Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vanuit die perspektief van Matteus 13 vier die gemeente die koninkryk van God met verwondering, oorweldig deur die onoortreflike waarde daarvan. Die verhaal van Jakob se stryd om Ragel as vrou te kry, kan reeds as ’n herinnering dien van die soort ywer wat geëis word vir die koninkryk waaroor Jesus se gelykenisse handel. Romeine 8 se loflied maak ons verwondering soveel groter.

Ander tekste

Genesis 29:14b-28
Jakob werk vir Laban
29 Jakob het sy reis voortgesit na die land van die mense in die ooste toe. 2Hy het onverwags uitgekom by ’n put in die veld waar drie troppe kleinvee lê. Die wagters het die kleinvee by hierdie put laat suip. Daar was ’n groot klip op die bek van die put, 3en wanneer al die veetroppe daar bymekaar is, rol die wagters die klip weg en dan gee hulle vir die vee water. Daarna sit hulle weer die klip terug op sy plek op die bek van die put.

4Jakob het hulle gevra: “Van waar is julle, my vriende?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”
5Toe vra hy vir hulle: “Ken julle vir Laban uit die geslag van Nahor?” en hulle antwoord: “Ons ken hom.”
6Hy vra hulle toe: “Hoe gaan dit met hom?” en hulle antwoord: “Goed, hier kom sy dogter Ragel nou net aan met die kleinvee.”
7Toe sê Jakob: “Die son sit nog hoog en dis nog nie tyd om die kleinvee in die kraal te jaag nie. Laat hulle suip en vat hulle om te wei.”
8Maar die wagters antwoord: “Ons kan hulle nie laat suip voor al die troppe hier bymekaar is nie. Dan word die klip van die bek van die put afgerol en laat ons die vee suip.”

9Terwyl hy nog met hulle staan en praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee. Sy het hulle opgepas. 10Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip. 11Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil. 12Nadat hy vir haar gesê het hy is familie, Rebekka se seun, het sy gehardloop en dit vir haar pa gaan vertel. 13Toe hy hoor dat Jakob sy susterskind is, het hy na hom toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Laban het hom na sy huis toe gevat, en toe vertel Jakob hom alles. 14Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!”
Nadat Jakob ’n maand lank by hom gebly het, 15het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. 17Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. 18Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ’n paar dae, want hy het haar liefgehad. 21Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, 23maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. 24Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat ’n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. 27Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. 29Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee.

30Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

Psalm 105:1-11, 45
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy
aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy
met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig
as ’n vaste toesegging,
vir Israel as verbond
wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”
45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Psalm 128
Die vrug van jou arbeid sal jy geniet
128 ’n Pelgrimslied.
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien
en sy wil doen.
2Die vrug van jou arbeid sal jy geniet,
gelukkig en voorspoedig sal jy wees.
3Jou vrou is in jou huis
soos ’n vrugbare wingerdstok,
jou seuns is rondom jou tafel
soos jong olyfboompies!
4Kyk, so word die man geseën
wat die Here dien.
5Mag die Here jou seën uit Sion,
dat jy die voorspoed van Jerusalem
kan aanskou
al die dae van jou lewe,
6en dat jy jou kindskinders mag sien.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Romeine 8:26-39
26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:
“Dit is oor U dat die dood
ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape
behandel word.”

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Fokusteks

Matteus 13:1-9, 18-23
Ons gee die hele konteks van Matteus 13 hier.

Die gelykenis van die saaier
(Mark 4:1–9; Luk 8:4–8)
13 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 ‘n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

3“ ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5 ‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse
(Mark 4:10–12; Luk 8:9–10)
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”
11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
‘Julle sal hoor en hoor
en tog niks verstaan nie,
en kyk en kyk
en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand
is afgestomp:
hulle het hulle ore toegedruk
en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë
kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer,
en Ek hulle gesond maak nie. ‘

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Mark 4:13–20; Luk 8:11–15)
18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan? ‘28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk. ‘ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek? ‘29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van die gelykenisse
(Mark 4:33–34)
34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het:
“Ek sal gelykenisse gebruik
as Ek praat;
Ek sal bekend maak
wat geheim gebly het
van die skepping af.”

