Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Vandag begin ’n Seisoen van die Skepping.  Hier word dus eers ’n paar gedagtes daaroor geplaas, waarna die teks vir vandag aan die orde sal kom.

Seisoen van die Skepping

Inleiding
Daar is wêreldwyd ’n toenemende besorgdheid by Christene oor die ekologiese krisis en oor die manier waarop mense misbruik maak van God se skepping. Dit het onder andere daartoe gelei dat daar in die viering van die kerklike jaar ook plek ingeruim word vir geleenthede om in die erediens en prediking te fokus op die skepping en die mens se Godgegewe roeping om na die skepping om te sien.

Ons voorstel is dat die Seisoen van die Skepping in 2010 oor vier Sondae gevier word, naamlik op 19 en 26 September en 3 en 10 Oktober. Dit bly egter ’n seisoen binne die oorkoepelende seisoen van Koninkrykstyd. Die fokustekste in die Leesrooster vir hierdie vier Sondae is tekste uit die twee Timoteusbriewe. Aangesien die fokusteks en ook die ander tekste vir die vier Sondae nie spesifiek met die skepping te doen het nie, word daar ’n lys van alternatiewe tekste aangebied wat net soos die Leesrooster ook ekumenies van aard is. Hierby aansluitend is daar vir elke Sondag ’n tema gekies: die oseane (19 September), die dierelewe (26 September), die storm (3 Oktober) en die kosmos (10 Oktober).

Belangrike fokuspunte vir dié seisoen:

  • die verering van God as die Skepper van alle dinge;
  • die viering van die aarde as planeet wat gevul word deur God se teenwoordigheid;
  • die belydenis van ons aandeel aan die misbruik en vernietiging van die skepping;
  • die verkondiging van Jesus as die kosmiese Christus wat die ganse skepping vernuwe;
  • die verantwoordelikheid om saam met Christus betrokke te wees by die genesing van die skepping.

Tydseie kenmerke
Kleure en simboliek
Blou, bruin, wit, groen en rooi

Foto’s en video’s

  • Soek vir foto’s by www.flickr.com.  Onder “Advanced Search”, klik op “Only search within Creative Commons-licensed content” om foto’s te kry sonder om kopiereg-wette te oortree.
  • Oorweeg dit om snitte uit die “Planet Earth”- DVD reeks te wys.

Enkele bykomende gedagtes om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • Op elkeen van die vier Sondae kan agtereenvolgens simbole soos ’n glasbak met water, ’n erdebak met grond, ’n aantal brandende kerse en ’n massa wit blomme op die nagmaaltafel geplaas word.
  • Gedeeltes van die liturgie soos die begin of einde (of die volledige erediens) kan in die buitelug gevier word.
  • Indien ’n erediens spesifiek op bewusmaking van ekologiese probleme gemik is, kan daar swart sakke uitgedeel word met die versoek dat lidmate dit gedurende hierdie tyd sal gebruik om rommel in hulle omgewing op te ruim.
  • Herwinningshouers kan op die kerkterrein geplaas word sodat lidmate herwinbare afval daarin kan plaas. Dit kan baie sinvol as projek deur die kinders van die gemeente aangepak word.
  • Blomme en ander produkte van die natuur kan prominent vertoon word in die liturgiese ruimte, asook negatiewe beelde soos ’n uitgebrande stomp.
  • Inligting aangaande spesifieke projekte kan tydens ’n omgewingsdiens gekommunikeer word.

Feesdae
Assisidag (4 Oktober) wat sy oorsprong vind in die skeppingsfokus van die lewe en werk van Fransiskus van Assisi, val binne die seisoen van skepping en kan goedskiks op die voorafgaande of daaropvolgende Sondag deel uitmaak van die viering tydens die erediens. In verskillende kerke en kontekste word verskillende ander dae ook vir aspekte van die skepping gereserveer, byvoorbeeld die Wêrelddag vir water (22 Maart), Wêreldomgewingsdag (5 Junie), Boomdag (5 September) en Wêreldkosdag (16 Oktober).

