Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Fokusteks

Genesis 18:1-10

Ander tekste

Psalm 15 sê voor Hom pas dit ons om opreg te wees.
Kolossense 1:15-28
getuig van die verdere verskyning van God in Jesus as oorwinnaar oor die dood en Here van die kerk.
Hy is die vervulde Belofte voor wie ons in aanbidding verkeer. Soos Marta en Maria (en Abraham) het ons die voorreg om Hom in ons lewe te ontvang (Luk 10:38-42).

Genesis 18:1-10a
Abraham ontvang drie besoekers
18 Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, 2kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. 3Hy het gesê: “Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”
Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!”

6Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

7Daarna het hy na die beeste toe gedraf en ’n mooi jong kalf gevat en vir ’n slaaf gegee om dit gou voor te berei. 8Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien.

9Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.”

10Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara ’n seun hê.”
Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant. 11Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring, 12en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?

13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ’n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? 14Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ’n seun hê.”

15Sara het geskrik en toe ’n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê.
Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

Eksegeties

In sy bespreking van Genesis 18:1-19:38 sê Gordon Wenham: “No period of twenty-four hours in Abraham’s life is described more fully than this.” Die detail bevestig juis die belangrikheid van hierdie spesifieke episode in die plot van die Abrahamverhaal. In die lig van die groter Skrifdeel sê Wenham dit is nie dadelik duidelik hoe al die gebeurtenisse in dié Skrifdeel betrekking het op die tema van Genesis nie, “the partial fulfilment of the promises.”

Ons perikoop het in die eerste vers ’n opvallende woord in Afrikaans, naamlik “verskyn”. Beide die 1933- en 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel vertaal so. In die Hebreeuse teks is hierdie werkwoord die eerste woord van die perikoop, met Jahwe as subjek. Die Hebreeuse woord beteken letterlik “en het gekom”, maar Green vertaal dit in Engels met “appear”, die ekwivalent van “verskyn” in Afrikaans. In die twee uitdrukkings “gekom” en “verskyn”, lê tog verskillende nuanses. Uit die perspektief van die handelende subjek (Jahwe) is die klem by albei woorde wel dat Jahwe die inisiatief neem. Hy handel en beweeg na Abraham toe. Vanuit Abraham se perspektief is die ervaring van die handeling wat met die woorde “gekom” en “verskyn” beskryf word, tog verskillend. Die gevoelswaarde van die woord “verskyn”, is iets soos skielik, onverwags, vanuit die niet, terwyl “gekom” die indruk wek van beweging en voorbereiding. Van Selms sê die verskyning van die Here is ’n klimaks. Hier verskyn God in menslike gedaante.

Die Hebreeuse werkwoord in die eerste deel van ons perikoop plaas die klem op Jahwe se handeling en inisiatief. Hy verskyn aan . . . Hy kom na . . . en lê besoek af by . . . Daar is doelgerigte handeling by Jahwe ter sprake. Die opskrifte by Genesis 18 in beide die 1933- en 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel, stel Abraham egter voor as sentrale figuur in die verhaal. “Abraham ontvang drie besoekers” (1933) en “Abraham tree op as voorbidder vir Sodom” (1983). Die Studiebybel vir Jongmense (Lewende Bybel) maak ons perikoop deel van Genesis 17:15 tot 18:15, onder die opskrif: “God belowe ’n seun vir Abraham.” So staan die verskyning van die Here in 18:1 dan in verband met die belofte van Jahwe aan Abraham in 17:15. Coenie Burger noem verskillende fokusse by geleerdes: “Coats en Westerman . . . kies ’n neutrale, bloot beskrywende opskrif, naamlik: ‘Die geboorte-aankondiging van Isak’. Von Rad en Zimmerli wil eerder die sogenaamde Godsverskyning . . . as die dominante tema van dié perikoop sien. Brueggemann groepeer . . . die perikoop saam met die voorafgaande twee hoofstukke . . . en behandel dit onder die veelseggende titel: ‘The laughter of Sarah’.”

In ons teks kom die Here na Abraham toe en verskyn op ’n bepaalde plek en tyd aan hom. Die toneel is een van rustigheid en onaktiwiteit. Abraham neem egter waar dat drie mans naby hom staan. Hy sien hulle, draf na hulle toe, buig voor hulle en nooi die mans uit om by hom tuis te gaan. Abraham se optrede getuig van respek vir die mans en gasvryheid teenoor besoekers. Die simbole van gasvryheid word uitgelê: water om die voete te was, ’n koelteboom vir rus en beskerming teen die warm son en brood vir voeding en lewenskrag. Die 1983 Afrikaanse Bybel beskryf die doel met die stukkie brood: “weer nuwe krag kan kry.” Die 1933 Afrikaanse Bybel het die mooi uitdrukking “en versterk u hart”.

