Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag vestig die fokusteks ons aandag op die opstanding van Christus as bevestiging dat Hy deur God uitgekies is as die Een wat regverdig oor alle mense sal oordeel. Dit vorm die basis van die hoop waarvan gelowiges teenoor die wêreld getuig.

Ander tekste

Psalm 66:8-20
8Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!
10U het ons beproef, o God,
ons gelouter soos silwer;
11U het ons in ’n net gevang,
’n swaar las op ons gelê;
12U het ons deur mense laat vertrap,
ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei
na oorvloed toe.
13Ek sal u huis betree met brandoffers
en aan U die geloftes betaal
14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het
toe ek in nood was.
15Ek bring vir U vet skape
as brandoffers,
ramme as wierookoffers,
ek offer beeste en bokke.
16Kom luister, alle dienaars van God,
ek wil vertel wat Hy
vir my gedoen het:
17Skaars het ek na Hom geroep,
of daar was reeds ’n loflied
op my lippe.
18As daar sonde in my hart was,
sou die Here nie geluister het nie.
19Maar God hét geluister,
Hy hét my gebed verhoor!
20Die lof kom God toe
wat my gebed nie afgewys
en sy trou nie van my
weerhou het nie.

1 Petrus 3:13-22
Dit is ’n voorreg om te ly vir wat goed is
13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Johannes 14:15-21
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

Fokusteks

Handelinge 17: 22 – 31
Paulus in Atene
16Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18’n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.

19Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”

21Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.

22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.

30“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

33So het Paulus van hulle af weggegaan. 34’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord

Seëngroet
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Verootmoediging

Gebruik die gedeelte uit 1 Petrus 3:13-22 as Wet

Skuldbelydenis
231 Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4

Vryspraak: Handelinge 4

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3” en/of
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Epiklese: (Uit lirieke van Lied 257)

Skriflesing: Handelinge 17:22-31

Prediking

Gebed: ahv Fokusteks (Handelinge 17:24-28)

Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën
Musikale Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord
Voorganger: Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is.
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: In die Naam van Jesus
sal elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie buig,
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is die Here!”
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan. Amen.

Seëngroet
Genade en vrede van God,
die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
en van Jesus Christus, die Lewende Here,
en van die Heilige Gees wat ons herskep.

(Votum en seëngroet Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Dit is ’n pastorale oomblik. Vra iemand om die groot Paaskers in te dra. Sê elke keer in Paastyd min of meer dieselfde by die aansteek van die Paaskers, byvoorbeeld:

“Liewe broers en susters,
ons betree die huis van die Here met ’n week se ervarings van die lewe in die wêreld, maar God – die Bron van Lig en Lewe – bring deur sy opstanding vir ons troos en oorwinning in ’n donker wêreld.

Hy het gekom sodat ons hoop kan herleef. Ons fokus in die aansteek van die Paaskers is om hierdie wete wakker te hou.”

Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Verootmoediging
Gebruik die gedeelte uit 1 Petrus 3:13-22 as Wet:
Dit is ’n voorreg om te ly vir wat goed is
Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.
15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here.
Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.
16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.
Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.
17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.
18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Skuldbelydenis
231 Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4

Vryspraak
8Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde…

10Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.
Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. i 12Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Handelinge 4)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3” en/of
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Liedere

F67. “Nader, As My Siel”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

In die skadu van die Allerhoogste
Sal ek steeds my skuiling vind
U is naby my, ek kom naby U
Soos ‘n boom digby ‘n waterstroom
Vind ek my lewe net by U
U is naby my, ek kom naby U
Nader, steeds nader
Ek smag na U, soveel meer van U
Nader, veel nader
Groei ek aan U
U is nader as my siel
In die koue van die winternag
Voel ek U liefde soos ‘n vuur
U is naby my ek kom naby U
In my rou as twyfel om my vou
Weet ek U los my nooit alleen
U is naby my ek kom naby U

F220. “Die Heer Is My Herder”
(RUBRIEK: Flammikidz / FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: De Heer is mijn Herder
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 2000 Celmar Music

Refrein:
Die Heer is my Herder
Hy is alles wat ek nodig het
Hy bring my tot rus
en Hy gee nuwe krag
Hy lei my steeds verder
op die regte pad wat ek moet gaan
Die Heer is my Herder.