Verklaring van die gelykenis van die onkruid
36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.
“Wie ore het, moet luister.”

Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Jesus word in Nasaret misken
(Mark 6:1–6; Luk 4:16–30)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57En hulle wou niks van Hom weet nie.
Jesus sê toe vir hulle: “ ‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Ekstra stof

Ons plaas hier ekstra stof oor die hele hoofstuk om ‘n breër konteks vir die gelykenis van die saaier te verskaf.

Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
Hierdie gedeelte van Matteus – wat ‘n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.

Dit bestaan uit ‘n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse. Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ‘n verhaal wat net een punt wil maak wat ‘n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom. Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ‘n teks gee. Dit beteken dat ‘n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ‘n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put. Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie. Dit is ‘n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.

Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf. Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ‘n belangriker indeling wat ‘n mens help om die hoofstuk te verstaan.

JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34). Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23). Maar in die breë is Hy met die skare besig. In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg. “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ‘n negatiewe aanwending van die Psalm dui.

JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36). Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte. Die laaste een kan ook net ‘n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.

Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.
Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.

Die gelykenis van die grond – 13:1-9
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het. Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend. Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai. Die voëls pik die saad langs die pad op. Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog. Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs. Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons ‘n sleutel vir die wyse waarop die gelykenisse beide ontmagtigend sowel as bemagtigend in die res van die hoofstuk werk.

Die ontmagtigende effek van die gelykenisse – 13:10-18
Die dissipels ontvang ‘n verklaring van die doel van die gelykenisse. Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan”. Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende dood is en dus nie verstaan nie.” Dit, sê Jesus, is ‘n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10 (aangehaal uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX – vgl. ook Joh. 12:40 waar Johannes ook Jesaja aanhaal, sowel as Hand. 28:26-27 waar Paulus dit ook doen).

Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade. God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil. ‘n Mens kan net dankbaar wees as jy genade ontvang, nie regtig dit ten diepste begryp nie. Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit. Maar, die ander kant is ook waar. Die onbegrip is ook te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van “siende blind” en “horende doof”. Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is. Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.

Die bemagtigende verklaring van die gelykenis van die grond – 13:19-23
Jesus se verklaring van die gelykenis van die grond bevestig die feit dat gelykenisse veelvlakkig is. Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

  • Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie. Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.
  • Die rotsagtige grond dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, sogenaamde “mooiweer Christene”. Hulle hou net ‘n rukkie.
  • Die doringagtige grond dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, sogenaamde “materiële Christene”. Die wêreld en die sug na welvaart verstik die woord.
  • Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra.

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie. Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.

Daar is in dié gelykenis nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ‘n vyand, wat onkruid tussen die koring saai. Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes. Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe. Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word. Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.
Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.

Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.

Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ‘n klein begin ‘n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.

Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ‘n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.

Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ‘n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek. Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word. God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor. Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.

Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.

Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk. Die onkruid is die kinders van die Bose. Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.

Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ‘n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier. Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.

Die gelykenisse van die skat, die pêrel en die treknet – 13:44-50
Met dié drie gelykenisse gee Jesus ‘n glorieryke prentjie van wat die koninkryk van die hemele vir die kinders van die koninkryk, die dissipels en die ander volgelinge van Jesus, sal inhou. Dit is noodsaaklik in terme van die uitdaging wat dit vir hulle inhou om uit te hou en aan te hou in ‘n tyd waarin onreg en ongeregtigheid baie keer seëvier.

Die eerste twee, die gelykenis van die skat in die veld, sowel as die kosbare pêrel, dra beide die betekenis van die allesoortreffende betekenis en belang van die koninkryk van die hemele. Dit is alles wat jy besit, werd.

Die derde een, oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, versterk die boodskap van die gelykenis van die onkruid tussen die koring en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense te beurt sal val nie.

Die gelykenis van die skrifkenner met nuwe en ou skatte – 13:51-53
Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer. Daarom vra Jesus of sy dissipels verstaan. En om seker te maak, vertel hy die gelykenis van die skrifkenner (sommige dink dat Matteus hier van homself praat!) se nuwe en ou skatte as hy ‘n leerling raak in die koninkryk van die hemele.

