Sesde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks Johannes 15:9-17 beskryf ‘n liefdesatmosfeer waarbinne die dissipels geroep word om te leef.

In Handelinge 10:44-48 sien ons dat Petrus en Kornelius, wat hemelsbreed van mekaar verskil, tog albei deel was van God se plan. So het verskillende mense, gelowiges en ongelowiges, mekaar nodig om God beter te leer ken.

Psalm 96 roep die gemeente op om ‘n nuwe lied te sing ter viering van die oorwinning wat die Here as Koning behaal het.

1 Johannes 5:1-6 beklemtoon dat elkeen wat ingeplant is in Jesus Christus deel van God se huisgesin word. Net God bepaal wie die ander gesinslede is, nie ons nie, ons taak is om almal lief te hê.

 Ander tekste

Handelinge 10:44-48
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45–46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae by hulle te bly.

Psalm 98
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here
98 ’n Psalm.
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin.
2Die Here het sy oorwinning
bekend gemaak,
aan die nasies het Hy
sy reddingsdade geopenbaar.
3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde
en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God
die oorwinning behaal het.
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here
met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here,
die Koning.
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

1 Johannes 5:1-6
Liefde en geloof
5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die getuienis oor Jesus Christus
6Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7Daar is dus drie wat getuig a8die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. 9Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Fokusteks

Johannes 15:9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Ekstra stof

Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe
Die hoofstuk val in drie dele uiteen:

  • Jesus is die ware wynstok – die Een in Wie hulle moet bly om vrug te dra – 15:1-8;
  • Jesus het hulle uitgekies om vrug te dra – hulle sal dit doen deur mekaar lief te hê – 15:9-17;
  • Soos die wêreld Jesus gehaat het, sal die wêreld hulle ook haat – Jesus stuur vir hulle die Heilige Gees wat hulle in hul getuienis sal bystaan – 15:18-27.

15:1-8: Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel.  In die OT is Israel baie keer met ‘n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9–16; Jes 5:1–7;  Jer 2:21;  Eseg 19:10–14;  Hos 10:1).  Waar Israel egter ‘n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sal groei en gedy.

Die klem lê op wat God deur Jesus regkry in die lewe van gelowiges.  Hy is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra.

Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie.  Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het.  En dit bly ‘n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrugdra word egter reg gesnoei sodat hulle nog meer vrug kan dra.  Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19).

Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer – Judas egter geen: net sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3) word ons vertel.

Die reg snoei werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra.  Die geheim van vrug dra is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen.  Dit moet – wat ook die leuse van die Bybelskool is – ‘n huis word waarin jy woon.  Dit moet jou hele lewe bepaal.

Let op weereens dat die vrug uitgespel word as gebedsverhoring en dissipelskap (vgl Joh 14:13).  Dit is om in Jesus te bly, en van Hom te vra dat God verheerlik word in die lewens van mense – en Hy belowe om daardie gebede te beantwoord.

15:9-17:  Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as model vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê.  En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (woorde) selfs al sluit dit die dood in (vgl ook 1 Joh 3:16).  Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God, wat in sy vertroue geneem word, soos ‘n Abraham van ouds (Gen 18)!

En die gehoorsaamheid hieraan ook nou weer nie afhanklik gemaak van ons keuse vir God nie, maar van Sy keuse vir ons.  Anders as die dissipels van daardie tyd wat ‘n rabbi vir hulleself gekies het, het Jesus self sy dissipels uitgekies!  Dit is hoe God werk!

Dit is ongelooflik vir my.  Dit is Hý wat ons aangestel het om vrug te gaan dra, en wat sorg dat iemand soos Petrus die reus kan word wat ons aan die einde van sy lewe in hom kon raaksien.  Dit is vir my ‘n ongelooflike troos as ek aan my eie broosheid en gebrokenheid dink.  Hy kan dit ook vir my doen.

Weereens herhaal Jesus die feit dat Sy Vader ons gebede sal verhoor – daar is niks belangriker as gebed nie!

15:18-27: Soos so vele kere in die evangelie van Johannes word onmiddellik na die hoopvolle verkondiging van God se werk in ons, ook die konteks van die teenstand wat ons van die wêreld sal ervaar, geteken.  Die wêreld sal ons haat.

