Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Markus 7:24-37
Ander tekste: Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23; Psalm 125; Jakobus 2:1-10, (11-13), 14-17.

Al vier Skrifgedeeltes verwys na die sorg aan arm en hulpelose mense. Die gelowige roeping om verby die uiterlike te kyk staan telkens uit.

Inleiding

Sorgsaamheid en omgee
Besorgdheid oor die gebrek of swaarkry van ’n medemens is wesenlik deel van ons geloof wat in liefde gegrond is. Die aard van God se heerskappy is immers dat dit liefde bo onverskilligheid verhef. Die erediens vier God se Vaderskap oor almal. Uit Hom is die mensdom vir ’n lewe van liefde geskape. Hyself vind dit onmoontlik om iemand nie lief te hê nie. In die erediens klop hierdie hart van God terwyl ons in sy genade meegevoer word.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd (Ps 125:2 ).
Gemeente: Here, doen goed aan dié wat goed is, 
die opregtes van hart! (Ps 125:4). 
’n Paar oomblikke stilte volg.

Diens van die Woord

Afsluitingsgebed
God, ons Vader,
eienskappe wat ek ander so goed sien uitleef,
is ’n refleksie van u goedheid.
Ek weet
dat ek baie het om van ander te leer
wat u beeld en gelykenis
op verskillende maniere vertoon.
Inspireer my
om ander ten volle as my gelyke te respekteer
en in hulle raak te sien en lief te hê
wat U in hulle sien en liefhet.
(uit 100 Prayers from the prayer website of the De LA Salle Brothers).

Diens van die tafel

Lees die teksgedeeltes uit Spreuke aan tafel (al word nagmaal nie gevier nie).
Gemeentelede word geleentheid gegee om self na te dink oor die verband tussen die spreuke en die genade waarheen die tafel van die Here wys.

Uitsending

We must have the eyes of a doctor, not the eyes of a judge. (Donald Sunukjian)

Musiek en sang

Lied 250/NSG 272 “Gods wet vra al ons liefde”
VONKK 17 “Here, sien my bitter lyding”
Lied 334 “God is liefde juig ons harte”
Lied 526 “Waar daar liefde is”
NSG 67 “God is liefde’ juig ons harte”
NSG 201 “God se koninkryk het naby”

Preekstudie: Markus 7:24-37

Inleiding

Die NIV se hoofopskrif vir hierdie storie maak dit duidelik dat dit handel oor ’n heidenvrou se geloof wat suksesvol is. ’n Studie van Markus 7:24-30 vereis dat die prediker ook Matteus 15:21-28 voor oë hou, want daar is opvallende verskille tussen die twee weergawes. Matteus praat van die vrou as Kanaänitiese vrou om sodoende die aksent op haar geloof te plaas. Daarom gebruik hy die wonderwerk slegs as die raamwerk waarbinne die gesprek plaasvind. Markus fokus op die genesingswonder self, terwyl die gesprek ’n bysaak is en daarom in indirekte rede weergegee word. Tog kan Markus 7:24-37 óf as ’n eenheid óf as twee afsonderlike preke gepreek word. Indien dit wel as ’n eenheid gepreek word, sal sekere keuses deur die prediker gemaak moet word, aangesien die fokus kan val óf op die optrede (geloof) van die Siro-Fenisiese vrou, óf op die evangelie wat eers bedoel was vir die Jode (kinders) en daarna vir die nie-Jode (hondjies), óf op die plek en funksie van die wonderwerke.

Teks en konteks  

Jesus en sy dissipels gaan nou in ’n noordelike rigting na die gebied van die Fenisiese stede Tirus en Sidon. Hy verlaat Galilea om ’n rustiger oord te vind vir die onderrig van die dissipels. In die streke wat oorwegend heidens was, gaan Jesus in ’n huis. Matteus 11:21-22 vertel ook hoe dit vir die twee stede in die oordeelsdag draagliker sou wees as vir Gorasim en Betsaida. Die rede vir hierdie vergelyking is daarin geleë dat laasgenoemde Joodse stede was wat vertroud was met Jesus se wonderwerke. Tog het hulle nie tot bekering gekom nie. Tirus en Sidon, daarenteen, was heidense stede waar mense tot bekering gekom het by die aanskoue van Jesus se wonderwerke. Terwyl Markus ’n geografiese aanduiding gee, is dit belangrik om daarop te let dat Matteus ’n teologiese sinspeling op die Godsverwydering en verworpenheid van die heiden  gee.

