Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Vandag is Sondag Rogate en  beteken “roep”.

Fokusteks

Johannes 14:23-29

Ander RCL tekste

Handelinge 16:9-15 (Paulus sien die “smekende Masedoniër”);
Psalm 67 (Die volke moet God loof oor sy reddende dade);
Openbaring 21:10; 21:22-22:5
(’n Gesig van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God in die nuwe Jerusalem); Johannes 5:1-9 (Die genesing van die verlamde by Betesda)

Johannes 14:23-29
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.

30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêrel is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Eksegeties

In die tonele, veral in die dialoog tussen Jesus en die dissipels in hoofstuk 13-14, is daar ’n interessante patroon in die vrae wat die dissipels vra en die antwoorde van Jesus. Jesus doen ’n verklaring en daarna vra die dissipels ’n vraag wat hulle verwarring weergee. In Jesus se antwoord volg ’n verdere verduideliking. Die wisselwerking tussen die dissipels wys ook op die geloofsgemeenskap as geheel. Dit is belangrik om elke dissipel se rol in die evangelie te volg.

Jesus se afskeidsdiskoers in Johannes 13-14
(vgl Köstenberger en Neyrey)

Disciple Statement Misunderstanding Clarification
Peter (1)

 

13:7-9

“What I am doing now you do not know now; afterwards you will understand.”

13:8a

“You shall not wash my feet forever.”

13:9

“If I do not wash you, you will have no part of me.”

Peter (2) 13:36-38

“Where I am going you cannot come now, but afterwards you will follow.”

13:37

“Why can I not follow you now? I will lay down my life for you.”

13:38

“The cock shall not have crowed till you have denied me three times.”

Thomas 14:1-4

“In my father’s place there are many rooms . . . I am going there to prepare place for you. You know the place where I am going.”

14:5

“Lord we do not know where you are going, so how can we know the way?”

14:6

“I am the way the truth and the life. No one comes to the father except through me.”

Philip 14:7

“If you really knew me, you would know my father as well. From now on, you do know him and have seen him.”

14:8

“Lord show us the father and that will be enough.”

14:9-12

“Don’t you know me Philip?

“Anyone who has seen me has seen the father. Don’t you believe that I am in the father, and that the father is in me. Rather it is the father, living in me, who is doing his work.”

Judas 14:21

Whoever has my commands and obeys them, he is the one who loves me. He who loves me will be loved by my Father, and I too will love him and show myself to him

 

14:22

“But, Lord why do you intend to show yourself to us and not to the world?”

14:23f

“If anyone loves me he will obey my teaching. My father will love him and we will come to him and make our home with him . . .”

Teaching

“But the parakletos, the Holy Spirit, whom the father will send in my name, will teach you all these things, and will remind you of everything I have said to you.”

Parakletos is ʼn saamgestelde woord (para-kletos).Para beteken langsaan of parallel en kletos/kalein is om te roep – letterlik iemand wat geroep is om te help, langs jou te kom staan/loop. Ander woorde vir parakletos is: “helper”, “mediator”, “advokaat”, “parakleet”. In die geskrifte van Johannes self is daar verskillende ander woorde om die Parakletos te beskryf: In Johannes 14:16 is parakletos verder as ’n “ander” parakletos, ook as die “Gees van Waarheid” beskryf. In Johannes 14:26 word die parakletos ook die Heilige Gees genoem. In Johannes 15:25 is die parakletos weereens die “Gees van die Waarheid” genoem (vgl 16:13) – wat sal getuig. In Johannes 16:7 is slegs verwys na die parakletos wat sal kom wanneer Christus weggaan en wat Hy sal stuur. In
1 Johannes 2:1 is die parakletos, Jesus Christus, die Regverdige.