Al gaan ek deur ‘n donker dal
ek hoef nie bang te wees
Ek weet dat U my by sal staan
U is naby, Heer

Refrein:

Want wat ookal met my gebeur
U help my telkens weer
U gee my wat ek nodig het
en nog soveel meer

Refrein:

U goedheid en u liefde, Heer
volg my vir altyd
en ek mag naby aan U bly
tot in ewigheid

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Uit lirieke van Lied 257)
O Heer, maak oop my hart se poort;
maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar.
Laat my dié Woord altyd bewaar.
U Woord, o Heer, deurboor en wond,
maar dit genees ook, maak gesond;
dit wys die weg wat ons moet gaan.
Amen

Skriflesing: Handelinge 17:22-31

Prediking

Familie-oomblik

Onderstaande teks is die weergawe van Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Opdrag: Soek die gemerkte woorde wat wegesteek is in die diagram.

Paulus Praat in die Stad Atene
22–23 Paulus het op ’n verhogie gaan staan. Toe sê hy: “Dames en Here, ek kan sien dat julle baie godsdienstig is. Terwyl ek so deur julle stad geloop het, het ek ’n hele paar tempels* gesien. By een tempel* was daar ’n altaar* waarop julle julle diere offer*. Teen die altaar* was daar ’n bordjie waarop geskryf gestaan het: ‘Aan die God wat niemand ken nie.’ Ek wil nou ’n bietjie met julle oor hierdie God gesels.

24–25 “Hierdie God het die hele wêreld gemaak. Hy het ook al die bome, diere en voëls in die wêreld gemaak—ja, sommer alles wat daar is. God is koning van alles in die hemel en op die aarde. Hy kan ook nie in ’n huis bly wat deur mense gemaak is nie. Daarvoor is God net te groot en te belangrik. ’n Mens hoef ook nie vir God kos of klere te gee, of te sorg nie. O nee, dit is Hy wat vir die mense sorg en kos en klere gee.

26–27 “Lank gelede het God die eerste mens gemaak. Uit hierdie mens is al die mense op die aarde gebore. God gee ook vir al hierdie mense ’n plekkie waar hulle kan bly. God wil graag hê dat al die mense vir Hom lief moet wees. Hy los ons ook nooit alleen nie. God is altyd by die mens.

28–29 “Hy sorg vir ons en gee vir ons lewe. As God ons nie help nie, kan ons niks doen nie. Een van julle skrywers sê mos: ‘God het ons gemaak.’ As God ons gemaak het, kan ons mos nie ’n beeld van God maak en dit aanbid nie. Dit maak nie saak of jy die beeld van goud of silwer of klip maak nie. Dit bly iets wat ’n mens gemaak het. God is te groot. Ons kan nooit ’n beeld van Hom maak nie.

30–31 “Vir ’n lang tyd het die mense God nie geken nie. Maar daardie tyd is nou vir altyd verby. God wil hê dat al die mense sy kinders moet wees. Die mense moet ophou om verkeerde dinge te doen. God weet alles wat ons doen. Daar gaan ’n dag kom dat ons voor God moet staan. Jesus sal soos ’n regter op daardie stoel sit. Hy gaan dan weer kyk na alles wat ons gedoen en gesê het. As ons verkeerd gedoen het, gaan ons gestraf word. As ons reg gedoen het, gaan Jesus ons prys*. Daar gaan regtig so ’n dag kom. Om te wys dat dit waar is, het God vir Jesus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis gesterf het.”

‘n Inkleurprent vir kinders is hier beskikbaar.

Antwoordblad:

Preekriglyn

[Hierdie preek is gebaseer op die insigte van NT Wright in Acts for everyone, Part 2]

Meesterskaakspelers is in staat om teen verskeie opponente tegelyk te speel. Mens sien skaakmeesters soms waar hulle van bord tot bord beweeg en skuiwe maak teen opponente wat netjies op ‘n ry sit. Die arme opponente dink kliphard, en bepeins elke skuif, terwyl die meester bloot ‘n paar sekondes by elke bord spandeer. Uiteindelik delf die meeste opponente, wat net een spel het om op te konsentreer, die onderspit.

Paulus tree op die Areopagus soos ‘n meesterskaakspeler op. Hy spreek op ‘n briljante manier verskillende denkrigtings aan, en bring dit in verband met die kennis oor God wat in Jesus Christus openbaar word. Dit is ‘n voorbeeld van wat hy aan die Korintiërs skryf: “Ook neem ons elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:5, Direkte Vertaling 2014). Hy is nie net tevrede om aansluiting by die Griekse denkwyse te vind nie, maar wil die Grieke help om ware Godskennis te ontdek.

Athene

Die toneel van ons teks is Paulus aan die woord op die Areopagus, in Athene. Athene was die intellektuele hoofstad van die antieke wêreld. Die denkers en filosofieë van hierdie stad beïnvloed die Westerse wêreld tot vandag toe. Mense soos Sokrates, Plato en Aristoteles het ons beskawing help vorm.

