Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Sorgsaamheid en omgee
Besorgdheid oor die gebrek of swaarkry van ‘n medemens is wesenlik deel van ons geloof wat in liefde gegrond is. Die aard van God se heerskappy is immers dat dit liefde bo onverskilligheid verhef. Die erediens vier God se Vaderskap oor almal. Uit Hom is die mensdom vir ‘n lewe van liefde geskape. Hyself vind dit onmoontlik om iemand nie lief te hê nie. In die erediens klop hierdie hart van God terwyl ons in sy genade meegevoer word.

Ander tekste

Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23
23 As jy aansit om saam met
’n hoë amptenaar te eet,
wees tevrede met wat jou
voorgesit word
2en bedwing jou as jy
’n groot eetlus het.
3Moenie sy lekker kos begeer nie;
dit kan jou duur te staan kom.
4Moet jou nie afsloof
om ryk te word nie
en moenie jou sin vir waardes
verloor nie.
5Jy het nog skaars die rykdom gesmaak
of dit is weg;
dit kry vlerke en vlieg die lug in
soos ’n arend.
6Moenie by ’n suinige mens gaan eet nie,
moenie sy lekker kos begeer nie,
7want hy bly uitreken
hoeveel dit hom kos.
Dit is hoe hy is.
Hy moedig jou aan om te eet
en te drink,
maar hy bedoel dit nie.
8Jy sal naar word van wat jy eet
en jou komplimente sal verkwis wees.
9Moenie ’n dwaas probeer reghelp nie;
hy sal jou verstandige raad
met minagting behandel.
10Moenie grense verlê
wat lankal daar is nie,
moenie weeskinders se grond vat nie,
11want hulle Beskermer is magtig,
Hy sal hulle saak teen jou behartig.
12Gee aandag aan wat ek jou voorskryf,
luister goed na wat ek jou leer.
13Moenie huiwer om ’n kind te straf nie,
want as jy hom slaan, red jy sy lewe.
14Jy moet hom juis slaan
om hom van die dood te red.
15My seun, as jy ’n wyse mens word,
sal dit my baie vreugde verskaf.
16Ek sal juig as wat jy sê,
altyd reg is.
17Moenie afgunstig wees
op sondaars nie;
wees altyd ywerig
om die Here te dien;
18dan sal jy ’n toekoms hê
en jou hoop sal jou nie
ontneem word nie.
19Luister, my seun,
soek die regte insig:
bly op die regte pad;
20moet jou nie ophou met suiplappe
en vrate nie,
21want die suiplap en die vraat
word arm;
dronkenskap laat jou in vodde loop.
22Wees gehoorsaam aan jou vader
en moeder, jy is hulle kind;
en moet hulle nie verag
as hulle oud geword het nie.
23Hou by die waarheid,
moet daar nie van afstand doen nie;
hou by wysheid, by selfbeheersing,
by insig.

Psalm 125
Die Here beskerm sy volk
125 ’n Pelgrimslied.
Dié wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg
wat nie wankel nie
en altyd vas bly staan.
2Soos die berge Jerusalem
aan alle kante beskerm,
so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd.
3Oor die grondgebied
van die regverdiges
sal ’n goddelose nie die mag kry nie,
sodat die regverdiges
nie in misdaad verval nie.
4Here, doen goed aan dié wat goed is,
die opregtes van hart!
5Maar dié wat die verkeerde pad loop,
mag die Here hulle vernietig
saam met dié wat onreg doen.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Jakobus 2:1-10, (11-13), 14-17
Moenie volgens die uiterlike oordeel nie
2 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” adan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” bhet ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” cAs jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Fokusteks

Markus 7:24-37
Die Siro-Fenisiese vrou
(Matt 15:21–28)
24Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ‘n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25‘n Vrou wie se dogtertjie van ‘n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26Hierdie vrou was ‘n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”
29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”
30Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees ‘n doofstom man
(Vgl Matt 15:29–31)
31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe ‘n dowe man wat ook ‘n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Ekstra stof

Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense
Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het.  Interessant genoeg word die dissipels nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet genoem nie, hoewel Matteus dit wel doen.

