Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Dat mense so voorbarig kan wees om God te betwyfel en na sy gesag te vra, is ondenkbaar. En tog doen mense dit – ook kerkmense. God se geduld raak egter nie op nie. Altyd weer bevestig Hy sy gesag en so word die geskiedenis ’n verhaal van sy verlossing. Hierdie erediens moet dus die erkenning van God se gesag en ons onderwerping daaraan na vore bring.

Ander tekste

Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
17 Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”
En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”
Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa  en Meriba  genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Psalm 78:1-4, 12-16
Sodat die volgende geslag dit kan weet
78 ’n Gedig van Asaf.
Luister na wat ek jou leer, my volk,
luister aandagtig na wat ek sê.
2Ek gaan ’n gedig voordra,
ek gaan julle inlei in geheimenisse
uit die verre verlede.
3Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here
en van sy mag,
van die wonderdade wat
Hy gedoen het.
5Hy het aan Jakob
sy voorskrifte gegee, 
aan Israel sy onderwysing. 
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders
bekend te maak,
6sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word, 
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
7So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, 
maar gehoorsaam wees
aan wat Hy beveel het
8en nie wees soos die voorvaders nie. 
Dié was ’n opstandige
en ongehoorsame volk, 
’n onbestendige geslag
wat nie aan God getrou was nie.
9Die Efraimiete was goed gewapen
en bedrewe met die boog, 
maar toe die geveg begin, 
het hulle gevlug.
10Hulle het die verbond met God
nie gehou nie, 
en geweier om te lewe
soos Hy hulle geleer het.
11Hulle het vergeet van sy werke, 
van die wonderdade
wat Hy hulle laat sien het.

12Voor die oë van hulle voorvaders
het Hy wonders gedoen
in Egipte, in die veld by Soan.
13Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek.
Hy het die water laat opdam
en dit het soos ’n muur gestaan.
14Bedags het Hy hulle
met ’n wolk gelei,
snags met die lig van ’n vuur.
15Hy het rotse in die woestyn
oopgekloof
en soos by groot waterstrome
almal se dors geles.
16Hy het water uit die rots laat stroom,
dit soos riviere laat vloei.

Filippense 2:1-13
2 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Ligdraers in die wêreld
12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Fokusteks

Matteus 21:23-32
Die vraag oor Jesus se gesag
(Mark 11:27–33; Luk 20:1–8)
23Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”

Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’26Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as ’n profeet.”

27Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”
En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die twee seuns
28“Wat sê julle hiervan? Daar was ’n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’29‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”

Hulle sê: “Die eerste.”
Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

Ekstra stof

Matteus begin met hoofstuk 19 ’n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25).

Matteus vertel hier verhale van Jesus se interaksie met die Joodse leiers asook die dissipels wat die waardes van die koninkryk uitspel in terme van vyf aspekte: die huwelik en egskeiding (19:1-12), die status van kinders (19:13-15) die rol van rykdom in die lewe van dissipels (19:16-30), die dienende karakter van leierskap (20:20-28) en die Groot Gebod (22:34-40).

Jesus gebruik ook twee simboliese handelinge om die waardes van die koninkryk verder tuis te bring. Hy reinig onder ander die tempel om werklik ’n huis van gebed te wees (21:12-17), en vervloek die vyeboom wat aan die eenkant die doodsheid van die Joodse leiers simboliseer en aan die anderkant die krag van geloof aan die dissipels demonstreer (21:18-22).

In die gedeelte wat ons dié Sondag lees, troef Hy die Joodse leiers in ’n gesprek oor sy gesag (21:23-27) en later ook oor belasting (22:15-22). Tussendeur kondig Jesus vir die derde keer sy kruisdood en opstanding aan vir die dissipels (20:17-19) en tree ook een keer met die Sadduseërs in gesprek oor die opstanding, iets wat hulle natuurlik per definisie ontken (22:23-33). Daardeur bevestig Hy sy identiteit as die Christus, soos ook eksplisiet uitgespel in die vraag van Jesus – interessant genoeg! – aan die Fariseërs (22:41-46).

