Sesde Sondag van Paastyd (Palsmsondag)

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag van Paastyd staan bekend as rogate, “roep”. In Psalm 98 word die hele skepping opgeroep om eer te bring aan God, wie se liefde en trou ewig is. In beide die Johannestekste word ons opgeroep tot liefde, want in ons liefde vir mekaar, vir God en vir ander beleef die wêreld God se liefde. In Handelinge lees ons hoe ook nie-Jode op God se roepstem reageer en in Christus glo.

Ander tekste

Handelinge 10:44-48 – God roep ook mense wat nie Jode is nie

Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45–46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae by hulle te bly.

Psalm 98 – Die heelal roep uit dat God oorwin het
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here
98 ’n Psalm.
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin.
2Die Here het sy oorwinning
bekend gemaak,
aan die nasies het Hy
sy reddingsdade geopenbaar.
3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde
en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God
die oorwinning behaal het.
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here
met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here,
die Koning.
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

1 Johannes 5:1-6 – In ons liefhê van mekaar roep God die wêreld.
Liefde en geloof
5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die getuienis oor Jesus Christus
6Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.

Fokusteks

Johannes 15:9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Ekstra stof

Die opbou van Johannes
Die evangelie het ’n proloog wat op Jesus as die gestuurde Woord van God fokus (1:1-18) en ‘n epiloog wat op die dissipels se uitsending fokus (21:1-25 – vgl 20:21) met die verhaal van Jesus wat in twee dele vertel word:

1. Die publieke Joodse bediening van Jesus met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar binne die konteks van die Joodse feeste – 1:19-12:50.
2. Die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se laaste Paasfees– 13:1-20:31.

Johannes 13-17
Die fokus van die eerste deel van die Johannes evangelie, Johannes 1-12, was op die publieke bediening van Jesus waarin Hy sewe wondertekens gedoen het wat onomwonde sy ware identiteit as die Seun van God openbaar het, en dit binne die konteks van die Joodse feeste.

Ons teks val binne die tweede deel van die Johannes lees waar die fokus gaan val op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se bywoning van sy laaste Paasfees.

Jesus se persoonlike bediening aan die dissipels word aan die hand van die volgende aspekte aan die orde gestel:

  • Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels en wys hoe ware gemeenskap werk, terwyl Hy tegelykertyd vir Judas as Sy verraaier uitwys;
  • Johannes 13:31–14:31 – Jesus onderrig  sy dissipels baie persoonlik dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is;
  • Johannes 15:1–26 – Jesus nooi hulle in na ’n diep gemeenskap met Hom as die ware wynstok – ons teksgedeelte vir dié Sondag en die volgende een;
  • Johannes 16:1-33 – Jesus verkondig die werk van die Heilige Gees as voortsetting van sy eie bediening;
  • Johannes 17:1–26 – Jesus bid vir sy dissipels om in ’n diep eenheid met God en met mekaar te leef.

Let op dat die eerste episode met Judas en Petrus (Joh 13) eintlik die agtergrond verskaf vir ‘n groot deel van wat Jesus in hierdie toespraak op pad na Getsemane sê.  Die realiteit is, ’n mens kan God se keuse vir jou afwerp en ignoreer soos ’n Judas, of in jou gebrokenheid aanvaar en omhels soos ’n Petrus.

Johannes 15
Die tema van Johannes 15 kan as volg verwoord word: Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe

Die hoofstuk val in drie dele uiteen:

  • Jesus is die ware wynstok – die Een in Wie hulle moet bly om vrug te dra – 15:1-8;
  • Jesus het hulle uitgekies om vrug te dra – hulle sal dit doen deur mekaar lief te hê – 15:9-17;
  • Soos die wêreld Jesus gehaat het, sal die wêreld hulle ook haat – Jesus stuur vir hulle die Heilige Gees wat hulle in hul getuienis sal bystaan – 15:18-27.

15:1-8: Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel.  In die OT is Israel baie keer met ’n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9–16; Jes 5:1–7;  Jer 2:21;  Eseg 19:10–14;  Hos 10:1).  Waar Israel egter ’n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sal groei en gedy.