Op soek na ekologiese deugde

Daar is meer en meer kerke, vanuit verskillende konfessionele tradisies regoor die wêreld, wat ’n Seisoen van die Skepping in Koninkrykstyd vier, veral in die tyd na 1 September elke jaar. Dit volg op ’n voorstel in die verband van die Ekumeniese Patriarg Dimitri I van die Ortodokse kerk in 1989. In ’n aanbeveling van die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke na aanleiding van die Wêreld-beraad vir Volhoubare Ontwikkeling (Johannesburg 2002) word kerke ook aangemoedig om 1 September elke jaar af te sonder as ’n dag van gebed vir die skepping en volhoubaarheid. Sedertdien het kerke in Australië, Nieu-Seeland, die Filippyne en die VSA gekom met inisiatiewe om liturgiese materiaal te ontwikkel vir só ’n Seisoen van die Skepping. Die European Christian Environment Network nooi insgelyks alle kerke in Europa uit om ’n “Time for Creation” in die tydperk van 1 September tot die tweede Sondag in Oktober te vier. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in Februarie 2007 ingestem dat ’n Seisoen van die Skepping by die kalender toegevoeg word en die Network of Earthkeeping Christian Communities in South Africa het ook reeds hierdie voorstel ondersteun. So ’n Seisoen van die Skepping, saam met die viering van Omgewingsondag (6 Junie 2010) en verskeie ander kerklike feesdae, kan kerke in Suid-Afrika inderdaad help om hierop te fokus.

God se groot werk met die aarde kan verwoord word onder die temas van skepping, geskiedenis, sonde, God se sorg, verlossing, kerk en sending, en voleinding. In die Seisoen van die Skepping staan ons, heel gepas in Koninkrykstyd, stil by die tema van die skep­ping. God se skepping is lank verstaan as bloot die verhoog waarop die drama van verlos­sing tussen God en mens afspeel. Die ekologiese krisis het ons gehelp om met nuwe oë te kyk na God se gawe van die skepping, na die gevolge van die mens se sonde vir die skep­ping en na die verlossing van die skepping, saam met die mens.

Daar is talle gedeeltes in die Bybel wat met God se skepping te make het. Hier kan ’n mens dink aan geliefkoosde tekste soos Genesis 1, 2 en 9, Psalm 8, 19 en 104, Jesaja 40-66, gedeeltes uit Jesus se bergrede, Romeine 8, Kolossense 1 en Openbaring 21. Daar is egter nog veel meer as dit ter sprake. Wanneer jy die Bybel lees met ’n lens wat jou sensitief maak vir verwysings na dit wat aards is, ontdek jy gou-gou dat die Bybel tot barstens toe daarvan vol is. Dit help jou om te sien dat daar op elke bladsy van die Bybel gepraat word van berge en heuwels, lig en lug, grond en water, riviere en die see, wind en vuur, lewe en sterwe, plante en bome, diere en voëls, en ook oor die mens. Dit gaan nie net hier oor iets interessants wat die Bybel byvoorbeeld oor bome te sê het nie. Elkeen van hierdie temas kan ons help om die hele boodskap van die Bybel vanuit ’n ander oogpunt te verstaan – juis omdat die hele drama van skepping, sonde, verlossing en voleinding óók (bv) met bome te make het. Heel dikwels, as mense dit nie wil doen of verstaan nie, is dit berge of bome wat God se Woord bring. Ons sou daarom kon sê dat elkeen van hierdie temas ons kan help om vanuit ’n nuwe hoek na die hart van die evangelie te kyk.

In die Seisoen van die Skepping sal ons elke jaar na een van hierdie temas kyk. In September / Oktober 2010 kyk ons veral na die rol van deugde, insluitende die sogenaamde ekologiese deugde. Daar word deesdae baie klem gelê op ’n herwinning van ’n deugde-etiek. Net so word die belangrikheid van ekologiese deugde soos matigheid, eenvoud, soberheid, sorgsaamheid en wysheid wêreldwyd beklemtoon. In al vier die teksgedeeltes uit Paulus se briewe aan Timoteus word die rol van deugde beklemtoon. Kyk byvoorbeeld na die rol van tevredenheid, toewyding en eerbaarheid in 1 Timoteus 2:2; na tevredenheid in 1 Timoteus 6:6, 8 (teenoor allerlei ondeugde) en minsaamheid in 1 Timoteus 6:11; na moed en selfbeheersing in 2 Timoteus 1:7; na verdraagsaamheid en volharding in 2 Timoteus 2:10-11. Elkeen van hierdie deugde kan ekologies ingeklee word, veral as ’n mens soek na ’n manier van lewe wat volhoubaar kan wees vir almal op aarde – want die lewenstyl van die verbruikersklas is net eenvoudig nie volhoubaar nie.

Die briewe aan Timoteus gaan egter nie net oor die belangrikheid van hierdie deugde nie. Dit is een ding om dit te beklemtoon, dit is ’n ander ding om dit ook te beoefen. Waar kan die inspirasie en energie daarvoor vandaan kom? In hierdie teksgedeeltes kom ’n mens op die spoor van die geheim van só ’n manier van lewe. Wat is hierdie geheim? In elkeen van die teksgedeeltes kom iets hiervan na vore: die krag van die opstanding, die blye boodskap, volkome toewyding aan God, kennis van die waarheid van die evangelie, getrouheid aan daardie waarheid teenoor dwaalleer, die genade­gawes wat God gee, die krag wat God ons gee, die betroubaarheid van die Woord en, miskien bo alles, die trou van God – aan gelowiges, maar ook aan God se hele skepping. Dit is alleen wanneer ’n mens deur die wonder van die evangelie oorweldig word dat hierdie deugde daaruit voortvloei.