Dit is duidelik dat Abraham die teenwoordigheid van die besoekers in sy omgewing nie verstaan as doelbewuste besoek aan hom nie, maar dat hulle reisigers op pad iewers heen is: “U is nou eenmaal op pad hier by my verby . . .” (1983); “. . . daarna kan u verder gaan – want  daarom het u by u kneg aangekom” (1933); “ . . . en krag kry om verder te reis. Noudat u hier by my aangekom het . . .” (Studiebybel vir Jongmense). Dit is duidelik dat Abraham die besoek as ’n saak van eer beskou en dat hy daarom bereid is om sy besoekers te bedien en hul kneg te wees: “. . . want daarom het u by u kneg aangekom” (1933); “. . . gee my tog die eer om iets vir u te doen” (Studiebybel vir Jongmense). Die besoekers reageer deur die guns, respek en gasvryheid te aanvaar: “Hulle het vir hom gesê: ‘Goed! Maak so!’”

Burger noem die gulhartige ontvangs van die drie manne deur Abraham as ’n tweede newemotief. Dit wil iets sê oor medemenslikheid en die behandeling van die vreemdeling (Hebr gér). Hebreërs 13:2 interpreteer die teks as ’n vermaning tot gasvryheid. Burger haak by Matteus 25:31-46 aan en sê dat hier gebeur wat in Matteus 25:35 gevisualiseer of gesimboliseer word. Nel oordeel egter dat daar nie te veel van hierdie motief in die prediking gemaak moet word nie. Bosman sê: “Gasvryheid was in antieke tye juis ’n belangrike sosiale verpligting onder nomades. Daarom word Abraham se gasvrye verwelkoming van drie onbekende besoekers in besonderhede beskryf.”

Vers 6 bring Sara in die verhaal in, as Abraham na haar toe gaan en beveel om brood te bak vir die reisigers. In vers 6-8 word die omvang van die kos wat Abraham vir sy gaste voorsit in detail beskryf: roosterkoeke van sestien kilogram meel, ’n jong kalf, botter en melk. Abraham betrek sy hele huishouding by hierdie daad van gasvryheid en versorging. Nie net Sara kry ’n opdrag nie, maar ook ’n slaaf word aangesê om die vleis voor te berei. Abraham neem self die kos na die gaste en hulle eet daar waar hulle onder die boom rus.

Dan neem die verhaal ’n wending. Die reisigers dra besondere kennis van Abraham en sy gesin. Hulle ken sy vrou se naam. Nou, na die rus en versterking wat die kos bring, kom die doel van hulle besoek aan die lig. Hulle is klaarblyklik nie net op pad verby elders heen nie. Hulle was al die tyd doelgerig op pad na Abraham en Sara toe. Hulle het gekom met ’n missie. Hulle is as ’t ware gestuur. Hulle was op pad daarheen met voorbedagte rade. Uit hulle vraag aan Abraham (v 9) blyk dat hulle nie in die eerste plek gekom het om Abraham te besoek nie. Hulle was daar om Sara te sien: “Toe vra hulle hom: ‘Waar is jou vrou Sara?’” Burger sê dat ons hier nie met nog ’n versoekingsgeskiedenis te doen het nie, maar dat die Here bedoel om Abraham en Sara in hul nood tot hulp te kom – met groot nuus! Van Selms sê die vraag na die vrou van die gasheer is baie ongewoon, selfs “onbescheiden” volgens Oosterse opvatting. Met die vraag na Sara begin die selfopenbaring van God. Die Spreker gee te kenne dat Hy iets wil meedeel wat ook vir Sara belangrik is.

Abraham se antwoord op hulle vraag na waar Sara is, is eenvoudig. Sy is waar vroue van daardie tyd normaalweg was, op haar plek in die tent. Bosman wys daarop dat hierdie verhaal kort na mekaar vier maal na Abraham as tentbewoner verwys (18:2, 6, 9 en 10). Volgens die reaksie van “die een” (1983) op Abraham se antwoord, blyk dit dat hulle tevrede was met wat hy gesê het. Maar dan kom die kern van die besoek aan die lig, ’n tweeledige belofte: die spreker sal oor ’n jaar beslis weer by Abraham besoek kom aflê, en Sara sal teen daardie tyd reeds ’n seun hê. Ons afgebakende teks eindig by hierdie belofte – ’n oop einde. Howard Clark Kee sê van hierdie belofte: “There is no human reason to give credence to such a prediction.”