Wat in moeilike omstandighede ons kan troos en bewaar, is die wete dat dit nie anders wat met Jesus nie, en dat teenstand die Skrifwoord bevestig: “Hulle het My sonder rede gehaat”.  Dawid se woorde word op Jesus van toepassing gemaak uit Ps 35:19; 69:5 .  Agitofel is waarskynlik weereens die agtergrond vir wat Dawid daaroor te sê het en laat ‘n mens dink dat Jesus vir Judas met Agitofel vergelyk.

Daarby stuur Jesus vir hulle die Heilige Gees wat self sal getuig oor Hom en hulle in hul getuienis sal versterk.  Daaroor sal die volgende hoofstuk meer te sê hê.

En uiteraard kan ons nie self val vir die verleiding van die wêreld nie, en die wêreld en die wêreldse dinge leer lief kry nie, want dan versaak ons die Een wat in ons werk om vir Sy wil te vra en dit te doen (1 Joh 2:15).

Ek is verras met hoe die episodes met Judas en Petrus eintlik die agtergrond verskaf vir baie wat Jesus in hierdie toespraak op pad na Getsemane sê.  En die realiteit is, ‘n mens kan God se keuse vir jou afwerp en ignoreer soos ‘n Judas, of in jou gebrokenheid aanvaar en omhels soos ‘n Petrus.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157  “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Ps 98

Seëngroet
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Wet: 1 Johannes 5

Skuldbelydenis

Vryspraak: Uit Romeine 5

Lof aan God

Loflied  409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Epiklese 

Skriflesing: Johannes 15:9-17

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 421“Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Ps 98
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin.

7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
of
Voorganger: Christus het opgestaan! Christos anesté!
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan! Aléthos anesté!

Seëngroet
Die Here groet julle vanoggend soos Jesus sy dissipels kort na sy opstanding gegroet het: “Vrede vir julle!” (Wepener, C 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, Bybelmedia)

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Wet: 1 Johannes 5
Liefde en geloof
5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Skuldbelydenis
Voorganger: Bely jy jou sonde met berou?
Gemeente: Ek bely my sonde met berou.

Voorganger: Draai jy om na Christus toe?
Gemeente: Ek draai om na Christus toe.

Voorganger: Het jy saam met Hom gesterf?
Gemeente: Ek het saam met Hom gesterf.

Voorganger: Het jy saam met Hom opgestaan?
Gemeente: Ek het saam met Hom opgestaan.

Voorganger: Bely dan jou geloof in die drie-enige God.
Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het.
Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het. Ek glo in die Heilige Gees wat my daagliks vernuwe en lei.
(Verkorte en vrye verwerking van ’n liturgie van Johan van der Merwe en Breda Ludik.)

Vryspraak: Uit Romeine 5
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.

6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.

God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.

Lof aan God
Verrese Heiland,
die kerkklokke lui vanoggend anders.
Hulle is Paasklokke.
Hulle lui oor die vallei.
Hulle lui oor die stad.
Hulle lui oor die wêreld.
Die Here het opgestaan!
Ja, Hy het waarlik opgestaan!
Saam met Christene oor die wêreld, al u kinders,
wil ek aanbid, Oorwinnaar!
Saam met die klokke wil ek juig
oor die wonder van ’n graf in ’n tuin
wat oopgegaan het om nooit weer toe te gaan nie.
Daar’s ’n pad getrap deur die dal van die dood.
U het dit uitgetrap.
U het bloedspore getrap.
Die pad gaan deur die dood
na die ewige lewe.
Ek gaan dié pad volg as U my roep.
Ek het saam met U opgestaan, Here Jesus.
Hier binne-in my hart is dit al anders.
Ek was met U in aanraking.
U het my aangeraak.
Ek sal nooit sterf nie.
Want U leef!
U leef!
Ek juig oor U, Here Jesus.
Ek juig saam met die Paasklokke.
Ek juig in die môre,
oor ’n nuwe môre
wanneer die klokke nie sal ophou nie,
wat sal môre bly
en nooit aand word nie. Amen.
(Gebed deur IL De Villiers)