Jesus gaan bly in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het.  Nie net alle kos is rein nie, maar ook alle nasies!  Vergelyk bv. Petrus se toespraak aan Kornelius waar hy verduidelik dat Jode nie in heidene se huise mag kom nie, ‘n idee wat hy eers laat vaar het op grond van die visioen wat God hom gegee het (Hand 10:28).

‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het egter gou van Hom te hore gekry en vra dat Hy ‘n bose (letterlik onrein!) gees uit haar dogtertjie dryf.  Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak (heidene is honde genoem, maar Jesus versag dit na hondjies), maar dan troef sy Hom met haar eie beeldspraak.  Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood, steeds die gedeeltes aan mekaar bind. Let ook op dat sy Jesus as Here aanspreek, wat ‘n ongelooflike belydenis in haar mond is.

Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het (letterlik: op grond van hierdie logos), een van die min afstand-genesings, waarmee Jesus haar geloof en vertroue in Hom bedoel.  Sy staan dus in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels.  En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense – soos Jesus, so ook die kerk.

Jesus keer hiervandaan af terug na Dekapolis, die gebied waar Legio verlos is.  Volgens sommige geleerdes lyk dit asof Hy Galilea vermy deurdat Hy via Sidon reis (‘n mens wonder oor die rede?) terwyl ander geleerdes dink dat dit nie sin maak nie, en moontlik aan se Markus se gebrekkige kennis van die gebied noord van Israel toe te skryf is.

Hoe dit ook al sy, Jesus genees daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy heel moontlik glad nie kon praat nie), wat deur mense (vriende?) na Hom gebring is (vergelyk die verlamde man se storie – een kommentaar noem dit “intercessory faith”), deur Hom hande op te lê, sy vingers in sy ore te steek, Sy spoeg (sommige het gedink daar is genesende krag in spoeg) aan die man se tong te smeer en ‘n hemelwaartse sug te gee, in Hebreeus (sommige sê Aramees, hoewel die woord nêrens anders só in Aramees voorkom nie) Effata (gaan oop) uit te roep, en sy gebrek te genees (Jesaja 35:5-6 gaan hier in vervulling).  Dit is ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man, wat wys hoe intens Jesus by mense betrokke geraak het.

Die reaksie is ongelooflik: “Alles wat Hy doen, is goed,” heel moontlik voorberei deur die getuienis van Legio.  Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Hy reeds oorbekend was en dit vir Hom moeilik gemaak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

Die tema van brood word voortgesit met die tweede vermeerdering van die brood, in oorwegend heidense gebied, weereens in die konteks van die onbegrip van die dissipels wat nou weer eksplisiet genoem word.  Hulle verstaan nog steeds nie dat Jesus God is en sy mag wil gebruik tot voordeel van mense wat behoefte het, omdat Hy hulle innig jammer kry nie.  Hierdie keer voed 7 brode (en ‘n paar vissies) 4000 mense en bly daar 7 mandjies (die woord spiridas wat hier gebruik word, dui ‘n groter mandjie aan – vgl Hand 9:25) oor. Die verskille met die eerste broodvermeerdering is te groot dat die twee geleenthede as een verhaal beskou kan word, soos sommige geleerdes doen: die getalle verskil, die woord vir mandjies verskil en Jesus self verwys net hierna in ‘n gesprek met die dissipels na twee geleenthede.

Hulle vertrek na Dalmanuta toe, waarskynlik in die omgewing van Magadan, hoewel niemand die dorpie tot nog kon eien nie.

Matteus
Lukas vertel nie enige van hierdie drie gebeure nie.
Matteus beskryf die vrou as ‘n Kanaänitiese vrou in die gebied van Tirus en Sidon.  Sommige geleerdes dink dat sy Kanaänities was, maar die Griekse taal en kultuur aangeneem het.  Grieks kon ook in die algemeen gebruik word om iemand as nie-Jood aan te dui (Geullich).  Interessant genoeg noem sy Hom die Seun van Dawid, iets wat vir die Joodse lesers van Matteus se evangelie sin sou gemaak het.  Hy vermeld wel dat die dissipels daar is en betrokke raak in die gesprek, maar op ‘n negatiewe manier.  Hulle wil haar wegstuur.  Jesus gooi dan sy aanvanklike weiering eksplisiet oor die boeg daarvan dat Hy net na Israel gestuur is en koppel die beeldspraak van die brood daaraan.