Die klem lê op wat God deur Jesus regkry in die lewe van gelowiges.  Hy is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra.

Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie.  Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het.  En dit bly ’n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrugdra word egter reg gesnoei sodat hulle nog meer vrug kan dra.  Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19).

Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer – Judas egter geen: net sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3) word ons vertel.

Die reg snoei werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra.  Die geheim van vrug dra is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen.  Dit moet ’n huis word waarin jy woon.  Dit moet jou hele lewe bepaal.

Let op weereens dat die vrug uitgespel word as gebedsverhoring en dissipelskap (vgl Joh 14:13).  Dit is om in Jesus te bly, en van Hom te vra dat God verheerlik word in die lewens van mense – en Hy belowe om daardie gebede te beantwoord.

15:9-17:  Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as model vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê.  En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (woorde) selfs al sluit dit die dood in (vgl ook 1 Joh 3:16).  Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God, wat in sy vertroue geneem word, soos ’n Abraham van ouds (Gen 18)!

En die gehoorsaamheid hieraan ook nou weer nie afhanklik gemaak van ons keuse vir God nie, maar van Sy keuse vir ons.  Anders as die dissipels van daardie tyd wat ’n rabbi vir hulleself gekies het, het Jesus self sy dissipels uitgekies!  Dit is hoe God werk!

Dit is eintlik ongelooflik.  Dit is Hý wat ons aangestel het om vrug te gaan dra, en wat sorg dat iemand soos Petrus die reus kan word wat ons aan die einde van sy lewe in hom kon raaksien.  Dit is ’n ongelooflike troos as ‘n mens aan jou eie broosheid en gebrokenheid dink.  Hy kan dit ook vir jou doen.

Weereens herhaal Jesus die feit dat Sy Vader ons gebede sal verhoor – daar is niks belangriker as gebed nie!

15:18-27: Soos so vele kere in die evangelie van Johannes word onmiddellik na die hoopvolle verkondiging van God se werk in ons, ook die konteks van die teenstand wat ons van die wêreld sal ervaar, geteken.  Die wêreld sal ons haat.

Wat in moeilike omstandighede ons kan troos en bewaar, is die wete dat dit nie anders was met Jesus nie, en dat teenstand die Skrifwoord bevestig: “Hulle het My sonder rede gehaat”.  Dawid se woorde word op Jesus van toepassing gemaak uit Ps 35:19; 69:5 .  Agitofel is waarskynlik weereens die agtergrond vir wat Dawid daaroor te sê het en laat ’n mens dink dat Jesus vir Judas met Agitofel vergelyk.

Daarby stuur Jesus vir hulle die Heilige Gees wat self sal getuig oor Hom en hulle in hul getuienis sal versterk.  Daaroor sal die volgende hoofstuk meer te sê hê.

En uiteraard kan ons nie self val vir die verleiding van die wêreld nie, en die wêreld en die wêreldse dinge leer lief kry nie, want dan versaak ons die Een wat in ons werk om vir Sy wil te vra en dit te doen (1 Joh 2:15).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die sesde Sondag van Paastyd staan bekend as rogate, “roep”. In Psalm 98 (oa) word die hele skepping opgeroep om eer te bring aan God, wie se liefde en trou ewig is. Die liturgie wil aansluit daarby om God se naam groot te maak.

Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here…
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.
(Uit Psalm 98)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
(Openbaring 1:4-5)

Die sesde Sondag van Paastyd staan bekend as Rogate (“Roep”)
Gebruik dalk 3 lidmate om elk een van die Skrifgedeeltes wat met “roep” verband hou voor te lees.
Dit word telkens afgewissel met ‘n gemeente respons in die vorm van ‘n gepaste lied wat liefs staande gesing kan word.