In die vorige Skrifgedeelte (7:1-23) het Jesus die beginsel vasgelê dat die verhouding tot God nie afhanklik is van die reinheid volgens die wet nie, maar van die innerlike gesteldheid van die hart. Tans word ’n gebeurtenis opgeteken waar Hy die beginsel in die praktyk toepas. Die heidense vrou is vir die Jode ritueel onrein, maar Jesus ag haar waardig om deel te kry in die weldade van die koninkryk van God omdat haar hart reg is. Sy glo dat Hy haar kan en sal red uit haar nood. Jesus waardeer die geloof en skenk haar haar bede. Deur sy optrede teenoor die vrou, lê Jesus die grondslag vir die werking van die evangelie buite die Jodedom.

Hierdie perikoop oor die Siro-Fenisiese vrou is ’n illustrasie van hoe die skrywers probeer het om Jesus se historiese lerings en aksies relevant te maak vir die lesers van hulle dag, deur terselfdertyd te probeer om sy bediening te beskryf soos dit deur tradisie ten toon gestel is. Markus verwys meer na Jesus se wonderwerke as na sy toesprake en ander optredes. Sodoende stel hy Jesus bekend as iemand wat ’n boodskap het, maar ook as die Een wat doen wat Hy sê. Deur sy optrede bevestig Jesus dat God se koninkryk aangebreek het en dat Hy, die Seun van die mens, waarlik die Verlosser is wat in die gestalte van ’n slaaf gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien (10:45).

Jesus word nie deur Markus uitgebeeld of herskep as ’n wêreldsendeling wat aan alle nasies preek nie. Tog is daar twee items in die storie wat sending deur die latere kerk aan die hele wêreld regverdig. Eerstens is daar die feit dat Jesus die vrou se behoefte bevredig deur haar geluk te wens op haar volgehoue en eerbiedige appèl. Markus se les is dat heidene wat dieselfde soort gereedheid wys deur hulle behoeftes te erken en Jesus daarmee vertrou, kan gered word. Tweedens, en dit is ’n uitsonderlike kenmerk van Markus, is die gebruik van die woorde “kinders” en “hondjies” as aanduiding vir die Jode en vir die nie-Jode.

Terwyl Matteus se gebruik van die woorde ’n byt in het (WtL II/2), gee Jesus se antwoord, volgens Markus, die vrou hoop, want dit gaan hier om huishonde. Met hierdie beeldspraak verduidelik Jesus dat die Jode, as enigste kinders van God, vir baie jare alleenreg op die verlossing gehad het. Daarom word hulle “kindertjies” genoem. Teenoor hulle is die nie-Jode “hondjies” genoem, want net so min as wat honde op God se verlossing aanspraak kan maak, net so min kan die nie-Jode dit doen.

So verduidelik Jesus dat Hy eintlik gestuur is vir die Jode en nie vir die nie-Jode nie. Die nie-Jode sal later ’n kans kry (7:27). Met ander woorde, as ’n nie-Jood moes hierdie vrou haar beurt afwag. Eers is dit die Jode se beurt en daarna kom die nie-Jode aan die beurt. Hiervoor is sy te vinde. Dit lei mens af uit haar reaksie in vers 28. Haar antwoord is nie rebellie nie, maar onderworpe instemming dat Jesus reg is. Jesus is eerstens na Israel gestuur, maar ook na al die ander nasies. Sy glo dat die mag van Jesus vir almal, vir Jode en heidene oorgenoeg is, dat Hy albei kan help.