Gemeentes word aangemoedig om hierdie tekste te bestudeer met die oog op die viering van ’n Seisoen van die Skepping, om te besin oor die betekenis daarvan vir hulle onmiddellike omgewing, om moontlikhede vir spesiale liturgiese geleenthede te ondersoek en om lidmate en groepe in die gemeente aan te moedig om tydens hierdie seisoen in die kerklike jaar by toepaslike vorms van omgewingsorg betrokke te raak.

Fokusteks

1 Timoteus 2:1-7

Ander tekste

Jeremia 8:18-9:1;
Psalm 79:1-9; Lukas 16:1-13

1 Timoteus 2:1-7
Onderrig oor die gebed
2 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.”

Eksegeties en Hermeneuties

Ons fokusteks vorm in werklikheid die begin van die eintlike inhoud van hierdie pastorale brief van Paulus. Die eerste hoofstuk bevat die algemene omraming waarbinne dit wat volg plek en betekenis vind. Die apostel praat nie in die eerste plek oor die onderlinge verhoudinge binne die gemeente nie, maar oor die ordeninge wat die gemeente vir hulle gemeenskapslewe in ag moet neem (Ridderbos). Hy begin by die gebede in die openbare samekoms, want die eerste en grond-liggende verhouding van die gemeente tot God en die wêreld word weerspieël deur die gebed. Omdat die gebedslewe van die gemeente van eerste belang is, moet dit dus in die erediens tot sy reg kom. Omdat Christus in die wêreld gekom het om sondaars te verlos, het die gemeente wat uit dié verlossing lewe die voorreg en heilige verpligting om vir die heil van alle mense in te tree (Bürki).

Vers 1: Die erns waarmee Paulus die openbare gebede beskou, word gesien in sy gebruik van die Griekse woord parakaleo wat vertaal word as “vermaan” (OAV), “dring daarop aan” (NAV), “exhort” (AV), “urge” (Good News Bible). “In die eerste plek” beklemtoon die belangrikheid van die handeling en nie dat dit moet plaasvind voor ander handelinge kan volg nie. Terwyl kommentatore oor die algemeen meen dat dit nie moontlik en dus nodig is om presies tussen die vier gebedsvorme deur Paulus aangehaal en deur die OAV weergegee te onderskei nie, gee Bürki ’n insiggewende uiteensetting.

Smekinge (Gr deeseis) of pleitgebede het nood en behoefte as aanleiding soos die spreekwoord aandui: “Nood leer bid”. So smeekbid Paulus vir die Jode (Rom 10:1), Timoteus (2 Tim 1:3) en die Christene in Tessalonika (1 Tes 3:10).

Gebede (Gr proseuchai) is die meer algemeen gebruikte woord vir gebed. Die gebed wat die Here op hulle versoek vir sy dissipels geleer het (Luk 11:1-4), gee aan hulle die grondstruktuur van alle gebede. Dit is in die vorm van ’n gesprek en dui op die “beweging van die siel na God toe”. Dit is soos die kommunikasie van ’n kind met sy/haar vader.

Voorbede (Gr enteuxeis) se oorspronklike betekenis was ’n petisie aan ’n heerser. As gebedsvorm is dit ’n voorspraak of intrede vir ander by God. Soos die Heilige Gees dit doen vir gelowiges (Rom 8:26, 27) en Jesus as Hoëpriester vir die gemeente by God intree (Rom 8:34; Heb 7:25), tree die gemeente deur die krag van die Gees en in die Naam van Jesus vir die hele wêreld in. Alles wat God geskape het, word geheilig deur die Woord van God en gebed (1 Tim 4:4-5). In die voorbidding (en danksegging) vir die wêreld voltrek die gemeente sy hoogste en onvervangbare opdrag, naamlik die heiliging van die wêreld. Voorbidding kan en mag nie ’n plaasvervanger wees vir die gemeente se getuienistaak in die wêreld nie. Dit berei egter die gemeente daarvoor voor en begelei die volgehoue dade van getuienis waardeur die wêreld werklik gedien word. “Gebed is onsigbare, maar werksame handeling. Handeling kan sigbaargeworde gebed wees”. Maar dade is nie plaasvervangers vir gebede nie. Beide is onontbeerlik.