Interessant is dat die vrou sy beeldspraak dan ‘n ekstra detail bykry, waar sy praat van die hondjies wat van hulle base se kos eet.  Sy impliseer dus dat sy in ‘n ondergeskikte posisie ten opsigte van Israel is, hoewel ‘n mens nie te veel van individuele aspekte van ‘n beeld moet maak nie.  Jesus verwys dan ook eksplisiet na haar geloof wat haar wens in vervulling laat gaan.

Die gedeelte in Matteus wat die naaste ooreenstem met dié van Markus is 15:29-31.  Dit kon heel moontlik ook ‘n ander gebeurtenis wees.  Indien dit ‘n ander gebeurtenis was, sou dit moontlik wees om Matteus (8:28-34) se vertelling van die verlossing van Legio, wat hy vertel as die genesing van 2 mans, te verstaan as ‘n sameflansing van Legio se verhaal met hierdie verhaal van Markus oor die genesing van die doofstomme.

Matteus vertel ook die verhaal van die tweede vermeerdering van die brood, ietwat korter, en met kleinere detail wat verskil.  Hierna vertel hy, anders as Markus, dat hulle na Magadan in die weste vertrek het.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 176 en 177

Votum: (n.a.v. Psalm 146:6-10)

Seëngroet

Lofsang: Flam 6 [bekend] of Lied 167

Wet: Jakobus 2:1-10

Verootmoediging: Flam 131 of Lied 230

Vermaning: Jakobus 2:14-17

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 7:24-37

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Vonkk 124 of Lied 212

Seën

Respons: Vonkk 124:1 drie laaste reëls of Lied 212 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 176 en 177 “Halleluja! U is Koning en Jesus, gróót bo almal”

Votum: (n.a.v. Psalm 146:6-10)
6Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Seëngroet

Lofsang
Flam 6 Heer Jesus, my Redder [bekend:  Shout to the Lord] of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Wet
Jakobus 2:1-10
My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

Verootmoediging
Flam 131 Kom Verander My Hart of
Lied 230 “O Jesus, in u lyding”

Vermaning
Jakobus 2:14-17
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Geloofsbelydenis

Liedere

F6. “Heer Jesus, My Redder”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Oorspronklike titel:  Shout To The Lord
Teks en musiek: Darlene Zschech Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1993 Hillsong Publishing

Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
vol wees van u liefde, Heer.

My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van sy mag, van sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.

Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde
en sorg vir my.

F131. “Kom Verander My Hart”
(Rubriek: Flam – Gebed; Verootmoediging; Skuldbelydenis) Teks en musiek: Dinti Lotz
© 2006 NG Moreleta Publishing (geadministreer deur Urial Publishing)

Kom verander my hart, o Heer,
Kom vul my met U, Gees
Kom en snoei waar dit nodig is
om heilig te kan wees.

Maak my oë oop en wys my hoe
U vol in my kan woon
dat ek heilig kan staan voor u troon.

Maak my skoon; kom en reinig my
was my witter as sneeu.
Soos u Gees in my kom woon
maak my skoon; kom en reinig my
dat ek heilig kan staan voor u troon.

Kom verander my denke, Heer,
kom maak dit splinternuut.
Skyn u lig waar dit nodig is,
kom heilig weer my lied.
Maak my hart oop en wys hoe
U vol daarin kan woon
dat ek heilig kan staan voor U troon

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 7:24-37
(kyk onder familie-oomblik vir idees rondom die skriflesing)

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos altyd met verhalende tekste, is dit belangrik dat die kinders gewoon die verhaal hoor.  Lees dit dramaties voor uit ‘n kinder-vriendelike Bybel.  Kry twee lesers wat op verskillende plekke in die kerkgebou staan, om die twee verhale te lees.

Of laat kinders jou help met die skriflesing.  Wys verskillende karakters aan.  Terwyl jy die teks lees, laat hulle die gebeure opvoer.  Imprompto werk goed, veral as jy ‘n paar vrymoedige kinders in die gemeente het.

Hier is ‘n oulike idee vir ‘n aktiwiteit, waar kinders gesigte met lang tonge kan maak, wat by die tweede deel van die skriflesing pas.

