Sewe en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Sondag van Christus die Koning

Ander tekste:
2 Samuel 23:1-7; Psalm 132:1-12, (13-18); Johannes 18:33-37

Ander tekste

2 Samuel 23:1-7
’n Verbond vir altyd
23 Hier volg die laaste woorde van
Dawid:
“Dit is Dawid seun van Isai
wat praat.
Dit is ’n man wat praat,
een wat hoog geplaas is,
die gesalfde van
die God van Jakob,
die gevierde in die liedere
van Israel:
2“Die Gees van die Here het
deur my gepraat,
ja, sy woord was op my lippe.
3Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4is soos die môrelig as die son opkom
op ’n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5“God het my koningskap
goed gevestig,
Hy het aan my ’n verbond
vir altyd gegee,
behoorlik opgestel en goed bewaar.
Al my hulp, al my vreugde,
dit kom van Hom af.
6Maar die goddelose is
soos doringtakke
wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand
daaraan nie.
7Wie daarmee werk, doen dit
met yster of hout.
In ’n vuur brand hulle
heeltemal uit.”

Psalm 132:1-12, (13-18)
Die Here het ’n eed teenoor Dawid afgelê
132 ’n Pelgrimslied.
Dink tog aan Dawid, Here,
aan alles wat hy deurgemaak het,
2aan die eed wat hy teenoor die Here
afgelê het,
sy gelofte aan
die magtige God van Jakob:
3“Ek sal nie in my slaapkamer
ingaan nie
en nie op die bed
wat vir my reggemaak is,
gaan lê nie,
4ek sal my geen slaap gun nie,
en sal nie eens insluimer nie,
5totdat ek ’n plek vir die Here
gereed gemaak het,
’n woning
vir die magtige God van Jakob!”
6Ons het van die verbondsark gehoor
in Efrata,
ons het dit gevind in die Jaärsveld.
7Kom ons gaan sy woning binne,
kom ons buig daar in aanbidding
voor Hom.
8Kom na u rusplek toe, Here,
U en die ark, die teken van u mag.
9Gee aan u priesters die oorwinning,
laat u troue dienaars juig.
10Ter wille van u dienaar Dawid,
moet tog nie u gesalfde verstoot nie.
11Die Here het ’n eed
teenoor Dawid afgelê,
en dit staan vas, Hy sal daarvan
nie afwyk nie:
“Ek sal een van jou eie seuns
in jou plek laat koning word.
12As jou nakomelinge
hulle aan my verbond hou
en aan die verordeninge
wat Ek hulle leer,
sal ook hulle seuns vir altyd
op jou troon heers.”
13Ja, die Here het Sion gekies
en dit vir Hom as woning begeer:
14“Dit is my rusplek vir altyd;
hier wil Ek woon, dit is my begeerte.
15Ek sal Sion ryklik seën
met wat hy nodig het,
aan sy armes voedsel
in oorvloed skenk.
16Ek sal aan sy priesters
die oorwinning gee
en my troue dienaars sal juig.
17Daar sal Ek die heerskappy
vir Dawid vestig,
vir my gesalfde
’n nageslag op die troon verseker.
18Sy vyande sal Ek magteloos
laat toekyk,
maar sý kroon sal bly skitter.”

Johannes 18:33-37
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Fokusteks

Openbaring 1:4b-8
Voorwoord
1 Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. 2Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.

3Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

Aanhef van die brief
4Van Johannes.
Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!

8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Ekstra stof

Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur
Die eerste hoofstuk kan in vier dele opgedeel word:

  • ‘n Openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur – vers 1-3;
  • Johannes se boodskap aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië – vers 4-5a;
  • ‘n Lofprysing aan die Verlosser, dié Een wat weer kom, gebaseer op God se selfbekendmaking as die Alfa en die Omega, die Een wat is, wat was en wat kom – vers 5b-8;
  • Johannes se visioen van Jesus Christus wat hom inspan om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf – vers 9-20.