1e Skriflesing: Jesaja 40:3-5 ()
3Iemand roep:
“Maak vir die Here ’n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
’n grootpad vir ons God!
4Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant
moet gelykgrond word.
Elke bult moet ’n gelykte word
en elke koppie ’n vlakte.
5Dan sal die mag van die Here
geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”

Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,3”

2e Skriflesing: Jesaja 40:9-11 ()
9Klim op ’n hoë berg en roep hard, Sion,
jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem,
jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!”
10Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam
wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort,
is by Hom.
11Soos ’n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar
in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.

Lied Psalm 23 (Lina Spies) “Die Here is my herder… vs 1,2,3”

3e Skriflesing: Psalms 86:1-7 ()
Gee U my tog krag!
86 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.

8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot
en doen magtige dade,
U alleen is God.
11Leer my u pad, Here,
ek wil wandel in u waarheid;
leer my U met toewyding dien.
12Met my hele hart sal ek U prys,
Here my God,
u Naam altyd eer,
13want u liefde vir my was groot:
uit die dieptes van die dood
het U my gered.

Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1, 4”

Geloofsbelydenis
Ek glo dat God my Vader is
en dat my Vader
die almagtige Skepper van hemel en aarde is.

Ek glo dat Jesus Christus my enigste Koning is,
dat Hy gesterf het sodat my sonde vergewe kan word;
dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ek ‘n nuwe lewe kan leef;
dat Hy opgevaar het na die hemel om vir my by die Vader in te tree;
en dat Hy weer terugkom om alles volkome nuut te maak.

Ek glo dat die Heilige Gees aan my gegee is om my in die volle waarheid te lei
en my aan God gehoorsaam te maak.

Ek glo dat ek in Christus deel is van die kerk
en dat alle gelowiges my broers en susters is
saam met wie ek in liefde moet leef as die huisgesin van God.

Ek glo dat ek in Christus
‘n kind van God geword het,
die ewige lewe ontvang het
en eendag uit die dood sal opstaan
om vir ewig in God se teenwoordigheid te lewe.
(Outeur onbekend, uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Liedere

F13. “Tel My Op”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Til mij op
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1999 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Deut 1:31 en Jes 63:9)

1 & 2 Ek wil naby aan U wees,
soos ‘n seun op sy vader se skoot.
Ek wil naby aan U wees.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:
En U tel my op, neem my in U arms.
En U tel my op, druk my styf teenaan U vas.
En U tel my op, dra my in U arms.
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

Ek wil naby aan U bly,
soos ‘n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:

Brug:
Dra my deur die diepe water,
waar ek self nie meer kan staan
In U arms is ek veilig,
wanneer U my dra as ek nie verder kan gaan.

Koda:
Ek mag naby aan U bly,
soos ‘n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly,
dit is die plek waar ek hoor.
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F112.(a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Johannes 15:9-17

Prediking

Familie-oomblik

Opsie 1
Kinders verstaan Johannes se verbintenis van liefde/vriendskap aan gehoorsaamheid.  Kinders gehoorsaam mense eerder as reëls, veral dié mense vir wie hulle respek het of van wie hulle hou.  Jy kan uitbrei oor leiersfigure/sporthelde wat spelers/mense maklik navolg.

Op soortgelyke wyse volg ons Jesus/God na en doen wat Hy sê, omdat ons vir Hom liefhet, en Hom gehoorsaam.

Opsie 2
Vandag is Moedersdag!  Kyk hier vir interessante feite oor die geskiedenis van Moedersdag.)  Gesels met die kinders oor hul mammas.  Vra hoe hulle weet hul mammas is lief vir hulle – meeste van die antwoorde sal te doen hê met die goed wat Mamma dóén.  Vra dan hoe ons vir Mamma kan wys ons is lief vir haar.  Verbind die antwoorde aan die teksgedeelte:  Jesus is lief vir ons.  Omdat Jesus ons liefhet, is ons ook lief vir ander.  Ons kan ons liefde vir ander mense wys op allerhande maniere (verwys na die maniere waarop hulle gesê het hulle kan vir Mamma wys dat hulle haar liefhet.  Om aan te sluit by die inleiding van die preek, kan jy ook verwys na die verskillende barmhartigheid bedieninge van die gemeente en hoe die kinders daarby betrokke kan raak, bv. gebed, ou speelgoed skenk, geld insamel, besoeke aan aftree-oorde, ens.)

