Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks sien ons hoe die simbool van God se teenwoordigheid, die ark van die verbond, na Jerusalem gebring word en Dawid wat uitbundig vooruit dans.

Psalm 24 loof God as die magtige koning.

Efesiërs 1:3-14 wys hoe hierdie magtige koning in genade ons uitgekies het as sy kinders nog voordat Hy die aarde geskep het.

In Markus 6:14-29 lees ons van Johannes die Doper se dood, omdat hy vir koning Herodes gesê het dat hy nie soos ‘n regverdige koning lewe nie.

Ander tekste

Psalm 24
Die Here is die magtige koning
24 ’n Psalm van Dawid.
Die aarde en alles wat daarop is,
die wêreld en dié wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
2want Hy het die fondamente daarvan
in die see gelê
en dit stewig gevestig in die waters.
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein
en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy
en geen vals eed aflê nie.
5So iemand sal van die Here
seën ontvang,
en God, sy redder,
sal reg aan hom laat geskied.
6Die mense wat na sy wil vra
en Hom dien,
is die geslag van Jakob.
7Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning
wil ingaan!
8Wie is hierdie magtige Koning?
Die Here, sterk en geweldig,
die Here, oorwinnaar in elke stryd.
9Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
10Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.

Efesiërs 1:3-14
Lof aan God vir sy genade
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Markus 6:14-29
Verskillende menings oor Jesus
(Matt 14:1–2; Luk 9:7–9)
14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”

15En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ’n profeet soos een van die ou profete.”

16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper
(Matt 14:3–12; Luk 3:19–20)
17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna ’n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ’n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21Op ’n dag het Herodias ’n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ’n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23Daarby het hy dit herhaaldelik met ’n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ’n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ’n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ’n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Fokusteks

2 Samuel 6:1-5, 12b-19
Dawid bring die ark van die Here in Jerusalem in
(Vgl 1 Kron 13:1–14;  15:1–16:3)
6  Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings. 2Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. 3Hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa 4waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop. 5Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 7Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. 8Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.

9Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”

10Hy het nie kans gesien om die ark van die Here by die Dawidstad te laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was. 11Die ark van die Here het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.

12Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.”

Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 13Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. 14Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan. 15Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.

16Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.

17Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer. 18Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige. 19Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen ‘n ringbrood, ‘n bietjie dadels en ‘n handvol rosyntjies laat uitdeel.

Hierna is almal huis toe, 20en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.

Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ‘n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot.”

21Hy het vir Mikal geantwoord: “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans. 22Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederig wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.”

23En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie ‘n kind gehad nie.

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1.  OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd, na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2.  AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3.  KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4.  LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 6
Die troonbestyging van Dawid gebeur met baie intriges en konflik met Saul se nageslag, uit die stam van Benjamin, en sy onderdane (vgl. Abner se rol), hoewel die skrywer telkens duidelik laat blyk dat Dawid nie persoonlik daarby betrokke geraak het nie.  Die kloof tussen Noord en Suid bly egter groot, en hoewel Dawid dit regkry om uiteindelik koning van al die stamme van die twee “ryke” te word, bly dit sluimerend tot met die skeuring van Israel na die dood van Salomo.

In hoofstuk 5-7 word vier opeenvolgende gebeure vertel wat gelei het tot Dawid se koningskap van die hele Israel: 1) die verowering van Jerusalem; 2) die oorwinning oor die Filistyne, 3) die Ark se terugkeer na Jerusalem, en 4) die verbond wat God met Dawid sluit dat sy koningskap vir ewig sal wees.

Interessant dat Dawid (hfst. 6) met militêre mag optrek om die ark te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9).  Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word.  Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval.  Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon – 1 Sam 5).

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n onsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het.  Dit leer ‘n mens dat God se wil in alles die deurslag moet gee.  Oor alles moet Hy geraadpleeg word.

Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Dawidstad in (1 Kron 15:11-15).  Hy offer ‘n bul en vetgemaakte kalf (heel moontlik net aan die begin van die prosessie en nie elke 6 tree nie, volgens die meeste geleerdes), dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is.