Hierdie kan ook ‘n goeie geleentheid wees om te gesels oor die maniere waarop julle gemeente en eredienste toeganklik is vir gestremde mense.

As jy ‘n storie wil vertel, kan Horton Hears a Who goed werk – die boek, waarvan daar ook ‘n paar jaar gelede ‘n fliek gemaak is.  Carolyn Brown sê: “[Horton] is like the woman in that he persists in getting protection for the tiny whos only he can hear.  The biblical mother refused to let others discount and brush aside her and her sick daughter.  She knew that each of them were real live persons and that they counted.  Like that Mother, Horton does not give in.  Even when others tease him and then try to forcibly stop him, Horton fiercely stands up for the whos because “a person’s a person no matter how small”.  The book is too long to read in worship, so check it out of the library and tell it in your own words.  Or, set the tone and enjoy the verse read the first 5 pages (ending with “and placed it down safe on a very soft clover.”)  Describe the response of the kangaroo and her child.  Then, read the page “in the high jungle tree tops, the news quickly spread…”  Recall the plot in your own words.  Conclude by reading the last two pages starting with “Finally at last from that speck on the clover, their voices were heard!” Hier is ‘n video van die boek.  Hier is ‘n Horton inkleurprent.

Preekriglyn

Ons teks vertel van besondere ryk gebeure in die bediening van Jesus.

Jesus en sy dissipels reis in ons teks vanaf Galilea in ‘n noordelike rigting na die gebied van die Fenisiese stede Tirus en Sidon. Hy verlaat Galilea om ‘n rustiger oord te vind vir die onderrig van die dissipels. In die streke – wat oorwegend heidens was – gaan Jesus tuis in ‘n huis.

Elders vertel Jesus (Matteus 11:21-22) hoe dit vir die twee stede, Tirus en Sidon, in die oordeelsdag draagliker sou wees as vir Gorasim en Betsaida. Die rede vir hierdie vergelyking is daarin geleë dat laasgenoemde Joodse stede was wat vertroud was met Jesus se wonderwerke. Tog het hulle nie tot bekering gekom nie. Tirus en Sidon, daarenteen, was heidense stede waar mense tot bekering gekom het by die aanskoue van Jesus se wonderwerke.

Rein hart

In die vorige Skrifgedeelte (7:1-23) het Jesus die beginsel vasgelê dat die verhouding tot God nie afhanklik is van die reinheid volgens die wet nie, maar van die innerlike gesteldheid van die hart.

Tans word ‘n gebeurtenis opgeteken waar Hy die beginsel in die praktyk toepas. Die heidense vrou is vir die Jode ritueel onrein, maar Jesus ag haar waardig om deel te kry in die weldade van die koninkryk van God omdat haar hart reg is. Sy glo dat Hy haar kan en sal red uit haar nood. Jesus waardeer die geloof en skenk haar haar bede. Deur sy optrede teenoor die vrou, lê Jesus die grondslag vir die werking van die evangelie buite die Jodedom.

Let ook op dat Jesus doen wat Hy leer. Jesus bring ‘n boodskap (die vorige paragraaf, verlede week se teks), en doen nou wat Hy sê. Deur sy optrede bevestig Jesus dat God se koninkryk aangebreek het en dat Hy, die Seun van die mens, waarlik die Verlosser is wat in die gestalte van ‘n slaaf gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien (10:45).

Hondjies kan gered word

Vir ons is dit vandag vanselfsprekend dat ook nie-Jode deel kan hê in die koninkryk van God. In Jesus se tyd was dit nog nie vanselfsprekend nie. Die Joodse damwal moes eers breek.

In hierdie teks se gebeure is daar twee items wat sending deur die latere kerk aan die hele wêreld voorspel.

  • Eerstens is daar die feit dat Jesus die vrou se behoefte bevredig deur haar geluk te wens op haar volgehoue en eerbiedige appèl. Markus se les is dat heidene wat dieselfde soort gereedheid wys deur hulle behoeftes te erken en Jesus daarmee vertrou, kan gered word.
  • Tweedens, en dit is ‘n uitsonderlike kenmerk van Markus, is die gebruik van die woorde “kinders” en “hondjies” as aanduiding vir die Jode en vir die nie-Jode.

