Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Tydens Koninkrykstyd vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. In Jesus het die koninkryk van God naby gekom. Die Wet op die kliptafels by Sinai het volmaakte vervulling bereik in Jesus Christus. As gehoorsaamheid en ontsag vir die Here aangevuur word deur Jesus se liefde vir alle mense, sonder selfsug en sonder selfliefde, is gelowiges waarlik vry.

Ander tekste

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.Die bepalings van die Here is reg:

elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Matteus 21:33-46
Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Mark 12:1–12; Luk 20:9–19)
33“Luister na nog ’n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was ’n grondbesitter wat ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense ’n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë. r
43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ’n profeet beskou het.

Fokusteks

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20
Die tien gebooie

(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die volk vra Moses moet liewer met hulle praat
(Vgl Deut 5:22–23)
18Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op ’n afstand bly staan.

19Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”

20Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”
21Die volk het op ’n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.

Die altaar
22Toe sê die Here vir Moses: “So moet jy vir die Israeliete sê: Julle het nou self ervaar dat Ek uit die hemel met julle kom praat het. 23Julle mag nie gode uit silwer maak om my plek in te neem nie. Julle mag ook nie vir julle gode uit goud maak nie. 24Julle moet vir My ’n altaar van grond bou en julle brandoffers en maaltydoffers uit julle kleinvee en beeste daarop bring. Op elke plek waar Ek my Naam wil laat aanroep, sal Ek na julle toe kom en julle seën.

25“As julle ’n altaar van klip vir My wil oprig, mag julle dit nie van gekapte klip bou nie. Sodra julle met die beitel daaraan kap, sal julle dit ontwy.

26“Julle mag nie met trappies na my altaar toe opklim nie, sodat julle julle nie by my altaar ontbloot nie.”

Liturgie

RUS

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë. r (Matt 21:42)

Seëngroet
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Fil 1)

Lofsang: Lied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,3 (2e Melodie)”

Verootmoediging

Skriflesing: Psalms 119:10-16
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Responsoriese Geloofbelydenis: ahv Psalm 19

Liturg: 2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.

Gemeente: 3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.

Liturg: 5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.

Gemeente: Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.

Liturg: 8Die woord van die Here is volmaak:

Gemeente: dit gee lewe.

Liturg: Die onderwysing van die Here
is betroubaar:

Gemeente: dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.

Liturg: 9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:

Gemeente: dit bring blydskap.

Liturg: Die gebod van die Here is helder:

Gemeente: dit gee insig.

Liturg: 10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:

Gemeente: dit staan altyd vas.

Liturg: Die bepalings van die Here is reg:

Gemeente: elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.

Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe 1,3” (Kan ook as epiklese dien)

HOOR

Epiklese

Skriglesing: Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20

Gebed na Prediking
Here, wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.
Ek beskou alles as waardeloos, want om U, Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van U sal ek alles prysgee om U as enigste bate kan verkry en een met U te kan wees: vrygespreek omdat ek in U glo.
Al wat ek wens, is om U te ken, die krag van U opstanding te ondervind en deel te hê aan U lyding deur aan U Here gelyk te word in U dood. (Ahv Fil 3)

14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dat ek onberispelik kan wees
en vry kan wees van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
Amen(Ahv Ps 19)

LEEF

Wegsending: Lied 508 Vaste rots op wie ek bou vs 1,2

Seën
Vir ons wat gered is, is die kruis van Christus die krag van God. Gaan leef in sy krag en onthou: Wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (uit 1 Korintiërs 1:18-25).

Musikale Amne: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F41. “Beeld Van God”
(RUBRIEK: Jeuglied/Kinderlied – Lof)
Teks en Musiek:Braam Hanekom
© 1998 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ’n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.

Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so Sy beeld uitdra
in ‘n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ’n paradys,
om te lag en te lewe, soos ’n prins in ’n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ’n beeld van God wat kan skitter soos kristal
om die wêreld te herinner daar’s ’n God in die heelal.
Kom dan nou en vat Sy hand en leef soos Sy kind
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor toepaslike sportreëls van sporte waarmee hulle bekend is. In rugby byvoorbeeld moet die verdedigende spelers se voete agter die laaste voet van die spelers in die losskrum wees, anders is hulle onkant en word dan gestraf met ‘n strafskop as dit by die verdediging kom. In atletiek moet die atleet binne die strepe van haar baan in die 400m bly anders word sy gediskwalifiseer.

Sportreëls werk met wettiese verpligtinge en gepaardgaande strafmaatreëls.

U kan nou aansluit by die Powerpoint agtergrond. Dit is juis hoe God se wet nie verstaan moet word nie. Die gebooie is veel eerder padtekens wat ons wil help om veilig op die pad te reis. ‘n Padteken wat rigting aandui, koers aanwys, waarsku teen gevaar is ‘n gepaste metafoor as dit by die Wet van God kom. Die wet was nie bedoel om rigiede reëls (soos in sport met gepaardgaande strafmaatreëls) te wees nie, eerder riglyne oor hoe om as ‘n verloste volk te lewe. ‘n Padteken wil help, wil bydra dat jy veilig by jou bestemming uitkom.

Preekriglyn

Die boek Eksodus handel oor verlossing. Israel word uit slawerny gered. Hulle word vrygemaak. God doen dit: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.” (1)

Daarby vertel Eksodus met hoeveel sorg die Here Israel leer hoe mense wat verlos is, moet lewe. Die Here gee vir hulle gebooie en leer hulle. Op hierdie manier weef Hy ‘n nuwe identiteit in die lewe van sy volk in. Die Here se gebooie is ‘n teken van sy trou teenoor sy volk. Hulle leer hoe ‘n lewe lyk wat by die verlossing pas. Hulle leer die verantwoordelikheid wat pas by verloste mense.

Hierdie is die twee groot temas in Eksodus: enersyds bevryding, verlossing. En andersyds onderrig hoe om verantwoordelikheid te aanvaar om as verlostes te lewe.

Geen persoonlike verantwoordelikheid

In 1992 skiet Wayne Lo, ‘n tweedejaar-student aan die Rots van Simon Kollege in Massachusetts, twee mense dood en beseer vier ander met ‘n semi-outomatiese geweer. Gedurende die eerste paar jaar van sy tronkstraf hou hy vol dis God wat hom gekies het om die verwoesting te saai. Deesdae noem hy dit ‘n periode van ontkenning in sy lewe.

“Destyds het ek gedink ek doen die regte ding,” het hy onlangs gesê, “maar terugskouend maak dit nie langer sin nie. Ek vra myself gedurig waarom ek dit gedoen het.”

In Desember 1992, sê Lo, het God hom aangesê om na ‘n wapensmid te gaan, ‘n geweer en ammunisie met sy ma se kredietkaart te bestel, en toe die mense te skiet. Gedurende sy verhoor was hy woedend vir sy advokate omdat hulle betoog het hy was geestelik versteurd. Sy advokate moes liewer sy slagoffers se omstandighede ondersoek om uit te vind waarom God hom aangestel het om hulle dood te skiet, was sy argument.

Sedertdien het Lo tot die besef gekom God sou hom nie kies om moord en doodslag te pleeg nie. Hy sukkel egter steeds om te verstaan wat hom moord laat pleeg het. Hy bly oortuig die oorsaak van sy dade was ‘n mag buite homself. Miskien was dit ‘n bo-natuurlike of duiwelse mag. Hoe ook al, hy weier om persoonlike verantwoordelikheid vir die moorde te aanvaar. (Uit: The New York Times)

Lo het sy vermoë om te kies en inisiatief te neem, gebruik om moord te pleeg en te verwond. Hy neem agter geen verantwoordelikheid nie. Sy lewe is soos ‘n onbegeleide missiel. Hy is ‘n gevaar vir homself en ander. Hy het sy vryheid vir verwoesting gebruik.

