Sewe en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag van Christus die Koning

Sections

Oorsig

Seisoen van die Voleinding
Op die finale Sondag van die Liturgiese jaar vier die kerk die fees van Christus die Koning. Die evangelieteks vir jaar C handel egter oor die kruisiging van Jesus. Die liturgie vir die feesdag moet die paradoks oordra van ‘n gekruisigde Here wat as Koning regeer. Die ander tekste vir die dag help om sin te maak van hierdie paradoks en minstens die Jeremia- en/of die Kolossenseteks behoort in die diens gelees word.

Ander tekste

Psalm 46
God is vir ons ’n toevlug
46 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
Op die wysie van “Jong Vroue”.
’n Lied.
2God is vir ons ’n toevlug
en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid
om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes
van die see,
4al druis en skuim
die waters van die see,
al skud die berge
deur sy onstuimigheid.
5Oor die strome van die rivier
is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning
van die Allerhoogste.
6God is daar;
die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help
nog voor die môre kom.
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.
9Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge
Hy op die aarde tot stand bring:
10die oorloë oor die hele aarde
laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy,
spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy
met vuur.
11Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
12Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.

Jeremia 23: 1-6
Die regverdige koning
23 Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here. 2Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here. 3Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word. 4Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.

5Daar kom ’n tyd, sê die Here,
dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit
sal laat opskiet,
’n koning wat verstandig sal regeer.
Hy sal die reg eerbiedig
en regverdig regeer in sy land.
6In sy tyd sal Juda gered word
en sal Israel veilig woon.
Sy naam sal wees:
Die Here regeer regverdig oor ons.
7Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat die mense nie meer sal sê: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het nie”, 8maar hulle sal sê: “So seker as die Here leef wat die nageslag van Israel met sorg teruggebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”
Dan sal hulle weer in hulle eie land woon.

Lukas 1: 68-79
Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Kolossense 1:11-20
Ons bid vir julle
9Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Die voorrang van die Seun
15Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

Fokusteks

Lukas 23:33-43
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Mark 15:1–5; Joh 18:28–38)
23 Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”

3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”

Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

Jesus voor Herodus
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan ‘n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ‘n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom ‘n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.

12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.

Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Mark 15:6–15; Joh 18:39–19:16)
13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ‘n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.” 17

1819Laat Barabbas vir ons los!”

Barabbas was in die tronk oor ‘n opstand in die stad en oor moord.

20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met ‘n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:31–44; Mark 15:21–32; Joh 19:17–27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ‘n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27‘n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ‘n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:
‘Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’

31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”

32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ‘n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Joh 19:28–30)
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Joh 19:38–42)
50–51Daar was ‘n man met die naam Josef, afkomstig van ‘n Joodse dorpie Arimatea. Hy was ‘n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. 53Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ‘n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. 54Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.

55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.

Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Ekstra stof

Lukas 23:1-56 – Die Onskuldige sterf vir ons die skuldiges
Dit bly darem ongelooflik dat die Joodse leiers dit regkry om ten spyte van Jesus se onskuld, die doodstraf vir Jesus te bewerkstellig.

  • In die eerste verhoor deur die Joodse Raad self, vind hulle Hom skuldig aan iets wat hulleself nie glo nie, dat Hy sê dat Hy die Christus is (22:66-71).
  • In die tweede verhoor deur Pilatus, die Romeinse goewerneur, kla die Jode Hom aan dat Hy beweer dat Hy ook die Koning is – ook iets waarin hulle nie glo nie – en bevind Pilatus Hom onskuldig (23:1-5), maar tog word Hy ook na ‘n derde verhoor gestuur, dié deur Herodes.
  • In die derde verhoor deur die Joodse koning Herodes, maar ook onderdaan van die Romeinse ryk, verander Herodes se blydskap in veragting, toe Jesus nie vir hom wonderwerke wil doen nie, en dryf Herodes met Jesus die spot en stuur Hom terug na Pilatus (23:6-12). Let op dat ook Herodes dié bewering dat Hy Koning is verwerp, en daarom eintlik nie ‘n rede het om Hom sleg te behandel nie.
  • In die vierde verhoor (in wese ‘n voortsetting van die tweede verhoor) is Pilatus eksplisiet in sy onskuldigbevinding (“geen grond vir die aanklag”) en tog swig hy onder die druk van die moordlustigheid van die Joodse leiers en gee Jesus in die teenwoordigheid van al die Jode, ook die skare wat so graag na Hom geluister het, oor om gekruisig te word (23:13-25).