Loflied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer, 
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F112. “(a)My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ons loof U en dank U, want, te midde van ons pyn en mislukkings, weet ons dat U God is en  dat ons U maar net kan bewonder, loof en liefhê in Jesus Christus.
Vir die wêreld, wat so mooi is, maar so broos;
Vir lewe, so kosbaar, maar so bedreig;
Vir hierdie onmeetlik groot heelal waarin u koninkryk kom, loof ons U.
Vir hierdie Sondag, waarop ons weer u opstanding mag vier, en vir u kerk wat ons as gemeenskap van gelowiges byeenbring, loof ons U.
Vir u Evangelie, vir ons doop, vir ons begeerte om U te dien, vir die belofte van ’n ewigheid met U, loof ons U.
En omdat ons U en mekaar hier op aarde mag liefhê, omdat Christus ons liefhet, loof ons U, Here, met vrede en vreugde. Amen.
(Gebed deur Henri Capieu)

Skriflesing: Johannes 15:9-17

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus het sy Vriende Lief
9–17 “My Vader het My baie lief. Ek het julle net so lief. Leef soos mense wat weet dat Ek julle liefhet. Moenie lelike dinge doen nie. Doen wat Ek vra. Kyk, my Vader het My lief. Daarom doen Ek wat Hy vra.

“Ek sê dit omdat Ek wil hê julle moet net so bly wees soos Ek. Julle moet vir mekaar omgee, net soos Ek vir julle omgee en liefhet. Ware liefde is om selfs ter wille van jou vriende te sterf. Julle is my vriende. Maar julle moet doen wat Ek wil hê. Julle is nie soos my bediendes nie. ’n Bediende weet mos nie alles wat die baas van die huis dink of doen nie. Tussen ons is dit anders. Julle is my maats. Daarom vertel Ek julle wat my Vader vir My gesê het. Onthou, Ek het julle eerste as my vriende gekies. Ek wil hê julle moet soet wees. Julle moet soos ’n vrugteboom wees wat goeie vrugte dra. Vra God om julle daarmee te help. Hy sal dit doen. Wees lief vir mekaar.”

Vertel dan die pragtige storie van “Four Feet, Two Sandals” deur Karen Lynn Wiliams and Khadra Mohammed om die opdrag “wees lief vir mekaar” te illustreer.

“It tells of two little girls in a refugee camp in Peshawar who come away from a scramble for used clothes each wearing one beautiful yellow sandal with a blue flower on it.  Neither girl has other shoes.  Rather than fight over the sandals they decide to take turns wearing them one day each.  Some days when they are together they each wear one just for fun.  When one girl’s family is moved on to America, the girls decide to each keep one sandal as a memory and as hope that one day they will again share together in America.”
(Bron: Carolyn Brown)

Preekriglyn

Cameron Hollopeter, 19, het ‘n epileptiese aanval gekry terwyl hy vir ‘n ondergrondse trein op ‘n New Yorkse stasie gewag het. Aangesien sy liggaam buite beheer saamgetrek het, het hy van die platform op een van die treinspore geval, reg voor ‘n aankomende trein.

Wesley Autrey, 50, ‘n konstruksie werker, het met sy twee dogters ook op die platform vir ‘n trein gewag. Hy het gesien hoe Hollopeter val. Hy het op die spoor gespring en Hollopeter vasgegryp. Saam het die twee in die afvoersloot tussen die twee spore gerol. Millisekondes later het die trein bo-oor hulle gery. Wonderbaarlik is nie een van die twee mans beseer nie.

Autrey is ryklik vir sy heldedaad beloon. Burgemeester Michael Bloomberg het hom New York se hoogste eerbewys toegeken, en gesê hy maak almal trots daarop om New Yorkers te wees. Donald Trump het vir hom 10,000 dollar en ‘n besoek aan Disney World geskenk. Sy baas het selfs vir hom ‘n “Hero Burger” gekoop.

Wesley Autrey het die hele tyd baie nederig oor die heldedaad gebly. “Dis eintlik niks,” het hy gesê. “Ek het dit maar net gedoen omdat iemand dringend hulp nodig gehad het. Iemand moes tog help.”

Daar is natuurlik niks om oor nederig te wees nie. Autrey het sy eie lewe op die spel geplaas. Hy kon dood gewees het. As mens aan sy dogters dink, het hy goeie rede gehad om niks te doen nie. Hy kon net ‘n toeskouer bly, soos al die ander.