Dit kan een van die redes wees vir Mikal se misnoë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het.  Let op hoe Mikal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap.  Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Psalm 24)

Seëngroet: (Efesiërs 1)

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Matteus 22
Die vraag oor die grootste gebod

Skuldbelydenis: (Psalm 51)

Vryspraak: (Esegiël 36)

Lof aan God vir Sy genade: Efesiërs 1:3-14

Lofliedere
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Epiklese gebed: ahv Lied 442

Skriflesing: 2 Samuel 6:1-5, 12b-19

Geloofsbelydenis
V: Saam met Markus bely ons ons geloof in Jesus Christus. Saam met Johannes die Doper …
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011)

Offergawes

Wegsending: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Seën
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2″

Aanvangswoord 
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein
en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy
en geen vals eed aflê nie. (Psalm 24)

Seëngroet
Aan almal in ……………………………….. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Efesiërs 1)

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet

Matteus 22
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: (Psalm 51)
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!

6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

8 U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Vryspraak: (Esegiël 36)
26Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Lof aan God vir Sy genade
Efesiërs 1:3-14
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Lofliedere
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F238. “U is God (Al die Lof)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: H Berner
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Sing Uit!)

1. U is God.  (Dames herhaal)
Ons sal juig.  (Dames herhaal)
Want ons weet  (Dames herhaal)
U’s in beheer!  (Almal)
U verdien  (Dames herhaal)
Al ons lof,  (Dames herhaal)
Want U doen  (Dames herhaal)
Net wat U sê.  (Almal)

Refrein:
Al die lof en die dank,
Al die eer en heerlikheid,
Al die krag aan U, Heer,
Tot in alle ewigheid.
Amen.

2. U’s so groot.  (Dames herhaal)
Woorde ontbreek  (Dames herhaal)
As ons dink  (Dames herhaal)
Aan U ons God (Almal)
U hart is sag  (Dames herhaal)
As U aan ons dink.  (Dames herhaal)
U is geduldig,  (Dames herhaal)
God wat vergeef.  (Almal)

Refrein:

Brug:
Alles wat asemhaal,
Loof, loof die Here!
Alles wat leef,
Buig voor Hom neer.
Alles wat asemhaal,
Loof, loof die Here!
Dié wat U ken,  sing vir U.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: ahv Lied 442
Gees van God wat in my woon,
breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon,
kom en heilig my.
Gees van God wat lewend maak,
vul my meer en meer.
Gees van God wat lewend maak,
vorm my tot u eer.
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God, vul my al meer –
breek die Woord vir my.
vorm my tot u eer. Amen

Skriflesing: 2 Samuel 6:1-5, 12b-19

Familie-oomblik

Hoekom was die ark van die verbond so belangrik?
Hoekom was Dawid so bly daaroor dat hy nie kon ophou dans nie?
Die ark van die verbond was ‘n groot hout kis wat vier mans saam aan moes dra. (Dit sal goed wees om ‘n kis iewers in die liturgiese ruimte te hê om vir die kinders ‘n visuele idee te gee.)
Binne-in die ark was die 10 gebooie wat God vir Moses in die woestyn gegee het – hoe God graag wou hê sy volk moet lewe. (Sit vooraf die Kanselbybel binne-in die kis en laat een van die kinders dit nou uithaal.) Die Bybel wys vir ons vandag nog wie God is en hoe God wil hê dat ons lewe – dis wat Dawid so bly gemaak het en ons is vandag nog bly daaroor!
(Uit Bybel Media se Woord en Fees, 2014, 2015)

Preekriglyn

Goeie leiers is ‘n seën vir die samelewing. Hulle lei met wysheid en wys die regte pad aan. Slegte leiers dompel mense in ellende.

Ons is bevoorreg om in Suider-Afrika voorbeelde van goeie leiers te hê. Een van hulle het in die 18e eeu geleef, ‘n tyd toe storm en drang, geweld en verwoesting ons land gekenmerk het. Ons dink aan Moshoeshoe, soms ook Mosjesj genoem, die stigter van die Basoetoe-nasie.

Max du Preez vertel:
Moshoeshoe was ’n jong hoofman van ’n klein Sotho-sprekende clan in sentraal Suid-Afrika toe die Difaqane begin het – die verwoestende periode van konflik en hongersnood wat op sy ergste tussen 1815 en 1840 in die sentrale en oostelike dele van ons subkontinent gewoed het.

Beeste is voor die voet geslag en oeste afgebrand en die hongersnood was só erg dat klein groepe selfs kannibale geword het.