Liefdevolle onderrig

Genesis 20 is God se liefdevolle onderrig wat ons leer om om vryheid as verlostes te gebruik om verantwoordelikheid te neem. Dit onderstreep hoe groot die verantwoordelikheid is van mense wat vrygemaak is van die bande wat hulle gebind het.

Die eerste vier gebooie leer ons hoe om God lief te hê. Die volgende ses leer ons hoe om ons naaste lief te hê. Só ‘n lewe pas by diegene wat God se bevryding gesmaak het.

Liefde wakker verantwoordelikheid aan

Rick Garmon se dogter, Katie, is tydens ‘n date verkrag toe sy agttien was en ‘n eerstejaar op universiteit. Sy was te geskok en verneder om met iemand te gesels oor wat gebeur het. Selfs nie haar familie het geweet wat gebeur het nie. Sy het van universiteit verander en met haar lewe probeer voortgaan.

Oor die volgende jaar het Katie haar toenemend onttrek van haar familie en vriende. Sy het ‘n eetversteuring ontwikkel en gewig verloor. In ‘n oomblik van waarheid kom sy met die sak patats teenoor haar ma vorendag. Na ‘n jaar van intensiewe gebed én terapie kon Katie die pyn oorkom en tot ‘n aangepaste, produktiewe lewe terugkeer.

Intussen het Katie se pa geveg teen die begeerte om die verkragting te wreek. Hy het selfs ‘n noukeurige plan ontwikkel om die man wat sy dogter so diep verwond het, te vermoor. Hy het homself ook van die res van die familie onttrek terwyl hy planne beraam het om deur die universiteitsgronde te ry, en in die parkeerarea in sy motor te sit totdat die verkragter by hom verby loop, waarna hy hom sou skiet.

Tydens ‘n naweek toe Katie tuis was, het haar pyn vir Rick te erg geword. Hy is af na die huis se kelder om sy geweer finaal voor te berei. Hy was reg om tot aksie oor te gaan. In dié proses kom sy seun, Thomas, teen die trappe af. “Wat maak jy, pa,” vra hy. “Kan ek jou help geweer skoonmaak? Gaan jy jag?”

‘n Sekere klank in Thomas se stem, het Rick intens na sy seun laat kyk. Die seun se oë was vol trane. “Ek het besef hy weet,” vertel Rick later. “Liewe Here, my seun weet wat ek beplan, het deur my gedagtes geflits.”
Rick se brein het oortyd gewerk. Hoe sou hy Thomas ontglip? Hoe vinnig sou hy sy wraak kon neem – voordat iets sy planne in die wiele ry?
“Kom hier seun, kom gee pa ‘n drukkie,” sê hy om sy seun se vraende oë te vermy.
Thomas slaan sy arms om sy pa. Dit word ‘n eenvoudige daad wat Rick se lewe verander. Terwyl sy seun se arms hom vashou, beleef Rick hoe groot Thomas se liefde vir hom is. Hy beleef dat sy
seun se liefde skielik sy haat laat verkrummel. “Sy omhelsing het my woede laat verkrummel soos ‘n voorhamer ‘n muur breek. Hou vir hou.”
Stadig tel Rick sy geweer op en sluit dit in die kluis toe. Op daardie oomblik besluit Rick Garmon om die man te vergewe wat sy dogter verkrag het. (Uit: My secret hate, deur Rick Garmon)

Liefdevolle onderrig

God se liefdevolle passie vir sy volk, Israel, maak die volk vry om die Here te gehoorsaam. Sy liefde is die fondament waarop die onderrig van Eksodus 20 rus. God sien sy volk se nood en red hulle. Nou leer Hy hulle hoe ‘n lewe lyk wat by dié verlossing pas. God se liefde skep die wil tot gehoorsaamheid en diens wat by die verlossing pas.

Tien woorde

Hoe leef verlostes? God spel gehoorsaamheid konkreet in tien woorde uit. In elkeen van die tien woorde is daar ‘n verbod – iets wat verbied word. Daar is ook ‘n gebod – ‘n positiewe, konstruktiewe opdrag. Kom ons luister:

Eerste vier gebooie: liefde vir God

Die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding met God. Daar word ‘n hartsverbintenis aan God gevra. God se liefde en verlossing vra ‘n reaksie van toewyding, liefde en diens van ons kant.