Sluit af met ‘n gebed vir mammas.  Laat die kinders dit hardop agter jou aan bid:

Here Jesus/ dankie dat ek U kind is. / Dankie ook vir my mamma. / Help my om liefde te wys / vir my mamma / en vir ander mense. / Amen.

Opsie 3
Vertel die pragtige storie van “Four Feet, Two Sandals” deur Karen Lynn Wiliams and Khadra Mohammed.  “It tells of two little girls in a refugee camp in Peshawar who come away from a scramble for used clothes each wearing one beautiful yellow sandal with a blue flower on it.  Neither girl has other shoes.  Rather than fight over the sandals they decide to take turns wearing them one day each.  Some days when they are together they each wear one just for fun.  When one girl’s family is moved on to America, the girls decide to each keep one sandal as a memory and as hope that one day they will again share together in America.” (Bron)
(Prent van Doug Chayka)

Opsie 4
Vertel die storie:  “The Proper Use of One’s Shell”:  “The Proper Use of One’s Shell is a story about a little snail and the snail’s search for friendship and love. At a time when she feels very lonely, the little snail meets Sonny the Sunflower. The little snail says that she is not attractive the way Lily the ladybug is, she has had her feelings hurt by Hassan the Honeybee, and she could not follow the rules of friendship set down by Sammy the slug. Sonny the Sunflower tells the little snail about love, using the words from I Corinthians 13. The little snail says that she cannot know for sure that Sonny is a true friend because the little snail cannot see Sonny’s face. She slides back into her shell and cries. But Sonny whispers that “Love is patient, love is kind…” and gradually the little snail feels loved by Sonny–who has bent down, and brought his face closer to the little snail. At last, the little snail feels loved from the inside out. Unfortunately, Sonny, who was supposed to stay upright, facing the sun, begins to drop his seeds.  He says that there is no greater love than one who will lay down his life for his friends. As Sonny’s petals begin to fall to the ground, the little snail is comforted by remembering Sonny’s important words: “Keep me in your heart and you will never really be alone.” The little snail plants sunflower seeds in honor of Sonny and she teaches the lessons she has learned to Ricky the red ant. This busy red ant tells the little snail how beautiful she looks, with many colors reflecting off her shell!”

Preekriglyn

Mense wat ander help is gesonder en leef langer.  Dit is een van die bevindings van ‘n navorsingspan o.l.v. Stephen Post, professor van bio-etiek by die mediese skool van Case Western Reserve University.  Die navorsingspan het vyftig wetenskaplike studies oor vrywilligers bestudeer en gevolgtrekkings daaroor gemaak.

Een van hierdie studies, deur die Cornell Universiteit, het 427 vroue, almal getroud met kinders, oor 30 jaar gevolg.  Die navorsers het bevind dat slegs 36% van vroue wat gereeld vrywillige diens gelewer het ‘n groot siekbed ervaar het, teenoor 52% van diegene wat nooit vrywillig diensbaar was nie.  Ander studies het bevind dat diegene wat hul tyd vrywillig in ander se diens spandeer, langer leef dan diegene wat dit nooit doen nie.  Gereelde vrywilligers het ‘n 44% verminderde kans op ‘n vroeë dood teenoor diegene wat nooit vrywillige diens verrig nie.

Wetenskaplikes kon die spesifieke areas in die brein beskryf wat gestimuleer word wanneer empatiese en meelewende emosies beleef word.