  • Daar is diskontinuïteit – dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus. Daar is dus nuwe skatte vir die skrifkenner.
  • Daar is egter ook kontinuïteit – dinge wat dieselfde is as in die ou bedeling. Daar is dus ook ou skatte vir die skrifkenner.

Dit is ‘n baie belangrike afsluiting van hierdie toespraak van Jesus, een wat ons eintlik met reg ter harte kan neem as ons dink aan die blywende impak van die OT:

  • Daar is dinge wat net so voortgaan in die NT: God se genade en liefde, sy eis tot geloof en gehoorsaamheid.
  • En daar is dinge wat tot ‘n einde gekom het, die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat.
  • En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die bedeling van die NT verteenwoordig.

Jesus word in Nasaret verwerp – 13:54-58
Die ontvangs van Jesus se boodskap in Nasaret, sy tuisdorp, kom vervolgens onder die vergrootglas en dit illustreer die oorwegend negatiewe ontvangs wat Hy onder die Joodse volk, sowel as spesifiek die Joodse leiers, geniet het. Sy wysheid en kragtige dade word gediskrediteer omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die skrynwerker (waarskynlik eintlik ‘n bouer) wie se vrou by die naam genoem word, Maria, maar nie meer sy pa Josef nie, omdat hy waarskynlik teen dié tyd oorlede is.

Hulle neem dus aan Hom aanstoot, soveel só dat Hy vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade daar gedoen het nie.

Ons leer hier dat Jesus vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ‘n paar susters. Ons weet dat Jakobus nie net later ‘n belangrike Christelike leier in Jerusalem geword het nie, maar ook die brief van Jakobus geskryf het en wat in die NT opgeneem is. Ons weet ook dat Judas die brief geskryf het wat sy naam dra en ook in die NT opgeneem is. Dit sê nogal iets van die impak wat Jesus ná sy opstanding ook op sy eie familie gehad het. Uiteindelik is Hy dus ten minste in ‘n deel van sy huis geëer, al was dit nie die geval in sy tuisdorp nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 105:1-2 of Flam 198

Votum: Psalm 105:1-7

Seëngroet

Lofsang: Lied 492 of Flam 120 of VONKK 96

Genadeverkondiging: Romeine 8:26-39

Verootmoediging: Lied 412 of Flam 436

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 13:31-33, 44-52

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 473 of Flam 101

Seën

Respons
Lied 492:4 laaste 4 of Flam 120:3

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 105:1-2 of
Flam 198 “Ek Wil Gereed Wees”

Votum: Psalm 105:1-7

Seëngroet

Lofsang
Lied 492 “In U is vreugde” of
Flam 120 “Hy Is Heer”  of
VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”

Genadeverkondiging: Romeine 8:26-39

Verootmoediging
Lied 412 “Jesus Christus lewe” of
Flam 436 “Jesus, U’s My Herder”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley 1707-1788; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel 1685-1759 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4. Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

F120. “Hy Is Heer” 
(RUBRIEK: Flam – God se heerskappy / Wederkoms) (Opgeneem in Jeugsangbundel I)
Teks: Tradisioneel. Afrikaanse lirieke deur A P van der Colf © NG Kerk Uitgewers
Musiek: Tradisioneel. Tweede stem bygevoeg deur B M Spies © Tradisioneel (Publieke Domein)

1. Hy is Heer!
Hy is Heer!
Hy’s oorwinnaar oor die dood en Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, is die Heer.

2. Hy regeer,
Hy regeer
van die regterhand van God
want Hy is Heer!
Elke knie sal buig
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy regeer!

3. Hy kom weer,
Hy kom weer,
op die wolke – om te oordeel –
Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy kom weer!

F436. “Jesus, U’s My Herder”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en vertroue) Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Jesus, U’s my Herder,
U’s my leidsman,
U is groot bo alles.
Jesus, my verlossing,
my oorwinning,
U is hoog verhewe.

Aan U kom toe al die lof en ere, Heer.
Ons verlossing deur Jesus Christus, ons Heer.