Terwyl Matteus se gebruik van Jesus se woorde ‘n byt in het (volgens Matteus verwys Jesus na “honde”, in die negatiewe betekenis van straathonde), gee Jesus se antwoord, volgens Markus, die vrou hoop, want dit gaan hier om huishonde, of byna skoothondjies. Met hierdie beeldspraak verduidelik Jesus dat die Jode, as enigste kinders van God, vir baie jare alleenreg op die verlossing gehad het. Daarom word hulle “kindertjies” genoem. Teenoor hulle is die nie-Jode “hondjies” genoem, want net so min as wat honde op God se verlossing aanspraak kan maak, net so min kan die nie-Jode dit doen.

Jode en nie-Jode

So verduidelik Jesus dat Hy eintlik gestuur is vir die Jode en nie vir die nie-Jode nie. Die nie-Jode sal later ‘n kans kry (7:27). Met ander woorde, as ‘n nie-Jood moes hierdie vrou haar beurt afwag. Eers is dit die Jode se beurt en daarna kom die nie-Jode aan die beurt. Hiervoor is sy te vinde. Dit lei mens af uit haar reaksie in vers 28. Haar antwoord is nie rebellie nie, maar onderworpe instemming dat Jesus reg is. Jesus is eerstens na Israel gestuur, maar ook na al die ander nasies. Sy glo dat die mag van Jesus vir almal, vir Jode en heidene oorgenoeg is, dat Hy albei kan help.

Gedryf deur nood

Hierdie heidense vrou wie se dogter in gevaar verkeer as gevolg van bose geeste, val voor Jesus se voete neer. Die nood wat haar dryf, is die duiwelbesetenheid van ‘n kind, iets buitengewoon, iets wat die mens nie kan beheer nie. Dit tas die menslike persoonlikheid aan van buite die menslike kern, ‘n siekte waarteen ons vandag net so min raad het as in die ou tyd.

Sy is ‘n nakomeling van die nasies wat onder die banvloek van God staan (Deut 7:1 ev) en tog twyfel sy nie aan Jesus se mag om haar dogtertjie te verlos nie. Haar eie nood en die goeie gerugte oor Christus dryf haar na Hom toe.

Dit vat dus ‘n heidense vrou om Jesus te erken as die Verlosser. Hierdie Verlosser toon sy almag deur haar dogter met die spreek van ‘n enkele woord te genees, maar toon ook daardeur sy almag oor die Bose.

Doofstom man

Tweedens genees Jesus ‘n doofstom man. Die woord in Grieks wat die man se siekte beskryf (mogilalon) word slegs twee keer in die hele Griekse Bybel gebruik. Dit beteken dat die man onduidelik of vaag gepraat het, en nie dat hy glad nie kon praat nie. “Doofstom” is vir ons die beste beskrywing vir die man se toestand, maar waarskynlik nie heeltemal akkuraat nie.

Die genesing geskied op die terugreis uit die gebied van Tirus en Sidon waar Jesus ooswaarts en dan suidwaarts gaan. Hy reis deur die gebied van die Griekse stede, die Dekapolis (die tien stede) na Galilea.

Die wonderwerk word volledig beskryf. Jesus steek sy vinger in die man se oor as die oorsprong van die probleem. Hy smeer dan spoeg aan sy tong, want dit het genesende krag. Jesus kyk op na die hemel om sy afhanklikheid van God te toon en bid tot God. Die misterieuse gesondmakende woord, effata, beklemtoon en verhoog die grootheid van die wonderwerk. Jesus spreek ‘n genesingsbevel: “Gaan oop!” Dit word deur Markus in Aramees weergee, met die vertaling daarby.

Die bevel het nie net betrekking op die liggaamlike genesing nie, maar is gerig op die hele mens wat deur Satan toegesluit was (1:32). Die gebondene word bevry, ‘n mens word verlos uit die mag van die bose. Die genesing geskied onmiddellik, met drie werkwoorde wat natuurlike gevolge weergee; eers keer die gehoor terug, dan kom die beweging van die tong en daarna die spraak.

Tot swye gemaan

Die skare se uitdrukking van verwondering in vers 37 wys op ‘n waardering van Jesus en ook die gepaste reaksie op die wonderwerk.

