Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding
Die storie van Naäman in 2 Konings 5 gaan oor die eer van die Here. As sy gestuurdes gaan dit nie oor ons nie, maar oor Hom wie se verteenwoordigers ons is.
Psalm 30 gaan daaroor dat ons genoeg rede het om die Here te dank.
In Galasiërs word ons aangemoedig om toegewyd te lewe en om mekaar ook daarin aan te spoor.
Die sleutelteks help ons om ons identiteit as gestuurdes te verstaan.

Ander tekste

2 Konings 5:1-14
Naäman word genees van melaatsheid
5 Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ’n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ’n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ’n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ’n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ’n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ’n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ’n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein.

Jesaja 66:1-14
Die mag van die Here sal geopenbaar word
66 So sê die Here:
Die hemel is my troon
en die aarde die rusplek vir my voete.
Hoe moet die huis dan wees
wat julle vir My bou,
die plek waar Ek kan woon?
2Ek het alles gemaak
en so het alles ontstaan,
sê die Here.
Ek slaan ag op die mens in nood,
op dié een wat berou het oor sy sonde,
wat ontsag het vir my woord.
3Die mense offer bulle
maar hulle maak ook mense dood
as offers,
hulle offer lammers
maar hulle breek ook honde se nekke
as offers,
hulle bring graanoffers
maar ook offers van varkbloed,
hulle offer wierook
maar hulle prys ook afgode;
hulle het besluit
om hulle eie kop te volg,
hulle is lief vir hulle afskuwelike
afgodsoffers.
4Daarom besluit Ek
dat hulle gestraf moet word
en bring Ek verskrikking oor hulle.
Toe Ek geroep het,
het niemand geantwoord nie,
toe Ek gepraat het,
het niemand geluister nie;
hulle het gedoen
wat verkeerd is in my oë,
hulle het gekies
vir wat My nie aanstaan nie.
5Hoor die woord van die Here,
julle wat ontsag het vir sy woord:
Julle broers deur wie julle
gehaat word,
deur wie julle verstoot word
ter wille van my Naam, sê:
“Laat die Here sy mag bewys,
dat ons kan sien waarom julle so bly is!”
Maar hulle sal ontnugter word:
6hoor die rumoer daar in die stad,
hoor daar in die tempel,
hoor hoe die Here sy vyande straf
oor hulle dade.
7Bring ’n vrou ’n kind in die wêreld
voordat sy geboortepyne het?
Kry sy ’n kind
voordat die pyne haar oorval?
8Wie het al so iets gehoor?
Wie het dit al gesien?
Word ’n land op een dag gebore,
of word ’n nasie in een oomblik
in die wêreld gebring?
Maar Sion het skaars geboortepyne
gekryof sy het haar kinders
in die wêreld gebring.
9Sou Ek die moederskoot laat oopgaan en nie ’n geboorte laat plaasvind nie?
vra die Here.Of sou Ek wat geboortes laat plaasvind, die moederskoot toesluit?
vra jou God.
10Wees bly saam met Jerusalem
en juig saam met haar,
almal wat haar liefhet.
Wees vrolik saam met haar,
almal wat oor haar getreur het.11Julle sal aan haar drink
totdat julle genoeg het,
totdat julle veilig voel;
julle sal drink van die oorvloed
wat sy het,
en dit geniet.
12So sê die Here:
Ek laat vrede na haar toe aankom
soos ’n rivier,
Ek laat die rykdom van die nasies
na haar toe stroom.
Julle sal aan haar drink,
aan haar bors gedra word
en op haar skoot getroetel word.
13Soos ’n moeder haar kind
laat veilig voel,
so laat Ek julle veilig voel.
Julle sal veilig voel in Jerusalem.
14Julle sal dit beleef
en julle sal bly wees;
julle sal nuwe lewe kry
soos groen gras wat uitspruit.
So sal die mag van die Here
geopenbaar word aan sy dienaars,
en sal Hy sy vyande straf.