Enkele kenmerke van die Heilige Gees kan uit Johannes se beskrywings gemaak word: dat die Heilige Gees ’n verdere Parakleet is wat naas Christus vir ewig met ons sal wees. Die Parakletos is die “Gees van Waarheid” wat van die Vader kom en wat deur Christus en die Vader gestuur is en getuig, onderrig, leer en in herinnering bring. Die Parakleet is soos Christus beskryf as die Waarheid (Joh 1:14; 14:6) en soos Christus herken die wêreld Hom nie – slegs dié wat Hom in geloof sien/die wil van die Vader doen (vgl Joh 1:10-11;  14:22-24). Die titel Heilige Gees word drie keer in Johannes gebruik (1:33; 14:26 en 20:22). Daar is ’n besondere verbintenis tussen die Heilige Gees en vrede (vgl Joh 14:25-27; 20:19-22). Dit is ook die Parakleet van gehoorsaamheid (Joh 14:23-31).

In sekulêre Grieks het dit op die persoon wat jou in ‘n hof bystaan gedui (die Latynse vertaling advocatus het later ‘n tegniese term geword).  Ons het dus regshulp op aarde (die Gees) en die hemel (Jesus).

Mone in Johannes 14:2 en 14:23 wys op woonplek. Die gebruik van mone in vers 2 en 23 is interessant – die heengaan om ’n woonplek te gaan gereedmaak, en die kom om die woonplek by enige een te maak wat die vader liefhet en sy opdragte gehoorsaam. Waar woon God? Die verwante werkwoord om woning te kom maak is ’n woord wat dikwels deur Johannes gebruik word.

Hoe het Judas verwag Jesus moet Homself openbaar – as die koning (vgl Joh 6:15; 18:36) of as die profeet (Joh 6: 14)? In Johannes 14:31 sê Jesus Hy het die Vader lief en Hy doen wat Hy beveel. Dit is die getuienis van die Waarheid – dit is die Openbaring van God. Dit is die verwesenliking van Johannes 3:16 – sodat die wêreld kan glo en gered word. God word aan persone om ons en aan die omgewing geopenbaar. God is waar sy getuies is – getuies van die waarheid, vrede en liefde. Dit is belangrik dat die woorde “Julle moet nie ontsteld wees nie” ’n herhalende refrein in hoofstuk 14:1, 27 is. Dit is ’n trooswoord wat hoofstuk 14 omring en onder andere wys na die verstrooiing in 16:33.

Enkele chiasmes kan aangetoon word:

Johannes 14:15-21a
a 15: liefde / opdragte
b   16-17 Gees / bly in julle / ken Hom
c   18: nie weeskinders nie
b1 19-20 Jesus /  bly in julle / ken hom
a1 21a opdragte / liefde

Johannes 14:16-26
a 16-18: Parakletos / Gees van Waarheid
b1 9-21 my opdragte uitvoer / my liefhet / my
Vader sal hom liefhê / Jesus liefhê
c   22 Judas / openbaar Uself
b1 23-24 my opdragte uitvoer / Vader sal hom  liefhê / nie liefhê nie
a1   25-26 Parakletos / Heilige Gees

Johannes 14:21-31
a 21 my opdragte uitvoer / my lief het / my Vader sal
hom liefhê / Jesus lief hê
b2 2-24 Judas se vraag/  nie my woord nie, my
Vader s’n
25-27 Parakletos / gawe van vrede
b1 28–30  antwoord op Judas se vraag / Vader is groter as Ek
a1  31  Jesus voer sy Vader se opdragte uit  / Jesus het die Vader lief

In die afskeidsdiskoers is die Johannese temas: kennis, openbaring, inwoning (Vader, Seun en gelowige), die werk van die Seun (en gelowige), die liefde en diens-werk so vervleg, dit is moeilik om hulle te skei en daar kan op enigeen gefokus word. Die temas is soos ’n ketting, die een skakel by die ander in.