Athene was vol idees, denkraamwerke en ook afgode. Verskillende vorme van godsdiens het hier floreer. Paulus was trouens verontwaardig toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is (16). Op die markplein debatteer hy met Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikuriërs en die Stoïsyne was op daardie tydstip die twee groot, invloedryke filosofiese skole in Athene.

Epikuriërs

Volgens die Epikuriërs was die wêreld en die gode baie ver van mekaar verwyderd. Daar was min of geen kommunikasie tussen mens en gode nie. Gevolglik moes mens die meeste van die lewe maak, en maksimum plesier uit jou bestaan put.

Stoïsyne

Volgens die Stoïsyne was die goddelike binne-in die bestaande wêreld, en binne-in elke mens. Mens moes hierdie innerlike goddelike krag ontdek en benut. Die goddelike was nie persoonlik nie, maar ‘n vorm van rasionaliteit. Jy moes dus leer om rasioneel te lewe. Impulse van buite en emosies van binne was gevaarlik. Jy moes leer om koel, objektief, onverstoorbaar en rasioneel te lewe.

Uitnodiging na die Areopagus

Die Areopagus is ‘n rotsheuwel in Athene waar vroeër regspraak gelewer is, en waar die stadsvaders elke dag vergader het. Die uitnodiging om hier op te tree was nie blote gasvryheid nie. Daar is ‘n onheilspellende klank aan die uitnodiging. Die filosowe noem Paulus ‘n praatjiesmaker. Die Griekse term laat jou dink aan iemand wat woorde rondstrooi, soos ‘n voëltjie wat saadjies oppik en in die proses verstrooi.

Dié praatjiesmaker het ‘n vreemde boodskap oor vreemde gode. Hy praat oor Jesus en sy opstanding. Die Griekse woord vir opstanding is anastasis, wat aan die naam van ‘n vroulike godin herinner. Die Griekse filosowe wonder dus wie die vreemde God Jesus, en sy vroulike godin, tog kon wees.

Om ‘n vreemde boodskap oor vreemde gode te bring, was in Athene gevaarlik. Vroeër is die filosoof Sokrates ter dood veroordeel presies op die klag dat hy vreemde gode en vreemde leringe verkondig. Om vreemde leringe kwyt te raak, kon jou in die moeilikheid laat beland.

Vandaar die byna dreigende vraag in verse 19-20.: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê val vreemd op ons ore en ons wil graag weet wat dit beteken.”

Paulus deins nie terug nie. Op ‘n briljante manier gryp hy die geleentheid aan om God se bedoelinge in Jesus Christus te verkondig. Soos ‘n goeie skaakspeler het hy ‘n strategie. Sy meesterplan is:

  • Om elemente van die Atheense filosofie en offerpraktyke te bevestig
  • Om te verduidelik dat die Atheense godsdiens nie ver genoeg gaan nie, en nie langer nodig is nie. God wil hul onkunde wegneem.
  • Om die Atheners te help om ware Godskennis in Jesus Christus te ontdek.
“Aan ‘n onbekende god”

Paulus begin deur te verwys na die godsdienstigheid van die Atheners. Daar is selfs ‘n altaar “aan ‘n onbekende god” in die stad (23).

In die Griekse filosofie is wyd aanvaar dat daar nie genoeg getuienis is om te sê of die gode regtig bestaan, of nie. En as die gode sou bestaan, was dit nie moontlik om te sê wat hulle van mense verwag nie.

Sommige mense kon daarom onverskillig oor godsdienstigheid raak. Hulle sou steeds offer, of die tempel besoek ingeval dit dalk ‘n verskil sou maak. Maar verder het hulle gelewe soos hulle wou.

Ander mense kon weer sê: “Ek kan nie help om te glo dat daar iewers ‘n God of gode is wat meer is as wat ons ooit kon droom of dink nie, en belangriker is as wat ons tans weet nie. Daarom hou ek my hart en gedagtes oop vir die moontlikheid om dalk eendag meer van die onbekende god te leer. As ek meer kon leer, sou ek graag wou.”

Paulus veronderstel dat daar Atheners is wat graag meer oor god of gode sou wou leer, as hulle maar net geweet het hoe.