Psalm 30
Vir altyd sal ek U loof
30 ’n Psalm. ’n Lied vir die inwyding
van die tempel. Van Dawid.
2Ek wil u lof verkondig, Here,
want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees
oor my nie.
3Here my God, ek het
na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered
van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek
al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here,
julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het,
het ek wel gesê:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my
op ’n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar
in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Galasiërs 6:1-16
Dra mekaar se laste
6 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. 2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. 4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ’n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

6Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.

7Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. 8Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

Laaste waarskuwing en groet
11Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!

12Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ’n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel—mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

17Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.

18Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.

Fokusteks

Die sending van die twee en sewentig
(Vgl Matt 11:20–24)
10 Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

4“Moenie ’n beurs of ’n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in ’n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ’Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’10Maar as julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11“Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’

12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, dink jy jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!

16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

Die terugkoms van die twee en sewentig
17Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”

18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”

Ekstra stof

Waar Jesus se bediening in hoofstuk 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”. Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31). Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk. En dit kan Hy net in Jerusalem doen.

Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
Die vasbeslotenheid van Jesus tref ‘n mens. Hy weet wat Hy moet doen. En Hy weet wat die einde van daardie pad is. Tog fokus Hy met passie op hierdie roeping, al beteken dit dat Hy soos Johannes die Doper met sy lewe daarvoor sal moet boet.

Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.

Tog roep Hy ook steeds mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).

In die proses stuur Hy nou die 72 twee-twee uit om op die pad na Jerusalem – elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan – die evangelie te verkondig. Daarmee gee Hy aan die kerk ’n model van bediening wat, hoewel nie noodwendig op presies dieselfde wyse nie, nagevolg kan word.

Hier kom ‘n mens nou ook agter waarom Hy nie sterker reageer op die weerstande of huiweringe nie. Afrekening kom aan die einde van die tyd, net soos die heerlikheid ook dan wag vir dié wat gehoorsaam is. Dit motiveer Hom, en vorm die rasionaal agter sy bedieningstyl.

En wat vir Jesus geld, geld ook vir sy dissipels: wie na hulle luister, luister na Jesus, en wie nie luister na hulle nie, luister nie na Hom nie.

Die blydskap van Jesus oor die sukses van sy uitstuur-opdrag roer ‘n mens (10:21-22). Wat begin het met ’n alleen-pad wat Hy geloop het, opgevolg is deur die kern-groep van 12 dissipels uit te stuur, is nou ook suksesvol met 72. God se plan, soos dit begin ontvou, werk inderdaad.

Let op hoe Jesus dan drie groot lesse vir die dissipels leer:

  • Die feit dat hulle grense moet oorsteek soos die barmhartige Samaritaan (in kontras met dorpie wat Hom verwerp het) en hulle liefde vir God moet demonstreer in hoe hulle vir ander ’n naaste is (10:25-37). Let op hoe dit ook ’n eksplisiete korreksie op die Farisese idee is, wat gedink het jy kan met God ’n verhouding via die wet hê, sonder om aandag te gee aan die wyse waarop hulle ander mense insluit.
  • Die feit dat Jesus en sy woorde die fokus van hulle lewe moet wees, en nie net om reg te staan en bedrywig te wees nie – verhaal van Marta en Maria (10:38-42).
  • Die feit dat alles in ’n gebedsafhanklikheid van God gedoen moet word (11:1-13) waarby God se oorvloedige gewilligheid om te antwoord met ’n pragtige gelykenis uitgedruk word.

Dan skuif Jesus se aandag na die skare mense, waaronder ’n klomp Fariseërs, en gee lering oor die impak van die koninkryk wat Hy verkondig, en spel dit uit in terme van:

  • die effek op die koninkryk van die duiwel, waarmee Hy duidelik die kloof tussen die twee uitwys – jy kan nie in altwee kampe wees nie (11:14-23);
  • die noodsaak van toewyding aan God as teenvoeter vir ’n terugval in die mag van die duiwel (11:24-26 en 27-28) – “hoor en onderhou”;
  • die noodsaak om die tekens te kan onderskei – Jesus is hier, en mense weier om in sy lig te wandel (11:29-32 en 33-36);
  • die dwaasheid van die godsdienstige Fariseërs en wetgeleerdes wat hulle oor uitwendige goed bekommer, maar nie oor wat binne in hulle harte aangaan nie, en nie na Jesus kyk om sy boodskap te begryp nie, maar hoe om Hom uit te vang in ’n strik van een of ander aard – vir hulle, sê Jesus, wag daar net ellende (11:37-53)

