Sestiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vir drie opeenvolgende Sondae word die fokus na die Brief van Jakobus verskuif. Ons fokusteks vir hierdie week, Jakobus 3:1-12, is deel van ‘n reeks soortgelyke vermanings in Jakobus (1:19; 1:26; 2:1-13; 2:14-26; 3:13-18; 4:1-17; 5:7-13; 5:13-20) wat almal die punt duidelik stel dat beheersing van die tong vir Jakobus belangrik is. Verskillende moontlikhede van die gebruik van die tong word oor en oor beklemtoon (soos “praat,” “vertel,” “sê,” “kwaad praat,” “grootpratery,” “dubbelsinnigheid,” “kla,” “danksegging,” “smeking,” “belydenis”). Hoe ons op hierdie Sondag praat of sing of bely of stilbly en luister, maak daarom saak. Dit is duidelik uit al die liturgiese tekste vir die volgende drie Sondae dat die klem op “wysheid” val.

Dit is duidelik dat die bykomende tekste die Jakobusteks kan aanvul en ‘n sentrale plek in die liturgie kan opneem. In Spreuke 1 word ons aan Vrou Wysheid voorgestel. Sy verteenwoordig God se wysheid wat ons deurlopend herinner dat “die vrees van die Here die beginsel van kennis” is (Spr. 1:7). Hier sien ons dat sy ‘n publieke en openbare rol speel wat ‘n aanmaning tot aksie met passie verkondig. Haar ernstige en verdoemende uitsprake is gerig teen die “eenvoudiges,” “die dwase” en die “spotters”, terwyl dié wat na haar luister ‘n geruste en genadige uitspraak geniet. Psalm 19 is ‘n wonderlike gedig wat as ‘n eenheid beskou kan word: God gee die son wat lig bring, en net so bring God se wet en woord lig vir elke gelowige. Daarom dan ook die besonderse gebed in vers 15 wat deel van die liturgie kan uitmaak. Met Markus 8 staan ons in die middelpunt van die Markusevangelie. Hier word ‘n belydenis van geloof afgelê wat die eerste helfte van hierdie Evangelie op ‘n bepaalde manier fokus en die res van hierdie Evangelie aanvul: Jesus is die Christus. Inderdaad, ook die beginpunt van alle wysheid.

Ander tekste

Spreuke 1:20-33
20Wysheid is ’n vrou
wat langs die straat
staan en roep,
sy laat haar stem hoor
op die stadspleine,
21sy roep bo die rumoer uit,
by die ingange van die stadspoorte
sê sy wat sy te sê het:
22“Julle onkundiges,
hoe lank gaan julle nog vashou
aan julle onkunde,
gaan die grootpraters
hulle pratery geniet
en die swape ’n afkeer hê van kennis?
23As julle luister na my teregwysing,
gee ek julle my wysheid in oorvloed
en leer ek julle my woorde begryp.
24“Ek het geroep
en julle wou nie luister nie,
ek het my hand uitgesteek
en julle het dit nie gegryp nie.
25Julle het my raad
alles in die wind geslaan,
julle wou julle nie laat
teregwys nie.
26Daarom sal ek lag as die ongeluk
julle tref,
ek sal met julle spot
wanneer die angs julle oorval,
27wanneer daar nood en kwelling
oor julle kom.
Die angs sal soos ’n storm
oor julle kom,
die ongeluk sal julle tref
soos ’n orkaan.
28Dán sal julle my roep
en ek sal nie antwoord nie,
julle sal my soek en my nie kry nie.
29Julle het ’n afkeer van kennis gehad,
julle het geweier om die Here te dien,
30julle het my raad verontagsaam
en elke teregwysing van my geminag.
31Julle sal die vrugte
van julle optrede pluk,
julle sal van julle eie planne walg.
32“Die onkundiges se dwaling
kos hulle die dood,
die dwase word vernietig
deur hulle selfversekerdheid,
33maar wie na my luister,
sal veilig wees
en hoef geen ramp te vrees nie.”