Jesus vertel ook vier gelykenisse wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel in terme van wie eerste is en wie laaste (20:1-16), en in die gedeelte wat ons ook dié Sondag lees, wie werklik die wil van God die Vader doen (21:28-32) en uiteindelik die bose bedoelings van die Joodse leiers aan die kaak stel met die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46 – volgende week se gedeelte) en dat hulle die koninkryk verbeur met die gelykenis van die bruilofsfees (22:1-14).

Matteus vertel ook hier een genesingsverhaal, die genesing van twee blindes, wat simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas is en ironiese kommentaar is op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle Hom eien as: “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.

Hoofstuk 21
Jesus arriveer uiteindelik in Jerusalem vir die volvoering van sy roeping – sy lyding, kruisdood en opstanding – soos Hy nou al drie maal duidelik aan die dissipels gekommunikeer het.

Matteus fokus in hoofstuk 21 op:

  • die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11);
  • die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17);
  • die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22) as inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat handel oor drie wesenlike sake:
    • Jesus se gesag (21:23-27);
    • Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders (21:28-32);
    • Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46).

Die implikasies hiervan kan nie misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee dat hulle dit begin besef. Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat in Hom glo. Die Jode maak die fout, sê Jesus, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak. Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het. Hoe tragies.

Vir die preekriglyn fokus ons net op die volgende twee perikope:
Die gesprek met die Joodse leiers oor Jesus se gesag (21:23-27)
Na Jesus die vorige dag die tempelterrein gereinig het tot ’n huis van gebed en die Goddelike teenwoordigheid gedemonstreer het met die genesing van blindes en verlamdes, spandeer Hy sy tyd vêrder aan onderrig, die primêre fokus van sy bediening.

Die leierpriesters van die tempel en die familiehoofde van die volk vra Hom egter na sy gesag uit.
Dat hulle daarmee eintlik skynheilig optree, blyk uit hulle weiering om Jesus te antwoord oor wat hulle van Johannes die Doper se bediening gedink het. Hulle is bang om hulle mening te gee, want hulle is bang dat dit nie in die smaak van die skare val nie. Daarom antwoord Jesus hulle ook nie, hoewel Hy, ironies genoeg, eintlik sy gesag demonstreer.

Hulle blaas bedroë die aftog met ’n: “Ons weet nie.” Hulle ongeloof is aan die kaak gestel, want geloof word immers in dade duidelik. Hulle is egter nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie, net soos die grond langs die pad in die gelykenis van die grond in hfst. 13. Daarom dra hulle nie vrug nie.

Die gesprek met die Joodse leiers oor gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders (21:28-32)
Jesus onderstreep sy boodskap aan die Joodse leiers met die volgende twee gelykenisse (eintlik ook die eerste gelykenis van hfst. 22 oor die bruilofsfees). Daarmee wys Hy hulle onbetroubaarheid en ongehoorsaamheid onomwonde uit.

Die gelykenis van die twee kinders illustreer dit helder. Dit is die een wat gehoorsaam is, wat die wil van die Vader doen, al gebeur dit ook eers na ’n tyd. Daarom sal tollenaars en prostitute voor die Joodse leiers die koninkryk van God binnegaan. Hoewel die Joodse leiers die boodskap van God in Johannes die Doper sowel as in Jesus, die Seun van God, gesien en gehoor het, het hulle nie sovêr gekom om berou te hê en te glo nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: Liedboek Psalm 78 vv 1 en 2

Votum: Filippense 2:6-11

Seëngroet

Lofsang: Lied 223 of Flam 164

Wet: Filippense 2:1-4

Skuldbelydenis: Lied 229 of VONKK 10

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis: Flam 207

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 21:23-32

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 481 of Flam 10

Seën

Respons: Lied 223 Refrein of VONKK 88

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Liedboek Psalm 78 vv 1 en 2

Votum: Filippense 2:6-11

Seëngroet

Lofsang
Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer” of
F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig”

Wet: Filippense 2:1-4

Skuldbelydenis
Lied 229 “Wil, Heer, in liefde U ontferm” of
VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)”

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis
V: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer

Liedere

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en musiek: Robin Mark en Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1991 Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

2. Al my hoop, my planne en my tyd
lê ek in u hand,
vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
lê ek in u hand,
vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur u wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur u wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U
wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig” 
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Fil 2:10,11)

1. Elke knie sal voor Hom buig,
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely,
Jesus is die Heer.
God het Hom ’n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.