Danksegginge (Gr eucharistias). Die gebed vind in danksegging en lofprysing van God volheid en vervulling. Slegs die dankende bly op God wag vir die voorsiening in sy/haar behoeftes. Die een wat dank is die een wat waarlik ontvang, die een aan wie God skenk (Fil 4:6, 7). Die genesing van die gemeente geskied in sy gebede en veral in danksegging en aanbidding. Slegs die dankseggende gemeente vervul sy ware roeping op aarde, naamlik om die grootheid en goedheid van God dankend te gedenk. Dit is nie toevallig nie, dat dieselfde Griekse uitdrukking, eucharistia, op die nagmaalsviering as vreugdemaaltyd toegepas word en dien as voorloper van die groot eindgebeurtenis: die Bruilof van die Lam (Op 19:7).

Vir alle mense. Die gebed vir alle mense sluit al vier gebedsvorme in. Dit is so omvattend soos die liefde wat alles glo, alles hoop en alles verdra (1 Kor 13:7), onbegrens is. Sedert Christus die horison van die Joodse rabbi Paulus verbreed het, was die doen en late van hierdie apostel nie op sekere groepe nie, maar op alles en almal gerig. Almal moet verlig word deur die bring van die evangelie van die genade van God wat alles en almal geskape het (1 Kor 9:19, 22; Kol 1:28). So het Paulus reeds vir almal in verskillende gemeentes gebid (Ef 5:20; Fil 1:14; Kol 1:9), maar ook vir die redding van die Jode (Rom 10:1), want hy wis “dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word” (Rom 10:12).

Vers 2: Die gebed vir almal wat regeer en gesag uitoefen, word gegrond op die Bybel se deurlopende boodskap dat alle mag van God afgelei word (Kol 1:16, 17) en slegs in samehang met God se mag en wil kan bestaan. Wie dus mag uitoefen kan dit slegs doen solank as hierdie mag aan hom verleen word. Dit vereis verantwoordelikheid aan die kant van die maghebbers, maar sluit nie die moontlikheid van magsmisbruik uit nie (Joh 19:10, 11). Omdat die maghebbers veral aan hierdie gevaar blootgestel is, het hulle behoefte aan die gebede (al vier vorme) van diegene wat op God se mag vertrou (1 Pet 2:13-20) en daarom moet die evangelie ook aan goewerneurs en konings verkondig word (Mark 14:9; Hand 9:15). Die Christengelowiges het dit in die tyd toe die pastorale briewe (1 en 2 Tim en Titus) geskryf is nie maklik onder die Romeinse owerhede gehad nie. Aanvanklik is hulle as ’n Joodse sekte beskou en het in die godsdiensvryheid wat die Jode geniet het, gedeel, maar stelselmatig is hulle as ateïste en haters van die menslike geslag gebrandmerk omdat hulle die vergoddeliking van die staat afgewys het, geweier het om die offisiële gode te aanbid en om aan die keiser goddelike eer te bewys. Die openbare gebed vir konings en gesagdraers was egter nie slim berekende politiek om die guns van die owerhede tot afweer van vervolging te wen nie, maar ’n geloofsdaad, ’n belydenis van wie die ware Heerser is en kritiek op en relativering van die bestaande magte deur vir hulle voorbidding te doen. Hierdie gebedsoproep staan in direkte verband met Romeine 13:1-7 en Matteus 5:44-45. Daar word beslis aan die owerhede verskuldigde eer betoon, maar ook raakgesien dat hulle swak en feilbare mense is wat voorbidding by die ware God werklik nodig het.

Die oogmerk van die gebed vir die owerhede is dat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid (vgl Jer 29:7). Dit het beslis nie net ’n burgerlike doelstelling nie. Die rustige en stil lewe van die Christene hang saam met die goeie geloofstryd (1:18,19) en die voortdurende gebed (1Tes 5:17), dus om in hierdie wêreld, in volkome toewyding (Gr eusebeia) onder die koningskap van Christus te lewe en die heil van die Here vir alle mense te soek. Daarvoor moet ook by God ingetree word vir die welsyn van die owerhede en vir die regte uitoefening van hulle taak, sodat die burgerlike en maatskaplike grondslag gelê kan word vir die ontplooiing van die eie lewe en eie aard van die gemeente (Ridderbos). En daarom moet ook gebid word vir almal in die samelewing sodat die verlossings-boodskap van die kruis bekering en genesing kan bewerk.

Vers 3, 4: As die gemeente so bid, doen hulle iets wat deur God goedgekeur en aanvaar word en wat deur Hom as hulle Verlosser verhoor sal word omdat dit ooreenkom met sy heilsraad. Deur die woord “Verlosser” te gebruik (soos in 1:1) vestig Paulus Timoteus en die gemeente se aandag op die wonder van God se genade, naamlik die saligheid wat húlle deelagtig geword het, sodat hulle met des te meer ywer kan bid vir die saligheid  van alle mense.