Vers 10b vertel van Sara se deelname aan die gesprek, sy het afgeluister. Vers 12 beskryf haar reaksie op die belofte van “die een” wat gepraat het. Maar ons teksdeel plaas die fokus op die besoekers en hulle boodskap. Hulle het gekom en verskyn en belowe . . . “The son to be born is God’s gift” (HC Kee). Mullins en Myburgh sê: “Die Here se doel was nie net om Abraham en Sara se hartsbegeerte te vervul en vir hulle ’n seun te gee nie, maar om deur hulle seun sy seën in die wêreld uit te dra.”

Hermeneuties

Annes Nel het ’n preekstudie oor hierdie teks geskryf. Hy beoordeel die leesrooster se tekskeuse as onbevredigend en kies self om, soos die meeste kommentatore, die hele perikoop, tot by vers 15, te behandel. Hou dus die groter perikoop in gedagte wanneer daaroor besin word vir die prediking. Dit is verder ook belangrik om die hele Abraham-siklus te verdiskonteer wanneer hierdie spesifieke toneel bedink en bespreek word. Neem ook kennis van Brueggemann se indeling waarvolgens hy ons perikoop deel maak van 16:1-18:15, met drie spesifieke gedeeltes: 16:1-16; 17:1-27 en 18:1-15.

Na aanleiding van die verskillende perspektiewe op ons perikoop waarna hierbo verwys is, sê Burger dat ons hier moontlik met ’n meervoudige of veelvlakkige verhaal te doen het wat nog ’n prentjie wil wys van Abraham en Sara se lewe met God. “Die outeur is hier steeds besig om vir die lesers die wet en (veral?) die wee van die geloof, van die lewe met Jahwe, te ontvou.” Burger beskryf Genesis 18:1-15 as klassieke antropomorfiese Godsverskyning, wat kommentatore heelwat hoof-brekens besorg. Dit hang daarmee saam dat die verskyning in die enkelvoud aangekondig word, maar dat daar drie manne by Abraham opdaag. Uit die vertelling self is die identiteit van die besoekers nie duidelik nie. Die vertalers van die 1983 Afrikaanse Bybel gee ook nie aanduidings nie. Die 1933-vertaling skryf met verwysing na die spreker in vers 10a, “Hy” met ’n hoofletter. Daarmee word hierdie een persoon geïdentifiseer met die verwysing na Jahwe in vers 1. Die Studiebybel vir Jongmense skryf ook die verwysing na die spreker in vers 10, met ’n hoofletter – “Die Een sê toe . . .”

Rebecca J Kruger Gaudino tel hierdie problematiek op as sy ons perikoop beskryf as die verhaal van Abraham en Sara se gasvryheid teenoor God. Sy sien die Skrifgedeelte as ’n narratief oor die misterie van Teenwoordigheid. “How do we make sense of the three men/the Lord/the ‘they’ who seem to speak as a chorus to Abraham and Sarah?” Volgens haar laat die Joodse dogma nie enige trinitariese aannames toe nie. Van Solms (vgl Nel) beklemtoon ook dat hier geen verwysing na die Drie-eenheid ingelees kan word soos die vroeë kerk gedoen het nie. Kruger Gaudino meen die verwysing is eerder na die idee van ’n “divine council”, waar God vergesel word deur ander “numinous beings”. Sy dink egter die meer interessante eienskap van hierdie narratief is sy aanname dat hierdie misterieuse en oorweldigende Teenwoordigheid tuis is in ons huise. “God comes visiting.” Abraham en Sara se gasvryheid is noemenswaardig, net soos die eer wat die gasheer en gasvrou aan die drie besoekers betoon. Eers na die afhandeling van die groot voorbereidings en die gaste se genieting van die resultate, kom God na vore met die rede vir sy besoek. “Here we have the guest, the one receiving the fruits of hospitality, become the host, the one who gives these fruits.”

Burger beklemtoon die feit dat God hier in die gestalte van ’n ger (vreemdeling) verskyn. Hy argumenteer dat Genesis 18:1-15 die basiese Skrifboodskap verkondig dat die verhouding tot God en die verhouding tot die naaste nie van mekaar losgemaak kan word nie. “In die naaste, moet ons weet, het ons altyd potensieel – méér nog: reëel  – met God te doen.”

