Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se tekste handel oor God wat verlos en sorg. Die gemeente word opgeroep om dan op spesifieke wyses hierop te reageer. Eksodus 16:2-15 vertel die verhaal van God wat verlos en sorg deur manna aan die volk te voorsien in die woestyn. Die res van die tekste wys dan hoe die gemeente hierop kan reageer. Psalm 105 roep die volk op om hierdie magtige dade te onthou en om dan in lof en aanbidding daarop te reageer. Filippense 1:21-30 sluit by die wederstrewigheid van die volk in die woestyn aan wanneer die gemeente aangemoedig word om eensgesind en standvastig saam te stry vir die geloof in die evangelie. Matteus 20:1-16 beklemtoon die genade van God wat eweveel tot almal se beskikking is – ook diegene wat lyk asof hulle dit die minste verdien.

Ander tekste

 Psalm 105:1-6, 37-45
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
ontelbaar baie sprinkane.

37Toe het Hy sy volk uitgelei,
belaai met silwer en goud.
In geeneen van die stamme
het iemand uitgesak nie.
38Die Egiptenaars was bly
dat hulle vertrek het,
want hulle was skrikbevange
oor die Israeliete.
39Die Here het ’n wolk uitgesprei
as beskutting oor hulle
en ’n vuur gegee
om lig te maak in die nag.
40Toe hulle kos vra,
het Hy kwartels laat kom
en sy volk met brood uit die hemel
versadig.
41Hy het ’n rots oopgebreek
en daar het water uitgestroom
wat soos ’n rivier
deur die dorre gebied gevloei het.
42Ja, Hy het sy heilige belofte
aan sy dienaar Abraham
gestand gedoen
43en sy volk juigend,
sy uitverkorenes jubelend
laat voorttrek.
44Vir hulle het Hy
die heidene se lande gegee;
wat deur ander volke
met moeite verkry is,
het hulle in besit geneem.
45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Filippense 1:21-30
21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

Matteus 20:1-16
Gelykenis van die arbeiders in die wingerd
20 “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ’n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ 5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

Fokusteks

Eksodus 16:2-15
Kos uit die hemel
16 Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het.

2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ’n bietjie, 18en toe hulle dit met ’n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ’n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

20Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het. 21Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.

Liturgie

As daar nie in die erediens gesing mag word nie:

RUS

Verwelkoming en seëngroet

Votum en lofsang:  Psalm 105 uit die Liedboek van die Kerk, verskillende voorlesers lees verskillende verse (met verskillende mikrofone, t.w.v. higiëne)

Verootmoediging: Filippense 1:21-30

Toewyding & Gebed
Iemand lees Flam 181 biddend

HOOR

Skriflesing: Eksodus 16:2-15a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Seën: Lied 269 (veral vers 2) gelees as seën

Wanneer normale liturgie weer kan voortgaan:

RUS

Toetrede: Flam 3 of VONKK 222

Votum: Psalm 105:1-4

Seëngroet

Lofsang: Psalm 105 of Flam 182

Verootmoediging: Filippense 1:21-30

Toewyding: Lied 306 of Flam 181

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Eksodus 16:2-15a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang :Lied 269

Seën

Respons: Lied 269 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 3 Aan U Voete, Heer of
VONKK 222 Almal Wat Dors Het, Kom Geniet

Votum
Psalm 105:1-4
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 105 of
Flam 182 Herder Heer (Herder Jesus) [bekend]

Verootmoediging: Filippense 1:21-30
21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

Toewyding
Lied 306 “U, Christus, is my lewe” (n.a.v. Filippense 1:20-27) of
Flam 181 U Ken My Vredevors (My Fontein)

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 222 “Almal Wat Dors Het, Kom Geniet”
Nav Jesaja 55 Teks: Attie van der Colf 1978/2001 ©; aangepas VONKK Werkgroep 2012
Melodie: FRIENA – Friena Maritz 2010  Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2012 Musikale verryking: Friena Maritz 2012
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Nagmaal / Geloof en Vertroue

1. Almal wat dors het, kom geniet
die grootste guns bewys;
neem wat die Here gee, verniet –
kom koop dit sonder prys;
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.