Hermeneuties

Dit is nie seker wie die outeur van Johannes is nie, maar dit is waarskynlik geskryf deur ʼn Joodse Christen vir ʼn Joodse Christengemeenskap. Vandag weet ons ook nie wie die geliefde dissipel was nie. Die geliefde dissipel is wel ʼn historiese figuur wat ʼn ooggetuie van die gebeure was (Joh 19:35) en wat ʼn bepalende rol in die evangelie speel. Die geliefde dissipel, die ontvanger van die liefde van Christus, is ook vir die leser vandag ʼn simboliese figuur van ʼn intieme persoonlike verhouding met Christus; iemand wat gesien het en geglo het. Hoewel dissipelskap ʼn belangrike tema in Johannes is, speel die twaalf dissipels self nie so ʼn sentrale rol soos geïllustreer in die sinoptiese evangelies nie. In die tonele voor die kruisiging speel die dissipels wel ʼn rol in die dialoog tussen hulle en Jesus. Aan die eenkant wys die vrae wat die dissipels vra op hulle verwarring; aan die anderkant openbaar dit elke keer iets meer oor die identiteit van Christus, sy rol en doel van sy vleeswording. In die tussenspel van Jesus en die dissipels word God openbaar. Daarin word die rol en verhouding van die geloofsgemeenskap met Christus weerkaats – om lief te hê en om diensbaar te wees.

Vermoedelik is die eerste hoorders van die evangelie persone wat vervolg en uit die sinagoges verban is (Joh 9:22; 12:42; 16:2). Hulle het ʼn alternatiewe sosiaal-religieuse gemeenskap gevorm binne die breër samelewing van die laat eerste eeuse Palestynse wêreld. Tog, deur die verhaal is daar seine van die pyn van hierdie intra-Joodse konflik, veral met die Joodse godsdienstige leiers. In die afskeidsdiskoers word die gelowiges ook spesifiek getroos (Joh 14:1, 27; 16:33).

Die narratiewe en diskoerse in Johannes, ook die wonderwerke/tekens, wentel om die vraag “wie is Jesus en wie is God?” – daarom dat die evangelie van Johannes beskryf kan word as die openbaring van God. Die literêre styl van die skrywer ondersteun die openbaring van God en betrek die lesers in die reaksies op dié openbaring. Die wyse waarop persone op Christus en sy openbaring reageer, is ʼn belangrike tema in die narratiewe. Sal hulle Jesus aanvaar of verwerp? Sal hulle die openbaring verstaan (vgl Joh 16:29-31)? Die kern van die openbaring is die menswording van God se Woord. In Christus se inkarnasie is God geopenbaar soos nog nooit tevore nie en, sien en hoor, voel en proe ons God opnuut. Dit is ʼn nuwe openbaring – teologie is nou vir altyd anders – “as julle my sien het julle die Vader gesien”. Christus openbaar God se karakter en identiteit op ʼn besonderse wyse. Jesus ís God se Woord. “No line can be drawn between what Jesus says and what he does, between his identity and mission in the world. Jesus’ words and works, his life and death, form an indissoluble whole that provides full and fresh access to God . . . Christology redefines theology – that is, Jesus decisively changes how one talks about and knows God – but Christology does not replace theology” (O’Day, 1995: 495, 496).

Dit is ook belangrik dat die geloofsgemeenskap gedefinieer word deur Jesus se woorde en dade –  “soos ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê” (Joh 13:34-35). Die klimaks van Jesus se sending is in Jesus se woorde aan die kruis “dit is volbring” (Joh 19:30; 16:2-3). Die openbaring van God en die definisie van die geloofsgemeenskap kan nie staan of verstaan word los van die opofferende liefde van God nie.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: God skenk God se teenwoordigheid aan ons

Rus

Toetrede/aanbidding
Flam 21  “In die hemel”;
Flam 30  “U is in beheer”
Flam 58 “Skepper Gees”
Flam 8   “Al die lof, aanbidding en ere”
Flam 142 “Kom, Jesus, Kom!”
(Al bogenoemde liedere beskikbaar by www.flam.co.za)

Lof:  Lied 470 “U, Here, is ons Koning” of enige van die liedere onder die Paasfeesrubriek in die Liedboek

Familie-oomblik

Sê vir die kinders dat jy iets op die kansel gaan doen, maar dat hulle nie sal kan sien wat jy doen nie, maar dat hulle wel sal kan agterkom wat jy gedoen het.  Skyn dan met ‘n flits teen die muur, sodat hulle die lig sien, maar nie die flits nie.