Richard P Carlson verwys na Genesis 12:2 waar God aan Abraham ’n groot nasie belowe. Daar is egter ’n deurlopende spanningslyn tussen God se belofte en uiterlike omstandighede. In die voorafgaande hoofstuk word Abraham meegedeel dat God aan hom ’n seun sal gee, deur Sara (17:15-16). Abraham beskou dit as ’n “divine joke” (hy val selfs op sy gesig terwyl hy lag), omdat hy slegs die uiterlike omstandighede kan sien. Abraham is reeds honderd jaar oud en Sara is onvrugbaar. Genesis 18 vertel van nog ’n verskyning van die Here aan Abraham en herhaal die belofte van ’n nageslag. Burger sê: “Hier in Genesis 18 het die verhaal ’n krisispunt bereik . . . In ’n sin lê Genesis 18:1-15 reeds ‘beyond the crisis’. Die gebeure speel hulle af terwyl Abraham en Sara, aan die einde van hulle kragte, aan ’t huiwer is op die rand van ongeloof en uitsiglose gelatenheid.” Weer is daar ’n lag oor God se belofte, nou lag Sara oor die onwaarskynlikheid daarvan as gevolg van die beperkinge van haar ouderdom. Bosman sê: “Hoewel daar geen reaksie op Abraham se lag was nie, word Sara se lag as negatief en kleingelowig ervaar.”

God funksioneer egter vanuit die perspektief van belofte, nie op grond van uitwendige omstandighede nie, en vra in vers 14a: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Dit is die finale vraag wat aan geloof gevra word. “Uit die vraag van God blyk dat geloof nie leef deur dit wat menslik moontlik is nie, maar dit wat God in sy genade en almag kan doen” (Burger). Carlson skryf: “God fulfils divine promises in ways that seem improbable, if not impossible, from our human point of view. God does not operate according to outward circumstances but according to divine faithfulness. While Abraham and Sara are laughing at a birth announcement that is folly to them, God plans to come again in the spring, at which time Sarah will be holding her laughter in the person of a son named Isaac, which means ‘he laughs’.” Die naam is ’n lewenslange herinnering aan haar aanvanklike on-willigheid om God se belofte te glo, maar die naam dien ook “as an enduring witness to the wonderful promises of God to his people, of the regrettable reluctance of humans to believe them, and of the grace of God which fulfil them nonetheless” (HC Kee). Nel sê: “Deurgaans beklemtoon die aartsvaderverhale dat die beloftes God se beloftes bly en nie gebou word op menslike moontlikhede of potensiaal nie. Onvrugbaarheid is daarom ook een van die belangrike temas in hierdie verhale. Die skrywer benadruk hierdeur dat die beloftes van God geskenk word. Wat van die mens gevra word, is om hierdie beloftes te glo, daarin te rus.”

Burger lê klem op die dramatiese karakter van hierdie geboorte-aankondiging. “Dis meer as maar net nog ’n belofte: dis die vervulling wat nou aangekondig word . . .  met ’n vaste tydsbepaling daarby.” God bevestig deur hierdie belofte dat Hy nie van sy verbond vergeet het nie (Nel). Aan die anderkant van die munt hoor ons die verbysterende reaksie van Abraham en Sara. Burger sê daarvan: “So dik is die pantser van twyfel, skepsis en verwagtingloosheid dat die nuus haar skynbaar op geen vlak raak nie.” Nel sê in aansluiting by Brueggemann dat Abraham, maar veral Sara, nie as geloofsmodelle voorgestel word nie, maar eerder as voorbeelde van ongeloof. God open egter ’n nuwe toekoms vir sy verbondsvolk met die belofte van ’n kind deur Abraham en Sara. “Selfs hulle ongeloof kan God se vaste voorneme om vir Hom ’n volk te vergader, nie ongedaan maak nie” (Nel).

Burger vra ook na die interpretasie van die lag van Sara en argumenteer dat die outeur ’n bepaalde simplistiese konsep van geloof die nek inslaan. “Geloof is nie maar ’n gladde, maklike weg nie. Geloof is iets anders as bloot blinde handhawing van jeugdige lewensoptimisme. Geloof is meer as ’n poging tot positiewe denke. Geloof het ’n ander, donkerder kant ook . . . hierdie lag van Sara (is) nie ’n ongeloofslag wat buite die geloof lê nie. Ook hierdie skor lag is deel van geloof en deel van die lewe met Jahwe . . . soms . . . kan . . . net Hy alleen nog in ’n afgetrokke lag die roep na God hoor.” Burger sê verder dat Sara se lag nie oppervlakkig was nie. Sy het rede gehad om te lag, aangesien dit wat aan haar belowe is, fisiek nie meer moontlik was nie. Wenham sê: “. . . her unbelief is not arrogance but despair after a lifetime of disappointment that had taught her not to clutch at straws.” Maar, “die belofte van God berus in sy trou en is daarom altyd ’n geskenk van God.”