Een: Volle lojaliteit gevra
Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. (20:1-3)

Ons verbintenis met God is eksklusief – dit sluit ander gode uit. Die Here wil nie “ook” gedien word nie. Hy wil alleen gedien word . Ons mag nie ander verbintenisse naas en gelykwaardig met God hê nie. As ons Redder vra Hy ons volle lojaliteit. Enige iets wat ons tot afgod verhef, waarop ons ons vertroue plaas, breek nie net ons verhouding met God af nie, dit vernietig ons.

Twee: ‘n God na ons beeld en gelykenis?
Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. (20:4)

Die tweede manier waarop ons ons verbintenis aan God kan afwater, is deur afbeeldings van die Here te maak. Dit kan ‘n gou kalf wees, of ons idees oor wie God is. Ons kan God verander soos ons Hom graag wil hê. Ons het sekere verwagtings van Hom in ons guns. Ons dig selfs sekere handelinge aan Hom toe as dit ons bevoordeel. Geloof is om die onsienlike God te vertrou soos Hy Homself aan ons bekendmaak in sy Woord en in sy Seun (Kol 1:15).

Drie: Ontsag vir God
Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. (20:7)

Ons kan ons verbintenis met God verydel as ons sy Naam misbruik. God se Naam is God se redden­de, versorgende, heilige teenwoordigheid. Om sy Naam te misbruik, is om sy teenwoordigheid te ontken. Of om sy teenwoordigheid vir ons eie voordeel te gebruik, om ons idees en handelinge met die Naam van God te dek. Die gebod beteken in wese dat ons ons assosiasie met die Here nie vir persoonlike gewin moet gebruik nie. Is ons motiewe reg? Eers as ons sy teenwoordigheid ervaar, kan ons sy Naam met ontsag gebruik.

Vier: ‘n ritme van werk, rus en fokus op God
Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet (20:8,9)

Die vierde gebod moedig ons aan om tyd te maak om aandag te gee ons verbintenis met God – in onsself, saam met die gemeente en voor die Here. Dit is ’n kans om herinner te word aan God se prioriteite met die Skepping, wat so uitgebrand en verniel is. Dis ’n uitnodiging om ons saam met God te verbly in sy skeppingswerke en sy verlossingswerk.

Tweede helfte van die gebooie

In die tweede deel van die tien gebooie sien ons dat dit in godsdiens ook oor mense en die aardse lewe gaan. Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van die gewone aardse lewe. Mense word Christene sodat hulle ten volle mense kan word – mense soos God ons bedoel het. Vandag is die gevaar van ‘n na binnegekeerde kerke groot. Die lewe van Maandag tot Saterdag is vir God belangrik: “Ons skuld die Here nie net ’n lewe binne die kerk nie, maar ook buite die kerk” (Burger). Die tweede deel van die tien gebooie konsentreer op die lewe en belange van ander mense. So vat Jesus dit ook saam in Matteus 22:39. God wil nie net hê dat ons Hom moet liefhê nie, maar dat ons soos Hy moet wees. En ons is eers soos Hy, as ons soos Hy, mense liefhet. ’n Gelowige se verbintenis aan God word duidelik in sy verbintenis aan sy medemens. Die tweede deel van die tien gebooie bevat waardes wat vandag vir ons samelewing in Suid Afrika van uiterste belang is.

Vyf: Respek vir gesag wat lewe moontlik maak
Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. (20:12)
Die vyfde gebod sê dat lewe onmoontlik raak as mense nie meer onderdanig en inskiklik teenoor mekaar kan wees nie. Die kerk sal hom moet beywer om mense te leer om respek te hê vir die groter belang van inskiklikheid en verdraagsaamheid. Dis die gebod van orde wat ruimte skep waarin jy die vryheid van sy genade kan beleef. Dit is nie vreemd dat die verbondseën op ’n konkrete manier hieruit voortvloei nie: in vandag se taal, ‘n lewenskwaliteit!