Dat Jesus onskuldig gekruisig word, staan dus onbestrede, in die eerste plek deur die getuienis van Pilatus, maar ironies genoeg, ook in die tweede plek juis deur die optrede van die aanklaers, die Jode. Hy, die Onskuldige, sterf vir ons, die skuldiges.

In drie verdere tonele beskryf Lukas:

  • Jesus se pad na die kruis (23:26-43), waar Jesus deur Simon van Sirene gehelp word (moontlik dieselfde persoon as Simeon wat later ‘n leraar in Antiogië is – Hand 13:1), en Jesus ‘n laaste lering gee vir dié wat oor sy naderende dood treur, en tot die redding kom van die een moordenaar wat langs Hom gekruisig word;
  • Jesus se dood aan die kruis (23:44-49) waar veral die heidense offisier wat die onskuld van Jesus bely, terwyl Jesus se vriende en die vroue toekyk, my tref;
  • Jesus se begrafnis na die gebeure van die kruis (23:50-56) waarmee sy fisiese dood onomwonde betuig word. Nie net het Jesus gesterwe terwyl almal dit gesien het nie, sy dooie liggaam is regtig begrawe. Let op hoe Lukas praat van die vroue wat gesien en gekyk het en dus daarvan kon getuig het.

Lukas sluit die lydenspad van Jesus af met die frase: “Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.” Ironies genoeg was dit ook die tyd van God se herskeppingsproses, waar Hy op die sabbatdag die verlossing van die mensdom bewerk sodat op die Sondagmôre ‘n nuwe bedeling kon begin met die opstanding van Jesus uit die dode.

Liturgie

Die laaste Sondag van Koninkrykstyd is ook die einde van die kerklike jaar en staan bekend as Sondag van Christus die Koning. Dit is ook die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning” (herhaal 2 tot 3 keer)

Aanvangswoord: Ps 46

Seëngroet
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Oproep tot verootmoediging
Vryspraak  

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1

Loflied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 23:33-43

Familie-oomblik
Prediking
Offergawes

Wegsending
Lied 486 “Bring aan die volke die boodskap vs 1,2,3,4” en/of
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën: Kolossense 1

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
Of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die laaste Sondag van Koninkrykstyd is ook die einde van die kerklike jaar en staan bekend as Sondag van Christus die Koning. Dit is ook die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.

Aanvangslied: Lied 176 “Halleluja, U is Koning” (herhaal 2 tot 3 keer)

Aanvangswoord: Ps 46
2God is vir ons ’n toevlug
en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid
om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes
van die see,
4al druis en skuim
die waters van die see,
al skud die berge
deur sy onstuimigheid.
Of
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.

Seëngroet  
Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.
(Psalm 24:7-8)

Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Oproep tot verootmoediging
Die apostel Paulus verseker ons dat ons uit die mag van die duisternis weggeruk is en onder die heerskappy gestel is van God se geliefde Seun,
deur wie ons verlossing en die verlossing van sonde verkry. Daarom kan ons met vrymoedigheid ons sondes voor Hom bely.
Heilige God,
U het Jesus Christus gekroon as die Heerser oor alles en almal.
Ons bely dat ons nie voor Hom gebuig het nie
en dat ons nie oral en altyd sy heerskappy erken nie.
Ons is dikwels meer lojaal aan die magte in hierdie wêreld,
en slaag nie altyd daarin om geregtigheid en liefde te leef nie.
Vergewe ons, pleit ons.
Ons lewe as burgers van die koninkryk van die Lig, ter ere van u naam.

Vryspraak  
Voorganger: Die misdadiger op die kruis langsaan Jesus het vir Jesus gevra,
“Jesus, dink aan my
wanneer U in u koninkryk kom.”
En die Here het hom verseker,
“Vandag sal jy saam met my
in die paradys wees.”
Die belofte is vir almal wat hul sondes erken en vra die Koning om vergifnis.
Gemeente: Aan God die dank! Ons sondes is vergewe. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.
Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Liedere

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

F45. “Die Heel Beste Rede”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: Piet Smit
© 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)

1. Kom ons staan voor die Heer en bely dat Hy regeer.
Kom sien die Hemelkoning op Sy troon.
Laat ons al die hulde bring
En sy lof en eer besing
Laat ons lofsange die plek wees waar Hy woon.