‘n Openbaring deur Jesus Christus – vers 1-3
In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes.  Dit is verkeerd.  Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is.  Jesus tree aan die eenkant nie op sy eie op nie.  God die Vader stuur Hom met ‘n baie spesifieke opdrag.  Aan die ander kant tree Jesus met volle gesag op om aan die gelowiges te toon wat binnekort moet gebeur, soos die Vader Hom gewys het.  Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel.

Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges.  Dít is die laaste woorde van Jesus aan sy mense in verband met die eindtyd wat naby is.  Maar belangrik: dié woord van God is nie die getuienis oor Jesus Christus nie, maar “die getuienis deur Jesus Christus“, soos die N.A.V. se vertaling: “wat Jesus Christus bevestig het” eintlik oorspronklik lui.  Jesus word as die uitvoerder van God se opdrag aangedui en die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom.  Kragtig!  In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make.  Hy praat met ons deur die boek.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek (voor)lees – d.w.s. die leraars of bedienaars van die Woord wat dit voorlees – geseënd verklaar , sowel as dié wat daarna luister en belangrik, dit wat daarin geskrywe staan, nakom.  Die dringendheid hiervan het met die tydsgewrig te make waarin hulle lewe.  Die openbaring gaan oor wat binnekort moet gebeur.  Die tyd is naby.

Johannes se boodskap – vers 4-5a
Die aanhef van die brief volg nou waarin Johannes die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aanspreek en groet met die Drie-enige genade (Griekse seënbede) en vrede (Hebreeuse sjalôm) van 1) die Vader wat is en wat was en wat kom – ‘n beskrywing van die dinamiese karakter van God – van 2) die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk (vgl. ook 3:1; 4:5; 5:6 asook Sag. 4:6)  – en 3) van Jesus Christus. Die sewe gemeentes verteenwoordig die hele Christelike kerk.

Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – d.w.s. sy getuienis kan geglo word – die Een wat nie net as Eersgeborene uit die dode opgestaan het nie, maar ook reeds die heerser oor die konings van die aarde is.  Ons hoor hierin die getuienis van Psalm 2 weerklink, dat God se gesalfde koning is en dat almal vir Hom ontsag moet hê.  Let ook op hoe dit as ‘n teenswoordige realiteit beskryf word, nie iets wat eers met die Wederkoms aanbreek nie.

‘n Lofprysing aan die Verlosser – vers 5b-8
Aan dié betroubare getuie kom waarlik die heerlikheid en sterkte toe vir ewig en ewig, soos Johannes in ‘n lofprysing dit uitbasuin.  Dit is Hy wat ons nie net liefhet en verlos het nie, maar ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader (vgl. ook 1 Pet. 2:9).  Daarmee word nie net sy werk as Verlosser verheerlik nie, maar ook ons taak en opdrag as ‘n koninkryk van priesters vir God, sy Vader, uitgespel, om met Hom in kontak te lewe voor die mense en Hom publiek te dien.

In ‘n verdere lofprysing word nie net Jesus se eerste koms in herinnering geroep nie, maar ook sy tweede koms, ‘n koms met die wolke, waarin die Hemelvaart van Handelinge 1 in herinnering geroep word, maar ook die wederkoms vooruitgesien word, een van die sleuteltemas van die boek Openbaring.  Almal sal Hom dan sien, selfs ook dié wat Hom verwerp het en aan die kruis deurboor het (vgl. Joh. 19:37).  Al die volke op aarde sal oor Hom treur, waarskynlik van berou.

Hierdie Verlosser, verklaar die Here God, die Almagtige, dan, is die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet – die Een wat is en wat was en wat kom, waarmee dieselfde beskrywing van God die Vader (vgl. 1:4b) op Jesus van toepassing gemaak word.

Johannes se visioen van Jesus Christus – vers 9-20
Johannes noem homself hulle broer (N.A.V. vertaling het “medegelowige“) en ‘n deelgenoot in drie werklikhede: die verdrukking onder Domitianus wat hom na Patmos verban het, die koninkryk van God wat onkeerbaar aan die kom is in die wêreld en “die volharding in ons verhouding met Jesus“, soos dit letterlik daar staan.