Met sy onselfsugtige optrede roep hy Jesus se woorde in herinnering: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê”(13). Wat nog te sê om sy lewe op die spel te plaas vir iemand wat hy nie eers geken het nie.

Verlede week

Verlede week het ons stilgestaan by Jesus se uitspraak dat Hy die ware wingerdstok is. Ons teksgedeelte vorm deel van die gesprek waarmee Jesus in Johannes 15 besig is.

Jesus is die ware wynstok (1-17), is die laaste “Ek is”-uitspraak in die Johannesevangelie en die enigste “Ek is”-uitspraak met ‘n byvoegsel: “My Vader is die Landbouer.” Die verhouding van Jesus met sy dissipels, die hooftema in die gedeelte, is gebaseer op sy eie verhouding met sy Vader.

In liefde

Die dissipels staan in ‘n intieme verhouding met Jesus (9) en met die Vader (10). Daaruit vloei ‘n nuwe lewe wat vrug dra. Die verbintenis van die Vader en die Seun, en die Seun en sy dissipels, asook die dissipels met die Vader, bestaan in die gemeenskaplike liefde vir mekaar. Hierdie liefde bestaan uit gehoorsaamheid as spontane vreugde en nie pynlike pligpleging nie.

Om “in Jesus” te bly, is ook om in sy liefde te bly soos Jesus in die liefde van die Vader gebly het. Dit beteken om jou te verbly in die werklikheid van sy liefde; te vertrou op die ondersteuning van sy liefde; niks te doen om Hom hartseer te maak nie; te konsentreer op wat Hom vreugde sal verskaf; om sy gebooie te gehoorsaam – net soos Jesus die gebooie van sy Vader gehoorsaam en in sy liefde bly.

Jesus praat van ‘n stabiele, veilige en standvastige verhouding: om omring, toegemaak, beskut te wees en versterk te word deur Jesus se liefde. Liefde groei vanuit die Vader en vloei deur die Seun na die dissipels.

Gehoorsaamheid

Deur sy woorde te gehoorsaam, bewys hulle hulle liefde vir Hom. Jesus is met sy hele lewe die voorbeeld van gehoorsaamheid (Johannes verwys op verskeie plekke hierna: 4:34; 6:38; 8:29; 8:55; 14:31). Die Vader het Jesus lief omdat Jesus sy lewe in gehoorsaamheid aan die Vader aflê (10:17-18). Sy gehoorsaamheid bereik ‘n hoogtepunt as Hy sy lewe oorgee vir die redding van die mensdom.

Gehoorsaamheid gaan nie oor ‘n stel reëls nie. Dit gaan oor die navolg van Jesus se voorbeeld van diens en uitleef van sy opdrag om mekaar lief te hê.

Blydskap

Jesus roep hulle op tot blydskap, nie doodse gehoorsaamheid nie. Hierdie blydskap hang nie af van ‘n luukse omgewing of gerief, wat verander as omstandighede verander nie. Dis die blydskap van ‘n gedissiplineerde lewe, soos van ‘n atleet wat die vrugte pluk van totale toewyding. Die atleet mag seer spiere en blase op sy voete hê, maar dit weeg nie op teen die blydskap van oorwinning nie!

Die blydskap is nie net ‘n menslike emosie nie. Jesus noem dit “my blydskap”. Dit is ‘n gawe van die Gees in hulle. Dit maak die blydskap bonatuurlik en kosbaar. Dit kan verwys na die blydskap wat Jesus self ondervind, wat kom na voltooide arbeid in gehoorsaamheid aan God. By die dissipels is daar reeds blydskap, maar gemeng met ontsteltenis en droefheid oor die gedagte dat Jesus van hulle weggaan. Nou belowe Jesus aan hulle blydskap wat suiwer, volkome en blywend is. Die blydskap lê in die vrug van die uitvoering van Jesus se opdragte. Deur dit te doen, bly die gelowiges in die liefde van die Here.

In vers 12 word Jesus se bevele tot een bevel gereduseer: “Julle moet mekaar liefhê.” Hierdie opdrag om lief te hê, vat al die wette en profesieë saam/sluit dit in. Wie liefhet, steel of moor immers nie. Daarom kon Augustinus sê: “Leef die liefde en doen wat jy wil!”