Daarna belet Jesus die mense om dit te gaan oorvertel. Hoekom? Die Messiasgeheim, ‘n gebruik by Jesus waarvan veral Markus melding maak, gaan oor Jesus se versoek om dit geheim te hou dat Hy die verwagte Messias is. Verskillende standpunte word gehuldig oor hoekom Jesus dit sou doen. Hy wou waarskynlik misverstand en onjuiste reaksies voorkom. Jesus wou nie bekend staan as ‘n wonderwerker wie se genesings die trekpleister moes wees nie. Vir Hom gaan dit om die herstel van God se koninkryk. Daarom het Hy die mens in totaliteit verlos, deur hulle uit Satan se mag te bevry (7:24-30), of te genees van hulle liggaamlike gebreke (7:31-37). Jesus het dit ook gedoen sonder om iets terug te verwag (8:35-45). So plaas Hy, deur sy wonderwerke, die klem op God se liefde vir die mens en wys Hy ook op die almag en grootheid van God. Dit was egter ‘n onmoontlike opdrag, want hierdie wonderwerke het die skare aangegryp.

Betekenis

Wat beteken hierdie teks vir ons lewens?

Wese van geloof

Die gebeure rondom die Siro-Fenisiese vrou leer ons oor die aard en betekenis van geloof.

Ons gaan verkeerdelik van die veronderstelling uit dat ons aan sekere voorwaardes moet voldoen om te glo, byvoorbeeld ‘n minimum van godsdienstige oortuigings en ‘n morele aanvaarbaarheid voor God. Dit is nie waar nie.

Hierdie wonderverhaal toon juis dat geloof nie steun op bepaalde menslike kwaliteite nie. Hierdie vrou het niks gehad waarop sy kon steun nie, behalwe dat sy ‘n verlorene, ‘n hond was. Sy het geen handvatsel of regte gehad om aan vas te hou nie, behalwe die geloof self. Sy het haar met haar leë bedelaarshande volkome op Jesus se genade en barmhartigheid beroep.

Die aard van geloof kom ook hier na vore as ‘n volhardende vashou aan God. Sonder om haar deur Jesus se argument te laat afskrik, hou die vrou nog steeds aan die Here en sy woord vashou. Sy oorwin Hom as ‘t ware deur sy woord te aanvaar, naamlik dat sy maar net ‘n hondjie (sondaar) is. Hy het immers vergifnis vir alle sondaars belowe.

Geloof en teenspoed

Dis makliker om te glo as dit met jou goed gaan. Die toets vir geloof kom egter wanneer jou planne skeef loop en jou verwagtinge onvervuld gelaat word, jou drome versplinter. Wanneer dinge nie vir jou in plek val soos wat jy gedink het dit sou wees nie.

Sulke mismoedige en wanhopige situasies raak bedreigend en eis alle aandag van jou op. Die normale gang van jou lewe word onderbreek. Dit word later onverbiddelik. Jou situasie word later deur negatiewe gesprekke oorheers; voor die televisie, in wandelgange van inkopiesentrums, teekamer-, braaivleisgesprekke, skoolvergaderings, kuiergesprekke. Jy word depressief en moedeloos oor jou situasie. Wie van ons weet nie wat bekommernisse is nie?

Ons situasies en omstandighede het betrekking op mense in ons lewe, ons bestaan en die toekoms, veral wanneer dit bedreig word. Hierdie mense sluit dikwels goeie mense in: bemarkers, konsultante, bankbestuurders, politieke leiers, makelaars, antropoloë, sielkundiges, toekomskundiges, maatskaplike werkers, predikante en pastore. Al hierdie mense/boeke bied hulle eie voorspellings, maak hulle eie afleidings, gee hulle eie menings en almal se “buzz word” is: “Take control over your life.” Neem beheer, kontrole oor jou lewensbestaan en bestaanswerklikhede/realiteite – van jou situasie vandag. “You are the master of your own destiny.”

