Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 17:1-7, 15; Romeine 9:1-5; Matteus 14:13-21

Fokusteks

Genesis 32: 22-31

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied by aanvang: Lied 278

Liedere

Lof: Lied 445:1, 3, 4

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging: Lied 159:3

LEES: Genesis 32: 22-31
22 Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan.
23 Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan.
24 Jakob het alleen daar agtergebly, en ‘n man het tot dagbreek met hom gestoei.
25 Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het.
26 Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.” Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
27 Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”
28 Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”
29 Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?” Hy het vir Jakob net daar geseën,
30 en Jakob het die plek Pniël genoem, “want”, het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”31 Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,

Familie-oomblik

Fred Craddock, ‘n Amerikaanse professor in homiletiek (preekkunde), vertel iewers van ‘n insident wat ‘n groot indruk op hom gelaat het.

Dit is ‘n storie oor nuwe identiteit. Hy en sy vrou was op vakansie iewers in ‘n dorpie in Tennessee. Hulle het by ‘n tafel in ‘n restaurant gaan sit. ‘n Ou man het na hulle toe aangestap gekom en gevra hoe dit met hulle gaan en of hulle op vakansie is. Hy vra ook na hulle beroep. Professor Craddock wou graag verder met sy vrou gesels en antwoord die man: “Ek is ‘n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.

“O, so jy is ‘n man wat weet van preek”, kom dit toe onverwags. “Laat ek vir jou ‘n preekstorie vertel”. Professor Craddock moes sekerlik in sy lewe al na baie preekstories luister en het nie kans gesien vir nóg een nie, maar voordat hy iets kon sê, trek die ou man ‘n stoel nader en begin vertel:

“Ek was ‘n buite-egtelike kind. Ek het nooit geweet wie my pa is nie en dit was vir my baie swaar. As ek in ons klein dorpie in die straat gestap het, het ek beleef dat mense na my staar en in hulle gedagtes die verskriklike vraag vra: ‘Ek wonder wie se kind is dié?’ Ek het baie tyd alleen spandeer en nie veel vriende gehad nie.

“Eendag het daar ‘n nuwe prediker na die dorpie toe gekom. Almal het gepraat oor hoe goed hy preek. Ek het nie eintlik kerk toe gegaan nie, maar een Sondag het ek tóg gegaan om na hom te luister. Hy was inderdaad ‘n goeie prediker. Ek het weer gaan luister. Ek het altyd laat ingekom en vroeg geloop sodat ek met niemand hoef te praat nie. Een Sondag is ek egter só deur die boodskap meegevoer dat ek vergeet het om vroeër uit te stap en is op pad uit ná die uitspreek van die seën tussen die mense vasgevang.

“Skielik het ek ‘n swaar hand op my skouer gevoel: ‘Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?’

“Met die hoor van dié vraag, het daar ‘n siddering deur my gegaan. Al weer hierdie vraag oor wie ek is. Maar voor ek iets kon sê, sê die prediker: ‘Ek weet wie jy is. Jy is ‘n seun van God'”.

Nadat die ou man dit vertel het, sê hy: “U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander”.

Die ou man het toe uit gestap. Later noem die kelnerin dat die man met wie hulle gepraat het al twee termyne lank goewerneur van Tennessee is (oorgeneem uit Preeksketse 2001 – Buvton).

Preekriglyn

Ter inleiding:
In Genesis 32: 22 – 32 sluit ons by Jakob op sy geestelike reis aan – ‘n reis waartydens hy ‘n baie betekenisvolle naamsverandering ondergaan. Jakob word Israel.

Jakob se lewensverhaal word van die begin af gekenmerk deur konflik met sy broer (vgl 25:23), sy strewe na die verkryging van seën (25:31) en sy skelmstreke (25:26).

Aanleidend tot dié spesifieke gebeure, is die belofte wat God in Genesis 12 aan Abraham gee. Dit vorm die goue draad wat die epiese verhaal van die aartsvaders aanmekaar hou. Die Jabbok-ontmoeting is deel van dié goue lyn. In die geheel gesien, sou ‘n mens kon sê hierdie ontmoeting is deel van ‘n reeks ontmoetings wat God met Jakob (“die bedrieër”) op sy lewens- en geestelike reis gehad het.

Op dié geestelike reis is dit God wat die eerste keer by Bet-El in ‘n droom aan Jakob verskyn (Gen 28: 13 – 15). Hier bevestig God die belofte van seën aan Jakob – die belofte wat Hy vroeër aan sy voorvader, Abraham (Gen 12: 1 – 3), en ook aan sy vader, Isak (Gen 25: 11), gegee het.

In die 20 jaar wat Jakob by Laban gewerk het, word verskeie geleenthede vermeld waar God met Jakob en sy uitgebreide gesin ontmoetings gehad het (Gen 29, 30 en 31). God, wat deurentyd sy belofte van Bet-El gestand doen, is aan die een kant die heeltyd betrokke by Jakob se gesinslede, by hulle menswees en by hulle probleme. Aan die ander kant is daar Jakob wat aanhoudend sy eie planne, en sommer ook sy eie oplossings, het (vgl maar sy manipulering met die vee, en later die sagmaakstrategie met sy broer Esau).

