Sestiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandag se tekste begin by Jesaja wat met die opstaanslag in die oggend opnuut weer deur God geleer word om te luister soos ’n leerling moet luister (Jes). Die psalmskrywer bevestig dat die Here op sy beurt weer na die mens se roepstem luister (Ps). Die evangelieteks begin by Petrus se duidelike belydenis dat Jesus die Christus is. Net om onmiddellik daarna om te spring en Jesus te berispe oor sy lydensaankondiging. Die tong gee die gesindheid weer waarmee die mens luister.

Afhangende van die preek volg, as verhaallyn van die liturgie, een van die drie moontlikhede wat F Nel in die preekstudie vir vandag voorstel. (Sien laaste paragrawe van sy “Preekvoorstel” hieronder.)

Ander tekste

Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.

Psalms 116:1-9
Ek het die Here lief
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.
7Ek moet nou tot rus kom,
die Here het goed aan my gedoen:
8U het my van die dood gered,
U het ’n einde gemaak aan my trane,
U het gesorg
dat ek nie weer struikel nie.
9Ek kon voor die Here bly wandel
in die land van die lewendes.

Jakobus 3:1-12
Beheersing van die tong
3 My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Fokusteks

Markus 8:27-38
Die belydenis van Petrus

(Matt 16:13–20; Luk 9:18–21; Joh 6:66–71)
27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”
29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

9 Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Ekstra stof

Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie. Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn. Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip. Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.

Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie. Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing. Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie. Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).

Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien. Soos Guelich sê: “They are in need of a ’second touch’ which ultimately comes after Easter”. Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.

Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?” Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete). Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”. Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.

‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus. Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe. Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan. Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53). Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom. Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie. Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.

Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap. In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald). Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig. Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging. Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou. Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.

Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms. Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom. Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die viering van ’n Seisoen van die Skepping is nou reeds ’n vaste instelling as deel van Koninkrykstyd. Die Seisoen van die Skepping strek vanjaar oor die eerste vier Sondae van September.

Omdat die fokusteks hom nie werklik leen tot besinning oor die skepping nie word aanbeveel dat die volgende gebed ‘n plek in die liturgie kry met verwysing na die skepping en die sing van Psalm 8 (Lina Spies, 2e melodie).

Gebed vir die skepping
Kom, Heilige Gees,
kom vernuwe U skepping:
natuur en gees, siel en liggaam,
ekonomie en ekologie…
Kom, maak die hele aarde nuut,
die hele kosmos
waaroor U Gees skeppend gesweef het
met die geboorte van die heelal.
Laat dit nou wees soos dit in die begin was,
en sal wees,
wêreld sonder einde.
Kirsten Stendahl, 1991 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:20. Lux Verbi, Wellington.

Lied: Psalm 8:1,3,5,6

Aanvangswoord
Here, wie mag dit waag
in u teenwoordigheid?
Wie mag woon
op u heilige berg?
Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is,
met ‘n opregte hart die waarheid praat.
(uit Ps 15 NLV)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van die Here julle God
wat die hemel en aarde gemaak het,
die see en alles wat daarin is,
wat altyd sy beloftes nakom en
alleen mense kan verander
en sorg dat hulle nie weer struikel nie
(uit Ps 15, 146, 116).
(Uit Basisliturgie vir die seisoen van die skepping, Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Verootmoediging
Die woord as spieël waarin ons onsself ondersoek
Beheersing van die tong
3 My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!
(Jakobus 3)

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig A+L”

Vryspraak
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.
(Psalm 116)

Riglyn om te lewe
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”
(Markus 8, fokusteks)

Lofliedere
Lied 209 “Heer met my hele hart 1” en/of
lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Liedere

F256. “Ons Is U Liggaam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis)
Teks en Musiek: JA de Beer en Z van der Westhuizen
© 2007 Urial Publishing