Prof Post sê: “Hierdie studies kon die diepliggende vreugde en genot in die chemiese strukture van die brein, wat gepaard gaan met diens aan ander, identifiseer.  Dieselfde emosies word nie beleef wanneer mense uit blote pligsbesef handel nie.  ‘n Tjek wat vir ‘n goeie saak uitgeskryf word, lei nie noodwendig tot hierdie soort diep belewenis nie.  Die brein ervaar geluk wanneer mense daarin slaag om ‘n egte vrygewige ingesteldheid in verhouding tot ander mense ontwikkel.  Daar is die glimlag, die stemtoon, die bemoedigende aanraking van die skouer.  Ons praat van altruïstiese liefde, liefde wat die belange van die ander hoër ag as eie belange.”
(Jeanie Lerche Davis, “The Science of Good Deeds,” WebMD.com, November 28, 2005)

Geroep om liefde te versprei

Die sesde Sondag van Paastyd staan bekend as “Rogate” of “roep”.  Ons word vandag opgeroep om te lewe en te getuig van die Een in en deur wie ons lewe.  Volgelinge van Jesus word geroep as gestuurdes om liefde, blydskap en vriendskap na ’n deurmekaar en seer wêreld te bring.  “The Christian vocation is to give love freely and generously without counting the cost or wondering and worrying about who is on the receiving end of our limitless love.” (O’Day, soos aangehaal deur Pieter van Niekerk in Preekstudies 2011-12).

Ons teks roep ons op om agente van die liefde te wees.  Ons hoef nie egte liefde te genereer nie.  Ons verleentheid is dat ons nie kan nie.  Soos ‘n menslike ketting wat emmers water aangee wanneer ‘n brand geblus moet word, moet ons die liefde by die ware Bron ontvang, en aangee.  In hierdie aksie spat die liefde ons ook nat, en verander dit ons lewens.

Bron van egte liefde

Jesus begin sy oproep tot liefde in vers 9 met die bevrydende woorde:  “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.  Julle moet in my liefde bly.”

Regdeur die Johannes-evangelie word die diepe liefde tussen Vader en Seun uitgebeeld.  Die Heilige Gees word ook ter sprake gebring in die beskrywing van die heilige Familie van Vader, Seun en Gees as liefdesgemeenskap.  As mens wil weet waar ware liefde heers, is dit te vind in die liefdesband van die goddelike Persone, Vader, Seun en Heilige Gees.

Hierdie drie-enige goddelike Familie trek ons in liefdesgemeenskap in.  Die Vader het lief, stuur die Seun as gesant van die liefde om liefde in die wêreld uit te stort.  Die Seun versamel deur die werk van die Gees ‘n liefdesgemeenskap.

In Johannes 15 praat Jesus met die embrio van die liefdesgemeenskap wat die Triniteit in die wêreld stig.  In hierdie gesprek verduidelik Hy dat liefde die standaardkwaliteit is van die gemeenskap wat die Triniteit stig.

Jesus se kerk is dus ‘n liefdesgemeenskap.  Die kerk is soos ‘n dam met ‘n invloei en ‘n uitvloei.

Die invloei is die liefde wat Jesus aan die kerk as gemeenskap betoon.  Hierdie liefde beleef Jesus van die Vader, en Hy gee dit deur aan die kerk.  Die kerkgemeenskap is groep om die liefde aan die wêreld deur te gee.

Dit is verskriklik belangrik om te snap die kerk hoef nie self die liefde te skep nie.  Die kerk is nie ‘n liefdesfabriek nie.  Die oomblik wanneer ons mekaar oproep om liefde te skep, is ons met moralisering besig.  Die oomblik dat ons mekaar begin verwyt dat ons nie genoeg liefde het nie, maak ons die liefde dood.

Ons kan nie liefde skep nie.  Ons moet hierdie “verleentheid” ernstig neem.  Ons kan liefde net ontvang.  Ons kan dit net van die Vader, deur die werk van Jesus en die Heilige Gees kry en beleef.  En hierdie liefde dan met ander deel – oor alle denkbare grense heen.

God is die Bron van die liefde.  Jesus betoon dit aan ons.  Die Heilige Gees stort hierdie liefde in ons harte uit (Rom. 5:5).

Wie tekort kom aan liefde, moet in die liefdevolle hande van Jesus val.  Moet hierdie liefde fisies, emosioneel en geestelik toeëien.  En daaruit leef.  “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” (12)

Riglyn vir die liefde

Hoe weet mens jy bly in Jesus se liefde?  Vers 10 gee die sleutel: “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van My Vader uitvoer en in sy liefde bly.”