Dit is ‘n ongelooflike troosvolle beskrywing.  Hy het nie net deel aan die verdrukkende werklikheid van die Romeinse vervolging van gelowiges nie – spesifiek omdat hy die woord van God verkondig het, d.w.s. die getuienis deur Jesus Christus – maar ook aan die koninkryk van God wat besig is om in te breek in hierdie wêreld.  En hy praat oor volharding as ‘n gawe van God wat Johannes van Jesus binne die verhouding met Hom ontvang.  Volharding is dus vir Johannes nie net ‘n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe wat ontvang en vasgehou moet word.  Dit moet hom laat moedskep!

Johannes vervolg dan met die beskrywing van die visioen van Jesus Christus wat hy gesien het, op die dag van die Here, dit is Sondag, toe die Gees van hom “besit geneem” het (“meegevoer” het die N.A.V. dit vertaal) en die Here Jesus die opdrag herhaal aan Johannes om aan die sewe gemeentes te skryf wat hy sien.

Jesus het tussen sewe goue kandelare gestaan – die simbole van die sewe gemeentes – en Johannes eien Hom as die Seun van die Mens, op voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan. 9:13).  By sy lang kleed het hy ‘n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het.  Sy werk word dus as afgehandel geteken.  Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ‘n toespeling op die kragtigheid en deurpriemende karakter van sy woorde (vgl. Hebr. 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraars van die gemeentes – die uitstaande kenmerke.

Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.

Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het – trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe – en nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1″

Aanvangswoord: Psalm 132

Seëngroet: Openbaring 1 

Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (herhaal 2 of 3 keer)

Aankondiging van die Koningskap van Christus

Sang: Lied 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Openbaring 1:1-8

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: ’n Gebed van St. Patrick

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361 Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 132
7Kom ons gaan sy woning binne,
kom ons buig daar in aanbidding
voor Hom.

Seëngroet: Openbaring 1
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Lied 177 “Jesus gróót bo almal vs1” (herhaal 2 of 3 keer)

Aankondiging van die Koningskap van Christus
Voorganger: Kyk, die Koning kom. Halleluja!
Gemeente: Laat ons neerbuig en Hom dien. Halleluja!

Voorganger: Juig en wees bly, want Christus is jou Koning.
Gemeente: Aan Hom behoort die eer en die heerlikheid en die aanbidding.

Voorganger: Lofwaardig is U, Here, Koning van die konings, want U het ons van sonde en diedood verlos.
Gemeente: Deur u bloed het U mense deel gemaak van u koninkryk.

Voorganger: Daarom het God Hom tot die hoogste eer verhef.
Gemeente: Hom die Naam gegee wat bo elke naam is

Voorganger: sodat in die naam van Jesus elke knie sal buig
Gemeente: en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here.

Voorganger: Kyk, die Koning kom. Halleluja!
(Bertus van der Westhuizen – aangepas)

Sang: Lied 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Liedere

Flam 126  “Jesus, Lig in die duisternis”
Oorspronklike titel: Jezus, Licht in de duisternis
Teks en Musiek:Peter van Essen
Afrikaanse vertaling:Faani & Gerda Engelbrecht
©  2005 Unisong Music Publishers t/a Samuel Music

Jesus, Lig in die duisternis,
Jesus, oorsprong van al’s wat is
Jesus, liefde wat ewig is,
ek prys U

Jesus, weg waarop U my lei
Jesus, waarheid, U maak vry
Jesus,  lewe by U te kry
ek prys U

Koor:
Waar sou ek gaan sonder U?
waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer

Jesus,  tot die tyd só bestem
Jesus,  totdat ek U kan ken
Jesus,  gee ek my hart en stem
Ek prys U

Koor:
Waar sou ek gaan sonder U?
waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer

Flam 142 “Kom, Jesus kom”
Teks en Musiek:  Retief Burger
© 2005 Retief Burger
(Op 19:6-9;  Op 22:16-21; 2 Kor. 5:6-9)
Opgeneem op die CD Luidkeels

Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
Ek sal sing, ek sal sing
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mense wat voor u staan
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou!  Kom!

Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
Ek sal sing, ek sal sing
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
Ek sal sing, Ek sal sing
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Uit Psalm 119
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.
Amen

Skriflesing: Openbaring 1:1-8

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Om vir die kinders te demonstreer dat Jesus die Here van alles is, die Eerste en die Laaste, speel ’n Alfabet-speletjie.

Wat het jy nodig: Die letters A en Z uitgedruk op ’n A4-folio, asook die Griekse letters Alfa en Omega. (Of gebruik die projektor)

Wat moet jy sê:  Wie van julle kan die alfabet opsê?  Wie kan vir my die 5 vokale noem?  Wie kan vir ons sê wat is die middelste twee letters van die alfabet?  (‘m’ en ‘n’).  Wat is die eerste letter van die alfabet? (Hou die A op).  Wat is die laaste letter van die alfabet?  (Hou die Z op).   So, as ek die ‘A’ en die ‘Z’ so langs mekaar hou, wat verteenwoordig die twee letters?  (Die hele Alfabet).  Al die letters is tussen A en Z.  Al die vokale, al die konsonante, die middelste twee letters, elke letter.

(Wys vir hulle die Griekse letters).  Wie kan vir my sê wat dít is?  Dit is die Griekse letters ‘Alfa’ en ‘Omega’.  Vir die mense in Jesus se tyd  het die ‘Alfa’ en die ‘Omega’ presies dieselfde beteken as die A en die Z vir ons.  Elke letter van die Griekse alfabet is tussen hierdie twee letters.

Toepassing:  In die Bybel lees ons sê Jesus vir Johannes dat Hy, Jesus, die Alfa en die Omega is.  Wat dink julle het Jesus ons probeer leer?  (Moenie verbaas wees as daar geen reaksie is nie, maar wag en kyk of daar nie dalk is nie).

Jesus sê vir ons dat Hy die begin en die einde van hierdie wêreld is.  Hy is die begin en die einde van jou lewe.  Hy het bestaan nog voordat God die Vader die heelal gemaak het en Hy sal nog daar wees, nadat hierdie wêreld ophou bestaan het.   Hy is groter as enige iets in hierdie wêreld, want Hy is die Seun van God.  As dit so is, dan kan Jesus al die goeie en die slegte dinge in ons lewens hanteer.  Onthou dus, Jesus is die Alfa en die Omega.  Hy is die Eerste en die Laaste.  En volgende keer as julle die Alfabet sien, onthou dat Jesus jou omring met Sy liefde en Sy sorg, van die begin af tot aan die einde.

Kom ons bid: Dankie Liewe Here, dat U U Seun, Jesus, vir ons gestuur het om ons met U liefde te omring.  Dankie dat ons nou niks het om ons meer oor te bekommer nie, want ons weet U omring ons, van voor van agter, van onder na bo, met U liefde.  Amen

Preekriglyn

[Nota: Gebruik liefs Openbaring 1:1-8 as teksindeling.]
Vandag is die laaste Sondag van die Kerkjaar. Ons vier ons die Fees van Christus die Koning. Christus is inderdaad God, die Koning.

Ons teks vestig die aandag op die persoon van Christus wat met God self vereenselwig word. Dieselfde beskrywings wat vir God gebruik word (Alfa en Omega; Eerste en Laaste) word ook vir Christus gebruik. Net soos God, is Christus ewig, sonder begin en einde. God se koms na die aarde toe, val saam met Christus se wederkoms. Christus het God sigbaar gemaak. Daarom word Christus ook aanbid.

Op hierdie boodskap van oorwinning deur Christus en sy aanbidding deur die gelowiges, fokus ons by hierdie feesdiens.