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Markus 8:27-38
Die belydenis van Petrus

(Matt 16:13–20; Luk 9:18–21; Joh 6:66–71)
27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”
29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.
“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

9 Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Sleutelteks

Jakobus 3:1-12
BEHEERSING VAN DIE TONG
1Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. 2Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. 3Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. 4Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met ‘n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. 5So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand! 6Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. 7Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. 8Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.9Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.10Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 11‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 12‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ‘n druiwestok vye nie? ‘n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Die feit dat ‘n mens flink moet wees om te luister en stadig om te praat, beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie. Inteendeel. Daarom wy Jakobus uit oor hoe belangrik dit is om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek. Só werk die tipe sagmoedige wysheid wat Jakobus voorstel.

‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde. En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is. Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê. Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.

Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “‘n wêreld van ongeregtigheid” is. Dit steek die hele lewensloop aan, soos “‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.” Dít, sê Jakobus, kan tog nie. Dít hoort tog nie só nie.

Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n  brak fontein kan nie soet water gee nie. Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.

Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters. Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde. Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie. Dit is nie almal beskore nie.

Boodskap en betekenis
Woorde het ongelooflike krag. Dit kan rigting gee. Dit kan ook vernietig. Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5). Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid. Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.

Liturgie

Aanvangslied: Lied  157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord:  (Uit Psalm 19)

Seëngroet: (Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4″

Wet as riglyn om Jesus te volg: Markus 8

Skuldbelydenis: Psalm 19:9-15

Vryspraak: 1 Johannes 1:9

Geloofsbelydenis

Loflied 198 “God is my lied 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jakobus 3:1-12

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën: (2 Tess 1)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 19)
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.

8Die woord van die Here is volmaak…

Die onderwysing van die Here
is betroubaar…

9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan…

Die gebod van die Here is helder…

10Die eise van die Here vir sy diens
is goed…

Seëngroet  
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het,
wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet as riglyn om Jesus te volg: Markus 8

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Skuldbelydenis: Psalm 19:9-15
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Vryspraak: 1 Johannes 1:9
9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Geloofsbelydenis
Voorganger (V): Saam met die eerste volgelinge van Jesus bely ons
ons geloof in Hom. Met Johannes die Doper …
Gemeente (G): Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem!

V: Met Andreas …
G: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning
van Israel!

V: Met die Samaritane …
G: Ons weet dat Hy werklik die Verlosser van die
wêreld is!

V: Met Simon Petrus …
G: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

V: Met Maria Magdalena …
G: My Meester!

V: Met Tomas …
G: My Here en my God!

V: En nou ook met die wêreldwye kerk, versprei
oor alle lande, tale en kulture …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige …

(Apostoliese geloofsbelydenis)
Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 (Bybel Media)

Loflied 198 “God is my lied 1,2,3”

Liedere

F423. “My Gebreekte Woorde (U Is Genoeg)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Toewyding, Verootmoediging) Teks en musiek: Franco Gagiano © Flam Musiek-Uitgewers

My gebreekte woorde kom uit ’n hart wat los wil bars
en U alleen sien my.
Met my hele wese na ’n troonkamer wat wag
en U alleen roep my.

En ek weet U soek my hart,
Heer, deursoek my hart.
Vader, U is genoeg vir my,
Vader, meer as genoeg.
Spoel my deur en deur (x2)
want ek weet U soek my hart.
Heer, deursoek my hart
en spoel my deur en deur.

F178. “Die Kleur Van Die Kruis”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding) Teks en musiek: Ioannis Dekas © 2006 MAR Gospel Music Publishers

Lig op lig en donker teen donker
genade, u liefde, u trou
al u rykdom, die spektrum so wyd
U volheid, die kleur van die kruis.

Vul my lewe opnuut met u kleur.
Maak u Woord
soos ’n verfkwas met kleurpalet.

Laat u Gees kom,
u lewe publiek maak deur my.
Dis die krag en die kleur van die kruis.

Kom, Gees, op my gees
kom, Woord, op my woord
kom verf met die kleur van geloof.
Ek gee U my hande
ek gee U my woorde,
my wese, die kleur van die kruis.