Liefde as daad

Die liefde wat Jesus beveel het eerder ‘n “doen”-karakter as ‘n “gevoel”-karakter. Dit vra nie om die handelinge van die ander persoon goed te keur of sy geselskap te geniet nie, maar wel dat ons sal optree in belang van die ander persoon – om ons liefde tasbaar te wys; vir die wat honger is, kos te gee; dorstiges water te gee; vreemdelinge te verwelkom; klere vir armes te gee; siekes te besoek (Matt 25:31-46). Die dryfveer agter die liefde is nie om te baat daarby nie, maar om te gee, te offer!

Hierdie menslike liefde staan nooit in isolasie, asof liefdesbetoon die eis tot dissipelskap ten volle vervul nie. Die liefde is die gevolg van die gelowiges se gemeenskaplike belewenis van die onbeskryflike kwaliteit van God se liefde (15:13), in sy Seun se sterwe vir die wêreld wat Hy liefhet. So ‘n liefde vereis dat ons vir God moet liefhê met ons hele hart, siel en krag (Deut 6:5). Daarmee saam ook ons naaste soos onsself.

Vers 12-17 brei uit op die nuwe gebod van Johannes 13:34 en verder. Die maatstaf vir die liefde is “soos Ek julle lief gehad het”. Dit is onmeetbaar. Hierin ken ons die liefde (1 Joh 3:16).

Lewe aflê

Die ingrypende omvang van die liefde word beskryf as dié gesindheid van iemand wat bereid is om sy lewe af te lê vir sy vriende. Al sê Jesus hier nie uitdruklik dat Hy sy lewe vir hulle, sy vriende, gaan aflê nie, word die gedagte veronderstel. Hy vra van sy volgelinge niks meer as wat Hy self gegee het nie. Die liefde wat die lewe vir die vyand aflê – waaraan Jesus eweneens voldoen het (Rom 5:6-8) – is hier nie ter sprake nie. Jesus is hier met sy dissipels besig en wil hulle laat fokus op die absolute noodsaak van onderlinge liefde. Om jou lewe vir jou vriende op te offer, is die grootste liefde waartoe mens in staat is.

Vriende van Jesus

Jesus verklaar die dissipels is sy vriende en laat hulle verstaan Hy is bereid om sy lewe vir hulle af te lê. Die verhewe status van “vriende van Jesus” hang daarvan af of hulle doen wat Hy beveel. Dit is weereens die gedagte dat die gelowige in die liefde en in die vriendekring van Jesus bly deur sy opdrag uit te voer. Gemeentes beklemtoon ten regte die genade van God. Ons sal egter in ons opdrag faal indien ons nie ook die noodsaak van onverbiddelike gehoorsaamheid beklemtoon nie.

Jesus sê hier: “Ek noem julle nie meer slawe nie.” Vroeër het Hy hulle dissipels genoem (8:31; 13:35; 15:8), die woord wat in hierdie evangelie die meeste vir sy volgelinge gebruik word. Jesus het egter ook te kenne gegee hulle is sy slawe (12:26; 13:16). Die apostels noem hulleself ook soms “slawe van Christus” (Rom 1:1), in die sin dat hulle die eiendom van Christus is en aan Hom gehoorsaam bly.

Dit gaan om ‘n vertrouensverhouding waarin Jesus alles aan sy volgelinge bekend maak wat Hy van die Vader gehoor het; God se heilsplan wat Hy besig is om uit te voer. Hy sê dit is nie die reël dat ‘n baas aan ‘n ondergeskikte of slaaf vertel wat sy planne is nie. Aan slawe gee jy opdragte, maar met vriende deel jy intieme verhoudinge en vertroue. Dat Jesus alles aan sy volgelinge bekend gemaak het, bewys Hy beskou hulle nie as ondergeskiktes nie, maar as vriende. Vir hulle het Hy so lief dat Hy sy lewe vir hulle sal aflê. Dieselfde gehalte liefde moet ook tussen hulle bestaan. Alles wat aan die Vader behoort, behoort aan Jesus (16:15; 17:10). Jesus het alles aan die dissipels oorgedra. Jesus het alles kom openbaar wat ons oor die Vader moet weet.