Toe Moshoeshoe se geliefde oupa, Peete, deur kannibale gevang en geëet is, was dit voor die hand liggend dat die skuldiges gejag en doodgemaak moes word en dit is wat sy mense geëis het.

Maar Moshoeshoe het wal gegooi. Die kannibale se liggame verteenwoordig my oupa se graf, het hy gesê, en sy graf mag nie onteer word nie.

Hy het die skuldiges laat vang en reinigingsrituele op hul lywe uitgevoer. Hy het een stap verder gegaan: hy het die kannibale genooi om saam met sy mense op Thaba Bosiu te gaan woon en produktiewe burgers te word. Uiteindelik het van hul leiers sy waardevolle raadgewers geword.

Anders as die groot krygers van sy tyd, soos Shaka van die Zoeloe en Mzilikazi van die Matabele, het Moshoeshoe besluit om geen deel te hê aan die kringloop van aanvalle en weerwraak van die tyd nie. Hy het sy mense op Thaba Bosiu gevestig, ’n plat berg met net ’n paar passe wat maklik verdedig kon word.

Al die ander leiers van die tyd het hul leërs versterk en bataljonne jong manne opgelei, want net die sterkstes sou oorleef. Dit was nie ’n tyd vir sissies of weifelaars nie.

Moshoeshoe het, teen die raad en instinkte van sy mense, besluit om glad nie aan die konflik deel te neem nie en eerder te verdedig as aan te val. Hy het ’n groot kudde op sy berg opgebou en pleks van sy manne oorlog toe te stuur, het hy hulle op die lande laat werk. Thaba Bosiu was die een plek in daardie tyd waar daar geen hongersnood was nie.

Moshoeshoe het nog ’n groot taboe gebreek: hy het mense uit ander taalgroepe en kulture wat in die omgewing rondgeswerf het, genooi om by sy koninkryk aan te sluit. Hulle is toegelaat om hul eie tale en tradisies te behou solank hulle lojaal was aan die koning.

Toe die eerste wit sendelinge (Eugène Casalis en Thomas Arbousset van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap) in 1833 by hom aankom, het hy hulle ingetrek as raadgewers en bondgenote eerder as meesters of onderwysers, en die sendelinge het self ook Basotho geword.

As Moshoeshoe die gewelddadige pad van die ander swart leiers, die wit setlaars en die Britse kolonialiste van sy tyd geloop het, sou die swaarkry en onstabiliteit in die sentrale dele van ons land dalk baie langer voortgeduur het.

Moshoeshoe se voorbeeld en nalatenskap is dat hy sosiale kohesie geskep het en die voorspoed van sy mense nagestreef het. Hy het die kuns verstaan om mense saam te bind en te verenig agter ‘n gemeenskaplike visie van voorspoed en vooruitgang.

Koning Dawid

Die Bybel teken Dawid as ‘n wyse koning wat ook mense kon verenig en God in alles geraadpleeg het.

In ons teks lees ons van die vreugde en blydskap toe Dawid die Ark van die Here na Jerusalem gebring het. Daar was uitbundige feesvreugde en jubeling. Vir elke ses treë van die draers van die ark gegee het, is ‘n bul en vetgemaakte kalf aan die Here geoffer. Dawid het heelpad voor die Here gedans, uitbundig, net met ‘n linneskouerkleed aan.

Die ark, die simbool van die Here se teenwoordigheid onder sy volk, word uiteindelik in Jerusalem in die tent wat spesiaal daarvoor opgeslaan is, neergesit. Dawid bring dan brandoffers en maaltydoffers aan die Here. Daarna seën hy die hele volk in die Naam van die Here. Dan kry elkeen iets om te eet: ‘n ringbrood, dadels en rosyntjies.

Wat was die ark?

Die ark was ‘n kis wat gemaak is op grond van God se opdragte aan Moses by Sinaiberg. Dit het die twee kliptafels bevat waarop die wet van Die Here (Eksodus 20) neergeskryf is. Dit was met goud oorgetrek, en is tydens die tog deur die woestyn sowat 800 meter voor die volk uit gedra deur die Leviete. Die waters van die Jordaan het oopgekloof toe die Leviete die ark daardeur gedra het, sodat Israel die beloofde land kon binnetrek. Die mure van Jerigo het verkrummel nadat die ark vir sewe dae daaromheen gedra is.