Vra hulle dan:  “Wat het ek nou gedoen?  (Flits aangesit)  Hoe weet jy dat ek dit gedoen het?  (Jy kon die lig sien).  Kon jy die flits sien?  (Nee).

Alhoewel jy nie die flits kon sien nie, kon jy die effek van die flits sien.  Die lig van die flits het jou gehelp om te weet dat daar ‘n flits is – selfs al kon jy nie die flits sien nie.

Ons kan ook nie die Heilige Gees sien nie, maar ons weet dat Hy hier is, want ons sien die effek van sy werk.

1. Hy laat mense in Jesus belangstel.  Hy wys mense na Jesus toe, nie na Homself nie.  Toe die flits op die muur geskyn het, kon ons die muur makliker sien.  Die Heilige Gees help ons om Jesus te sien, help ons om te sien hoe nodig ons Jesus het.
2. Hy help ons.  Jesus het die Heilige Gees ‘n “ander helper” genoem, wat sy plek sou inneem wanneer Hy    na die hemel toe opgevaar het.  Het jy al gewonder wat maak dat mense aan Jesus getrou bly?  Die Heilige Gees help ons.  Hy help ons om die Here se stem in die Bybel te hoor.
3. Deur die Heilige Gees woon God die Vader en Jesus by ons en leer ons om life te hê soos God liefhet.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Fanie was ’n visserman van beroep.  Op ’n jong ouderdom was hy alreeds die skipper van ’n groot vissersboot.  Fanie vertel hoedat sy boot onlangs in ’n geweldige groot storm beskadig is.  Die bemanning was verskrik. Hulle het hul lewens gewaag om kabels tydens die storm oor die stuurkajuit te gooi om dit aan die dek vas te bind.  Hulle het gedink die storm gaan die stuurkajuit afruk.

Die vissersboot het begin lek terwyl hulle stadig begin aansukkel het hawe toe.  Hoe nader hulle gekom het, hoe hewiger het die storm gewoed.  Twintig kilometer van die hawe af het die bemanning gedink die vaartuig gaan uitmekaar breek.  Die boot het vinniger begin lek as wat hulle die water kon uitpomp.  Die wind en golwe het hulle so rondgeslinger dat hulle bang was om in die skeepsruim te bly om te pomp.  Verder was hy nie seker of iemand hulle noodoproepe oor die skeepsradio kon hoor nie.  En as iemand kon hoor, sou niemand kon help nie.

Meteens het daar ’n baie groot vissersboot tussen die reën en mis opgedoem.  Al wat die boot kon doen, was om skuins agter hulle te vaar, op so ’n manier dat die boot die ergste wind en golwe kon afkeer. Fanie se boot was in die windskaduwee van die groter boot.  Terwyl hulle aansukkel hawe toe, het die groter boot heeltyd skuins agter hulle gebly, tussen hulle en die ergste geweld van die storm.  Op dié manier het die storm hulle nie meer so rondgeslinger nie, kon hulle helderder dink, ’n paar van die lekplekke verseël, beter beheer oor die pompe neem en was hulle rustiger omdat hulle nie alleen was nie.

Deur langs hulle te vaar, het die boot hulle gered.  Fanie-hulle het die hawe lewendig en behoue gehaal.