Ons leef u liefde in ‘n wereld wat uitroep
Ons neem u water na mense wat dors
Laat ons u liefde deur ons dade uitdra
Ons neem u brood na ‘n sterwende land
So kom U naby aan elkeen wat nood het
Laat u wil geskied deur ons gehoorsaamheid
Want ons is u liggaam
Ons sal U vir altyd volg
Ons is die gesalfdes
Wat opstaan vir u Naam

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)

Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:

Refrein:
3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: Markus 7:27-38

Prediking

Familie-oomblik

Kinders kan identifiseer met Petrus wat dink hy het ’n vraag reg geantwoord, en dan belet Jesus hulle om vir iemand anders daarvan te vertel. En as Petrus weer reageer op wat Jesus sê, dan sê Jesus iets baie ergs vir Petrus. Hy noem hom Satan. Seker die ergste ding wat ’n mens iemand kan noem. En Petrus dink hy doen goed!

Die rede is dat Jesus geweet het dat Petrus die regte goed geweet het, maar nog nie geweet het wat dit beteken om vir Hom te leef nie. Hy wou Jesus keer om die pad na die kruis te vat. Maar dan sou Jesus nie vir ons sondes kon sterf nie. Dan sou Jesus ongehoorsaam gewees het.

Daarom praat Jesus hier oor hoe ons Hom moet volg, en dit sluit in dat ons onsself verloën. Nou, dit is ’n groot woord. Dit beteken om iets te doen, omdat dit vir iemand anders goed is, nie noodwendig vir jouself nie. Bv, om ’n werkie vir jou ma en pa te doen, al wil jy eintlik nog gespeel het. Of te kyk na jou jong boetie of sussie, sodat jou ma of pa kos kan maak.

Alternatief: Neem jou kruis op!
Speletjie: Jy benodig omtrent 20 kinders. Roep hulle vorentoe. Laat al die kinders een van hulle skoene uittrek en dit in ’n bondel gooi. Tel dan tot 3 en laat elkeen weer sy skoen soek en dit aantrek. (‘Time’ hulle terwyl hulle dit doen)

Laat elkeen weer sy een skoen uittrek en dit weer op ’n hoop gooi. Laat die groep dan in ’n kring om die skoene staan. Hierdie keer moet hulle die persoon aan hulle regterkant se skoen gaan soek en vir hom of haar aantrek. (‘Time’ hulle weer – hierdie keer sal dit heelwat langer neem en sal hulle dit baie moeiliker vind, want jy weet nie hoe die ander een se skoen lyk nie).

As Jesus sê: “neem jou kruis op” dan dink ons altyd dis ons eie swaarkry en moeilikhede wat ons moet dra, amper soos om jou eie skoen te soek. Ferdinand Deist sê dit egter baie mooi. Hy sê ons swaarkry was Jesus se kruis. Hy het ons swaarkry en sonde en skuld op Hom geneem. Daarom as Hy sê: “neem jou kruis op” bedoel Hy eintlik dis iemand anders se swaarkry en moeilikhede. Dis baie moeiliker, dis soos om iemand ander se skoen te soek en vir hom/haar aan te trek. Wat dit so moeilik maak, is dat ons nie altyd weet wat die ander persoon se swaarkry is nie.

Preekriglyn

Toentertyd, in ‘n klein Joodse dorpie in die destydse Rusland, het die rabbi elke Vrydagoggend vir ‘n paar uur verdwyn. Sy toegewyde dissipels het daaroor gespog. Hulle meen hul rabbi gaan Vrydae hemel toe om met God te gesels.

‘n Nuweling in die dorp was skepties oor dié storie. Hy besluit om uit te vind wat aangaan. Hy kruip toe een Vrydagoggend weg en hou die rabbi dop. Die rabbi het opgestaan, sy gebede afgehandel, en trek toe gewone arbeidersklere aan. Hy vat ‘n byl, gaan in die woud in, en maak ‘n klomp vuurmaakhout. Hy dra dit daarna moeisaam na ‘n skuiling aan die rand van die woud waar ‘n ou vrou en haar sieklike seun woon. Daarna keer hy terug huis toe.