2. Waarom betaal en waarom werk
en dit nie eens vir brood?
Luister met aandag, en Ek breek
vir jul die lewenswoord.
My liefde, goddelik en trou,
sal jul herstel en bou.

3. Vra na sy wil; kom soek die Heer,
terwyl Hy Hom laat vind.
Ontdek Hy maak, genadig weer,
die sondaar tot sy kind.
Wie hul bekeer, dié word vergeef;
die Here laat hul leef.

4. Hy maak die doringbos sipres;
die distel mirtestruik.
Wie sleg is, maak Hy nuut – ’n mens
wat Hy met vrug gebruik.
Hy gee hul vreugde, vastigheid –
nou, en in ewigheid.

5. Soos wat die wolke kom met reën –
op aarde lewe giet,
so kom die woord van God met seën
dit doen wat Hy gebied.
Dit bly ’n teken tot sy eer –
die Here, Hy is Héér!

F3.” Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Verwondering / Aanbidding) Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht  © 1993 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Refrein:
Aan U voete, Heer, is die beste plek,
daarom kniel ons voor U neer.
Om by U te wees is die grootste eer,
daarom buig ons voor U neer.

1. Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
In plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Refrein:

2. En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Refrein:

3. Net soos ’n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ’n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Rock of Ages Teks: Augustus M Toplady
Musiek: Thomas Hastings Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe © Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

F181.” U Ken My Vredevors (My Fontein)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Afhanklikheid en vertroue)Teks en musiek: Wian Vos
© 2006 Urial Publishing

1. U ken my Vredevors,
my honger en my dors.
U hoor my as ek pleit
vir krag en heiligheid.
My hele lewe, Heer
lê ek nou voor U neer.
Loop saam deur die woestyn
want U is my Fontein …

Refrein:
by wie ek water drink, Lewende Water drink.
Dit vloei so vry, verniet vir my.
Daar waar ek water drink, Lewende Water drink,
les U my dors, my Vredevors,
my Fontein.

2. As ek dink aan wie U is
dan raak ek weer bewus
van U grootheid en my kleinheid
my skuld en my onreinheid.
As ek self, alleen probeer
dan val ek maar net weer.
Loop dan saam deur die woestyn
want U is my Fontein …

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Eksodus 16:2-15a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die verhaal op ‘n kreatiewe manier vertel – of ‘n lewendige verteller uit die gemeente kry om dit te doen! Jy kan dalk die breër verhaal van die manna en kwartels vertel.

Hier is prente wat jy kan gebruik vir jou vertelling. Daar is ook volledige kleur en swart en wit hulpmiddels in verskillende formate beskikbaar. Dan sou elke kind / familie bv. hul eie boekie van die verhaal kan maak. (Scroll af tot jy by die verhaal van die manna en kwartels kom – en boekmerk sommer die blad).

As jy eerder ‘n video wil gebruik, is hierdie ‘n goeie opsie. Kidswise se goed is ook oulik – klik op die skakel in die beskrywings. Jy kan gewoonlik ‘n weergawe sonder voorlesing koop. Dis billik geprys ($15) en hul diens is goed – ek het al van hul videos gekoop.

As jy baie kreatief is, kan jy ‘n klomp kwartel-balonne maak. Ek sal klein waterballonnetjies gebruik (sonder water!). Hier is idees, maar jy kan ook gewoon net gesiggies op die balonne teken. Wanneer die kwartels arriveer, gooi die balonne van verskillende kante af tussen die mense in.

Eendag, wanneer ons minder bekommerd is oor die verspreiding van druppels, kan jy dalk ook hierdie opsie gebruik, waar papier voëltjies aan strooitjies vasgemaak word. Op die regte oomblik in die verhaal, blaas die kinders oral van waar hulle sit, kwartels in die lug op! Groot pret (en chaos).

Tot dan is hier ‘n oulike inkleurprent.

Preekriglyn

[Nota: Oorweeg gerus om verse 1 tot 21 as teksgedeelte te hanteer.]