Die redding van “alle mense” beteken nie elke mens, persoon vir persoon nie. Soos in vers 1 staan die woord “alle” in die Grieks sonder lidwoord en beteken dit “alle mense sonder onderskeid”. God wil nie slegs dat mense van lae stand salig word nie, maar alle kategorieë van mense, sonder onderskeid van rang, geboorte, stand en posisie (vgl Rom 1:16; 1 Kor 12:13; Gal 3:28). Die eerste Christene moes  leer dat daar vir die owerheid wat die gemeente vyandig was en  selfs vervolg het gebid moes word – iets wat vir hulle uiteraard baie moeilik was. Want dit is God se wil dat ook konings en owerheidspersone en hooggeplaastes salig word (Op 21:24). Daarom moet vir hulle bekering en dat hulle tot kennis van die waarheid sal kom, gebid word. So moet die gemeente in hulle voorbidding verlos word van die enghartigheid van die Jode, wat die heidene en tollenaars uitgesluit het, en dié van die aristokratiese Grieke wat hulle rug op die parias (verstotelinge in die samelewing) gedraai het (Bouman). Volgens Smelik is voorbidding vir die owerheid die teendeel van staatskultus. ’n Owerheid wat so vir hom laat bid stel hom onder die tug van die Here. Hierdie gebed is nooit gloeiend van vaderlandsliefde of ander natuurlike sentimente nie. Elke liefde moet hierin onderworpe wees aan die koninkryksliefde wat deur die Heilige Gees bewerk word, want ons kan nie soos dit behoort uit onsself bid nie.

Vers 5, 6: Die gemeente mag nie die owerhede beskou as onveranderlik in hulle bedreiging van die Christelike geloof of ander bestuurswanpraktyke nie. Hulle kan tot bekering kom en daarvoor mag gebid word, want God en Jesus Christus se liefde reik uit na almal (vgl Rom 3:29-30). Almal is skepsels van die een God wat sy Seun as Middelaar vir almal gegee het. Hierdie een Middelaar staan tussen God en die mense met sy twee nature van God en mens. As God dra Hy God se belange voor by die mense en as mens die mense se belange by God. Hierin is Hy uniek en anders as die Joodse opvatting van Moses en engele as tussengangers (Gal 3:19) of gode as tussengangers soos in gnostiese en heidense kringe geglo is (Kelly). Hy het Homself as ’n losprys vir almal gegee. Dit is ’n vrye aanhaling van Christus se eie stelling in Matteus 20:28 en Markus 10:45 (vgl ook Rom 6:23 en Gal 1:4). Vir “losprys” gebruik hy ’n sterker woord as Jesus, wat te kenne gee dat Hy deur die losprys aan God gee wat die sondaar self aan God moes gegee het (Bouman). Die gedagte van plaasvervanging (plek-ruiling) soos in Jesaja 53:5 uitgedruk, kom hier sterk na vore. Paulus bring nog ’n wysiging aan in Jesus se stelling. Daar lees ons dat Hy sy lewe gee as ’n losprys “vir baie mense”, maar hier dat Hy dit gee “vir almal”.  Paulus wil juis die aandag daarop vestig (soos hierbo genoem) dat dit gaan om alle kategorieë mense, sonder onderskeid, die hele mensheid in organiese sin en nie alle mense een vir een getel nie. Die bestemde tyd waarop hierdie bedoeling van God bewys is, was duidelik die dae van die Nuwe Testament, van Christus se menswording af tot by sy hemelvaart en die daaropvolgende uitstorting van die Heilige Gees. Die getuienis hiervan is die evangelie wat deur die apostels en ooggetuies uitgedra word na alle mense toe. Dit gaan om die genadewil van God (v 4, 5) en om die universele versoeningswerk van die Middelaar (v 6) (Bouma).

Vers 7: Van die universele bestemming van die heil en die evangelie, vir die hele mensheid, in plaas van vir ’n enkele groepering mense of ’n bepaalde volk, is Paulus self die bewys. Hy is ’n apostel en leraar vir die heidene en nie slegs vir die Jode nie (Gal 2:7-8; Ef 3:8-9). Geen Jood kon dit vroeër so bedink nie. Daarom voeg Hy met ’n kragtige verklaring by “Ek praat die waarheid, ek lieg nie” en bevestig hy dié waarheid voor God. Want vir hierdie bediening van die evangelie is Paulus deur die Here aangestel as prediker en apostel. Sy teikengroep is bepaaldelik die heidennasies wat hy in die geloof moet onderrig in die heilwerkende en genadige God en die enige Middelaar en die waarheid van sy heilswil vir die mense (v 4).

