Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag word Rogate “Roep” genoem.

Ander tekste

Handelinge 10:44-48
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45–46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae by hulle te bly.

Psalm 98
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here
98 ’n Psalm.
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin.
2Die Here het sy oorwinning
bekend gemaak,
aan die nasies het Hy
sy reddingsdade geopenbaar.
3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde
en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God
die oorwinning behaal het.
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here
met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here,
die Koning.
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Johannes 15 9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Fokusteks

1 Johannes 5:1-6
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.

Ekstra stof

Hoofstuk 5 handel oor geloof as die getuienis van God se werk in ons lewe. Waar iemand glo, sien jy God se voetspore. Mense glo, omdat God dit in ons werk

Dit is eintlik só logies wat Johannes se aanpak in hierdie laaste hoofstuk van sy “preek” is. Hy het tot dusvêr uitvoerig uitgebrei oor God se liefde en die wyse waarop dit gestalte kry in ons liefde vir mekaar binne die geloofsgemeenskap. In ‘n laaste nadenke daaroor bind hy die liefde vir God en mekaar aan ons geloof in Jesus Christus.

Oor hierdie geloof skryf hy dan uit drie perspektiewe.

Vers 1-6 – Ons is uit God gebore
Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ‘n mens kan weet dat jy uit God gebore is. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe. Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem. Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ‘n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie. En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.

Vers 7-12 – Die Heilige Gees getuig in ons lewe oor die betekenis van Jesus Christus se bediening en kruisdood vir ons
Hierdie geloof word bewerk deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het – Mark. 1:9-11; Joh. 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Joh. 19:33-37). Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes. Dit is God wat geloof in ons hart werk deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus. Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself. En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk. “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

Hierdie perspektief op geloof en die werk van die Heilige Gees is iets wat ons deeglik ter harte moet neem. Dit beteken dat dié getuienis van die Heilige Gees iets dinamies en lewend is, gebaseer op die historiese feite van Jesus se bediening en kruisdood. Die Gees se werk in ons is die persoonlike kant van God se werk, soos Jesus se bediening en kruisdood die publieke kant daarvan was. Dit beteken ook dat die herkenning van die gesag van die Woord ‘n dinamiese persoonlike werk van die Heilige Gees is. Dit is iets waarvan Hy ons oortuig.

Om die Bybel as die Woord van God te aanvaar, is nie soseer iets wat deur die kerk van die eeue in besluite vasgelê is nie, maar eerder iets wat ons herken as die werk van God. Kerkvergaderings het die konsensus op grond van die getuienis van die Heilige Gees in die geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen verwoord in die wyse waarop hulle die kanon erken het. Die gesag van die Woord is dus afgeleide gesag, gebaseer op die getuienis van die Gees in die harte van God se mense oor Jesus se bediening en betekenis vir ons.

Vers 13-21 – Ons sekerheid oor God gee ons groot vrymoedigheid voor Hom
Hierdie geloof gee daarby ‘n helder sekerheid in ons verhouding met God. Ons kan weet dat ons die ewige lewe het, omdat ons in die Seun van God glo. Dit gee ons ook ‘n ongelooflike stuk vrymoedigheid teenoor God wanneer ons in gebed voor Hom kom. Ons het die versekering: “Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.” Dit gee ons ook vrymoedigheid om vir medegelowiges te bid dat God hulle vergewe as hulle sonde doen of onreg pleeg (vgl. Jak 5:19-20 waar spesifiek gebid moet word vir mense wat van die waarheid afgedwaal het).

Die enigste uitsondering is die “sonde tot die dood“. Johannes dink hier waarskynlik aan gevalle soos dié waarvan Paulus skryf in 1 Kor. 5:1-5 (growwe onsedelikheid) en 11:30 (swakkes, sieklikes en dié wat sterf) waarin dié gelowiges steeds gered word, al lei hulle sonde of lewenstyl tot hul dood. Let op dat daar nie hier gesê word dat só ‘n sonde nie vergewe kan word nie of dat ‘n mens nie daarvoor kan bid nie. Johannes sê net dat daar nie ‘n verpligting is op ons om sodanige gebed te bid nie.

Johannes praat hier dus nie oor van die ander nog erger sondes nie, wat bv. opsetlik gedoen word om God te tart (vgl. Hebr. 6:4 vv – waar die skrywer praat oor die feit dat iemand wat die gawe van die Heilige Gees en die goeie woord van God leer ken het en nogtans afvallig geword het, nie weer tot bekering sal kom nie), óf om die Heilige Gees te laster (Matt. 12:31 – waar die werk van die Heilige Gees weerstaan word deur daarteen op te staan).