Hierdie heidense vrou wie se dogter in gevaar verkeer as gevolg van bose geeste, val voor Jesus se voete neer. Die nood wat haar dryf, is die duiwelbesetenheid van ’n kind, iets buitengewoon, iets wat die mens nie kan beheer nie. Dit tas die menslike persoonlikheid aan van buite die menslike kern, ’n siekte waarteen ons vandag net so min raad het as in die ou tyd.

Sy is ’n nakomeling van die nasies wat onder die banvloek van God staan (Deut 7:1 ev) en tog twyfel sy nie aan Jesus se mag om haar dogtertjie te verlos nie. Haar eie nood en die goeie gerugte oor Christus dryf haar na Hom toe, of soos Voigt dit stel: “Haar geloof beteken nie noodwendig geloof as fides explicita in die sin van ’n uitgewerkte Christologie nie . . . tog is dit ’n geloof wat met betrekking tot Jesus bely word; ’n geloof wat die onwaarskynlike vra en hoop, wat nie beskaam nie, maar volhard.” Dit vat dus ’n heidense vrou om Jesus te erken as die Verlosser. Hierdie Verlosser toon sy almag deur haar dogter met die spreek van ’n enkele woord te genees, maar toon ook daardeur sy almag oor die Bose.

Wat die tweede gedeelte of wonderwerk betref (7:31-37; Matt 15:29:31), geskied dit op die terugreis uit die gebied van Tirus en Sidon waar Jesus ooswaarts en dan suidwaarts gaan, sodat Hy in die gebied van die Griekse stede, die Dekapolis (die tien stede) deur, na Galilea gereis het. In hierdie storie van die doofstom man val die klem op die eskatologiese belangrikheid van Jesus. Hierdie eenheid is die laaste van ’n lys wonderwerke wat handel oor die vraag na die identiteit van Jesus.

Die wonderwerk wat Jesus doen word met omsigtigheid beskryf. Jesus steek sy vinger in die man se oor as die oorsprong van die probleem, Hy smeer spoeg aan sy tong want dit het genesende krag. Jesus kyk op na die hemel om sy afhanklikheid van God te toon en bid tot God. Die misterieuse gesondmakende woord (effata) beklemtoon en verhoog die grootheid van die wonderwerk. Jesus spreek ’n genesingsbevel: “Gaan oop!” Dit word deur Markus in Aramees weergee, met die vertaling daarby. Die bevel het nie betrekking op die liggaamlike genesing nie, maar is gerig op die hele mens wat deur Satan toegesluit was (1:32). Die gebondene word bevry, ’n mens word verlos uit die mag van die bose. Die genesing geskied onmiddellik, met drie werkwoorde wat natuurlike gevolge weergee; eers keer die gehoor terug, dan kom die beweging van die tong en daarna die spraak. Die skare se uitdrukking van verwondering in vers 37 wys op ’n waardering van Jesus en ook die gepaste reaksie op die wonderwerk. Die woord in Grieks wat die man se siekte beskryf (mogilalon) word slegs twee keer in die hele Griekse Bybel gebruik. Dit beteken dat die man onduidelik of vaag gepraat het en nie dat hy glad nie kon praat nie. “Doofstom” is dalk ’n gemaklike beskrywing vir die man se toestand, maar nie noodwendig akkuraat nie.

Daarna belet Jesus die mense om dit te gaan oorvertel. Hoekom? Die Messiasgeheim, ’n gebruik by Jesus waarvan veral Markus melding maak, gaan oor Jesus se versoek om dit geheim te hou dat Hy die verwagte Messias is. Verskillende standpunte word gehuldig oor hoekom Jesus dit sou doen. Hy wou waarskynlik misverstand en onjuiste reaksies voorkom. Jesus wou nie bekend staan as ’n wonderwerker wie se genesings die trekpleister moes wees nie. Vir Hom gaan dit om die herstel van God se koninkryk. Daarom het Hy die mens in totaliteit verlos, deur hulle uit Satan se mag te bevry (7:24-30), of te genees van hulle liggaamlike gebreke (7:31-37). Jesus het dit ook gedoen sonder om iets terug te verwag (8:35-45). So plaas Hy, deur sy wonderwerke, die klem op God se liefde vir die mens en wys Hy ook op die almag en grootheid van God. Dit was egter ’n onmoontlike opdrag, want hierdie wonderwerk(e) het hulle aangegryp.