Jesus leer ons in hierdie gedeelte dat die Heilige Gees as parakleet, die Een wat langs ons kom loop, aan ons gegee word (14:25).  Deur die werk van die Heilige Gees kom die Vader en die Seun self by ons bly (14:23).

God los ons nie alleen nie.  Die Vader en die Seun kom woon by diegene wat vir Jesus liefhet.  Dit is ’n werklikheid, spreekwoordelik “’n feit soos ’n koei,” ons is nie aan onsself oorgelaat nie.  Na Jesus se hemelvaart kom die Heilige Gees na ons as ’n Persoon, soos die Vader en die Seun.  Hy leer die gelowiges, en bind ons aan die Seun en aan die Vader.  Hy gee vir ons liefde vir Jesus en sy woorde, Hy help ons om te leef soos Jesus, en Hy vervul in ons lewens Jesus se belofte:

“As iemand My liefhet, sy hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (14:23).

God woon by ons.  Ons dra die hoogste Heiligdom in ons! God ondersteun en help ons.  Soos die groot boot se teenwoordigheid ’n geskenk aan Fanie en sy manne was, so skenk God deur God se teenwoordigheid sekere gawes aan ons.  Wat ontvang ons?

Eerste geskenk:  Die Gawe van Geloof
Na die uitstorting van die Heilige Gees, die Voorspraak wat die Vader in Jesus se Naam stuur (14:25), vestig die Gees ons aandag op Jesus.  Die Gees leer ons alles en herinner ons aan alles wat Jesus gesê het.  Die Gees help ons om Jesus raak te sien, bind ons aan Jesus se woorde, en leer ons hoe om reg op Jesus se woorde te reageer.

Die regte reaksie op Jesus se woorde is om in Hom te glo.  Jesus het gekom om God die Vader te openbaar.  In Jesus sien ons God se liefdeshart.  By Jesus hoor ons dat God vir ons gekies het, dat God vir ons omgee en dat God ons leer hoe om te lewe.  Die Gees help ons om Jesus én sy woorde aan te gryp, te omhels, en deur Hom in die drie-enige God te glo.

Maak dit sin om in God te glo?  Ja, want dit is wat die Heilige Gees ons leer.  Jesus noem Hom die “parakletos” (Grieks), of parakleet in Afrikaans.  Parakleet is ’n saamgestelde woord.  “Para” beteken “langs”, parallel met – soos die groot boot wat parallel agter Fanie-hulle gevaar het en hulle so gehelp het.  “Kletos” kom van die Grieks “kalein” of “kletos”, praat of roep, wat beteken dat die Gees langs ons roep en praat.  Ander woorde vir parakletos is advokaat of helper.

Die Heilige Gees is vir die Johannes-evangelie die “Gees van Waarheid”, wat van die Vader kom en wat deur die Vader en Jesus gestuur is om teenoor ons te getuig, ons te leer en Jesus in herinnering te roep.

Die Gees van Waarheid skep geloof in Jesus by ons deur ons te herinner aan die betroubare woorde van Jesus.

Iemand wat die gawe van geloof van die Gees ontvang en daarop reageer, is nie uitgelewer aan die storms van die lewe nie.  So iemand kan standvastig lewe, veranker in die waarheid van God wat deur Jesus aan ons geopenbaar is.  Só iemand se lewe is gebou op die fondament van Jesus.  So iemand kan leef soos Jesus, liefhê soos Jesus, dien soos Jesus.

Geloof maak dit moontlik.  Ons kan God elke dag loof en prys vir die Gees wat geloof in ons wek.

Tweede geskenk: Die Gawe van Gehoorsaamheid
Iemand skryf dat die Heilige Gees in ons teksgedeelte as die “Parakleet van gehoorsaamheid” beskryf word.  Die Heilige Gees help ons om Jesus se woorde te harte te neem (14:23), en leer ons om Jesus se opdragte te onthou (14:26).