Refrein:
Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
Is dit die heel beste rede om te

2. …kniel voor die Vader in gebed tot Hom te nader
En Hom as Koning en Verlosser te bely;
Om Hom te dank vir sy genade,
Vir sy seën en wonderdade,
Want die krag van sy waarheid maak ons vry.

Refrein:

3. …gaan na die nasies want, sy opdrag was basies
om te doen en te lewe net soos Hy.
Want deur Sy wonderwerke
Is daar nou ook geen perke
Aan wat Jesus kan doen deur jou en my.

Refrein:
Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
Is dit die heel beste rede om met 

4. …simbaal en drom te raas
En die sjofars hard te blaas
Want die groot dag van Jesus kom beslis.
Die dag wat elke knie sal buig
En elke mond nog sal getuig
Dat die Ruiter op die wit perd Koning is.

Refrein:
Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
Is dit die heel beste rede vir my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Voorganger: Ons kom buig voor ons koning Christus
om sy woord te hoor.
Mag ons met ope ore, ope oë en ope harte
luister vir dit wat Hy vir ons wil verkondig.
Gemeente: Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Skriflesing: Lukas 23:33-43

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Jesus regeer met ’n kruis, nie met ’n swaard nie.
Gebruik ’n swaard wat ’n redelike lang dwarsstuk het, sodat as jy dit met die lem-kant na onder op hou, dit soos ’n kruis kan lyk.
Vertel dan in jou eie woorde die storie van Jesus se kruisiging en maak die punt dat Jesus die swaard kon gebruik het om mense te straf. Maar Hy doen nie dit nie, verduur die lyding van die kruis, sodat Hy vir almal wat in Hom glo, die lewe kan gee. Selfs die een moordenaar aan die kruis, wat ook met die swaard gelewe het, kan saam met Jesus in die Paradys wees, omdat Jesus hier aan hom genade bewys.

Preekriglyn

Ons vier vandag die fees van Christus die Koning. Daarmee sluit ons die koninkrykstyd van die kerklike jaar af. Vandag word die heerlike, bevrydende koningskap van Christus geïllustreer, uitgespel en verhelder deur die kruis.

Ons teks speel af op Golgota, letterlik “die plek wat Kopbeen genoem word”, net buite Jerusalem. Romeinse soldate het Jesus gekruisig, en sy klere verdeel. Links en regs van Hom is twee misdadigers gekruisig. Joodse raadslede lag Jesus uit en soldate bespot Hom. Een van die misdadigers laster Jesus.

In die sentrum staan die kruis, waaraan Jesus hang. Die toneel het ‘n opskrif, reg bo Jesus: “Dit is die koning van die Jode.” Hierdie is die aanklag waarop Jesus verhoor is. Dit is ook ‘n bevinding. Met watter ironiese, sarkastiese, verkleinerende of uittartende motiewe Pilatus – wat die Jode graag wou bykom – hierdie opskrif ook al geskryf het, die opskrif pas by Jesus. Jesus is inderdaad die koning. Jesus is die Here.

Watter soort Koning hang nakend aan ‘n kruis, terwyl Hy bespot word? Dit is presies die punt. Die kruis verhelder Jesus se koningskap, sê vir ons watter soort koning Hy tot vandag toe is. Hy is anders as ‘n gewone, wêreldse koning. Hy is die Seun van God. Hy red mense. Hy skep ‘n nuwe wêreld. En Hy doen dit langs die weg van die kruis.

Ons teks

Ons teks bestaan as’t ware uit ‘n klompie foto’s, wat elkeen ‘n aspek van die kruistoneel weergee. Dit is soos verskillende kameraskote wat elkeen uit ‘n spesifieke hoek iets van die kruisgebeure uitbeeld:

  • Jesus word by Kopbeenplek saam met twee misdadigers gekruisig, elkeen weerskante van Hom;
  • Jesus bid vir diegene wat Hom kruisig;
  • Die soldate verdeel sy klere deur te loot;
  • Die volk staan en kyk;
  • Die Joodse raadslede lag Jesus uit, en basuin dit uit dat Jesus ander kon red, maar homself nie kan red nie;
  • Die soldate spot Jesus, gee Hom suur wyn en sê Hy moet homself red as Hy die koning van die Jode is;
  • Een van die misdadigers laster Jesus en sê Hy moet homself en ook hulle misdadigers red;
  • Die tweede misdadiger bestraf die eerste, beklemtoon Jesus se onskuld, en vra Jesus om aan hom te dink wanneer Hy in die paradys kom;
  • Jesus verseker hom hy sal vandag saam met Jesus in die paradys wees;
  • In die middel van die toneel, en in die sentrum van die betekenis van die gebeure, staan die opskrif: “Dit is die koning van die Jode.”

