Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jeremia 32:1-3a, 6-15
Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar 2van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda. 3Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet?

6Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: 7Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8“Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg. 10Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ’n skaal. 11Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat 12en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13“In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel: 14‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in ’n kleipot sodat hulle lank kan hou, 15want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

Psalm 91:1-6, 14-16
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou
uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou ’n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees
vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag
verwoesting saai nie.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

1 Timoteus 6:6-19
6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof
11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Fokusteks

Lukas 16:19-31
Die wet en die koninkryk van God
(Matt 11:12–13; 5:31–32; Mark 10:11–12)
14Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag. 15Hy sê toe vir hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God.

16“Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom. 17Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.

18“Elkeen wat van sy vrou skei en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ‘n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die ryk man en Lasarus
19“Daar was ‘n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. 20–21En daar was ‘n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.

22“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’25Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’27Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. 28Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’29Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’30Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’31Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 33 of Psalm 91 of Flam 539

Votum: Psalm 91:1-2

Seëngroet

Lofsang: Flam 156 of Lied 529

Wet: 1 Timoteus 6:6-10

Verootmoediging: Flam 260 of Lied 308

Vermaning: 1 Timoteus 6:11-19

Geloofsbelydenis

HOOR

Inleiding van preek

Skriflesing: Lukas 16:19-31 (verskillende lesers)

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer
Slotsang

Slotsang: Flam 165 of Lied 284

Seën

Respons: Lied 533

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 33 Wees Nie Bevrees Nie of
Psalm 91 of
Flam 539 “Vrede In My Hart”

Votum: Psalm 91:1-2
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

Seëngroet

Lofsang
Flam 156 Bring Dank [bekend: Give Thanks] of
Lied 529 “Dank, dank die Heer”

Wet: 1 Timoteus 6:6-10
6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Verootmoediging
Flam 260 Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing) of
Lied 308 Neem my lewe, laat dit, Heer

Vermaning: 1 Timoteus 6:11-19
11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 33 “Wees Nie Bevrees Nie”
Nav Psalm 91  Teks : Nada te turbe – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe  1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse teks in hierdie vertaling en musiek) © 2008 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue

Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
hul wat by God skuil, hoef nooit te twyfel.
Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
vind by God skuiling.

Nothing can trouble, nothing can frighten:
those who seek God shall never go wanting.
Nothing can trouble, nothing can frighten:
God alone fills us.

F539. “Vrede In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en vertroue)  Teks en musiek: Sybrand Strauss (DSG) Kopiereg: © NewTunes  (Opgeneem op Imagine 2015 )

Kyk die son skyn sy lig
Al die engele kniel saam en sing van U groot werke
‘n Lig van U hand en die stormwind bedaar
U besit die wêreld

Pre-chorus
Whao, whao, ek voel weer veilig
Whao, whao

Chorus
Die vrede in my hart skree Jesus reinig almal hier
U vlerke dek my vrees
Want U is wonderlik, almagtig en ‘n vriend
U red my elke keer, ek kniel voor U neer
Kom reinig my…

Verse 2
Op U naam sal ek vertrou
Ek sal al my dae sing en weet U is my Vader
Laat berge voor U val, laat die skepping dit vertel
U besit die wêreld

F156. “Bring Dank”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid) Oorspronklike titel: Give thanks Teks en musiek: Henry Smith
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht en Jacques Louw © 1978 Integrity’s Hosanna! Music (2 Kor 9:15, 12:10)

Bring dank aan die Ewige,
bring dank aan die Heilige,
bring dank aan die Vader, omdat Hy Jesus stuur:
Want nou sê die swakke: “Ek is sterk!”
Sê die arme: “Ek is ryk!
Deur wat ons alles van die Heer ontvang.”
Bring dank!

F260. “Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Ek bring ’n offerlied
in harmonie gegiet
om vir U te sê
hoe diep my liefde lê.

2. My woorde uitgespel
probeer vir U vertel:
by Jesus hoort ek tuis;
my lewe is ’n kruis.

Refrein:
Sal U luister as ek sing,
sal U hoor as ek my offer bring
uit ’n hart wat U begeer
al maak ek U soms seer?