Die Johannes-evangelie beklemtoon dat ons lewens as geloofsgemeenskap gedefinieer word deur Jesus se woorde en dade.  “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê” (Joh 13:34-35).  God se liefde, soos geopenbaar deur Jesus, is ’n liefde wat opoffer in diens van ander.  God is so, Jesus openbaar dit.  Daarom moet ons ook só lewe.  Die Heilige Gees kom ons dit leer.  Die Heilige Gees bring God die Vader en God die Seun tot in ons lewens, sodat God se stempel op ons afgedruk word.

Die Heilige Gees veroorsaak dat die appel van ons lewens nie vêr van die boom van God se identiteit af val nie.

Derde geskenk:  Die Gawe van Rustigheid
Jesus leer ons: “Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” (14:27)

Uit Fanie se vertelling oor die angs op die stormsee, en hoe dit die bemanning verlam het, leer ons die vernietigende karakter van vrees.  Geen wonder dat Jesus verduidelik ons ontvang die Parakleet, die Een wat langs ons kom stap, wanneer Hy weggaan nie.  Ons is nie alleen nie.

Baie van ons kan vertel hoe afhanklik kinders van ouers se teenwoordigheid is tydens donderstorms of in ’n nag vol nagmerries.  Kinders word wakker, skree of roep dalk, en spring uit die bed.  Dan storm hulle deur wat – vir hulle – na die donker vallei van hul kamer voel, deur die donker vallei van die gang, tot in die vallei van jou slaapkamer.  Dan spring hulle by jou in die bed, want hulle het iemand nodig om by hulle te wees.

Wanneer jy hulle omhels en vashou, hou dit nie op met reën, of stop die weerligte en donderslae nie.  Maar die wêreld verander vir die kinders.  Spoedig raak hulle rustig aan die slaap.  Hulle hoef nie die stormweer of die nagmerrie alleen in die oë te staar nie.  Die vrees lê in die alleenheid, en pa en ma help hulle om aan die vrees te ontsnap.  Dit is presies wat die Parakleet vir ons doen wanneer ons alleenheid en vrees in God se teenwoordigheid met rustigheid vervang word.

Die feit dat Vader en Seun deur die werk van die Gees by ons kom woon, sê ook iets van die wêreld waarin ons leef.  Walter Brueggeman skryf hieroor:

Die goeie nuus is dat God se lewegewende krag in hierdie wêreld aan die werk is.  Hierdie nuus staan teenoor die algemene aanname dat die wêreld, in sy doodsheid, God se lewegewende krag geweier en verwerp het, en dat ons daarom in vrees moet lewe – vrees wat uitgeleef word as angs, gierigheid, selfsug en geweld.  Die teks sê die teenoorgestelde!  Die teks bevestig dat die wêreld steeds die ruimte is waarbinne die gawe van lewe gegee word.  Die God wat in hierdie betroubare teks aan ons gegee word, is die Een wat die wêreld nuut maak, gasvryheid aanmoedig, en goeie orde in die wêreld verseker.  Die teks wys die onderwaardering van hierdie wêreld af, en nooi ons uit om moedig, vry, vol vrede, tuis en gasvry te lewe.  Ons kan in hierdie bestel tuisteskeppers wees, in navolging van die God wat tussen ons en in ons huis kom opsit.

Vierde geskenk: Die Gawe van Vrede
Jesus sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek vir julle” (14:27).

Vrede is baie meer as die afwesigheid van konflik.  Vrede het ’n baie ryk Bybelse inhoud.  Paulus skryf: “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom 14:17).

Arthur Holmes wys daarop dat Paulus hiermee die ryk betekenisinhoud van die Ou Testamentiese profete se visie oor vrede saamvat.  Shalom is die Hebreeuse woord vir vrede. Shalom is vir die Ou Testamentiese profete die somtotaal van wat mense van God kan verwag.  As jy in een woord wil sê hoe die wêreld lyk wat God besig is om tot stand te bring, sê jy “shalom”.

