Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Efesiërs 1:3-14

Teks

Wat ʼn ryk teks! Dit bevat daardie baie bekende lang sin in die Bybel (1:3-14). Uiteraard is die insig daarin nie sonder meer duidelik vanuit vertalings, wat in hulle pogings om van hierdie grammatikale labirint sin te maak, dit noodgedwonge in verskeie sinne opbreek nie. Donald Hagner stel dit in sy kommentaar soos volg: “In the Greek text, 1:3-14 is a single long sentence of 202 words which one frequently quoted scholar (Eduard Norden, 1913) considers to be the most monstrous sentence conglomeration (cannot even correctly call it a sentence) that he has ever found in the Greek language!” Trouens, Efesiërs – waarby ons die volgende weke gaan stilstaan – het verskeie lang sinne in die grondteks (sien ook 1:15-23; 2:1-7; 3:2-13; 3:14-19; 4:1-6; 4:11-16; 6:14-20), met ʼn geneigdheid om gebed en lofuitinge (soos in 1:15-13 en 3:14-19) in sulke “onverstaanbare” lang sinne uit te druk.

In bogenoemde eerste waarneming is reeds ʼn belangrike punt: Moenie sonder meer oor die lang en grammatikaal ingewikkelde sin kla nie. Verwonder jou eerder aan die kaleidoskopiese skouspel, panoramiese uitsigte en wonderlike elastisiteit van wat dit beteken om “in Christus” (v 3, 4, 7, 11, 13) te wees. Dit sin is weliswaar ʼn mondvol, tog gaan dit net om God. Ons is van God, deur God, voor God en vir God. Wie oor God wil praat, veral lofprysend met God wil praat, kan eintlik net so praat.

Eugene Peterson skryf tereg in sy werk oor hierdie perikoop: “This is no small, cramped world in which we live from hand to mouth. The horizons are vast. The heavens are high. The oceans are deep. We have elbowroom to spare … Ephesians plunges us into oceans deeps, and we come up gasping for air. This is going to take some getting used to.” Martin se aanvoeling oor die teks is reg: “… the present passage is still a long way from a set creedal statement and it shares more in the exultant outbursts of praise that go back to the enthusiasm and charismatic freedom that characterized the Pauline congregations.” Ons het hier met ʼn onverfynde liturgie te make wat ons op meer as een vlak uitdaag.

Wat die struktuur aanbetref, veronderstel die eerste gewaarwording van hier bo allermins dat ons met ’n slordige gebabbel te doen het. Dit mag dalk na ’n uitbundige uitbarsting klink sonder allerlei hoë dogmatiese of liturgiese insette. Tog vertoon die sin besonderse merkers en ’n verstommende vloei en opbou. Hierdie lofrede omvat ons chronologie van verlede, hede en toekoms. In dieselfde asem, is dit volledig trinitaries. Dit loop telkens uit op die refrein: “Daarom moet ons die grootheid van God prys” (v 6, 12, 14).

Vers drie word as ’n samevattende inleiding tot die hele perikoop gesien (as hoofsin binne die lang sin). Vers 4-14 eggo dus slegs wat reeds in vers 3 verwoord is. Die woord waarmee vers vier begin (kathōs), funksioneer in hierdie sin as dubbelpunt. Die aanduidings in vers 6, 12 en 14 wys dat die dubbelpunt nie net betrekking op die eerste deel in vers 4-6 het nie. Dit sluit ook vers 7-12 en 13-14 in.

Vir ’n teologiese lees van hierdie teks, is Karl Barth se kommentaar op die Efesiërsbrief van 1921-22 belangrik. Dit is een van die eerste lesings in Nuwe Testamentiese eksegese wat hy gegee het nadat hy in 1921 in Göttingen aangekom het. (Volgens sy biografie het hy reeds vanaf 1918 tydens sy bediening in Safenwil intens met die Efesiërsbrief omgegaan. Hy het daardie jaar die brief met sy belydenisklas bespreek en het die daaropvolgende jaar etlike maande lank ʼn preekreeks rondom die brief aangebied. Tydens die skryfproses en latere hersiening van sy bekende Romeinekommentaar, het Efesiërs hom ook geboei. Sy eerste akademiese lesings in Nuwe Testamentiese eksegese in Göttingen het juis met Efesiërs begin.)