Brug:
Hoor my, sien my,
hier voor u troon.
Ek’s sondig, U’s heilig.
Vergewe my.
Ek buig voor U. (x4)

F165. “In die hart van God die Vader”
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Rick Moser © 1996 Spirit and Truth Music (1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ’n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.

En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.
Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei.

En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid.
Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.

Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

God praat met ons en ons luister

Inleiding van preek

Skriflesing
Lukas 16:19-31 (kry verskillende lesers om die skriflesing te doen, sodat veral kinders – wat ‘n korter aandagspan het – makliker kan volg).

Familie-oomblik

Preek

Familie-oomblik
Kry verskillende lesers om die skriflesing te doen, sodat veral kinders – wat ‘n korter aandagspan het – makliker kan volg.  Hier is prente wat jy kan wys tydens die Skriflesing – of gebruik hierdie, wat outyds is maar meer prente het.  Hier is ‘n inkleurprent.

Onthou, ons is in die Seisoen van Barmhartigheid. Die vraag is, wie is die mense wat ons nie raaksien nie, wat ons ignoreer? Laat die kinders saam met jou dink wie hierdie mense is.  Wees spesifiek oor jul omgewing. In ons omgewing is daar bv kinders wat in asblikke slaap.  Mense wat in die bos woon.  Mense wat by verkeersligte bedel.  Buitelanders.  Kinders van skoolgaande ouderdom sal ook goed hiermee kan identifiseer, as jy praat oor kinders of groepe met wie niemand speel nie, wat pousetyd by niemand mag sit nie, ens.

Dit sal goed wees as jy die kinders kan bemagtig om iets te doen.  Dalk het julle ‘n deurlopende projek vir die die Seisoen van Barmhartigheid – kinders kan nie-bederfbare kos bring, of skryfbehoeftes.  Iets wat ‘n plaaslike bediening benodig, wat die kinders sal weet ‘n werklike verskil in hul omgewing sal maak. Dink saam met hulle aan maniere waarop hulle kan uitreik na “onsigbare” mense – en wees gereed om dit deur te voer.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preekskets maak erediensgangers eers sensitief vir belangrike vrae, voordat die teksgedeelte gelees word. Let ook op die Direkte Afrikaanse Vertaling van 2014 word as basis gebruik.]

Die gelykenisse in hoofstuk 16, waaronder ons teks, het dit onder andere oor die werking van mag in gemeentes en in samelewings. Die gelykenisverhale dink na oor hoe mense in die algemeen met mag maak en behoort te maak. Die vraag is hoe die rol van die wet in God se koninkryk ons optrede bepaal.

Die gelykenisse vra ook hoe God en Jesus Christus menslike mag beoordeel en oor mense se optrede oordeel.

Gelykenis

Die kort gelykenis oor Lasarus en die ryk man smaak nie van God of van Jesus Christus melding nie, bloot van “vader Abraham” en van die “engele”.

Daar is opvallend geen aanduiding in hierdie gelykenis dat die arm Lasarus ‘n goeie mens was nie – die belangrikste wat oor hom en sy situasie te sê is, is dat hy niemand anders as God gehad het, waarop hy hom kon verlaat nie.

Net so is daar geen aanduiding dat die ryk man ‘n bose mens was nie – die belangrike punt skyn bloot dat hy selfversorgend en geslaagd was. Dit is wel opvallend dat die ryk man nie uitgereik het na die arm Lasarus nie! Daar was absoluut geen poging van sy kant af om die gaping te oorbrug nie . . . totdat die dood gekom het en die rolle omgekeer is! Maar die afsydigheid van die ryk man is ‘n baie betekenisvolle saak vir God se koninkryk.

Belangrike vrae wat tydens die lees van die teksgedeelte na vore behoort te kom, is:

  • Wat sien jy raak in die ander een?
  • Wat doen dit aan jou?
  • Wat doen jy daaraan?

Kom ons hou hierdie vrae in gedagte wanneer ons die Skrif lees.

Skriflesing: Lukas 16:19-31

Kom ons stap nou kortliks deur ons teks:
Vers 19-21. “Daar was ‘n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. Voor die ingang van sy huis het ‘n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek.”