Ses: Koester lewe
Jy mag nie moord pleeg nie. (20:13)
Die sesde gebod is God se “Ja!” vir die lewe. As haat, afguns, ongeërgdheid, ja, liefdeloosheid, ook moord is, is daar meer moordenaars op vrye voet as wat ons vermoed. ’n Belangrike waarde vandag is die positiewe betekenis van die sesde gebod, naamlik dat ons die lewe wat God gee, sal respekteer, dien en bevorder. Die verskillende bevolkingsgroepe moenie ’n bedreiging vir mekaar wees nie, maar mekaar verryk.

Sewe: “Ja!” vir liefde
Jy mag nie egbreuk pleeg nie. (20:14)
God se “Ja!” vir die liefde word bedreig deur die verskuiwing in waardes, vervreemding tussen mense, ook in die huwelik. Vervlakking van seksuele waardes beïnvloed ons totale bestaan. MIV-Vigs en seksuele promiskuïteit is besig om die gesinslewe en samelewing te ontwrig. Geloofs­gemeenskappe moet mekaar help om die Bybelse waardes rondom seksualiteit te herstel.

Agt: ‘n Waterval van mededeelsaamheid en medemenslikheid
Jy mag nie steel nie. (20:15)
Die agste gebod is vandag net so relevant. Die dief is iemand wat “sy liggaam verloor het”, wat nie weet waar die grense van sy medemens se eiendom is nie. Eiendomsreg vervaag in ons land en herverdeling van rykdom kan nie die oortreding van die agste gebod regverdig nie. Uit ’n ander hoek, die groot gaping tussen ryk en arm, is die oproep van die agste gebod vir ons in Suid Afrika net so belangrik. Ons word opgeroep om ’n spiraal van mededeelsaamheid en medemenslikheid aan die gang te sit. Paulus sê in Efesiërs 4:28 dat ons hierdie gebod eers nagekom het as ons ook vir die armes gegee het.

Nege: Hou die regspraak en geregtigheid in stand
Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie. (20:16)
Volgens die negende gebod sal die vryheid wat met die uittog bewerkstellig is, volgehou en uitgebou kan word as die regspraak in stand gehou word. Die geloofsgemeenskap sal mense sensitief moet maak om die waarheid te praat, in die howe en in die gewone lewe van elke dag. Ons woorde in die algemeen moet net goed en opbouend wees, ons moet God se Woord verklank.

Tien: Die rykdom van ‘n eenvoudige lewe
Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie. (20:17)
Die tiende gebod is ook uiters belangrik om na te luister: “Jy mag nie begeer nie.” Daar is ’n neiging onder mense om net al meer te wil hê. Dit bedreig en verwoes uiteindelik mense se lewe. Die rykdom van ’n eenvoudige lewe sal duideliker verkondig moet word. Die tiende gebod vra dat ons diepste hartsbegeerte na God self sal wees, daarom ook na die vervulling van die wet (Heidelbergse Kategismus, So 44: vr 113). In die sogenaamde Bondsboek (Eksodus 20-24) word ná hoofstuk 20 verder uitgebrei op die gelowige se optrede teenoor die res van God se geskape wêreld.

Slot

Ons leef in ‘n wêreld waar mense moeilik verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar. Ons beleef dat ons op onsself aangewese is vir oorlewing en handhawing.

God se liefde raak ons aan. Dit skakel ons in by God se liefdesdiens aan mense. Dit maak ons verantwoordelik om God en mekaar lief te hê. So weef ons God se bevryding, verlossing en genesing in ons eie en in ander se lewe in.

Wegsending: Lied 508 “Vaste rots op wie ek bou vs 1,2”

Seën
Vir ons wat gered is, is die kruis van Christus die krag van God. Gaan leef in sy krag en onthou: Wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (uit 1 Korintiërs 1:18-25).

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.