Die nuweling het daarop ‘n dissipel van die rabbi geword. Die praktiese diensbaarheid en nederige opoffering van die rabbi het sy leer bevestig. Die rabbi het sy lering gelewe. “So ‘n rabbi kan mens navolg,” het hy by homself besluit.

Deesdae, wanneer die nuweling ‘n dorpenaar hoor sê, “Ons rabbi vaar Vrydae op na die hemel,” voeg hy saggies by: “Selfs nog hoër as die hemel….”

Om Jesus waarlik te sien

Petrus se woorde oor Wie Jesus is, “U is die Christus!,” verteenwoordig ‘n hoogtepunt in die Markus-evangelie. Dit is ‘n helder moment. In ‘n oomblik van waarheid sien Petrus Jesus vir Wie Hy werklik is.

Aangesien Petrus ‘n leiersposisie in die dissipelkring het, en dikwels namens die dissipels praat, is hierdie belydenis verteenwoordigend van die dissipelkring. Op grond van hulle reis saam met Jesus tot hier by Sesarea-Filippi, sien hulle in Jesus die Christus (die Gesalfde van God), die Messias, die Een wat van God kom.

Petrus se belydenis staan die begin van ‘n nuwe fase in die Markus-evangelie. Dit is soos ‘n skarnier wat ‘n deur laat oopswaai na ‘n nuwe fase van Jesus se bediening.

Vroeër in die boek het Markus vertel hoedat Jesus die skares deur sy lering en wonderwerke tot geloof gebring het. Jesus was ook in gesprek met die dissipels en die Joodse godsdienstige leiers. Sy bediening het toenemende teenstand van die Joodse leiers uitgelok.

Nou begin ‘n nuwe fase. Jesus reis met sy dissipels na Jerusalem waar Hy uiteindelik gevange geneem en gekruisig sou word. In hierdie fase onderrig Jesus sy dissipels op ‘n dieper vlak in die betekenis van dissipelskap in. Hy help hulle om Hom na waarheid te sien, en om Hom na te volg.

Geestelike blindes kan nie volg nie

Navolging van Jesus, dissipelskap, gebeur slegs waar mense Jesus herken as die Gesalfde van God. Petrus en die dissipelkring se belydenis van Jesus as die Christus is ‘n noodsaaklike voorwaarde. Hierdie vermoë is nie iets wat mens in jouself het nie. Jy ontvang dit as ‘n geskenk van God. Dit word aan jou openbaar.

Dit is glad nie toevallig dat Jesus se onderrig in hierdie onderdeel van die Markus-evangelie (8:27 – 10:45) omraam word deur twee verhale wat vertel dat Jesus blindes genees het nie. Vooraf genees Jesus ‘n blinde man in Betsaida 8:22-26) en daarna die blinde Bartimeus in Jerigo (10:46-52).

Blindheid is nie net ‘n fisieke gebrek nie. Dit is ook om nié te verstaan wie Jesus is nie. Hierdie blindheid word genees deur insig en lewenskennis van Jesus te verwerf. Hierdie genesing is om op Jesus te vertrou en Jesus na te volg.

Wanneer die dissipels demonstreer dat hulle Jesus kan sien vir Wie Hy is, is hulle gereed om oor die weg van dissipelskap onderrig te word.

Dissipelskap as reis agter Jesus aan

Dit is opvallend dat Jesus sy dissipels onderrig terwyl hulle op reis is van Galilea in die noorde na Jerusalem in die suide. Dissipelskap is om agter Jesus aan te gaan. Dit is om van posisie te verander. Dit is om treë te gee. Dit verg aksie. Dit bring disoriëntasie (die verlaat van die bestaande omgewing, posisie of lewensoriëntasie) en nuwe oriëntasie (agter Jesus aan, binne ‘n nuwe werklikheid geplaas.