Ryk en arm

Die vertaling van “arm (mens)” en “ryk (mens)” weerspieël die gebrek of oorvloed aan hulpbronne waaroor iemand beskik. Dit is egter ook so dat daar ‘n bepaalde waardeoordeel aan hierdie kategorieë gekoppel word. Dit was so in destydse gemeenskappe en is steeds so in hedendaagse samelewings. Die verskillende vertaal-ekwivalente (hier bv “bedelaar”) weerspieël beide die destydse en ons hedendaagse waardeoordeel oor mense wat het of nie het nie.

Dit lyk nie of welvaart as sodanig in die Lukasverhaal en in Handelinge as sonde of as verkeerd uitgewys word nie. Lukas gee eerder die indruk dat gelowiges hulle eiendom met ander moet deel. In daardie opsig is die Lukasverhaal minder krities as bv die evangelie volgens Matteus. Rykdom gaan wel dikwels (Is dit onafwendbaar so?) met arrogansie en selfgenoegsaamheid gepaard. Baie energie word bestee om die rykdom wat verkry is te behou en in stand te hou, of om dit persoonlik te geniet. Dit geskied dikwels ten koste van ander oorwegings. In die lig hiervan beweer sendingkundiges soms dat welvaart dié groot bedreiging is vir die geloof en vir geloofsgroei in die kerk. Vervolging en swaarkry is dikwels ʼn loutering en kan selfs vertroue stimuleer.

Die teenstelling tussen die twee karakters word beklemtoon deur hulle kleredrag, die voedsel wat hulle kan eet en hulle leefstyl. Wat hulle kan doen en sê, of nie kan doen en sê nie, word alles deur hierdie waardeoordeel bepaal. So, Lasarus begeer die afvalkossies, maar hy vra nie . . . die ryk man sê niks; hy tree net op, en sy optrede is om “nie te gee nie”. Net die onrein honde lek Lasarus se sere – nie soseer omdat hulle empatie met hom het nie, maar as verdere aanduiding van sy ellende en vernedering.

Studies wys weliswaar uit hoe armes eerder geneig is om ander te help of hulle goed met ander te deel as wat die geval met ryk mense is.

Daar is dikwels geweldige gapings en ongelykhede in samelewings en ook in die kerk. Dit kan sosiaal-ekonomies (dink aan magstrukture in die samelewing wat geleenthede bemiddel of wegneem), of fisiek (wat sake soos gesondheid en liggaamsgrootte raak), of kultureel (wat sekere groepe uitsluit en viktimiseer soos die geval met vroue, kinders en vreemdelinge) wees. Dit was so in die vroeë Mediterreense samelewing en is steeds die geval.

Toe sterf hulle

Vers 22-23. “Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte met Lasarus teen sy bors.”

Ons lees van ‘n totale ommekeer van die omstandighede van die twee karakters in die verhaaltjie. Hierdie ommekeer is deel van die goeie nuus in die hele Nuwe Testament. Dit kom na vore wanneer Jesus sy dissipels kies, in sy woorde aan volgelinge en teenstanders, in die dade wat Hy doen en selfs ook in sy eie sosiale konteks: die Seun van God, die Messias, wat uit Galilea kom van alle plekke! Dit is egter veral in tekste oor die eindtyd en dood, soos hierdie gelykenis, waarin dit op die spits gedryf word.

Lasarus

Lasarus se naam beteken “God help”. Dit lyk asof die naam in die verhaal simbolies bedoel kan word. Hy sterf, maar ons lees glad nie van ‘n begrafnis nie (dink aan die sg ‘pauper’s burial’ vir ongeïdentifiseerde dooies en misdadigers). Dit is oneervol en ellendig om nie “behoorlik” begrawe te word nie – so dink die samelewing steeds!

Maar dan . . . Die engele dra hom na Abraham en hy kry ‘n ereplek teen die bors van Abraham. Abraham is die eervolle aartsvader. Vir die Jood is dit een van die belangrikste voorregte om “kind van Abraham” genoem te word. Dit is die toppunt van wie iemand mag of kan wees.