Jesus praat twee keer in ons teks: aan die begin bid Hy, en teen die einde verseker hy die een misdadiger dat hy in Jesus se heil sal deel. Tussen-in gebeur ‘n klomp dinge, alles onder die opskrif: “Dit is die koning van die Jode.” Dit is die Een wat God se bedoeling om verlossing deur die Jode te bewerk tot volle uitvoering bring.

Wie is Jesus?

Ons teks laat besondere lig op Jesus val. Deur al die gebeure word dit duidelik presies wie Jesus is, en hoe Jesus se koningskap lyk.
Kom ons kyk hoe word Jesus die Koning in hierdie teks geteken.

Identifiseer met sondaars

Jesus word aan die kruis opgehang tussen twee sondaars, twee misdadigers. Regdeur sy bediening was Jesus se optrede gekenmerk deur identifikasie met sondaars. Die drie kruise op Golgota identifiseer God se betrokkenheid by sondaars:

  • Jesus is saam met sondaars as teken van berou oor sonde gedoop (3:21);
  • Jesus gaan eet by Levi, die tollenaar, saam met ‘n groot aantal ander tollenaars (5:29);
  • Jesus tree in vir ‘n sondige vrou aan huis by Simon, die Fariseër (7:36-50);
  • Die tollenaars en sondaars het dikwels na Jesus kom luister, waarteen Fariseërs en skrifgeleerdes beswaar maak (15:1-2)
  • Jesus gaan tuis by Saggeüs, hooftollenaar van Jerigo (19:5-6).

Hier in die laaste oomblikke voor Jesus se dood, gaan Hy voort om met sondaars te identifiseer. Om die waarheid te sê, sy identifikasie gaan van kwaad na erger. By sy doop was dit die skares gewone sondige mense. Dan word dit die tollenaars, en later ‘n prostituut. Nou is Jesus tussen kwaaddoeners, misdadigers. Hier is dit mense wat vir hulle kwaad en misdaad tereggestel word.

So is Jesus. Jesus deel in mense se skande, vernedering, verwerping, selfs hulle straf en teregstelling. Hy is daar. Selfs daar bring Hy uitkoms en nuwe moontlikhede.

Dit beteken daar is niemand wat Jesus nie kan red nie.

Maak God se vergifnis en liefde bekend

Op die moment dat Jesus aan die kruis vasgespyker word, bid Hy vir sy vervolgers: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie “(34).

Selfs in die laaste oomblikke van die berouvolle misdadiger, bring Jesus nog vir hom verlossing: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”

Dit is die punt van Jesus se identifikasie met sondaars: Hy bring verlossing vir sondaars.

In ons teks word Jesus se taak, om God se liefde bekend te maak, baie konkreet uitgespel. Dit nie bloot ‘n algemene ingesteldheid nie. Jesus is duidelik besorg oor die spesifieke en konkrete mense rondom hom. Die soldate is besig om hulle dagtaak uit te voer, hulle maak mense wreedaardig dood. Jesus is besorg oor hulle en bid vir hulle. Die misdadigers boet vir hulle dade. Jesus gee om.

Selfs aan die kruis voer Jesus sy lewenstaak uit. Hy tree in by die Vader vir mense wat in duisternis lewe, en nie die enorme omvang van hulle eie skuld en ellende ken nie. Hierdie geestelike onkunde is iets waarvan mense verlos moet word, sodat hulle in berou oor hulle sonde na God kan draai vir vergifnis. Jesus bid daarvoor.

Helder fokus op sy roeping

Die wyse waarop Jesus se roeping aan die kruis voortsit, dui op ‘n helder verstaan van sy roeping. In hierdie pynlike oomblikke aan die kruis, na ‘n slaaplose nag, uitmergelende verhoor, verskriklike géseling, en die dra van sy kruis, fokus Jesus nog op die mense rondom hom. Mens sou dink Jesus se gedagtes, sy selfverstaan en sy identiteit sou verwring wees deur die marteling, skande om nakend aan die kruis te hang, en algemene verwildering.