Die lig breek deur

Die wonderlike boodskap aan die Atheners is dat die tyd vir onkunde oor God nou verby is. Paulus begin sy boodskap met ‘n verwysing na onkunde, en sluit dit ook daarmee af. In vers 30 sê hy God weet mense is onkundig. Die tyd vir onkunde is egter nou verby. God het die onkunde oorgesien, maar nou het dit moontlik geword om God te ken en betroubare kennis oor God se bedoelinge te bekom.

Deur met onkunde te begin en te eindig, sê Paulus die Griekse filosofie het ‘n punt beet: mense kon nie veel oor God weet nie. Hy vind dus aansluiting by die Griekse denke. Maar hy trek ook ‘n streep daardeur. Want die tyd vir dié punt, dat mense in onkunde oor God is, is nou verby. God hét Homself in Jesus openbaar. Mense kan God nou ken.

Die lig van ware Godskennis breek nou deur. Atheners kan weet die ware God, wat die hele wêreld gemaak het, wil hulle van hul onkunde verlos sodat hulle in die regte verhouding met God kan kom.

Athene was vol tempels, met mense wat daagliks offerandes gebring het aan gode van alle soorte en kleure, om tog net in die regte verhouding met hierdie gode te wees. In jou verbeelding sien mens hoe Paulus beduie na die akropolis, met sy majestueuse tempels, wat duidelik vanaf die Areopagus sigbaar is. Al hierdie offerandes beteken niks, en verskaf ook nie betroubare kennis nie. Die God wat die wêreld gemaak het, die Here van die hemel en aarde, woon nie in tempels wat met mensehande gemaak is nie, en word nie met mensehande bedien nie.

Al Athene se wonderlike tempels mis die punt. Dit is nie ons wat God bedien nie, dit is nie ons wat na God uitreik nie. Hy gee lewe aan ons, Hy bedien ons met lewe, en Hy neem die inisiatief om ons die ware kennis te gee wat ons help om Hom reg te ken en te dien.

Nou is die tyd dat die lig van ware Godskennis deurbreek.

Kommentaar op die Epikuriërs en Stoïsyne

Paulus se woorde is kommentaar op die leerstellinge van die Epikuriërs wat sê die gode is ver weg en het min of niks met mense te doen nie. Paulus sê: “Nee, God is naby ons, die Gewer van alle goeie dinge, die Een wat passievol na ons soek, en wat wil hê ons moet reageer op sy teenwoordigheid. Hy het die wêreld gemaak en gee lewe aan alles.” God verlang nie offerandes in die vorm van diere of gawes nie, maar ‘n liefdevolle verhouding met mense.

Paulus lewer ook kommentaar op die Stoïsyne wat sê die goddelike is onpersoonlik en saaklik, koue rasionaliteit binne-in ons. Hulle kon selfs sê mense stam van God af, God is binne-in mense. Paulus beklemtoon God en die mens is nie dieselfde nie, daar is onderskeid, maar God is inderdaad naby ons. Die begeerte na kontak en harmonie met die goddelike is ‘n goeie ding. Dit moet ons laat gryp na die ware God, wat inderdaad nie ver van ons is nie.

Paulus nooi beide die Epikuriërs en die Stoïsyne uit om verder te gaan, om oop te gaan vir die ware boodskap en die ware kennis van die ware God. Hulle het al as’t ware in hul onkunde belangrike treë gegee, maar daar is meer as wat hulle in hul onkunde weet en erken.

Betekenisvolle tyd

Die toespraak bereik vanaf vers 30 ‘n hoogtepunt. Iets nuuts het gebeur. ‘n Nuwe werklikheid, ‘n nuwe moment in die wêreldgeskiedenis het aangebreek. Daar is nou spesifieke nuus oor spesifieke gebeure en die lewe van ‘n spesifieke mens, wat nuwe getuienis oor God op die tafel plaas. Dis presies dié soort getuienis wat ‘n goeie filosoof met ‘n oop gemoed ter harte sal neem. Dis dié soort nuus van beide die Epikureër en die Stoïsyn sal help om die volgende tree te gee na egte Godskennis. Dit is goeie nuus vir die afgesloofde Atheense aanbidders wat met die soveelste offer tempel toe steier om ‘n onbekende god te gaan probeer paai.

Dis nou die tyd waarin dit bekend word dat die goeie Skepper van hemel en aarde die wêreld gaan herstel. Hy gaan die wêreld oordeel, en daarmee die kwaad en verskeurdheid tot niet maak om die wêreld volkome te herstel:

Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. (31)

Die regstel en herstel van die wêreld vind deur Jesus plaas, die Man wat God daarvoor aangewys het. Hoe weet mens hierdie Jesus is die komende Regter wat die wêreld herstel? Want God het Hom uit die dood opgewek, sê Paulus. Dit is die bewys.