Ons is tans in koninkrykstyd, dié periode van die kerkjaar waarin ons spesifiek nadink oor:

  • God se heerskappy en heerlikheid, en
  • Ons reaksie as dissipels van Jesus op God se onderhoudende teenwoordigheid in die lewe van God se volk.

Hierdie temas deursuur ons teksgedeelte. Kom ons stap deur ons teks en let op alles wat gebeur.

Nadat hulle Elim verlaat het …

Vers 1 dien as oorgangsteks tussen die voorafgaande gebeurtenis by Mara en hulle aankoms in die Sinwoestyn. Dit is soos ‘n GPS-lesing. Daar by Mara het God die bitter water soet gemaak sodat die volk dit kon drink. Hulle het daarna laer opgeslaan by Elim waar 12 waterfonteine en 70 palmbome was. Nou het hulle by die Sinwoestyn aangekom.

Vers 1 bied dus ‘n geografiese beskrywing van die plek waar die Eksodus-volk hulle bevind. Die skrywer gee ook ‘n tydsaanduiding van wanneer hulle dié geografiese punt bereik het. Die Sinwoestyn is tussen Elim met sy waterfonteine en palmbome en Sinai, waar die volk later die tien gebooie sou ontvang. Hulle het hier aangekom op die vyftiende van die tweede maand van die woestynreis. Op hierdie stadium was hulle ongeveer twee maande lank vry mense, verlos van die Egiptiese slawerny.

Murmureer

Vers 2 kondig ‘n tema aan wat beskrywend is van die algemene gedrag, optrede en gesindheid van die bevryde Israeliete. Hulle het “gemurmureer” (OAV); “grumbled” — New International Version (NIV); “verset” – (NAV).

Eksodus beklemtoon dat dit nie slegs party mense was wat so opgetree het nie. Nee, die hele groep mense (“hele vergadering van die volk Israel” — OAV; “hele volk” — NAV; “the whole community” — NIV) het opstandig begin word teen God se verkose leiers (Moses en Aäron). “Die volk het by Moses gekla: ‘Wat moet ons drink?”‘ (Eks 15:24 — NAV); “Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: ‘Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”‘ (Eks 17:3 – NAV).

Paulus verwys in 1 Korintiërs 10:10 ook na hierdie gebeurtenis: “En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het …” (NAV).

Hongerpyne

Vers 3. In hulle verwyt teen Moses en Aäron het hulle die verlange uitgespreek om liewer in Egipte te sterf, waar hulle genoeg gehad het om te eet. Hulle verwyt ook vir Moses en Aäron dat hulle die volk doelbewus die woestyn ingelei het “om die hele volk van honger te laat omkom” (NAV).

Numeri 11:4-6 skryf só oor Israel se verwyt teen die leiers en hulle verlange na Egipte:

Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het ‘n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet! Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. Maar nou wurg ons (NAV).

God verras

Vers 4 en 5 verwoord God se reaksie op die volk se murmurering, verwyte en verlange na Egipte. God se reaksie is verrassend. Die Here sê vir Moses dat Hy elke keer vir hulle kos (“brood” – OAV) uit die hemel sal laat reën. Die Here het die volk se gekla en verwyte gehoor. Hy onderneem om sy volk te versorg, hulle daagliks te voed.

Daar is egter ‘n kinkel in God se ontfermende geregtigheid. Die woorde “Let nou mooi op” (NAV; “kyk” – OAV) het die klank van ‘n waarskuwing, selfs ‘n voorwaarde:

  • Die gawe van God aan die volk kom as ‘n toets vir hulle gehoorsaamheid aan en dankbaarheid teenoor die Here.
  • Hulle moet God vertrou vir elke dag se sorg, God se opdrag gehoorsaam en die Sabbatdag gedenk: “As hulle op die sede dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel” (NAV).
“Julle sal weet”

In vers 6-8 dra Moses en Aäron die Here se boodskap aan die volk oor. Hulle interpreteer wat hulle van God gehoor het:

  • Wat die volk met die voorsiening van voedsel gaan beleef, sal eerstens as bewys dien dat dit inderdaad die Here is wat hulle uit Egipte bevry het. Hulle sal dit “besef” (NAV; “dan sal julle weet” – OAV). Dit was nie Moses en Aäron wat hulle na die woestyn gelei het sodat hulle van honger moet sterf nie. “Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die Here” (OAV).
  • Tweedens sal die volk ook sien hoe magtig die Here is, wanneer Hy sy vermoë in die voorsiening van kos uit die hemel openbaar. Die OAV het die frase: “dan sal julle die heerlikheid van die Here sien” (vgl vv 7,10; Num 16:19; 1 Kon 8:11).
Voor die Here

Vers 9-12 herhaal die voorafgaande mededelings van die Here. Nou (v 9) gee Moses opdrag dat Aäron die volk moet versamel om voor die Here te kom staan. Die aard van die klag kom sterker na vore: “… want Hy [die Here] het hulle verset opgemerk”.

In ‘n tweede toneel word die “magtige teenwoordigheid van die Here [skielik] sigbaar in die wolk”, terwyl Aäron die volk toespreek (v 10).

In ‘n derde toneel praat die Here met Moses. Weer word die tema van murmurering as motivering vir die Here se optrede beklemtoon: “Ek het die murmurering (verset – NAV) van die kinders van Israel gehoor …” (OAV). Die Here herhaal weer sy belofte van vers 4, wat ook in vers 8 deur Moses aan die volk oorgedra is: “Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê …” (v 12 – NAV). Die doel met dié vertoning van die Here is dat die volk kan besef die Here is hulle God.

Die Here kom sy belofte na

Vers 13 en 14 vertel hoe die Here sy belofte aan die volk nakom en bewys dat Hy God is, die Een wat die volk uit Egipte bevry en die woestyn in gelei het. Teen die aand het kwartels na die kamp aangevlieg gekom en die volgende oggend was die woestyn vol vlokkies soos ryp (NAV).

Die OAV omskryf dit as “iets wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond”. Die NAV skryf dat die verskyning van die vlokkies gepaard gegaan het met die teenwoordigheid van die wolk. Die OAV praat van ‘n “doulaag” (NIV – “dew”).

Reaksie van die volk

Vers 15 beskryf die reaksie van die Israeliete toe hulle die vlokkies die eerste oggend op die grond opmerk. Hulle was onbekend met hierdie verskynsel en het gevra: “Wat is dit dié?”

Daarop het Moses verduidelik dit is die formaat van die kos wat God aan hulle voorsien: “Dit is die brood wat die Here julle gee om te eet”. Moses het ook vir hulle uiteen gesit wat die Here se opdrag vir hulle was in dié verband: “Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte: ‘n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem vir die wat in sy tent is” (v 16 – OAV).

Vanaf vers 16 sien ons hoe die Israeliete gereageer het op die Here se opdrag wat Moses aan hulle deurgegee het. Hulle het toe die vlokkies gaan optel.

Die beskrywing in vers 17-19 is treffend. Sommige het meer as ander opgetel, maar niemand het te min gehad nie. Selfs dié wat min opgetel het, het genoeg gehad: “Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak” (v 18 – NAV).

Moses het ‘n tweede opdrag van die Here aan die Israeliete oorgedra, naamlik dat niemand iets moet laat oorskiet tot die volgende oggend toe nie. Hierdie was die toets of hulle aan God gehoorsaam is en Hom alleen vir hulle lewensonderhoud vertrou.

In die vertalings begin vers 20 met die woord “maar” (“however” – NIV), wat kontras uitdruk. Daarmee word gestel dat die volk hulle nie aan God se opdragte gesteur het nie. Hulle het nie vir Moses geluister nie en sommige het van die vlokkies laat oorstaan tot die volgende dag. Daar het miet ingekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat die volk gedoen het.

Kom ons kyk nou na die boodskap van ons teks:

God versus volk

Hierdie verhaal beskryf die karakter van God versus die karakter van die volk van God wat kort tevore uit Egipte verlos is. Die klem lê op God se onderhoudende teenwoordigheid en die volk se murmurerende gedrag tydens die woestyntog.

God se trou aan sy beloftes en sy mag om hulle waar te maak, staan uit . Ons sien daarin die karakter van God soos dit  in dié verhaal na vore tree. Die tema van heerskappy (koningskap) word sodoende aan die lig gebring.