Al kos dit my lewe, al vra dit my alles,
dis hier waar die offer gemaak
en gevra word.
Die kleur van ’n Man
wat daar hang aan die kruis
word die kleur van my lewe,
die kleur van my lof aan die Lam.

Halleluja!
Halleluja!

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)”

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Almagtige God…
ek aanbid U as my Rots en Verlosser.

Die skepping getuig van U grootsheid…
die wonder van dag en nag ritme;
die son kom soos ‘n bruidegom uit sy slaapkamer.

U bepalings getuig van U grootsheid…
U volmaakte Woord;
U betroubare onderwysing;
U koersbepalende bevele;
U helder gebod;
U goeie eise wat vasstaan;
U regverdige bepalings…

Eerder as dat U ‘n God is wat belas,
is U ‘n God met verwagtinge en eise
wat eerder herinner aan soet heuning…
ek is U dienaar en word deur U bepalings gerig.

Bewaar my dan Here van moedswillige sondes
en verkwik my siel met U bepalings.

Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser…

Laat die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing: Jakobus 3:1-12

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Dirkie Smit vertel in sy boek Wat sien ons in die spieël? die volgende storie:
‘n Vrou het by ‘n wyse man om raad gaan aanklop. Sy wou graag iets wat sy gesê het, ongedaan maak. Eers, het hy geantwoord, sal sy moet teruggaan, ‘n sak vol hoendervere neem, dit in die wind uitstrooi, en dan na hom terugkom. So gesê, so gedaan. Met haar terugkeer sê hy sy moet wéér teruggaan, elke veer gaan soek en dit in die sak terugsit, en dan weer na hom kom. Toe sy sê dit is tog onmoontlik omdat die wind dit teen daardie tyd al die wêreld vol gewaai het, was sy antwoord: “Net so onmoontlik is dit jou – vir enigeen – om die gevolge van wat jy gesê het, ongedaan te maak.”

Dalk kan die liturg so ‘n verhaal lewendig maak deur dit vir kinders te illustreer met vere en ‘n sak. As alternatief kan hierdie storie oorvertel word om hulle reaksies en antwoorde te toets.

‘n Ander moontlikheid is om die sterk beelde wat in die teks voorkom (‘n groot perd wat deur ‘n klein stang in die bek beheer word; ‘n groot skip wat deur ‘n klein roer gestuur word; ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot bos aan die brand steek) kreatief te gebruik deur voorbeelde daarvan in die liturgiese ruimte te hê of foto’s daarvan te wys en daaroor te gesels.

Preekriglyn

Die Bybel is beskryf op baie plekke hoe belangrik dit is dat gelowiges hulle tong onder beheer moet kry. Wat ‘n gelowige menses sê, is van die grootste belang.

Dink maar net aan Spreuke (ons gee net ‘n paar tekste uit hoofstukke 10 en 11 weer, daar is baie meer):
Wie ‘n wyse hart het,
aanvaar gebooie;
maar wie dwase lippe het,
kom tot ‘n val. (10:8)
‘n Bron van lewe
is die mond van ‘n regverdige,
maar die mond van goddeloses
verberg geweld. (10:11)
Die lippe van ‘n regverdige
voed vele;
maar sotte sterf deur ‘n gebrek
aan verstand. (10:21)
Met die mond vernietig
‘n ongelowige sy medemens,
maar deur kennis
word regverdiges bevry. (11:9)
Daar is skinderpraatjies
wat soos dolksteke is,
maar die tong van wyses
is ‘n geneesmiddel. (12:18)

Kyk ook na tekste soos Spreuke 12:25; 13:3; 16:27; 17:14; 18:7, 21; 26:22.
Die Wysheidsliteratuur in die Ou Testament, wat ons leer hoe om verstandig te lewe soos God dit bedoel het, is inderdaad diep besorg oor die tong. Die gebruik van die tong is ongelooflik belangrik: dit skep lewe of vernietig lewe. Dit bou op of dit verwoes.