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Amos 4

Seëngroet  

Lied 179 “Vader in die hemel, U beheer ons lewe, ons aanbid U vs 1,2,3”

Wet: Eksodus 20:1-17 DB

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Jesaja 66:2

Toe eiening van die vryspraak

Geloofsbelydenis: ahv Die Groot Gebedeboek p414

Loflied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

God praat met ons en ons luister
Epiklese

Skriflesing: Lukas 10:1-20

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

God stuur ons om te leef
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën: Efesiërs 1

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Amos 4
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!

Seëngroet  
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het,
wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 179 “Vader in die hemel, U beheer ons lewe, ons aanbid U vs 1,2,3”

Wet: Eksodus 20:1-17 DB
“Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee:
“Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie.

Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.

“Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het.

“Onthou dat die sewende dag die Here se dag is. Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit.

“Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly.
“Jy mag nie iemand anders doodmaak nie.
“Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie.
“Jy moenie iets steel nie.
“Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie.
“Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.””

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Jesaja 66:2
Ek slaan ag op die mens in nood,
op dié een wat berou het oor sy sonde,
wat ontsag het vir my woord.

Toe eiening van die vryspraak
5Sing tot eer van die Here,
julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
8Deur u goedheid het U my
op ’n veilige berg laat staan, Here.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Geloofsbelydenis: ahv Die Groot Gebedeboek p414
“Ek glo in Jesus Christus,
nie in ’n halfgod of ’n halfmens nie,
maar in die ewige Seun van die ewige Vader
wat uit louter liefde die hemel geskeur het,
om ’n mens te word,
wat kon lag en ly, wat kon twyfel en vrees
– een van ons.
Ek glo dat Hy te midde van die haat,
die koue en die verskrikking
as ’n weerlose Kind gekom het
– ter wille van die weerloses en die kinders.
Ek glo dat die eindelose opstand
teen God en die goeie
die enigste Mens wat God en goed was,
geoordeel en vermoor het
en dat die pyn en die godverlatenheid
van die hele wêreld
in sy sterwensroep gestol het.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het
en dat sy opstanding
die ewige teken is dat dinge anders kan wees;
dat die stryd tussen die lewe en die dood
finaal ten gunste van die lewe besleg is
en dat hierdie waarheid voortaan uitsig bied
in die mees uitsiglose omstandighede.”
(Gedeeltelik aangehaal uit die Groot Gebedeboek, bladsy 414 )

Loflied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Liedere

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur

Seën ons met volheid vul ons met U vuur
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan

Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop
Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

F100. “Gaan Dan Heen”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid)

Gaan dan heen en maak dissipels
Gaan dan heen – Ek stuur jou nou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Alle mag – in die hemel
Alle mag – behoort aan my
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Nooit sal ek – jou verlaat nie
Ek is nou – saam met jou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: Lukas 10:1-20

Familie-oomblik
Prediking

Gebed

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus se Volgelinge Werk vir God
10 1–2 Later het die Here twee en sewentig volgelinge uitgestuur. Hulle moes twee-twee voor Hom uitgaan na die dorpe toe waar Hy sou oorbly op pad na Jerusalem toe. Hy sê vir hulle: “Daar is so baie mense wat nog van God moet hoor, maar daar is heeltemal te min mense wat vir hulle van Hom kan vertel. Vra vir die Here om nog mense te stuur om dit te doen.

3 “Gaan na al die plekke toe waarheen Ek op pad is. Maar oppas: dit is ’n gevaarlike werk. Ek stuur julle soos lammetjies tussen gevaarlike diere in.