Hy sluit af met die vertroue dat mense wat uit God gebore is in elke geval nie sal aanhou met sonde doen nie. Daarvoor sorg die Seun van God, die ander Een wat uit God gebore is, sodat die duiwel nie ‘n houvas op gelowiges kan kry nie. Omdat ons die waarheid ken, die ware God (in die oorspronklike word die woord “Waaragtige” gebruik), kan ons verseker leef van die ewige lewe en onsself beskerm teen die afgode.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (sing 2 of 3 maal)

Aanvangswoord 

Seëngroet
Lied 417 “Jesus ons eer U” (opgestane Heer) vs 1,2

Verootmoediging

Wet: Johannes 15 9-17

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak
Gebed

Liefde as riglyn vir ‘n dankbaarheidslewe
1 Johannes 4:7-21 – Ons sing want, God is liefde.

Lofliedere
Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 1 Johannes 5:1-6

Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

 Seën

Antwoord
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied
Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (sing 2 of 3 maal)

Aanvangswoord
Voorganger: Halleluja, die Here lewe.
Gemeente: Ja, die Here leef.

Voorganger: Die Lewende Here maak ons skoon van elke verkeerde optrede.
Gemeente: Ons bely ons sonde.

Voorganger: Laat ons mekaar liefhê soos die Here ons lief het.
Gemeente: Lewende Jesus, vul ons met u liefde.

Voorganger: Die Here leef.
Gemeente: Ja, die Here leef in my.

Seëngroet 
Die Lewende Here, wat hier teenwoordig is, groet julle: Ek gee vir julle my vrede.
Die Vader het my gestuur.
Nou stuur ek julle ook.
Ek gee julle die Heilige Gees.
(Uit Basisliturgie in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Verootmoediging

Wet: Johannes 15 9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. (1 Johannes 1)

Gebed
O Here, ons God, Skepper en Heerser van die groot heelal;
U is die Here van hemel en aarde, die God wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het. Deur die genade van Jesus Christus is ons u kinders. Deur U lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17:22-31).
Daarom prys ons u Naam,
saam met die engelekore,
saam met profete, apostels en martelare
en saam met die gelowiges van elke tyd en plek
wat vir ewig die grootheid van u Naam besing:
Heilig, heilig, heilig, Here die Almagtige,
die hele aarde is vol van u magtige teenwoordigheid.
Hosanna in die hoogste.
Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom.
Hosanna in die hoogste.

Omdat Christus lewe, sal ons ook lewe. Al het Hy opgevaar na die hemel, het Hy ons nie alleen agtergelaat nie, maar die Gees van die waarheid gestuur om vir ewig by ons te wees (Joh. 14:15-21).
Ons  vier ons met vreugde U dood en opstanding,
in afwagting op die dag van U wederkoms.
Met danksegging gee ons onsself aan U as lewende en heilige offers
wat aan u diens toegewy is.
Groot is die geheimenis van ons geloof:
Christus het gesterwe,
Christus het opgestaan uit die dood,
Christus sal weer kom.
Genadige God, stort u Gees oor ons uit
Maak ons deur u Gees een met Christus
en een met u kerk in die hele wêreld.

Maak ons altyd gereed om met beskeidenheid en met eerbied vir U ’n antwoord te gee aan elkeen wat van ons ’n verduideliking vra oor die hoop wat in ons lewe. Gee dat daar in ons harte net heilige eerbied sal wees vir Christus die Here (1 Pet 3:13-22).
Deur Christus, saam met Christus, in Christus, een met die Heilige Gees, behoort alle eer en heerlikheid aan U, almagtige God, van nou af en tot in ewigheid.
Amen.
(Uit Basisliturgie in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Liefde as riglyn vir ‘n dankbaarheidslewe
1 Johannes 4:7-21 – Ons sing want, God is liefde.
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Lofliedere
Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan

U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon

Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom

Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Almagtige God, ons Hemelse Vader, U kom altyd u beloftes na.
Ons dank U dat U u enigste Seun gestuur het toe die tyd daarvoor reg was.
Saam met u hele kerk vier ons Sy koms,
buig ons oor Sy lydenspad
juig ons oor Sy opstanding
Ons verheerlik u, ons genadige Vader,
en u Seun, ons koning van Sion,
en die Heilige Gees.
Here, U is ons Koning – in die Naam van die Vader bid ons dat U ons in staat sal stel om hierdie Paastyd reg te vier:  in ons harte, met ons woorde, en deur ons lewens aan U toe te wy.
Stort asseblief u oorvloedige seën oor ons uit.
Stel ons in staat om met entoesiasme na u Woord te luister,
om dit te vertrou en in geloof te aanvaar,
sodat ons die vreugde van u Gees kan ervaar en aan u ons bewondering kan bring.
Laat ons U dien, die God wat mens geword het, ons Verlosser,
nou hier op aarde, in u kerk,
maar ook vir altyd in u Koninkryk.
Amen.
Outeur: Unitas fratrum (Morawiese Broeders) 16de eeu
Advent gebed, verwerk as gebed om in Paastyd te gebruik
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)
Skriflesing: 1 Johannes 5:1-6

Prediking
Familie-oomblik

Familie-oomblik

Gebruik hierdie suggesties van Carolyn Brown.

Die fokusteks sal moeilik wees vir kleiner kinders om te verstaan.
Gebruik die beeld van ‘n atleet wat oefen vir die volgende Olimpiese Spele. Sulke atlete verhuis dikwels om naby hul afrigter te woon. Hulle hele lewe word beïnvloed deur die afrigter- wat hulle eet, die dag se oefenprogram, die gesonde leefstyl wat nodig is, die regte dieet en aanvullings… Hierdie atlete leef  elke minuut van elke dag in die teenwoordigheid van die afrigter want hy of sy is uiteindelik die sleutel tot Olimpiese sukses. En die atleet doen eenvoudig alles wat die afrigter sê. Die afrigter word die atleet se hele bestaan. Dit is hierdie soort gehoorsaamheid wat God van Sy kinders verwag en waaroor Johannes in ons fokusteks skryf!

Preekriglyn

Lew Wallace (1827-1905), destydse goewerneur van die Amerikaanse deelstaat Nieu-Meksiko, het ‘n boek teen Jesus Christus geskryf, maar het in die proses tot geloof in Jesus as Here gekom. Hy het sy verhaal aan ‘n vriend vertel:

“Ek was altyd ‘n agnostikus (iemand wat sê ons kan nie weet of daar ‘n God is, of nie) en het die Christelike geloof ontken,” vertel Wallace. “Robert Ingersoll, ‘n beroemde agnostikus, was een van my nabye vriende. Op ‘n keer sê hy vir my: ‘Kyk, Wallace, jy is ‘n geleerde man en ‘n denker. Hoekom maak jy nie materiaal bymekaar en skryf ‘n boek wat die valsheid van geloof in Jesus Christus bewys nie? Skryf dat so ‘n man nooit geleef het nie, en nog veel minder die bron was van die lering wat in die Nuwe Testament gevind word nie. So ‘n boek sal jou beroemd maak. Dit sal ‘n meesterstuk wees, en ‘n bydrae lewer om die gekheid van geloof in die sogenaamde Christus uitwys.'”

Wallace is huis toe en het sy vrou van die nuwe projek vertel. Sy, ‘n lidmaat van die Metodistekerk, het glad nie van die idee gehou nie. Wallace het egter materiaal oor die tyd waarin Jesus geleef het uit biblioteke regoor die wêreld begin versamel. Dit het ‘n paar jaar geneem, waarna hy begin skryf het. Hy het die eerste vier hoofstukke klaar gehad, vertel hy, toe dit vir hom duidelik word Jesus was net so ‘n werklike mens as Plato, Sokrates of Caesar. “My oortuiging het al hoe sterker gegroei en het ‘n vaste sekerheid in my geword, want al die feite oor Jesus het geklop met die tyd waarin Hy geleef het.”

Wallace het homself eerlik begin afvra: “As Jesus ‘n werklike persoon was, was Hy nie ook die Seun van God nie, en die Redder van die wêreld?” Geleidelik het dit duidelik geword, en het die oortuiging gegroei, dat Jesus nie net ‘n werklike mens was nie, maar dat sy aansprake oor Homself ook inderdaad waar was.

“Ek het een aand vir die eerste keer in my lewe op my knieë neergeval, en God gevra om Homself aan my te openbaar, my sonde te vergewe en my te help om ‘n volgeling van Jesus Christus te word. Soos die oggend nadergekom het, het die lig in my deurgebreek. Ek het na ons slaapkamer gegaan, my vrou wakker gemaak, en haar vertel ek het Jesus Christus as Here en Verlosser ontmoet.”