Jakobus oor die tong

Jakobus sluit by die Ou Testament aan. Hoewel hy in hoofstuk 3, ons teks, volledig uitbrei oor die tong, het hy ook op ander plekke in sy boek verwys na die tong. Dit is ‘n groot tema in hierdie brief:

  • In 1:19 sê hy ons moet flink wees om te luister maar stadig om te praat;
  • In 1:26 sê hy mense wat dink hulle is godsdienstig, maar nie hulle tong kan beheer nie, mislei hulself en hul godsdiens is tevergeefs;
  • In 4:11 waarsku hy teen kwaadpraat oor die medegelowige.

Hier in die middel van die brief, hoofstuk 3, trek hy sy gedagtes oor die tong saam in ‘n uitvoerige gesprek.

Net in die voorafgaande gedeelte (2:14-26) het Jakobus beklemtoon dat daar ‘n verband is tussen geloof en werke. Geloof sonder dade is nutteloos. Net soos die liggaam sonder asem dood is, net so is geloof sonder dade dood. Mens se dade word ook deur God in berekening gebring wanneer God oor die waarde van ‘n mens se lewe oordeel.

Wat ons sê, die woorde wat ons uiter, is deel van die werke van ons geloof, dit is deel van die dade waarsonder geloof waardeloos is.

Belangrike temas

Jakobus 3:1-12 ons teks , lei ‘n belangrike deel van Jakobus se brief in, wat bestaan uit 3:1 – 4:12,  In hierdie hoofdeel word temas aangeraak wat in die destydse wêreld dikwels bymekaar gebring is. Dit gaan oor die verband tussen:

  • Afguns en selfsug
  • Begeerte en jaloesie wat tot geweld lei
  • Kwaadpraat

Wat op die oppervlakte van ons lewe as kwaadpraat en geweld na vore kom, word gebore uit selfsug, afguns, begeer en jaloesie. Kom ons herhaal die lysie hierbo, maar sit nou die teksverwysings by:

  • Afguns en selfsug (3:14, 16)

Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.

  • Begeerte en jaloesie wat tot geweld lei (4:2)

Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie.

  • Kwaadpraat (4:11-12)

Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie ‘n doener van die wet nie, maar ‘n regter. Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?

Praat is dus vir Jakobus nie neutraal nie. Hy is diep besorg oor woorde wat selfsug en jaloesie uitdruk, die ander skade aandoen en selfs gewelddadig is.

Ons teksgedeelte

In ons teks vestig Jakobus nou die aandag ten volle op die tong en die woorde wat dit voortbring. Daar is vier elemente in ons teks:

  • Ons struikel almal met die tong en daarom moet almal nie leermeesters probeer te wees nie (1-2);
  • Die ongelooflike mag van die tong (3-6)
  • Hoe moeilik dit is om die tong te beheer (7-8)
  • Die dubbelhartigheid of gespletenheid van die tong (9-12)
Leermeesters (1-2)

Mense is dikwels lief vir die mikrofoon en wil graag die sê hê. Jakobus waarsku daarteen. Die tong is so moeilik beheerbaar dat nie almal leermeesters moet probeer wees nie. Dit is nie almal beskore nie. Leermeesters word strenger geoordeel, want hulle moet met woorde rigting gee, maar is ook dikwels brose mense wat eerder met woorde viernietig en afbreek.

‘n Leermeester moet versigtig, weldeurdag en met die wysheid wat God gee praat. Daarom moet ons ook vir ons leermeesters bid.

Mag van die tong (3-6)

Met kragtige beelde en vergelykings skets Jakobus die mag van die tong:

  • ‘n Klein stang in ‘n perd se bek stuur die hele dier
  • Groot skepe aangedryf deur sterk winde word deur ‘n klein roer gestuur
  • ‘n Klein vlammetjie steek ‘n groot vuur aan.

So is die tong ook klein van postuur, maar soos ‘n stang en ‘n stuur kan dit ‘n mens se hele lewe in ‘n rigting stuur. Baie mense is al deur hulle eie tonge verwoes. Baie mense se tong het al ander se lewens verwoes.

Tydige woorde, wat goed gekies word, kan vriendskappe beskerm en laat groei, versoening met ander bewerkstellig en vir God vreugde verskaf. Haastige en swak-gekose woorde kan verwoesring in verhoudings saai, God se volk seermaak, en God se oordeel bewerkstellig. “Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand!” (5b).