Die eienskappe van die volk wat tydens die woestyntog aan die lig kom, is ook ‘n kenmerk van hierdie verhaal. Die Israeliete se vermoë/onvermoë om te voldoen aan God se verwagtings van sy volk beland in die kollig.

God hanteer die volk op so ‘n manier dat hulle vertroue in Hom groei, ten spyte van mislukking.

Ons daaglikse brood

God se onderhoudende teenwoordigheid is tot vandag vir ons ‘n bron van groot troos.

Die tema van God se voorsiening roep die vierde bede van die Ons Vader-gebed na vore: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Sondag 50 van die Heidelbergse Kategismus verklaar hierdie bede só: “Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel”.

Dit is die daaglikse brood (en vleis) wat die Here gee, wat ons laat besef die Here is God. Vir moderne mense is hierdie band nie altyd so duidelik nie, totdat ons ‘n slag in die woestyn beland, soos by in ‘n Covid-woestyn.

Rus

Ons teks leer ons nie net om op God te vertrou nie, maar selfs ook om in God rus te vind. Ons teks motiveer die noodsaak van ‘n weeklikse sabatsrus.

Die geheimenisvolle voorsiening van kos uit die hemel en God se besluit om nie op die sewende dag kos te stuur nie, leer die Israeliete om die Sabbat te onderhou soos God in die tien gebooie eis (5).

Die tema van God se rusdag en die rus in God, is belangrik vir ons besige tyd. Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 38) verduidelik die inhoud van die vierde gebod met  ‘n tweeledige fokus: “God wil eerstens dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word … Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my hart laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.”

Ins ons tyd is ‘n gebrek aan rus ons grootste nood. Helder skerms, onophoudelike visuele en akoestiese stimulasie (beeld, musiek, woorde) maak dat ons nooit rus nie. Ons kan ook so hoog finansieel probeer vlieg dat ons altyd moet werk.

Ons teks nooi ons om een dag van die week te rus. Wie rus, vind balans in die lewe.

Woestyntyd

Israel het maar gesukkel om die Here te vertrou en God se sorg te herken. Hulle was egter aan die begin van ‘n reis met God. Die Here bly geduldig met hulle. God is besig om hulle as sy dissipels te vorm – ‘n proses wat meer as veertig jaar sou neem.

‘n Woestyntyd in ‘n mens se lewe is dikwels positief en vrugbaar.

In sy oordenking van Eksodus 16:1-18 fokus Coenie Burger op die woestyn as plek van stroping, waarheid en versorging. Hy argumenteer dat woestyne altyd deel van die lewe met God was . Hy noem  ‘n aantal faktore wat die woestyntyd vir die Israeliete moeilik gemaak het:

  • ‘n tyd van skaarste;
  • ‘n ruimte waar mens bewus word van jou broosheid en afhanklikheid van ander;
  • ‘n plek waar Israel ingedruk is in  ‘n soort wipplanklewe – tussen hoop en wanhoop.

Burger teken egter ook  ‘n tweede prentjie van woestyne in die Bybel, naamlik as die plek waar God bitter water soet maak om te kan drink. Die woestyn is ” ‘n plek waar  ‘n mens weer bewus raak van die aarde en leer om dinge nuut te sien en opnuut te waardeer.” Dit kan  ‘n plek vol verrassings wees.

Burger argumenteer dat volgens Israel se eie ondervinding die heel beste van die woestyn God self was. Dáár het hulle hulleself beter leer ken, en veral ook die Here op  ‘n nuwe manier in hulle lewe ervaar: “… in die woestyn wás Hy werklik daar. Daar het hulle ontdek dat Hy nie net God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie: in die woestyn het die volk Hom dit sién doen.”

Ons is tans ook in so ‘n tyd van stroping. Mag ons vandag die aanmoediging hoor om die Here in alles te vertrou.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 269 “God bly met ons, waar ons ook mag gaan” (vers 2: “daagliks met sy manna voed hy”)

Seën

Respons
Lied 269 refrein: God bly met ons waar ons ook mag gaan

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.