Laat u liefde in ons heers,
laat u Naam bekend word, Heer.
Laat u Koninkryk kom en
laat u wil geskied.
(X2)

Kom vat my trots,
kom vat my eer,
kom maak my leeg
van myself, o Heer.
(x4)

F198. “Ek Wil Gereed Wees”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Heiligmaking) Teks en musiek: Stass en Elanie van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers (Matt 25:1-12)

1. Ek wil gereed wees vir die Een wat kom.
Ek wil gereed wees vir die Bruidegom.
Ek wil gereed wees as Hy ons kom haal.
Ek wil gereed wees as Jesus my kom haal.

2. Ek wil gereed wees vir Sy koninkryk.
Ek wil gereed wees as Hy my wil gebruik.
Ek wil gereed wees om op te staan
vir Sy koninkryk, vir Sy heiligheid, vir Sy grote Naam.

Refrein:
Kom vorm my net soos U wil.
Kom reinig my in die vuuroond van U heiligheid.
Kom vorm my net soos U wil
want ek wil gereed wees as Jesus kom.

F101. “Gryp Na Die Ewige Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Soekie Rautenbach
© 1997 Brettian Publishers (Opgeneem op Issie Waarheid)

Gryp na die ewige lewe,
soek eers die koninkryk van God.
Jaag na die doel om die prys te verkry
en vlug vir die sondes van die jeug.

As jy gryp, as jy soek, as jy jaag, as jy vlug,
verseker sal die Here dit sien.
As jy gryp, as jy soek, as jy jaag, as jy vlug,
kan jy Hom met jou hele hart dien!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 13:31-33, 44-52

Familie-oomblik

Hierdie week se skrifgedeeltes is wonderlik om met kinders te gesels! So kan jy bv. brood knie en verduidelik hoe die suurdeeg rys. Sit die deeg voor ’n verwarmer en wys telkens deur die loop van die diens hoe dit rys. Of wys ’n mosterdsaadjie en ’n foto van ’n reuse mosterdplant. Carolyn Brown sê: “Be amazed that such a small hard lump can produce a big shrub. Ponder what that says about every small gift making a big difference in the world. Then inform worshipers that one little mustard seed doesn’t just produce one mustard bush. Mustard bushes are weeds. One quickly becomes several and several soon take over the whole field. That tells us something else about God’s Kingdom – it is unstoppable. It is going to fill the whole world. Stress that parables are for thinkers and suggest that they will always be learning new things from the parables.” Hier in engels beskikbaar.

Brown verwys ook na Laurel Dykstra wat uitwys dat hierdie week se gelykenisse nie gaan oor die objekte self nie, maar oor wat mense daarmee doen. Hulle hou dit nie vir hulleself nie. Die mosterdsaadjie word geplant. Die suurdeeg beteken niks voordat dit nie in die deeg in geknie word nie. Ens. “If children are to catch this point, you will need to walk through what the person in one of these parable did in some detail. Then tell them directly that Jesus was telling us that what we do for God makes a difference. It may seem small and ordinary, but it makes more difference that we will ever know. It will help to name specific small things children can do – being kind even when you don’t feel like it, befriending those without friends, etc.”
OF
Lees die verhaal van The Jewel Box Ballerinas deur Monique de Varennes. (Kindle weergawe vir $10.99). Ons het partykeer so baie goed, dat dit ons waardes deurmekaarmaak, sodat ons net kan dink aan meer en meer goed kry. In hierdie storie lees ons van Bibi wat haar rykdom gebruik om twee van alles te koop. Op een so inkopietog koop sy ’n juwelekissie met twee hartseer ballerinas. Sy verloor hulle terwyl sy inkopies doen en besef dan eers hoe kosbaar hulle vir haar was. Sy huil dat sy alles sal opgee om hulle weer te kry. Skielik word hulle regte meisies en Bibi besef dat dit vriendskap, eerder as goed, was wat sy regtig nodig het. Hierdie storie sluit aan by Jesus se gelykenis oor die koninkryk wat soos ‘n skat is. Sy woorde en Bibi se verhaal, laat ons dink aan wat ons skatter regtig is. Wonder saam met families wat die regte skatte is wat meer waarde het as goed.