En dan vers 6:
Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek.
Nota: Gehenna verwys na ‘n plek van straf, ook die hel genoem.

Let op:

  • Die tong is ‘n “wêreld van ongeregtigheid” – die tong is soos ‘n kanaal waardeur al die boosheid wat in die wêreld aanwesig is in ons lewens tot uitdrukking kan kom;
  • Dit bring ons hele lewensloop in gedrang – daar is nie een deel van ons bestaan wat nie deur die tong vergiftig en verwoes kan word nie

Boosheid (“hel”) streef daarna om mag oor ons spraak en ons woorde te kry sodat ons interpersoonlike verhoudings verwoes kan word en ons selfs van God vervreemd kan raak.

Onbeheerbaar (7-8)

Jakobus roep Genesis se skeppingsverhaal in herinnering om te sê mense kon wilder diere tem. Maar geen mens kan die tong tem nie, dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.

Kerkvader Augustinus sê in sy kommentaar op hierdie teks die Griekse woorde suggereer dat die tong net met God se hulp onder beheer gebring kan word. Dit sluit aan by Jakobus 1:5 waar staan:

As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Niemand van ons sal seker ooit volmaaktheid bereik nie. Maar met God se krag kan die tong onder beheer gebring word. Wanneer die Gees van God vaardig raak oor ons tonge verander die prentjie. Daarvoor is gebed en oorgawe aan God nodig. Geen mens kan die tong tem nie (8).

Die gesplete tong (9-12)

Vanaf vers 9 spel Jakobus die dubbelslagtigheid of gespletenheid van die tong uit:

  • Daarmee loof ons die Here en vervloek mense wat na die beeld van God geskape is;
  • Seën en vervloeking kom uit dieselfde mond
  • Dit kontrasteer met ‘n fontein wat nie vars en bitter water kan lewer, of ‘n vyeboom wat nie olywe kan dra nie.

Hierdie gespletenheid is ‘n groter tema in Jakobus. Hy wil gelowiges help om hierdie dubbelhartigheid te oorkom. Daarom sê Jakobus 1:6v mens moenie soos ‘n golf in die see wees wat deur die wind in hierdie én daardie rigting meegesleur word, sonder enige standvastigheid nie. Dan 1 vers 8:

Hy is ‘n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.

Dit is hierdie dubbelhartigheid, hierdie toewyding aan geloof en ongeloof, aan seën en vervloeking, wat Jakobus ons wil help oorkom.

Hy keer in hoofstuk 4 terug na hierdie tema – 4:4,5:

Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het?

Jakobus wil ons help om die neiging te oorkom dat ons beide God en die wêreld dien. Hierdie neiging is nie natuurlik nie. Vandaar die beeldspraak dat ‘n fontein nie vars en bitter water kan oplewer, en ‘n sekere soort boom nie ‘n ander soort vrug kan lewer nie.

Jakobus leer ons dat die tong van ‘n geheiligde persoon heel moet wees, een boodskap moet dra, konsekwent moet wees. As dit nie gebeur nie, is dit geloofsmatig onnatuurlik. Dit gaan teen die nuwe natuur wat God in God se kinders skep.

Natuurlik is ons “alreeds” nuut gemaak deur God se “woord van waarheid” sodat ons die “eerstelinge van sy skepsels” kan wees (1:18), maar ons is “nog steeds” deel van hierdie gebroke wêreld. Daarom sukkel ons steeds om die tong te tem.

Ons moenie naïef optimisties wees oor die tong nie, maar ook nie sinies pessimisties nie. Ja ons sukkel, maar ons is bedoel om vordering te maak om ons tong onder beheer te bring. Ons kan want God se Gees werk in ons.

Dit beteken ook dat ons aan ons harte aandag moet gee, voor die Here. Kom ons vra die Here om ons afguns en selfsug, begeerte en jaloesie wat tot geweld lei en ons diepgewortelde behoefte aan kwaadpraat weg te neem.

Laat ons hierdie wysheid van God bid (1:5).

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën: (2 Tess 1)

Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.