Realiteits-TV: OT-weergawe, of 2011?

As ‘n TV-program oor die gebeure in Genesis 25 – 35 vandag moontlik was, sou dit nie ‘n onskuldige godsdiens-dokumentêr wees nie! Met Jakob as die hoofspeler, sou mense maklik ‘n soort held kon identifiseer – soos hulle met karakters in vandag se sepies doen (Van der Merwe – Woord teen die Lig II/3).

As dit ‘n moderne realiteits-TV-progam was, sou mense vasgenael voor hulle TV’s gesit het en nie ‘n episode wou mis nie! Al die nodige elemente vir só ‘n treffer is in hierdie verhaal te vinde: skelmstreke, bedrog, verraad, sedeloosheid, dramatiese konfrontasies, ‘n beeldskone heldin met ‘n slim en uitgeslape held.

Oor al hierdie sake berig ons nuusmedia daagliks. Die een ná die ander bedrogsaak word oopgevlek, skelmstreke en verraad land in die howe, oor méér gebroke verhoudings word berig en prominente persone se lewenstyl word in detail nagevors en haal die voorblaaie van koerante – dit is 2011.

Dit alles dui eintlik daarop dat hierdie eeue oue geskiedenis in ‘n sekere sin ook óns geskiedenis is. Jakob se geskiedenis is ook my en jou geskiedenis. Vandag se strewe na rykdom, versugting na erkenning, die klim van sukseslere ten alle koste, ondergrawing van jou naaste en magsbeheptheid, is nog net so lewendig as in Jakob se tyd. Mense maak keuses wat hulle in groot ellende dompel. Sonde het nou maar nog steeds ‘n stewige houvas op ons …

God ontmoet ook die karakters in die realiteits-TV-program op hulle lewens- en geestelike reis. Soms vra dit opeenvolgende ontmoetings voordat lewensverandering bewerkstellig word.

Ontmoeting met God … onverwags?

As jy jouself as gevolg van jou eie koppigheid in ‘n vasgeloopte situasie bevind, dan sal ‘n ontmoeting met God ietwat op jou agtergrond wees. Dan is dit liewer tyd dat jy die implementering van nuwe planne, nuwe veiligheidsmaatreëls en ander maniere van uitoorlê oorweeg – dit is in elk geval hoe Jakob se lewe gelyk het!

Aanvanklik vlug Jakob vir sy broer, Esau. Later vlug hy vir Laban, sy skoonpa. In Genesis 32 is hy op pad na sy pa toe – en daarmee saam na ‘n onvermydelike ontmoeting met Esau. Met die tyding dat Esau en 400 manskappe hom tegemoet kom, bevind Jakob hom in die noute. Volgens Genesis 32: 9vv bid Jakob om sy afhanklikheid te bely en om God aan sy belofte te herinner. Maar daarná is hy steeds weer besig om sy eie planne in werking te stel – Jakob bly die aartsskelm. Vir dié swerwer-bedrieër het God egter ‘n taak: Hy roep Jakob om as ‘n beloftedraer (Gen 28:13 – 15) die seën van God uit te leef.

Hierdie ontmoeting by die Jabboksdrif is nie ‘n onverwagse, skielike ontmoeting nie. Van God se kant was dit fyn beplan en uitgewerk. Eintlik is dit God se antwoord op Jakob se gebed (32:9). By Jabbok kom lê God sy hand op Jakob se skouer – fisies eintlik op sy heup. God besluit dit is tyd vir aksie!

‘n Pynlike ondervinding

‘n Ontmoeting met God kan ‘n uitmergelende geveg, ‘n intense worsteling word – veral as jy met Jakob se verlede en lewenswyse voor Hom te staan kom.

Jakob het Esau as vyand en bedreiging in gedagte. Jakob se grootste bedreiging is egter hy self. In plaas daarvan dat Jakob seën ontvang, word na sy naam gevra. Sy naam vertel of beskryf iets van sy hele wese – hy is ‘n bedrieër! Hy moet die volle waarheid oor homself, sy gesindheid en sy optrede ‘n slag in die oë kyk. Die Here skroom nie om hardhandig in sy lewe in te gryp nie. Jakob word tot oorgawe gedwing! Dit laat hom mank – die merkteken van sy worsteling, sigbaar vir almal!

Baie lidmate het eerstehandse ondervinding van sulke vasgeloopte situasies – soms as gevolg van eie keuses, ander kere as gevolg van onvoorsiene gebeurtenisse. Die nagtelike worsteling oor gebroke verhoudings, voortslepende gesondheidskrisisse, spanning met kollegas by die werk, bekommernis oor kinders of familielede wat die pad byster geraak het – só kan die lys aangevul word. Dit is dan wanneer uitsigloosheid en wanhoop jou gedagtes oorheers. Sulke situasies maak mense soms fisiek oud en geestelik afgemat. Met verloop van tyd laat sulke gebeurtenisse merktekens op jou liggaam en gees. Onder sulke omstandighede is selfs gelowige mense in die versoeking om te vra: “Hoekom laat God dit met my gebeur?”

