Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se sleutelteks verwoord in duidelike terme die tema vir die volgende vier weke: “Deur lewe en sterwe dankbaar en vol vreugde in Christus.” Paulus verlang om heen te gaan en saam met Christus te wees, maar besef dat hy liewer liggaamlik by die Filippense wil bly, sodat hulle vordering kan maak en geloofsvreugde ervaar.

Die teks in Eksodus en Psalm 105 spoor die volk aan om te sing en speel vir die Here en sy wonders in gedagte te roep, ook toe Hy die volk met gejubel uit Egipte gelei en op pad kos aan hulle gegee het.

Die teks uit Matteus roep uit ‘n ander hoek tot blydskap vir ‘n dag se loon waarmee die mens in sy behoeftes kan voorsien.

Ander tekste

Eksodus 16:2-15
Kos uit die hemel
16Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. 

2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

Psalm 105:1-6, 37-45
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
37Toe het Hy sy volk uitgelei,
belaai met silwer en goud.
In geeneen van die stamme
het iemand uitgesak nie.
38Die Egiptenaars was bly
dat hulle vertrek het,
want hulle was skrikbevange
oor die Israeliete.
39Die Here het ’n wolk uitgesprei
as beskutting oor hulle
en ’n vuur gegee
om lig te maak in die nag.
40Toe hulle kos vra,
het Hy kwartels laat kom
en sy volk met brood uit die hemel
versadig.
41Hy het ’n rots oopgebreek
en daar het water uitgestroom
wat soos ’n rivier
deur die dorre gebied gevloei het.
42Ja, Hy het sy heilige belofte
aan sy dienaar Abraham
gestand gedoen
43en sy volk juigend,
sy uitverkorenes jubelend
laat voorttrek.
44Vir hulle het Hy
die heidene se lande gegee;
wat deur ander volke
met moeite verkry is,
het hulle in besit geneem.
45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.

Prys die Here!
Matteus 20:1-16
Gelykenis van die arbeiders in die wingerd
20 “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ’n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

Fokusteks

Filippense 1:21-30
Bevordering van die evangelie ondanks gevangenskap
12Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. 13Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. 14Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

15Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. 16Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; 17maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. 18Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly, 19want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. 20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,

21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ‘n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

2 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Ekstra stof

Fillippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne
Dit tref my dat Paulus hulle adelphoi noem, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is.  Dit is ‘n woord wat beide geslagte ingesluit het.  Hulle is ook die heiliges in Christus Jesus (1:1), die kinders (tekna) van God (2:15),  en die geliefdes (agapetoi) uit Paulus se perspektief, mense wat na aan sy hart lê (2:12), maar in terme van hulle onderlinge gemeenskap, familie van mekaar (1:12,14; 3:1,13,17; 4:1,8,17).  Hierdie verbintenis aan mekaar in die Here is belangriker as enige ander band wat mense aan mekaar bind.

Ons sien hier ook dat Paulus se evangelie bo alles ‘n evangelie van eenheid was.  Vandaar nie net sy teologiese motivering daarvan later in Efesiërs 2-3 nie, maar ook sy vroeëre baie praktiese stryd om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry in Antiogië (Gal 2).  Ons sien in sy briewe:

  • dat waar hierdie eenheid deur verskillende legitieme opinies oor die gebruik van kos en wyn, die hantering van werknemers en die nakom van dagritmes bedreig is (1 Kor 8-10; Rom 14-15) sy raad was om die eenheid te bewaar deur nie wedersyds te veroordeel of te verag nie, en mekaar toe te laat om eie opinies te hê.
  • Wanneer daar egter kwessies opgeduik het waaroor daar net een legitieme opinie kon bestaan, bv oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande (1 Kor 6), is die eenheid juis beskerm deur op te tree teen die verkeerde opinies of lewenstyl .

Oor al die ander kwessies waaroor gelowiges kon verskil, was die uitdaging egter altyd om nie net verdraagsaam te wees nie, maar “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice” (Wright), presies dit wat nou hier in Filippense aangeroer word.