Abraham is ‘n “vriend van God” genoem”, asook Moses. Jesus verwys ook na Lasarus as “ons vriend”. Die titel is ongewoon en spreek van die intiemste moontlike verhouding tussen God en mens. Die vriendskap is nie deur mense se toedoen nie. Jesus kies sy dissipels as sy vriende (15:16a). Dit gee hulle die versekering van sy ewigdurende liefde.

Gekies om vrug te dra

Jesus se verhouding het hulle nie tot gelykes verander nie, al noem Hy hulle vriende. Jesus bly hulle Heer en Meester, en vereis gehoorsaamheid. Hulle het Hom nie gekies nie. Jesus het hulle gekies. Dit verwys nie na hul redding nie, maar eerder na die diens of die werk wat gedoen moet word. Hulle is gekies en aangestel om vrug te dra.

Die vernaamste uitdrukking van die vrugte waarvan Jesus hier praat, is die liefde binne die Christelike gemeenskap. Die vrugte wat bly, is die liefde wat voortvloei uit die lewe wat aan God vasgemaak is. Die liefde het deur Jesus in die wêreld ingekom en moet nou deur die lewe van sy dissipels in die wêreld bly. Hierdie God-gesentreerde liefde wat binne die kerk sigbaar word, sal van Jesus getuig in die wêreld. Wanneer hulle daarin gehoorsaam bly, sal niks hulle ontbreek nie. Die Vader sal hulle alles gee wat hulle in Jesus se Naam vra.

Dit gaan hier nie om ‘n selfgesentreerde gebed nie, maar om te vra volgens die wil van die Here. Om in Jesus te wees en sy woord in jou te hê, beteken om deurdrenk te wees van sy wil. Sy wil word jou wil. Gebed doen inderdaad meer met jou as met God. Gebed bring jou in pas met God.

Bemagtigde vrugdraers

Mens kan dink Jesus sou net die “beste” kies. Dit is nie korrek nie. Die dissipels was self ‘n heel onwaarskynlike klomp. Die evangelie teken hulle as soms stadig van begrip, hardkoppig, swak in geloof, soms ontkennend en soms twyfelend. Sommige, soos Petrus, Johannes en Jakobus het bekend geword, maar selfs hulle het soms gedwaal. Die ander bly onbekend. Een sou vir Jesus verraai.

Tog het die groei van die kerk in die eerste eeu gewys Jesus het hulle bemagtig vir God se roeping en sy opdrag aan hulle. Die dissipels het groot dinge gedoen, omdat die Een wat hulle bemagtig het, so groot was. God kies wie God kies. God bemagtig wie God bemagtig. Kyk ook in gemeentes wie dit is wat God kies. God werk deur en in gewone mense wat geken word deur die feit dat hulle hulle hart aan God gegee het – hul hart en hul hele lewe! Dit moet my en jou bemoedig. Dit moet ons laat dink voor ons oordeel oor ander se potensiaal. God kies wie Hy wil!

Rabbi’s het studente opgelei en voorberei vir hulle werk. Voornemende studente het uitgesoek by wie hulle wil studeer. Hoe beroemder die rabbi, hoe meer studente het hom gekies om hulle te onderrig. Jesus keer die orde om: “Ek het julle gekies.”

Opdrag herhaal

Die opdrag van vers 12 word aan die einde herhaal. Die allerbelangrikste saak is die liefde. Alles wat Jesus tot dusver gesê het, was gemik op hierdie een bevel: “Julle moet mekaar liefhê!” Jesus weet die eenheid van die gemeente bly bewaar deur die band van die liefde en dat hierdie liefde dikwels aan moeilike toetse onderwerp sal word.

Die Skrifdeel eindig soos dit begin, met die herhaling van die opdrag tot onderlinge en wedersydse liefde vir mekaar. So bring dit die hele diskoers oor die wynstok en die vrug tot ‘n einde. Die oproep om mekaar lief te hê, is die eerste en die laaste woord van Christus aan sy vriende.