Ramp of voorspoed?

Die Jabbok-ontmoeting kan die indruk wek dat alles vir Jakob op ‘n ramp kan afstuur. Ten spyte van die sigbare merktekens by hom, het iets dramaties egter gebeur. ‘n Nuwe dag het vir Jakob aangebreek, ‘n nuwe toekoms wag vir hom. Jakob se onmiddellike omstandighede het nie verander nie. Deur die worsteling het Jakob self egter verander! Met dagbreek kom daar onverwags insig en uitsig: Jakob ontvang die egte, blywende seën (32:39) wat hy so naarstigtelik gesoek het.

Sáám met die seën kry Jakob die genade van ‘n nuwe naam, ‘n nuwe wese, ‘n nuwe identiteit. Jakob word Israel! Ten spyte van sy jare lange verknoeide lewe, kry hy die geleentheid om weer van voor af te begin. Sy nuwe naam simboliseer sy nuwe identiteit. Dit vertel dat daar in sy lewe ‘n God aanwesig is wat dwars, téén alle menslike oorwegings in, vir Jakob, die aartsskelm, as beloftedraer kom kies het. As Jakob tot verhaal kom, noem hy die ontmoetingsplek Pniël – “ek het God gesien”!

Op ander plekke in die Bybel sien ons ook sulke veranderings. Petrus, die een wat Jesus verloën, word die begeesterde prediker op Pinksterdag. Saulus, die vervolger, word Paulus die kragtige getuie. (Gebruik ook getuienisse van mense uit jou eie omgewing en gemeente.)

‘n Nuwe basis!

Jakob-Israel sit die lewe van ‘n nuwe af basis voort. Toe die dag aanbreek, moes hy nog steeds Esau met sy 400 manskappe tegemoet gaan. Eers toe God die voortvlugtende mens verander het, kon hy as veranderde wese gereed wees vir ‘n versoening met sy naaste. Sonder dat God ingegryp het, sou Jakob weggekom het met sy onreg teenoor sy broer. Gód moes hom verander. Terselfdertyd moes God Esau se hart voorberei om dié verandering te aanvaar. In die volgende hoofstuk (33: 4) lees ons van die aangrypende ontmoeting tussen dié twee broers. Ná die versoeningsgebeure kon hulle weer hoopvol na die toekoms kyk.

Die kruis het Christus nie net mank gelaat nie, maar dood. Die gevolg was die afloop van God se plan vir versoening.

Nadat Christus die knoop vir ons by God deurgehaak het, kan ons dit nou vir mekaar doen – maar net deur self in Christus by God verby te gaan (Preekstudies 2011, bl 228). Hierdie versoening met God gee ook hoop vir ons gewone verhoudings, hoop vir menige vasgeloopte situasies, hoop vir ons land.

Wat sou dit verder vir die Nuwe-Testamentiese kerk – vir my en jou – beteken? Dat God, ten spyte van alle ontrou aan die kant van mense, in Christus volhou en sy belofte aan Abraham waar maak: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën wees” (Gen 12:3; Gal 3:8-9)? En vir die nuwe volk wat uit dié worsteling en sy prysgawe ontstaan, die kerk, die geloofsgemeenskap uit alle volke en tale en nasies?

In Romeine 8 vers 15-17 lees ons dat ons in Christus en deur die Gees nie meer slawe van die sonde is nie, maar kinders van God en erfgename. Dít is ons nuwe identiteit. Christus se worsteling aan die kruis het vir ons ‘n nuwe identiteit verwerf. As volgelinge van Jesus, het ons deel aan sy lyding (hierdie identiteit laat sy merk! – vergelyk 2 Kor 4:10), maar ook deel in sy heerlikheid.

Jakob se verhaal is nou ook my en jou verhaal. Ek en jy het vandag onsself in die spieël gesien. Ons staan ook so bietjie mank voor die Here. Ná hierdie ontmoeting op ons geestelike reis met Hom, kan ons nie maar ons lewe op dieselfde manier voortsit nie. Die Here het met ons gepraat … die boodskap van hoop en bevryding (versoening) is nou ook my en jou opdrag.

Verwoord Lied 486:1 ook jou hartsbegeerte? Lees (of bid) dit aandagtig deur.

Bring aan die nasies die boodskap van hoop en bevryding!
So sê die Here, verkondig al verder die tyding:
“Daar is my Kneg!
Hy bring aan nasies die reg
Volg Hom getrou in sy leiding.”

God stuur ons om te leef

Lied 509:1, 2,4

Uitsending
Gaan in vrede en mag Christus wat op verwonde voete loop saam met jou op die pad wees.
Mag Christus wat dien met verwonde hande jou hande uitstrek om ander te dien.
Mag Christus wat liefhet met ‘n verwonde hart jou hart oopmaak vir liefde.
Mag jy Christus sien in elke gesig wat jy ontmoet en mag almal Christus in jou gesig raaksien.
Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.