Tog nie. Jesus bly in kontak met sy Vader, en hou ‘n helder fokus op sy roeping. Hy bemiddel God se genade aan sondaars. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Jesus bly helder genoeg om onkunde van die soldate raak te sien; en Hy weet hy en een van die misdadigers is op pad na God se paradys toe.

Jesus is nie Superman nie. Dit is die kwaliteit van Jesus se kontak met die Vader, en die bemagtiging van die Heilige Gees wat die verskil maak.

Nie een van die ander, soldate of raadslede, weet duidelik wat hulle doen en sê nie. Hulle het duidelik God se genade nodig.

Jesus red mense

Die raadslede, die Joodse leiers, spot Jesus. Hulle lag Hom uit en sê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is” (35). Die feit dat Jesus homself nie van die kruis losruk nie, is natuurlik vir hulle bewys dat Hy vals is, dat Hy nie die koning is nie.

Jammerlik genoeg, kon hulle raaksien dat Jesus ander gered het. Hy het mense genees en hulle sonde vergewe. Hulle was egter absoluut blind vir die openbaring van God wat deur hierdie redding van mense gekom het. Hulle kon Jesus nie as die gestuurde van God herken of erken nie. In hulle belydenis van sy redding van ander, bly hulle blind vir God se werk deur sy Seun, Jesus.

Verder snap hulle nie: dit is presies omdat Jesus homself nié red nie, dat sy dood ‘n redding word vir ander. Die kruis was in God se plan (Hand. 2:23; 3:18), maar dit is juis omdat Jesus aan die kruis sterf, sy lewe vrywillig gee, dat daar redding vir ons anderkant die dood kom.

Jesus gee sy mag om homself te red prys, en vind daarin die mag om ander te red. Hierdie wonderlike dinamiek, gebou op die Een wat homself nie aan die kruis gered het nie, speel vandag nog reg rondom die wêreld af waar mense in Jesus redding vind.

Twee misdadigers

Net soos die banale gespot van die soldate, laster die eerste misdadigers Jesus ook. Hy sê Jesus is tog die Christus, hy moet homself en die twee misdadigers loskry van die kruis af. Sarkasties verby.

Die tweede misdadiger snap dat die regte reaksie is om respek vir God te hê. Hy bestraf die eerste misdadiger. Hulle is in geen posisie om Jesus aan te val nie. Hulle word immers regverdig gestraf, terwyl Jesus niks verkeerds gedoen het nie. Hy verstaan dat Jesus, hoewel in dieselfde bootjie van teregstelling, wat skuld betref heeltemal anders beoordeel moet word. Jesus moet vereer word.

Hierdie twee mans dui op die mensheid wat skuldig voor God staan, en afhanklik is van die Een wat onskuldig deur Pilatus gestraf word, sodat daar in sy regverdigheid, onskuld en lyding vir ons redding gevind kan word.

In sy pyn kry die tweede misdadiger dit reg om na Jesus te draai en te sê: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom” (42). Hierdie man het insig wat niemand anders in ons teks het nie. Hy kan die ware betekenis van die opskrif bokant Jesus se kop eien: Hy is die koning van die Jode.

Al die ander dink Jesus het gefaal. Die kruis is vir hulle die bewys dat Jesus ‘n valse messias, ‘n selfaangestelde koning was. Die tweede misdadiger kan sien dat die kruis nie Jesus se mislukking is nie. Hy eien dat hierdie Jesus se reis na heerlikheid is. Daarom vra hy Jesus moet aan hom dink wanneer hy die koningskap ontvang. Hy aanvaar dat Jesus hom dalk sal reken onder sy volgelinge wanneer die koninkryk in glorie aanbreek. Hy wil nou reeds vrede maak met die een wat Koning word.

Saam met Jesus in die paradys

Daar vind ‘n reddingsdaad plaas aan die kruis. Jesus Christus red nie Homself nie, maar red die misdadiger wat saam met Hom gekruisig word. Hy red hom nie van die kruis nie, maar deur die kruisgebeure.

Jesus se wonderlike belofte verras die misdadiger: “Ek verseker jou: vandag sal jy saam met my in die paradys wees” (43). Hy ontvang onmiddellik verlossing. Hy deel alreeds aan die kruis in Jesus se redding. Sy redding is profeties vir almal wat na Jesus gryp. Hy gryp na Jesus, en Jesus red hom.