Die ryk man

Hy sterf ook en word op aarde begrawe, maar hy eindig in Hades, die doderyk, waar hy ontsettend gefolter word. Hy kry nêrens ‘n naam nie. Dit is ‘n aanduiding dat die gelykenis elke hoorder uitnooi om selfondersoek in te stel (die tema van bekering kom aan die einde herhaaldelik voor), maar impliseer ook dat sy eintlike status/waarde nie so groot is as wat die leser/hoorder of die karakter dalk self, gemeen het nie.

Vers 24. “Hy het geroep, ‘Vader Abraham, wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam’.”

Die uitroep, “Vader Abraham, wees my genadig!” is ‘n bekende uitroep in liturgieë (vgl Kyrie eleison). Hier is daar is egter nie sprake van berou en inkeer nie. Dit is wel ‘n noodkreet vol selfbejammering, en moontlik ook in die lig van die latere gesprek oor die broers, van selfverwyt.

Gebed veronderstel immers ‘n verhouding, anders is die klag op dieselfde vlak as die getjank van ‘n hond wat seerkry, skryf ‘n Hollandse prediker. So, die “regte” woorde (geluide) sonder die regte verhouding is nie ‘n aanduiding van opregtheid nie. Dit geld die verhouding met God, maar is ook waar in die geval van interpersoonlike verhoudings, selfs liefdesverhoudings.

Die woord “vlam” is ‘n bekende metafoor vir die lyding van sondaars in die ewigheid. Daarmee word dikwels die straf aangedui wat die gevolg is van ‘n aardse lewe van ongeregtigheid. Sonder om besonderhede oor die hemel of hel af te lei, is dit duidelik dat daar enersyds ‘n onderskeid gemaak word tussen die regverdige en onregverdige, en dat daar andersyds ‘n totale ommekeer in die lotgevalle van die karakters plaasvind.

Regverdig teenoor onregverdig

Oorweeg die onderskeid van regverdig teenoor onregverdig, of dan verheerlik teenoor veroordeel en gestraf: Wat maak iemand regverdig volgens die Lukasverhaal?

Lukas beklemtoon in sy evangelie dat mens slegs deur God geregverdig kan word:

  • In die gelykenis van die fariseër en tollenaar (18:9-14) is dit byvoorbeeld die een wat afhanklik is van God wat geregverdig huis toe gaan, nie die een wat hom beroem op eie meriete nie.
  • In die genesingsverhaal van 7:1-10 bevestig die offisier dat hy juis nie werd is nie, anders as die beoordeling van die leiers dat hy die wonderwerk waardig is. Vir die onwaardige, genees Jesus die slaaf en dié houding word as ‘n groot geloof bestempel.

Daarteenoor: Wat maak iemand onregverdig in die Lukasverhaal? Twee elemente kom na vore,

  • naamlik die selfversekerde vertroue op eie waardigheid, wat
  • (gewoonlik) gepaard gaan met onbarmhartige minagting van iemand anders.

Die toetssteen vir opregte geloof in assosiasie met Jesus, vir Lukas gesetel is in barmhartigheid, in deernis! (Luk 6:36).

Ryk man aan Abraham

Die ryk man versoek dat Lasarus gestuur word om hom te laaf. Dit kan bevestiging wees van sy vroeëre houding dat die arm man hom ter wille moet wees; hy verwag dit, want hy is ryk, hy het status, hy het die mag.

In die lig van die bespreking hierbo, sou mens dan die beroep op Abraham as “vader” dus ook nie noodwendig as uitdrukking van affiniteit of vertroue verstaan nie, maar eerder as ‘n aanspraak op grond van sy aardse status in die gemeenskap; hy is immers ‘n ryk Jood, wat sy rykdom verstaan het as die bewys dat hy ‘n waardige en waardevolle deel van die verbondsvolk is.

Vers 25-26. “Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie’.”

Abraham

Die derde karakter in die verhaal is Abraham. Hy is die verpersoonliking van die verbond en tree deurgaans ook op in ooreenstemming met hierdie hoë status. Die aanspreekvorm is uiters beleefd, naamlik “kind”. Dit is nie noodwendig ‘n aanduiding van intimiteit nie. Dit is moontlik bloot die erkenning van die Joodse afkoms van die ryk man.

Die totale ommekeer word bevestig en geaksentueer, maar daar kom ‘n belangrike element by: Die groot kloof is onoorbrugbaar! Mens sou kon sê, dit moes vroeër oorbrug gewees het, nou na die dood is dit nie meer moontlik nie!