Preekriglyn

[Nota: Die inleiding is ‘n beskrywing van ‘n videogreep wat by hierdie Dropbox-skakel beskikbaar is, en oorspronklik gepubliseer is by http://www.wimp.com/bestcoin/. Indien moontlik, kan dit gerus by Dropbox afgelaai en aan die gemeente vertoon word.]

Die lang man staan doodstil op ‘n kleinerige plein teenoor ‘n kerkgebou, de Sant Roc, in Wene, in sy aandpak en met net sy basviool en ‘n stoel. Voor hom lê sy hoed op die grond. ‘n Klein swartkop dogtertjie stap nader en gooi ‘n muntstukkie in die hoed, soos mense in Europa maak, en sy bly vol verwagting staan om na sy solomusiek te luister.

Dan gebeur iets merkwaardigs. Die man se strykstok begin gly oor die snare van sy instrument en uit die omstanders kom ‘n dame met ‘n tjello nader. Die eerste note van Beethoven se “Ode op die vreugde” (uit sy 9e simfonie in 1824) klink uit hulle duet oor die plein. En soos die musiek verder ontvou, kom sluit meer en meer musikante by hulle twee aan. ‘n fagot, drie Franse horings, nog tjello’s, talle viole, ‘n stel tromme en fluite en trompette.

Die volume neem toe, verbygangers gaan staan verbaas. Jy sien die toenemende ingenomenheid op hulle gesigte. Kinders dans vrolik rond en hulle gesiggies praat saam. Party sit op hul pa’s se skouers, ‘n klein dogtertjie klouter behendig teen ‘n lamppaal op vanwaar sy alles met oorgawe bekyk en op die maat saam dirigeer. Uiteindelik is daar ‘n volle simfoniekonsert bymekaar met ‘n koor wat saam dié baie bekende vreugdemusiek oor dié stadsplein uitjubel.

Die video wys hoe mense in die skare saam wieg, party prewel/sing en talle verbygangers gaan staan verbaas stil en glimlag en word deel van die musiekstorie. Een van die laaste kamera-skote is op ‘n pa wat sy kleuter hoog die lug in optel en die enetjie stoot sy vingertjie vol vreugde nog hoër op, boontoe. So aansteeklik vreugdevol was die musiek vir almal op die plein!

As die laaste note opklink en talle mense ingenome saamsing met die koor, vang die kamera nog weer die orkes, en dit soek na die dogtertjie wat die muntstuk in die hoed gegooi het sy is nou skoonveld. Dis nes met die mosterdsaadjie wat in die kragtige groeiproses van die groot boom verdwyn en die suurdeeg waarvan jy uiteindelik net die buitengewone effek beleef.

Verrassende, oorrompelende gelykenisse

Die video verras mens met die eenvoudige daad van die dogtertjie wat ‘n groot kettingreaksie op tou sit, en die omgewing met die pragtigste musiek vul. Só is Jesus se gelykenisse ook. Dit is eenvoudige verhale wat mens skielik oorrompel wanneer die betekenispunt van die gelykenis duidelik word.

Voordat ons aandag gee aan die spesifieke gelykenisse wat Jesus in ons teks vertel, staan ons eers stil by die betekenis van gelykenisse in die algemeen.

In ‘n inleidingsartikel tot Woord teen die Lig (Band 2/2) verduidelik prof. Dirkie Smit dat dit juis is hoe gelykenisse bedoel is om ons nuut te help sien, verstaan, hoor en beleef:

  • Gelykenisse, skryf hy, is eintlik metafore, meer vaag en verhul, maar besonder veelseggend, want dit roep assosiasies op wat ruimte aan die verbeelding gee om verder te dink. Gelykenisse doen dit as eenvoudige, beeldende verhale met ‘n enkele punt of fokus wat elke verhaal wil tuisbring.
  • As metafore roep die gelykenisse ook verbeeldingryke reaksie by ons op, sê Smit. Die metafore roep ons om die “nuwe werklikheid” wat geskep word, te bepeins. Dit verras of skok selfs. Want dit klink dalk so eenvoudig, so realisties, so normaal . . . en dan skielik! ‘n onbegryplike wending . . . en so is die koninkryk van die hemel! Wat kan dít beteken? Hoe is die koninkryk dan? En hoe is die Koning? En hoe raak dit ons indien hierdie vreemde, metaforiese beskrywing van die koninkryk waar mag wees?
  • Om die storielyn te volg, die intrige te snap, die ontknoping te begryp en raak te sien hoe dit jouself raak, jou lewe verander, jou waardes, drome, vrese, ideale, oortuigings, alles, in ‘n nuwe lig stel, jou anders laat dink oor sake, jou ‘n nuwe wêreld laat sien, God se wêreld en God se werklikheid.
Gelykenisse belig die hede uit die toekoms