Jesus skep ‘n geloofsgemeenskap deur sy geboorte, lewe, lering, sterwe, opstanding en hemelvaart.  Sy lering is geweldig belangrik.  Die lering spel vir ons as geloofsgemeenskap uit waar ons vandaan kom, hoe ons geskep is, en wat die wyse is waarop ons moet leef.  Jesus gee opdragte.  Jesus gee ook die sleutel wat die opdragte ontsluit: die sleutel is liefde.  Mens kan nie Jesus se opdragte uitvoer in ‘n ander toonaard as dié van die liefde nie.

Hoe lyk hierdie liefde?  Mense kan baie opinies hê oor wat liefde is.  Hieroor laat Jesus nie twyfel nie.  Liefde is om slawe-klere aan te trek en ander te dien, selfs hulle voete te was (Joh. 13).  Dis selfopofferende, nederig diens.  Liefde is om die Vaderhart, soos geopenbaar in die Bybel, te verstaan en vanuit die Vader se liefde te lewe (Joh. 15:9).  Liefde is om in gemeenskap met die ware Wingerdstok te lewe en vanuit Jesus se teenwoordigheid Jesus se bediening op aarde voort te sit (Joh. 15:1-8).  Liefde is om jouself te verloën, jou kruis op te neem en agter Jesus aan te loop.

Liefde verg altyd ‘n prys.  Die prys is selfverloëning.  Dit is om jou eie agenda op te skort en God se agenda uit te leef.  Liefde is altyd meer as selfbevestiging.  Jesus het ons lief (bevestiging), maar Jesus vra ons om hierdie liefde diensbaar op ander uit te stort.

Die maatstaf vir ons liefde is Jesus se lering, Jesus se gebooie.  Om een van die ander evangelies aan te haal:

Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.  Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
(Markus 12:29-31)

Toneel van liefde

Elke misdaad het ‘n plek waar dit plaasvind.  Die misdaadtoneel is ‘n belangrike aspek van die ondersoek wat na die misdaad gedoen word.

In hierdie sin van die woord kan ons van die ruimte of plek van liefdebetoning praat.  Watter aanduiding gee Jesus vir ons hieroor?  Wat is die plek of toneel wat ons liefdesbetoon afspeel.

In ons teks bring Jesus vriendskap ter sprake.  Vriendskapsliefde was in die antieke wêreld as ‘n baie hoë vorm van liefde gesien.  Jesus sê immers: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie….  Nee, ek noem julle vriende….” (15)

Sou Jesus ons hiermee help verstaan dat vriendskap ‘n belangrike toneel of ruimte vir liefdesbetoon is?

Opvallend dat vriendskap dikwels gebruik word as sleutel tot evangelisasie.  Diegene wat jy onder jou vriende tel, is ‘n baie belangrike ruimte vir liefdesbetoon en die deel van die evangelie van liefde.

Baie kerke en meer informele geloofsgemeenskappe begin doelgerig vriendskap en die vorming van nuwe vriendskappe gebruik om ruimtes te skep waarin die liefde van die Here gedeel kan word.  Dit geskied sonder agenda.  Gelowiges deel nie liefde om mense daarbuite “sag te maak” om die boodskap van Jesus te aanvaar nie.  Gelowiges deel liefde om die integriteit van ‘n lewe saam met Jesus te illustreer.  Mense kan besluit om hulle vertroue in Jesus te stel, en ook vanuit die Bron van liefde te leef, op grond van die lewenstyl wat hulle sien.

Avontuurlike ruimtes vir liefde

Jesus sluit sy lering in die Johannes-evangelie af met die opdrag: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle….”  Die liefdesdaad van Vader en Seun om uit te reik na die wêreld en ‘n groeiende groep mense in liefdesgemeenskap in te sluit, word nou deur Jesus se kerk voortgesit.  Die opdrag tot liefdesbetoon is ‘n opdrag van liefde-op-‘n-missie.