Hierdie eenheid moet tot sy reg kom in ‘n evangeliese lewenstyl na buite
Paulus roep die gemeente van Filippi op om in hulle onderskeiding van wat regtig belangrik is, te fokus op hulle lewenswandel na buite.  Die prioriteit moet wees dat hulle publieke gedrag in ooreenstemming sal wees met die evangelie van Jesus Christus.  En dit moet hulle onverskrokke en kompromieloos doen.  Dit gaan vir hom nie in die eerste plek of hulle reg glo, of dit reg kan verwoord nie – hoe belangrik dit ook al mag wees – maar of hulle lewenstyl die evangelie waardig is, al beteken dit ook dat hulle daarvoor moet ly.  Lyding is immers ‘n voorreg, en ‘n teken van ware geloof.  Die rede hoekom dit vir hom so belangrik is, het met die publieke getuienis van die evangelie te make.  Die woordjie wat hy hier in vers 27 gebruik vir lewenswandel kom van politeuomai  af (die woorde politiek en polities is hiervan afgelei) wat gewoonlik gebruik is om die gepaste burgerlike gedrag uit te druk, dws om soos ‘n ware Griek of Romein op te tree.

Paulus roep die gemeente in Filippi dus op om soos burgers van die hemelse koninkryk op te tree (vgl Fil 3:20 waar hy dit eksplisiet sê: “Ons is  burgers van die hemel …”), om in vennootskap met mekaar na buite op te tree.  Niks rand immers mense se geloof in die evangelie so ernstig aan, as gelowiges wie se lewens nie die waarheid en wonder daarvan sigbaar maak in hierdie lewe nie.  Daarom roep Paulus die gelowiges op om een van gees en siel saam te stry vir “die geloof in die evangelie”, al is daar ook hoeveel teëstand teen die evangelie.  Hulle lewenswandel moet ‘n kragtige getuienis wees wat mense aan die waarheid van die geloof kan blootstel, sodat die Gees sy oortuigingswerk kan doen.

Hierdie eensgesind moet ook na binne gehandhaaf word
Saam met hierdie publieke eensgesindheid is dit net so belangrik om eensgesind na binne toe te wees.  Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe” (2:2).  Die frase wat met eensgesind vertaal word (auto phronête) beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees, soos ‘n paar Engelse vertalings dit het.  Die woord phronête dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in.  Dit beteken dat die like-mindedness  nie net intellektueel kan wees nie, dws om dieselfde te dink nie.  Dit is eerder, soos Hawthorne dit pragtig sê: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.  Hierdie eengesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel:  deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van gedagte” (phronountes – denke in harmonie) te wees.  Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ‘n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie.  Hiervoor het ‘n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

Ondersteun en geïnspireer deur Christus en die Gees
Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – Sy troos (paraklesis – ‘n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en Sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van Sy Gees.  Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

Eensgesindheid sal net ‘n droom bly, as elkeen ingestel sal bly op hulle eie belange.  Waar moeite gedoen word om eie belange of voordeel te bevorder, eerder as ander s’n, bly eenheid altyd in die slag.  Let egter op dat Paulus nie hier sê dat ‘n mens jouself en jou eie belange moet ontken of vermy nie, maar juis nederig in diens moet stel van ander se belange.  Soos Albert Schweitzer (The Mysticism of Paul the Apostle) oor Paulus se hantering van die self skryf: “no loss of self but an enriching of it; no erasure of time or place but a comprehension of how time and place fit within the eternal.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord  

Seëngroet: Romeine 1

Lied: Psalm 105 “Loof God se naam vs 1,2,3”

Wet Matteus 22: Die vraag oor die grootste gebod

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: Die vrug van die vryspraak

Verbintenis 

Loflied: Lied 306 “U, Christus is my Lewe vs 1,2,3,4,5″ (Dit is ’n beryming van Filippense 1:20-27.)

Epiklese

Skriflesing: Filippense 1:21-30

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis ahv Filippense 2
Offergawes

Wegsending: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord  
Voorganger: Loof die Here, roep sy Naam uit;
Gemeente: maak onder die volke sy dade bekend.

Voorganger: Sing vir Hom, speel vir Hom;
Gemeente: praat met oorgawe van al sy wonderwerke.

Voorganger: Beroem julle in sy heilige Naam;
Gemeente: Laat ons die Here opsoek en bly wees.

Voorganger: Soek die Here en sy krag.
Gemeente: Ons soek voortdurend na u teenwoordigheid, Here.
Almal: Amen (uit Ps 105:1-4).

Seëngroet: Romeine 1
7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied: Psalm 105 “Loof God se naam vs 1,2,3”

Wet: Matteus 22
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Verbintenis 
Voorganger: U, Christus, is my lewe, die sterwe wins vir my,
Gemeente: in lewe en in sterwe is ek aan U gewy.

Voorganger: In lewe en in sterwe sal U steeds by my bly.
Gemeente: U is my hoogste vreugde, aan U is ek gewy (uit Lied 306).