Die hele fokusteks 1-7 het ten doel, en tot hoofstrekking, om die gemeente deur verskillende argumente op te roep en aan te spoor om in die openbare gebede aan alle mense te dink en nie slegs aan diegene wat in hulle oë voorbiddingwaardig is nie.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Gebed vir alles en almal

Rus

Tweederde van die aarde se oppervlakte word deur die water van seë en oseane bedek. Dit is nie net ’n wêreld van misterie en skoonheid nie, maar ook die bron van al die water wat nodig is vir die voortbestaan van lewe op aarde.

Baniere met uitbeeldings van seelewe daarop kan in die aanbiddingsruimte gehang word. ’n Rangskikking van koraal en skulpe kan op die nagmaaltafel gedoen word.  Foto’s van seelewe kan ook op die skerm gegooi word.

Net voor die aanvangswoord kan ’n glasbak met water (en dalk ’n paar kleurvolle tropiese visse daarin) by die rangskikking op die nagmaaltafel geplaas word.

Die kinders kan in aansluiting hierby Lied 549 sing.

Gebed
Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
ons is in verwondering oor die geheimenis van die dieptes van die see,
die skoonheid daarvan en die rykdom van lewe daarin.
Help ons om te verstaan hoedat ons die oseane besoedel en bydra tot die sug van die skepping.
Leer ons om om te sien na die oseane en al die
waterbronne van die aarde.
Leer ons om met respek om te gaan met u skepping.
Tot eer van u Naam.
Amen

Lied

Lied 456 “Loof, heel die skepping, loof die Heer”
Lied 459 “Ons Vader, alles in die lewe”
Lied 464 “O Heer my God”
Lied 509 “Op berge en in dale”

F325. “Ek Wil Sing”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Verwondering)
Teks en musiek:  Carli Lessing
© 2009 WINS Music

Refrein:
Ek wil sing tot die berge antwoord gee
Ek wil sing tot die wêreld saam kom sê
Ek wil sing tot die berge antwoord gee
Ek wil sing…

1. Ek staan in die reën en ek voel Hom om my
Ek luister na die wind en ek weet Hy praat
In ‘n vallei met die kranse om my
Weet ek Hy’s groter as wat ek kan sien

2. Ek kyk na die hemel met die nag se glinster
Die sterre so oneindig bo my uitgestrek
En as ek luister na die stilte om my
Weet ek Hy’s nader as wat ek kan sien

Brug:
Wie is nog stil?
Wie sal kan swyg?
Wie is nog stil as Hy Sy mag bewys? (x2)

Familie-oomblik

Oorweeg om ’n gebedsreis deur die wêreld te neem met ’n kaart en prentjies van verskillende mense waarvoor gebid kan word. Sluit gebede vir die skepping in, bv. vir droogtes, vloede, rampe, ens.  Kyk hier vir inkleurprente van mense om voor te bid.

Die foto van ‘n Knysna seeperdjie is deur Danie van der Merwe by www.flicr.com.  Die Knysna seeperdjie is spesiaal omdat dit net in riviermonde voorkom.  Van alle seeperdjies is die Knysna seeperdjie se verspreiding die meeste beperk.  Gevolglik is hulle ook van die mees bedreigde seeperdjies.  Hulle word in die Knysna, Keurbooms- en Swartvlei riviermonde gevind.  Kry nog interessante inligting oor hierdie seeperdjies – en seeperdjies in die algemeen.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Earth’s crammed with heaven,
and every common bush afire with God;
But only they who see take off their shoes –
the rest sit round it and pluck blackberries.
(Elizabeth Barret Browning)

Die Nuwe Testament onderstreep op baie plekke dat die gemeente van die Here ’n publieke verantwoordelikheid het.  Ons het ’n taak in die openbare lewe.  Geloof is nie bloot ’n saak vir my binnekamer en my private geestelike lewe nie.  Godsdiens is nie net ’n saak tussen my en die Here nie.  Jesus is baie meer as net die Koning van my hart.

Geloof, my gehoorsaamheid aan God en ons lewe as gemeente van die Here het alles met die wêreld, die publieke lewe en die ganse skepping te doen:

  • Die Bybel is tot barstens toe vol oor die skepping, die klippe, heuwels, berge, bome, diere, oseane en mense.  Talle wetgewing in die Bybel raak die bewaring van die skepping (landbougrond moet rus, respek vir mens, dier en veld).
  • Die ganse Bybel bring gehoorsaamheid aan God met die openbare lewe in verband (dink aan die rol van konings en profete in die Ou Testament, en die wyse hoe Handelinge vertel dat die vroeë kerk die evangelie ook aan openbare figure en regeerders verkondig).