“Lew,” het sy gesê, “ek het hiervoor gebid vandat jy my vertel het jy wil hierdie boek skryf. Ek het gebid jy moet die Here vind terwyl jy jou boek skryf.”

Wallace het uiteindelik ‘n beroemde boek geskryf. Elke keer wat mens die epiese film Ben Hur kyk, gebaseer op die boek wat Wallace toe geskryf het, moet jy jou verwonder. Dit is geskryf deur ‘n man wat wou bewys Jesus het nooit geleef nie. In plaas daarvan het hy die grootste Man wat ooit geleef het, ontmoet.

‘n Belydenis oor Jesus

Ons teks bestaan uit ‘n besonder heg gestruktureerde paar sinne, intens en dig saamgepak tot ‘n belydenis oor wie Jesus is. Johannes vestig sy lesers se aandag op die inhoud en vasstaande basis vir die Christelike geloof. Hy praat oor wat ons op grond van die Gees en die Bybel se getuienis glo, naamlik dat Jesus die Christus is, die Seun van God (5:1, 5, 6). Verander daaraan óf neem dit weg en daar is geen grond vir die bestaan en handhawing van die Christelike geloof nie.

Christene glo dat Jesus, wat deur Maria in die lewe gebring is en dus ‘n werklike fisieke mens was, terselfdertyd die Christus, die Seun van God is. Daarmee weerlê Johannes verskillende dwalinge omtrent Jesus: dat Hy net ‘n mens was; dat Hy ‘n skyn gestalte as mens gehad en eintlik net ‘n geestelike wese was. Hy kon dus nie die redder of “messias” wees nie. Nog ander het geleer dat hy tot met sy doop net ‘n mens was. Met sy doop het Hy sy Goddelike natuur ontvang wat hom weer met die kruisiging verlaat het. Wat gesterf het en begrawe is, was weer net ‘n menslike natuur.

Met sy brief wys Johannes hierdie wesenlike dwalinge af, omdat dit die kern van die Christelike geloof weerspreek.

Uit God gebore

Johannes is nie bloot met ‘n rasionele argument besig nie. Hy is nie besig om ‘n intellektuele debat oor wie Jesus is of was te voer of te probeer wen nie. Die diepste aanspraak is dat ons in Jesus kinders van God word, ingesluit word in die Heilige Familie van Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ‘n mens kan weet dat jy uit God gebore is, skryf Johannes in ons teks. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe. Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem. Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ‘n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie. En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.

Gekant teen Jesus

Daar is deur al die eeue felle teenkanting teen Jesus en teen mense wat Jesus volg. Dit is vandag nog so. In die Midde-Ooste word mense gereeld gedood ter wille van hulle geloof. In die vrye Weste is daar mense wat geloof in Jesus as belaglik afmaak. Ook in ons deel van die wêreld is daar felle teenspraak teen die Christelike geloof.

Soos in die tyd waarin die brief geskrywe is, is ons teks vandag nog ‘n relevante belydenis oor Jesus. Dit is ‘n antwoord op die felle teenspraak in al sy vorme. Dit is ‘n bevestiging van ons status in Christus.

En: Ons teks sê onbeskaamd dat ons geloof die wêreld oorwin. Al die kritiek en verwoede aanvalle teen ons Christusbelydenis en die kerk sal op niks uitloop nie.

Kan ons geloof die wêreld oorwin?

Johannes skryf: “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (5)

Met “wêreld” word hier bedoel “alles wat teen God en sy wil/heerskappy gerig is”. Dit gaan om ‘n geweldige mag in omvang en vermoë. Die apostel gebruik ‘n uitgebreide reeks terme om dit te beskryf: duisternis, leuen, sonde, Antichris, duiwel, haat, vrees, materialisme, wellus, vleeslikheid, selfgenieting, vals profete, afgode.

Dis ‘n verstommende aanspraak: “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”

Die oorwinning is nie geleë in ons krag nie. Die oorwinning is geleë in die Een oor wie die belydenis van geloof gaan: “Jesus is die Christus, die Seun van God.” Elkeen wat dit glo, is ‘n “kind van God” of soos die 1933 Afrikaanse vertaling lui: “. . . is uit God gebore” (5:1).