Loflied: Lied 306 “U, Christus is my Lewe vs 1,2,3,4,5” (Dit is ’n beryming van Filippense 1:20-27.)

Liedere

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan
Ons glo in U liefde soos ‘n oseaan
Ons glo in genade soos die see
‘n Stroom van vergifnis sleur ons mee
En ons bely
Ons glo dat die Herder sy kudde lei
Ons glo dat die Leidsman die weg berei
Alwys alwetend onsienlik Heer
Onmeetlik sterke Verlosser Heer
Ons glo!
Ons glo daar’s ‘n more na die donker nag
Ons glo aan ‘n bruilof wat die bruid inwag
Ons glo in vervulling van die Woord
In Christus oorwinnaar oor die dood
En ons bely
Ons sing omdat ons glo
Aanbid omdat ons glo
Bely dit dat ons glo
Ons loof U want ons glo
Alwys alwetend onsienlik Heer
Onmeetlik sterke Verlosser Heer
Ons glo!

F240. “U’s Die Rede”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof & Verwondering/ Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: H Berner
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Sing Uit!)

U’s die rede dat ek leef.
U’s die rede dat ek sing.
En as ek oor U dink,
Weet ek niemand is soos U.
Ek wil U loof
Met alles in my, Heer.
U goedheid nooit vergeet.
Koning oor alles wat leef,
U is die Heer van my hart.
U hou die groot heelal vas in u hand.
En tog leef U in my.
Wie kan met U vergelyk?
Wie kan u grootheid oortref?
Ek wy my hele lewe net aan U.
U is my beste vriend.
En wanneer ek U soek
Laat U my deur U vind.
Dan voel ek soos ‘n kind
Wat in sy pa se arms rus.
Ek smag na U.
U is al wat ek begeer.
Ek verlang na U, o Heer.
U is heilig,  U is heilig.
U is heilig en verhewe, Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.
Amen

Skriflesing: Filippense 1:21-30

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Rig ‘n groepie kinders af om die gelykenis van die arbeiders met woord en beweging te vertolk. Die arbeiders moet aan die einde van die dag met ewe groot vreugde hulle loon aanvaar en sê dat hulle veral bly is dat hulle nou vir hulle mense kan sorg. Teen die einde kan die wat eerste gehuur is duidelik bekendmaak dat hulle ongeneë is met die verloop van sake, maar na die verduideliking van die grondeienaar ook dankie sê.
of
Gebruik die illustrasie. Dis ’n uitbeelding van Jesus waar bo aan staan: die evangelie van Jesus Christus.
Gee vir die kinders ’n skoon papier waarop bo-aan in groot letters staan:  my lewenswandel.
Sê vir hulle dat hulle die prent so akkuraat moontlik moet na-teken op die skoon bladsy.

Wanneer hulle klaar is, vra vir die kinders hoekom hulle dit so goed kon doen?  Laat hulle vir jou sê watter tegniek hulle gebruik het en vertaal dit dan in die opdrag dat dit ook in die lewe so gaan om ons lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie te kry.

Een van die antwoorde van die kinders kan byvoorbeeld wees:  “Ek kyk kort-kort na die Jesus-prent en teken dit dan net stukkie vir stukkie.”  Verduidelik dat dit altyd vir ons nodig is om kort-kort ons oë op Jesus te hou om so jou lewe in ooreenstemming met Sy evangelie te hou.

Vir die groter kinders en jongmense kan jy die opdrag gee om ’n advertensie te maak, waarin Jesus en ’n Christelike lewenswyse geadverteer word.  (Kyk na die Boodskap se vertaling van Fil 1:27).

Die evangelie van Jesus Christus

Preekriglyn

Dis een ding om dit bloot te sê of die waarheid selfs met die mond te bely: “Jesus is die Here.” Dis iets geheel anders om dié waarheid te lewe! Paulus verduidelik aan die Filippense hoe Jesus se heerskappy tegelyk sy lewe én sy denke oor die dood beheers.

1. Ons sterwe verenig ons met Christus

Paulus was in ‘n groot tweestryd. Hy het sy eie belangrike lewensroeping as bemoediger van sy mede-gelowiges in Filippi en elders, om hulle geloof te help versterk, baie goed verstaan. Máár hy was ewe oortuig dat “om te sterf nie vir hom sleg sou wees nie, eerder ‘n wins (21) omdat hy dan met Christus sou wees (23)”. Die keuse tussen lewe en dood, was vir Paulus persoonlik moeilik. Dit het hom in twee verdeel (22), omdat hy so graag by Christus wou wees. “Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit?” vertaal Die Boodskap. Dit is vir hom “verreweg die beste”, sê die Nuwe Afrikaanse Vertaling.