Daar is merkbare ooreenkomste sowel as verskille tussen Barth se bekende hersiene kommentaar op Romeine en die Efesiërskommentaar. Barth slaag met laasgenoemde daarin om sy eksegetiese bevindinge en teologiese insigte as sodanig al meer te integreer. Francis Watson skryf in sy inleidende opstel tot die kommentaar die volgende: “The movement is no longer away from the text but around it. Barth’s Ephesians is not transparent; it bears witness.”

Daar is gewigtiger redes waarom Barth se kommentaar vir ons so ter sake is. Tien van die dertien beskikbare lesings in die semester handel oor Efesiërs 1:1-14. Barth (2017:92) se kommentaar by lesing vyf, nadat studente amptelik gekla het hulle vorder te stadig (amper halfpad in die semester en nog net by hoofstuk 1 vers 3!), is insiggewend: “Complaint: too slow; text not simple, not insignificant, not first controversy. Understand: to understand something from the word, no control how far to understand or not to understand … Our goal is to understand the text. We have no control over how far we go or do not go when it is a matter of understanding something from the Word.”

Kortom, buiten dat Barth geglo het hierdie doksologie en proloog ontsettend baie openbaar (“ons durf nie daardeur jaag of self die pas bepaal nie”), het dit terselfdertyd ʼn belangrike indruk op sy teologiese ontwikkeling gelaat. Net soos met sy lees van Romeine, is die vertroue en vreugde volkome in die Sache van die teks self wat opnuut kontak met die hoorders sal bewerk. Barth (2017:126) se laaste woorde oor hierdie perikoop is: “I hope that I have convinced you that it is possible to enter sympathetically with Paul and not only to see along with him at that point where the subject matter, the incommensurable, Jesus Christ, speaks and becomes his own interpreter. Since the passage affords such extraordinary possibilities for such a reading, I am surprised that it has not been more prominent in historic and systematic accounts of Christianity, and I hope that you are not disappointed that we have devoted the majority of the course to it.”

Barth (2017:81) begin in sy kommentaar oor die doksologie met ʼn kenmerkende aanvoeling vir die kwalitatiewe onderskeid en ordening in die verhouding tussen God en mens: “This infinite is precisely what unites the creature and the creator. God can bless man only as his creature; man can bless God only as his creator. The recognition of this infinite distinction is precisely what makes the blessing and the praise both meet and right. Recognition of God’s divinity establishes the divine Otherness, the ‘aliter’; and precisely by being established, it is sublated.”

Die aanvang van die teks waarvan die beslissende gedagte reeds in vers 3 staan, stel dit duidelik: Ons is nie net deur God geskep nie, maar ook vir God. So ʼn bestaan in God omvat ons verlede en toekoms, herinnerings en verwagtings en stuur ons volledig, bepalend en beslissend die hede in. Om só te kan “sing” en in lof uit te jubel, veronderstel ’n werklik noemenswaardige kennis van God. Sulke lof is nie net vanuit kennis van God gebore en daarop gegrond nie, maar soek, smag en verwag terselfdertyd nog méér kennis van hierdie (“bekennende”) God. Barth (2017:81) som die gees en bedoeling van hierdie perikoop só op: “Paul will not allow them to remain as mere spectators and contemplatives; rather he summons them into the sphere of the subject – to a vocation, a movement, an upheaval, a sublimation of time and everything temporal by eternity, in which we come to our senses and walk before God. And all of this takes place in Christ.”

Die insig is dat ons hier met ’n ryke werklikheid (“in Christus”, die refrein van vers 3,4,7,11,13) te make het wat na alle kante toe slaan. Byvoorbeeld, “in Christus” ontvang ons God ook as ons Vader en Gees in ons hede, verlede en toekoms. In hierdie panoramiese blik beklemtoon “in Christus” (as sleutel om die labirint van ʼn sin vir ons te onsluit) ons verkiesing (v 4-6), bevryding (v 7-10), hoop (v 11-12) en verseëling met die Gees (v 13-14).