Gelykenisse is nie verhale met tydlose lesse nie, maar dit is eskatologies, vooruitskouend van aard met direkte aanknoping by die hier en nou. Dit verkondig en bewerk die koninkryk van die hemel wat juis die kern en inhoud van Jesus se hele bediening gevorm het.

Die gelykenisse hang juis onlosmaaklik saam met Jesus se eie lewe, prediking en sterwe. Hy het die gelykenisse juis waar gemaak. Hy waarborg die betekenisvolheid en betroubaarheid daarvan. Sonder Hom het die gelykenisse geen gesag nie. Juis omdat God en Jesus ‘n lewende werklikheid is wat as ‘t ware vir die verhale instaan, kan ‘n mens dit ernstig opneem en daarvolgens oriënteer, vertrou en handel.

‘n Oop einde

Die gelykenisse van Jesus eindig gewoonlik oop en onvoltooid omdat hulle op die reaksie van die hoorders gewag het, soos ook nou op ons s’n om die verhaal klaar te vertel, die uitkoms te kom gee en die res van die geskiedenis te skryf, nie met ons verstand nie maar met ons eie lewe. Dit bring dus die uitdaging mee, die ingrypende keuse vir ons elkeen om volgens die nuutverwoorde werklikheid wat die gelykenis voortbring, te leef, daarmee te reken en daarvolgens te handel, óf om te bly leef in die wêreld en werklikheid soos wat ek en jy dit elke dag beleef en begin dink het dat dit is.

Vyf besondere gelykenisse

Ons teksgedeelte fokus op vyf besondere, kort gelykenisse wat Jesus vertel het, oor:

  • Die groei van ‘n mosterdsaadjie
  • Suurdeeg wat ‘n groot skottel meel deursuur
  • ‘n Skat in die saailand
  • ‘n Pêrel van groot waarde
  • ‘n Treknet wat allerlei soorte vis inbring.
Buitengewone groeikrag

In die eerste twee gelykenisse leer Jesus die skare met die voorbeelde van die mosterdsaad en die suurdeeg dat die koninkryk self iets buitengewoons is en ook buitengewone groeikrag besit. As mens dié waarheid raaksien en begryp, ontroer en oorrompel dit jou. Jy staan waarskynlik tegelyk verstom en verwonderd by die besef dat die koninkryk van die Here so verrassend kragtig en groot (gaan) groei en ontwikkel uit die oënskynlike nietigheid, soos ons dit by die mosterdsaadjie en die suurdeeg sien. Dis ongelooflik, onvoorstelbaar.

Hoë waarde

Die tweede perspektief (in die volgende twee gelykenisse) is die buitengewoon hoë waarde en oorrompelende krag van die koninkryk. Die insig hierin by die landbouer wat die skat onverwags in die land ontdek en die koopman wat ewe verrassend op die besondere pêrel afkom, is opvallend. Beide se waagmoedige, bykans roekelose optrede om alles prys te gee om tog die skatte te kan bekom, val op en is aangrypend. Dit is duidelik, albei die rolspelers in die storie het hulle hart op hulle skat verloor en gee alles prys om dit te verkry! Só wil die Here dat ons ons hart aan Hom en sy hemelse koninkryk sal prysgee en voluit vir Hom sal lewe.

God hou mense verantwoordbaar

Die gelykenis van die visse in die treknet is eweneens verrassend, eintlik onthutsend. Die metafoor fokus op die lot van goeie en slegte mense. Die bedoeling is sekerlik dat almal hulle aan die hemelse koninkryk en die Koning sal onderwerp. Daarom die duidelike waarskuwing aan almal dat daar ‘n dag van afrekening kom. Die aanbod van die koninkryk verwag ‘n reaksie van toewyding en oorgawe by die hoorder.