In aansluiting by Brueggemann wys Burger op enkele elemente van geloof wat in hierdie verhaal aan die lig kom. Eerstens laat die verhaal ons die swaar kant van geloof sien. Tweedens beteken geloof soms ’n lewe met teleurstelling, disharmonie en ontnugtering. Hier bereik die teleurstelling van die geloof ’n ontstellende laagtepunt. Brueggemann (by Burger) sê: “This story embodies a statement of irony, for the total Abraham/Sara story is about a call embraced. But in the central narrative (Gen 18:1-15) the call is not embraced(!). It is rejected as nonsensical.” Daarom sê Burger: “So diep kan geloof soms sak dat ’n mens wonder of jy dit nog geloof kan noem?”

Nel vestig juis die aandag op ’n tweede belangrike saak, naamlik die vraag of ons nie dalk in baie geloofsgemeenskappe ’n punt bereik het waar die moontlikheid van buitengewone dinge vir die Here, deur ’n siniese gelag begroet word nie. Hierdie verhaal konfronteer ons tog met die vraag of ons in die God van die onmoontlike glo. Kan God ons nog verras? Hy wys op die belangrike onderskeid wat Brueggemann maak tussen wat moontlik is en wat belowe word. Nel kom tot die gevolgtrekking: “Natuurlik is God ook groter as sy beloftes, maar dit bly altyd God wat skenk. Sy doel met sy beloftes in die aartsvaderverhale is baie duidelik: Die nuwe begin na die troostelose verhale van Genesis 1-11, naamlik die belofte van ’n nageslag en die belofte van ’n land, is God se nuwe begin.”

Kruger Gaudino maak belangrike opmerkings oor Pinksterdag, die seisoen van Pinkster en die tyd daarna (Die RCL en die Leesrooster praat van Koninkrykstyd as die tyd na Pinkster, soms ook genoem gewone tyd), wat perspektiewe bied vir die temas van gasvryheid en vrygewigheid. In die Hebreeuse geskrifte is hierdie sogenaamde pelgrimsfees, wat deel gevorm het van die Joodse Fees van die Weke, aan die einde van die graanoes gevier – ook “Dag van die Eerste Vrugte” genoem, ’n dag van offers uit dankbaarheid vir God se vrygewigheid en sorg. Mettertyd, veral na die vernietiging van die Jerusalemtempel in 70 nC, is hierdie fees gekoppel aan God se verbond met Israel en die gee van die Tora.

Sy toon ook ooreenkomste aan tussen die genoemde Joodse fees en die Christen Paasfees, die eerste dag vanwaar Pinkster bereken word. Christene vier ook ’n oesfees, nie van lewegewende graan nie, maar van die lewegewende Gees; ook die tyd om God se verbond met die nuwe mensheid te onthou, “for with the giving of the Spirit, the early church was empowered to proceed into the era of the new covenant inaugurated by Jesus Christ, the new lawgiver.” In Koninkrykstyd kry die gemeente geleentheid om haarself te oefen in die lewe van die nuwe verbond wat deur die Gees van Pinkster as pand verseker word.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: God betoon Homself as die God van die belofte. Dit is dieselfde God voor wie ons vandag verskyn.

Rus

Aanvangswoord
Voorganger:
Psalm 15:1-2 (NLV)
Gemeente: Heilig is die Here God.

Oproep tot aanbidding (voor die seëngroet)
Voorganger: Laat ons die Vader en die Seun en die Heilige Gees vereer en aanbid.
Gemeente: Ons eer U vir alles wat U vir ons doen.
U is goed vir ons.
Ek vestig my hoop net op U (uit Ps 52:11 –  ’n alternatiewe Psalm in die RCL aangedui).

Gebed omopeningvan die Woord
Lees Psalm 119:49-56. Sluit af met ’n vry gebed of met die Ons Vader-gebed (Matt 6:9-13) volgens die NLV.

Lied

Samekoms
Lied 164/ NSG 351 “Ons is almal hier tesaam”

Loflied
Psalm 105:1;
Psalm 146:1, 6 (Totius);
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Toewydingslied of by gebed vir die opening van die
Woord: Lied 163 “Soos ’n wildsbok”
Klag: Flam 19 “Heer, Hoe lank?”