Dit glo ons, ja, gryp ons met ons hele hart vas. In Jesus, die inhoud van ons geloof, die Een in wie ons uit God gebore word, lê die oorwinning oor alle teenstand. Hierdie waarheid is te basies en vol finaliteit om dit maar net as ‘n mooi formulering te hê. Dit is soos ‘n reddingsboei wat na ons as drenkelinge uitgegooi word. Ons moet dit vasgryp as ons enigste behoud!

In 5:12 word dit bevestig: “Wie die Seun het, het die lewe: wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” Hierdie waarheid is geldig vir tyd en ewigheid. Die lewe wat die wêreld gee, is tydelik, sterflik. Die lewe wat God gee, is ewig (Joh 3:16; 10:28). Dít en dit alleen, vorm die basis, die grond, waarop van ‘n oorwinning oor die geweldige mag van die wêreld gepraat kan word.

Keersy

Kindskap van God het egter ‘n onlosmaaklike keersy. Om in Christus te glo, vloei voort uit die nuwe geboorte wat deur God bewerk is. Niemand wat dus sê dat sy/hy in Jesus Christus glo, kan voortgaan om in sonde te lewe nie. Wie in Jesus glo, is “dood vir die sonde” (1 Joh 3:9-10). Dit maak van sonde in die lewe van die gelowige ‘n pynlike teenstrydigheid.

‘n Besondere kenmerk van die nuwe lewe, is die onlosmaaklike koppeling van liefde en gehoorsaamheid. Wie God liefhet, onderhou sy gebooie. Waar liefde ‘n verhouding kenmerk/kwalifiseer, is riglyne, gebooie, voorskrifte nie iets wat die vryheid inperk of beknot nie, maar juis die waarborg vir vrye vloei en behoud. Sonder liefde in ‘n verhouding is die geringste versoek of reël ‘n irritasie en las. Liefde maak ons dus nie vry “van” nie maar “tot” gehoorsaming van die gebooie van God. Ons gehoorsaam nie omdat ons móét nie maar omdat ons wil en God liefhet. Ons kan nie anders nie. Daarom is die liefde die vervulling van die wet. Die liefde bewaar dus van koue pligpleging en wettisisme maar ook van selfgewaande oorwinning.

Oorwinning in hierdie lewe

Die gehoorsaming van God het met lewensontvlugting niks te doen nie. Die nuwe manier van lewe wat gewortel is in die geloof in Jesus Christus, vorm op elke vlak van die daaglikse lewensbestaan van die mens, ‘n onloënbare sigbare alternatief op die lewe wat deur die “wêreld” as teenmag teen God en sy diens gerig is.

Terwyl die wêreld hard en meedoënloos is en mense soos willose en denklose pionne meesleep, is die koninkryk van God liefdevol en bevrydend wat nuwe horisonne op die ware lewe oopmaak. Gelowiges oorwin hierdie ontsettende teenmag nie in eie krag of vermoë nie. Nee, ons oorwin omdat ons deel verkry het aan die oorwinning van Christus oor dood en hel.

“Water” en “bloed”

Die inset en prys vir die oorwinning oor die wêreld lê egter volledig buite die insig en vermoë van die mens. Die apostel omlyn dit skerp wanneer hy die fokus op die optrede van Jesus binne die twee elemente van “water” en “bloed” plaas:

Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed.

Die water verwys na sy doop en die bloed na sy kruisdood. Die doop vind plaas met die aanvang van sy diens en die kruisdood die voltooiing daarvan. Alleen só kon die mag van die bose gebreek en verlossing bewerk word. Alleen só kon die skrikwekkende finaliteit van die dood deurbreek word. Alleen só kon aan die wil van God volledig voldoen word. Nét Jesus Christus, die Seun van God, kon en het dit gedoen.

Ons oorwinning is dus nie die resultaat van óns geloofsprestasie nie, maar van ons geloofsverbintenis aan Hom wat verklaar het: Dit is volbring.

Dit is hierdie Jesus wat Lew Wallace op so ‘n kragtige manier oorrompel het. Dit is hierdie Jesus in Wie ons eie oorwinning oor alle teenstand vasstaan.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is,
sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem.
Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen
en die straf vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra.
So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het,
en so sy goedheid en barmhartigheid uitgestort (het) oor ons,
wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het.
Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee,
en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek,
sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
(Ahv Artikel 20 van die Nederlandse Geloofsbelydenis)

Offergawes

Wegsending: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

 Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
(Numeri 6)
of
2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.