Waaruit bestaan die redding? Regdeur sy bediening het Jesus met sondaars soos hierdie identifiseer en vir hulle bevryding gebring: fisies, sosiaal en geestelik. Hy bevry mense van die mag van die dood, van die mag van gebonde-wees aan die dood, van skuld oor hulle sonde, en skenk aan mense sy heerlike, verlossende teenwoordigheid. Die misdadiger verkry gemeenskap met Jesus in die paradys. Onbeperkte gemeenskap met Jesus is paradys.

Dit is tot vandag so: Ons verkry paradys-gemeenskap met Jesus deur aan Jesus vas te gryp as koning.

Prysgawe van mag

Christus se koningskap is deur die eeue dikwels misverstaan. Aardse prentjies van hoe mag lyk, en wat mag is, word op Jesus van toepassing gemaak. Dan is Hy ‘n triomfantelike koning wat in elke situasie sy vyande oorwin. Hy red ons van alles. Hy is Superman verby. Gelowiges slyp hulle swaarde en olie hulle gewere in navolging van hierdie soort wanbeeld van wie Jesus is. Die kruis raak vergete, asof die kruis net ‘n paar ongemaklike oomblikke in Jesus se anders magtige koningskap is.

Jesus se nederige diens aan die kruis openbaar die wyse waarop Jesus sy koningskap uitoefen. Dit leer ons ware leierskap beteken om leeg aan jouself te word en ander te dien. Dit is om op ander en hulle belange te fokus. Dit is om jouself vir ander te gee, saam met hulle te ly, en vir hulle uitkoms te bring.

Jesus is nie magteloos nie. Aan Hom is alle mag in hemel en op aarde gegee, juis deur die proses van die kruis, en deur die proses van sy self-ontlediging (Fil. 2). Daarom kan Jesus aan die misdadiger sê: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” Jesus se mag het die dood deurbreek. Jesus het die mag om sonde te vergewe en die dood tot niet te maak. Jesus het die mag om ewige lewe te skenk – aan sondaars.

Deur nabyheid

Jesus se leierskap word deur nabyheid gekenmerk. Jesus kom tot by mense, ly saam met hulle, en bring hoop vir hulle. Die hoop staan op die fondament van die kruis. Juis omdat Jesus homself nie gered het nie, maar oorgegee het vir ons, bring Jesus hoop.

Daar is baie wanvoorstellings van die hoop wat Jesus bring. Sommige hoop dat Jesus hulle vinnig ryk sal maak – voorspoedsteologie is baie mense se gunsteling hoop op Jesus. Elke keer wanneer ‘n boodskap van hoop die kruis systap, is ons met ‘n valse beeld van wie Jesus is, besig.

‘n Boodskap vir maghebbers

Daarom is Jesus se dood so ‘n kragtige boodskap vir alle maghebbers. Wanneer Pilatus Jesus aan die kruis laat vasspyker, het hy die mag van die magtige Romeinse ryk agter hom. Dit lyk nie of Jesus koning is nie, selfs al sê die profetiese opskrif bo sy kop só. Tog loop die Romeinse ryk hom daardie dag te pletter teen die kruis en Jesus se selfprysgawe. Binne ‘n paar honderd jaar was die meerderheid Romeine volgelinge van Jesus.

Jesus se selfprysgawe breek die mag van geweld as manier om te regeer en bevryding te bring. Daar is geen mag in die wêreld groter as diens nie.

Volgelinge van Jesus

Ja, die kruis verhelder Jesus se koningskap. Deur die kruis is ons as ‘n dissipel-gemeenskap van Jesus geskep.

As nuutgemaakte mense, gedien deur Jesus, verteenwoordig ons die hoop in ‘n wêreld vol lyding en swaarkry, omdat ons verstaan dat ons Koning ‘n anderse soort koningskap bring. ‘n Koning wat op ‘n besondere manier aan die kant is van die arme, verstote, eensame, lydende, wese, weduwee, verontregte. Wie is saam met die misdadiger op sy laaste oomblikke? Niemand anderste as Jesus Christus nie. Christus se antwoord aan die misdadiger en sy saam wees met die wat uitgestoot word (selfs weens hulle eie skuld) maak van Hom werklik ‘n ander soort koning!

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending
Lied 486 “Bring aan die volke die boodskap vs 1,2,3,4” en/of
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën: Kolossense 1
Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.