Daar is natuurlik niks hiermee verkeerd nie. Tog laat dit ons van God vergeet of dit veroorsaak dat ons dikwels ons geloof bevraagteken, deur te dink daar is iets met ons geloof verkeerd, omdat God nie ingryp nie. Om te glo, beteken dat ons dikwels by plekke gebring word waar ons nie altyd weet wat dit vir ons inhou nie. Hooploosheid/wanhoop bring sielkundige en emosionele effekte en bedreigings, veral wanneer al die selfgemaakte pogings om beheer te neem oor jou lewe en toekoms misluk. Dit begin sy tol eis en jou gemoed begin oplaai, depressiewe gevoelens en gevoelens van bedruktheid begin die oorhand kry.

Hoop en antwoorde om hierdie dinge te hanteer kry jy nie in selfhelpboeke, televisieprogramme, nuusflitse, tydskrifte en koerante nie. Uit menslike perspektief of deur menslike handelinge en menslike toedoen? Nee. Hoop kry jy net in en deur Jesus Christus. Dus, net God wat jou toekoms hier en nou verseker. Net God wat jou huisgesin en jou huwelik en jou kinders se toekoms kan verseker, maar dan moet ons bereid wees om God te vertrou al verstaan ons nog nie alles nie, soos hierdie vrou waarvan ons gelees het.

Oorgee

Ons kan ‘n voorbeeld van ‘n swembad gebruik. As ons die volle voordeel van ‘n swembad wil ervaar, moet ons bereid wees om onsself heeltemal aan die water oor te gee. Dit beteken dat ons uiteindelik die kant moet los. Wat eerste kom is moeilik om te bepaal: om myself aan die water toe te vertrou of die kant te los. Tog is dit op die einde verstaanbaar, want geloof in God beteken ook om te laat los. Om alles te los behalwe die Here. En dit beweeg ons om te sê: Here, ons is alleen van U afhanklik. U is ons enigste hoop. Ons reken net op U. U is waaragtig. Ons ag U getrou. U alleen is vir ons genoeg. U is ons toekoms.

Eerlik voor God

Ons kan maar teenoor God sug en smeek en kla soos hierdie vrou. Ons hoef nie toneel te speel of ‘n masker te dra om ‘n “sterk Christen” te wees of die masker voorhou van “ter wille van ons getuienis” nie. Wanneer ons voor God kom staan, kan ons dit openlik en eerlik sonder kamoeflering doen. By God kan die maskers maar afval. Hy ken ons immers deur en deur en ons hoef vir niks te kwalifiseer nie.

Die geheim van die teks lê hierin, dat al mag dit somtyds voel asof God teen ons is, ons tog in Hom sal glo soos hierdie vrou. Om dus te sê, Here, ek gee beheer oor aan U, is geloof. Dit beteken dus om uit te roep: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte, aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps 37:26). Dit beteken om in die krisis vas te klem aan God se verlossing, in die krisis vas te klem aan die ou ruwe kruis. Dis die geheim van hierdie vrou en moet ook ons geheim in die lewe wees.

Ons hoef nie ‘n selfversekerde mens te wees wat ons eie toekoms bepaal omdat ons dit so fyn beplan nie. Wat ons wel moet wees as kinders van God, is bedelaars wat afhanklik is van God se genade terwyl ons suksesvol is in wat ons doen, deur te sȇ: “Here, baie dankie dat ek vanmôre kon opstaan, dat ek nog lewe. En as dit u wil is, Here, gaan ek môre hierdie en daardie sake aanpak. Neem my, Here. Neem my selfs waar ek nie sou wou kom nie. Ek loop aan u hand.”

Jesus se mag

Beide die Siro-Fenisiese vrou en die doofstom man leer ons dat Jesus oor geweldige mag beskik. Jesus is God. Dit leer ons ook dat Jesus sy mag tot voordeel van mense gebruik.

Soos die skare sê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat” (36).

So is Jesus, so tree Hy teenoor mense op.

Wat van diegene wat nie genees word nie? Vandag nog nie? Ook in sy tyd op aarde het Jesus nie alle siekes genees nie. Sy genesings is egter die teken dat Hy waarlik die Seun van God is, die Een in wie se hande ons hede en ons toekoms veilig is. Hy is met ons op pad na die nuwe aarde waar daar genesing vir almal is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Vonkk 124 Jesus bring vreugde [bekend] of
Lied 212 “Loof die Heer, Hy is goed”

Seën

Respons: Vonkk 124:1 drie laaste reëls:
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
of
Lied 212 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.