4–9 “Moenie geld saamvat nie. Los ook julle tasse vol klere by die huis. En moenie langs die pad kuier nie. As julle in ’n huis inkom, groet almal vriendelik. Sê vir hulle: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As hulle vir julle blyplek gee, dan sal God by almal in daardie huis wees. Maar as hulle julle wegjaag, sal God hulle straf. Bly in die huise waar mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Dit is die betaling vir julle werk. Maak al die siek mense gesond. Sê vir hulle: ‘God se nuwe wêreld* is nou hier by julle!’

10–12 “Wanneer die mense van een dorp nie na julle wil luister nie, gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê vir hulle: ‘God gaan julle eendag straf.’ Weet julle, dit sal op die laaste dag makliker wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat sulke lelike sondes* gedoen het, as vir die dorpe wat nie na julle luister nie.”

Daar Wag Probleme op Almal wat nie na Jesus Luister nie
13–14 Toe praat Jesus met ’n paar van die dorpe in Galilea waar Hy gepreek het: “Gorasin en Betsaida, vir julle wag daar probleme! As die slegte mense daar in Tirus en Sidon die wonderwerke* kon sien wat julle gesien het, sou hulle almal vir God jammer gesê het oor hulle sondes*. Op die laaste dag sal God nie vir Tirus en Sidon so swaar straf soos vir julle nie.

15 “Julle daar in Kapernaum dink mos julle doen wat God sê. Maar daar wag ’n groot verrassing op julle. Julle plekke in die doderyk* is al klaar bespreek.”

16 Toe sê Jesus vir sy volgelinge: “As mense na julle luister, dan luister hulle ook na My. As hulle nie na julle luister nie, dan luister hulle ook nie na My en na God nie.”

Jesus se Volgelinge het Goeie Nuus
17 ’n Ruk later kom die twee en sewentig volgelinge van Jesus terug van die plekke waarheen Hy hulle gestuur het. Hulle sê vir Hom: “Here, selfs die duiwels luister na ons wanneer ons hulle in u Naam uit mense wegjaag.”

18 “Dis omdat Ek sterker is as Satan*,” antwoord Jesus. “God het hom uit die hemel gegooi. Ek het self gesien hoe die Satan* tot hier op die aarde val.

19–20 “Ek sal julle beskerm sodat giftige slange en skerpioene julle nie sal kan doodmaak nie. Omdat julle in My glo*, is julle sterker as al my vyande. Moenie bly wees omdat daardie bose magte teen julle verloor het nie. Wees liewers bly omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld* is.”

Carolyn Brown meen dat die kern van die teks gaan oor vriendelikheid “hospitality”. Sy beskrywe dit soos volg…
when we pay attention to the people around us, taking care of them when they need it, sharing what we have and know, and letting them do the same for us, God’s kingdom is very near to us

Lees meer hieroor.
Hierdie video bevat ’n praktiese kinderboodskap oor die fokusteks (Engels)…

Preekriglyn

Jesus is op reis tussen Galilea en Jerusalem. Hy moet in Jerusalem kom, verwerping beleef en sterf, want dit is die wyse waarop sy roeping vervul gaan word. Daar is ‘n goddelike “moet”, ‘n verlossende drang, ‘n vaste beslistheid in Jesus se optrede.

Jesus se reis stroop Hom van baie dinge. Hy verlaat Galilea, die plek waar Hy opgegroei het en ook bekend was. Hier het die skares na Hom geluister, het Hy wonderwerke verrig, en was Hy die middelpunt van aandag.

Nou lê die reis voor, en die bestemming, Jerusalem. Daar wag die dood.

Geen wonder Jesus sê, soos ons verlede week gelees het, dat die Seun van die Mens nie ‘n plek het om sy kop neer te lê nie. Selfs jakkalse het gate en voëls het neste, maar Jesus se reis stroop Hom hiervan. Binnekort sou mense geen plek meer vir Hom op aarde hê nie.