Ons gaan nou eers as’t ware deur ons teksgedeelte stap en hierdie agt verse verken. Daarna gaan ons aandag gee aan die betekenis daarvan.

Groete en doel

Ons teks begin met die tradisionele briefseëngroet en gee daarmee aan die boek Openbaring die karakter van ‘n brief wat aan gemeentes gestuur is. Die inleiding stel die brief bekend as “‘n Openbaring van Jesus Christus”. Die Griekse woord vir “openbaring” is apokalupsis en beteken gewoonlik in die Nuwe Testament die onthulling of bekendmaking van wat voorheen ongekend was. Die openbaring kom van God af en dit is aan Johannes gegee. Hy is God se dienaar.

Die doel van die openbaring is om aan God se dienaars ‘n visie te gee van wat binnekort moet gebeur. God het ‘n engel gestuur om die openbaring aan Johannes te wys. Johannes getuig oor twee dinge: die woord van God af  en die getuienis van Jesus Christus. Johannes gaan voort met ‘n saligspreking in vers 3, as hy die voorleser en hoorders van dié profesie, saligheid toewens, indien hulle die woorde daarvan gehoorsaam.

Sender en ontvangers

Vers 4 identifiseer Johannes se gehoor en ontvangers van die brief as “die sewe gemeentes in Asië”. Dié sewe gemeentes verteenwoordig die universele kerk. Die gemeentes is voorbeelde van moontlike situasies in die kerk as geheel.

Die seënbede word aan die ontvangers van die boodskap gerig as ‘n toesegging van God self, God die Vader, Seun en Heilige Gees.

Die drie persone van die Triniteit word beskryf in terme van elkeen se funksie soos wat die outeur oor God getuig:

  • God is “Hom wat is en wat was en wat kom”;
  • Tweedens word die Heilige Gees genoem as “. . . die sewe Geeste wat voor sy troon is” – dit dui op die volheid van die werk van die Gees van God;
  • Derdens word Jesus Christus benoem met beklemtoning van meerdere funksies en eienskappe om sy identiteit te beskryf.
Beskrywing van Jesus

Jesus word op ‘n besondere ryk en omvattende wyse met ‘n paar woorde in ons teks beskryf:

  • Met ‘n eerste groep metafore word Jesus se universele rol beskryf as “die getroue getuie; die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde”;
  • ‘n Tweede bondel beelde beskryf Jesus se identiteit in terme van die verlossing wat Hy vir gelowiges bewerk het en waarvoor Hy vereer word (6). Die outeur praat van “ons” wat deur Jesus verlos is en wat Hom moet eer (5, 6). Jesus is “Hom wat ons liefhet en ons verlos het van die sondes”. Jesus het die verlossing van sondes bewerk deur sy bloed (5).
  • Die gevolg van Jesus se verlossingswerk is ‘n nuwe identiteit vir hulle (“ons”) wat verlos is.
  • Hierdie nuwe identiteit word weereens met behulp van twee metafore beskryf. Jesus het “ons” gemaak tot  . . . “‘n koninkryk en priesters.” (6). Die nuwe identiteit (koninkryk en priesters) beteken “ons” behoort aan God om Hom te dien. “Ons” is nou koninkryk en priesters “vir God”.
  • Jesus word nou ook in sy verhouding tot God geïdentifiseer. God is Jesus Christus se Vader (6).
  • Hierdie Jesus Christus besit ewige heerlikheid en krag (6). Die woord “amen” dien as bekragtiging van hierdie waarheid en noodwendigheid.
Die Een wat weer kom

In vers 7 roep die outeur sy lesers op om in die toekoms in te kyk en ‘n visie te vorm van Jesus Christus se wederkoms:
Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!

Johannes roep die gelowiges op om te kyk – met toewyding waar te neem. Die klem is op die manier waarop Jesus gaan verskyn en op wie almal getuies sal wees (sal sien) van Jesus se koms.