Uitsending
Lied 533 “Stuur ons Here”;
Lied 588 “O God van hoop, gee ons u vrede”;
NSG 294 “Voortdurend hoop ek”;
Flam 70 “Lig vir die wêreld”

Familie-oomblik

Sluit aan by die afgelope vakansie en vra die families (of net die kinders as hulle voor sit of in ’n aparte kinderkerk is) daarna uit. Vertel daarna die storie van Justin.  Jy kan enige belofte kies, bv. ook ’n storie oor die afgelope sokkerwêreldbeker.  Die punt is om die idee van ’n belofte wat verwagting skep op die tafel te sit, die wag daarvoor te beklemtoon en daarna die vervulling van die belofte te vertel.

Sluit daarna aan by die verhaal van Abraham en vertel kortliks die storie.

Waar was julle die afgelope vakansie?  Wat het julle gedoen?  Was dit lekker?

Ek wil vir julle die storie van Justin en sy pa vertel.

Justin was sóóó opgewonde.  Sy pa het vir hom belowe dat hulle die vakansie gaan visvang.  Dit is vir Justin die lekkerste ding, om saam met sy pa te gaan visvang.  Wat hierdie visvang egter nog meer spesiaal gemaak het, is dat hulle in ’n tent sou bly by die see.

Vir al sy vriende het hy voor die vakansie die storie vertel.  Hy kon nie wag dat die vakansie aanbreek nie.  In die skool het hy gedagdroom oor die groot vis wat hy sou vang.  En hy het uitgesien na die vis op die kole.  Sy pa neem ook altyd marshmellows saam om oor die kole te laat smelt.  Hy het geweet dit gaan sommer ’n groot avontuur wees saam met sy pa.  Hy en sy pa ’n hele week lank saam!

Sy pa was egter baie besig.  Hy moes Kaap toe vlieg vir besigheid.  En Justin het begin wonder of hulle ooit by die visvang sou uitkom.  Sê nou sy pa kan nie, dan is al sy opgewondenheid verniet.  Toe sy pa hom bel hom van die Kaap af, vra Justin heel bekommerd: “Pa, gaan ons nog visvang die vakansie?”

Sy pa het hom verseker hom dat hulle steeds die vakansie sou gaan visvang.  Hy moet net geduldig wees.  Sy pa het belowe en hy sal sy belofte nakom.

Maar Justin was nie so seker nie.  Hy’t gewonder of die belofte sal waar word.  En die eerste week van die vakansie het regtig lank begin raak vir hom.  Dit was sóóó swaar om te wag.  Dit was asof die tyd gaan stilstaan het.  Toe hy weer met sy pa praat en bekommerd is, het sy pa vir hom verseker: “Alles is gereël, hierdie naweek gaan ons die kar pak en ry.  Moenie bekommerd wees nie.  Ons gaan regtig gaan visvang.”

Justin het geweet sy pa hou sy beloftes, maar dit was so swaar om te wag!

Uiteindelik het die eerste naweek in die vakansie aangebreek … en sy pa en hy het die motor gepak, al die visstokke, die tent, lekker eetgoed … en daar is hulle weg, nes sy pa belowe het.

En was dit nou lekker!  Hy het die grootste vis gevang, foto’s geneem, en hom gate uit geniet saam met sy pa.  En hy kon vir sy vriende die wonderlike storie gaan vertel.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Wanneer ʼn mens die storie van Abraham dink kom die beeld van die droë onverbiddelike Noord-Kaap by ʼn mens op. Daar was hierdie belofte van ʼn nageslag in Abraham se lewe wat versteek tussen die klippe en stryd in sy lewe gelê het. Terwyl daar baie mooi verhale ingevleg is in sy lewe, was daar hierdie onopgeloste gemis en verlange. God kom aanhoudend terug na hom toe, maar hy is besig om te berus dat daar ʼn ander plan gemaak sal moet word. Abraham se verhaal en sy interaksie met God, beskryf hierdie verlange  (Gen. 15 ev). Die spanning van wag in geloof en oor gaan tot aksie, al is dit sonder geloof, raak vir Abraham te groot, hy maak ʼn plan, maar die plan brand hom soos die warm woestynsand in ʼn dor woestynwind. Nou sit hy in die bek van sy tent sonder planne, slegs met God se belofte.   Dié stilte wat soms alle hoop wil uitdoof, kom saam met die hittegolwe na hom toe aangespoel. Die warm troostelose dae wanneer self die kraaie nie eers wil gaap nie, weerspieël iets van die belofte wat uitgedor het en besig is om saam met die woestynstof weg te warrel.