Die eenvoud van die evangelie is allermins enkelvoudig, maar ryk, onuitputlik diep en omvattend. Ons durf nie die reikwydte en panoramiese blik van wat dit beteken om “in Christus” te wees, vir een oomblik mis te kyk nie. Eerder as om alles in temas te wil opbreek (en moontlik van mekaar te isoleer of selfs as ’n versameling van los-en-vas gedagtes te wil hanteer), moet ons gevoelig wees vir die werklikheid dat ons met ’n enkele kerygma (die saak in sy volle verweefdheid) te make het. (Om byvoorbeeld uitsluitlik op die uitverkiesing te wil fokus, hou die wesenlike gevaar in dat die verband met ander konsepte waarmee ons “in Christus” assosieer, asook die breëre konteks en genre van lof en gebed, sal ontspoor.)

Dit kom dus vir Barth (2017:82) op die volgende neer: “We are placed before God, claimed by God, born from God, and determined for God.” Só ʼn deurlopende gerigtheid en aksent op God, impliseer allermins vir hom dat ons hiermee ʼn beter greep en houvas op God verkry. Inteendeel, om so in die greep van God te wees, laat by Barth (2017:83) die volgende bekende gewaarwording ontstaan: “‘In Christ’ God draws near in his self-revelation, while remaining distant, strange, and incomprehensible: the Deus absconditus.

Om God te ken, “in Christus te wees” en te bid (loof en prys), is nie om God in besit te neem nie, maar veel eerder om besit te word. Dit is veral om in beweging te kom, onvermydelik die hoof te buig en in rede en lied tot gebed oor te gaan. Die gesaghebbende Barth-kenner, John Webster (2017:49), se laaste woorde tydens sy skielike en ontydige dood is profeties: “There is a reminder in what Barth struggled to articulate to his audience almost a century ago: only when we have come to know that God is beyond all relations may we understand and enact the relation to him in which we have been caused to stand.”

ʼn Frase wat veral in Barth se kommentaar intens bespreek word en die gees van die gedeelte goed saamvat, is vers 3 se “[‘in Christus’] geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (1983-vertaling). Die werklikheid van ons “in Christus” wees, kan eenvoudig nie bemeester, verburgerlik, besit of verpak word nie. Dit is nooit ʼn saak wat met ons klaar is nie. Daar is klarigheid, maar dit is nie klaar nie! Barth lei dit af van die wete dat God ons uitdruklik met seëninge seën: “If in giving his gift, God ceased to be a mystery, then the gift would not be God’s gift” (Barth 2017:88).

Hierdie gawe en geestelike seëninge is en bly ʼn gawe van God wat Hy voortdurend en opnuut aan ons skenk. Ons is ons nooit besitters en meesters hiervan nie, maar konstante ontvangers. “We have what only God has, what we [can] have only in God, who unites time and eternity. In other words, we have what we must receive continuously from God in each present moment” (Barth 2017:107). Omtrent ʼn mondvol om aan te herkou … of nog beter gestel: ’n ryke mondvol waarmee ons gekou word!

Konteks

Barth se teologiese lees dwing ons om ook kortliks iets meer van die rowwe, ruwe en polemiese aard van hierdie teks in ʼn soortgelyke konteks te plaas. Die liturgiese (biddende en lofprysende) aard van hierdie teks, staan nie teenoor laasgenoemde nie, maar bring dit nog duideliker na vore.

In ʼn konteks waar die diskoers rondom identiteit so fel is soos by ons, bring hierdie lofprysende sin ʼn getuienis na vore. Die aksent op ʼn bepaalde soort God en vorm van aanbidding wat hier voorgestel word, is allermins ʼn vorm van ontvlugting of onttrekking van ʼn konteks en wêreld waarin hierdie soort diskoerse plaasvind. Dit is ook nie neutraal nie, maar in sekere gevalle destabiliserend vir ons normale praktyke en gewoontes van aanbidding.

Teen dié agtergrond verwys ek vlugtig na Azille Coetzee se onlangse debuut In my vel – ʼn reis. Die sentrale vraag waaroor sy in hierdie reisjoernaal peins, is wat dit beteken om wit en Afrikaans te wees. Ná haar voorgraadse studies op Stellenbosch, is sy na die Vrije Universiteit in Amsterdam toe met die verwagting dat sy na haar herkoms teruggaan, maklik sal aanpas en gaan tuiskom, om waarskynlik vir altyd daar gaan bly.