Vir Paulus is sy uitspraak oor die wins van sy sterwe gebaseer op sy diep persoonlike verhouding met Christus (Bam). Christus was sy lewe, alreeds hier (Gal 2:20) en ook in sy persoonlike sterwe. Dit is nie vandag anders met ons nie. Gelowiges vrees nie die dood nie. Ons sien selfs daarna uit, want in die deurgang van die dood word ons persoonlik met Christus ons Here verenig.

2. Ons lewe is Christus

Paulus beklemtoon hiernaas hy bly om sy mede-gelowiges se onthalwe nog hier in die lewe.

Hy is juis ter wille van hulle nog hier nodig, oordeel hy. Hy het sy eie kragte en tyd en vermoëns ingespan ter wille van die verkondiging van Christus, in die belang van ander. Dit het hy gedoen ongeag die onminsaaiers in Filippi en sy persoonlike lyding aan die hand van jaloerse Christen teenstanders en Joodse vervolgers (vgl 15-18). In dié lig roep hy die gelowiges in Filippi op om dieselfde ingesteldheid teenoor teenstanders en dieselfde toewyding aan Christus te hê as hyself (28-29).

In die geboorteuur van die Christelike kerk moes Paulus te midde van die aanslae op sy vryheid van beweging (gevange), sy fisieke lyding (bv Hand 14, 16 en 17) en sy verantwoordelikheid as apostel, self reguit koers hou en daarby vir sy medegelowiges duidelik die weg wys, sonder om die aandag op homself te vestig (Motyer). In alles en doelbewus het hy die eer aan die Here gegee (vgl Belhar se slot).

3. Die hoofsaak van ons lewenswandel, om Jesus wil

Paulus se dankbaarheid oor die Filippense se geloof, loop uit op ‘n ernstige vermaning en aanmoediging. Aan die einde van hierdie hoofstuk beklemtoon hy die hoofsaak van hulle lewenswandel. Die begrippe wat Paulus gebruik, dui op die Filippense se sigbare geloofslewe. Dít moet in ooreenstemming met die evangelie van Christus wees (NAV). Dit veronderstel volkome eensgesindheid, soos een mens en ‘n standvastige saamstry vir die geloof in die evangelie. Anders gesê: terwyl ons alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap, die evangelie, regtig goed is (DB).

Eenheid in die kerk
Die Filippensebrief leer eenheid, verbondenheid en saamleef in die liggaam van Christus, in die kerk (gemeentes, ringe, sinodes, bedienings en Christelike organisasies) is vanselfsprekend. Dis nie ons keuse nie en was dit ook nooit. Ons openbare skande hiermee is dat die evangeliewaarheid steeds deur ons huidige praktyke van aparte kerke en gemeentes en eiesinnige bedienings deurkruis word. Die hartseer hierby is nie minder as toe Karl Barth en Hans Küng die kerk se gebrek aan eenheid in hulle konteks van Europa na Wêreldoorlog II ‘n “skande” en “sonde” genoem het nie.

Oor ons ongeloofwaardige lippediens aan eenheid met ons voortdurende, sondige bestaanswyse, in afsondering en afstandelikheid van mekaar, moet ons voor die Here en mekaar buig in ernstige verootmoediging. Ons is voorwaar diep skuldig voor Christus se aangesig en ons samelewing. Paulus se fokus op die norm-karakter van Christus se openbare liggaam in Filippense 1, kla ons saam aan. Ons sal in hierdie saak nie ontkom aan die helder lig van die evangelie van “eensgesindheid en saamstaan” uit die tronk in Rome nie.

Aktiewe toewyding
Paulus se eie lewe en lyding, saam met sy vermanende oproep aan die gelowiges in Filippi en ook aan ons, vra aktiewe toewyding aan die sigbare karakter van die versoeningsevangelie van Christus die Here, juis nou in ons publieke kontekste, met ‘n sigbaar hervormde lewenswandel! Die lig is vir die staander, die stad is op die berg – almal behoort die glans daarvan te kan sien.