2. Elke bloedgewaste sing,
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring,
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.

3. Elke man en vrou en kind sing,
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink,
Jesus is die Heer.
Hemel, aarde dal en kruin sing,
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin
Jesus is die Heer. (x3)
Jesus Christus (x2)
Jesus is die Heer.

VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)”
Lukas 18:13
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: TOLLENAAR — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief — Skuldbelydenis

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

VONKK 88 “Amen” 
Musiek: Uit Paaskantate van Niel van der Watt 2001 ©
© Musiek: ??
RUBRIEK: Kontemporêr – Uitsending

Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 21:23-32

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Sermons4kids het ‘n baie oulike storie van ‘n pa wat sy seuns vra om die blare te hark (in ons konteks dalk beter om te vertel dat die pa gevra het hy moet die gras sny?). John is besig om ‘n model vliegtuigie te bou en sê dat hy nie wil nie. Die pa vra gevolglik vir William. Dié is besig om TV te kyk, maar sê dat hy dit sal doen. Wanneer die pa weg is, dink John daaroor en gaan vee dan tóg die agterplaas. Die pa kom terug en vind John waar hy die agterplaas vee – en William voor die TV. Daar is ook aktiwiteite en ’n oulike inkleurprent hier beskikbaar.

Jy kan ook mense uit die gemeente vra om die verhaal op te voer terwyl iemand dit lees.

Preekriglyn

Ontstellend genoeg is Cynthia se verslawing net een van baie soortgelyke verhale. Cynthia, van Nashville, Tennessee, is blootgestel aan moonshine (alkohol wat tuis gedistilleer word) toe sy vyf was, en aan marijuana (dagga) toe sy ses was. Sy is op ouderdom agt deur ‘n nefie verkrag, en haar pa is oorlede toe sy nege was. Woedend, verward en bang, het Cynthia die huis verlaat en op straat begin lewe.

Sy het swanger geraak en ‘n baba op 13 gehad, hopende dat die baba haar die liefde sou gee waarna sy verlang het. “Ek het niemand gehad wat my koers kon gee nie,” sê sy. Hoe meer sy by dwelms betrokke raak, hoe slegter het dit gegaan. Sy het ‘n verdere twee kinders gehad terwyl sy by verskeie rehabilitasieprogramme ingeskakel het. Op ‘n stadium het sy skaars meer as 30 kilogram geweeg. Teen die grond, het sy God gevra om óf haar lewe te neem, óf haar tronk toe te stuur.

Cynthia is tronk toe. In die gevangenis het sy vir die eerste keer werklik ‘n aanvoeling vir God ontwikkel. Nadat sy haar vonnis uitgedien het, is sy na die Magdalena-tuiste toe – ‘n tehuis waar vroue met ‘n geskiedenis van prostitusie en dwelmmisbruik twee jaar lank kon inskakel. Magdalena is in 1997 deur eerw. Becca Stevens, ‘n Anglikaanse priester, gestig. Vir die eerste keer in haar lewe het Cynthia die liefde van Christus in ‘n versorgende gemeenskap ervaar. “Van daardie dag af het ek geseën gevoel,” sê Cynthia. “Die mense het my nie geken nie, maar hulle liefde was so onvoorwaardelik.

Toe haar verhaal in 2006 in die Christian Science Monitor vertel is, het Cynthia reeds haar 19de maand sonder dwelms gevier. Sy is aangestel as die winkelbestuurder vir Thistle Farms, ‘n onderneming van die Magdalena-tuiste wat skoonheidsprodukte bemark.