Areopagus en opstanding

Paulus se verwysing na die opstanding is ‘n radikale opmerking vir die Atheners, spesifiek op die Areopagus. In ‘n toneelstuk deur die Atheense dramaturg, Aeschylus, welbekend in Paulus se tyd, word vertel hoe die god Apollo die Areopagus as raadsvergadering instel. In die proses maak Apollo die gewigtige, bindende uitspraak: “Wanneer ‘n man sterf, en sy bloed op die grond uitgestort word, is daar geen opstanding nie.”

Opstanding is die die Atheners onmoontlik. Die Areopagus is op die veronderstelling gebou. Paulus sit die opstanding egter terug op die Areopagus. Om die waarheid te sê, die opstanding van Jesus is die as waarom die hele wêreld draai.

Juis die feitelike opstanding uit die dood verduidelik waarom Jesus die komende Regter is, die Een wat die wêreld herstel. Die opstanding wil nie bloot sê Jesus is God, of dat Hy besondere eienskappe het nie. Nee, veel meer: met die opstanding van Jesus uit die dood het God se nuwe wêreldorde begin. Jesus se opwekking uit die dood is die begin, die fondament van die groot regstel wat God vir die hele skepping aan die einde gaan doen. Die opgestane liggaam van Jesus Christus is die eerste stukkie van die wêreld wat herstel is, reggestel is, diep en oortuigend nuut gemaak is. Daarom is Jesus die Een deur wie die res van die wêreld reggestel sal word.

Dubbele uitdaging

Die dubbele uitdaging vir die mense van Athene is daarom:

  • Bekeer julle. God roep nou alle mense oral op om hulle te bekeer (30). Draai weg van julle weë, veral van julle afgodery, julle gode wat julleself van goud, silwer of steen gemaak het! Draai weg van julle aanname dat gode in mensgemaakte huise kan woon, of dat hulle diereoffers wil hê. Draai weg van julle godsdiens gebore uit onkunde. Bekeer julle, gee hierdie dinge op, skud julle vry daarvan
  • Draai na die lewende God, soek Hom, en vind Hom! In 1 Tessalonisense 1:9 vertel Paulus: “… hoe julle teruggedraai het na God toe, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien….” Dit is ook die oproep in Handelinge 17. Dit kan gedoen word omdat die lewende God aan die werk is, besig om die tye te verander sodat die nag van onkunde verby is en die dag van die openbaring van die waarheid en lig aangebreek het.

Paulus wil hê die Atheners moet na God se tydtafel kyk, met die landmerk van Jesus se opstanding om hulle aan God se tye te oriënteer. Die altaar aan die onbekende god is soos ‘n oop venster waardeur die lig van God se openbaring nou skyn. Hierdie lig moet die Atheners verander. Hulle moet al die bakens van heidense onkunde agterlaat. Dit is bloot die produk van mense. Daar is ‘n lewende God, en Hy roep nou almal, oral, na Hom toe.

Boodskap vir ons

Soos die Atheners kan ons ook dwaalligte vir sterre aansien. Mens kan valse bakens hê waarop jy jou sekerhede bou. Ons kan soos die Epikuriërs praktiese ateïste wees. Ons weet daar is ‘n God, maar ons leef asof God afwesig is. Of ons kan dink God is binne-in ons, soos die Stoïsyne, op so ‘n manier dat ‘n stukkie van ons self god is – ons denke, ons vermoëns, ons prestasies, ons liggame.

By Paulus kan ons die dringendheid om Christus te verkondig, leer. Hy stap in die stad rond, en raak ontsteld omdat die Atheners nie die waarheid ken nie. Die stad is vol afgode. Die mens is onkundig oor die Here. Hulle het nodig dat iemand hulle uit die duisternis na die lig help.

Dit is belangrik om vas te hou aan ware godskennis. Ware kennis van God kom voort uit God se werk deur Jesus Christus. Godskennis is om God op sy Woord te neem, en nie jou eie inhoud daaraan te gee nie. Ons kan nie Jesus se woorde en lering aanvaar, maar besluit om sy opstanding nie te aanvaar nie. Veral nie sy opstanding nie.

Genadiglik het ‘n klein groepie Atheners Paulus se woorde aangeneem en in die Here geglo. Hieroor kan ons dankbaar wees. Dankbaar dat die kennis van God deur Jesus Christus uiteindelik ook vir ons bereik het, en dat die Here genadiglik geloof hierin in ons gewek het.

God stuur ons om te leef

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.