Teoloog TW Cartledge vat die belangrikheid van die ark vir Israel saam deur te sê geen voorwerp in Israel was meer kosbaar as die ark van die verbond, soos dit dikwels genoem word, nie. Dit was ‘n besondere heilige skat vir die volk. Dit het die krag van God gedra. Die teenwoordigheid van God het op die ark gerus. Die beloftes van God het die ark vergesel.

Geweldige verlies

Die volk beleef ‘n verskriklike verlies wanneer die ark in 1 Samuel 4 deur die Filistyne buitgemaak word. Dit gebeur onder andere weens die sonde van die priester Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas. Eli se sonde was dat hy hulle nie betyds gedissiplineer het nie.

Die verlies van die verbondsark was vir die Israeliete ‘n intense ervaring, want die ark het ‘n deurslaggewende rol in die lewe van die volk gespeel. Die verlies van die ark aan die Filistyne was vir die Israeliete en vir Dawid ‘n verlies van God se teenwoordigheid en sy seëninge. Dit bring ook ‘n aanbiddingskrisis mee, want hoe kan God aanbid word sonder die teenwoordigheid van die ark en die wet daarin? Verder beteken dit dat die God van Israel moes “buig” voor Dagon, die god van die Filistyne. God se oorwinnende mag is vir die Israeliete hier op die spel. Die verlies van die ark is die verlies van hulle God, of die afwesigheid van God in hulle lewe.

Verlies omgekeer

In 2 Samuel 5 val die Filistyne Israel aan wanneer hulle verneem dat Dawid tot koning oor Israel gesalf is. Dawid raadpleeg die Here, Wie sê Hy gee die Filistyne in Dawid se hande oor. Nadat die Filistyne oortuigend verslaan is, trek Dawid op om die ark te gaan terughaal.

Die terughaal geskied in twee fases. Dawid neem uitgesoekte manne, en hulle gaan laai die ark op ‘n wa. Dawid en die hele Israel dans voor die ark uit met musiekbegeleiding. Dan struikel die osse, en Ussa wat na die ark gryp om dit te stabiliseer, word met die dood getref. Dawid word bang en laat die ark dan tydelik in Obed-Edom se huis staan.

Wat het skeefgeloop? Dawid maak die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word. Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval. Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie.

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede, maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie.

Dan gaan Dawid weer om die ark te gaan haal, hierdie keer op die regte manier. Die ark word met groot feesvreugde in Jerusalem teruggebring.

‘n Nasie verenig

Daar gebeur meer in ons teks as die blote bring van die ark na Jerusalem. Beide die ark en die stad Jerusalem speel ‘n geweldige belangrike rol in die lewe van die volk van God.

Eerstens kies Dawid Jerusalem as die nuwe hoofstad van Israel. Die noordelike 10 stamme (Israel) en die suidelike twee stamme (Juda) word deur Dawid se koningskap verenig. Vir hierdie ryk kies Dawid ‘n nuwe hoofstad, wat tussen die noorde en die suide lê, Jerusalem. Die stad was neutraal, almal kon hulle daarmee identifiseer. Die stad was ook strategies baie goed geleë, tussen die berge en maklik verdedigbaar. Jerusalem word dus die politieke en administratiewe hoofstad van Israel.

Tweedens bring hy die ark, die teken van God se teenwoordigheid, na Jerusalem toe. Dawid se koningskap is meer as net ‘n politieke werklikheid, dit is ook die wyse waarop God sy volk regeer. Vir die Israeliete het dit beteken dat hulle na Jerusalem moes gaan vir kontak met die verbondsark.

Die ark verleen geloofwaardigheid aan die nuwe orde wat Dawid wil vestig, met Jerusalem nie net as administratiewe nie, maar ook as godsdienstige hoofstad. Daarom gaan herwin hy die ark by die Filistyne en bring dit met ‘n groot seremonie terug.

Dawid, die leier wat God voortdurend raadpleeg, word ‘n wyse koning wie se bewind groot seën vir sy onderdane inhou.

God aan die werk

Mens moet in ons teks verder kyk as net na die dansende Dawid, die vreugdevolle Israeliete, die verslaande Filistyne en die offers, gebede en eetgoed wat ter sprake is.