Tog gaan die vraag na “Wie ben ik?” nooit werklik weg nie. Redelik vroeg in haar besinning, antwoord Coetzee (2019:12) hierop: “ʼn Genuanseerde antwoord op die vraag van my identiteit sal wees dat Afrikaanse kultuur juis ʼn vreemde vermenging van al hierdie teenstrydighede is: tradisie en rebellie; ʼn nostalgie vir ʼn verlede en ʼn hunkering na transendensie; verplasing oor tyd en ruimte; inburgering en vervreemding; en die kreatiwiteit en veerkragtigheid wat met soveel dubbelsinnigheid gepaard gaan.” Haar onverwagse vervreemding oor die lewe in Amsterdam groei mettertyd ál sterker: “Hierdie eenvoud van ʼn enkele, suiwere identiteit. Die gemak van vergetelheid. God weet, maar dit voel nie reg nie” (2019:17).

In Amsterdam beleef Coetzee hoe dit min of meer voel om “nét nie ‘wit’ genoeg (te wees) nie”. “Ons (as wit en Afrikaans, binne die Nederlandse konteks) praat net te hard, ons drink net te veel, ons lag te maklik en ons wil onsself net ʼn bietjie te veel geniet. Ons is nét nie ‘wit’ genoeg nie” (2019:33).

Gedagtig aan haar Suid-Afrikaanse konteks, is daar tog ook ʼn ongemaklike merk van witheid wat aan Afrikaans kleef: “Al is dit vir my onmoontlik om trots Afrikaner te wees ná al die verwoesting wat my voorouers gesaai het, en al die haat wat daar in my land ontketen is in die naam van hierdie identiteit, is my liefde vir die Afrikaanse taal onmiskenbaar. Dit is ʼn taal swaar gelaai met smart en haat en vrees, en deurweek met verdrukking en pyn. Dit is ook ʼn taal van verset, van hoop en drif. Dit is ʼn taal met ʼn houvas op sy sprekers” (2019:66).

Is daar ʼn weg vorentoe waarin Afrikaansheid gemaklik, losser en ligter aan ons kan kom sit? Is dit moontlik dat ons nie so swaar hoef te dra aan die taal en kleur wat so gewigtig is nie?

Sy worstel met dié vrae teen die agtergrond van insigte soos: “Kleurblind is [tog net iets] wat ʼn mens kan wees as jou kleur die norm is. Wanneer die samelewing waarin jy woon jou toelaat om aan te neem dat jou ervaring almal anders se ervaring verteenwoordig … Om kleur te sien, vereis van ʼn mens om verskille ernstig op te neem, om ervarings van die wêreld wat verskil van joune as legitiem en belangrik te aanvaar” (2019:116). In ʼn treffende formulering stel sy die problematiek en stryd rondom haar identiteit soos volg: “Ek is nie ʼn wêreldburger met Afrika-wortels nie, maar ʼn Afrika-burger met hardnekkige koloniale wortels” (2019:145). “Hoe kan ek, as wit bevoorregte Afrikaanse Suid-Afrikaner, ʼn etiese bestaan in Suid-Afrika voer? Hoe moet ek leef in ʼn land waar my identiteit, taal, kultuur onlosmaaklik met ʼn koloniale geskiedenis van verskriklike onderdrukking verweef is? En waar die bevoorregting waarin ek leef deur die uitbuiting en onderdrukking van ander moontlik gemaak is? Hoe bewoon ek hierdie identiteit en hoe leef ek met al my bevoorregting op ʼn herstellende, transformerende en etiese manier?” (2019:174).

Die insigte van ons teks kan sekerlik met hierdie soort vrae in gesprek gaan. Vervolgens ʼn voorstel van hoe om moontlik die brug tussen teks en konteks te slaan.