Tog bly Jesus – het ons verlede week gesien – steeds mense nooi om by Hom aan te sluit en sy volgelinge te word. In ons teks stuur Jesus sewentig dissipels uit. Hy skakel ‘n groeiende getal volgelinge in by die proses om meer en meer mense te nooi om by die reis van gestrooptheid aan te sluit. En – verstommend genoeg – sluit meer en meer mense by Jesus op sy reis van self-ontlediging aan.

Waarom? Die ware vrede wat die ewige honger stil, is slegs by Jesus te vind. Daarom kom mense en sluit aan.

Passie vir vrede

Jesus se passie is duidelik om mense met God se vrede te bedien. Daarvoor is Hy onderweg na Jerusalem. Daarom word die 70 gestuur met die opdrag om vrede aan mense oor te dra. Vrede is meer as net ‘n groet. Vrede is die versamel-begrip wat alles saamvat wat God in Christus en deur die Gees vir God se skepping doen. Vrede het te doen met:

  • Herstel, genesing, harmonie en balans in die lewe
  • Geregtigheid: om lewensruimte te geniet, spasie te hê, genoeg om van te lewe, asook
  • Vreugde omdat jou lewe met sin en betekenis gevul is en jy in geneesde verhouding leef.

Hoe kan hierdie vrede met mense gedeel word? Jesus skakel sy volgelinge by hierdie proses in. Om ‘n volgeling te wees, is om ‘n gestuurde met die vrede van God te wees.

Die plan

Ons teks bevat Jesus se instruksies aan sy dissipels hoe om God se vrede met mense te deel, en hulle te nooi om aan te sluit by die goddelike reis na vrede. Hierdie instruksies is veel meer as ‘n goed-uitgedinkte bemarkingsplan. Dit beliggaam die wese van die evangelie, verteenwoordig die karakter van Jesus, en dra die stempel van die identiteit van die Een wat gekom het om sy lewe te gee as losprys vir baie.

Jesus se plan behels die volgende:

  • Almal wat saamreis is gestuurdes en moet ander nooi om te deel in Jesus se vrede
  • Wie gestuur word, moet bid. Stuur en uitnooi word gebore uit ‘n lewe van intieme kontak met God
  • Daar is ‘n goddelike “moet” in die lewe van die gestuurde, aangesien die oes groot en die arbeiders min is – elke arbeider moet sy of haar kant bring
  • Gestuurdes word – soos Jesus – gestroop, hulle moet sonder beurs of reissak gaan. Hulle is volledig afhanklik van die gasvryheid van diegene na wie hulle gestuur word
  • Jesus se dissipels bied Jesus se vrede aan. Dit kan nie afgedwing word nie, wat beteken hulle moet slegs oorbly waar mense gereed is om die vrede te ontvang. Die gestuurdes is afhanklik van diegene na wie hulle gaan, die vrede vloei nie vanuit ‘n posisie van mag nie, maar van afhanklikheid
  • Daar moet fokus in hul lewe wees. Daarom kan hulle nie langs die pad mense groet nie. In die destydse wêreld het groet behels dat mens drie tot vier dae by mense oorbly. Die goddelike “moet” skep ‘n dringendheid wat fokus en energie vra.
  • Net soos die evangelie slegs vanuit ‘n posisie van onmag gedeel kan word, kan dit ook net binne die netwerk van verhoudinge gebeur. Daarom moet die dissipels nie van huis tot huis gaan nie, maar bly waar die vrede ontvang is
  • Die vrede van Jesus bring genesing, herstel en nuwe lewe. Dit bring die regering van God tot by mense. Daarom sal siekes genees word, verhoudinge herstel word, en God se koninkryk gesien en beleef word. Dit gebeur waar die vrede posvat en groei.
  • Dissipels moet leer saamleef met weerstand. Dit is hulle taak om die vrede te dra, maar nie om mense te dwing om dit te aanvaar nie. Die oortuigingskrag kom van God. Daarom draai die dissipels ook net weg as mense nie die vrede aanvaar nie.