Volgens eerw. Stevens verval vroue soos Cynthia dikwels in die ellende weens ‘n kombinasie van familiefaktore, swak gemeenskapstrukture en slegte keuses. Dwelms word ‘n manier om van die emosionele pyn te ontvlug, en prostitusie die manier om die dwelms te bekom. Tog is niemand se situasie hopeloos nie. “Daar is ‘n mite wat sê as jy eers ‘n prostituut is, is jy verlore. Dit is nie waar nie,” sê sy.

Tollenaars en prostitute

Eerw. Becca Stevens eggo Jesus se vermaning aan die priesterhoofde en familiehoofde van sy dag (verse 31b en 32):

Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.

Wie kan ‘n verhaal soos Cynthia s’n hoor, en nie aangeraak word deur die genade van God wie se arms oop is vir dwelmverslaafdes en prostitute nie? Wie word nie geroer deur die verhaal van liefdesgemeenskappe soos Magdalena-tuiste nie, wat God se liefde beliggaam en in Sy Naam ‘n nuwe toekoms vir mense wat teen die grond lê moontlik maak?

In Jesus se tyd het tollenaars soos Saggeus, wat dikwels hul rykdom afgepers en genadeloos op mense toegeslaan het, en prostitute nuwe hoop en nuwe lewe by Jesus gekry. Hulle het God in Jesus herken, en Hom begin volg.

En tog het die Joodse godsdienstige leiers Jesus bly weerstaan. Dieselfde het ook met Jesus se wegbereider, Johannes die Doper gebeur. God het mense deur Johannes tot berou en inkeer geroep. Tollenaars en prostitute het God se stem in Johannes gehoor, en geglo. Dit het geen impak op baie godsdienstige leiers gehad nie.

‘n Vol week

Jesus se vermaning vind tydens ‘n gesprek oor sy gesag plaas. Jesus is op hierdie stadium in Jerusalem. Dit is die laaste week van sy bediening, wat sou uitloop op sy oorlewering aan die Romeinse owerheid en sy kruisiging.

Dit laaste week was vol drama en betekenis:

  • Jesus het ‘n Jerusalem opspraakwekkend binnegekom. Mense het hulle klere op die pad oopgegooi en sy lof besing, terwyl Hy nederig op ‘n donkie die stad binnery (21:1-11).
  • Daarna is Jesus direk tempel toe om dit te reinig. Hy het al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, uitgejaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. Jesus het vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.” (21:12-13)
  • Jesus het ook het blindes en kreupeles in die tempel gesond gemaak (21:14)
  • Jesus vervloek ‘n vyeboom wat geen vrugte dra nie, sodat dit dadelik verdroog – ‘n daad met sterk simboliese betekenis (21:19-21)
  • Jesus het die mense in die tempel geleer, as ‘n teken en uitvloeisel van sy goddelike gesag (21:23)
Met watter gesag?

Teen hierdie agtergrond kom die priesterhoofde en familiehoofde in vers 23 na Jesus toe en bevraagteken sy gesag. Hulle vra twee vrae:

  • Met watter gesag doen u hierdie dinge?
  • Wie het aan u hierdie gesag gegee?

Hiermee bedoel hulle om alles wat Jesus gedoen het, te bevraagteken. Wie of wat het aan Hom die volmag gegee om te doen wat Hy doen? Hy het Jerusalem letterlik beset met sy intog, hy het die tempel skoongemaak en dit gevul met sy teenwoordigheid en lering, Hy het die vyeboom simbolies vervloek en so sy mag getoon om te reken met dit én diegene wat nie vrug dra nie. Hy tree koninklik op en kondig sy wil duidelik aan. Waar kry Hy die reg om “hierdie dinge” te doen?

In Matteus se evangelie is die gesag waarmee Jesus optree deurgaans ‘n belangrike tema. Jesus se kragtige woorde en werke het dit herhaaldelik aan die Joodse leiers duidelik gemaak dat sy gesag van die hemel afkomstig is (9:1-8; 12:6, 8, 28, 38, 41-42; 15:1-12; 16:1).