Preekvoorstel

Identiteitspolitiek is op soveel vlakke ʼn onafwendbare gegewe in die Suid-Afrikaanse sosio-politiese diskoers. Deels het dit beslis met ons apartheidsverlede te make en die groter postkoloniale raamwerk waarin ons leef (saam met soveel ander in die wêreld). Deels maak die evangelie ons in die besonder sensitief hiervoor, met die oproep dat ons konstruktief aan die diskoers sal deelneem en aan die evangelie gestalte gee. Identiteit en sy meegaande politiek is ʼn aktuele Suid-Afrikaanse nuusstorie. Dit is egter beslis ook ʼn Bybelse nuusstorie wat deurgaans ʼn integrale deel van die hoofnuus wil bly. Efesiërs 1:3-14 is geen uitsondering in hierdie verband nie. Die teks is op soveel vlakke vir ons goeie nuus in ʼn diskoers wat meermale soos ’n labirint vol doodlooppunte voorkom. Die diskoers het verskuilde agendas en verstrengelde politiek korrekte begrippe en gekaapte forums wat die eenvoud en misterie van ʼn labirint versluier. Efesiërs 1 is egter wel polemies van aard en sal ook bepaalde belangekonflikte ontbloot. Efesiërs se polemiek en konflik is egter andersoortig, soos ook die wyse waarop dit identiteit en die vorming daarvan verstaan.

ʼn Uitstekende homilie oor die gedeelte deur Craig Barnes in 2018 aan Princeton Theological Seminary (sedert 2012 president van dié gesogte instelling; talle van sy weeklikse aanbiedings is op YouTube beskikbaar) gee reg aan die begin van die homilie erkenning daaraan dat die kwessie van identiteitsvrae vandag binne soveel kontekste ons bestaan kenmerk. Vergelyk ons hierdie soort vrae en gesprekke met dié van vorige geslagte, is die verskil in die opvatting oor wat identiteit is vandag opvallend.

Identiteit vandag is grotendeels iets wat ons self skep en konstrueer, terwyl dit enkele dekades gelede nog iets was wat jy met geboorte as ’n gegewe ontvang het. Daarvolgens het jou familie van oorsprong op meeste vlakke jou identiteit bepaal. Die algemene verwagting was dat iemand eenvoudig sou voortgaan met die identiteitsrolle van sy of haar familie. Individue se keuses was beperk.

Volgens Efesiërs 1 is identiteit steeds ʼn natuurlike gegewe en vaste besitting, maar ook ʼn self-gekonstrueerde keuse. Ons het weliswaar “in Christus” ʼn bepaalde sleutel om die labirint te ontsluit, maar die drie-enige God word nooit ons besitting of selfgekonstrueerde keuse nie. Die wonder van ons diepste identiteit wat in Christus aan ons geskenk en geopenbaar is, bring ons juis in beweging. Dit gee vir ons panoramiese uitsigte, kaleidoskopiese kleure en elastiese reikwydtes waarin ons begin om ander mense te omarm en verwelkom. Die toewyding en verbondenheid aan hierdie soort teologiese identiteit vorm die basis van ons gebede en lofprysende handelings. Dit is steeds by uitstek die goeie nuus van die dag.

“In Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” is slegs een sin, maar wat ’n woordryke, singende en lofprysende een soos nêrens elders te vinde nie! Een sin, en tog ʼn mondvol!

Wat ʼn heerlike labirint om in te wandel … selfs al neem dit amper die volle “semester” in beslag …

Bibliografie

Barnes, C 2018. President Barnes preaches on Ephesians 1:1-14.; Barth, K 2017. The Epistle to the Ephesians. Grand Rapids: Baker Academic; Coetzee, A 2019. In my vel. ’n Reis. Kaapstad: Tafelberg; Hagner, DA 2002. Ephesians. An exegetical commentary. Grand Rapids: Baker Academic; Martin, R 1991. Ephesians, Colossians, and Philemon (Interpretation). Atlanta: John Knox Press; Peterson, EH 2010. Practice Resurrection. A conversation on growing up in Christ. Grand Rapids: Eerdmans; Watson, F 2017. Barth, K Ephesians, and the Practice of Theological Exegesis, in: Barth, K The Epistle to the Ephesians, 13-30. Grand Rapids: Baker Academic; Webster, J 2017. ‘A Relation beyond All Relations’: God and Creatures in Barth’s Lectures on Ephesians, 1921-22, in Karl Barth, The Epistle to the Ephesians, 31-49. Grand Rapids: Baker Academic.

© Missio 2024 | All rights reserved.