Waarin lê die krag van hierdie eenvoudige strategie? Die krag lê in die aanwesigheid van die koninkryk of regering van God self. Dit is God wat die oes voorberei, d.w.s. mense gereedmaak om die vrede te ontvang. Dit is die krag van God wat manifesteer wanneer ons uit swakheid God se vrede aangee. God is teenwoordigheid. God se heerlikheid kom tot uitdrukking wanneer ons, soos Jesus, in swakheid en selfprysgawe dien.

Deur die eeue

Waar die kerk deur die eeue gegroei het, was dit omdat mense Jesus se strategie ernstig geneem het. Veral waar mense gestroop van eie mag en middele van dwang na ander gegaan het, in ‘n dienskneg-gestalte, het die evangelie van vrede van die vreemdelinge na nuwe kringe gevloei.

In Filippense 2 word Christus besing as die Een wat God was, maar Homself as dienskneg ontledig het, onder ons kom woon het, en ons tot in die dood gedien het. Hierdie is die grondpatroon waarvolgens die evangelie groei.

Daarom kan geloof nie uitgemoor word nie. Dit is dikwels in die aangesig van die dood dat die getuienis van Jesus se gestuurdes die grootste krag het. In die eerste eeue was die bloed van die martelare die saad van die geloof. Dit is vandag nog só.

Die verhaal van Dmitri

Die verhaal van Dmitri, soos oorvertel deur Nik Ripken, sendingkundige en kenner van die vervolgde kerk, is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Dmitri het grootgeword in die tyd toe die kommunisme dit baie moeilik gemaak het vir gelowiges en veral kerke om in Rusland te oorleef. Sy pa het hom nog kerk toe geneem en geleer om die Bybel te lees en die liedere te sing van hulle kerk, maar dit het toenemend moeiliker geraak om kerk toe te gaan, omdat die regering die kerke toegemaak het.

Later was dit vir hom en sy gesin, vrou en twee kinders, net moontlik om een of twee keer ‘n jaar kerk toe te gaan. Hy was ‘n fabriekswerker en die naaste kerk was later drie dagreise ver.

Hy het egter besluit om die Bybelverhale vir sy kinders te lees en só die Bybelse boodskap lewend vir hulle as gesin te hou. Dit was groot pret en die seuns het lustig deelgeneem om ook self die verhale te vertel, en die liedere wat hulle pa hulle geleer het, te sing.

Gou het van die bure besluit om saam te kom luister, sodat hulle later ‘n groep van so 25 was wat een keer ‘n week saamgelees en gesing het. Die owerhede het bewus geraak daarvan, hom gewaarsku, en uiteindelik het hy sy werk verloor toe die groep so 50 sterk was. Maar, hulle het voortgegaan al het ook sy vrou haar werk as onderwyser verloor en die kinders uit die skool geskop is. Dmitri praat daarvan as “klein dingetjies” wat met hulle gebeur het.

Een aand was daar al 75 mense ingedruk in die huisie, skouer teen skouer, wang teen wang, om waar Dmitri op ‘n stoel gesit het na die Bybelverhale te luister. Die polisie het ingebars en hom baie hardhandig beveel om op te hou, anders sal dit hom suur bekom. ‘n Klein oumatjie het nie op haar laat wag nie, en soos ‘n Ou Testamentiese profeet haar vinger vir die polisieman geswaai en gewaarsku dat hy nou aan die gesalfde van die Here raak en dit nie sal oorleef nie. Twee dae later is dié polisieman aan ‘n hartaanval dood.

Ontsag het die dorpie aangegryp en die volgende geleentheid was daar 150 mense wat kom luister het. Die owerhede het egter ingegryp en hom in ‘n tronk so 1000 km verder vir 17 jaar opgesluit. Daar het Dmitri dit swaar gehad. Hulle het hom gespot en gemartel, om hom tot insig te bring dat daar nie ‘n God is nie, en dat geloof sinneloos is.

Dmitri was letterlik van alles gestroop. Twee dinge het hom egter staande gehou.