Preekvoorstel

Hierdie Skrifdeel bied ’n rykdom van invalshoeke. Dit vra van die prediker om eers duidelikheid te verkry oor wie sy/haar gehoor gaan wees en om dan te besluit op watter aspek van hierdie gedeelte gefokus gaan word.  Met Markus 7:24-30 as teks, kan die prediker Jesus se wonderwerk as tema kies, óf die Siro-Fenisiese vrou se geloof, óf selfs die uitbreiding van die evangelie na die heidene.

Met Markus 7:31-37 as teks, kan die prediker “Jesus se wonderwerk” as tema kies, óf die Messiaanse swyggebod, óf die rol wat doofheid in jou verhouding met God speel. In dié preekstudie is die fokus op die Siro-Fenisiese vrou se geloof.

Die sentrale tema wat in die meeste preekstudies voorkom, handel oor die aard en wese van geloof. Ons gaan verkeerdelik van die veronderstelling uit dat ons aan sekere voorwaardes moet voldoen om te glo, byvoorbeeld ’n minimum van godsdienstige oortuigings en ’n morele aanvaarbaarheid voor God. Dit is nie waar nie. Hierdie wonderverhaal toon juis dat geloof nie steun op bepaalde menslike kwaliteite nie. Hierdie vrou het niks gehad waarop sy kon steun nie, behalwe dat sy ’n verlorene, ’n hond was. Sy het geen handvatsel of regte gehad om aan vas te hou nie, behalwe die geloof self. Sy het haar met haar leë bedelaarshande volkome op Jesus se genade en barmhartigheid beroep.

Dit gaan nie hier oor die toetsing van haar geloof nie. God se besluit om haar kind te genees, hang nie af of sy die toets van die geloof slaag al dan nie. Die aard van geloof kom ook hier na vore as ’n volhardende geloofsaktiwiteit deurdat sy sonder om haar deur Jesus se argument te laat afskrik nog steeds aan die Here en sy woord vashou. Sy oorwin Hom as ’t ware deur sy woord te aanvaar, naamlik dat sy maar net ’n hondjie (sondaar) is. Hy het immers vergifnis vir alle sondaars belowe.

Mens sou die volgende raamwerk kon gebruik. Dis makliker om te glo as dit met jou goed gaan. Die toets vir geloof kom egter wanneer jou planne skeef loop en jou verwagtinge onvervuld gelaat word, jou drome versplinter. Wanneer dinge nie vir jou in plek val soos wat jy gedink het dit sou wees nie. Sulke mismoedige en wanhopige situasies raak bedreigend en eis alle aandag van jou op. Die normale gang van jou lewe word onderbreek. Dit word later onverbiddelik. Jou situasie word later deur negatiewe gesprekke oorheers; voor die televisie, in wandelgange van inkopiesentrums, teekamer-, braaivleisgesprekke, skoolvergaderings, kuiergesprekke. Jy word depressief en moedeloos oor jou situasie. Wie van ons weet nie wat bekommernisse is nie?

Ons situasies en omstandighede het betrekking op mense in ons lewe, ons bestaan en die toekoms, veral wanneer dit bedreig word. Hierdie mense sluit dikwels goeie mense in: bemarkers, konsultante, bankbestuurders, politieke leiers, makelaars, antropoloë, sielkundiges, toekomskundiges, maatskaplike werkers, predikante en pastore. Al hierdie mense/boeke bied hulle eie voorspellings, maak hulle eie afleidings, gee hulle eie menings en almal se “buzz word” is: “Take control over your life.” Neem beheer, kontrole oor jou lewensbestaan en bestaanswerklikhede/realiteite – van jou situasie vandag. “You are the master of your own destiny.”