Ons is gered om ’n seën vir die ganse skepping en God se instrumente op elke terrein van die lewe te wees.

Ons eerste verantwoordelikheid in die wêreld

Hoe leef die gemeente van die Here in die wêreld?  Wat is ons primêre taak?
“In 1 Timoteüs 2 leer Paulus ons wat God se bedoeling vir ons lewe as gemeente in die wêreld is,” sê Herman Ridderbos, bekende Nederlandse teoloog.  Paulus begin by die gebede in die openbare samekoms van die gemeente, want die belangrikste verhouding van die gemeente tot die wêreld word weerspieël deur gebed.  Christus het mens geword om verlossing vir die wêreld te bring.  Daarom het die gemeente, wat uit dié verlossing lewe, die voorreg en heilige verpligting om vir die heil van alle mense en die ganse skepping in te tree in gebed voor God.

Gebed worstel met die gebrokenheid in die wêreld.  Die mens is aangestel as bewerker en bewaker van die skepping, maar het deur sonde in ’n verkeerde verhouding met God beland, en ’n uitbuiter en verwoester van ander mense en die res van die skepping geword.  Ons word die verwaarloser en aanrander van dit wat God aan ons sorg toevertrou het.  Mense het ontaard en die skepping sug omdat dit aan gebrokenheid onderwerp is (Rom 8:20).

Deur die menswording, offerdood, opstanding en verheerliking van die Seun, Jesus Christus, het God ingegryp en in die kerk as sy liggaam ’n nuwe mensheid daargestel (Kol 1:15-23).  Dit is die taak van die gemeente (kerk) om die heil van die hele skepping te bevorder deur die evangelie aan alle mense te verkondig, sodat hulle in gehoorsaamheid aan hierdie evangelie ook die aarde, plante en diere kan versorg.  Daarom word dit in ons teks aan die gemeente opgedra om vir alle mense, en by name die mense wat die grootste invloed in die samelewing uitoefen (konings en ampsbekleërs), te bid sodat die koninkryk van God gestalte kan kry in ’n nuwe mensheid wat ook ’n nuwe ingesteldheid van beskerming en versorging van die natuur sal openbaar.

Hoe bid ons vir die wêreld?

Paulus beskryf die wyse waarop ons vir die hele wêreld bid op ’n intense manier, deur dit in vers 1 op drie maniere uit te druk:
1.  Gebed as smeking:  “Nood leer bid,” sê die spreekwoord.  Smeking handel oor nood en direkte behoeftes.  Só smeekbid Paulus vir die Jode (Rom 10:1), Timoteus (2 Tim 1:3) en die Christene in Tessalonika (1 Tes 3:10).

2.  Gebed as voorbidding:  Voorbede het oorspronklike ’n petisie aan ’n heerser beteken. As gebedsvorm is dit ’n voorspraak of intrede vir ander by God. Soos die Heilige Gees dit doen vir gelowiges (Rom 8:26, 27) en Jesus as Hoëpriester vir die gemeente by God intree (Rom 8:34; Heb 7:25), tree die gemeente deur die krag van die Gees en in die Naam van Jesus vir die hele wêreld in.  Gebed berei ons voor om in die wêreld te gaan getuig deur woorde en dade.

3.  Gebed as danksegging:  Danksegging wag op God as Gewer van alle goeie dinge, en vertrou op God om te voorsien.  Die een wat dank is die een wat waarlik ontvang, die een aan wie God skenk (Fil 4:6, 7). Die genesing van die gemeente geskied in sy gebede en veral in danksegging en aanbidding. Slegs die dankseggende gemeente vervul sy ware roeping op aarde, naamlik om die grootheid en goedheid van God dankend te gedenk

Hierdie drie vorme van gebed het ’n gesamentlike fokus, naamlik die intrede van die gemeente by God vir die heil van die hele mensheid. Die gemeente moet deur gebed en smeking, wat met danksegging gepaard gaan, hulle begeertes vir alle mense aan God bekend maak (Fil 4:6) en met onafgebroke voorbidding vir hulle intree. Smeking mag nie sonder danksegginge geskied nie en gebede moet gevul wees met voorbede. Die gemeente se openbare gesprek met God moet ’n allesomvattende karakter dra en dit moet so in die erediens tot sy reg kom.

Ons bid vir alle mense, vir die hele wêreld

Gebed as smeking, voorbidding en danksegging het te doen met alle mense.  Niemand word uitgesluit weens ras, geslag, klas of status nie.  Gebed soek na die beste vir almal, dat almal in die regte verhouding met God sal leef en sal doen soos wat God bedoel het.