Verdere versoek

Vers 27-31. “Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ ‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie’.”

Die besorgdheid van die ryk man oor sy “broers” staan in skrille kontras met sy gebrek aan besorgdheid oor Lasarus. In die oë van die ryk man bly Lasarus selfs in die dood steeds die instrument om die bevoorregtes ter wille te wees. Barmhartigheid hoort egter in wese grense oor te steek; mens hoort nie net uit te reik na die wat soos jyself, in jou eie kring, is nie, maar juis ook na die buitestanders wat by die poorte lê.

Die bedoeling is dat Lasarus, iemand “uit die dood”, hulle moet gaan oortuig om barmhartig te wees sodat hulle pyniging kan vryspring. Barmhartigheid is een van die kernvoorskrifte van die Wet. Die voorafgaande blokke van gelykenisse (sedert hfst 10) het juis daarmee te doen dat Jesus die belangrikheid van barmhartigheid en inklusiwiteit as gehoorsaamheid aan die Wet beklemtoon. Die gelykenis van die Samaritaan is in der waarheid Lukas se weergawe van die samevatting van die Wet. Die slotverse (10:36-37) lui soos volg: “Wie van hierdie drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Abraham beklemtoon dus twee maal dat “Moses en die profete” genoegsame oortuiging behoort te wees vir deernisvolle betrokkenheid by alle mense. Jou “naaste” is die een wat jou nodig het. Dit is Moses en die profete . . . of niks!

Die gesprek tussen die ryk man en Abraham word toenemend meer afgemete en oor die algemeen ook korter. Dit beklemtoon die feit dat die voorskrifte in “Moses en die profete” gehandhaaf word en dat dit genoegsame waarskuwing of bekendmaking is; daar word nie verder daaroor geredeneer nie!

Boodskap

Wat sê hierdie gelykenis vandag vir ons?

Bekering

Die gelykenis beklemtoon die noodsaaklikheid van “bekering”. Mense moet oortuig word om tot ander insigte te kom (oor die “armes” in hierdie geval) en dienooreenkomstig op te tree. Trouens, hierdie hele gelykenisverhaal het ten doel om die hoorders te oortuig om by God se manier van dink en doen (soos in die Wet beskryf) in te val.

God die enigste Helper

Die gelyeknis beklemtoon die geweldige gaping tussen Lasarus en die ryk man: op aarde en ook in die ewigheid, na die dood. Diegen wat in ons samelewing soos Lasarus lewe kan hierin groot troos vind. Dit gee hoop en bring troos in ellendige omstandighede. Dit beklemtoon dat God inderdaad die enigste ware Helper is en dat Hy vertrou kan word om die laaste woord oor elke mens te spreek.

Onoorbrugbaar

Die tweede beweging beklemtoon die onoorbrug-baarheid van die kloof tussen Lasarus en die ryk man se onderskeie uiteindes. Dit kan nie na die dood, in die ewigheid, oorbrug word nie. Die gaping moet op aarde, voor die dood, oorbrug word!

Die belangrikheid om betyds (in hierdie lewe) die gapings tussen mense deernisvol te oorbrug, geld natuurlik vir alle kontekste. Vir hoorders wat met die ryk man geïdentifiseer  sou kon word, is hierdie beweging waarskynlik ‘n goeie aansluitingspunt.

Wie is in die gehoor?

Uiteraard luister mens anders na hierdie teks as jou omstandighede soos Lasarus s’n is – teenoor wanneer jy die ryk man “verteenwoordig”.

As mens Lukas se aanvanklike gehoor wou tipeer (byvoorbeeld na aanleiding van die verhaal se hantering van besittings), sou mens tot die gevolgtrekking kom dit was ‘n “gemengde” gehoor. Daar was mense wat invloedryk en welgesteld was, maar daar was ook baie armes. Trouens, Lukas is al getipeer as die evangelie vir die armes, wat aandui dat die evangelie die saak van die armes wou uitlig.

Dan is die vraag: Is daar gapings in ons gemeente wat oorbrug moet word? Is daar ongelykhede in ons eie gemeenskap? Hoe lyk die emosies wat dit oproep?