In die eerste plek was daar ‘n lied wat sy pa hom geleer het, ‘n Lied van die hart (HeartSong), wat hy elke oggend op aandag langs sy bed met sy twee hande na die ooste gerig, gesing het, selfs al is hy male sonder tal geslaan en gespot deur die wagte en die 1500 geharde misdadigers in die tronk.

In die tweede plek was daar die tekste uit die Bybel wat hy op stukkies papier geskryf het, as hy dit enigsins in die hande kon kry, en dan as offer aan die Here geplak het op ‘n nat pilaar in sy klein tronksel, so hoog soos hy kon bykom, en dan die Here geloof het. Ook dié Bybeltekste is telkens afgeruk en hy is gemartel daaroor en met die dood gedreig.

Een dag het hy ‘n A4 bladsy in die hande gekry en vol geskryf met tekste uit die Bybel, geplak op die pilaar en die Here geloof. Die bewaarders het egter ingestorm, hom ernstig aangerand en gewaarsku dat dit moet end kry.

Dit het hulle geïnspireer om die ondenkbare bose ding te doen, om klere van sy vrou te laat haal uit sy huis, ‘n vrou van die straat af in te bring, haar daarmee aan te trek, en hom onder die illusie te laat dat hulle haar nou ook in die tronk het. Hulle het haar oor drie dae gemartel terwyl hy dit kon aanhoor, sonder dat hy geweet het dit is nie sy nie. Na drie dae het hulle haar “lyk” uitgedra terwyl hy dit uit die verte kon sien.

Dmitri was stukkend en het verklaar dat hy sy geloof sal afsweer. Hulle kan die volgende dag vir hom papiere bring dat hy sy geloof kan afsweer, sodat hy na sy kinders kan gaan omsien. Hy was al 17 jaar daar, en dit het vir hom net te veel geword.

Dié aand het hy absoluut uitgemergel in sy tronksel gesit, toe daar ‘n wonder gebeur. Sy familie het om die stoel waarop hy gesit het om die Bybelverhale te vertel, gekniel in hulle huis en vir hom gebid. Hulle het net geweet, iets drasties is verkeerd, en Dmitri het gebedsondersteuning nodig. Hoe weet ‘n mens nie, maar Dmitri vertel, hy het skielik in sy moedeloosheid en uitputting hulle stemme hoor bid. Hy het onmiddellik moed geskep, geweet sy vrou is nie dood nie, dat die Here hulle nie versaak het nie, en die volgende oggend geweier om enigiets te teken.

Die bewaarders was op vir Dmitri en het hom uit sy sel gesleep om hom aan die galg buitekant die tronk te gaan ophang. En skielik gebeur die verdere wonder. Soos een man het die ander 1500 gevangenes in die tronk hulle hande na die ooste gelig en Dmitri se lied van die hart begin sing.

Vir Dmitri het dit geklink soos ‘n engelekoor. Die wagte het ontsteld hom gelos en gevra: “Maar, wie is jy?” Waarop hy geantwoord het: “Ek is ‘n seun van die Lewende God, en Jesus is sy Naam!

En net ‘n tydjie later is hy vrygelaat en met sy familie herenig.

Dmitri het ‘n verskriklike reis van stroping beleef. Dit is waar van baie gelowiges in baie dele van die wêreld. Tog kon Dmitri deur wie hy was, en deur die krag van God wat in hom werk, ‘n kragtige getuienis lewe.

Hoe volg ons Jesus vandag?

Ons moet vra wat Jesus se opdragte vandag vir ons beteken.

In die eerste plek leer Jesus ons om af te sien van ons mag as individue en as gemeente. Jesus stuur ons sonder ekstra skoene, bagasie en die mag van ‘n beursie. Vir ‘n gemeente en gelowiges lê daar heerlikheid vin die prysgee van mag. Dit is ʼn vreemde “heerlikheid”, en maak alleen sin aangesien die Koninkryk van God naby is. Dit is die bepalende faktor! Nie selfvoorsiening en selfstandigheid nie. Nie om sterk te wees nie. En dit is vir ons iets nuuts. Ons het dit verleer en sal dit weer moet aanleer.

