boodskap vloei op grond van die gasvryheid en ontvanklikheid van die ander.

Die ouer geslag kan die jong geslag nie evangeliseer terwyl ons in beheer bly nie – ons is afhanklik van dit wat vir hulle belangrik is, hulle ontvangs.

Ons kan diegene wat na ons kom om die Here by ons te kom leer ken, nie ontvang deur hulle eers te probeer verander om soos ons te word nie.

Dat ons gestroop word – en stroopbaar is – is van wesenlike belang.

Nuwe gemeenskap

Ons moenie die nuwe gemeenskap wat in ons teks ontstaan, miskyk nie. Oral waar Jesus se gestuurdes ontvang word, bly hulle oor en kom daar nuwe gemeenskap tot stand. Mense word in ‘n verhouding met Jesus en nuwe gelowiges ingetrek.

Ons het vandag gemeentes nodig wat die kuns bemeester om mense – die mense na wie Jesus ons stuur en die mense wat Jesus na ons stuur – in nuwe gemeenskap in te trek. Dit is, gemeenskap in die Naam van Jesus Christus.

Koninkryk van God

Deur ons bediening, as verteenwoordigers van Jesus, kom die koninkryk van God tot by mense. Dit is ‘n wonderlike voorreg om deel te wees van Jesus se bediening in die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lies 286 “Here God van liefde 1”

Seën: 2 Kor 13:13
Die Here seën jou en stuur jou.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: ©  Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.