Paulus sou hom nie oor ons dwase, aparte bestaanswyse en lewenswandel verbly het in sy gebede tot God en daarby woorde van waardering aan ons gerig het nie. Inteendeel! Hy sou ons, soos vir die kerk in Filippi, ernstig vermaan om aan die Christusevangelie sigbare gestalte te gee, midde in ons eie wêreld vol dienstigheid aan eiebelang, selfsug en eiegeregtigheid. Juis nou, terwyl groepe wêreldwyd teenoor mekaar laer trek en in stede van noue bande te bind dit eerder te verbreek, terwyl mense hulleself teenoor in plaas van saam met ander identifiseer, juis nou sou hy ons teregwys en aanmoedig tot hervorming van ons eie openbare diskoers en lewensvoorbeeld. Paulus herinner ons dat ons die evangelielig wat ons ontvang het om hoog te dra vir ons Here, sal verloor in ‘n ongeërgde omgang daarmee.

Bymekaarbring van mense
Paulus het die evangelie duidelik verstaan as die bymekaarbring van mense, nie hulle verwydering van mekaar nie. Selfs die verskille wat ander Christen-gelowiges met hom gehad het en die aktiewe teenstand wat mense hom gebied het, was nie vir hom ‘n rede om hulle te verwerp nie. Sy eie lewe of dood was vir hom van minder belang, omdat hy om die eer van sy Here en die belang van sy broers en susters gelewe en gearbei het. Om te bly lewe het vir hom verdere “vrugbare arbeid” beteken, sodat die Filippense se geloof in die evangelie versterk sou kon word én hulle hervormde en geloofwaardige geloofspraktyke in diens van Christus blydskap in die samelewing sou vermenigvuldig.

Soms wens ons dalk Paulus kon self hier wees. En dikwels verstar ons visie en aksie voor die werklikheid van eietydse Paulusse, wat ons verlaat en nes hy destyds nie (kan) terugkom om “hulle werk” klaar te maak nie (dink aan David Bosch, Russel Botman, Beyers Naudé en baie ander). Dit is duidelik dat elke plaaslike en breër vlak van kerkwees telkens dié roeping in eie tyd en konteks ontvang om “eensgesind en standvastig” “saam te stry” vir “die geloof in die evangelie” van ons Here Jesus.

‘n Veiliger wêreld
Dit is asof ons wêreld aanmekaar vrees tussen mense aanblaas, en hoop ons gaan so ‘n veiliger wêreld skep. Donald Trump wil ‘n muur tussen die VSA en Meksiko bou. Teen 2020 gaan die meerderheid Amerikaners Spaanssprekend wees. Sy muur gaan dus meer Meksikane in Amerika binnehou as wat dit Meksikane gaan uithou. Tog dink baie Amerikaners mure gaan veiligheid bring.

Die Britte stem om eenheid met die Europese vasteland te verbreek. Ons dink ons kan op ons eie ‘n beter lewe hê. Alle aanduidings is dat dit dwaas is, maar politici blaas vrees aan.

In Suid-Afrika is vrees vir die wat ander is oor eeue heen al deur alle soorte politici aangeblaas.

Vir die evangelie van Jesus Christus, wat mense oor grense heen broers en susters maak, is dit dwaasheid. Spesifiek waar die mede-gelowiges is wat anders as ek is. Wat bydrae tot ‘n veilige wêreld is dat Christene oor grense heen hande vat en mekaar – in Jesus se Naam – dien.

Dit is ons roeping, beklemtoon ons teks.

Wat ons saam onder leiding van sy Gees met hierdie roeping maak, is lewensbelangrik vir die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, U geloof in die kerk verstom en beskaam ons.
Ons bely voor U ons ingeperktheid,
ons na-binne-gerigtheid,
ons blinkgesmeerde vettigheid,
ons krom vingers wat U seën krampagtig vashou en dit nie uitdeel nie.
Ekskuus Here, ekskuus.
Maak ons draers van U woorde
met minder van ons eie idees.
Maak ons bringers van U vrede
met minder van ons eie belang.
Here help ons om na die wêreld uit te reik sonder aansien des persoons.
Sonder aansien des persoons.
Here, help ons dat die staat ons nie met wetgewing hoef te dwing om lief te hê nie.
Gee dat ons barmhartigheid sal bewys aan hulle wat dit die minste van ons verwag.
Maak ons lief vir die eenheid in U kerk;
liewer as vir die gesangeboek,
liewer as vir ons kerkorde,
liewer as vir ons knusse liturgiek,
selfs liewer as vir Afrikaans.
Want dis hoe U liefhet, Here
juis ter wille van U kerk.
Nee, ter wille van die wêreld.
(Gebed deur Piet Naudé in “Onder die skewe reënboog”: 85)

Geloofsbelydenis: ahv Filippense 2
Voorganger: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader
Gemeente: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word
V: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
G: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

V: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
G: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

V: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
G: Tot eer van God die Vader.

Offergawes

Wegsending: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.