Reis is nie bloot die beweging van een geografiese plek na ‘n ander nie. Henry Nouwen praat van die reis as een waar Jesus al hoe dieper in ons nood neerdaal. Jesus se reis was nie een van “upward mobility” nie, maar “downward mobility.” Soos later sou blyk, is Hy inderdaad op pad om te ly. Hy plaas sy skouer al hoe dieper onder die leed en nood van mense in, om hulle te dien en te bevry.

Op weg met Jesus leer die dissipels dat daar geen ander weg as die kruisweg is nie – nie vir Jesus nie, en ook nie vir hulle nie.

‘n Lydende Christus

Die Jode het ‘n Gesalfde (‘n Christus in Grieks, of Messias in Hebreeus) verwag. Maar dit sou ‘n triomferende Messias wees. Die Messias sou die volk vry maak van heidense onderdrukking en die ruimte skep waarbinne hulle hul vryheid herwin om die ware God triomfantelik te dien. Hy sou ‘n tweede koning Dawid wees.

Vir die dissipels wat Jesus as Christus bely, kom dit as skok toe Jesus hulle in ons teks begin leer dat die “Seun van die mens” (‘n koninklike, heersersfiguur volgens Daniël 7:13-14) baie moet ly, verwerp sal word en selfs doodgemaak sal word (31-33).

Hiervoor sien die dissipels nie kans nie. Hulle kan Jesus as Christus herken, maar nie só ‘n soort Christus nie. Daarom neem Petrus Jesus opsy en bestraf Hom. Jesus wys Petrus egter daarop dat die lydensweg God se pad met Hom is. Wie Jesus se lyding weerstaan, weerstaan God se werk. Op hierdie manier personifieer Petrus die Satan (“Teenstander”).

Om ‘n lydende Christus te volg

Om ‘n lydende Christus te volg, beteken om te deel in sy lyding. Dit word duidelik uit Jesus se lering vanaf vers 34:
34 Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,
35 want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.
36 Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?
37 Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?

38 Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Die sleutelmomente van ‘n dissipel se lewe is om jouself te verloën, jou kruis op te neem en Jesus te volg. Dit is van jouself weg te kyk, Jesus te volg in die proses jou kruis te dra.

Wat kruis dra nie is nie

Ons “kruis” is nie maar die ongerief, kwale of alledaagse krisisse van ons lewens nie. Dit is bloot deel van die alledaagse stryd om te lewe, iets waarin alle mense deel of hulle Jesus navolg of nie. Mens moenie dink jy dra ‘n kruis omdat jy verkoue het, vanoggend moes sukkel met ‘n pap band, vanaand weer by irriterende familie moet gaan kuier, of met ‘n moeilike baas moet saamleef nie.

Volgens Soren Kierkegaard, bekende Deense filosoof, is een van die grootste vyande van die Christendom sy eie middelmatigheid en gemaksugtigheid. Ons het verleer om te ly. Christenskap kos ons nie ‘n prys nie. Daarom kan ons kruis dra maklik verwar met ‘n gelatenheid dat alles nie altyd reg loop nie en dat die lewe soms maar ‘n morsige gesukkel is.

Wat kruis dra wel is

Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, beteken om te deel in die verwerping van die Messias. Dit beteken om verguis, bespot en verwerp te word omdat jy Jesus dien en navolg. Dit is lyding ter wille van die evangelie (35).

Dietrich Bonhoeffer, wat aan die einde van die Tweede wêreldoorlog deur die Nazi’s gehang is weens sy verset teen Hitler, skryf in sy bekende The Cost of Discipleship (‘n boek wat elke dissipel gerus kan lees) dat kruis dra smaad en verwerping t.w.v. Christus impliseer. Johan van der Merwe som Bonhoeffer se gedagtes só op:

Die beeld wat ons voor oë moet hê, is dié van ‘n veroordeelde misdadiger wat deur die strate loop met die kruis waartoe hy veroordeel is, op sy rug. Deur dit te dra vertoon hy sy neerbuiging voor die gesag van dié owerheid teen wie hy hom voorheen deur sy misdadigheid verset het. As simbool is die kruis tekenend van onderwerping, gehoorsaamheid, dood, verwerping en bespotting. Daarom sê Bonhoeffer “alleen die gelowige is gehoorsaam en alleen wie gehoorsaam is, glo”. Gehoorsaamheid aan en navolging van Jesus, selfs met die risiko’s van verwerping en lyding in berekening gebring, is eie aan die weg saam met Hom en die beginpunt van die ervaring van volle oorgawe en die intimiteit wat daarmee gepaard gaan. Hierdie navolging van Christus moet dus nie verwar word met ‘n défaitistiese gelatenheid waarin alle swaarkry met selfbejammering maar aanvaar word nie. In werklikheid is die lyding van Christus geen passiewe houding nie, maar ‘n subversiewe, byna hardkoppige vashou aan die waarheid voor die aangesig van die leuen.

Wie hul kruis opneem, buig voor Christus en erken die gesag van Christus.

Wat waarlik vrymaak

Die misterie van die Christelike lewe is dat mens jou lewe vind – die ware lewe vind – deur jou lewe vir Christus af te lê. “Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.” (35)

Die manier om in die volheid van Christus te deel, die manier om die volle seën van Christus te ontvang, is om jou lewe vir Hom af te lê.

Dit laat mens dink aan die fabel wat vertel hoe voëls die eerste keer hul vlerke gekry het. Aanvanklik het hulle nie vlerke gehad nie. God het egter vir hulle vlerke gemaak, dit voor hulle neergesit en gesê: “Neem hierdie laste op en dra dit.”

Die voëls het pragtige stemme gehad waarmee hulle kon sing en mooi vere wat in die son geglinster het, maar hulle kon nie sierlik deur die lug seil nie. Toe God hulle vra om die laste aan hul voete op te tel, het hulle gehuiwer. Hulle besluit egter om te gehoorsaam, tel die vlerke met hul snawels op en plaas die laste op hul skouers.

Aanvanklik was die laste swaar om te dra. Vinnig, soos hulle leer om hul laste te dra en die vlerke om hulle liggame te vou, groei die vlerke toe vas aan hulle skouers. Vinnig leer hulle hoe om hul vlerke te sprei, en word hoog die lug in gedra, Die laste het vlerke geword.

Praktiese dissipelskap

Ons ken en herken Jesus as die Messias. Ons is daartoe verbind om Jesus te volg. Hoe doen mens dit prakties?

Ons is op reis saam met Jesus. Dissipelskap is om dag vir dag op jou lewensreis rekening te hou met die lewende Christus en om in gemeenskap met Hom te leef. Dit beteken om te leef met die wete dat die Here jou deel van ‘n dissipelgemeenskap maak sodat jy jou geloof saam met ander in die wêreld kan uitleef. Dit is om te leef met die verwagting dat die Here sake op jou hart sal druk en mense oor jou pad sal bring waar Hy jou wil gebruik.

‘n Dissipel leef met die verwagting dat die Here jou gebruik en sal gebruik. ‘n Dissipel het oop oë en ore.

Verder is ‘n dissipel bereid om die prys te betaal. Ons Russiese rabbi het Vrydae gegee om hout vir ‘n behoeftige familie te gaan kap. Hy het ‘n arbeider geword vir mense wat hom nodig gehad het. Hy was nederig diensbaar. So is dit vandag nog.

Dissipels is mense wat fokus op Jesus en op omstandighede reageer in terme van wie Jesus is en vandag nog vir mense wil wees. Dissipels is realiste. Vir ‘n dissipel is die hoogste realiteit die teenwoordigheid van Christus, die voorbeeld van Christus, en die praktiese navolging van Christus. Daarom is ons soos ‘n Christus vir ons medemens.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)
Ons glo in een God, die almagtige Vader,
die Skepper van hemel en aarde,
van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God,
voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,
deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal
en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword;
Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader,
en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit,
en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 265 “Enigste Here, enkele Wese vs 1,2”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen
of
2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.