Daar sal ‘n skeiding kom tussen goeie en slegte mense. Die onthutsende is dat Jesus sy dissipels leer dat die “slegte visse” eintlik valse dissipels is wat nie toegewyd en getrou was aan die koninkryk en die Koning nie.

Die maatstaf by Matteus waarvolgens tussen die ware en valse dissipels onderskei sal word by die eindoordeel kry ons in 13:48-49. Die kala (goeie) en sapra (slegte) in 13:48 korrespondeer met die dikaioi (regverdiges) en poneroi (bose mense) in 13:49. Poneros in Matteus dui veral op dubbelhartigheid, konflik van lojaliteit, dus op morele en religieuse laksheid (bv. die derde slaaf in 25:26, 30) en veral op akute liefdeloosheid (bv. 15:19, 22:39). Meer nog, volgens 13:49 sal die poneroi uit die midde van die regverdiges (goeies) afgeskei word.

Hulle is dus eintlik valse dissipels in die koninkryk van die hemel en nie bloot bose mense in die algemeen nie.

Weerstand teen die koninkryk

Jesus het hierdie gelykenisse vertel in die konteks van sy eie verwerping, die miskenning deur sy familie, sy dorpsgenote en van die weerstand deur die Fariseërs, die skrifgeleerdes, die skare en die Romeinse owerheid wat Hom uiteindelik kruisig. Hieruit blyk dat Jesus en die koninkryk van die hemel wat Hy verkondig het nie sonder teenstand kom nie. Mense en aardse ryke gee hulle nie sonder meer aan Hom, sy leringe en hemelse koninkryk oor nie.

Dit is vandag steeds so. Om te bly glo en deur die verrassende taal en werklikheid en inhoud van die koninkryk bekoor, oorrompel en aangevuur te word, met ‘n vreugdevolle uitsig en hoop op die uiteindelike ontknoping daarvan, vra voortdurende genade van die Here van die koninkryk, juis sodat ons onsself aan Hom en sy koninkryk sal kan bly oorgee en ons daarin sal wil en kan verheug om sy wil te soek en te doen.

Die onthutsende verkondiging van die komende eindoordeel, wanneer die koninkryk volkome sal wees en die Koning in sy heerlikheid oor alles sal heers en sal skeiding maak tussen ware en valse dissipels (13:49-50), wil ons almal tot volle oorgawe aan Hom en sy koninkryk aanspoor.

Troos

Daar is ook ‘n diep troos in Jesus se laaste opmerking (13:52) dat elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel – anders as die niehorende skare en blinde, weerstandige Fariseërs – die wysheid (kan) ontwikkel om ou en nuwe dinge saam te onderskei en te hanteer.

Ook ons word oorrompel

Jesus se gelykenisse dien tot vandag toe om ons te oorrompel en ons mee te voer in gehoorsaamheid aan die Koning. Die gelykenisse help ons om God se komende wêreld so helder te sien, dat ons eie werklikhede daardeur oorrompel word. Dit help ons om ons werklikhede nie langer raak te sien nie, en God se koningskap en koninkryk eerder raak te sien.

Iets daarvan gebeur met mens terwyl jy die video van die dogtertjie en haar muntstukkie sien. Terwyl die klanke van Beethoven se negende simfonie opklink. Voor jy jou kon kry, neurie jy lied 530 uit die Liedboek oor en oor saam met die musiek. Want op dié aangrypende melodie van Beethoven, is die diep grypende woorde van Lied 530 berym, aan die hand van 1 Korintiërs 13: “Praat ek mense-, eng’le tale . . .” In die groei en opwel van die musiek ontdek jy God se liefdevolle koninkryksverhaal wat ons betrek by God se aksie in die wêreld:
. . . of al het ek al die kennis, sonder liefde is ek niks.
. . . sonder liefde sal my gawes, al my ywer my nie baat.
Al die tale, profesieë, met die tyd gaan dit verby.
Net die liefde, die volmaakte, kom en sal vir altyd bly.
Want geloof gee troos en rigting; na die toekoms reik die hoop.
Liefde is en bly die grootste: Liefde sluit die lewe oop.”