Op so ʼn warm, onmoontlike oomblik, in die middel van die dag,  wanneer mens en dier skuiling soek teen die doodsveroordelende son, verskyn daar reisigers by Abraham se tente. Abraham doen amper instinktief wat enige woestynbewoner sal doen, hy nooi hulle om uit die son te kom en om daar te kom rus en versterk te word. Hy bederf hulle met al die kos en gasvryheid. Abraham se lewe getuig daarvan dat hy dit reggekry het om ten spyte van  die stilte en verlange in sy lewe aan ander lewensruimte te bied. Die onbeantwoorde belofte in sy eie lewe, laat hom nie verskroei in sy medemenslikheid teenoor vir die mense met wie hy op sy omswerwinge te doen kry nie.

So vind God hom daar. Hierdie ontmoeting met God, laat God toe Abraham toe om tot seën te wees, ook vir God, al weet hy dit nie eens op daardie oomblik nie. Dit is soos die Namakwa “daisies” wat na goeie reën begin blom. Uit die oënskynlike dorre en doodse vlakte kom daar lewe. God se teenwoordigheid breek die monotone gesuis van verlange. Abraham blom onwetend in God se teenwoordigheid. Die reën het saggies begin val op sy en Sara se dorre verlange.

Die Namakwa daisies blom net voluit in die volle son, daarom werk hulle nie as potplante in die huis nie. Hulle sal doodgewoon nie volledig oopgaan as die son nie op hulle skyn nie. Abraham sit in die volle son van God se teenwoordigheid. Sy gasvryheid teenoor vreemdelinge getuig van die pad wat hy al swerwend deur die woestyn saam met God gestap het. Hy het in God se teenwoordigheid alreeds soos die Vader van die nasies begin optree. God se besoek kom juis op ʼn tyd toe sy en Sara se geloofsblomme begin toegaan het. Hulle het nie meer regtig geglo dat God nog vir hulle nuwe lewe kan gee nie. Die verskroeiende hitte  van verlange het hulle laat glo die saad kan nie meer blomme lewer nie.

Soos Namakwaland wag vir die reën in die middel winter voordat hy kan toon hoeveel lewe daar werklik nog in hom steek, so verskyn God in die winter van hulle verwagting om juis vir hulle te kom wys hoeveel lewe daar nog in hulle versteek lê. Hy spreek nie net die belofte nog ʼn keer uit nie, maar kondig die vervulling aan.  Wanneer daardie eerste reën geval het en die son skyn weet die wêreld, die belofte van lewe sal in vervulling gaan. Die toere word beplan en die kameras gekoop, want een van die grootste wonders maak gereed om voor ons oë af te speel.

So leef ons as kerk ook vandag nadat die eerste reëns reeds geval het. Jesus het uit die dood opgestaan, die dood is oorwin en die lewe sal uiteindelik seëvier. Baie keer is daar hierdie verlange, die skor lag, die dor en droë geloof wat nie meer wil glo nie, maar saam met Abraham het God ook aan ons verskyn nadat Jesus opgestaan het, om ons te verseker dat daar baie meer lewe in ons steek as wat ons sal waag om te glo.

Die interessante van die Namakwa daisies is dat elke blommetjie alleen op ʼn stingeltjie staan. Hy blom voluit terwyl die blommetjie na die son gedraai is. God staan in ʼn verhouding met elke mens. Elkeen word deur Hom besoek en die lig van verlossing en troos skyn op elkeen. Na die eerste reën volg daar ʼn tyd van ontkieming, die tyd waarin die opslag-plantjies die eerste beloftes is van die groot skouspel wat buite sig, onder die grond aan die ontwaak is. Die verlange na ʼn seun vir Abraham was baie groot, tog was daar gedurende sy hele lewe die tekens dat God by hom is, hom seën en besig is om van hom ʼn gesiene leier te maak. Selfs al was die belofte van die nageslag nog aan die ontkiem, was God besig om Abraham te vorm en van hom die voorbeeld te maak van iemand wat sy vertroue in God stel. Abraham se oorweldigende reaksie op die vreemdelinge by sy tent, toon dat hy ʼn oog en ʼn hart  vir ander ontwikkel het. Sy omswerwinge saam met God het hom ook iets van God se hart vir die nasies laat verstaan. Die belofte dat sy nageslag tot seën vir die nasies sou wees, het reeds nou in sy lewe begin ontkiem.