In hierdie trant begin baie gelowiges onwaarskynlike plekke benut as sentra van liefde.  Daar is gemeenskappe wat in kroeë kerk hou, of op ander openbare plekke.  Hulle behaal sukses daarmee.  Steve Sjogren vertel hoedat jongmense die evangelie deel deur toilette gratis in winkelsentrums te was.   Gevra waarom, sê hulle dis omdat hulle Jesus liefhet en soos Jesus wil dien.  Hulle help bejaardes by winkelsentra om hulle pakkies motor toe te dra, en dan vergoeding te weier.  Gevra waarom, sê hulle hul het Jesus lief.

In hierdie avontuurlike benadering is die kerklike of gemeentelike program of aksies nie langer die ruimte of toneel vir liefde nie.  Die wêreld, die nood van die wêreld, die plekke waar die wêreld vergader, verskaf die ruimte en agenda vir die kerk se liefdesbetoon.

Baie gelowiges ontdek dat die kerklike program nie die hooftoneel vir hul liefde en diensbaarheid is nie.  Dit is ‘n bevrydende ontdekking, want die kerklike program (hoe noodsaaklik ook al) isoleer gelowiges van die wêreld.

Werkplekke – daar waar ons in elk geval ‘n groot deel van ons lewe deurbring – word ‘n belangrike avontuurlike toneel van liefde.  Baie lidmate getuig dat die Here hulle by die werk gebruik om liefde in te weef in die lewe van kollegas.  ‘n Ouer kollega help ‘n jonger vriend deur ‘n huwelikskrisis, of begelei iemand om sy/haar vertroue in die Here te plaas.

Gelowiges laat die Here toe om hulle te verras met geleenthede om die Here se liefde te deel.  ‘n Vriend vertel onlangs hoe hy met ‘n petroljoggie bevriend geraak het.  Die vriendskap begin toe die joggie hom uitvra oor Rick Warren sy Purpose Driven Church wat op die passasiersitplek lê terwyl hy brandstof ingooi.  Die joggie het dit ook gelees.  Hy gaan gooi gereeld petrol in spesifiek wanneer dit sy joggie-vriend se skof is.  So kom hy agter die petroljoggie wil graag verder studeer.  Hy is nou besig om geleenthede vir die jongman te bemiddel.

‘n Groeiende “mekaar” 

Jesus se opdrag is dat ons mekaar moet liefhê.  Hierdie “mekaar” is nie ‘n geslote groep nie.  Te veel gelowiges meen “mekaar” is slegs die groep mense wat tans lede van die geloofsgemeenskap is.  Jesus se bedoeling is dat ons liefde vir die geloofsgenote, maar ook teenoor diegene wat tans nog buite geloofsgemeenskap staan, die kerk sal laat groei.  Ons naaste is diegene met wie ons pad van dag tot dag kruis.

Kom ons doen moeite met liefdebetoon teenoor almal met wie ons pad kruis.  Kom ons doen dit met die liefde van die Here.

Jesus sê: “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. ” (11)

Hierdie blydskap van diens is iets wat wetenskaplikes vandag in jou breingolwe en die chemie van jou brein kan meet.  Dit hou jou ook gesond en laat jou sommer langer leef!

God stuur ons om te leef

Gebed: (Ahv Ps 15 en Joh 15)
Here,
Om U te behaag wil ek van harte
onberispelik wandel
en doen wat reg is,
met my hele hart die waarheid praat,

nie kwaad praat nie,
my medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;

dié verag wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
my woord hou, selfs tot my eie skade,

my geld nie op rente uitleen nie
en my nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

Hieraan wil ek my graag hou,
en nooit wankel nie.

Om u vriend genoem te word, is my grootste eer-
ek wil my toevou in U liefde en so daarin bly.
Amen

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën
Mag die God van liefde jou toevou in onvoorwaardelike liefde.
Mag jy ander liefhê soos God jou liefhet.
Mag jy weet dat Jesus jou vriend is.
En mag jy op jou beurt weer ’n vriend vir ander wees.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.