Die hoofrolspeler, die Here, moenie uit die oog verloor word nie. Hier is baie meer op die spel as net die slim keuses van Dawid en die magspel van indiwidue en groepe. Dawid is God se keuse vir die troon in plaas van Saul. Hy is God se gunsgenoot en die man na God se hart.

Die boeke 1 en 2 Samuel wil die aandag op God se voorsiening en God se koninklike teenwoordigheid vestig. Dawid se troonsbestyging, eers oor Juda en dan oor ‘n verenigde Israel, is die sigbare gestalte van God se troon, heerskappy en heerlikheid (vgl Ps 24:7). Die triomfantelike terugkeer van die ark vanaf die Filistyne na Jerusalem, is ook die terugkeer van die heerlikheid van God. Deur Dawid kry God se regering, heerlikheid en koningskap sigbare vorm onder die volk.

Ons sou ook kon praat van die verborge, indirekte, versteekte handelinge van God in die teks wat nie altyd direk sigbaar is nie. Dit is God wat aan Dawid die oorwinning skenk. Dit is God wat sy teenwoordigheid via die ark onder die volk laat woon. Dit is God wat aan hulle feesvreugde gee. Teoloog Walter Brueggemann skryf dis makliker om oor God se magtige dade te praat as oor God se stille teenwoordigheid en voorsiening. Dit vereis geloofonderskeiding en sensitiwiteit om in ons alledaagse werklikhede God se handelinge raak te sien.

Soms is ons verlies, en die skok oor gebeure so groot dat ons God nie kan raaksien nie. Die skynbare afwesigheid van God is vir gelowiges ook vandag ‘n algemene geloofsprobleem. Die groter werklikheid van God se teenwoordigheid is in baie gevalle vir ons verborge agter sigbare werklikhede wat ons beleef.
Dink maar net weer aan Israel se verlies van die ark.

Verlies aan God se teenwoordigheid

Elke gelowige word een of ander tyd in die lewe gekonfronteer met ‘n verlies. Hierdie verlies kan verskillende vorme aanneem; verlies van lewensmaat tydens ‘n egskeiding en die gevolge wat dit vir dikwels kleiner kinders inhou. Seker een van die ergste vorme van verlies is dié van ‘n geliefde deur die dood. Daar is ook ander vorme van verlies soos die verlies van jou werk en die gevolge daarvan. Daar is die gevoel van verlies van jou waardigheid deur die optrede van mense of ‘n gebeurtenis in jou lewe. Daar is ook die kollektiewe verlies van vryheid wat ervaar word as gevolg van ‘n misdaadgeteisterde samelewing. Verlies laat ons dikwels magteloos en hou ons gevange

Die moeilikste en soms mees onverklaarbare vorm van verlies vir die gelowige, is die ervaring van die verlies van God se teenwoordigheid. Dit is onverklaarbaar omdat dit indruis teen alles wat ons van God weet en geleer het in die Bybel. Dit is die ervaring dat Hy nie luister nie en dat Hy onbetrokke staan ten opsigte van ons verlies en ons leed.

Dit was Israel se ervaring met die verlies van die verbondsark. Waar was God dan?

God is steeds betrokke

Wat die skrywer van die arkverhaal by die leser wil tuisbring, is dat God steeds betrokke is by die lot van die volk.

God is eerstens betrokke deurdat die verlies van die ark die noodwendige gevolg is van ongehoorsaamheid aan God. Die verlies van die ark kan nie losgemaak word van die priester Eli en sy twee seuns se sonde en God se straf daaroor nie (vgl 1 Sam 2:31-32, 34). In 2 Samuel 4:17 word berig dat die oordeel voltrek en die ark gebuit is. Hulle sonde bring skeiding tussen hulle en God.

God is egter ook op ‘n tweede manier betrokke deurdat Hy heeltyd in beheer bly van die verlies van die ark. God sou uiteindelik die Filistyne straf en die ark laat terugkeer. God is die hoofkarakter in die verhaal, of beter gestel, die outeur van die drama. Hy bepaal die verloop en uitkoms van die verhaal.

Kernvraag

Vir die gelowige is die kernvraag dus: Waar is God tydens my nood, krisisse, beproewing en ander vorme van verlies? Indien Hy teenwoordig is, hoe is Hy dan teenwoordig? Elke gelowige is maar te goed bewus van God se beloftes van nabyheid. Die mees bekende belofte in hierdie verband is Matteus 28:20 waarin Jesus sy teenwoordigheid aan ons toesê.