Shalom beteken:

  • Genesing, heelheid, herstel;
  • Geregtigheid, lewensruimte, bestaansreg;
  • Vreugde, om opgeneem te word in die feesviering van die herstelde verhouding met God, medemens en natuur.

Vrede het so ’n ryk betekenis, want dit is die vrede wat Jesus gee.  “My vrede”, sê Jesus.  Jesus herstel ons in die regte verhouding met God, met medemens, en met die res van die skepping.  Hy plaas ons in die domein van die Gees, waarin Vader, Seun en Gees by ons woon.  Daarom beleef ons vrede.

Teoloë soos Lesslie Newbigin en Scot McKnight wys daarop dat die gemeente die ruimte is waarbinne mense hierdie vrede beleef.  Die gemeente is die versameling van herstelde verhoudings waarin mense God se vredevolle teenwoordigheid en herstel beleef, en deel met ander.  Gemeentes is gemeenskappe van liefde, wat Jesus se woorde ter harte neem en daaruit leef.  Gehoorsaamheid aan Jesus maak gemeentes die draers van sy liefde, oor alle grense.  Jesus openbaar Hom aan ons, sy gemeente, sodat ons hom na die wêreld kan neem.

Gemeentes kan natuurlik hulle Goddelike identiteit, as draers van Jesus se vrede, vergeet.  Dan moet gemeentes tot bekering kom, en hul identiteit leer uitleef.  Die Heilige Gees herinner ons van vroeg tot laat hieraan.

Toepassing

In die nag voordat Hy gevange geneem en gekruisig is, herinner Jesus ons hier in Johannes 14 aan die geskenke wat Hy vir ons gee.

Hierdie geskenke vloei uit God se teenwoordigheid deur die Parakleet in ons lewens.  Ons reageer op God se teenwoordigheid deur geloof, gehoorsaamheid, rustigheid en die uitleef van Jesus se vrede.

As gemeente moet ons nadink hoe ons kreatief kan reageer op God se teenwoordigheid en God se gawes:

  • Watter verharding en liefdeloosheid is daar in (a) ons eie lewens en in (b) die wêreld wat ons met God se liefde kan wegkalwe?  Hoe kan ons Jesus se teenwoordigheid, sy vrede en liefde, prakties demonstreer?
  • Waar het ons nodig om Jesus se woorde en Sy nabyheid te onthou?  In die voortslepende politieke drama in ons land is dit opvallend hoe min deelnemers aan die openbare gesprek onthou om vanuit God se teenwoor­digheid te reageer.  Ons reageer in terme van ons woede, vrees en behoefte om weerwraak.  Hoe anders sal ons woorde en dade wees as ons onthou dat God deur die Gees by ons inwoon, en ons bystaan om te onthou, en te leef uit die onthou!
  • Waar en hoe is die Heilige Gees vandag besig om ons te herinner aan alles wat Jesus ons geleer het?  Wie se stemme gebruik die Gees hiervoor?  Is daar Geesgedrewe stemme wat ons nie hoor nie, omdat dit nie vir ons sin maak nie, of omdat ons dit nie wil hoor nie?

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Voorlesing:
Romeine 8: 31 – 39 (Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie)

Gebed
O God, ek het U so liefgekry!
In U is die oerskoonheid van al die eeue;
In U is die prag van elke nuwe dag.
Ek het U so lief!
U het so lank na my geroep, agter my aangeloop,
totdat my ore hulle doofheid verloor het,
my oë oopgegaan het vir u lieg en ek U kon herken.
Ek  het U so lief!
U het die soet geur van u asem oor my geblaas,
en toe ek my asem intrek, is ek geheel met U vervul.
Hoe lief het ek U!
Ek het U liefde geproe, en nou honger en dors ek net na U.
U het my aangeraak,
en nou is die verlange na u vrede ’n brandende vuur in my.
Amen

Slotlied:
  Lied 286  (Here God van liefde)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.