Aan die einde kom Jesus op die wolke en elke oog sal Hom sien. Die oë wat Jesus sal sien is “al die stamme van die aarde, asook hulle wat Jesus aan die kruis deurboor het.

Die reaksie van diegene wat Jesus op die wolke sal sien kom, word ook beskryf. Die mense “sal jammerlik oor Hom huil.

Alfa en Omega

Dan hoor ons in vers 8 nog twee benamings vir God. Hy is die Here God en die Almagtige. God bestaan ewig en is magtig.

Die beskrywing is met behulp van twee beelde; die alfabet en die kategorie van tyd:

  • Jesus is die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet (die Alfa en die Omega). God omspan alles wat in taal gesê kan word.
  • Hy is ook die Een wat in elke tydsdimensie teenwoordig is (hede, verlede en toekoms), maar nie deur een tydsdimensie ingeperk word nie. Soos die eerste en laaste letters van die alfabet die hele alfabet omsluit, oorspan God die tydsdimensies en sluit die kategorie van tyd in Homself saam.
Boodskap

Prof Jan du Rand vat die breë boodskap van Openbaring saam wanneer hy skryf:

Dit gaan oor erkenning van God se alleenheerskappy op aarde. In die hemel word Hy reeds erken en geloof as die alleenheerser, maar nog nie op aarde nie. Daarom het God sy Seun, die geslagte Lam, die Heilige Gees en die gelowiges (die kerk) gestuur om tussen Christus se twee komste (sy menswording en wederkoms) die wêreld te oortuig dat Hy die allerheerser is.

Du Rand oordeel dat Openbaring ons help om vanuit God se perspektief antwoorde te soek op ons moderne vrae. Dit vestig ons blik op die toekoms, maar help ons ook om vanuit die toekomsperspektief die hede beter te verstaan. Met insig in die hede kom weer uitsig op God se toekoms.

Troosverhaal

“Openbaring is ‘n troosverhaal vir ‘n kerk wat ly,” skryf Stephan Joubert.

Die funksie van die boek Openbaring was om aan lesers wat in ‘n bepaalde krisissituasie verkeer het, ‘n boodskap van hoop en uitsig oor te dra. Die boodskap van die boek Openbaring begin en eindig by God. Wat ook al in die hede gebeur, ons kan weet die wêreldgeskiedenis gaan eindig voor die troon van God. Ons kan weet God is in beheer van ons wêreld.

In Johannes se tyd was die magtige Rome die opperheerser wat Christene onderdruk en geloof bedreig het. Die boodskap van die boek verwys na die pretensieuse mag van Rome. In die eerste eeu na Christus het die Christene se belydenis oor Christus as Alleenheerser en hulle leefstyl wat op daardie oortuiging baseer was, gebots met die Jodedom, die heidense omgewing en veral die Romeinse owerhede. Openbaring verwerp die venyn van en vervolging deur die Romeinse keisers.

Volgens Openbaring sal die politieke, ekonomiese en militêre mag van Rome tot ‘n val kom voor die aanslag van die almagtige God. Ook die keiserkultus van keiserverering en -aanbidding is lasterlik en pretensieus.

Vanuit die troonsaal waar God op die troon sit (4:1-11) word die bevryding van die gelowiges aangevoer. Niks in die ganse skepping kan hulle skei van God se liefde en die uiteindelike oorwinning van die gekruisigde Seun van God nie.

Die magspolitiek in die moderne wêreld en die misbruik van mag om ander nasies te onderdruk, het ook nodig om Openbaring se boodskap te hoor. Dit is ‘n boodskap van hoop vir almal wat vertwyfeld is, moeg geraak het om te glo, of swaar kry ter wille van hulle geloof.

Genade en vrede

Ons leef ook in ‘n tyd waarin dit moeilik word om te glo. Westerlinge is geneig om die wêreld te krimp tot dit wat sintuiglik waargeneem, getoets en beoordeel kan word. Die mens se denke word die hoogste maatstaf. Ons is alleen, daar is nie ‘n God nie. Om te glo, word besport, verkleineer en afgekraak.