Die Joodse leiers verwerp Jesus se aanspraak op goddelike gesag. Hierdie is nie onskuldige vrae van mense met ‘n oop gemoed nie. Dit is ‘n lokval. Indien Jesus sou aanspraak maak op koningskap, kon hulle Hom by die Romeinse owerheid verkla as ‘n opstandeling. Indien Hy op Messiasskap aanspraak maak, kon hulle hom by die Joodse raad vir godslastering aankla.

‘n Teenvraag

Jesus vra ‘n teenvraag. Dit was ‘n gebruiklike manier waarop rabbi’s geargumenteer het. Jesus bring Johannes die Doper in die prentjie. Johannes het mense opgeroep tot berou en bekering weg van hulle sonde, en ‘n bekeringsdoop bedien as teken daarvan. Jesus wil weet of die doop van Johannes van God af kom, of van mense af.

Hiermee is die godsdienstige leiers in die moeilikheid. As Johannes se bediening van God af kom, sou Jesus wil weet waarom hulle Johannes dan nie geglo het nie. As hulle sê dit kom van mense af, was hulle in die moeilikheid by die volk, wat agting vir Johannes gehad het. Hulle enigste uitweg is om te sê hulle weet nie.

Jesus weier gevolglik om hulle oorspronklike vraag te beantwoord. Daarmee verwerp Hy hulle gesag om Hom te bevraagteken of te ondersoek.

Op ‘n dieper vlak

Agter Jesus se teenvraag lê ‘n diep uitnodiging aan die godsdienstige leiers. Hy nooi hulle uit om God aan die werk te sien. Deur te vra na Johannes die Doper wanneer sy gesag getoets word, wil Hy hulle help om na te dink oor hulle vermoë om God raak te sien. En God te herken wanneer God op aarde werk.

Die godsdienstige leiers se probleem is dat hulle verkeerd glo. Hulle soek God op plekke en in maniere van doen waar God nie is nie. Hulle wou ‘n God hê wat hulle nie verras nie, en hulle maniere van dink en doen bloot sou bevestig. Hulle manier van glo het hulle blind gemaak vir God en God se openbaring.

Ander Jode kon God se werk in Jesus se bediening herken. Prostitute en tollenaars het Jesus as koning aanvaar. Talle Jode het op Johannes se oproep tot bekering gereageer. Hulle het Johannes se aankondiging dat Jesus die Messias is gehoor en aanvaar. Die godsdienstige leiers was egter blind.

‘n Teregwysing

Die gelykenis van die twee seuns (verse 28 tot 31) is ‘n teregwysing aan die Joodse godsdienstige leiers. Hierdie gelykenis van die twee seuns kom slegs in Matteus voor. Dit teken twee reaksies op God se woord. Albei seuns verontagsaam die opdrag om vader en moeder te eer (Eks 20:12).

Jesus se gelykenis moet figuurlik geïnterpreteer word: Die eerste seun is die tollenaars en prostitute, en die tweede seun verteenwoordig die priesterhoofde en familiehoofde. As Johannes die Doper mense oproep tot bekering, is dit die tollenaars en prostitute wat tot inkeer kom en gedoop word. In hulle geval was dit eenvoudig, want hulle sonde was opsigtelik en duidelik; selfs vir hulleself. Die godsdienstige leiers sien geen rede vir bekering nie en verwerp dus Johannes se oproep tot bekering.

Die Joodse leiers weet dat die eerste seun doen wat die Vader wil hê (vers 31). Ironies genoeg veroordeel hulle hulself met hierdie antwoord. Dit laat mens dink aan die profeet Natan wat aan koning Dawid ’n gelykenis vertel het (2 Sam 12:5-7). Maar anders as Dawid (2 Sam 12:13), bly die Joodse leiers kliphard en onberoulik.

Waar staan ons?

Ons kan Jesus se gelykenis sien as ’n prentjie wat ook aan ons wys waar ons staan in ons verhouding met Hom.

As mens in Jesus se tyd leef is die eerste seun die tollenaars en die prostitute en die tweede seun is die Joodse godsdienstige leiers.

As ons ’n paar dekades verder staan (bv. in Matteus se tyd, toe die evangelie geskryf is), het die eerste seun die heidene of die nuwe kerk verteenwoordig, en was die tweede seun die Jode of Israel. Mense uit die heidense volke het Jesus se koningskap aanvaar en geglo, die Jode het Jesus steeds verwerp.