Dit beteken dat ons nie met al ons begrotings en al ons planne ander moet probeer oorrompel of oorhaal vir die koninkryk van God nie. Die nederigheid en onmag waarmee ons die vrede van die Here deur woord en daad aangee, gee die deurslag.

Gestroop

Min van ons sal die lyding wat Dmitri beleef het, deel. Tog is daar uit ons wêreld mense soos Pierre Korkie, asook Werner Groenewald en sy twee kinders, Rodé en JP, wat hul lewens in diens van God se vrede verloor het. Twee weduwees, Yolanda Korkie (en haar kinders) en Hannelie Groenewald leef met die verskriklike verlies saam.

Al betaal ons nie die hoogste prys nie, is die wese van dissipelskap dat ons identiteit as Christene gevorm word deurdat ons aan die self en die ego gestroop word. Ons ontvang ons nuwe identiteit van Christus. Ons moet minder word en Hy meer.

Rol van vreemdelinge

Dit is opvallend hoedat Christus sy dissipels leer om grense na ander oor te steek. Hulle word uit hulle gemaksone gelig en na ander gestuur. Die kerk van die Here word vandag ook geroep om dieselfde te doen. Dit beteken elkeen van ons moet bedag wees op die vreemdelinge van ons weg kruis, en in elke kontak die geleentheid sien om God se vrede te deel.

Dit beteken dat vreemdelinge die evangelie na ander dra. Ons is vreemdelinge vir diegene wat die Here deur ons bereik, en omgekeerd. Dit was dikwels so reg deur die geskiedenis van die wêreld. Daarom is die oorsteek van grense so normaal. Selfs wanneer ons ons kinders van die Here leer, is dit een geslag wat na ‘n ander uitreik. Ons bure, die mense laer af in die straat, diegene in die ander woonbuurt, is dikwels die vreemdelinge na wie ons gestuur word om die evangelie op kreatiewe manier te deel.

Grense staan so sentraal omdat Christus die grens van God na ons oorgesteek het om ons te kom red. Ons word by hierdie dinamika ingesluit. Wie dus die oorsteek van grense weerstaan, weerstaan die hart van die evangelie.

Insluiting

Dit is duidelik uit ons teks dat die uitdeel van God se vrede nuwe gemeenskap tussen mense tot stand bring. Vreemdelinge word vriende, buitestanders word ingesluit in gemeenskap, voormalige vyande word bondgenote.

Die kerk van die Here is nooit ‘n geslote gemeenskap waar mense net bestaande gemeenskap in stand hou nie. ‘n Kerk sterf wat haar geledere nooit aanvul met nuwe lede nie. Oop kerke, oop harte, oop arms is nodig. Daarom mag niemand kerk toe kom en nie ‘n geselsie aanknoop met iemand wat jy nie ken nie. Ons moet voortdurend bedag wees om die vorming van nuwe geloofsgemeenskap met mense wat ons nie ken nie.

Hoe deel ons die vrede?

Mens kan vrede deel met die manier waarop jy groet, die wyse waarop jy toeganklik is, die sagtheid waarmee jy ander hanteer. Dit het te doen met jou styl van bestuur, jou manier van omgaan met jou medemens, die betroubaarheid waarmee jy ander deur die lewe help, en jou getuienis van die vrede wat Christus gee. Woorde en dade is nodig.

Gesag

Agter dit alles moet ons nie die gesag miskyk waarmee Jesus sy dissipels beklee nie. Almal wat sy dissipels verwerp, verwerp Hom. En omgekeerd. Gestuur, vrede dra, grense oorsteek is geen neutrale, toevallige proses nie. Dit is die hartklop van God se koninkryk. Dit is hoe God se regering en genesing naby kom.

Daarom rapporteer die dissipels uiteindelik dat selfs bose geeste hulle aan die dissipels onderwerp het.

Mag God Godself verheerlik deur die wyse waarop ons onsself vir Jesus se sending in die wêreld gee.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën: Efesiërs 1
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.