Oorgawe en offer

Die werklike skok in hierdie openbaring is dat die goddelike lewe een is van oorgawe en offer. Hierdie openbaring is geheel anders as enige ander openbaring van God op enige ander plek. Dit is inderdaad ‘n beeld van of visie op God, wat baie Christene moeilik vind om getrou na te volg. Jesus sê Hy alleen doen wat Hy sien die Vader doen. Die was van die voete van sy dissipels word nie as uitsondering genoem nie. God van die heelal was voete! Jesus is immers God soos sy Vader God is. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen en Hy vertel net dit wat Hy hoor by sy Vader. Dit beteken onder andere dat “om gehoorsaam te wees en te dien” net so goddelik is as “om koning te wees en bevel te voer”.

In 11:16 sê Tomas: “Laat ons ook gaan (na Jerusalem) dat ons saam met hom kan sterf.” Tomas was beslis nie baie ywerig vir hierdie offer nie. Petrus se woorde in 13:37 moes hy sluk toe die tyd kom om sy liefde te bewys en hy Jesus verloën het. Om lief te hê soos Jesus, is duur! En gevaarlik!

Verklein die opdrag?

Miskien wil ons hierdie opdrag nie hoor nie, want ons kan dit nooit uit ons eie uitleef of gehoorsaam nie. Ons sal dit graag wil afwerk tot ‘n paar klein gebooie, soos: kom kerk toe op Sondag; gee jou dankoffer; help mense in nood. Dink weer oor hoe Jesus liefgehad het en van ons vra. Ons begin elke dag voor en ons faal elke dag weer. Ons kan nooit op ons eie regkom nie. Dit is of Jesus vir ons gebooie gee wat ons nie kan onderhou nie.

Miskien is dit so, dat ons afhanklik sal bly van die Heilige Gees. Dit is onder andere die grootheid, die wonder en die onmoontlikheid van die evangelie-boodskap, dat dit iets van almal van ons vra wat ons op ons eie nooit sal kan regkry nie. Slegs in gemeenskap, saam met ander, in verhoudings, ontvang ons van tyd tot tyd liefde wat deur, na ons toe en uit ons vloei, wat groter is as net onsself. Dan weet ons verseker dit is nie “ons” wat dit doen nie.

Dissipelskap word hier geteken as deel-wees van die opdrag om mekaar lief te hê en om vrugte te dra. Die gelowige is soos ‘n lewende loot aan ‘n lewende wingerdstok. Dit is die wingerdstok wat lewe gee aan die loot. Voeding deur die wingerdstok stel die loot in staat om goeie vrugte te dra.

Christenwees gaan dus nie net daarom om die regte dinge te glo nie. (Dit is uiteraard ook belangrik.) Dit is ook nie net ‘n kwessie van ‘n mooi “Christ-like” lewe te leef nie (ook natuurlik belangrik). Christenwees het ook ‘n mistieke, geestelike, onverklaarbare dimensie. Om dissipel van Jesus te wees, beteken dat God self – Vader, Seun en Heilige Gees – in ons woon (14:23-26).

Om Jesus te volg behels ‘n persoonlike verhouding van liefde en lojaliteit met iemand wat ons meer liefhet het as wat ons ooit kan begryp. Die toets van daardie liefde en lojaliteit in ons eie lewe bly die eenvoudige, diepgaande, gevaarlike en moeilike opdrag van Jesus Christus: “Julle moet mekaar liefhê.”

Sommer niks?

Ons weet ongelukkig nie of Wesley Autrey ‘n Christen is nie. Dit is egter nooit “sommer niks” om jou lewe in liefdesdiens vir ander op die spel te plaas nie. As volgehoue lewenswyse is liefdesdiens iets wat uit die intieme gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees in ons lewens gebore word.

God stuur ons om te leef

Gebed: (Ahv Ps 15 en Joh 15)
Here,
Om U te behaag wil ek van harte
onberispelik wandel
en doen wat reg is,
met my hele hart die waarheid praat,
nie kwaad praat nie,
my medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;
dié verag wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
my woord hou, selfs tot my eie skade,
my geld nie op rente uitleen nie
en my nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.
Hieraan wil ek my graag hou,
en nooit wankel nie.
Om u vriend genoem te word, is my grootste eer-
ek wil my toevou in U liefde en so daarin bly.
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën
Mag die God van liefde jou toevou in onvoorwaardelike liefde.
Mag jy ander liefhê soos God jou liefhet.
Mag jy weet dat Jesus jou vriend is.
En mag jy op jou beurt weer ’n vriend vir ander wees.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.