As ons verder aan beweeg na vandag toe, het die eerste seun weer ’n ander gesig: die herstellende alkoholis; die klein groepie aanbidders in ’n vervalle saal; ’n kerk wat werklik aandag gee aan die nood rondom hulle; ’n predikant wat werklik oproep tot bekering en gehoorsaamheid; ’n lidmaat wat offer deur bydrae te gee; ’n jongmens wat erns maak met die huwelik; almal wat, hoe onwillig of pynlik ook al, groot erns met die gehoorsaamheid aan God maak.

Cynthia, die vrou wat van dwelms en prostitusie weggedraai het, en nuut begin het, is ‘n gesig van die eerste seun.

Die tweede seun is die mens in die kerk wat nie toelaat dat Christus in die diepste van sy hart kom kyk nie; die Christen wat weier om Christus te gehoorsaam in delikate sake soos seks, geld en mag. ’n Kerk wat sake soos geregtigheid en barmhartigheid en genade ignoreer; met ander woorde, almal wat getrou voorkom, maar diep in hulle harte nie werklik aan God gehoorsaam is nie.

Dit is opmerklik in die gelykenis dat niemand geprys word nie! Dis ’n prentjie van twee onvolmaakte mense. Nie een van die seuns het ten volle vreugde aan die vader verskaf nie. Die een wat egter uiteindelik gehoorsaam was, het oneindig meer beteken as die ander een.

Selfondersoek

Aan begin van sy bediening roep Jesus mense tot bekering. Die boodskap hou geen verrassing in vir die tollenaars en die prostitute nie. Hulle het geweet wat hulle doen is verkeerd. Hulle weet die enigste hoop vir hulle voor God is ’n totale omkeer en ’n nuwe begin. Toe hulle die woord aanvaar en genade vind, is hulle op hulle weg na die koninkryk geplaas!

Die probleem kom by die mense wat dink die oproep is nie vir hulle bedoel nie. Wat die morele dinge in hulle lewe in plek het. Hulle sit eenkant in selftevredenheid, en is nie soos die gewone mense nie. Hulle is ietwat verhewe in selfregverdiging, weg van die uitdagings van die wêreld in sy stryd en nood!

Daarom is selfondersoek so nodig. Is ons dalk selftevrede, soos die Joodse leiers? Daar is baie te sê vir die afgooi van selftevredenheid en selfregverdiging (gewillig om deel te wees van die stryd wat binne onsself aan die gang is) om aan Jesus gehoorsaam te wees in ’n stukkende wêreld.

Ons moet leer om soms ietwat agterdogtig te wees oor ons eie optrede, ons manier van lewe en ons eie manier van hoe ons ons godsdiens uitleef! Ons moet steeds begeer om vernuwe te word – weer en weer en weer! Om elke keer die onverdiende toegang tot die koninkryk te vier.

So sal ons saam met tollenaars en prostitute kan sing oor ons onverdiende plek in die koninkryk van die hemel.

God se gesag

Dit alles is nodig omdat Jesus inderdaad die gesagvolle Woord van God is. Jesus is die Koning wat die reg het om ons lewens te rig.

Dat mense so voorbarig kan wees om God te betwyfel en na sy gesag te vra, is ondenkbaar. En tog doen mense dit – ook kerkmense.

God se geduld raak egter nie op nie. Altyd weer bevestig Hy sy gesag en so word die geskiedenis ’n verhaal van sy verlossing. Ook ons moet dus vandag, nou, God se gesag erken en daarvolgens lewe.

Op dié manier kan eerste én tweede seuns, ons almal, deel in die vreugde wat tollenaars en prostitute, die Cynthia’s van hierdie wêreld, al op baie plekke en tye ontdek het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 481 “Ontwaak jy wat slaap” of
F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”

Seën

Respons
Lied 223 Refrein “Kom loof hom. Loof hom. Loof hom. Loof home n volg hom as u Heer” of
VONKK 88 “Amen”