Die Namakwa daisies se reaksie op die son, die feit dat hulle oopgaan en voluit blom, is nodig vir hul eie oorlewing. Alleen wanneer hulle oop is en voluit blom, kan bye en skoenlappers hulle besoek. Die helder kleure straal die boodskap uit dat hulle iets het om te deel en dit met graagte sal deel. God se wonderlike genade in ons lewens, is bedoel om ons ook te laat oopgaan en aan die wêreld die boodskap uit te straal dat ons iets het om te deel en dat ons dit met graagte sal deel. ʼn Daisie wat nie oopgaan nie, al skyn die son op hom, se toekoms is gedoem. Daar sal nie bevrugting kan plaasvind, as daar nie insekte of voëls hulle besoek nie.  Die blommetjies se “gasvryheid” weerspieël nie net iets van homself nie, maar ook van die groot genade van die Skepper. Ons goedheid teenoor ander mense weerspieël nie net iets van onsself nie, maar ook iets van die voorsieningheid en sorg van ons hemelse Vader. Dit weerspieël iets van die (her)skeppingswerk wat God reeds deur die Heilige Gees  in ons lewens doen en dat dit goeie werk is.

Mat 5:43-48:  “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

So is ʼn daisy  is nou nie regtig die son nie, maar as jy ʼn veld vol oop daisies sien, kan jy maar weet die son skyn helder en die winterlandskap word omskep in ʼn lushof van kleure en lewe. Geen enkel daisy kan regtig die hele landskap verander nie, so kan Abraham alleen ook nie die grou en grys gevolge van die sonde omkeer nie. Hy bly wel die alleen-stem van God in die goddelose wêreld waarin hy woon, maar God wil die landskap omskep in lushof van lewe, liefde  en omgee. Die seun van Abraham is meer as net ʼn belofte aan Abraham, dit gaan oor ʼn wêreld wat verstom moet staan oor die skouspel wat onstaan waar God mense besoek en hulle sy heerlikheid en liefde uitstraal na die verbygangers. Abraham blom in sy gasvryheid en welwillendheid al weet hy nie eers dat dit God is wat hom besoek nie. Sy verhouding met God het hom oopgemaak na sy naaste. As die Vader van die gelowiges, hierdie nageslag wat God hom belowe het, is hy die voorbeeld. As dit moet sal hy maar die enigste blommetjie in die vaal vlaktes van Godsverlatenheid wees. God kom verstel sy verwagting en beloof, “Jy is wel die eerste, maar jy sal beslis nie die enigste bly nie, Ek gaan hierdie vlaktes vol maak met baie kinders wat sal blom en kleur verskaf sodat die wêreld kan weet Ek is teenwoordig.”

Die uitstorting van die Heilige Gees was hierdie eerste reën wat geval het om die saad te laat ontkiem. Van Petrus se eerste preek af sien ons hoe gelowiges in die teenwoordigheid van God begin ervaar hoe hulle sondes vergewe word, hoe die daar nuwe lewe onstaan, hoe die bewondering vir God toeneem namate die gelowiges begin blom en getuig. Die wêreld staan stomgeslaan oor die skouspel en elke dag word daar nog gelowiges bygevoeg.

God is weereens misterieus teenwoordig in die breek van die brood en die voorsit van wyn. Hy laat sy teenwoordigheid skyn in die aangesig tot aangesig gesprekke tussen mense en die gasvryheid van gelowiges wat vreemdelinge innooi om saam met hulle te kom eet, “sodat hulle harte versterk kan word”.  Die belofte van ʼn nageslag was altyd ook die belofte van God se teenwoordigheid en die verhaal van die kerk is hierdie vervulling. Die nageslag wat gered word en wat God se son laat skyn op die  oor slegtes en goeies, en sy  reën laat val oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Die wat verstaan dat as ons  net dié liefhet wat vir ons  liefhet, watter loon kan ons dan nog verwag? Ons kan nie in die helder son van God se teenwoordigheid staan en dan toegeskulp bly nie, net so min as wat dit in ʼn daisy se aard is, kan dit in ons aard wees. As die daisies nie oopmaak en blom nie, sal die wêreld vaal en grys en sonder hoop bly. As Christene toegeskulp bly, sal daar geen rede vir die wêreld wees om te glo dat die son van God se teenwoordigheid skyn nie.

Mag God se teenwoordigheid so oor jou skyn,
dat jy sal blom met die vol rykdom van die genadekleure,
mag sy liefde jou so sterk
dat jy altyd jou gesig in God se rigting sal draai
en mag sy oorvloedige goedheid jou so vul
dat jy met ʼn oop hart en huis ander sal laat deel
in die nektar van opregte naasteliefde.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n voorstel om dit liturgies aan te voer:

Seën
Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg.
Die Here sal jou raaksien en vir jou sy liefde gee.
Die Here sal jou goedgesind wees en jou van onheil
bewaar.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.