In die destydse samelewing is gapings soms oorbrug: Weldoeners het aan kliënte sekere geskenke uitgedeel. Patronaatskappe was redelik algemeen, soos vandag ook die geval is. Maar die belangrike beweegrede was deurgaans die wins wat die weldoener hoop om te behaal. “What’s in it for me?”

So moet dit nie in die gemeenskap van Jesus Christus wees nie. Die oorbrugging van gapings, die inskakeling van almal, is immers gefundeer in die menswording van ons Here Jesus Christus wat Homself ontledig het deur ‘n mens te word en wat gehoorsaam geword het tot in die kruisdood. Daarom gee God Hom die hoogste eer (Fil 2:5-11).

Inklusiewe gebruik van besittings

Die gelykneis het ten doel dat daar ‘n inklusiewe gebruik van besittings moet wees. Dit wat jy het gebruik jy om aan ander ook lewe te gee, om hulle nader te trek, in te skakel en te laat tuis voel in die gemeenskap van die gelowiges . . . Piet Naude stel dat mense geseën word, dat ‘n kerk soos die NGK geseën word om ander, die gemeenskap, die samelewing, te seën.

In die verhaal van Lasarus en die ryk man lees ons hoe God ‘n ingrypende ommekeer bewerkstellig. Sy woord en sy waardeoordeel is inderdaad anders as wat mense dink! Mens lees dit soos ‘n refrein in die Nuwe Testament; hierdie groot verandering wat die Here voltrek. Die eerstes sal laaste wees; die siekes ontvang die genesing nie die gesondes nie; rykdom is soos veldblomme en gras wat verdroog en verbrand word.

Daarom: oorbrug die gaping nou, anders bly die kloof ook in die ewigheid! Neem die geleentheid om met deernis uit te reik na ander mense. Gebruik jou goed om lewe te gee; moenie dit verskans en net vir jouself hou nie – dis dwaas! (vgl een van Jesus se ander gelykenisse, Luk 12:13-21.)

Erfporsie of nalatenskap

Die lewe gaan oor baie meer as net ‘n erflating. Dit het te doen met ‘n nalatenskap! In die Magoebaskloof- staproete staan die monument van die pionier bosbouer van daardie geweste, Alexander O’Connor. Die inskripsie lui: “As jy soek na die monument, kyk om jou heen!” In ons verskeurde gemeenskappe en samelewing: Wat is jou nalatenskap? Wat is die nalatenskap van die gemeente?

Eintlik hoort ons almal in dieselfde gemeenskap. Rykes en armes hoort saam, hulle hoort van mekaar te weet, met mekaar te deel, vir mekaar te bid en by mekaar te leer. Ons weet uit ondervinding dat gemeentes eers regtig oor die vigspandemie en vir mense wat vigslyers is, begin bid het toe hulle naby mekaar gekom het in huishoudings en in dieselfde gemeentes. Ons weet dat jongmense wat oor grense uitreik en by skole in agtergeblewe gebiede betrokke raak anders praat oor die skooluitslae wat elke einde van die jaar aan die groot klok gehang word, want die gapings het oorbrug geraak.

Die gelykenis van Lasarus en die ryk man moedig ons aan om inklusiewe geloofsgemeenskappe te word in hierdie verdeelde samelewing. Anders sal dit bly, wanneer die groot ommekeer in die ewigheid kom.

Uit die dood

Ons sluit met hierdie gedagte: Die ryk man in die gelykenis het gevra dat iemand uit die dood sal terugkeer om die verandering in gesindhede teweeg te bring, maar dit is afgewys. Moses en die profete is immers duidelik oor wat God wil.

En tog, daar is Een wat uit die dood terugkom. Dit is Jesus wat uit die dood opgestaan het. Dis sy koninkryk waarin ons leer om te lewe. Hy is die eintlike “impetus” vir die verandering!

Die Here seën sy woord!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 165 In die hart van God die Vader of
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën
Mag die Here jou seën met ’n ongemak oor die gemak waarmee ons ons plig om ander te help met mooi argumente afmaak.
Amen (uit Vir die erediens, ’n handleiding).

Respons
Lied 533 “Stuur ons, Here”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.