Saad, suurdeeg, pêrel, skat

Sodra mens hieroor begin nadink, besef jy dat ons wêreld inderdaad met mosterdsaadstories, suurdeegverhale wat getuig van kosbare skatte in die koninkryk van God, gevul is.

Dr. Johan Botha van die NG Kerk se Getuienisaksie in die Wes-Kap vertel só ‘n storie:

Op Sondag 23 Oktober 2011 was ek en twee kollegas uit die NG kerkfamilie in die Ibrahim Babangida stadion in Makurdi, hoofstad van die Benue-deelstaat in Nigerië, saam met duisende vreugdevolle Christengelowiges van die NKST, ons susterkerk onder die Tivsprekendes in daardie Noord-Afrikaanse land. (Die kerk in Tivland het ontstaan weens sendingwerk van die NG Kerk in die 19de eeu.)

Talle kinders, jeugmaats, die dogters- en seunsbrigades, jeug- en volwasse kore, ma’s en pa’s, oupas en oumas, baie boere, baie onderwysers, sakelui en politici asook heelwat besoekers en genooide gaste soos ons was teenwoordig.

Almal was saam voor die Here bly en vrolik, al ‘n hele naweek lank by verskillende feesgeleenthede in Tivland, want die NKST het 100 jaar van God se genade in hulle lewe gevier. Die gasprediker, ds TT Mkena, het daardie Sondag by Matteus 13:31-33 aangesluit. Hy het die feesgangers in die stadion en oor die radio en TV daaraan herinner dat die koninkryk baie klein, eintlik niksseggend en nederig in Tivland begin het, net soos met die mosterdsaadjie. Vandag is ons oorweldig deur die groei van die Here se hemelse koninkryk onder ons, het hy beklemtoon.

Die nederige sending het ‘n baie groot gemeente van Jesus geword. Hy het gewys op die groot uitdagings binne die kerk en in die gemeenskap vandag. Hulle is diep dankbaar teenoor broers en susters wat uit liefde vir die Here en hulle van ver gekom en die evangeliesaad by hulle kom saai het toe daar nog niks daarvan was nie. Dit was ‘n klein begin onder baie uitdagende omstandighede.

Die sendelinge het die Bybel in hulle eie taal kom help skryf, mediese versorging gevestig, die formele onderwys begin en hulle ook aan die tegnologie en landbou blootgestel. En die NKST het tot stand gekom. So is hulle versorg en vir die lewe voorberei.

Maar, hulle is veral in die feestyd vol vreugde in erkentlikheid teenoor die Here van die koninkryk. Hy het vir hulle hierdie geloofsvaders en -moeders gestuur om die saad te saai wat by hulle ontkiem en gegroei het. Hulle is vandag baie dankbaar hieroor en gaan die huidige uitdagings tegemoet met geloofsmoed. Hulle wil graag verder help bou aan die Here se koninkryk oral waar Hy hulle in die wêreld wil gebruik, ook deur middel van die NKST se gemeentes, die kerkskole en hospitale en klinieke, die hoër opleidingsinrigtings en die universiteit waarmee Hy hulle geseën het om Hom en die gemeenskap om hulle te dien.

In een belangrike respons op die uitdagings van daardie feesnaweek het die NKST se sinode onlangs hulle naam verander. Aanvanklik etnies bepaald en bekend as die kerk van Christus onder die Tivsprekende mense in Nigerië is hulle naam sedert Junie 2012 die Kerk van Christus, Gereformeerd en Universeel om vir alle mense in en buite Nigerië oop en diensbaar te wees met die evangelie van die koninkryk.

Só is die koninkryk inderdaad. Vir só ‘n Koning kan mens jou lewe gee, en jou deeltjie doen.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang
Lied 473 “aarmee kan ons die koninkryk” of
Flam 101 “Gryp Na Die Ewige Lewe”

Seën

Respons
Lied 492:4 laaste 4 strofes: Niks wat ons lei nie, / niks kan ons skei nie – / skei van U Here. Ons sing U ere. / U is ons vreugde. Halleluja. 

of Flam 120:3

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.