Regeerders en gesagsdraers word spesiaal genoem omdat hulle die rigting in die samelewing aandui.  Hulle neem besluite wat ’n geweldige impak op die lewe van mens, dier en wêreld het.  Dink aan die ekologiese verwoesting van die landboubeleid van Robert Mugabe, die geweldige ontbering vir mens en dier deur die verskroeide aarde beleid wat dikwels in oorlogvoering gevolg word, die vernietiging van ekosisteme, soos die Olifantsrivier, deur mense se ekonomiese aktiwiteite, soos mynbou.  Vleilandgebiede bly in die slag as gevolg van rioolstorting.  Onlangs het die BP oliemaatskappy se winsgierigheid die Golf van Meksiko in ’n massiewe ekologiese krisis gedompel.  Regeerders en gesagsdraers het ’n besondere verantwoordelikheid om met oorleg beleid te formuleer en toe te pas.

Christene se verantwoordelikheid vir die openbare lewe begin by gebed tot God.  Dit eindig nie daar nie, maar ons aksies en inisiatief begin by die aanroep van God in smeking, voorbidding en danksegging.

Die oogmerk met gebed

Die oogmerk van die openbare gebed is “dat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid”.
Dit beteken dat die biddende gemeente daarna strewe om ’n menslike samelewing te sien ontluik waar die oorspronklike skeppingsverhoudinge tussen God, mens en natuur herstel sal wees. Dit is ’n vurige verlange dat die verlossingsevangelie sal deurdring tot en genesing bewerk in alle fasette van die menslike kultuur-bedrywigheid, tot heil van die hele skepping.

Onreg teenoor mekaar, uitbuiting en verwoesting van die omgewing skep die teenoorgestelde van ’n stil en rustige lewe.  Dink aan die verwoesting wat bloeddiamante (diamante wat vir wapens geruil word) in Afrika meebring.  Dink aan die uitwissing van poolbere deur aardverwarming.  Dink aan die impak van die uitwissing van visbevolkings op die lewe van bestaansvissers en die getalle van roofvisse.  Dink aan die uiterste droogtes wat volg op aardverwarming of die verwoestende vloede, byvoorbeeld onlangs in Pakistan.

’n Rustige en stil lewe is die wonderlikste geskenk wat daar is.  Dit is God se bedoeling met sy wêreld.  Laat ons daarvoor bid.

Instrumente van ons gebede

Ons gebede vir die wêreld omskep ons ook tot God se instrumente vir die wêreld.  Wanneer ons in die Naam van Jesus Christus bid vir die wêreld, word ons ook gestuurdes in die Naam van Jesus na die wêreld.

Paulus het ’n intense gebedslewe vir die wêreld gehad.  Hy is self ook die groot rolmodel wat deur God geroep en afgesonder is om hierdie reddingswaarheid aan almal en veral die heidennasies te verkondig. Hy het voor niemand teruggedeins nie, nie die Jode, die Joodse Raad, die heidene, die heidense owerhede of selfs die keiser nie. Omdat hy hieroor die waarheid praat en nie lieg nie, kan hy die gemeente opdrag gee om dieselfde te doen met hulle openbare gebedsbediening, as ’n handeling “in die eerste plek”.

Ons gebede as ’n handeling “in die eerste plek” tot heil en genesing van die wêreld skakel ons ook in by die aksie van God om genesing vir die wêreld te bring.  God gee hierdie genesing in die Naam van Jesus, genesing wat bedien word deur die gestuurdes van God.

Vandeesweek fokus ons in besonder op die oseane.  Laat ons indiwidueel en gesamentlik planne maak oor hoe ons ons leefstyl, ons gebede, ons aksies en ons verbruik kan inrig op ’n manier wat herstel van die oseane bevorder.

God stuur ons om te leef

Vir die Natuur
Here, laat ons u hele skepping liefhê,
die hele aarde en elke sandkorrel daarop,
mag ons elke blaar, elke sonstraal van u bemin.
Laat ons die diere liefhê;
U het hulle eenvoudige gedagtes en onbekommerde
vreugde gegee.
Laat ons dit nie versteur;
laat ons hulle nie aantas,
laat ons hulle nie van hulle vreugde ontneem,
laat ons nie werk teen u bedoeling nie.
Omdat ons aan U bely dat alles soos ’n oseaan is,
alles vloei en vermeng,
en om enige mate van liefde van enigiets in u heelal te weerhou
is om liefde in dieselfde mate van u te weerhou. Amen.
(Fyodor Mikhailovich Dostoevsky 1821-1881, vertaal deur Johann Theron)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.