God is egter net skynbaar afwesig, want Hy is inderdaad die groter werklikheid agter ons kleiner sigbare werklikhede. Dit voel en lyk vir ons of God afwesig is tydens ons nood. God se teenwoordigheid is egter ‘n geskenk wat nie gegrond is op ons gevoelens, ons waarneming of ons goedheid nie.

Ons God is ‘n God wat nie gevange gehou kan word nie, nie in die tyd van die Filistyne nie, en nie vandag nie. Nooit nie! Geen mag of verlies is groot genoeg om ons van God se teenwoordigheid te beroof nie (vgl Rom 8:35-39).

Uiting aan verlies

Dit is belangrik dat ons ons verlies hoorbaar maak, verbaliseer, uiting gee daaraan, ook al weet ons nie altyd hoe nie en al maak dit soms nie vir ons sin nie. Dit doen God se volk in die Klaagliedere van Jeremia. Dit word selfs vyf keer in 1 Samuel 4 beklemtoon. Dit doen Jesus ook wanneer Hy aan die kruis uitroep: “My God, My God, waarom het u my verlaat” (Matt 27:46). Ons kan dit ook vandag doen, want God hoor ons. Hy luister na ons. Hy is nie buite hoorafstand nie en staan nie afsydig teenoor ons nie.

Vreugdevol in God se teenwoordigheid

God se betrokkenheid by die volk se verlies, bewerk juis ook die oorwinning. Selfs toe die ark in die hande van die vyand val en die Filistyne hulle oënskynlike oorwinning triomfantelik vier, word hulle die volgende dag verras met Dagon wat buigend voor die ark lê (1 Sam 5:3, 4). God laat die ark terugkeer na waar dit tuis hoort (1 Sam 5:11).

Die uitroepe van verlies en verlorenheid word vervang met die uitroepe van lof en aanbidding. Dink aan die feestelikheid en vreugdevolle dans van Dawid en die volk. Die presiese wyse van aanbidding is nie so belangrik nie. Die punt is eenvoudig dat God teenwoordig is en ons inspireer tot jubeling en lof. Sy teenwoordigheid in ons lewe en te midde van ons verlies open nuwe moontlikhede. Dit bring lewe en uitkoms. Dit gee hoop en verwagting. Hy is die Koning wat ook oor ons verlies regeer.

Met Jesus se lewe en sterwe het God eens en vir altyd sy solidariteit met ons bevestig. In Jesus Christus wys God dat Hy altyd naby ons wil wees (God met ons). Dit is juis ons wat van God wegloop en verlore raak sodat Hy ons weer moet opsoek. In Jesus is ons meer as oorwinnaars (Rom 8). Voor Hom sal uiteindelik elke knie moet buig – soos Dagon voor die ark – en elke tong bely dat Hy inderdaad Here is vir altyd (Fil 2:9-11).

Die kerk maak Jesus sigbaar in die wêreld

Die bevestiging en versekering van God se teenwoordigheid in ons lewe wat ons vandag weer ontvang, maak ons bly en spoor ons aan om God te aanbid. Dit laat ons egter ook besef dat ons, die kerk, Jesus sigbaar moet maak in die wêreld, want ons is sy liggaam op aarde. Ons is geroep tot lig vir die wêreld en sout vir die aarde. Ons vreugdevolle aanbidding van God moet oral deur ander gehoor en gesien word, oral waar mense die verliese van hierdie bedeling ervaar en smag na God se teenwoordigheid.

Ons identiteit as Jesus se liggaam maak ons vry om oral waar ons gaan self leiers van kwaliteit te wees. Leiers wat God se sorg raaksien, Jesus se selfopofferende diens onthou, en leef uit die krag van die Heilige Gees. Waar ons ook al leef, of gaan, is ons vry om die regte koers aan te wys.

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis
V: Saam met Markus bely ons ons geloof in Jesus Christus. Saam met Johannes die Doper …
G: Die Een wat ná my kom, is my meerdere.

V: Saam met die stem uit die hemel …
G: Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My!

V: Saam met Simon Petrus …
G: U is die Christus!

V: Saam met die stem uit die wolk …
G: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: Hierdie man was werklik die Seun van God.

V: En jy, wat glo jy?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.
A: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011)

Offergawes

Wegsending: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.