Daar is natuurlik niks hiermee verkeerd nie. Tog laat dit ons van God vergeet of dit veroorsaak dat ons dikwels ons geloof bevraagteken, deur te dink daar is iets met ons geloof verkeerd, omdat God nie ingryp nie. Om te glo, beteken dat ons dikwels by plekke gebring word waar ons nie altyd weet wat dit vir ons inhou nie. Hooploosheid/wanhoop bring sielkundige en emosionele effekte en bedreigings, veral wanneer al die selfgemaakte pogings om beheer te neem oor jou lewe en toekoms misluk. Dit begin sy tol eis en jou gemoed begin oplaai, depressiewe gevoelens en gevoelens van bedruktheid begin die oorhand kry.

Hoop en antwoorde om hierdie dinge te hanteer kry jy nie in selfhelpboeke, televisieprogramme, nuusflitse, tydskrifte en koerante nie. Uit menslike perspektief of deur menslike handelinge en menslike toedoen? Nee. Hoop kry jy net in en deur Jesus Christus. Dus, net God wat jou toekoms hier en nou verseker. Net God wat jou huisgesin en jou huwelik en jou kinders se toekoms kan verseker, maar dan moet ons bereid wees om God te vertrou al verstaan ons nog nie alles nie, soos hierdie vrou waarvan ons gelees het.

Ons kan ’n voorbeeld van ’n swembad gebruik. As ons die volle voordeel van ’n swembad wil ervaar, moet ons bereid wees om onsself heeltemal aan die water oor te gee. Dit beteken dat ons uiteindelik die kant moet los. Wat eerste kom is moeilik om te bepaal: om myself aan die water toe te vertrou of die kant te los. Tog is dit op die einde verstaanbaar, want geloof in God beteken ook om te laat los. Om alles te los behalwe die Here. En dit beweeg ons om te sê: Here, ons is alleen van U afhanklik. U is ons enigste hoop. Ons reken net op U. U is waaragtig. Ons ag U getrou. U alleen is vir ons genoeg. U is ons toekoms.

Ons kan maar teenoor God sug en smeek en kla soos hierdie vrou. Ons hoef nie toneel te speel of ’n masker te dra om ’n “sterk Christen” te wees of die masker voorhou van “ter wille van ons getuienis” nie. Wanneer ons voor God kom staan, kan ons dit openlik en eerlik sonder kamoeflering doen. By God kan die maskers maar afval. Hy ken ons immers deur en deur en ons hoef vir niks te kwalifiseer nie.

Die geheim van die teks lê hierin, dat al mag dit somtyds voel asof God teen ons is, ons tog in Hom sal glo soos hierdie vrou. Om dus te sê, Here, ek gee beheer oor aan U, is geloof. Dit beteken dus om uit te roep: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte, aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps 37:26). Dit beteken om in die krisis vas te klem aan God se verlossing, in die krisis vas te klem aan die ou ruwe kruis. Dis die geheim van hierdie vrou en moet ook ons geheim in die lewe wees.

Ons hoef nie ’n selfversekerde mens te wees wat ons eie toekoms bepaal omdat ons dit so fyn beplan nie. Wat ons wel moet wees as kinders van God, is bedelaars wat afhanklik is van God se genade terwyl ons suksesvol is in wat ons doen, deur te sȇ: “Here, baie dankie dat ek vanmôre kon opstaan, dat ek nog lewe. En as dit u wil is, Here, gaan ek môre hierdie en daardie sake aanpak. Neem my, Here. Neem my selfs waar ek nie sou wou kom nie. Ek loop aan u hand.”

Bibliografie

Burger, C W, Muller, B A en Smit, D J (red) 1987. Woord teen die Lig II/2, Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wond.Die Evangelie van Markus. NG Kerk-Uitgewers; Hutardo, L W 1984. New International Biblical Commentary. Mark. Hendrickson Publishers; Williamson, J 1983.  Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and PreachingPreekstudies met Liturgiese voorstelle, Jaar A, Advent 1998 tot Koninkrykstyd 1999Preekstudies met Liturgiese voorstelle, Jaar B, Advent 2008 tot Koninkrykstyd 2009.

© Missio 2024 | All rights reserved.