Wanneer ons teks ons herinner wie God is, in Jesus Christus en deur die krag van die Gees, word ons ook herinner wie ons is:

  • Ons is dissipels van Jesus Christus;
  • Hy het ons van ons sonde verlos, en
  • Ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy vader.

Vandag, hier op die Sondag van Christus die Koning kan ons weet aan Wie ons behoort, en Wie die wêreld in sy hande hou. Vandag kan ons weet dat nie “Rome” nie, maar Christus heers. Christus moet gedien en aanbid word, want Hy is Alleenheerser. Ons verstaan ons is priesters wat Christus eer en aanbid, asook konings wat as diensknegte van die Alleenheerser in die wêreld leef.

Op hierdie dag hoor ons opnuut weer die seëngroet van vers 4: Genade en vrede vir julle van Hom….” (4):

  • Beide “genade” en “vrede” is gerig op tydelike voorspoed en ewige, geestelike seën;
  • Dit is ‘n wens wat sê: “Mag dit nou met jou voorspoedig en gesond gaan”, terwyl die dieper geestelike wens is: “In Christus kan jy nou reeds in die geestelike seën deel waarop ons gehoop het, naamlik genade en vrede, en kan jy dit met sy wederkoms ervaar.”
  • Hierdie seëngroet word begrond deur die Goddelike Drie-eenheid. God is die “Een wat is en wat was en wat kom”. Die “sewe Geeste voor sy troon” (uitdrukking van die volmaaktheid van die Heilige Gees) is die tweede bron van wie die genadegroet kom. Die derde bron wat die seëngroet begrond is “Jesus Christus”.
Lof en aanbidding

Vers 5 en 6 vertel wat Jesus doen, deur drie fases in sy lewe uit te lig:

  • Gedurende Jesus se aardse lewe was Hy die geloofwaardige getuie.
  • Deur sy opstanding het Jesus die eerste geword wat uit die dood opgestaan het.
  • Met sy wederkoms is Jesus die heerser oor die konings van die aarde.

Daarom word God se lof in vers 5 en 6 besing. Christus word geloof omdat Hy deur sy dood verlossing gebring het. By hierdie feesdiens bring ons lof aan Christus die Koning. Christus het deur sy dood en opstanding vir die gelowiges ‘n opstandingslewe moontlik gemaak. Hierdie opstandingslewe bestaan uit diens aan Hom as sy verteenwoordigers wat met Hom in verbinding bly.

Powell skryf:
Revelation answers the question: ‘Who is worthy of adulation?’ No earthly power, however grand, but only God and the Lamb are worthy of receiving power and wealth and wisdom and might and honor and glory and blessing. For this reason, the entire book of Revelation is threaded with songs of worship and hymns of praise.

Waaksaamheid

Die werklikheid van die wederkoms spoor elke gelowige aan om geestelik waaksaam te wees. Aan die einde van die kerklike jaar, op die drumpel van Adventstyd, spoor Openbaring 1:1-8 ons aan tot lof en aanbidding van Jesus Christus wat op die wolke kom.

God stuur ons om te leef

Gebed: ’n Gebed van St. Patrick
Christus met my, Christus voor my, Christus agter my,
Christus in my, Christus onder my, Christus bo my,
Christus regs van my, Christus links van my,
Christus waar ek lê, Christus waar ek sit, Christus waar ek opstaan,
Christus in die hart van elke mens wat aan my dink,
Christus op die tong van elke mens wat oor my praat,
Christus in elke oog wat my sien,
Christus in elke oor wat my hoor.
Christus wat my vandag beskerm teen alle gevaar wat oor my pad kom,
sodat ek die lewe in Sy oorvloed mag beleef.
Amen.
(Uit bydrae by Seisoen van Luister, 15 April 2007)

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën
Voorganger: Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal voor Hom neerval en Hom aanbid.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sonde verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!
Gemeente: Amen. Amen (gesing deur die gemeente).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.